Ansa Swanepoel (Tannie Anna)
Januarie 2019 Projek
2.Pietie Groen
Pietie Groen is ’n verkleurmannetjie en dit is sy tweede week in graad 1. Alles het so goed begin, maar dinge begin nou skeef loop. Die eerste week het hulle net gespeel en juffrou Heuningblommetjie was baie gaaf. Hy kan nie glo dit is dieselfde juffrou wat nou bloedrooi, met ’n histeriese, “Pietie! Wat doen jy?”, stadig besig is om op hom af te storm nie.
Pietie kyk benoud rond. Hy kan nie verstaan wat verkeerd geloop het nie. Dit is hulle eerste Teikenskiet les en hy het baie mooi geluister. Juffrou Heuningblommetjie het gesê hulle moet hulle regteroog stip op die teiken hou en hulle linkeroog op haar. En dit is presies wat hy gedoen het! Toe sy sê skiet, het hy geskiet. En nou sit sy tong aan haar voorkop vas. Reg in die middel! En asof dit nie erg genoeg is nie, kan Pietie nie sy tong los te kry nie.
Juffrou kom nader en nader. Sy gluur na Pietie met albei haar oë en sien nie die stuk tong wat nou slap voor haar op die grond lê nie. Pietie sien dit en skree: “Papop, Jupfou!” Maar sy hoor nie. Of sy verstaan nie. Die volgende oomblik lê sy met al vier hoë hakskoentjies in die lig! Sy is neon rooi toe sy regop kom en lyk baie gevaarlik. Sy gryp Pietie se tong waar dit nogsteeds op haar voorkop vassit en gee dit ’n harde pluk! Pietie is vry, maar hy is nou so verskrik dat hy glad nie sy tong kan beheer nie. Jy sien net klein verkleurmannetjies plat val, terwyl sy tong woes rond flap deur die lug. Na ’n groot gesukkel kry hy sy tong weer in sy kies. Die flappende tong het die ander kindertjies groot laat skrik en die klaskamer nou lyk soos ‘n Smartieboks.
“Jy mannetjie, gaan nou in die hoekie hang tot na pouse! Dit sal jou leer om te luister as jou juffrou praat!” Sis juffrou Heuningblommetjie voor sy omdraai en vir die res van die klas sê dat dit nou pouse is. Pietie wil nog sê dat dit dan net 5 min gelede ook pouse was, maar besluit om eerder maar net aan die tak te gaan hang soos juffrou gesê het.
Dit voel vir Pietie of hy vir ewig daar hang. Uiteindelik hoor hy die klok lui. Juffrou en die kinders kom in. Pietie is bly om te sien dat almal nou weer lig groen is.
“Pietie, jy kan uit die hoekie kom. Ek hoop jy besef nou hoe belangrik dit is om op te let in die klas!” sê juffrou Heuningblommetjie. Pietie se tong is nog nie lekker nie. Al wat hy kan uit kry is ’n flou:” La, Lufflou.”
Juffrou Heuningblommetjie ignoreer hom en kyk dreigend na die res van die klas. “Ons gaan nou verder teiken skiet! Niemand gaan vandag huis toe voor ’n ieder en elk van julle daardie teiken raak geskiet het nie! Verstaan julle my mooi! Pieitie, kom staan jy hier reg voor my dat ek kan kyk of jy luister! Almal gereed? Regter oog op die teiken! Mooi! Nou..linker oog op my!” Pietie se hart klop woes, maar hy maak seker sy oë beweeg glad nie. Hy kyk stip na juffrou en die teiken. Juffrou maak seker sy oë is reg opgelyn voor sy hart sê: “Skiet!” Een-en-twintig tongetjies skiet uit in die rigting van die teiken. Almal mis! Behalwe vir een wat met ’n ligte plof geluid die rooi kol tref. Die rooi kol op juffrou se kop! Juffrou steier en word rooi. Sy gryp Pietie se tong en pluk dit met geweld van haar voorkop af.
Die klas is stil geskok. 42 ogies soek verwoed na uitkoms. Juffrou maak haar oë toe. Haal drie keer diep en stadig asem. Toe sy haar oë oopmaak, sê sy kalm: “Pietie, sal jy sou gaaf wees om gou-gou huis toe hardloop vir juffrou. Vra asb. vir mamma en pappa om saam met jou na die hoof se kantoor te kom. Juffrou sal julle daar kry.”
Al klink Juffrou se stem glad nie meer kwaad nie, voel Pietie goorder as goor. Hy laat sak sy koppie en loop hang skouertjies en sleep tong by die klas uit.
“Lotsiens Lufflou, Lotsiens las”
By die huis probeer Pietie verduidelik, maar sukkel om enige iets wat sin maak uit te kry. Sy ma hoor iets wat klink soos ‘skoolhoof’ en gryp haar handsakkie. Met ’n “Kom, Groot Piet! Pietie het moelikheid by die skool!” is die drie oppad skool toe.
