Jongste aktiwiteit:

Carmen Edwards (IronLady)
vir

Carmen Edwards (IronLady)

Lees meer oor Carmen Edwards (IronLady)

Februarie 2022 – Liefdesprojek

3.Lynreg

– Woordtelling 1111

Sandra was nog altyd ‘n bietjie snaaks. Sy het alle stories geglo. Of dit nou bogstories, liegstories or ware verhale was, sy het alles vir soetkoek opgeët. En om alles te kroon het sy altyd empatie gehad met die verloorder en die wat aan die korste end getrek het.

So omtmoet sy toe vir Peet. Peet was ‘n regte platjie en het Sandra se geloof in stories goed uitgebuit. Hulle pas so goed by mekaar dat hulle besluit om die knoop deur te haak. Op aandrang van Peet besluit hulle om vir die wittebrood op ‘n visvang eskpedisie te gaan.

“Sandra, jy moet onthou om die slaapsakke goed op te rol. Sit sommer so bietjie mottegif in dit help om die muskiete langs die water weg te hou.” sê Peet terwyl hy die visvang trommel pak en seker maak al die moeti, sinkers en hoeke is reg ingepak.

“Haai, rêrig Peet? Ek het nie geweet mottegif help vir muskiete nie. Ek moet onthou om vir my ma daarvan te vertel. Hulle bly mos langs daardie vlei en die muskiete maak hulle desperaat. Jy’s darem slim jong.” Laat Sandra van haar hoor terwyl sy motgifballetjies oral by die slaapsakke en sommer die kussings ook indruk.

Toe sy klaar is was sy haar hande deeglik en sit die ketel aan. Foei tog. Peet werk so hard om alles vir hulle wittebrood reg te kry hy verdien so ‘n lekseltjie koffie. Hy drink dit uit sy erdebeker wat hy nog by sy ma Sera gekry het. Sy moet tog onthou om dit vir hom in te pak. Die beker is amper soos sy geluksgodin as dit by visvang kom.

“Sandra, amper vergeet ek, jy moet asseblief die knuppels ook inpak. Hulle is daar in die kas in die gang,” sê Peet na so ‘n lekker lang sluk uit sy beker.

“Dink jy die skelms gaan ons pla? vra Sandra terwyl sy na die gangkas toe loop.
“Nee man” sê Peet “Daar is g’n skelms by die viswaters nie. Dis vir die barbers. As jy so vyfuur in die oggend opstaan kry jy hulle op die gras besig om te wei dan slaan jy hulle katswink met die knuppels. Dit spaar baie aan hoeke en lyne.” laat Peet droog van hom hoor.

“Sjoe, ek sou nooit aan so ‘n slim plan gedink het nie. Eintlik moet ek eerlik wees en erken ek het nie geweet barbers wei vroegoggend op die gras nie. Jy weet só baie dinge” sê Sandra vol bewondering. “Sal jy my op pad vertel van jou dae in die weermag en nog stories oor jou kinderlewe en en oor visvang? vra Sandra terwyl sy die bekers na die opwasbak dra.

“Ons sal maar sien waar die gesels ons heen lei as ons op pad is.” sê Peet. “Ek dink alles is nou reg. Kom ons pak in dat alles reg is dan kan ons môre so vyfuur se kant ry want ons moet nog eers by broer Dana stop om die katrolle by hom te gaan oplaai.”.

Vyfuur die volgende oggend is Sandra gereed en wag net vir Peet om klaar sy tande te borsel. Sy hou haar handsakkie styf teen haar lyf vas. “Kom, Patroontjie” sê Peet so in die verbyloop terwyl hy haar hare deurmekaar vryf. Nou gaan ons op “honeymoon.”

Die wiele vreet die kilometers op. Dis stil in die motor. Peet het so ‘n bietjie oor die weermag dae gepraat en nou is hy so efffens iesiegrimmig. Sandra maak ‘n breinnota om te onthou om hom nie weer daarna uit te vra nie. Sy wil hom nie ontstel nie.

“Kyk Sandra, daar is ‘n leeu langs die pad.” sê Peet
Sandra skrik haar skoon boeglam vir Peet se stem na die lang stilte.
“Waar waar? vra sy en swaai haar kop woes heen en weer om orals te probeer kyk.

Peet skater soos hy lag en Sandra verkyk haar aan die kuiltjie in sy ken en sy oë wat so blink van vreugde.

“Sandra, jy moet tog nie alles glo wat mense vertel nie. Daar kan mos nie leeus in Brits se strate wees nie.“ sê Peet en bulder weer van die lag.

Sandra lag saggies saam. Ja, sy was eintlik bietjie dom die keer. Leeus loop mos nie in dorpe se strate rond nie. Maar Peet het so ernstig geklink toe hy gesê het sy moet kyk. Sy bly vir ‘n lang ruk stil en dink.

Uiteindelik is hulle by Dana. Jy hoor net ‘n gekwetter van voëls en die keffery van die honde. Dana is lam na ‘n ongeluk by die bouery en sit in sy elektroniese stoel. Hy groet almal met ‘n kwinkslag of twee en skree na Sues vir koffie en koekies.