By die skool aangekom, sien Pietie dat dit sowaar alweer pouse is. Hoekom moes hy nou juis diè week gekies het om vir juffrou te skiet.
Juffrou is alreeds in die hoof se kantoor toe hulle daar aankom. Die rooi kol op haar voorkop lyk seer. Arme Pietie voel hoe sy maag wilde draaie maak. Sy bene en tong is lam. Hy weet sommer dat hy glad nie sal kan verduidelik dat hy wel mooi vir juffrou geluister het nie.
“Goeie more, meneer en mevrou Groen! Baie dankie dat u ons op so kort kennisgewing kon kom sien” sê die hoof. Die brilletjie op sy neus wip op en af terwyl hy praat. “Juffrou Heuningblommetjie dink u seun het dalk ’n probleem. Juffrou Heuningblommetjie, vertel asb. vir Pietie se ouers wat vandag in die klas gebeur het.”
“Wel ons het teikenskiet begin oefen. Ek het baie duidelik vir die kinders gesê om met hulle regter oog op die teiken te fokus, en met die linker oog op my. Meeste kinders het darem min of meer in die regte rigting geskiet. Maar u seun het my twee keer reg op die voorkop geskiet!”, sê juffrou Heuningblommetjie verontwaardig en wys na die rooi kol op haar kop. “Ek wil nie glo dat hy dit met opset gedoen het nie. Hy is ’n liewe seuntjie met mooi maniere, maar ek kan aan geen ander rede dink vir hierdie onaanvaarbare gedrag nie. Ek is nie bereid om vir ’n derde keer in een oggend op die voorkoop geskiet te word nie.”
Pietie se ma en pa se kleur lyk nie goed nie. Maar Pietie se pa is ’n slim geleerde man. Hy het aandagtig gesit en luister na die mooi juffoutjie. Hy vryf diep ingedagte oor sy ken. Dan sê hy: “Uh hu! Jaaa.. dalk, net dalk…!”.
“Juffrou Heuningblommetjie, ons is natuurlik baie jammer oor wat gebeur het, maar ek het ’n vermoede wat die probleem is. Ek sal dit graag wil toets, as u my sal toelaat om die kinders weer te laat teiken skiet. Ter wille van u veiligheid sal ek die keer die opdrag aan die klas gee.” sê Pietie se pa vriendelik.
Terug in die klas gaan staan Pietie se pa op Juffrou se plek.
“Goeie more klas, ek is Pietie se pa en wil julle graag ’n bietjie help met die teikenskietery. Maar ons gaan dit anders om probeer. Kyk asb. met julle linkeroog na die teiken en met julle regteroog na die wit bord. Is almal reg? Skiet!”
Die kindertjies was ’n bietjie senuweeagtig oor die vreemde oom en hulle oë het onseker na juffrou gedwaal. Toe die oom sê SKIET, skiet daar 20 klein tongetjies in juffrou se rigting. Gelukkig val juffrou net betyds flou en almal mis. Behalwe vir Pietie se skoot wat reg in die kol is. Die keer die kol op die teiken.
“Bravo!!! “ skree Pietie se pa so hard dat juffrou bykom. Hy maak Pietie se tong versigtig los en swaai Pietie deur die lig. “Pietie, jy is ’n allermuntige skut!”
“Vatso!” sê Pietie se ma en gee juffrou Heuningblommetjie ’n selfvoldane kyk.
Die hoof maak keel skoon:” Verskoon my mnr. Groen, ek verstaan glad nie. Kan u asb. verduidelik. Ek het nog nooit so iets by ’n verkleurmannetjie van u seun se ouderdom gesien nie. Pietie se skoot was reg in die kol en dit op die eerste dag van Teikenskiet! Wat het dan vroeër vanoggend aangegaan?”
“Aaah, meneer Hoofman, maar u sien.. dit is omdat Pietie links is! Natuurlik sal alles vir hom andersom werk. Maar nietemin, u sal sekerlik met my saamstem dat Pietie ’n buitengewone talent het!”
“Verseker!” sê Pietie se ma en kyk vies na juffrou Heuningblommetjie. “As jy mooi daaroor dink, was al drie Pietie se skote vandag reg in die kol.”
Juffrou lyk baie verlig. Sy vat vir Pietie by sy pa en gee hom ’n stywe drukkie en ’n soen op die kop. Pietie bloos goud geel. Sy ma besluit net daar en dan dat sy darem vir hierdie oulike juffroutjie ’n heerlike koek gaan bak! Die ander kindertjies spring op en af, terwyl hulle kleure mal gaan. Pietie se oortjies suis van opgewondenheid. Hy kan sommer voel hoe sy tong reg kom toe hy begin saam spring.
“Nou ja,” sê juffrou Heuningblommetjie, “ek dink dit is tyd vir pouse!