Hulle ry suid na Whenholdt meule. In dié omgewing is dit die beste visvang terrrein. Die afpak was bietjie moeilik want alles moet oor die sementwalle van die dam gedra word. Peet slaan die tent op terwl Sandra die kombuishoekie in orde bring.

“Peet, kyk, ‘n krokodil” skree Sandra en wys met haar vinger na iewers agter hom.
“Ja,” sê Peet en gaan komkommerkoel aan met tentpenne inslaan. Hy kyk nie eens om nie. “Nee wat, Sandra, so maklik vang jy my nie met ‘n slap riem nie. “

Skielik hoor Peet agter hom ‘n geskarrel en ‘n snaakse geraas. Toe hy omdraai kyk hy vas in die kake van ‘n meneer van ‘n krokodil. En hy het nie eers ‘n tentpen gereed as ‘n wapen nie. Verbouereerd probeer hy retireer. Hy weet dis ‘n onbegonne taak om op Sandra staat te maak vir hulp. Hy buk en tel ‘n redelike groot klip op en gooi dit teen die krokodil se snoet. Maar krokodil se kind voel skynbaar niks en beweeg vasberade na sy prooi toe,

Die volgende oomblik sien hy uit die hoek van sy oog hoe Sandra lynreg na die krokodil toe hardloop. Sy weifel of struikel nie. Geen geluid kom oor haar styf saamgepersde lippies nie. Verbete klou sy die knuppel styf in haar hand. Stom van verbasing kyk Peet hoe Sandra die krokodil met motgifballietjies peper. Vir ‘n vroumens is sy nogal heel akkuraat. Dan spring sy en dit lyk of sy deur die lug vlieg soos ‘n wafferse Ninja. So beland sy toe op die krokodil se rug. Sy slaan hom drie allemintage houe met die knuppel, spring van sy rug af en gee hom die meester van alle skoppe. En daar lê die krokodil. Katswink.

“M..M…maggies Sandra” is al wat Peet uitkry terwyl hy met groot pieringoë na haar staar.

“Niks, maar niks sukkel met my Peet nie,” sê Sandra en loop na hom toe.

Carmen Edwards (IronLady)

April 2022 – En toe… projek

3.Karoodans – 789 woorde

Bliksems flits blou oor die barre Karoo waar stofwolke soos spookgedaantes dans. Bliksems wat weereens geen reën bring nie.

Brenda kyk met weëmoed in haar oë toe Kobus soos ‘n pyl uit ‘n boog wegspring reguit begrafplaas toe. Sy bid sommer so met oop oë.

“Pa, hoekom het jy hier in die droeë vlaktes kom nesskop en kom boer? Die grond is ongenaakbaar. Die ergste Pa, is jou God. Hy hou die reën weg. Dis nou al 6 maande van hel pa.”
Kobus bly ‘n wyle stil. Sy oë dwaal oor die wye barre vlaktes. Selfs die gehardste karoobossie is nou net ‘n stofknoets om te wys eens op ‘n tyd het iets daar gegroei.
“Dis eintlik oor Brenda wat ek hier is pa. Pa moet sien hoe lyk haar hande, haar eens sagte vrouehande, van al die plaaswerk. En sy dink ek sien nie hoe sy ‘n traan wegpik as sy die boksie van hoop ontvang nie. Hierdie maand was daar ‘n boek by. Gebed van ‘n boer. Pa, sy het die ding al vodde gelees. En ek verstaan nie.”
Brenda hou op bid toe sy Kobus sleepvoetend sien terugloop. Sy sien die dinkvore op sy voorkop toe hy nader kom. Sy glimlag en staan op om tee te gaan maak.
Sy dra die tee en die korslose broodjies na die stoeptafel toe. Sy moes eers die muf afsny. Hulle gaan darem môre koöperasie toe vir hulpvoer en ‘n kospakkie. Die Here stuur altyd uitkoms as die nood op sy hoogste is.
Kobus sien dat Brenda net een broodjie kry en hy kry drie. Sy hart wil van liefde bars vir hierdie vrou maar hy kry só skaam omdat hy nie vir haar kan sorg soos wat dit hoort nie. Genadebrood is harde brood om te kou.

“Liefie, ek sal die skape gaan kos gee dan ry jou gou op en pomp die water.” sê Brenda terwyl sy opstaan om die skottelgoed kombuis toe te vat.
Kobus staan op en vou Brenda toe in sy arms. Woorde het hy nie meer om vir haar te sê nie. Hy hoop die drukkie is meer werd as ‘n duisend woorde.

Die volgende oggend is Brenda vroeg op die stoep met haar glimlag, tee en nog een cupcake wat sy in twee gedeel het. Kobus kyk haar net kopskuddend aan.

By die koöperasie word die vrouens eenkant geroep terwyl die manne hulle kwota voer laai. Dié keer is daar ‘n bonus van ‘n paar sakke ekstra. Al die manne glimlag breed.

Innerlik voel Kobus verlig dat hy met die manne kon praat. Ten minste voel hy nou nie meer soos ‘n nikswerd drommel nie. Die droogte het hulle almal plat op die aarde geslaan.

Binne is daar dames net soos kelnirinne aangetrek, bont en vrolik, wat hulle bedien. Elke vrou kry ‘n pakkie wat hulle eers by die huis mag oopmaak. Hulle eet heerlike gevulde pannekoek wat dit laat voel soos Kersfees, Nuwejaar en ‘n verjaarsdag saamgegooi. Nagereg is melktert, vlatert en vrugteslaai. Die beste van alles is die koffie. Heerlike boeretroos uit ‘n blikbeker. In hierdie droogtetyd so skaars soos hoendertande.

Onder die gedempte vrolikheid word hulle na ‘n stoorkamer gelei. Brenda wonder of Kobus en die manne ook iets kry om te eet. Sy het vir hom ‘n gevulde pannekoek in ‘n servet toegedraai in haar handsak gesit.

Die stoorkamer is vol groot kartondose. Elke vrou kry ‘n werker met ‘n trollie wat die boks vir haar na hulle voertuig gaan stoot en dit gaan oplaai. By die deur staan die “kelnerinne” in twee rye soos ‘n erewag. Soos die vrouens uitgaan kry elkeen ‘n boekpakkie, ‘n drukkie en ‘n pakkie pepperminte. Hulle voel soos prinsesse.

Brenda is só opgewonde in die trok. Sy kan nie wag dat hulle by die huis kom nie.

“My man, jy gaan sien vanaand gaan dit reën. Ek het gebid en God het my geantwoord.”

“Brenda, as dit reën vanaand sweer ek, ek sal nooit weer ‘n kerkdiens mis nie. En ons sal elke aand huisgodsiens hou.”

Op pad huis toe begin daar ‘n effense windjie te waai. Die stof dwarrel lui-lui oor die pad. Halfpad slaan daar bliksemstrale in die verte uit.

By die huis is alles afgelaai en in die store gepak. Hulle het altwee hard gewerk maar dis nou gedoen.
Brenda maak vinnig haar pakkie oop wat hulle by die tafels gekry het. Daar is die helderste, kleurvolle rokkie in en wonder bo wonder pas dit perfek. Sy trek die rokkie aan en gaan staan op die stoep langs Kobus. Sy vou haar arms om sy lyf en kyk op na die wolkbedekte lug met trane wat warm van dankbaarheid oor haar wange stroom.

“Jy lyk pragtige my blom”. mompel hy in haar hare.

En toe begin dit reën.

Carmen Edward (Iron Lady)

Junie 2022 – Winterlandskap projek

2.Plotseling

Woordtelling: 342
Brenda swerf maar so bolangs oor die lewe. Sy het geen doel of missie om iets te bereik nie. Dominee het gesê in die Bybel staan “Alle vlees is gras.” Nou sien sy nie hoekom sy moeite moet doen om te lewe nie. Vir wat sal sy haar nou afsloof en werk as alles in elk geval tot niks gaan kom nie?
Benita is op met haar sussie se uitsigloosheid. Haar woorde van raad en motivering kom telkens terug soos ‘n oer-oue eggo wat selfs haar drome ontstig. Die berig in die Noordwester het haar aandag getrek.
“Dame met gesoek vir bewaring van die “Spectacled Eider”, ‘n groot see eend wat op die kus van Alaska woon. Die bedreigde voël is in gevaar weens oliebore en die jagseisoen. Die oorlewende kleintjies het iemand nodig om hulle te versorg. Alle kostes sal betaal word aan die persoon wat bereid is om vir ‘n jaar in Alaska te kom woon . Salaris sal onderhandel word.”
“Kyk hier, Brenda. Die Noordwester het hierdie berig. Miskien sal jy hierin belangstel?” sê-vra Benita terwyl sy die berig voor haar sussie neerplak.
Benita drink haar koffie en loer so onderlangs na Brenda. Sy hoop rêrig Brenda gaan die aas sluk. Dis g’n stuk lekker vir haar om elke keer die familie se gesanik oor Brenda aan te hoor nie. Dis al holrug gery en niemand wil iets daadwerkliks doen nie.

“Hi, Benita, het jy geweet die Spectacled Eider mannetjie lyk of hy brille dra? En die wyfie is bruin het het ook amper brille. Hulle bly in groepe. Ek vlieg Saterdag Alaska toe. Gregory sal my op die Anchorage kry.”

“Dis wonderlike dat jy so begeesterd is” stik Benita so deur die amper-verstik aan die koffie.

Liefste Benita,
Dankie dat jy altyd so vir my skerm en my voete op paadjies probeer kry. Ek dink jou geveg het nou sy laaste stuiptrekkings gegee want in die ryptrap van ‘n winterlandskap het ek my liefde en lewenswerk gekry.
……… My gansies gaggel vir kos.
Mooi bly,
Liedetjies Ekke!

 

Carmen Edwards (Iron Lady)




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Sanette het n geregistreerde lid geword

  • Rosalee het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak