Fanus Strydom
Februarie 2022 – L:iefdesprojek
1.Huisbesoek
‘n Monument aan die Liefde.
Woordetal: 3 903
Die wewenaarseisoen van dominee Frederik Postumus Van Graan, was van korte duur. Onverwags. Skaars gemaklik met die dra van swart, op Sondae was van die ouer dames in die gemeente, of dinge verander. Onverhoeds. Én, te midde van ‘n buitengewoon-hetige Laeveldsomer. ‘n Sware, maar eerbare verpligting, díe gewoonte. Sinnebeeld van solidariteit met die stomme, dominee Van Graan. Na die skielike afsterwe van sy stomme, mevrou dominee Van Graan. Óok onverwags. Ses volle maande. Sonder voorbehoud. Na afloop van vyf, verswelgende maande, was die einde van die gemeentelike routydperk ook genadiglik in sig. Toe gebeur dit. Sy staat van stomheid verander. Totaal onvoorbereid voor, deur die res van die gemeente. En onomwonde. Terselfdertyd, natuurlik ook sy haalbaarheid as volgende huweliksmaat vir heelparty weduwees in die kerk. Sommige steeds rou en hoopvol vir tydige uitkoms, ander lankreeds moedeloos gewag. Natúúrlik, een of twee geskeides ook… Laasgenoemdes maklik uitkenbaar aan die ooglopend, uitlokkende beknoptheid van hul rourokkies. Die skandalig-lae halsies daarvan…
Nietemin, iedereen het min-of-meer, deelgeneem aan hierdie onbeplande, gemeenteprojek. ‘n Welgeluksalige wegbreekkans van die gewoontelike, jaarlikse basaar. Baie minder werk. Die opdrag eenvoudig:
Om die stomme dominee Van Graan, te onderskraag deur sy skielike alleen ellende.
Die ondraaglike hitte ten spyt.
“Deur die genade van Bo en met onverdiende guns …” sluit hy díe bedompige Sondagmôre, sy buitengewoon-kort preek af.
Met ‘n ontstellende openbaring:
(Voor die sing van die laaste sëengesang!)
“Volgende Sondag, tydens die oggenddiens, en na afloop van die nagmaal…”
Probeer hy vir oulaas die tyding opgesluit hou in sy kloppende hart. Terdëe bewus van die moontlike repurkussies wat die nuusvrystelling op sy nukkige kudde mag hê.
“…maar voor die aanvang van die algemene kerkvergadering…”
‘n Roering ontwaak in die voorste ry. Van onder ‘n brëe, swart hoed lig ‘n kop stadig na bowe. Kyk hom dan vierkantig in die oë… Dink hy, want die gesig is amper onsigbaar. Verskuil agter baie lae net en gaas. Pikswart en donker. Soos die gaas voor haar agterdeur vir huisbesoek.
Tant Anna De Beer kry eensklaps lewe.
Op haar pos in haar gewoontelike voorste bank, herposisioneer sy haarself. Kry haarself gereed vir intervensie. Oorlog maak, indien nodig. As self-uitverkore gemeente matriarg, was sy deurentyd lugtig vir die nuwe, domineetjie. Sy byderwetse idees. Wewenaar of nie.
“Oor my dooie liggaam!“ sal sy haar openingssalvo afvuur.
En mik vir ‘n kopskoot.
Tant Anna was stokoud, maar rateltaai. Eens opgewen was daar min sake op die agenda, óf dienaars op die kerkraad, wat haar sou durf tëegaan!
Dominee inkluis.
Soms kwes sy die dier, slaan hom vir ‘n oomblik van sy voete af. Maar dan is sy reeds oorgelaai met die volgende skoot:
“Godslasterlik…!!”
Slagpen vir die teenargument uitgepluk.
Díe kan nou enige tyd ontplof…
In die ouderlingebank skuif hoofouderling Smuts homself solank in ‘n gemakliker slaapposisie in. Hy het, soos almal, besef dit gaan weer ‘n lang Sondag wees. Gevolglik was daar skielik, in verskeie oonde versprei oor vele plaas- en dorpskombuise, (kool sowel as elektries) verskeie lamsboude wat vergeefs sou lê en wag op hulle finale verorbering. Party sou moontlik die onverwagte tydtoets deurstaan en krakerig-bros uit die oond gered word.Net betyds. Meeste egter, sou ongelukkig uitgedor, en uitgebak, hul moedelose, honger mae in moes gaan.
Net die tyd sou leer…
“…en as dit die agbare kerkraad behaag…” beproef dominee Van Graan nog eenmaal almal se geduld.
Dan…, terdoodveroordeelde…Kom hy botweg tot die punt:
“wil ek graag my nuwe verloofde aan die gemeente kom voorstel…”
Absolute stilte.
Vêr bo die skokgolf ruk Katjie Vermaak se regterbeen skielik. Land haar kaal regtervoet hard op die orrel se onderste pedaalpaneel…
Sy het maar las gehad van die been. Na die afval van haar fiets af. Vyf jaar terug. Regvoor die poskantoor in die dorp se hoofstraat. Voor almal. Mettertyd sou sy gewoond raak aan díe onbeheersde refleksskop van haar. Tesame met die paar, oorblywende sniksangers in die gemeente. Genadiglik was dit al blywende skade wat sy oorgekom het. Dít en die onooglike bleskol. Bo, aan die regterkant. Van haar koëlronde, klein koppie.
“Nes ‘n verdomde dowe kat…!” het een ongeduldige oggenddiensganger op ‘n keer hoorbaar hard gemurmireer. Kort na haar terugkeer tot haar orrelpos, en tydens ‘n besonders gebeurtenisvolle begeleidingspoging, het die lidmaat genoeg gehad.
Die naam het vasgesteek. En, met tyd, kon almal haar die nou-en-danse, per ongeluk verkeerde, refleksnoot verskoon. Haar eensydige onooglikheid, was gelukkig moeiteloos misgekyk. Elke Sondag, lank voor die diens begin, het sy die steil trappe opgeklim na die orrelgallery. Daar het sy hoog, en vêr uitgerys bo almal, haar posisie voor die reuse pyporrel ingeneem. Pligsgetrou, maar genadiglik buite sig.
“Poooooep….pooooeep…..poep!!” vergestalt haar aweregse been meteens drie, totaal onverwante klanke, aan die geskokte gemeente se woordelose monde.
“Wat!?” verstik Tant Anna byna in die voorste ry. Verloor in die proses die boonste gelid van haar kunsgebit. Vir ‘n oomblik kleef dit grynsend vas teen die oordadige netverskansing voor haar gesig. Tuimel dan terstond na benede en val sekuur in haar biddend-oopgevoude hande. Op die skoot van haar rourok.
Raafswart in solidariteit, met die stomme dominee.
Saam met ‘n lywige bol spoeg.
Ouderling Smuts is skielik wakker.
Hier kom ‘n ding.
“En bwat phan die phan onth bwat nie Thondag bweer in die kerk kan weeth nie…!?” maak sy luidkeels kapsie. Probeer naarstigtelik die tande weer terug kry in hul plek. Maar vergeefs. Die net was in die pad. Al wat dominee Van Graan van die kansel af kon uitmaak, was ‘n enkelpaar, tydvergeelde botande. Grynsend vasgeknyp in ‘n netgevulde, pikswart gat.
Van die sypaadjie af, klink dit vir die dronkie asof ‘n moerse byekorf sopas innie dorp se moederkerk ontplof het…!
Die koël was deur die kerk. Tant Anna se protestasies was onhoorbaar verstrengel in die raafswart netgat waar haar mond moes wees. Maar, die res van die gemeente het ook begin onrustig raak. Luidrugtig. Onseker van die pad vorentoe. ‘n Paar soek vir die naaste uitgang. Weg uit hierdie Babelse stad!
Dominee gooi verbouereerd sy arms ten hemele. Probeer orde hertsel in die Huis van die Here:
“ek, en my toekomstige gade, sal ons bes doen om elke huishouding persoonlik te besoek…”
Spesifiek vir tant Anna…
Sy’t intussen belangstelling verloor. Haar stryd nou intens gefokus op haar botande. Hopeloos buite bereik van haar klappende hand, en totaal verstrengel in die verdekselse netgoed om haar kop!
In solidariteit met die stomme dominee…
“Hoe afgelëe, of vêr verwyderd u plaas ookal mag wees…” voeg hy by.
Skielik intens dankbaar by die wete dat tant Anna s’n; en díe van haar vyf, goddelose seuns; haas onbereikbaar was…
Dan vat hy sy gaping:
“Beskou dit dus sommer as deel van my…uh ons, jaarlikse huisbesoek.”
En daarmee sluit dominee Van Graan die oggend se skokverrigtinge af.
Sonder om eers die sëen uit te spreek vlug die witgesig dienaar inderhaas van die kansel af. Verdwyn soos ‘n verskrikte vlêrmuis die veilige duisternis van die konsistorie in.
Nog nooit vantevore het die kerk so vining leeggeloop nie, want skinder binne in die kerk was onheilig. Sonde.
En baie ongerieflik.
So kom dit dan dat dominee, en die nuwe mevrou dominee Frederik Postumus Van Graan, die plaas Deerpark kom besoek. Februarie, drie-en sewentig. ‘n Besonders gesëende jaar van Ons Heer. Baie gerëen. Die veld was ruig en lowergroen. Langs die nou grondpaadjie plaas toe, was die bosse digbegroei en deurspek met brandboontjies. Swanger. Swaar in drag aan hul onweerstaanbare, fluweelbruin peule.
Pragtig .
Dodelik giftig.
Ouma was vroegdag al gereed. Na ‘n nag van geesdriftige bak en kook, voor die koolstoof in die kombuis, was sy in ‘n opgewonde luim. In die voorhuis het die kostafel gekreuen onder haar gulhartige offerhande. Sy stap nog eenmaal om die kosaltaar. Vir oulaas. Maak seker alles is gereed.
“Liewe Heer, mag hierdie dag U behaag…” bid sy oor haar handewerk en draai om. Oppad uit begin sy ingedagte neurie…
“Heer waar dan heen…. tot U alleen…”
Als was netjies toegedek onder vlieëbestande net. Nou spierwit. Want routyd was verby.
Die predikerstroue het laasmaand plaasgevind. ‘n Privaat seremonie voor die magistraat. Afgehandel.
Al wat die gemeente daarvan tesiene gekry het, was ‘n mediumgrootte, swart en wit foto van die nuutgetroudes. Straks ondeurdag ingepas, op bladsy twee van die dorpskoerant.
Neffens ‘n geilrooi advertensie vir nuwe trekkers, glimlag dominee Fred selftevrede:
“STOOT EN PLOEG MET NUWE KRAG!!”
Stralend ingehaak by sy elmboog, sy nuwe bruid.
Oupa was op die voorstoep aan’t biltongkerf, toe die gelukkige paartjie deur die hek die werf inry…
Uit die foto in die koerant kon mens darem ‘n paar afleidings maak. Dit was darem sigbaar, dat die nuwe mevrou dominee Van Graan, nie té onaardig daar uitgesien het nie. Miskien ietwat swaar in die onderlyf? Bietjie uit balans met die kleinerige, boonste deel…? Maar, geensins onaanvaarbaar as nuwe predikantsvrou vir die moedergemeente nie. Verdere detail is stelselmatig, en met groot ywer, versprei deur Kotie Lategan. Die plaaslike sentrale-operateur. Haar nuusagentskap die uitgebreide plaaslynnetwerk. Kort voor lank sóú donker gerugte, soos donderwolke, in die lug begin versamel. Volgens haar anonieme, ingeligde bronne, was mevrou nuwe dominee blykbaar nie heeltemal sonder vlek, of skande nie. Inteendeel… Blykbaar was geskei. Die ma van drie opgeskote kinders. Twee dogters en ‘n seun. Beide dogters gelukkig getroud met goeie mans, maar oor die seun was daar vrae. Hy was al dertig en nogsteeds ongetroud. Blykbaar kunstig. Saggeaard…
Die mees dringende kwessie egter, wat soos donderweer teen die nuwe mevrou dominee begin dreig het, was die feit dat sy ‘n stadsbewoner was. Klaarblyklik heeltemal onkundig. Onvoorbereid. En, in die geheel, totaal onvanpas vir lewe op die platteland. Maar gelukkig is ‘n noodkommitte gou op die been gebring. Onder leiding van Kotie, en ‘n hele paar gewillige dames uit die kontrei. Sommer so oor die plaaslynnetwerk. Hulle sou mevrou dominee dadelik onder hul onderskeie vlerke neem. Die oomblik dat sy haar rooi getoonde stadsvoetjies, hier plaaslik neersit. Saam-saam sou hulle haar in ‘n japtrap skool in die gemeentelike tradisies. Die gebruiksvoorwaardes. Die on-onderhandelbare pligte van ‘n deuglike, plaaspredikantsvrou. Presies netsoos die stomme vorige mevrou dominee nog tot onlangs toe gedoen het. Getrou. Tot op die laaste dag voor haar skielike en onverwagse, heengaan. Niks sou verander nie.
Een laaste aanklag egter, het die laaste tyd, onheilspellend vanuit die donderweer oor die styfgespuite, bloedrooi kapselkop van die nuwe mevrou dominee begin blits.
Tot op hede nog onbevestig.
Daar was glo gerugte…, dat sy ‘n roker is!
“Onbevestig, tot op hede, onthou…” herhinner Kotie haar geskokte inluisteraars gereeld. “maar amper sekerlik waar…” moes sy onafwendbaar byvoeg. Net om seker te maak. Laasgenoemde situasie het tot onverwagse aansporing gedien vir die nuutgevonde nuwe-mevrou-dominee-welsynskommittee. Hulle sou haar gou speen van díe aaklige gewoonte. Haar opsluit verlos van die stinkende las. Só ‘n gevlekte, smeulende kruis sou nie toegelaat word om in die plaaslike moedergemeente ingedra te word nie.
Tot laatnag toe is daar vergaderings gehou oor witwarm plaaslyne. Strategieë bespreek.
Die finale plan van aksie uitgepluis. Sonder om die stomme vrou onnodig te ontstel, seer te maak, of onwelkom te laat voel.
Natuurlik.
Op die laaste vergadering (die dag van die geheime troue) is finaal besluit dat die kwessie van die ongetroude seun, tot later oor sal staan. Vir eers. Sodra meer inligting versamel is, sal die saak weer op die agenda geplaas word…
Met die stopslag voor die brëe opstaltrap, spring dominee Frederik hups uit die motor. Draf om die agterkant om sy wederhelf by te staan. ‘n Paar lenige, lang bene swaai fatsoenlik uit. Aan die voete ‘n paar goudblink sonsandale.
“Ai, maar sy is lieflik…” verlustig dominee Freddie hom opnuut weer aan sy onverdiende fonds.
Toe sy haar staan kry langs die motor, was oupa reeds halfpad teen die trappe af.
Al vinniger.
Sonder om te groet peil hy reguit op mevrou dominee Frederik Postumus Van Graan af.
Geklee in ‘n deftige, roomkleurige sonrok vroetel sy vir oulaas met een hand om die kreukels om haar bene uit te pluis. Half ongemaklik. Ietwat onseker van haarself. Haar wederhelf staar steeds na haar kuite. Sy maak keelskoon in die rigting van sy oë.
Voor haar kom die oom nou vining nader. Sy aandag egter, so besef sy met skok, skaamteloos gefokus op haar kaal skouers…haar borste!
Sy wou so graag ‘n goeie eerste indruk maak op ‘n ieder en ‘n elk.
En van oom Fanie en tannie Souf se gasvryheid het dominee Frederik haar heelpad hierheen verseker. Elke nou en dan, geduldig by ‘n koelteboom gestop langs die stamperigge stofpad. Sodat sy kon kamerverlaat. Senuwees het glad nie met haar blaas geakkordeer nie. En om haar moed in te praat. Vir oulaas dalk bietjie te vry…
Nou pak rou paniek haar egter beet.
Daar was ‘n vreemde, wilde kyk in die oom se oë…
Sy klem die reuse bondel goudbruin, fluweelpeule stywer teen haar borte vas. Spyt dat sy nie tóg maar die die truitjie ook saamgebring het nie.
“Maar dit was so ongelooflik warm…!” dink sy desperaat.
Die fraai peulranke was haar persoonlike idee. Haar dankbaarheidsgebaar aan die gasvrou. Self gepluk oppad hierheen.
Benoud meet-meet sy die afstand na die oop motordeur agter haar…
Oupa was nou op volspoed.
Sy oë flits op na haar skouers. Heeltemal kaal en reeds plek-plek rooi. Blosend té vroeg vir díe tyd van die oggend. Dan af langs haar keel, tot by die armvol goubruin peule teen haar borskas. Daarbinne iewers weggesteek; haar borste…
Sy blik val na haar bene. Kaal en ontbloot onder die sonrok teen die vroegoggendson agter haar. Hy sien die tekens…
Haar keel begin brand.
Sweet slaan op haar voorkop uit.
Sy krap-krap aan ‘n lastige gejeuk teen haar nek…
Dan is hy op haar.
Sonder om ‘n woord te sê pluk oupa die impromptu peulruiker uit die stomme vrou se hande. Smyt dit voor haar voete neer. Dan pak hy haar onbeskaamd om die skouers beet. “Miskien wil hy my soengroet…” dink sy vir oulaas ‘n desperate gedagte, en hou haar mond gewilliglik uit na syne.
Nou bloedrooi gebloos…, of iets!?
Dit was die laaste gedagte wat sy onthou. Saam met haar benoude gille in die rigting van haar nuutgetroude ridder. Haar redder.
Dominee Frederik bly verstom staan. Versteen. Total onvoorbereid vir dit wat wat voor hom aan die afspeel was. Vlêrmuisgedagtes breuk skielik sy predikersskedel binne.
Sy oë, twee pierings bo ‘n gapende, klanklose mond.
Instinktief begin hy soek na wegkruipplek…
Onder oupa se arm was die nuwe mevrou dominee Van Graan nou stewig vasgeklem in ‘n stywe kopklem. Hy peil reguit op die leivoor af met haar. Om die hoek…langs die stoep op… tussen die bome in. Skaduwee toe…
In die voorkamer hoor ouma ‘n vrou gil…
Angswekkend en skril.
Sy vergeet skoon om die voorskoot van haar heupe af te haal.
Storm na buite. Kom af op die twee…
”Liefie, wat maak jy!?” skree sy in oupa se rigting.
Die kyk van skok, op nuwe mevrou dominee se gesig, meteens vir ewig in haar geheue ingebrand.
Teen díe tyd was die stomme vrou reeds op haar kniëe voor die voor. Oupa se een knieg stewig in haar kruis geplant. Nog voor sy ‘n laaste hulpkreet kon uiter, tref die eerste handvol modder uit die leivoor haar.
Vol in die gesig.
Gevolg deur nóg een.
En nóg een.
Sy spoeg en spartel om vry te kom, maar vergeefs.
Oupa sit stewig in die saal.
Binnekort was haar vining rooierewordende nek en skouers ook beplak met pikswart klei. Haar laaste woorde verander in ‘n onhoorbare gegorrel, toe oupa haar kop, sonder seremonie of genade, onder die water in die leivoor druk.
Met die opkomslag snak sy verbete na haar asem. Haar voorheen stywe kapsel nou onherroeplik verwoes. Slierte hare, modder en slym kleef gomagtig teen haar bleek, wit kopvel vas. Val hier-en-daar oor haar pikswart gesig.
Nou gryp oupa haar arms. Pak afgemete nóg hande vol modder teen hulle aan. Hulle raak lam onder die gewig. Val langs haar sye neer. Haar skouers reeds swaar gelaai met díe ondraaglike, skandelike las. Dan gee sy haar oor aan haar lot. Word stil onder die besete man se aanslag…
Elke ontblote hoekie en oksel van haar nuwe predikantsvroulyf word deeglik met modder besmeer. Oor haar half-ontblote borste. Haar bobene. Selfs die binnekant van haar heilige dye word nie gespaar nie.
Pateties prewel sy, vir oulaas, ‘n laaste wens in die rigting van haar predikantsman. Haar skaapwagter. Maar hy’s weg. Die motor se deur steeds oop. Op die sitplek ‘n groot, bruin hond. Hygend in die hitte.
“Lyk nes Bismarck…” dring ‘n lukrake gedagte, van die hond uit haar vorige huwelik, haar benewelde brein binne. Oortuig van haar vining-naderende dood, begin sy saggies bid.
“Al gaan ek in ‘n dal va…”
Een, finale handvol klei vryf egter die woorde vir ewig weg uit haar gapende mond.
“Lief…kry solank die lamp-olie reg!” beveel oupa, sonder om op te kyk. “En sê vir Elias hulle moet vuur maak…die water opkry. Nou dadelik!”
Eers dan kom hy regop. Was sy hande in die voor en stap weg, sonder om eenkeer om te kyk.
“Elias…!!” hoor sy hom roep toe hy om die huis verdwyn.
Sy lê op haar sy langs die voor. ‘n Onvoltooide, omgevalle kleistandbeeld. Gebroke Griekse godin. Halfpad geklee in ‘n vollengte lap, wat eens op ‘n tyd roomkleurige was. Onherkenbaar en onbeweeglik. Haar klei-kis besig om vining te versteen.
Aan haar een voet ‘n dowwe, modderbesmeerde sandaal.
Die ander een dryf reeds vêr daarvandaan, al met die leivoor langs, terug dam toe.
Ouma snap onmiddellik wat aangaan. Haas haar na die gevalle godin. Roep oor haar skouer na die opstal met ‘n dringende, hoë stem….
“Modjadjieeee… bringôla die towels virrie oumies! En kry hom die lampolie binne by die kas oppie stoep….! Gou-gou…!”
Oppad agterwerf toe loop oupa vir dominee Freek raak. Hy staan op sy kniëe langs die lae tuinmuurtjie. Veilig en buite sig van die ergste. Sy hande wit saamgeklem in ‘n smekende bal voor sy bors. Sy oë bottoe. Hy bid smekend vir genade:
“Vader red ons tog vandag, om hemelsnaam… en vergewe ons ons sondes…!”
Heelwat later die middag, toe die son dieprooi begin sak oor die wes-horison, kom die nuwe mevrou dominee Van Graan, uit oupa en ouma se slaapkamer te voorskyn. Uiteindelik. Knus toegewikkel in Ouma se oorgroot kamerjas. Ouma het haar versigtig aan die hand gelei voorkamer toe, want haar oë was steeds bottoe geswel. Haar gesig opgepof en blink gerys. Nes een van ouma se bekende basaar-brode. Die stukkie sigbare deel van haar keel en hande nou blinkrooi geskrop en deeglik ingevryf met taai, lampolie. Onder die gebondelde handdoek op haar kop het ‘n verlore haarsliert oor haar voorkop uitgedartel. Sy probeer dit, tussen die trane, van haar neus af wegblaas. Maar haar lippe was te dik geswel.
“Phuuut… phuuut…” is al wat oupa en dominee Freek hoor, waar hulle in die sitkamer sit en wag. Na sy derde dubbelwhiskey het daar uiteindelik, en genadiglik, weer ‘n sedelike rustigheid oor die prediker neergedaal. Kon hy uiteindelik oupa se verduideliking aanhoor. Laasgenoemde rustig aan’t teug aan sy pyp. Terloops te vertelle, asof dit ‘n alledaagse gebeurlikheid was.
Hy was self ‘n boorling van die stad. Nog geensins bekend met al die inheemse gevare van die laeveldse bos nie. Hy sit grootoog en luister na oupa. Net die blote gedagte dat hy sy nuutgevonde wederliefde, enigsins in so ‘n wesenlike gevaar kon stel, begin skielik vreet aan sy binneste. Buite vlieg ‘n vlermuis hom disnis teen die sitkamervenster was. Dominee wip van die skrik.
“Hy was waaragtig oppad na my toe…!” Hoe moes hy geweet het brandboontjies is so ontsettend giftig!? Selfs dodelik as mens nie dadelik hulp kry nie!? En in die geval van ‘n plaas; vyf en twintig myl van die naaste dorp of dokter af; dat modder klaarblyklik die enigste onmiddellike raat was…?
Oupa kyk na hom. Die stomme man lyk uitgeput.
“’n Laaste whiskeytjie, dominee…?”
Dan maak hy vir oulaas die man se glas vol medisyne.
So sit sy toe vir ‘n uur of, ongemaklike in die warm son. Poedelkaal, maar genadiglik afgeskerm van nuuskierige klonkie-oë deur die vriendelike huishulp en haar jong dogter. Die twee het grootoog en laggend, getrou by mevrou dominee Van Graan waggestaan. Deurentyd die nuuskierige klonkies, en die lastige vlieë, van haar af weggehou. Oopgesprei tussen hulle hande was ‘n pragtige, inheemse lapdoek. Vir haar privaatheid. Teen die tyd dat die modder droog was en die son oppad huistoe, het die water ook gekook. In twee reuse driepootpotte op die buitevuur. Die manne was flink. Het oupa se duidelike opdragte; in hul eie taal; gedienstig uitgevoer. In die badkamer het ouma geduldig gewag. Slaggereed vir die volgende fase van die reddingsoperasie. Op die tafeltjie voor haar uitgepak haar grootste, skerpste mes uit die kombuis; ‘n nuwe, skurwe spons uit die wakis; en ‘n skropborsel. Sommer die een uit die agterstoep se spenskas, want daar was nie ‘n nuwe een in die huis nie. Die oue sou moes doen. In die Waskom, op die geelhouttafeltjie langs die bad, weerkaats die kers se lig flikkerend in louwarm lampolie…
Na die derde bad was die meeste van die vennynige haartjies afgeskraap met die mes. Afgeskrop met die borsel. Of, versigtig uitgevee uit die meer sensitiewe dele op mevrou dominee se rooigeswelde lyf, met die growwe spons. Toe ouma uiteindelik die louwarm lampolie-lafenis oor die uitgeputte slagoffer se gewonde lyf smeer, sê sy saggies en duidelik uitgeput:
“atheblief tannie… noem my thommer Annetjie…”
Die stomme vrou se lippe was steeds tot barstens toe geswel en bleekwit. Maar sy kon darem weer bietjie deur een oog begin sien.
Sy was steeds tranerig, maar beslis buite gevaar.
‘n Paar Sondae later begin dominee Frederik Postumus Van Graan sy oggendpreek met ‘n ernstige vraag aan sy kudde:
“Wat beteken naasteliefde regtig vir u, broeders en susters…?”
Hy bly vir ‘n oomblik stil. Kyk oor die stampvol kerk voor hom…
In die heel voorste ry sit sy nuwe vroutjie. Pragtig en blakend gesond. Deftig uitgevat in ‘n duur, poeierblou snyerspakkie. Op haar kop ‘n lieflike, klein hoedjie. Half skeef gekantel met ‘n klein, fyn netjie. Effens afgetrek tot nét bo haar seeblou oë.
SY glimlag vir hom. Onbeskaamd verlief. En hy vir haar…
In die tweede bank klap Sannie Greyvensteyn sommer hande. Sy was maar ‘n ongewoon, spontane kind. In die oomblink gelewe. Party het vermoed sy was dalk nie heeltemal “reg” nie… Maar, almal was baie lief vir haar.
Drie banke terug sit tant Anna. Ongemaklik. Met die hele vet-Viljoen gesin voor haar ingeryg is dit godsonmoontlik vir haar om die nuwe mevrou dominee duidelik onder oë te kry. Sy’t gehoor van die affêre op die Van Vuurens se plaas…
Vies, want hulle het steeds nie by haar en die seuns uitgekom vir huisbesoek nie.
In die ouderlingebank skuif hoofouderling Smuts hom in sy gunsteling slaapposisie in.
“Dis om bereid te wees om jou eie lewe op te offer as jou naaste in gevaar is…”
Hang dominee Frederik Postumus Van Graan die kerngedagte van sy preek uit oor die stampvol kerk.
Vêr bo alles en verhewe bo almal. Gelukkig veilig buite sig, lewer Katjie Vermaak ‘n foutlose uitvoering van die openingspsalm. Haar onrustige regterbeen deesdae skielik stil. Ongewoon effektief en moeiteloos akkuraat oor die orrel se vele voetpedale.
Naas die nuwe mevrou dominee Frederik Postumus Van Graan die tweede;
in die voorste ry;
sing oupa en ouma, uit volle bors saam met die res van die gemeente:
“Heer waar dan heen…? Tot U alleen!”
Sela.
Fanus Strydom
April 2022 – En toe… projek
2.Spookvoël – Woordetal 1550
Malaconotus blanchoti
Gryskoplaksman
Soms kan mens, vroeg op ‘n koel wintersoggend in die laeveld, die hartseer roep van ‘n Spookvoël hoor. As ‘n mens mooi luister. ‘n Vêr-af weeklaag, iewers diep vanuit die digte ruigtes, en tog terselfdertyd, ook so indringend naby.
Hy word selde gesien. Maar, dis asof hy deur middel van sy onmiskenbare roep, die res van die bos wil aanspoor tot onmiddellike wakkerwording en aksie. Smôrens vroeg sodra die son opkom.
Gryskoplaksmanne lewe hulle lewe lank in monogame pare, of enkel. Maar nooit in troppe soos meeste ander voëls nie. Indien ‘n Spookvoël se maat vroeg in hulle saamwees tot sterwe kom, is dit nie ongewoon dat die agtergeblewe enkelling nooit weer ‘n nuwe maat opsoek nie. Maar, eerder verkies om alleen verder deur die lewe te gaan. Tot hy ook eendag sy maker moet ontmoet…
“Hoooooe……hooooe……hooooe…”
“Oupa…”
“Ja Faan.”
“Wat maak so, oupa?”
“Hoe Faan?”
Hy kyk nie op vanwaar hy ingedagte, ‘n mango vir ons twee sit en afskil met twee songevlekte, oumanshande nie. Die vlymskerp knipmeslem flits behendig tussen sy kromgebuigde, hardwerk-vingers. Eers in díe hand, dán die ander. Al is hulle al bewerig, en deesdae seer so vroeg smôrens, kan hy steeds ‘n mango maklik om en om laat rol in hulle. Kan hy, sonder moeite, gou ‘n nuutgeskape geelskilslang laat afseil grond toe. Onafgebroke, papierdun en in een enkelsliert, met groen kolle hier en daar. Nes die vrug waarvan hy hom sopas verlos het. Díe sal dan, kaal gestroop van alle geheime en totaal ontbloot, skielik stil bly lê in die palm van sy hand. Songeel, ryp en sappig. Perfek gereed vir ons vroegoggend bosontbyt.
”Hoe, hoe, hoe..” probeer ek ewe braaf die geluid namaak, maar dit klink glad nie dieselfde nie.
“Huh?”
Oupa kyk na my met een van sy kamma-kwaad fronse, maar sy oë flous my nie. Ek weet binne lag hy lekker vir my onseker na-aap poging.
“”Hoe, hoe, hoe””, Oupa, nie “”huh”” nie!” probeer ek my waardigheid red. Al bloos ek bloedrooi van pure genot, en ‘n tikkie verleëntheid.
“Wat?!”
Hy maak wragtieswaar nog steeds of hy my nie kan hoor nie!
Geel sap begin ongestoord teen sy vashouhand se arm afdrup elmboog toe.
“Oupaaa…!” pomp ek hom, ewe voorbarig, speels in die sy met my vinger. Presies daar waar ek weet sy geheime kielieplek is. Gelukkig hou hy vas aan die glibberige goedheid in sy hand. Dan sê hy weer, kamstig kwaad:
“My magtag, Boeta….jy weet mos oupa is doof in hierrie oor…!”
Hy beduie hy met ‘n taai, mango-hand na sy regteroor.
“So, kom sit aan hierie anner kant sodat ek jou ordintlik kan hoor!”
Met sy ander hand vat-vat hy na die getroue houtkierie onder by sy voete, en beduie daarmee na die ideale sitplek aan sy ander kant. Die hoorkant. Ek skuif gretig oor sy bene soontoe. Skaam dat ek alweer vergeet het van sy verdekselse gebrek. Maar, ook opsluit verlig om eers weer veilig uit die donker blindekol van sy stil, regterkanste wêreld te wees. Daardie afgesonderde en aweregse deel van hom.
“Goedso, Boeta….sê nou weer vir oupa. Wie maak wat…en waar…sien jy hom?”
“Ek weet nie, Oupa! Dit is hoekom ek vir Oupa vra!”
Die keer is dit ek wat, half-vies, soek-vat na ‘n kleinerige klip by my voete en dit dan blindelings die bosse voor ons inslinger.
“Hoooooe……hooooe……hooooe…”
“Daar’s hy weer, oupa!”
Oupa draai sy kop. Maak dan sy linkerhand bak om sy oor. Die halfgeskilde mango hang nou vergete in sy ander hand. Vir ‘n oomblik tuur hy onder die rand van sy oeroue, bruin veldhoed uit. Stip die ruigtes in. Hy is dankbaar dat die kind deesdae al amper sy oë en ore geword het in hierdie vinnig-donkerwordende wêreld van hom. ‘n Wêreld waar die regterkant baie jare terug al hoe stiller begin raak het, en die bosse om hom al hoe ruier…
Ek maak dadelik ook altwee my hande bak om my ore. As dit mens beter laat hoor dan wil ek ook. Nes hy. My oë volg syne van donker kol na donker kol in die bosse voor ons, maar ek sien niks.
“Dis ‘n Spookvoël…” sê hy, amper geheimsinnig.
“Oupa?”
“Vanmelewe se mense het geglo hy spook by hulle as hy só roep…”
“Hoekom…?”
“Want hulle wil nie hoor nie.”
“Wat wil hulle nie hoor nie, oupa?”
“Hulle wil nie hoor wat hy vir hulle probeer sê, of sien wat hy vir hulle probeer wys nie.” herlei hy die staaltjie uit sy lank-vergete kinderdae. “Niemand was ooit presies seker wat die oumense bedoel het nie…” onthou hy verder.
“Angelo sê, mens hoef nie bang te wees vir spoke nie?” bring ek hom terug na die hede toe.
“Huh?” frons hy. Díe keer rêrig, nie kamma-kamma nie.
“Angelo. Hy sê spoke is maar net arme, verlore siele wat hulle pad probeer terugvind huistoe.”
“Waarvan praat jy kind?”
“Van spoke, oupa.”
“Wie’s Angelo? Is hy ‘n vriend van jou?”
“My beste vriend, oupa.”
“Daar in Pretoria?”
“Ja, oupa. En hiersô. Hy’s altyd saam met my. Oral waar ek gaan, want hy is ‘n engel.”
“ Kind?” Die frons tussen sy wenkbroue verander in ‘n grys vraagteken.
“Sien oupa hom nie?”
Ek wys na hom oor oupa se skouer, waar hy reg voor die opkomende son staan.
“Hy staan reg agter oupa.”
Oupa kyk om. Die helder lig verblind hom in ‘n oogwink. Hy staan vir ‘n lang oomblik so, terwyl hy die sien probeer terugvryf in sy oë. Toe hy terugkyk na my stroom daar trane teen sy wange af.
“Seker van die son.” Dink ek en vroetel in my sakke, maar ek het nie ‘n sakdoek by my nie. “Huil oupa?” vra ek.
“Nee kind!”
Hy antwoord te vinnig. Dan: “Ja, miskien. Ek weet nie…”
“Ek huil baie.” wys ek vir hom dat ek verstaan. “Angelo sê dis okey om te huil as mens hartseer is.”
“Praat hy…!?”
Op sy voorkop lê die twee wimper-vraagtekens nou teenmekaar.
“Baie oupa. Die Hele tyd!”
“Praat hy nou…?”
“Uh-huh…” antwoord ek. Baie trots daarop dat oupa iets by my gaan leer vandag. Gewoonlik is dit anders om.
“En wat sê hy…?”
“Hy sê, ons moet probeer hoor wat die spookvoël vir ons sê…”
“En…wat sê hy sê die voël?”
“Ek weet nie oupa. Hy sê ons moet eers self weer luister…self probeer hoor.”
“Hoooooe……hooooe……hooooe.”
“Hoor oupa?”
Hy draai sy kop wind-op. Maak weer ‘n bakhand langs sy oor. Toe die voël te lank wag om weer met hom te praat, waag ek dit om hom te probeer vertel…
“Hy sê: “hoe, hoe, hoe is dit dan, dat niemand op hierdie plaas sien, of hoor, wat aangaan nie…”
Oupa antwoord my nie. Maar sy kyk laat my weet hy verstaan wat ek bedoel.
“Angelo sê, hy dink ook so…” probeer ek wys dat dit nie my verbeelding is nie.
Oupa vat sy kierie vas en kom swaar orent.
“Ai kind….”
Vir ‘n oomblik voel hy duislig, maar vind dan weer sy balans op sy onvas hoepelbene. “Kom, ons moet huistoe. Ouma wag seker al vir ons met ontbyt…”
Dan begin hy aanstap bakkie toe.
Agter ons bly die halfgeskilde mango netso op die grond lê. Elke druppel lewenssap nou vergeefs uitgebloei.
Oppad huistoe volg die volg die voël ons al langs die stowwereige plaaspad. Al bly hy verskuil in die digte bosse, roep hy elke nou en dan. Asof hy wil seker maak ons hoor. Ek sien hoe oupa hom nou duidelik hoor, sonder om eers sy hand bak te moet maak. Daar rol weer ‘n traan teen sy gerimpelde wang af. Die keer weet ek dit is nie van die son in sy oë nie, maar van die weemoed in sy hart. Ek soek weer in my sakke, maar kry steeds nie my sakdoek nie. Hy vee die traan met die agterkant van sy hand af en kyk lank na my. Ek weet ons verstaan mekaar.
Dan begin my skouers saggies ruk van die opgehoude hartseer en die woede binne my. Hy vroetel in sy sak. Gee vir my sy sakdoek aan sonder om iets te sê. Dit ruik na sy weet en Ouma se Vinoliaseep. Ek huil my huil in sy sakdoek in tot ek leeg is. Hou dit dan na hom toe terug, want daar is nuwe trane op sy wang. Hy vat dit by my en frommel dit om en om in sy hand, sonder om sy eie trane af te vee. As hy wegkyk by die venster uit sien ek hoe sy skouers begin ruk. Seker van die huil binne hom, dink ek. Ons ry in stilte die laaste stukkie stamperige pad. Elke nou en dan hoor ons duidelik die voël se hartseer roep.
“Hoooooe……hooooe……hooooe.”
Toe ons by die plaashek indraai het Angelo dit klaar vir ons oopgeswaai en leuen hy ewe self-tevrede teen die skewe houtpaal. Met ons deurry, glimlag hy vir my en knipoog.
Ons verstaan mekaar.
“Faan…!?” vra Oupa verbaas.
“Ja, Oupa?”
“Het ons dan die hek oopgelos vanoggend?”
“Seker maar, oupa…”
Ek kyk terug en waai totsiens vir Angelo. Ek weet dat hy, vir eers, weer sal moet teruggaan na waar hy vandaan kom.
Agter ons hoor ek vir oulaas die voël uit sy bosplek roep.
“Hoe…hoe…. hoe is dit moontlik dat niemand sien wat aangaan nie?!”
©Fanus Strydom
September 2022 – Snelheidsprojek
1.Piet snorre en die spoedlokval
Die laaste bult af dorp toe is ‘n steil een. Oupa is haastig. En moerig. As Peet en Jaenette by Deerpark se plaaswinkel hulle werk ordentlik gedoen het, sou dit nie nou nodig gewees het vir ons om teen ‘n helse spoed dorp toe te moes jaag nie.
“Al wat ek vra is dat hulle die mieliemeel en hoenderkos op tyd bestel…” bekla hy nog een, laaste maal sy lot oor die onbeplande en ongerieflike uittog koöperasie toe. Hy leuen vooroor en stoei met die rathefboom langs die bakkie se stuurwiel om seker te maak ons is inderdaad in vierde rat. Agter op die bak, en styf teen die klein venstertjie aangeleuen, klou Elias verbete aan weerskante vas om regop te bly.
“Oupa…” waag ek dit.
“Wat Faan..?!”
Ek besef nou is miskien nie die beste tyd om hom te pla nie. Maar Elias se smekende oë agter my op die bak gee my moed om deur te druk :
“Ry Oupa nie bietjie te vinnig nie…?”
“Watwo te vinnig!” blaf Oupa en verstel die hoed op sy kop vir die soveelste keer. Hy hou nie van die netjiese kerk-en-dorptoegaan hoed waarop Ouma altyd so aandring nie. Die ding sit te styf en gee hom kopseer. Nes die ongemaklike kraag van die blinkgestrykte kakiehemp wat hy tydig en ontydig moet dra as hy dorp, of kerk toe moet gaan.
“As daai verdomde Gert Spanners die bakkie laas ordintlik gediens het, soos hy belowe het, sou ons nou nog vinniger kon ry…!”
Voor ons, by die ingang tot die dorp, verskyn die eerste stopstraat. Sonder om spoed te verminder, wat nog te sê van stop om links en regs te kyk, jaag ons regdeur die kruising die hoofstraat binne. Agter op die bak kom Elias weer regop vanuit sy platgevalde veiligheidsposisie.
“Oupa…!” protesteer ek nou luidkeels. “Dit was ‘n stopstraat…!”
“Ja en…?” gluur hy my aan.
“Mens moet mos stop…!?”
“Sê wie!?”
“Sê die wet, Oupa!”
“Die wet se gat man!” antwoord Oupa en vroetel in sy broeksak om die sweet van sy voorkop af te vee met sy sakdoek.
“Kyk jy maar net uit vir daai skelm Piet Snorre…”beveel hy sonder om spoed te verminder.
“Die spietkop-oom…?”
“Einste hy….” be-aam Oupa. “Hy kruip mos alewig agter ‘n bos, of ‘n boom weg om mens onverhoeds te betrap nes mens dit die minste verwag…”
By die tweede stopstraat slek Oupa darem ietwat af, maar ry weereeens deur sonder om te stop. Agter ons hoor ek die verbete getoet van ‘n ontstoke mede-dorpenaar. Elias lig sy hoed uit respekte vir die ontstelde ingedoende en om askies te vra namens die oubaas vir sy roekelose onverskilligheid.
Dan kom ons aan by Voortrekkerstraat, waar ons moet links draai koöperasie toe. Op die hoek en reg voor ons in volle sig staan die euwel van alle euwels dreigend op sy pos. Die dorp se nuwe, en enigste, verkeerslig. Nou in volle, rooi gloed.
“Verdomp…!” swets Oupa en pluk die rathefboom af na derde toe. Hy slek af. Kyk ongeduldig links, dan regs, maar besluit om die bloedrooi oog bokant sy kop te ignoreer. Ons glip ongesiends om die hoek af in Voorterkeerstraat.
Van agter ‘n groot Hibiskusboom op die sypaadjie spring konstabel Piet “Snorre” Smit meteens voor ons in die middel van die pad in. Met ‘n wit handskoenhand hoog ten hemele gelig beduie hy vir Oupa om af te trek met sy ander hand.
Oupa uiter ‘n woord wat ek nie durf herhaal nie en stamp sy regtervoet teen die rempedaal vas. Die bakkie kom stamperig tot stilstand reg in die middel van Voortrekkerstraat. Agter ons ry mevrou-dokter Ans Vermaak amper in ons vas met haar splinternuwe Mercedes Benz. Toe sy by ons verbygly gluur sy vir Oupa aan van onder haar duur dorpskapsel en vorm ‘n, genadiglik onhoorbare, woord met haar rooigeverfde lippemond.
Piet Snorre kom onseker aangestap vanwaar hy haastig uit die pad gespring het vir Oupa se vinnig-naderende doodsmobiel ‘n oombliik vantevore. Hy trek sy spietkoppet laag oor sy voorkop en druk die spieëlblink donkerbril stywer teen sy verskuilde oë op. Dan bevestig hy die posisie van sy boeteboekie in sy linkersak en vat-vat na die staatsdienspen daarlangs ingehaak. Toe hy aangestap kom na Oupa se kant van die bakkie toe rol hy ingenome sy weglêsnor om-en-om tussen sy witgehandskoende voorvingers. Oupa staar reguit voor hom uit sonder om ‘n woord te sê. Piet Snorre kom staan digby Oupa se venster. Díe is nou tot bo toegedraai, die hetige laeveldhitte ten spyt. Oupa gaan dit duidelik nie maklik maak vir die wetstoepasser om hom te benader nie.
“Tok, tok…” klop Piet Snorre teen die venster digby oupa se kop. Vir nog ‘n wyle ignoreer hy die wetstoepasser langs sy sy, maar draai dan die venster op ‘n skrefie oop.
“Oom Fanie…” groet die spietkop.
“Piet…” antwoord Oupa.
“Konstabel Smit…” dring hy aan.
“My magtag, Piet Snorre, vir wat spring jy voor my in!?” begin Oupa protesteer.
“Want oom het oor ‘n rooi verkeerslig gery…” Konstabel Piet vroetel nou aan sy bosak om sy boeteboekie uit te haal.
“Waarvan praat jy man!?” kap Oupa terug.
“Die robot, oom. Oom het oor hom gery toe hy rooi was…” beduie hy met sy staatsdienspen in die rigting van die verkeerslig agter ons.
“Maar jy praat mos nou bog, mannetjie!” Nou draai Oupa sy venster heeltemal oop. Hy leuen by die gapende ruit uit en wys na die rorbot agter ons. “Kyk, daar staan die ding nog presies waar hy netnou was. EK het g’n oor hom gery nie! Dan sou hy mos nou plat in die pad gelê het!”
“Oom Fanie, asseblief…”probeer Piet Snorre die situasie onder beheer kry. “Oom weet wat ek bedoel.”
“Nee, ek weet nie!” kap Oupa terug. “En ek dink ook nie jy weet nie!”
“Oom het ‘n rooi verkeerslig verontagsaam en daardeur die wet oortree…”besluit konstabel Piet om die saak af te handel. Hy begin in sy boekie skryf.
“Askuus oubaas…” probeer Elias van agter-af paai.
“Bly stil, Elias!” blaf Oupa. Dan weer teenoor konstabel Piet:
“Kyk hier Piet Snorre….as jy my nou vandag die moer in wil maak moet jy nou aangaan met jou nonsens!” Hy beduie met ‘n vinger in die spietkop se rigting.
“Almal op hierdie dorp ken my en my bakkie. Hulle kan mos sien ek is haastig en het nie tyd vir rondslomp in die strate nie. So, hulle kan mos stop as hulle sien ek kom aan…”
Piet hou nie op skryf nie.
“En daai verduiwelse verkeerslig affêre wat julle nou hier in die hoofstraat loop en inplant het! Dit is net omdat jy te blêddie lui geword het om jou werk ordintlik te doen!”
Piet skryf nog ‘n sin by in sy boeteboek.
“En gaan jy miskien vir tant Sophie verduidelik hoekom ek nou so laat by die huis gaan kom met haar mieliemeel en hoenderkos? Gaan jy!?” wil Oupa by die konstabel weet. Díe lees een laaste maal sy bevinding in sy boeteboek, skeur dan die bladsy versigtig uit en oorhandig dit plegtig aan Oupa.
“Gmf…”grom Oupa en pluk die pienk papier uit die spietkop se hande. Voor die wetstoepasser nog sy groet kon groet het Oupa reeds die bakkie weer in rat gestoot en trek ons weg met ‘n dolle spoed. Agter op die bak klou Elias maar eerder weer vas as om vir die wertstoepasser te probeer totsiens wuif.
By die huis aangekom later daardie middag was Ouma inderdaad hoogs ontsteld oor haar mieleiemeel en hoenderkos wat so lank gevat het om uit te kom. Maar oor die stywe boete op die pienk papier wat Oupa stilweg voor haar kwaai blik neergelê het, sou sy vir nog ‘n hele paar dae botweg boos en broeiend wees.
© Fanus Strydom
November 2022 – OOP Projek
1.Die val van dokter Varkman
Opgedra aan ‘n dierbare vriendin
Truda Rijkheer
† 29 Oktober 2022
3752 woorde
Bokant my kop, en digby die laaghangende plafon, proes en stotter die lugversorger moedeloos aan sy amper-onmoontlike taak. Te danke aan die soveelste, snikhete Kakamas-in-Desemberdag stoei die koelmaakmasjien moedig, maar vergeefs, met die taai, warm lug. Dis nog vroegoggend, maar die hitte sypel reeds deegtaai en drukkend deur die plat sinkdak van my klein spreekkamertjie toe die foon lui. Gewoonlik antwoord ek nie wanneer ek besig is met ‘n pasiënt nie, maar iets beweeg my om tóg maar die gehoorbuis op te raap:
“Hallo…” knyp ek die die mondstuk onder my een oor vas. My ander hand rus op die nek van die pasiënt op die behandelingsbed voor my.
“Dokter Fanus…?”
Daar is ‘n dringendheid aan die vrouestem aan die ander kant.
“Ja..?” be-aam ek.
Ek het lankal opgehou om aan die mense hier te te probeer verduidelik dat ek nie ‘n dokter is nie, maar ‘n Komplimentêre Geneesheer. Daar is ‘n groot verskil. Die een werk met gebreekte bene, gebarste derms en bloed. Baie bloed. Ek nie. Bloed laat my onmiddellik flou neerslaan. So ek het jare gelede al die minder grusame rigting van geneeskunde ingeslaan om die vernedering van gereelde flouword vir ewig te vermy. Spinale rehabilitasie en werwel-manupilasie is meer my ding. Dít tesame met die welstand van siel en gees, te danke aan my swaarverdiende, addisionele kwalifikasies in sielkunde en domineeskap. Die vele goudgeraamde grade, diplomas en sertifikate teen my muur uitgestal, was veronderstel om díe onderskeiding duidelik oor te dra. Maar vir die mense van hierdie verre, Noord-Kaapse geweste het ek gou bekend geword as “Dokter Fanus” en klaar. As jy eers ‘n vreemde, meganiese behandelingsbed in jou praktyk daar op die plot staangemaak het en jou hande onbeskaamd op die sielsiekes en seergekrydes op die ding voor jou lê om hulle seer uit te vryf, of uit hulle koppe uit te praat, dan is jy ‘n dokter, en basta met die res.
“Dis Hettie hier by die slagpale…” sê die stem aan die anderkant.
“Hettie, ek kan nie nou praat nie, ek is besig met ‘n…” wil ek vir haar sê dat ek nie nou kan praat nie, want ek is besig met ‘n pasiënt en dat dit onprofessioneel en onregverdig is om inbreuk te maak op sy behandelingstyd, maar sy val my ronduit in die rede:
“Jy moet dadelik kom. Hier’s ‘n noodgeval…”
In my geestesoog sien ek onmiddellik en in klinkklare detail die moontlike, grusame toneel voor haar by die slagpale. Het een van die slagters se hande dalk per ongeluk in ‘n elektriese saag beland en lê díe nou afgesaag, en krampagtig klouend na lewe, op die vloer voor sy voete in ‘n vinnig-groeiende plas bloed? Of dalk ‘n hele arm, afgeruk kort duskant die elmboog deur ‘n worsmasjien en nou reeds halfpad gemaal, gekrui en styf gestop in ‘n dik-gerolde worsderm? Ek voel die floute opwel in my nekslagaar…
“Bel vir dokter Harmse…!” gil ek in die foon in, “…of die ambulans!” Enige-iets om net die gedagte van bloed en derms en afgesnyde ledemate uit my geestesoog uit te dryf!
Op die bed voor my begin oom Koos Vermaak ongemaklik rondskuif. Hy het vroegdag vanmôre al vanuit Upington-distrik gery om betyds te wees vir sy rugbehandeling by my op Kakamas. Die gevallery van hom van die windpomp af nou die annerdag het meer as die wind uit sy seile gehaal. Toe hy vooroor-gebuig en krom die volgende dag by die veeveiling op die dorp opdaag, het een van die boere hom vertel van die nuwe rugdokter op Kakamas en sy vreemde, nuwe behandelingsmetodes. Oom Koos was aanvanklik skepties, maar die ondraaglike pyn tussen sy blaaie en die boer se versekering dat die nuwe doktertjie se behandeling regtig werk, het hom oortuig om tog maar te kom kyk wat die mannetjie kan uitrig. Sonder om te bel vir ‘n afspraak het hy met dagbreek al op my voorstoep opgedaag met ‘n halwe skaap in ‘n kartondoos en ‘n boks vol hanepoot-druiwe as betaling vir my dienste. Nou begin hy ongeduldig raak met my tydmors op die telefoon. Hy soek my (beweerde) genesende hande op sy seer rug en nek, en nie in die oor van die praatsugtige Hettie Havenga by Kakamas se slagpale nie.
“Uh-ummm…” maak hy keelskoon vanuit sy ongemaklike, kop-onderstebo posisie op die bed.
“Askuus oom…” fluister ek in sy rigting en druk sy gesig weer sagkens, maar ferm terug in die klein gaatjie van die bed onder hom, om hom gerus te stel en te verseker van my onverdeelde aandag. En om te verhoed dat sy onnodige gerondrollery my harde werk van die afgelope halfuur weer ongedaan maak. Toe hy weer die vernuftige drukkings van my vingers op sy seergewerkte nekwerwels voel, sug hy en sak sy skouers weer gewillig terug op die bed.
“Ahhh….” laat hy my weet dat hy voel hoe my (beweerde) genesende hande hulle werk effektiewelik doen.
“Man doktertjie, jy moet kom. Hier’s ‘n vark en hy’s in nood!” ruk tant Hettie my aandag opnuut terug na die slagpale toe en ‘n vark in nood…
“’n Vark..!?”
Ek begin half-histeries lag van verbasing en verligting. Dankbaar by die skielike wete dat die afhand-man klaarblyklik nooit sy hand verloor het in ‘n grusame plas bloed nie en die wors genadiglik sonder ‘n halwe arm aan die ander kan van die worsmasjien uitgekom het.
“Noumaar bel dan vir Smittie die vee-arts, Hettie. Ek werk nie op…” wil ek vir haar sê dat ek nie op diere werk nie. Maar weereens knip sy my verskoning kort:
“Smittie moes vroegdag al uit Keimoes se kant toe daar na Koos Donkie se plaas toe om sy bul se saad te loop tap. Die stomme dier loop mos al dae lank rond met ‘n balsak vol saad, want die koeie is skielik vol geite en nukkerig vir sy aandag en weier dat hy hulle klim…”
“Hettie..!” probeer ek haar stop, maar sy hoor my nie meer nie en kwetter ongestoord voort:
“…nou moet Smittie die saad loop tap en vries, want daai bul was peperduur en Koos sê hy kan baie geld kry vir sy saad by die veeboere oorkant die rivier in die Vrystaat, of dalk Kaap se kant toe. Nou staan hy wydsbeen en stokstyf gestrand met ‘n blougeswelde balsak daar bo langs die kanaal…”
“Hettie, hou asseblief op! Ek wil nie…”
Met my rug nou op oom Koos gedraai probeer ek moerig vir Hettie Havenga by die slagpale verduidelik dat ek nie wil hoor van ‘n vark in nood, of ‘n bul se blougeswelde skrotum, of sy duur saad nie en dat ek geen intensies het om my kliënt netso in sy ongemak te laat lê nie. So, sy sal maar ‘n ander plan moet maak, wou ek nog byvoeg, toe sy sê:
“En jy het mos annerdag daai gekrokte Kombi by Sakkie Slingerland se scrapyard gekoop. So, kry hom en jou gat in rat en kom haal die bleddie vark..!”
Nou het sy sopas ‘n baie teer saak aangeroer en ek voel die woede opwel in my keel. Ek gluur na haar denkbeeldige gesig in die gehoorstuk van die telefoon in my hand en blaf ontstoke terug:
“Daar’s niks fout met my bleddie Kombi nie, tannie! En ek sal kom en gaan soos en wanneer ek wil..!”
Die voertuig ter sprake was ‘n stokou, mosterdgeel, dubbelkajuit Volkswagen Kombi-bakkie uit die jaar 1963; die jaar van my geboorte. Ek het nog altyd gedroom om eendag so ‘n motor uit my geboortejaar aan te skaf en toe ek die dag die verwese ou bakkie by Sakkie se werkswinkel/skrootwerf sien staan, was ek onmiddellik verlief. Vele leë beloftes later van Sakkie se kant af dat die ou girl nog baie myle in haar tenk het, en net bietjie afstof nodig het hier en daar, was ek maklik oorgehaal. Met die rande uit my bankrekening en in sy sak was die transaksie gou beklink. Tydens ons nooiensvaart oppad terug plot toe van die werkswinkel af het die Kombi – vir die eerste keer – spoegend en in ‘n bol grougrys rook tot stilstand gestotter. Reg in die middel van die brug oor die Oranjerivier op die N1 hoofpad tussen Kakamas en Keimoes. Ten volle aanskoue van elke boer oppad dorp toe, boervrou oppad terug van die dorp af en vele karavaanslepende vakansiegangers oppad wie weet waarheen. Iedereen moes onvermydelik spoed verminder om hulle te vergaap aan die rokende, mosterdgeel wa gestrand reg in die middel van die brug. En die hoogs-ontstelde man en sy skaaphond wat hygend voor die rookbol uit probeer vlug rivier se kant toe. Die vernedering en hulle gapende grynslag-gespot was vir ewig in my gewonde gewete ingebrand. Ek soek na nog woorde om my verontwaardiging teenoor Hettie Havenga uit te spreek, toe sy kortaf tot die punt kom:
“Moenie jou gat vir my wip nie, doktertjie!”
“Klik…”
In my hand hang die doodgedrukte telefoon skielik leweloos en stil.
In die gat op die behandelingsbed voor my lê daar net ‘n opgevrommelde handdoekie waar Oom Koos Vermaak se gesig ‘n oomblik vantevore nog was. Deur die venster sien ek hom skeef-skeef, maar haastig, aanstap na sy bakkie toe. Oor sy skouer hang daar iets wat lyk na ‘n halwe skaap. Ek storm voordeur toe. Op die voorstoep val ek amper oor ‘n leë, bebloede kartondoos en sien Oom Koos in ‘n stofwolk wegjaag hek se kant toe. Ek wou nog skree en waai vir hom op terug te kom, maar hy het reeds links gedraai by die hoofpad terug Upington se kant toe. Lighoofdig by die gedagte aan ‘n ontstoke, verlore kliënt en by die aanskoue van ‘n bebloede, leë boks by my voete sluk-sluk ek aan die naarheid in my keel.
“Wat het jy vir tant Hettie gesê..?!” vra ‘n stem agter my op die voorstoep. Ek skrik en tol op my hakke om. Soos ‘n engel in ‘n songeel sonrok, staan Saartjie Saaiman kaalvoet en bruingebrand in ‘n ligkol op die voorstoep. Met haar hande op haar jongmeisie-heupe en haar kop half-eenkant toe gedraai, glimlag sy skalks vir my. Toe ek onbeskaamd na haar lenige, lang bene in die sonlig bly staar vou sy haar hande voor haar ronde borsies en sê:
“Ek wag…?”
Ek ruk my blik terug na haar oë en stotter skielik onsamehangend en skaam:
“Ek het net…hoe het jy?…hoe weet jy van tannie Hettie…?”
“Sy het my gebel. Gesê jy het jou gat vir haar gewip…” Saartjie staar kamma-kwaad na my, maar ek sien die lag in haar pragtige, seegroen oë.
“Sy het my vertel van die vark.” ignoreer sy my geblosery.
Ek soek nog na woorde om my waardigheid te probeer red, toe sy my voorspring:
“Kom-kom…daar’s nie tyd vir praatjies nie, ons moet ry. Kyk jy solank of jy die Kombi aan die gang kan kry…” Toe draai sy om en stap haastig weg die gang af agterdeur se kant toe.
“En bring daai leë doos by jou voete saam…” hoor ek haar vanuit die voorhuis skree. Gelukkig sien sy nie hoe ek opnuut bloos by die gedagte nie. Vir ‘n oomblik hang haar blomvars-parfuum nog in die koel stoeplug rond, maar toe is dit weg…Ek knyp die bloederige boks versigtig tussen een duim en voorvinger vas en dra-sleep die ding vies agter my aan om die huis.
Genadiglik spoeg die Kombi met die derde draaislag van die sleutel tot lewe en krap-krap ek aan die ratte om die ding onder die druiweprieël uitgestoot te kry. Oor die werf kom Saartjie ,steeds kaalvoet, haastig aangestap met ‘n groot staaltrommel in die een hand.
“Wat’s daai..?” roep ek bo die enjin se geraas by die klein kantvenstertjie uit.
“My toolbox.” sê sy en lig die swaar trommel sonder moeite op die Kombi se agterbak. Tussen die blougrys rookwolke sien ek die spiere speel op haar bruingebrande bo-arms.
Van die anderkant af kom Slingervel aangestrompel met ‘n groot konka vol water en ‘n streepsak oor sy een skouer. Hy sukkel om die konka agter op die bak gelig te kry, maar voor ek kon uitspring om te help is Saartjie klaar agterop en help hys sy die swaar drom op die bakkie en skuif dit tot teenaan die agterste venster. Slingervel sit die kartondoos – bloedkant ondertoe – op die vloerpan neer en gooi die streepsak oop daaroor. Toe maak hy homself gemaklik tuis daarop tussen die drom en die agtervenster. Langs my gly Saartjie rats by die groot swaaideur in en skuif haarself reg op die voorste sitplek.
“Toe-toe, kom ons ry..!” lag sy in my rigting en klap my speels teen my kop, deeglik bewus van my blik op haar sonbruin kuite.
Vir een, korstondige oomblik beleef ek een van die gelukkigste tye in my lewe. Met die wind in ons hare ry ek op die ooppad met die meisiekind waaroor ek saans vreemde, onrustige drome droom langs my op die voorste sitplek van my droomkar uit my my geboortejaar. En, kiertsregop en rooitong-opgewonde tussen ons, my getroue skaaphond Tic-Tac. Onder ons sing die enjin ‘n vreemde, nuwe lied. My witgeklemde kneukels ontspan effe op die groot, wit stuurwiel en ek kyk na haar. Sy lag met haar gesig half by die venster uit teen die wind in en wys na ‘n reuse Kokerboom in die vêrte…
“Waarvoor is die streepsak..?” vra ek in haar rigting.
“Wat..!” skree sy terug. Die enjin se geraas en die wind maak dit moeilik om te gesels.
“Die streepsak..!” sê ek harder en wys na die agterkant van die bakkie.
“Dis vir my om op te lê…” hoor ek haar skaars bo die wind. Sy sien die vraagteken op my voorkop en lag net weer by die venster uit.
“En die water..?” wil ek weet. Díe keer hoor sy my:
“Dis vir die vark…” antwoord sy en meet my reaksie. Ek maak ‘n gebaar met my lippe en knik my kop, asof te sê: “natuurlik…water vir die vark. Wie sou nou nie daaraan gedink het nie..!?”
“En die boks..?” los ek die ergste vir laaste.
Sy wys na my en sê iets met haar mooi, rooi lippe, maar die wind waai die woorde by die venster uit voor ek kan hoor wat sy sê.
By die slagpale aangekom groet Hettie my skaars, maar beduie darem vir Saartjie waar ons die vark kan kry. Die arme ding was inderdaad in nood, aangesien hy ‘n mak troetelvark was wat op een of ander manier tussen die ander slagvarke op die trok oppad slagpale toe beland het. Miskien wou sy eienaars hom nie meer hê nie en het hulle, in hulle wreedheid, besluit om hom maar saam te stuur na sy ontydige dood toe. Gedink niemand sou hom uitken tussen al die ander terdoodveroordeeldes nie. Die feit dat hy pikswart, yslik groot en hondmak tussen al die ander kleinerige, pienk en paniekbevange slagvarke in die middel van die trok gesit het soos ‘n kolossale teddiebeer, het hulle klaarblyklik heeltemal ontgaan. Maar Hettie Havenga het hom dadelik raakgesien die oomblik toe die trok voor haar kantoorvenster verbyry oppad aflaaidok toe. Met haar logge lyf het sy by die voordeur uitgestorm en vir die drywer probeer skree om te stop. Toe hy haar nie hoor, of wou hoor nie, het sy kortpad anderkant om die watertenks gevat en prontweg voor die drywer in die pad gaan staan met albei arms wyd oopgesper en hom gedreig om te stop. Aan die kwaai kyk in haar oë moes hy gesien het die antie wil nie mee gespeel word nie en het hy geen ander keuse gehad as om die trok net daar, in die middel van die pad, tot stilstand te bring nie. Vir ‘n volle uur of wat is die hele slagpale-roetine totaal tot stilstand gedwing, terwyl Hettie bevele uitskree en orders gee oor hoe om die vark, veilig en ongedeerd, tussen al die ander van die trok af te kry, sonder dat die hele spul op loop gaan die veld in, of dorp se kant toe vlug. Met die vark veilig van die trok af en gespaar van ‘n sekere en wrede dood danksy Hettie Havenga se dapperheid en flinke optrede, het sy my geskakel om hom te kom haal. En dit is waar ons hom toe kry; rustig aan’t vreet aan ‘n handvol geelwortels in die koel skaduwee van ‘n Peperboom langs die buitegeboue van die slagpale. Sonder te veel moeite kon ons hom oortuig om ons te vertrou en het hy lomp en loggelyf teen die oplaaiwal opgestap agter Saartjie aan tot teenaan die Kombi se agtervenster. Daar het hy kiertsregop en sonder seremonie, langs Slingervel, op die streepsak gaan sit en kon ons uiteindelik ons ry kry weg van die afgryslike dal van doodskaduwee af. Die plan was om hom na Augrabies te neem waar iemand hom sou aanneem en reeds op sy aankoms vir ons gewag het. Dus draai ek die Kombi se neus regs by die grootpad in die rigting van Augrabies en druk die rathefboom na derde toe om spoed op te tel vir die kort rit na redding vir die vark op die bak in my truspieëltjie.
Alles verloop glad en ons vorder goed, alhoewel ek agterkom dat die Kombi swaar trek onder die ekstra gewig van die vark op sy laaibak. Ek sien hoe die temperatuurnaald vinnig begin klim in die rigting van die rooi, maar ek sê niks en bly hoop vir die beste. Oomblikke later, en presies by die afdraai Augrabies toe, tref die noodlot egter soos ‘n donderslag uit die bloute. Die Kombi is meteens morsdood onder my voete en die bekende grysblou rook begin van die vloer af by die kajuit inborrel. Kort voor lank staan ons finaal gestrand in die middel van die pad met net die ooptes om ons en die twaalfuur-son regbo ons koppe in die glaswit lug. In albei rigtings voor en agter ons verdwyn die teerpad in glimmende lugspieëlings op die horison. Ek sak vooroor en rus my kop op my arms teen die stuurwiel.
“Ag Here, wat nou…” prewel ek moedeloos teenoor die dooie instrumentpaneel voor my gesig. Toe ek uiteindelik opkyk gaap die passasiersdeur langs my wyd oop en Saartjie en my hond is weg. Vêr in die klipperige veld sien ek vir Tic-Tac ronddraf en beenlig teen elke beskikbare bossie en miershoop. Van agter die Kombi hoor vir Saartjie praat:
“Slingervel, bring die streepsak en gooi hom oop hiersô…” Ek leuen half by die oop deur uit en sien hoe sy aan handlanger beduie waar hy die streepsak, half-onder die Kombi se agterstewe, in moet oopgooi. Sy het reeds haar gereedskapkas oop op die warm teerpad langs haar en begin doelgerig vroetel na moersleutels en goeters. Toe trek sy die songeel sonrok hoog teen haar pragtige bobene op en seil seepglad onder die kokende onderstel van die gewonde wa in tot net haar onderlyf en twee duinbruin, lenige bene en kuite by die kant uitsteek. Haar rooigeverfde toonnaels vroetel in die lug soos sy wriemel en worstel om haar lê te kry om te doen wat sy moet doen om die Kombi weer aan die gang te kry.
“Kan ek help met iets…?” vra ek teen haar bene op onder die Kombi in. Welwetende dat dit ‘n stupid vraag is, want ek weet absoluut niks van karre af nie.
“Maak hom nat…” kom ‘n dowwe stem van iewers vêr onder die ryding uit.
“Wat…?” maak ek seker ek hoor reg.
“Die vark…gooi hom nat met die water in die drom en hou hom koel. Hy gaan oorverhit in hierdie hitte…” beveel sy verder. Dan teenoor Slingervel: “Nommer tien, Slinger…en die groot sterskroewedraaieer ook, ‘seblief…”
Toe ek van my hurke af opstaan om teen die bak op te klim, gee sy haar finale opdrag van iewers diep onder die gewonde wa:
“En waai hom koud met die kartondoos…die hele tyd…hy moet nie oorverhit nie, dan’s dit tickets met hom..!”
So kom dit toe dat ek op die agterbak van my droommotor uit my geboortejaar stelling inneem langs ‘n reuse, swart vark en hom lawe met handevol water, terwyl ek hom naarstigtelik koelwaai met ‘n stuk bebloede karton. Reg langs die hoofpad tussen Kakamas en Augrabies en ten volle aanskoue van elke boer, boervrou en karavaanslepende vakansieganger wat díe betrokke dag op die díe betrokke moment daar verby sou gaan na wie weet waarheen ookal. Onder die bak steek twee pragtige, sonbruinbene in ‘n songeel sonrok uit, terwyl ‘n rosyntjiegesig handlanger die een spanner na die ander aangee vir die halwe meisiekind op ‘n streepsak in die stof. Al wat ek kon doen was waai en bloedrooi gebloos groet vir elke verbaasde, laggende en spottende gesig wat díe petalje in ongeloof aanskou, terwyl hulle noodgedwonge stadig verbyry om alles in detail in te neem.
‘n Uur of wat later het Saartjie onder die Kombi uitgeseil, haar oliebesmeerde hande en gesig in die water langs die vark gewas en die sleutel gedraai. Die Kombi het doodluiters aan die gang geproes asof niks ooit verkeerd was nie. Ons het die vark by sy uiteindelike eindbestemming afgelaai en ek het nooit weer ‘n woord van hom gehoor nie. Behalwe dat hy baie gelukkig en vetgevreet in sy nuwe tuiste maats gemaak het met ‘n ander, plaaslike speenvark uit die omgewing.
Twee dae later lui my telefoon in die spreekkamer. Ek tel die gehoorbuis half twyfelagtig op:
“Halo..?”
“Is dit dokter Varkman…?” herken ek oom Koos Vermaak se stem onmiddellik aan die ander kant.
“Ja oom…ek’s jammer oor die…” probeer ek lomp vir hom sê ek is jammer oor die ander dag se ongerief.
“Moenie worry nie, doktertjie…loop kyk daar op jou voorstoep lê ‘n ietsie in ‘n boks vir jou.” Val hy my in die rede. En toe, voordat hy weer die foon in my oor neersit:
“My rug voel sommer beter man en ek wou net sê baie dankie…”
Op my voorstoep, vlak by die voordeur kry ek ‘n varsgeslagde, halwe skaap in ‘n nuwe, skoon kartondoos en vlak daarby ‘n hele krat vol soetryp Hanepootdruiwe.
En so het ek dan alom bekend geword as “dokter Varkman” aan almal in die kontrei. Jare daarna is nog vele, opreg-dankbare mense vir ewig genees van seer liggaam, siel en gees deur my beweerde, genesende hande.
Die mosterdgeel Kombi uit my geboortejaar is kort daarna, en sonder veel wik en weeg, via die internet verhandel aan ‘n opgewonde versamelaar uit Gauteng vir ‘n stewige en baie welkome wins.
©Fanus Strydom
Desember 2022 – Samesyn projek
1.Hoe ry die boere – 1
2351 Woorde
Pa het onophoudelik daarop aangedring dat ons voor sonop reeds by die die huis moet uit wees op ons lang tog plaas toe díe Desember. Sodat die skelms nie kan sien ons gaan op vakansie nie, want dan kom breek hulle in en steel al ons goed. So, voor die son nog van andertkant af oor die Magalsiesberg kon klouter na ons kant toe, moes die Opel stasiewa se neus reeds links opdgedraai wees in Frystraat oppad Meyerstraat toe. Waar ons dan links sal draai om al langs die berg af te ry aan hierdie kant, totdat ons uiteindelik by Voortrekkerstraat kan regs draai deur die poort oor die berg. Dan af met die steil, krom afdraende oor die nek -verby die reuse wonderboom op links- tot by die hoofpad Warmbad toe. Daarvandaan het die teerpad Noorde toe, plaas toe, lank en uitgestrek voor ons oopgelê. Al die pad deur vyf daaropvolgende dorpe en opophoudelik vir ses, lang ure se ry en ry en ry…
Die Opel is swaargelaai met alles en almal en wat ookal nog nodig was vir die drie weke se kuier op die plaas. Ek sit voor, tussen pa en ma, met my bene wydsbeen oor die rathefboomgedoente tussen my opgetrekte knieë. Ek moet doodeseker maak my regtervoet bly heeltyd uit pa se pad uit waar hy behendig rondtrap tussen die petrol, koppelaar en rempedale aan sy kant om ons veilig op die pad te hou. Aan ma se kant moet Fielies, ons geliefde Pikenese-hond, onder by ma se voete maar haar beknopte lêplek kreunend oopveg tussen die medisyntas, die padkosmandjie, die koffiefles en ma se handsak. Op die agtersitplek sit ousus Adie links, teen die venster, met ouboet Wim regs aan die ander kant. In die middel, en ongeduldig ingewig tussen hulle, was middelsus Hanlie. Agter hulle drie se koppe, en tot barstens toe volgelaai tot hoog bo teen die stasiewa se dak, was ons bagasie in die bagasiebak: koffers, taste, sakke, beddegoed, kussings en komberse, en verskeie sakke, bakke en blikke met koek, kos en koeldrank vir die groot vakansie-eet. Al wat pa kon sien in die truspieëltjie links bo sy kop, was ‘n klein, ronde loergaaitjie deur al die pakkasie deur tot net agter in die pad agter hom.
Alles verloop aanvanklik redelik glad en ons was uiteindelik oppad na weke se alles-deurdagte, wel-bespreekte, beplanning, bespreking en beproewing van iedereen se geheue, emosies en geduld. Tot ons by die eerste sirkel in Meyerstraat aankom, skaars tien minute weg van die huis af. Hier ervaar ma die eerste van haar onwillekeurige en onkeerbare twyfel-aanvalle…
“Willie…” sê sy in haar almal-weet-wat-nou-gaan-kom, benoude stem.
“Ja ma…?” berei pa hom voor op die ergste.
“Ek’s nie seker of ek die stoof afgesit het nie…”
“Is jy seker..?”
“Ja…” kou sy senu-agtig aan haar onderlip.
“Dat jy hom afgesit het..”hoop hy steeds vir die beste.
“Nee…”be-aam sy egter die ergste.
Vir ‘n kort oomblik daal daar ‘n dragtige stilte oor ons reiskapsule neer, terwyl ons onafwendbaar op die eerste sirkel afpeil. Pa kyk vir ma. Sy kyk vir hom. Hy kyk na die sirkel voor ons in die pad en besef hy sal vinnig ‘n moeilike, onwelkome besluit moet maak. Ons sal moet terugdraai om te gaan kyk. Wat as die huis afbrand terwyl ons weg is..?
Besluit gemaak, verstel pa sy hande onwillig terug na tien voor twee op die stuurwiel, en gooi die Opel se rathefboom tussen my bene af na derde toe. Ons vlieg by sesuur by die sirkel in, hel gevaarlik vyf-en-veertig grade oor bakboordkant toe al om die sirkel, tot ons weer by sesuur regop kom en terugskiet huistoe. Onder by ma se voete skop Fielies se honde-instink meteens in en dink sy ons is alreeds weer terug oppad huistoe na ’n baie kort vakansie. Sy hyg opgewonde teen ma se bene op en probeer rooitong sien wat aangaan met twee albaster uitpeuloë. Ma dreig haar ongeduldig met ‘n pak slae en druk haar kop weer onseremonieël terug in haar beknopte lêplek in. Uit protes los sy (Fielies, nie ma nie) prontuit ‘n wind wat spoedig die binnekant van ons kar met stinkende gifgaswalms oorrompel. Pa kyk na ma, want die reuk kom van haar kant af. Ma kyk vies-verontwaardig terug na pa om te sê dit was nie sy nie, terwyl sy naarstigtelik begin krap in die paneelkassie voor haar opsoek na die vuurhoutjies om te trek teen die stinkende walms. Op die agtersitplek druk Wim en Adie gelyktydig hulle koppe by hulle onderskeie, oopgegooide vesters uit, opsoek na vars lug en redding teen die oorweldigende stank. Gestrand in die middelste gestoeltes, moet ek en Hanlie maar maak doen met die tydelike verligting van die een getrekte vuurhoutjie na die ander deur ma, totdat die asemhalingsvlakke binne die kar se kapsule weer kan terugkeer na amper uithoubaar.
Terug by die huis wag ons almal in gewyde stilte in die luierende kar op die aanloopbaan, terwyl pa ongeduldig worstel met die verskeie sleutels, slotte en sekuriteitshekke om te gaan kyk of die stoof inderdaad aan, of afgesit is. Met sy terugkoms verklaar hy vieserig-versigtig in ma se rigting:
“Hy’s af…”
“Ag, dankie tog…” sug ma verlig en sluk haar eerste hoofpynpil; dankbaar by die wete dat die huis ten minste nie gaan afbrand in ons afwesigheid nie.
Toe ons weer opstyg berg se kant toe, was die veiligheid van donkerte nou vinnig besig om te verander in die onheilspellende eerste lig van potensiële misdaad, onheil en moontlike rowery.
Vir die tweede keer draai ons links in Meyerstraat, en skiet ons kort voor lank, weereens by sesuur by die eerste sirkel in. Díe keer hel ons net kortstondig oor na links, voordat ons dan suksesvol by twaalfuur uitwip vorentoe. Pa skuif homself gemakliker in sy stuurstoel terug en steek ‘n sigaret aan as teken dat dinge klaarblyklik, vir eers, onder beheer is. Hy kyk dankbaar, vir oulaas, na die vinnig-opkomende son in die loergaatjie agter hom. Onder by ma se voete vind Fielies weer haar oorspronklike, beknopte lêplek en kry haarself gereed vir die tweede probeerslag. Oomblikke later duik die tweede sirkel in Meyerstraat voor ons op in die Opel se dowwe hoofligte. Weer begin ma onrustig rondskuif in haar passasierssitplek en begin sy verbouereerd soek na iets wat net sy weet waar sy dit gesit het…
“Wat soek jy nou, ma..?” wil pa weet. Skieik weer onrustig by die duidelike voorbode van ma se onseker lyftaal.
“Die waskamer se sleutels…” antwoord sy sonder om haar kop te lig vanuit haar handsak onder by haar voete.
“Hoekom…?”
“Ek kry dit nie…”
“Maar het jy dan nie..!?”
“Ja ek het, maar ek kan nie onthou of ek..!”
“Ag nee maggies, my vrou…hoe kan jy nie..!?”
As hulle eers so in kodetaal met mekaar begin kommunikeer dan kan mens maar weet die temperatuur is verseker besig om te styg.
“Ek dink ek het hom in die deur gelos toe ek gaan kyk het of ek die wasmasjien se krane toegedraai het..!” erken ma onomwonde die moontlikheid van ‘n dubbele, meer ernstige katastrofe as die eerste een.
“Genade tog, vrou..!” sug pa vies en gryp weer die stuurwiel onwillig vas om die tweede sirkel op dieselfde manier aan te pak as die eerste een. Weereens hel ons almal onkeerbaar eers na links, dan na regs, soos ons drie honderd en sestig grade al in die rondte om die tweede sirkel in Meyerstraat tol op ons pad terug huistoe vir die tweede keer. En nogsteeds in presies die teenoorgestelde rigting as die een waarvoor ons almal so lank beplan en uitgesien het die afgelope tyd.
Teen die tyd dat pa, nou hoogs bemoerd, vir die derde keer haastig teruggly in sy sitplek in, en sy veiligheidsgordel ongeduldig vasknip vir ons derde keer die berg op Meyerstraat toe, wag die son reeds vir ons bo-op die berg. Nou reeds gemaklik op sy gewoontelike oggendsitplek bo die reservoir strooi hy die nuwe oggendlig uit oor die bleekwit Moot onder hom. Agter hom deur die loergat sien pa in sy truspieëltjie hoe die laaste kans op ‘n vroeg-oggend, veilig-in-die-donkerte wegkomkans vir ewig vervaag in die son se eerste strale oor ons werf.
Díe keer navigeer ons beide sirkels in Meyerstraat sonder enige verdere voorval en in relatiewe stilte, terwyl elkeen homself besig hou met sy eie gedagtes. Teen die tyd dat ons by Voortekkerstraat aankom om regs te draai teen die steil bult op, kon ons ten minste ooreenkom dat ons dankbaar is dat ons uiteindelik oppad is, en herhinner ma ons almal op hierdie punt, dat ons ten minste seker kan wees van twee katastrofes wat afgeweer is: ‘n helse vuur en ‘n Bybelse vloed.
“Altwee kon al ons aardse besittings in ‘n oogwink uitgewis het terwyl ons weg was, as ons nie teruggedraai het om te gaan seker maak nie…” profeteer sy so half-beskuldigend in pa se rigting, omdat hy duidelik nog nie oor sy buierigheid gekom het oor die twee keer se terugdraaiery nie. Die feit dat die skelms verseker kon sien ons gaan op vakansie, moes maar vir eers in die duister binnekamers van ons bekommerde koppe agterbly, want pa het dit intussen baie duidelik gemaak hy draai nie weer om vir enige-iets nie.
So snel ons toe aan die verkeerde kant van die Magaliesberg af in Meyerstraat al die pad tot by die groot kruising met Voortrekkerweg, waar ons uiteindelik kan regsdraai Noorde toe…plaas toe.
Die verkeer in Voortrekkerweg dreun onophoudelik voor ons Opel se neus verby in albei rigtings, maar hoofsaaklik berg se kant toe van die stad af. Motors, motors met karavane, motors met sleepwaentjies, motors met bagasiebondels hoog gestapel bo-op hulle dakke…almal stoom naarstigtelik berg-op om oor die steil bult te kom op hul lang pad Noorde toe.
Pa moet sy kans goed kies om ‘n opening te kry in die nimmereindigende stroom voertuie wat voor ons verby trompetter oppad boontoe. Ek lê so plat as wat ek kan terug teen die sitplek om uit sy gesigveld te bly, terwyl hy links, dan regs, dan weer links meet-meet aan elke moontlike gaping om ons in die sleurstroom in te kry. Ma soek net so naarstigtelik vir ‘n geskikte opening en met tye kyk hulle oorkruis, maar lynreg, in mekaar se onderskeie gesigsvelde in. Dan sug pa moedeloos en sak weer terug teen sy bestuursitplek om van voor af te begin soek.
“Genade tog, vrou…ek kan nie sien as jy so vorentoe lê nie!” berispe hy vir ma en skiet sy sigaret by die klein kantvenstertjie aan sy kant uit.
“Maar ek probeer net help kyk…!” protesteer sy moedig terug.
“Ek weet, maar sit asseblief tog net terug dat ek kan sien wat aangaan…”
Op hierdie stadium begin ek wonder of hulle huwelik hierdie uittog gaan deurstaan…
Pa druk-druk die Opel se neus nog ‘n klein entjie vorentoe, kyk vir een laaste maal links, dan regs en vat dan sy kans. Ons bokspring rats vorentoe en maak ‘n wye, slap draai reg oor die dubbel-hoofstraat, tot in die heel linkerkantste baan aan die anderkant, waar ons rakelings ‘n nou gaping vind aan die teenoorgestelde kant van die besige verkeer berg-op. Ma snak liggies na haar asem langs my en bring haar hand na haar mond. Sy besef dat sy liewers op hierdie stadium niks meer moet sê nie. Op die agtersitplek laat Wim vir die eerste keer iets van homself hoor:
“Nice pa..!”
Agter ons, deur die loergaatjie, sien ek hoe ‘n oom in ‘n bloedrooi Chevrolet of iets, baie naby aan ons, vir pa sy vinger wys en iets onhoorbaars beduie deur sy voorruit. Die tannie op die sitplek langs hom se oë is amper netso groot soos ma s’n en sy praat ook heftig saam. Pa blaf iets ewe onhoorbaar terug in sy kantspieëltjie vir die ongeskikte oom agter ons voor hy sy aandag vestig op die pad voor ons. Ons is in. Nou klou hy verbete vooroor aan die Opel se stuurwiel en gryp na die rathefboom tussen my knieknoppe. Onder sien ek hoe sy voete kruis en dwars orrelspeel oor die pedale soos hy probeer spoed optel die steil bult op. En om ‘n groter gaping te probeer bewerkstellig tussen ons en die onvriendelike oom in die rooi Chev agter ons. Maar, so hard as wat hy probeer, wen ons nie juis veel veld nie. Onder ons dreun die Opel se enjin hoorbaar ontsteld onder sy swaar vrag en klim die temperatuurnaald op die konsolepaneel voor pa se neus vinnig oppad na sy rooi afsnypunt.
“Kom Opeltjie, kom…!” moedig pa die stasiewa aan, terwyl ma bekommerd oor my leuen om te sien waar lê die naald. Langs ons gly die rooi Chevrolet moeiteloos by ons verby met die onvriendelike oom en sy rooihaar-tannie langs hom. Toe ons almal opgewonde vir hulle waai, pluk hulle hulle koppe verontwaardig vorentoe en seil moeiteloos onder ons uit die steil berg op.
“Kom oubaas, nog net ‘n entjie…”pleit pa smekend in die rigting van die Opel se neus voor ons, vanwaar daar nou ‘n duidelike stoomwalm begin uitpeuel van onder die enjinkap. Voor hom op die konsolepaneel druk die naald nou styf teen die rooi kookpuntpennetjie vas.
“Gaan ons dit maak, pa..?” wil iemand van agter-af weet.
“Moenie vir pa nou pla nie..!” berispe ma die onwelkome ondervrager terug tot stilte.
“Ons is amper bo…” stel pa ons almal gerus “nog net ‘n klein entjie…”.
Dan breek ons genadiglik deur die poort bo-op die berg en lê die lang, steil afdraende uitgestrek en oop voor ons al die pad ondertoe.
“Jippee…!” gil ons almal in diepe dankbaarheid en begin opgewonde hande klap.
“Nee Fielies, af…!” druk ma die hond weer terug ondertoe en begin solank soek na ‘n vuurhoutjie. Die ergste is vir eers verby.
“Nice pa…” sê Wim weer een van sy min woorde.
“Nice pa!” lag ons almal saam in ‘n dankbare koor. Tot ma lag saam en ontfrommel die sakdoekie wat sy in ‘n senuweebol tussen haar voorvingers opgebondel het.
Die egste is inderdaad, vir eers, agter ons.
(word vervolg../)
©Fanus Strydom
2.Hoe ry die boere – 2
2529 woorde
Die eerste skof, tot by Warmbad, verloop seepglad en sonder enige verdere, onverwagse voorval of onnodige oponthoud. Die pad is besig, en dit vat pa maar ‘n rukkie om homself in ‘n gerieflike ryposisie in genesskrop te kry, met sy regtervoet gemaklik op die petrolpedaal en sy elmboog halfpad by die oop venster uit aan sy kant. Maar, kort voor lank vervaag die frons op sy voorkop en begin hy ontspan. Hy maak gou vrede met die feit dat daar elke nou en dan, veral wanneer die bultjie voor ons effe steil raak, ‘n lang tou motors, trokke en ander voertuie van verskillende soorte agter ons opdam. Die arme Opel was tot die uiterste toe gelaai en het maar swaar getrek teen die gereelde opdraendes en steil bulte uit. Maar, sodra die hindernis vir eers weer oorkom is, en die soliede lyn verbrokkel in verbygaan-strepe voor ons, kon die iesegrimmige opgehoudes opnuut teen dolle vaart van agter-af by ons verbysnel op hulle naarstiglike jaagtog Noorde toe.
“Ja jaag maar, jong…ons sal almal tog uiteindelik weer by dieselfde piepieplek moet stop, of om petrol in te gooi…” sal pa so nou en dan ‘n onverskillige, en gewoonlik onvriendelike, verbyjager gelate groet met ‘n vingerwysing en een of twee ander onhoorbare woorde by sy venster uit. Ek dink dit is om hulle alle voorspoed toe te wens op hulle onnodig-oorhaastige poging na die voorpunt van die deur-ons-veroorsaakte tou die bult op. Die warmbloedige onstuimigheid binne hom van vroeër was teen hierdie tyd nou genadiglik weggespoel deur die gemoedelike dreunsang van die getroue ou Opel onder sy hande. In plek van die buierige ongeduld-weer om sy kop, het daar intussen ‘n rustige, en baie welkome, dampkring van welgeluksaligheid oor sy skouers uit begin rol, soos die wolke oor Tafelberg op ‘n belowende, vroegmôre sonskyndag. Aangeblaas deur die welverdiende en sonderlinge, eenjaarlikse wete, dat hy uiteindelik weer regmatig aan die stuur mag sit van sy eie skip op reis na Kerstyd rus-en- vrede iewers vêr weg op ‘n plaas diep in die laeveldse bos. Hy was uiteindelik weer kaptein van sy eie skip, en díe was tot barstens toe volgeprop met vrou, kinners, hond en genoeg kos, klere, Kersgeskenke en liefde vir ‘n leeftyd saam die onseker toekoms in.
In die motor begin ons elkeen ook nou, op ons eie unieke manier, vertroud raak met die voorkennis van ure lank se sit in een posisie, en vind elkeen gou die ideale oriëntasie vir sy, of haar onderskeie boude, bene, knieknoppe, elmboë en ander ongemaklik-saamgepersde aanhangsels en/of uitstulpings. Van buite af fluit die luggie koel en verfrissend in deur pa se oop venster en ry die vroegoggendson gesellig saam deur die ruite aan die regterkant. Kort voor lank begin ons lag en saam gesels oor ditjies en datjies en hondjies en katjies en allerhande anner goed, en vergeet ons gou van die ongelukkige begin van vroeër vanoggend. Ma kies een van drie, groot, rooi kassette uit die paneelkissie voor haar en stoot dit in die gat voor my bene in die paneelbord in. Na ‘n paar, aanvanklike gly-pogings begin Groep 2 ook entoesiasties saamsing van ‘n padda wat wou gaan opsit by sy nooi in die vlei…ahum, met lippe so rooi…ahum, en van ‘n wilgerboom op die wal by Potchefstroom..ahum. Dis nog te gou vir padkos, so ma troos elkeen solank met ‘n swietie uit die blik by haar voete, en ‘n voortydige slukkie Oros uit die bottel, ook by haar voete. Ons het, uit gewoonte, beter geweet as om te vra vir nog, want die antwoord was, soos altyd op hierdie vroeë stadium van die reis, wel te verwagte:
“Nee kinders, net enetjie…die pad is nog lank.”
Soos wat pa aan die stuur van sake was ten opsigte van vervoer, pak, padroetes, rytuie en tye, was ma in beheer van voedselvoorbereiding, voorsiening, regverdige verspreiding en algemene traktering van almal aan boord. Ek het persoonlik die groot, vierkantige, half-deurskynende Tupperbak met sy bloedrooi deksel van die kombuis af stasiewa toe gedra vanoggend. Daar het ek self deur die dowwe, plastiekwand gesien hoe die witbrood konfyt-en-kaas toebroodjies aan die een kant tot hoog bo teen die kant opgestapel is, teenoor die grondboontjie-en-stroop nefies, in bruinbrood, aan die anderkant. In die middel, en behaaglik toegewikkel in ‘n kraakskoon, bont kombuisvadoek, het ek skelm geloer toe niemand kyk nie, en gesien daar lê individueel-verpakte bondeltjies gaar-gebakte boereworsvingers, bruingebraaide frikkadelbolle, verskeie hardgekookte eiers (ten minste een vir elkeen, dalk twee vir die erg-hongeriges) en ‘n paar blokkies ekstra soetmelkkaas net vir ingeval. In ‘n ander klein, plat bakkie, wat net-net bo-op die vleisgoed gepas het, was daar eweredig gesnyde skywe rooiryp tamaties saam met ‘n piepklein, plastiek sout-en-peper-potjie met gaatjies aan teenoorgestelde kante. Ook in die mandjie by ma se voete was ‘n fles vol kokende, swart moerkoffie en witsuiker in ‘n leë konfytbotteltjie saam met twee, af-oor koffiebekers en ‘n enkele teelepel vir roer. Melk sal ons kry by die kafee langs die pad net voor ons stop vir ontbyt by die voorafbepaalde aftrekplek. Maar, tot dan moes ons maak doen met ‘n enkele Sugus-vrugteswiet, of ‘n Liqourice Allsorts, afhangende van die geluk van die trekking vanuit die blikkie oor ma se skouer. Saam met ‘n lusmaker-knertsie koeldrank uit die piepklein glasie wat gewoonlik op Sondae gebruik word vir soetwyn aan tafel tydens middagete na kerk.
Ons gly sonder stop of te veel rondkyk deur Warmbad se hoofstraat en voor ek nog kon regraai waar die nommerplaat “TPJ” vandaan kom, is ons alweer by die dorp se boonste stopstraat uit oppad Nylstroom toe. Kort voor lank ry ons verby die wal van Nysltroom se dam aan ons linkerkant en begin die stadsgevoel eweskielik vervaag deur die onmiskenbare saambondel van kolle digte bosveld-ruigtes hier en daar om ons. Pa sê die bordjie langs die pad met die bok daarop wat spring, beteken dat daar dalk koedoes vorentoe mag wees wat voor die kar oor die pad kan spring. Ek maak dit opsluit my geheime taak om uit te kyk vir enige teken van hulle in die stadig-verbyglyende skadukolle onder die digte bome om ons. Maar, al wat ek te siene kry is ‘n paar vaalbruin beeste aan ma se kant, ‘n klompie haastige tarentale aan die ander kant by pa se neus verby, en uiteindelik ‘n oom op ‘n trekker met ‘n sleepwa vol ryp waatlemoene agterop, deur die windskerm voor my. Nader aan ons in die vinnig-verbysnellende, vaal gras langs die pad vang iets egter my ge-oefende oog. Nou weer aan pa se kant: ‘n Reuse, dofswart pyp-slang so dik soos ‘n man se gebalde vuis, seil blinklyf en kinkelend saam met ons kar se skaduwee in die son. Dit gly moeiteloos verby ‘n paar groot klippe in sy pad en toe skerp-regs om ‘n hoë miershoop, maar raak geensins agter nie. Vir ‘n kortstondige oomblik verdwyn dit eensklaps en onheilspellend in ‘n donker skadukol in, net om ‘n entjie vorentoe weer skielik op ‘n ander, ewe-onverwagse plek uit te peul. Ten spyte van my deurdringende gesoekery agter elke klip en onder elke vinnig-verbyvliegende bos. Nie te lank nie, of ek sien ‘n dik straal helderblink water uitbundig by die ding se bek ontplof…Voor my, deur die ruit aan pa se kant, sien ek hoe die stroom water skuimend en ongehinderd in die koelblou dieptes van ‘n oorvol plaasdam instort…
“Pa…” probeer ek sê toe Groep 2 ‘n wind sluk op ‘n gerekte plek op die kasset, maar hy hoor my nie, want hy fluit ingedagte saam en waai vir die oom op die trekker langs die dam.
“Ma…” probeer ek na die anderkant toe. Gelukkig hoor sy my. Sy kyk na my deur twee , vreemde, koëlronde donkerbril lens-oë wat sy bo-oor haar gewone bril ingehaak het.
“Ja seun…”
“Ek wil piepie…” fluister ek benoud, terwyl my kniekoppe instinktief teen mekaar begin aanstamp.
“Is jy seker..?” vra sy hoopvol die onnodige, want almal het geweet as ek sê ek wil piepie, dan was dit ‘n sekerte.
“Uh-huh…” knik ek bevestigend.
“Kan jy bietjie uithou..?” probeer sy tyd wen en om ‘n ongewensde vra-vir-stop te vermy, want pa fluit tog nou so lekker…Hoopvol dat dit my nood tydelik sal verlig vryf sy ‘n druppeltjie sweet van my klam voorkop af.
“Uh-uh.” skud ek dringend my kop en wys skaam na die vinnig-groterwordende, nat kolletjie voor op my Khakiebroekie. Ma herlei die duidelike noodgeval dringend na pa se kant toe, hy kyk na die nat kol op my broek en oomblikke later, na een, laaste en ongenaakbare lang bult, kry hy sy onwillige aftrekkans. Ons glip tydelik uit die Noordwaartsglyende verkeerswurm uit vir ‘n dringende en onbeplande russtop. Pa sit nie eers die kar af nie. Ek boender halsoorkop by ma se kant uit en hardloop dringend tot by die geroeste doringdraad langs die pad. Daar verlig ek my inderhaas en hoogs verlig van my opgeboude nood, terwyl ek verleë waai vir die oom op die trekker waar hy reg voor my op die plaaspad verby ry met sy sleepwa vol waatlemoene. Fielies kry, danksy my, ook ‘n tydelike noodpas en sy val ook dankbaar, wydsbeen langs my duskant die doringdraad neer en los haar hondjiemerk haastig langs myne. Toe vat sy haar kans en storm woedend agter die trekkergedoente aan en blaf oordadig teen die verbygaande stofwolk in. Ma roep haar egter dringend tot haar sinne en ons word altwee terstond teruggekommandeer in ons luierende ryplek in. In sy kantspieëltjie sien pa gou weer die gaping waarop hy gehoop het en gee hy vet. ‘n Halfmyl verder dam daar weer ‘n klomp ongeduldige agterryers agter ons op en is ons genadiglik weer terug in die stroom, sonder te veel verlore tyd.
“Ma…”
Die keer is dit Hanlie vanuit haar middelsitplek agter my kop. Ma kyk om na haar en glimlag vir iets wat ek nie kan sien nie.
“Ja my kind…?”
“Wanneer eet ons…?”
“Is jy honger…?”
“Uh-hmm…” laat Hanlie haar pop met die lang, blonde nylonhare die praatwerk doen, terwyl sy die speelding se plastiek-arms op-en-af manipuleer.
“Is julle honger…?” soek ma ‘n kworum deur die kar en glip haar donkerbril weer na die “op”-posisie, voor sy na pa kyk vir die finale besluit. Hy hou op met fluit, bestudeer vir ‘n oomblik die verskeie naalde en meters voor hom deur die stuurwiel onder sy hande, voordat hy uiteindelik na die tou agter ons in sy truspieëltjie kyk. Dan maak hy sy beslissing bekend:
“Ons is amper by Naboomspruit…nog net ‘n klein entjie.”
“Kan julle nog bietjie uithou..?” bevestig ma dat ons nog bietjie sal moet uithou, voor sy die ewe-moeë Groep 2 uit die kassetgat tussen my knieknoppe verlos vir ‘n welverdiende ruskans.
“Aaaahhh-hummm….” gly hulle vir oulaas dapper voor hulle kan gaan afkoel in die paneelkisse voor ma se bene.
Hanlie se pop knik weer haar blonde kop en maak ‘n paar snaakse, onverstaanbare geluide deur haar vermakerige buikspreker agter haar.
Meteens breek Wim sy stilswye en vra hy “so by the way” as moontlik by sy venster uit:
“Gaan ons by die bakkery stop…?”
Hy probeer met ‘n swaar sug om sy lenige, tienerseun-ledemate voor hom uit te strek onder pa se sitplek in. Aan die anderkant kyk Adie skielik op van haar storieboek af en leun opgewonde vorentoe om pa se reaksie beter te siene te kry agter my kop verby:
“Oe ja, ‘seblief pa…!”
Ek kyk na pa. Sien hoe hy skelm vir ma kyk by my verby en sy vir hom:
“Miskien…?” antwoord hy met ‘n vonkel in sy oog, want hy weet wat ons almal weet: dat dit onmoontlik is om by die bakkery net buite Naboomspruit verby te ry, sonder om te stop vir een, of twee, van hulle reusagtige, varsgebakte brode warm uit die oond uit. Dit is immers ‘n integrale deel van ons plaastoe-gaan tradisie. Ons stop altyd daar om brood te koop om saam te vat, al kla Ouma elke keer oor die totale onnodigheid daarvan. Want sy en Modjadji het dan self vanoggend vroeg al vier brode in die koolstoof gebak vir ons aankoms later die aand, saam met ‘n hele erdebak vol plaas-vetkoeke en ‘n hengse pot vol maalvleis.
“Ma, ma kan nooit genoeg brood hê vir ons klomp Strydompies nie…” sal pa haar stilmaak as hy die twee reuse, Naboom-brode op die kombuistafel in die voorhuis neersit die oomblik as ons daar aankom. Dan sal ouma haar hande opgewonde aan haar voorskoot afvee, die parafienlamp uithou spens se kant toe en haar getroue handlanger roep in ‘n fyn, hoë stem. Dankbaar dat haar kuikens die lang tog huistoe veilig deurstaan het:
“Modjadjieee…bringôla die jêm ennie botter da uitie koelkas virrie miesies asseblief…die kênners hulle is baja honger…Kopêla mammatjie…!”
Maar dit sou eers baie later vanaand gebeur…
Voor dit was daar nog Naboomspruit, Potgietersrus, Pietersburg, Tsaneen en dan uiteindelik die plaas. En tussen-in natuurlik Magoebaskloof…. o, die vreesaanjaende Magoebaskloof!
Dit was een van die ander redes hoekom pa so haastig was om vroeg weg te kom en ma, met tye, sigbaar onrustig en deurentyd effe onrustig…
Ontbyt by Naboomspruit stel nie teleur nie, inteendeel:
Terwyl ma die rooi-geruite tafeldoek oopsprei oor die ronde sementtafel onder die koelteboom buite die bakkery gaan koop pa en Wim solank die broodnodige brood. En, soos altyd, kom pa terug met ‘n ekstra, wit papiersak onder sy arm vasgeknyp, saam met die twee stomende, oondwarm brode. Wim draai solank die prop van die bottel yskoue Coke af, sommer met sy tande.
“My kind, jou tande…!” probeer ma hom vergeefs stop, want hy is gedetermineerd om sy nuutgevonde manlikheid te bewys deur sy onverskrokke gewaagdheid.
“Hier…” pak ma ‘n paar papierglase op die tafel uit, terwyl sy vir pa en haarself koffie uit die fles skink in die twee af-oor erdebekertjies. “Gooi vir julle elkeen bietjie in, asseblief…”
Wim maak seker hy skink vir ons elkeen presies dieselfde hoeveelheid in. Nie ‘n druppel te veel, of te min, díe kant toe, of daai kant toe nie.
“Wat’s in die papiersak, pa.?” wil Hanlie weet. Haar pop lê vir eers verlate en vergete met haar bene onserimonieël in die lug langs haar op die sementbankie, terwyl sy by die geheime, wit papiersak probeer inloer.
“Hey, nuuskierige agie…!” lag pa en gryp die papiersak voor haar neus weg. “Dis ‘n verrassing…vir netnou!”
“Dis doghnuts…” waag Adie ‘n raaiskoot en glimlag wetend vir ma wat terug knip-oog vir haar.
“En Creamy Toffies.!” voeg ek my beskeie opinie by die opgewonde saamkoekery om die geheimsinnige papiersak in die middel van die tafel.
“Kom, kom…eet eers julle kos.” sê ma en maak die wit Tupperbak met ‘n “plop” van sy rooi deksel oop. Die wondersoete geur van bedompige toebroodjies, koue wors en frikkadelle en halfgesmelte soetmelkkaasblokkies laat die spoeg onwillekeurig in my kieste opwel en ek mik onbeskaamd na my eerste toebroodjie.
“Wag eers, mannetjie…!”vermaan pa my terug tot goeie maniere, en toe: “Kom laat ons bid…”
Sommer so staan-staan vat ons hande om die ronde sementtafel daar onder die koelteboom buite die bakkery net duskant Naboomspruit en verlustig ons onsself in die wonders van ons lang-verwagte en hoogs-verdiende plaastoe-gaan ontbyt padkos…
(word vervolg…/)
©Fanus Strydom
Januarie 2023 – Projek NUUT
3.Deurbraak
1246 woorde
Vanuit die slaapvertrek hoor sy haar roep waar sy in die voorhuis besig is om vir die vrou ‘n kommetjie sop te maak.
“Tsk…tsk…tsk…” klik sy peinsend haar tong, terwyl sy stadig roer aan die pot op die vuur voor haar. Sy besef haar tyd kom vining nader.
Hanna fluister saggies in die soppot in: “Sy’s nie gereed nie…”
Deur al haar jare as vroedvrou het sy gewoond geraak daaraan dat die moeders gewoonlik tog úítsien na die geboorte van hul kind, al bly dit maar ‘n angswekkende ervaring. Veral die eerste keer…
Maar díe vrou was anders.
Iets is fout…
“Hanna…!!” roep sy weer.
Sy proe vir oulaas aan die sop voor sy bietjie opskep in ‘n erdebakkie. Toe sy daarmee uitstap kamer toe maak sy seker die water in die groot pot word nie té warm nie. En die linnedoeke lê gereed waar sy hulle oopgesprei het…
“Mevrou…?”
“Wat maak jy…?”
“Ek het vir mevrou bietjie groentesop gemaak. En ‘n kraakvars broodjie van die kole af…”
“Ek soek nie sop, of brood nie…”
“Ag nee, mevrou…jy móét iets eet…jy kan nie so aangaan nie…” Sy trek die houtstoel nader om haar te voer. En haar dalk bietjie op te beur. “My oorle’ moeder het altyd gesê: ““…Hannakind, kammene kumi…as jy nie eet nie, kan jy niks gedoen kry nie…””
Maar die vrou pluk haar kop weerbarstig anderpad.
“Ek het jou gesê ek wil niks eet nie, verdomp…!”
Hanna sug gedienstig en begin die gemors opvee waar dit tussen haar hygende borste beland het.
“Ai mevrou…hoekom is mevrou so kwaad…?” waag sy versigtig.
Vir ‘n oomblik gluur die vrou gebelg terug na haar…Sy sien sy die weersin in haar oë, asof sy besef Hanna verstaan haar beter as sy self…
“Met wie dink jy praat jy…?” kap sy bitsig. Maar ‘n vlymskerp kramp dwing haar meteens genadeloos terug teen die skaapvel karos onder haar…
Hanna staan stadig op en kyk vir ‘n oomblik besorgd terug na die stoeiende vrou. Dan draai sy om:
“Jammer mevrou…ek sal in die voorhuis gaan wag. Roep maar as mevrou my nodig kry…”
Toe voel sy die koue, natgeswete hand in hare:
“Nee, moenie loop nie. Sit hier by my…asseblief…”
“Natuurlik, mevrou…”
Sy begin saggies huil.
“Hoekom skop hulle skielik so…dink jy daar is fout…?”
Hanna leuen vorentoe en voel versigtig oor haar opgeswelde maag…haar kop eenkant toe gedraai, asof sy na iets luister…
“Lê soontoe…vir wat moet jy altyd so óp my lê…!?”
“Jammer boetie…ek wil maar net naby jou wees…”
“Gmf…ek kannie dieselfde sê van jóú nie…!”
“Hoekom nie, boetie…?”
“Man, ek’s nie jou “boetie” nie! Ek is die oudste. Die éérsgeborene…verstaan jy my mooi…!?”
“Ja ouboet…ek is jammer. Ek skuif op…”
“En kry jou verdomde elmboog uit my sy uit…”
“Ja ouboet…”
Hanna lig haar hande stadig van die vrou se maag af op en vee besorgd die sweet van haar voorkop af met ‘n klamgemaakte linnelap:
“Hulle is maar net opgewonde om uit te kom, mevrou…daar’s nie fout nie.”
“Maar hoekom twee…!?”
Sy is nie seker of dit vrees, of woede is wat met mekaar stoei op die vrou se gesig nie…?
“Mevrou…?”
“Ek het gevra vir een…. nie twéé nie!”
Meteens kyk Hanna liewers anderpad…onthou weer hartseer hoe graag sy ook eens op ‘n tyd ‘n kindjie van haar eie wou hê…, maar dit was haar nie beskore nie.
“Dis my verdiende loon…” murmureer die vrou voort en kreun opnuut weer van ‘n volgende steekpyn uit haar onderlyf.
“Waarvan praat mevrou…?”
“Jy wéét wat ek bedoel…” antwoord sy bitter. Haar donker oë wyd oopgesper.
Hanna weet dis nie vir háár om te oordeel nie…sy prober haar troos:
“Ag mevrou…wat gebeur het, het gebeur…”
“Maar hoe gaan ek vir hulle sorg? Ek het nie ‘n man nie en die pa is skoonveld…!”
In daardie oomblik besef Hanna dat dit bangheid is wat sy sien…en spyt. Nie woede nie.
“Die Here sal sorg mevrou…Sy genade is áltyd vonkelnuut…elke dag…”
Maar sy hoor nie. Sy draai net haar kop stadig weg, terwyl stilblink trane onkeerbaar oor haar koorsrooi wange rol…
“Nie na wat ek gedoen het nie…”
Hanna keer saggies die trane met die agterkant van haar hand.
“Hy sál mevrou…. ek belowe…”
“Ouboet…….boetie…?”
“Wat…!!?”
“Slaap jy…?”
“Hoe kan ek verdomp slaap met jou alwéér hier teenaan my… en vir wat skop jy aan my…!!?”
“Jammer ouboet…mag ek jou iets vra…?”
“Man, ek moer jou sommer…wat is dit…!?”
“ Is jy ook bang…?”
“Bang!? Vir wat…!?”
“Om uit te gaan…”
“Is jy blêddie mal, ek kannie wág nie…! Pasop…jy koek alweer jou naelstring met myne…!!”
“Ag askuus, ouboet…”
Hanna sien die gewoel onder die vrou se styfgespande maagvel…
Dis tyd.
Sy staan op om die warmwater en die doeke te gaan haal. Agter haar hoor sy haar kerm…
“Ouboet…?”
“Wat…!?”
“Mag ek jou nog iets vra…voor ons uitgaan?
“Wat nóú weer…?
“Hoekom is jy so kwaad vir my…?”
“Man, shurrup en skuif op! Suig jou dessitse duim…!”
“Nee…”
“Wat……!?”
“Ek sê nee…Ek wil eers weet hoekom jy so kwaad is vir my…?”
“Ek waarsku jou…skuif agtertoe!”
“Moenie aan my stamp nie, broer…”
“Verdomp, ek is éérste…!”
“Ek weet jy’s eerste, maar vir wat is jy so kwaad vir my…sê my…!”
“Want jy’s ‘n banggat…en ‘n snotkop…!”
“Maar wat het ek aan jóú gedoen…?
“Jy’s híér…en jy’s in my pad…!”
Sonder waarskuwing pluk haar kop wild agteroor:
“Hanna….!! o Here tog, help my…!!”
Hanna bondel die karos haastig onder haar booggebuigde rug in en sprei haar bene versigtig oop:
“Ek is hier, mevrou…kom, haal diep asem soos ek jou geleer het…”
“Gee pad voor my…!”
“Moenie so aan my stamp nie, ouboet…”
“Dis dit…! Hier moet ek uit…!”
Meteens bal ‘n bebloede vuisie by haar lende uit en spoel bloedpienk water om haar oor die vloer…
“Daarsy mevrou…DRUK…!”
Hanna pluk die rooi toutjie tussen haar lippe uit en bind dit vining om die eersteling se pols…
“Jy’s die éérsgeborene…!” verklaar sy opgewonde.
Maar net so skielik verdwyn dit weer terug…
“Ouboet wag!!…asseblief…voor jy gaan…”
“Wat…?”
“Kan ons vrede maak…voor ons uitgaan…?”
“Ek veronderstel…maar doen dit gou. Ek’s oppad…!”
“Kan ek ‘n laaste drukkie kry…asseblief…?”
“Ag verdomp…kom hier…”
“Dankie ouboet…”
“Hey, wat máák jy!? Nee…! Moet my nie so…ag…..ter……oor…….buig………nie!!!”
“Totsiens, boetie…!! Sien jou aan die anderkant…!”
Eensklaps verskyn ‘n nuwe koppie met uitgestrekte armpies tussen die hygende vrou se bene. Kort op sy hakkies volg ‘n rooigebalde vuis met ‘n toutjie om die pols…
Genade, mevrou…!” lag Hanna verbaas. “Dis die eerste keer dat ek só iets sien…!”
“Wat is dit…?” hyg die vrou uitgeput.
Die tweede enetjie het éérste uitgekom…! Kyk hier, hy’s prágtig…!”
Sy wikkel gou die seuntjie in ‘n doek toe en plaas hom versigtig op sy ma se bors.
Agter hom gil sy ouboet verbete…
“Wat gaan mevrou hulle noem…?” vra Hanna terwyl sy die tweede seuntjie ook vining toewikkel en probeer troos.
“Daardie ene se naam is “Serag” …” fluister die vrou en kyk na die kind in Hanna se arms.
Hanna wys na die slapende seuntjie op haar bors:
“En daai enetjie…” vra sy.
“Ek weet nie…wat dink jy…?”
“Noem hom “Peres” ” antwoord Hanna met trane in haar oë.
“ Hoekom “Peres”…?” vra die vrou.
Hanna lag uitgelate en vee die trane van háár én die vrou se wange af:
“Want kyk hoe het hy éérste deurgebreek…!”
*Gebasseer op die verhaal van Tamar en die geboorte van haar tweelingseuns, Peres en Serag.
Genesis 38
© Fanus Strydom
Januarie 2023 – Projek NUUT
3.Deurbraak
1246 woorde
Vanuit die slaapvertrek hoor sy haar roep waar sy in die voorhuis besig is om vir die vrou ‘n kommetjie sop te maak.
“Tsk…tsk…tsk…” klik sy peinsend haar tong, terwyl sy stadig roer aan die pot op die vuur voor haar. Sy besef haar tyd kom vining nader.
Hanna fluister saggies in die soppot in: “Sy’s nie gereed nie…”
Deur al haar jare as vroedvrou het sy gewoond geraak daaraan dat die moeders gewoonlik tog úítsien na die geboorte van hul kind, al bly dit maar ‘n angswekkende ervaring. Veral die eerste keer…
Maar díe vrou was anders.
Iets is fout…
“Hanna…!!” roep sy weer.
Sy proe vir oulaas aan die sop voor sy bietjie opskep in ‘n erdebakkie. Toe sy daarmee uitstap kamer toe maak sy seker die water in die groot pot word nie té warm nie. En die linnedoeke lê gereed waar sy hulle oopgesprei het…
“Mevrou…?”
“Wat maak jy…?”
“Ek het vir mevrou bietjie groentesop gemaak. En ‘n kraakvars broodjie van die kole af…”
“Ek soek nie sop, of brood nie…”
“Ag nee, mevrou…jy móét iets eet…jy kan nie so aangaan nie…” Sy trek die houtstoel nader om haar te voer. En haar dalk bietjie op te beur. “My oorle’ moeder het altyd gesê: ““…Hannakind, kammene kumi…as jy nie eet nie, kan jy niks gedoen kry nie…””
Maar die vrou pluk haar kop weerbarstig anderpad.
“Ek het jou gesê ek wil niks eet nie, verdomp…!”
Hanna sug gedienstig en begin die gemors opvee waar dit tussen haar hygende borste beland het.
“Ai mevrou…hoekom is mevrou so kwaad…?” waag sy versigtig.
Vir ‘n oomblik gluur die vrou gebelg terug na haar…Sy sien sy die weersin in haar oë, asof sy besef Hanna verstaan haar beter as sy self…
“Met wie dink jy praat jy…?” kap sy bitsig. Maar ‘n vlymskerp kramp dwing haar meteens genadeloos terug teen die skaapvel karos onder haar…
Hanna staan stadig op en kyk vir ‘n oomblik besorgd terug na die stoeiende vrou. Dan draai sy om:
“Jammer mevrou…ek sal in die voorhuis gaan wag. Roep maar as mevrou my nodig kry…”
Toe voel sy die koue, natgeswete hand in hare:
“Nee, moenie loop nie. Sit hier by my…asseblief…”
“Natuurlik, mevrou…”
Sy begin saggies huil.
“Hoekom skop hulle skielik so…dink jy daar is fout…?”
Hanna leuen vorentoe en voel versigtig oor haar opgeswelde maag…haar kop eenkant toe gedraai, asof sy na iets luister…
“Lê soontoe…vir wat moet jy altyd so óp my lê…!?”
“Jammer boetie…ek wil maar net naby jou wees…”
“Gmf…ek kannie dieselfde sê van jóú nie…!”
“Hoekom nie, boetie…?”
“Man, ek’s nie jou “boetie” nie! Ek is die oudste. Die éérsgeborene…verstaan jy my mooi…!?”
“Ja ouboet…ek is jammer. Ek skuif op…”
“En kry jou verdomde elmboog uit my sy uit…”
“Ja ouboet…”
Hanna lig haar hande stadig van die vrou se maag af op en vee besorgd die sweet van haar voorkop af met ‘n klamgemaakte linnelap:
“Hulle is maar net opgewonde om uit te kom, mevrou…daar’s nie fout nie.”
“Maar hoekom twee…!?”
Sy is nie seker of dit vrees, of woede is wat met mekaar stoei op die vrou se gesig nie…?
“Mevrou…?”
“Ek het gevra vir een…. nie twéé nie!”
Meteens kyk Hanna liewers anderpad…onthou weer hartseer hoe graag sy ook eens op ‘n tyd ‘n kindjie van haar eie wou hê…, maar dit was haar nie beskore nie.
“Dis my verdiende loon…” murmureer die vrou voort en kreun opnuut weer van ‘n volgende steekpyn uit haar onderlyf.
“Waarvan praat mevrou…?”
“Jy wéét wat ek bedoel…” antwoord sy bitter. Haar donker oë wyd oopgesper.
Hanna weet dis nie vir háár om te oordeel nie…sy prober haar troos:
“Ag mevrou…wat gebeur het, het gebeur…”
“Maar hoe gaan ek vir hulle sorg? Ek het nie ‘n man nie en die pa is skoonveld…!”
In daardie oomblik besef Hanna dat dit bangheid is wat sy sien…en spyt. Nie woede nie.
“Die Here sal sorg mevrou…Sy genade is áltyd vonkelnuut…elke dag…”
Maar sy hoor nie. Sy draai net haar kop stadig weg, terwyl stilblink trane onkeerbaar oor haar koorsrooi wange rol…
“Nie na wat ek gedoen het nie…”
Hanna keer saggies die trane met die agterkant van haar hand.
“Hy sál mevrou…. ek belowe…”
“Ouboet…….boetie…?”
“Wat…!!?”
“Slaap jy…?”
“Hoe kan ek verdomp slaap met jou alwéér hier teenaan my… en vir wat skop jy aan my…!!?”
“Jammer ouboet…mag ek jou iets vra…?”
“Man, ek moer jou sommer…wat is dit…!?”
“ Is jy ook bang…?”
“Bang!? Vir wat…!?”
“Om uit te gaan…”
“Is jy blêddie mal, ek kannie wág nie…! Pasop…jy koek alweer jou naelstring met myne…!!”
“Ag askuus, ouboet…”
Hanna sien die gewoel onder die vrou se styfgespande maagvel…
Dis tyd.
Sy staan op om die warmwater en die doeke te gaan haal. Agter haar hoor sy haar kerm…
“Ouboet…?”
“Wat…!?”
“Mag ek jou nog iets vra…voor ons uitgaan?
“Wat nóú weer…?
“Hoekom is jy so kwaad vir my…?”
“Man, shurrup en skuif op! Suig jou dessitse duim…!”
“Nee…”
“Wat……!?”
“Ek sê nee…Ek wil eers weet hoekom jy so kwaad is vir my…?”
“Ek waarsku jou…skuif agtertoe!”
“Moenie aan my stamp nie, broer…”
“Verdomp, ek is éérste…!”
“Ek weet jy’s eerste, maar vir wat is jy so kwaad vir my…sê my…!”
“Want jy’s ‘n banggat…en ‘n snotkop…!”
“Maar wat het ek aan jóú gedoen…?
“Jy’s híér…en jy’s in my pad…!”
Sonder waarskuwing pluk haar kop wild agteroor:
“Hanna….!! o Here tog, help my…!!”
Hanna bondel die karos haastig onder haar booggebuigde rug in en sprei haar bene versigtig oop:
“Ek is hier, mevrou…kom, haal diep asem soos ek jou geleer het…”
“Gee pad voor my…!”
“Moenie so aan my stamp nie, ouboet…”
“Dis dit…! Hier moet ek uit…!”
Meteens bal ‘n bebloede vuisie by haar lende uit en spoel bloedpienk water om haar oor die vloer…
“Daarsy mevrou…DRUK…!”
Hanna pluk die rooi toutjie tussen haar lippe uit en bind dit vining om die eersteling se pols…
“Jy’s die éérsgeborene…!” verklaar sy opgewonde.
Maar net so skielik verdwyn dit weer terug…
“Ouboet wag!!…asseblief…voor jy gaan…”
“Wat…?”
“Kan ons vrede maak…voor ons uitgaan…?”
“Ek veronderstel…maar doen dit gou. Ek’s oppad…!”
“Kan ek ‘n laaste drukkie kry…asseblief…?”
“Ag verdomp…kom hier…”
“Dankie ouboet…”
“Hey, wat máák jy!? Nee…! Moet my nie so…ag…..ter……oor…….buig………nie!!!”
“Totsiens, boetie…!! Sien jou aan die anderkant…!”
Eensklaps verskyn ‘n nuwe koppie met uitgestrekte armpies tussen die hygende vrou se bene. Kort op sy hakkies volg ‘n rooigebalde vuis met ‘n toutjie om die pols…
Genade, mevrou…!” lag Hanna verbaas. “Dis die eerste keer dat ek só iets sien…!”
“Wat is dit…?” hyg die vrou uitgeput.
Die tweede enetjie het éérste uitgekom…! Kyk hier, hy’s prágtig…!”
Sy wikkel gou die seuntjie in ‘n doek toe en plaas hom versigtig op sy ma se bors.
Agter hom gil sy ouboet verbete…
“Wat gaan mevrou hulle noem…?” vra Hanna terwyl sy die tweede seuntjie ook vining toewikkel en probeer troos.
“Daardie ene se naam is “Serag” …” fluister die vrou en kyk na die kind in Hanna se arms.
Hanna wys na die slapende seuntjie op haar bors:
“En daai enetjie…” vra sy.
“Ek weet nie…wat dink jy…?”
“Noem hom “Peres” ” antwoord Hanna met trane in haar oë.
“ Hoekom “Peres”…?” vra die vrou.
Hanna lag uitgelate en vee die trane van háár én die vrou se wange af:
“Want kyk hoe het hy éérste deurgebreek…!”
*Gebasseer op die verhaal van Tamar en die geboorte van haar tweelingseuns, Peres en Serag.
Genesis 38
© Fanus Strydom
FEBRUARIE 2023 – BLOU PROJEK
1.Solank as die rietjie
1473 woorde
“Wat maak jy, my kind?” vra ma toe sy by die kombuis instap.
“Ek skil ʼn pynappel…” antwoord ek sonder om op te kyk. Die mes was te skerp vir my om die kans te waag om een, of dalk twéé vingers af te sny as ek nie mooi kyk wat ek doen nie. En die pynappeldorings het soos nete geklou aan die ding se dik, growwe skil.
“Waar kry jy die ding?” wil ma weet en kom staan agter my skouer.
“Ek het hom gekoop by oom Porra se winkel.”
“Wanneer?”
“Netnou…?”
“Met watse geld?”
Sy trek my liggies aan die oor om haar in die oë te kyk. Ek sit die mes versigtig langs my halfverminkte pynappel neer en kyk op na haar.
“Met my spaargeld.”
“Nou hoekom dan?”
“Want juffrou Jordaan het gesê ons moet pynappel eet voor ons gaan sing vanaand.”
“O…?” wil ma meer weet.
“Sy sê dit help om mens se stem helder te maak en om die hoë note makliker by te kom.”
“Okey…?” sê-vra ma en draai om wasbak toe: “Moet ek jou help?”
“Nee dankie, mamma. Ek’s oraait.”
“Pasop net vir jou vingers, asseblief! Daai mes is baie skerp.”
“Ja mamma…”
Juffrou Jordaan het gesê ons moet die pynappel so uur voor ons gaan sing eet, so ek loer elke nou en dan gou by die kombuis in om te kyk waar staan die horlosie bo die stoof se uurwyser. Die kunswedstryd begin sewe-uur, so presies vyf minute voor ses glip ek skelm om die hoek van die huis met my bak gesnyde pynappelstukke. Ek het dit in die yskas gesit vroeër en dis nou lekker yskoud en sappig op my tong. Ek stop gretig die stukke by my kieste in en kou toe-oog aan die suur, ysigheid op my tande. Dan skud ek versigtig die taai sap van my hande af om nie op my skooluniform te mors nie. Ma sal my doodmaak! Tessa lek die laaste paar druppels taaiigheid tussen my vingers uit en ek gee vir haar ook ʼn lekker groot stuk:
“Nou gaan jy mooi kan blaf!” vryf ek my hande droog op haar kop en sy waai haar stert opgewonde.
“Fanus, kom eet gou-gou ʼn broodjie voor ons ry…!” roep ma van die agterdeur af.
“Nee dankie, mamma.” antwoord ek toe ek by die kombuisdeur instap.
“Is jy nie honger nie?”
“Nee mamma.”
“Maar jy kan mos nie op ʼn leë maag sing nie, my kind.”
“Eks oraait, dankie mamma.” sê ek en stap by haar verby kamer toe.
“Noumaar borsel gou jou tande en kam jou hare. Pappa wil amper ry.”
“Ja mamma.”
Toe ek my tande borsel verbeel ek my dat die tandepasta nie so erg brand as gewoonlik nie, maar ek steur my nie te veel daaraan nie. “Dis seker maar van die pynappel…” dink ek, terwyl ek op my tone staan om my hare glad gekam te kry in die spieël bo die wasbak.
Juffrou Jordaan het ons die dood voor die oë gesweer as ons nie netjies lyk nie! Maar dit was gladnie nodig nie, want sy ken nie my ma nie! Sy sal nooit in der ewigheid ʼn kind van haar by die huis laat uitgaan as hy nie netjies lyk nie. Veral nie vir ʼn groot geleentheid soos sy eerste koor-kunswedstryd nie!
“Is jy opgewonde?” vra pa toe ons in Pretoriusstraat afry oppad Stadsaal toe.
“Uh-huh….” antwoord ek en vryf oor my lippe.
“Wat’s fout…?” kyk pa na my in sy truspieëltjie.
“Niks.” sê ek en druk my dooie lippe teenmekaar.
“Niks wie…?” vra ma kwaaierig en kyk om na my.
“Nuks phôppha …” antwoord ek benoud en kyk vaagweg terug na ma deur dikgeswelde oë.
“O, my genade!” sê ma en staar geskok na my met haar hand voor haar mond. Dink ek, want ek kan nie meer so lekker sien deur my toegeswelde oë nie!
“Wat nou?” wil pa weet en soek weer na my in die spieëltjie.
“Die kind…!” gil ma benoud. “Kyk hoe lyk hy!”
Pa vat ʼn kans en draai vinnig om in sy sitplek om my onder oë te kry.
“O my magtag, ma…wat’s fout met die kind?!”
“Ek weet nie…!” antwoord ma bekommerd en leuen agteroor om met haar hand teen my voorkop te voel.
“Het hy koors?” wil pa weet en begin wonder of hy moet omdraai dokter toe.
“Nee…?” sê ma en kyk indringend na my.
“Ek dink dith die pynapphel…” sê ek tranerig deur dikgeswelde lippe.
“Hoeveel het jy geëet?!” wil ma weet.
“ʼn Hele een…” antwoord ek dikbek.
“Diksie is van uiterste belang!” het Juffrou Jordaan ons vir oulaas gister gemaan. “Dit kan die verskil maak aan wen, of verloor…”
“Wat is “diksie”, juffrou?” wou Susantjie Vermaak grootoog weet.
“Dit is die manier waarop mens jou lippe gebruik om die woorde te vorm wanneer jy sing.” het juffrou Jordaan verduidelik. “Sang is baie meer as net geluide maak!”
Sy het reg voor ons kom staan en met haar vinger na haar eie mond beduie:
“Kyk: jy moet die wóórde só met…jou…lippe…vorm, tewyl jy sing.”
Sy het haar lippe rubberagtig uitgerol en agter haar kakebeen aan laat trek, “anders klink en lyk julle soos ʼn klomp platbekpaddas!”
Ons het almal ons monde begin tuit en dikterend agter haar aangesê:
“Soo….lánk as die ríétjie in die wááter staan….in die wááter staan…!”
“En gebruik julle kakebene, kinders. Julle kakebene!” het sy tussen ons deurgestap en hier en daar na iemand se kop gedreig met haar liniaal.
“Julle doen dit mos alewig in die klas as ek my rug op julle draai, so moet nie more-aand skielik skaam wees om dit te doen nie.”
“Jôô juffrou…” het ons rondebek en oop-kakebeen belowe.
Nou staan ons netjies in gelid op die verhoog van die Stadsaal voor al die ma’s en pa’s en boeties en sussies en oupas en oumas van al die skole in ons kontrei. Gereed en oorgehaal om ons liedjie vir die kunswedstryd te sing. En voor die onvriendelike beoordelaars in die voorste ry…
Ma het by juffrou Jordaan gaan pleit om my asseblief tog nie te diskwalifiseer van deelname, as gevolg van my opgeswelde toestand nie.
“Hy’t so hard geoefen aan die ou liedjie…” het sy verduidelik. “En ek het hom self gehelp op die klavier.” Sy het gehoop om Juffrou Jordaan vir oulaas te beïndruk met ons familie se diepgewortelde, musikale talent. Maar, juffrou het onwrikbaar vas bly steek:
“Die kind kan skaars ʼn geluid uitkry…!” het sy hoogdrawend voor almal teenoor ma geprotesteer. “En kyk hoe lyk hy!” Sy sou nie toelaat dat een kind haar kanse op sukses, en die van die ganse skool, op die spel plaas nie.
Dis toe dat pa besluit dis tyd om op te tree. Hy kom staan vierkantig voor haar:
“Die kínd…” sê hy en trek my onder sy elmboog in, “kan nie ʼn geluid uitkry nie, want die júffrou…”
Hy tik dreigend met sy vinger teen haar bors, “het gesê hy moet pynappel eet om sy stem te verbeter!”
“Maar ek het nie bedoel ʼn hele pynappel nie!” probeer sy verbete keer en gee verskrik een tree terug.
“Dan moes jy so gesê het…!” gee pa een tree vorentoe.
Agter ons begin ʼn paar ma’s en pa’s instemmend hande klap.
Gelukkig vir my was ek nie skaam vir Susantjie Vermaak nie, want ons was boesemvriende en het ek nie omgegee dat sy my hand vashou en my by die verhoog oplei agter haar aan nie. Alhoewel ek nie veel kon sien nie en hoegenaamd geen geluid kon uitkry nie, het ek op my beste gedikteer, terwyl die res van die koor hulle uitstekend van hulle taak gekwyt het met kristalhelder stemmetjies, rubberkakebene en rollende oë:
“Solánk as die rrríétjie in die wwwáter staan….in die wwwáter staan, in die wwáter staan..!”
Toe ons terugstap kar toe, kom een beoordelaartannie na ma toe en vat haar liggies aan die elmboog.
“Verskoon my, mevrou…” sê sy en wys na my. “Is dit jou seuntjie?”
“Ja.” Sê ma trots.
“Haai weet jy,” koer die tannie. “As dit nie vir sy prágtige diksie daar in die heel voorste ry was nie, sou die ou koortjie nooit die goue medalje gewen het nie. Ons kon behoorlik elke wóordjie op sy gesiggie sien!”
Ek voel hoe pa my oor my kop vryf.
Dan hoor ek die tannie sê:
“Ekskuus tog dat ek vra, maar is hy al van geboorte af blind…?”
Ma kyk vir pa en begin hardop lag:
“Nee, net van omtrent sesuur vanmiddag af!”
Pa sit sy arm om my skouer en sê:
“Kom ons gaan huis toe.”
Agter ons lig die tannie haar vinger, asof sy nog iets wil vra, maar laat sak dit dan weer, want sy is skielik nie heeltemal seker wat nie…
©Fanus Strydom
2.Kan ‘n man dan nie
1769 woorde
“Laudate…!” kommandeer Dorothy Moolman ons tot orde en timmer verbete met haar stokkie op die podium voor haar, “ek het ʼn belangrike aankondiging…”.
Die gezoem bedaar effens en ons skuifel haastig in ons onderskeie groepies in: basse agter, dan tenore, alte in die middel en, heel voor, die soprane.
“Ek het besluit…” dreig Dorothy ons tot absolute stilte en maak seker elke oog is sekuur op haar gerig. Dan breek sy die nuus: “ dat ons volgende maand aan die Wêreldkoorspele in Pretoria gaan deelneem.”
“Wat?!” snak Saartjie Sopraan in die voorste ry na haar asem en begin naarstigtelik soek na haar asmapompie. Op tagtig het sy maar las gehad van ʼn benoude bors, maar, wanneer sy genoeg lug in haar longe bymekaar geskraap kon kry, kon sy ʼn kanarie laat les opsê as dit kom by sing.
Vanuit die basse in die agterste ry proes oom Ben sinies:
“Jy grap seker, Majoortjie?!” Hy skuif in sy loopraam en verstel sy bril om vir Dorothy beter onder oog te kry.
“Ken jy my as die grapperige soort, Ben…?” kap sy bitsig terug en gluur hom terug tot stilte.
Ons het haar lankal “Sammajoor” gedoop, want dit was duidelik sy het haar eintlike nering as drilsersant in die weermag verpas, die dag toe sy by die Spoorweë aangemeld het as lyninspekteur.
En nou was sy ons koorleidster.
Met vaalgrys hare, amper netso kort as haar humeur en ʼn glimlaglose, platgetrekte mond het sy ons week-na-week meedoënloos en sonder genade, op-en-af tussen die note en akkoorde deur laat marsjeer in haar ononderhandelbare strewe na presisie en perfeksie. Ons was ʼn vrywillige gemeenskapskoor en bykans almal het reeds lank terug al verby die sestigmerk geskuifel. Maar dit het geen duit verskil gemaak aan haar onwrikbare verwagtinge en haas-onbereikbare hoë standaarde nie. Met die uitsondering van die tweeling-tenore,Tobie en Tienie, wat in hulle laat twintigs was, het die res van ons iewers tussen die herfs en die winter van ons lewens rondgedwaal opsoek na sin en dalk ʼn laaste bietjie pret.
“Verskoon my, mevrou Moolman!” wieg Anna Alt ongemaklik op en af in die tweede ry om verby die lastige, lang sopraan voor haar gesien te kry. Sy wuif beskeie met een hand in die lug. Dit het haar só geïrriteer dat die vrou alewig voor haar inbeweeg het en sodoende die bewondering vanuit die gehoor op haarself moontlik kon belemmer! Sy wás onthou, een van die mín professioneel-opgeleide sangeresse in die koor en het amper wêreldroem gesmaak jare gelede, as dit nie was vir die verdomde Gert Griesel op die dorp en hulle onverwagse swangerskap met klein Annatjie nie!
“Juffrou!” bring Sammajoor haar terug aarde toe.
“Dink u régtig ons is gereed vir so ʼn astronomiese uitdaging…?” suggereer Anna hoogdrawend en laat sweef haar oë afkeurend oor die res van die barbare om haar.
“Ag f*k jou, Anna!” brom oom Ben Bas van agter af.
“Oh my láwwd…” rol Tobie Tenoor sy oë vir sy broer Tienie en hou een ringbedruipte hand voor sy mond, “die twee spring nóú weer aanmekaar!” Tienie giggel opgewonde terug en vroetel aan die blink sirkonia in sy linker oorbel.
“Stilte!” blaf Sammajoor. “Ek het ons ingeskryf vir twee liedere:
“ “Kaapse Kanarie” en “Kan ʼn man dan nie” ”.
Sy krap tussen ʼn stapel papiere voor haar en hou dan twee bondels voor haar uit:
“Kom Tienie, Tobie…deel uit vir die mense.”
“Sorg dat julle die woorde volgende week ken. Intussen sal ek en Sarita die onderskeie stemgroepe se wysies opneem op die klavier.” beveel sy verder.
Sy gee vir Sarita, ons klavierbegeleidster, haar bladmusiek aan. Sarita se oë rek wyd by aanskoue van die ooglopend-ingewikkelde en aweregse akkoorde van die deurmekaar musieknote en toonlere op die papiere voor haar! Sy kyk met simpatie na ons van agter haar klavier uit en trek haar skouers verontskuldigend op.
“Klink vir my na ʼn moerse klomp K’s ?” fluister oom Ben stil-stil onder die res van die basse en wonder of dit die slimste klankkeuse was vir die, meestal kunsgebit-gevulde kakebene, van omtrent die ganse koor…
Die res van die maand oefen ons naarstigtelik vir die groot aand en verkoop ons vir ʼn vale dosyne vetkoeke en pannekoeke voor Spar, om geld bymekaar te skraap vir die uittog Pretoria toe. Sammajoor Dorothy bly onbevredig en onvergenoegd en toon min genade. Ons word, in die laaste week voor ons vertrek, opgekommandeer vir twee addisionele oefen-aande in die NG kerk se saal. Sy maak dit onomwonde duidelik aan elkeen dat sy geen mislukking sal duld nie en dat nie net háár naam nie, maar ook díe van die hele koor op die spel is…
Toe ons uiteindelik op die groot aand op die trappe van die Pretoria Stadsaal saamdrom, gereed om ingeroep te word vir ons optrede, is die hoop onder ons maar yl gesaai. Senuwees en omgekrapte mae egter, was omtrent by iedereen teenwoordig. Anna Alt maak dit haar goedbedoelde taak om aan enige-een wat wil luister te verduidelik dat ons (vingerwysend na almal, behalwe haarself), heel moontlik níe vanaand die mas gaan opkom nie en die hooggeplaaste beoordelaars heel waarskynlik gladnie gaan beïndruk nie…
“Man Anna, hou jou bleddie smoel…!”
Oom Ben Bas hinkepink dreigend nader en wys met sy loopraam in haar rigting.
Anna vlug teen die trappe op en kies ʼn solo-posisie vanwaar sy haar professionele asemhalings-oefeninge alleen en met hygende borste oor haar denkbeeldige aanhangers in kan oefen:
“Ka-ka-ka-ka-kaaaaaa….!”
“Oh my láwwd…” rol Tobie en Tienie Tenoor oë vir mekaar en druk ʼn paar laaste krulle in plek in by mekaar se identies-styfgespuite koorkapsels.
O my genadetjie tog….” hyg Saartjie Sopraan en suig vir oulaas verbete aan haar asmapompie.
Dit is tyd.
Ons stap, waggel, hinkepink, of mince benoud agter Sammajoor Dorothy aan die verhoog op. Dáár skarrel ons verbete om mekaar in een stuk by die stellasie op te kry en op die regte plek staangemaak te kry. Skouer teen skouer, nes Sammajoor ons ingedril het. Uiteindelik word ons stil en staar vir ʼn oomblik geskok oor die volgepakte saal voor ons in die dowwe lig. Dan kyk ons na haar…
“Ladies and gentlemen…” klink die aankondiging oor die luidsprekers. “Please welcome, all the way from Mpumalanga, South Africa….the Laudate Community Choir!”
Gedempte applous…
Sammajoor lig haar arms hoog bo haar kop en begin haar stokkie ritmies swaai:
“Een, twee, drie. Een, twee…” tel sy woordloos met haar mond en dreig ons een laaste maal met haar pikswart oë…
“Kaa…!” spring Tobie Tenoor te vroeg uit die blokke uit en sluk benoud sy tong toe hy besef hy het sopas die onvergeefbare sonde gepleeg!
“Kaaaaaap…!” val oom Ben Bas haastig in om op te vang en nie agter te raak nie.
“Kaa-ha-haap!” besluit Anna Alt om ook nie op haar te laat wag nie en tril uit volle bors saam.
“O genadetjie tô..hô….hôg! begin Saartjie Sopraan onkeerbaar hoes en soek verbete by haar voete na die asmapompie wat sy buite in die gang in haar handsak moes los.
Hier en daar klink ʼn gegiggel uit die donker gehoor op…
Die beoordelaars kyk op van hulle boeke af…
“Dit was jy…!” draai Anna Alt beskuldigend om en swaai haar vinger voor oom Ben Bas se neus.
“Ag k*k, man!” blaf hy terug en stamp haar hard op die toon met sy loopraam.
“Einaaaa…!” gil sy histeries en steier vorentoe. In die val kry sy vir Tienie Tenoor aan die hare beet.
“Hey, cool dit antie!” flap hy verbouereerd met klingelende armbande bo sy kop.
Saam tuimel die twee in stadige versnelling teen die stellasie af en land in ʼn verstrengelde bondel bene, hare en juwele in blou togas voor die geskokte Sammajoor se voete neer.
Sy staar vir ʼn wyle met afgryse na die spartelende paar voor haar. Die stokkie nog steeds bo haar kop gelig…
Agter haar begin die skare meteens skaterlag en luidkeels hande klap.
Dan dop haar oë stadig en bleekwit om in haar kop en val sy flou neer langs die ander twee.
Heelwat later die aand, in die bus oppad terug Nelspruit toe, stap oom Bennie Bas stadig in die gangetjie op en af. Om sy nek hang die silwermedalje wat ons toe uiteindelik gewen het.
Nadat die mediese personeel vir Sammajoor gelawe en hoenderkop van die verhoog af weggelei het, het Sarita plegtig by die beoordelaars gaan pleit of ons asseblief tog maar ons ánder lied kan sing en of hulle ons ʼn tweede kans sal gee. Hulle het ingestem en ons het, onder begeleiding van Sarita op die klavier, ons tweede lied gesing. Foutloos en met een, samehorige stem, soos dit ʼn wêreldklas-gemeenskapskoor van ʼn klein, plattelandse dorpie betaam:
“Kan ʼn man…kááán ʼn man dan nie…!”
Onder dawerende applous het Tienie en Tobie weerskante van oom Ben ingehaak toe ons triomfantelik van die verhoog afstap. Saartjie Sopraan het skoon ʼn tweede asem gekry en ʼn effense rieldans uitgetrippel agter ons aan. Anna Alt het vir oulaas omgedraai in die hoop dat iemand dalk tog, iewers vanuit haar dankbare gehoor, vir haar ʼn ruiker blomme sou gooi….maar toe het sy nederig vooroor gebuig, kop-omhoog regop gekom, weggedraai en kruppel-kruppel agter ons aangedraf agter die gordyn in.
“Ag Majoortjie…!” klap oom Ben Bas vir Sammajoor Dorothy op die rug waar sy peinsend en dikbek by die bus se venster sit en uitstaar die duisternis in.
“Kyk wat het ons gewen!”
Hy hou die medalje voor haar neus en lag uitbundig: “ ʼn Silwer nogal, sê ek jou!”
Sy staar afkeurend na die stuk metaal, asof dit die silwer muntstuk van ʼn verraaier was…
“Dit moes goud gewees het, Ben…góúd sê ek jou!”
Hy trek haar uit haar sitplek uit en begin haar teen haar sin agter hom aantrek die gangetjie af, terwyl ons almal laggend en uit volle bors saamsing en hande klap:
“Kan ʼn man…kááán ʼn man dan nie!”
© Fanus Strydom
Nota deur die skrywer:
Die verhaal is geskryf met nederige erkenning aan die Laudate Koor van Nelspruit van wie ek self ook ʼn trotse lid was. Langs oom “Bennie Bas”, “Anna Alt” en al die ander sangers, koorleiers en begeleiers wie se identiteite ek hier verskuilnaam het. Ons het inderdaad in Julie 2018, tydens die Wêreldkoorspele in Tswane, ʼn silwermedalje losgesing in die kategorie: Amateur Senior Kore.
Tot groot satisfaksie en absolute blydskap van almal, want ons het hard gewerk daarvoor en dit deur en deur verdien. Anders as in die verhaal hierbo, was ons optrede egter uiters professioneel, heeltemal foutloos en van hoogstaande gehalte. En uiteraard sonder enige van die bogenoemde, fiktiewe, flaters, foute en floutes…
Maart 2023 – OOP projek
3.Kraggereedskap in Kopenhagen
2 526 woorde
Jaar: 1990
Land: Swede
Provinsie: Øresund Streek
Stad: Kopenhagen
By ontvangs meld ek aan by ‘n bloedjong, spookwit meisiekind met pou-pers hare, ‘n ring deur haar linker-neusgat en geen merkbare gevoel in haar onpeilbare, bleekblou oë nie.
“Halo, Fanus Strydom…” groet ek in my beste Sweeds.
Sonder om ‘n woord te uiter deursoek haar dooie kykers my van bo af ondertoe…en gly dan van iewers tussen my naeltjie en my broek se gordel slu af na die rekenaarskerm voor haar. Vermoedelik om my anderwêreldse, onuitspreekbare identiteit iewers in haar rekords op te spoor. Die vlamrooi hanekam op haar vooroor-gebuigde kop maak meteens vir my nog minder sin as die oomblik toe ek deur haar gekonfronteer is by die “Välkommen Bänkskivor”, die “Verwelkomings”-toonbank.
Onwillekeurig wonder ek of die kind waaragtig nie kon sien sy lyk kompleet nes die waansinnige hoenderhaan voor wie se maniese, uit-die-bloute aanvalle ek alewig moes wegvlug as kind op die plaas nie?!
Hy sou gereeld (maar altyd onverwags!) vol veglus en onkeerbare eiewaan op my ontblote enkels, of kuite afstorm vanuit ‘n donker hoek, of omgevalle sinkplaat iewers op die werf. Die ononderhandelbare moord-en-doodmaak-gedagtes oor die jare opgegaar in sy klein, verrimpelde hoenderbrein skaamteloos en argeloos uitgespel in sy twee koeëlronde, kranksinnige kraaloogkykers!
Met soveel spieëls in die vertrek om ons, dat mens selfs jou geheime gedagtes van gister iewers teen ‘n aweregse hoek gereflekteer kan vind, vermoed ek intussen, terwyl sy soek na my naam, waarom meeste van die ander personeel so oënskynlik verlore en verdwaald voorkom. Meeste staan amper bewegingloos, asof totaal gehipnotiseer, by hulle onderskeie werkstasies en staar self-vertwyfelend en soekend terug na die onseker spieëlbeeld voor hulle.
“Säg igen…?” neem ek aan sy wil hê ek moet my naam en van herhaal. Ek doen so en haar hanekam verdwyn weer in die skerm in.
In die vertrek om my verstel iemand hier-en-daar elke nou-en-dan iets aan hulleself, maar vries dan eers weer onmiddellik om die resultaat in die onseker terugkaatsing voor hulle te evalueer. Een of twee drentel rigtingloos rond, skynbaar blindelings opsoek na hom/haarself iewers tussen die nimmereindigende spieël-hallusinasies en verwronge refleksies oral om hulle. Miskien geheimsinnig verskuil in die irriterende, aan-en-af-flikkerende raam van ‘n ooglopend-gekopieërde, moderne kunswerk.., moontlik agter een van die grysgrou, metaalblink wasbakke teen die anderkantse muur…of dalk tussen die rye en rye bottels, buise en blikke uitgestal agter die diggeslote glasdeure van die oordadig-verligte vertoonkaste langs my in die aankomslokaal.
Terwyl die perskop ontvangsdame lusteloos rondvroetel met haar muis, merk ek op dat almal, sonder uitsondering, donkerbrille dra. Die triestige, Europese winterweer ten spyt. Party s’n reusagtig groot en padda-agtig, soos naaldekokeroë, voor hulle gesigte uitgestulp. Ander weer gluur agterdogtig en onheilspellend deur klein, futuristieste skrefies glas/perspex/plastiek wat (skynbaar baie pynlik!) bo hulle ore vasgeklem is. Sommige kan klaarblyklik nie kies tussen die twee nie, en dra daarom altwee: een voor die oë en die ander een kierts-regop op hulle koppe staangemaak, soos antennas soekend gerig na ‘n vreemde planeet iewers baie vêr in die buitenste ruim.
“Straaidum…?” hoor ek haar onseker prewel en besef ek moet haar eerder nie probeer help nie.
Niemand het dieselfde haarstyl nie. Een of twee paradeer uitdagend rond met kaalgeskeerde, blinkwit, snoekerbalkoppe. Klaarblyklik oorgehaal en slaggereed vir baklei, betoog, of argumenteer ten gunste van gelykheid, anti-rassisme, groen-energie en enige-iets dergeliks. Ek het onmiddellik simpatie met hulle oënskynlike ongeduld, want dit moes uitermate geduld, waagmoed en kosbare tyd gekos het om hulle koppe so totaal en al kaal gestroop te kry van enige haar, stoppel of dons.
Sommige pronk weer uitspattig met die ganse reënboog bo hulle trotse koppe uitgespuit. Vermoedelik om aan te pas by die oordadig-aangeplakte grimering op hulle uitdrukkinglose nar-gesigte. Hier en daar verkies een moedig om sy/haar innerlike konflik oop en bloot ten toon te stel, met die hare aan die eenkant van sy/haar kop in duiseligwekkend-ingewikkelde patrone beskeer, terwyl die anderkant totaal ongetem en verwaarloos agtergelaat is om nes te maak nes dit wil.
Voor my by die toonbank soek poukind steeds onsuksesvol na my op haar skerm…en blaas ‘n groot, deurskynende kougomborrel deur twee pikswart lippe. Ek skrik toe die ding meteens in haar gesig ontplof, maar sy is blykbaar gewoond daaraan, want sy suig die taai drel moeiteloos terug in haar gedroogde-pruimmond in en soek gelate voort.
Intussen verkyk ek my aan die ander se hare. Alle kleure, style (én geure, vermoed ek!). Party woes en deurmekaar en totaal oorgelaat aan die natuur se onvoorspelbare buie. Ander weer noukeurig en met militêre presiesie ingedwing in kunsmatige vlegsels, knope en verskeie ander fassinerende formasies in.
Dit verbaas my gladnie dat almal, sonder uitsondering, in swart geklee is van kop tot toon, nes die res van die stad en die volk in die strate daarbuite nie. Wat my egter wel verstom is dat party dit waag om kaalvoet oor die koue, dofgevryfde sementvloer te sweef, ten spyte van die ooglopende realiteit dat hulle hulself midde-in ‘n uiters gevaarlike werksomgewing bevind met ‘n verskeidenheid elektriese apparate, ontblote koorde en vryvloeiende water die hele plek vol! Ander (miskien tóg wel in die geheim paranoïes oor die daadwerklike waarskynlikheid van elektriese skok en moontlike teregstelling), is weer paraat gestewel en gespoor in dikgesoolde, pikswart stewels van verskillende hoogtes, diktes, breedtes en lengtes.
Van agter haar oordadig-beligte beheerstasie wil dit skielik lyk of daar tog wel tekens van lewe tussen poukind se wenkbroue mag bestaan. Sy leun ingenome terug in haar futuristiese, kunsleer-stoel en bepeins vir ‘n oomblik kouend haar vermoede dat een van haar pikswart naels moontlik my volksvreemde identiteit in haar rekenaar opgespoor het…
Kortaf vra sy sonder om op te kyk:
“Straaidum?”
“Dis reg!” knik ek gretig my kop en glimlag dankbaar my beste Boerseungroet, terwyl ek vergeet om te onthou dat ek myself in ‘n vreemde, annerwêreldse land bevind.
“Főrlåta (Askuus)…?” bevraagteken twee agterdogtige kraaloogkykers skielik weer opnuut my bestaan van onder hulle vlamrooi hanekam.
“No sorry, yes!…Yes, its me.Straaidum!” sien ek verskeie weergawes van myself na myself terug-beduie in oorgretige gebaretaal in die spieëlmuur agter haar, asof sy gehoorgestremd ook is. Verleë besef ek dat dit dalk ‘n beter idee sou wees om eerder my paspoort aan haar te wys. Ek begin naarstigtelik daarna soek in my baadjiesak om haar gerus te stel. Intussen hou sy een bleek hand, met die palm na bo gedraai, na my toe uit. Asof sy bedel vir ‘n aalmoes, of dalk omkoopgeld?! Met die naels aan haar ander hand begin sy ongeduldig (en in kodetaal!) op die toonbank voor haar tik. Twee dooie oë kyk verby my opsoek na iets, of iemand in die spieël-malemeule agter my. Uiteindelik hou ek, soos ‘n afwagtende asielsoeker, vinnig my paspoort na haar toe uit en hoop vir die beste.
Sy sis egter net, nou duidelik meer geagiteerd:
“Kupong…?”
Dit neem my ‘n rukkie om te besef sy bedoel “Geskenkbewys”, terwyl ek half-benoud probeer uitmaak wat ek moontlik verkeerd kon gedoen het.
“O yes, sorry. Yes!!”
Ek begin weer van vooraf grou in my baadjie se binnesak, díe keer die ander een, opsoek na die korrekte dokumente vir toelating tot haar vreemde wêreld en gewaar die klein, blink niekerbôl aan ʼn pennetjie deur ʼn gat in haar tong. Die ding kry meteens ‘n lewe van sy eie en begin dreigend klik teen haar ontblote ondertande.
“Genade?!”wonder ek waarvoor ek myself ingelaat het, terwyl ek dringend voortsoek.
Toe ek uiteindelik en hoogs-verlig die gehawende, half-verfrommelde bewysstuk na haar toe uithou, pluk sy dit vennynig uit my bewende hand, bestudeer dit vir ‘n oomblik noukeurig, voor sy dit terstond middeldeur skeur en in die asdrom/robot/ruimtetuig langs haar gooi. Blykbaar het ek genadiglik my vervaldatum gemaak nét voor dit verstryk het. Ek kan nie agterkom of sy saam met my bly, of spyt is nie.
“This way…” beveel sy kortaf in gebroke Engels en marsjeer voor my uit die spieëlbelaaide fantasmagorie in.
Ek volg kort op haar gestewelde hakke, onseker soos ‘n lam wat ter slagting gelei word, maar probeer nog een, laaste keer vrede en vriendskap bewerkstellig tussen my en die agressiewe, dood-oog meisiekind:
“Baie dankie!” roep ek agter haar vlamrooi hanekam aan waar dit tot amper by haar beknopte heupe teen haar halfkaal rug aftuimel vloer se kant toe.
Meteens steek sy vierkantig vas in haar spore en tol dreigend om na my toe:
“Did you just call me a donkey…?”
Weer in Engels. Díe keer gladnie meer so ongemaklik, of onwillig nie!
“Verdomp!” wonder ek vies hoekom ons nie van die begin af in Engels kon kommunikeer nie.
Meteens gluur verskeie naaldekoker-oë nou egter skielik beskuldigend in my rigting vanuit hulle onderskeie nesmaakplekke. Gereed om op my af te peil.
Ek waai my hande verwoed voor my, asof ek ‘n swerm woedende bye dringend af moet weer, en stotter verbouereerd:
“No-no…! I’m sorry, no!” probeer ek beduie en verduidelik.
“It’s Afrikaans for “”Thank You very much…!””
“African…?” sien ek sy bevraagteken steeds my beweerde herkoms, en voel hoe sy my weereens agterdogtig op-en-af bekyk, terwyl sy nog ‘n hanetree nader gee…
Ek retireer een tree en probeer “dankie” in Sweeds:
“Tack…?!”
Maar sy pik reeds driftig na my keel:
“Then why are you not black?!”
Genadiglik het my jare se ronddrentel die wêreld oor my gewoond gelaat met díe spesifieke vraag en antwoord ek vinnig:
“Well, I’m brown…?!” probeer ek red wat te redde is, terwyl ek trots na die gevolg van vele sonseisoene op die Kaapse strande op my gesonde, sonbruin voorarms wys. Ek is amper seker daarvan dat sy my nou sal glo.
“Gmf!!” oortuig sy my egter dat sy nie oortuig is nie.
Meteens verlang ek terug huis toe. Na my mense toe…en na my taal!
Sy onderbreek my heimwee toe sy in ‘n skril stem roep in die rigting van een van die soekers iewers agter in die spieëlbelaaide vertrek:
“Olga…?! Olga! His yours…!”
Olga en al haar verskeie, gereflekteerde alter-egos hoor haar egter nie en strompel sleepvoet voort tussen ‘n paar reusagtige, pienk, plastiek-gestoffeerde stoele deur opsoek na net hulle weet wat.
“Olga!!” skril hoenderhaankind weer bo die polsende techno-klanke uit en kry díe keer die reaksie waarop sy aandring.
Iewers vanuit die pienkstoel-doolhof kom Olga haastig aangeskuifel en verloor meeste van haar alter-egos agter haar.
Asook haar sonbril.
“I’m so sorry!” val sy in Sweeds voor ons voete neer en begin naarstigtelik soek na die verlore mode-bykomstigheid om my kuite.
Poumeisie rol haar lewelose oë om in haar skedel en los my met die verstrooide pateet, want haar volgende slagoffer het intussen reeds by haar kontrolepunt aangemeld vir haar straf. (of moontlike teregstelling!)
Ek tel die duur bril versigtig op, inspekteer dit vir enige skade en hou dit dan laggend na Olga toe uit:
“Hi,I’m Fanus!” probeer ek kennis maak. En vrede. Deeglik bewus van die feit dat ek uiteindelik van aangesig tot aangesig staan met die wese wat my onder haar hande gaan neem.
Sy vat die bril versigtig en met amperse eerbied uit my hande uit en plaas dit behoedsaam terug in sy staanplek bo haar kop. Toe vra sy:
“Vad heter du…?”
Sy leun nader asof sy wil seker maak sy hoor my reg.
“Fanus. ” sê ek weer.
“Famous…?!”
Ek sien hoe die “Why haven’t I heard about you”-frons oor haar voorkop uitplooi en vir ‘n ‘n oomblik dink ek ek gewaar ‘n hoopvolle flikkering van intelligente lewe, maar dan vervaag die vlammetjie egter weer vinnig in die niet.
“Never maaind.” antwoord ek in my beste Boere-engels.
“This way…” wys sy na een van die reuse, pienk plastiek stoele.
Ek bars onwillekeurig uit in ‘n koue sweet!
“Ta av dina skor…” beduie sy dat ek my skoene moet uittrek.
Nou sweet ek onbeskaamd.
Asof vanuit die niet verskyn daar meteens voor my ‘n man/vrou/buiteruimtelike wese met ‘n reënboog om sy/haar/dit se kop en stoot vir Olga onseremonieël eenkant toe.
“Hello sweetie!” hyg hy/sy/dit vermakerig in perfek-genuanseerde Engels en flits ‘n uitlokkende, bloedrooi grynslag in my rigting. Dan val dit/sy/hy voor my voete neer en begin naarstigtelik torring en trek aan my dubbelgeknoopte skoenveters met oordadige-lang, aangeplakte naels.
Vir ‘n oomblik snak ek benoud na my asem, want die suur-soet parfuumwolk wat na my toe opstyg vanuit die reënboog tussen my oopgesperde bene is oorweldigend!
“Oh my, what big feet you have!” hoor ek Reënboogkop na my toe opterg, terwyl sy/dit/hy gedetermineerd voortstoei met my hardnekkigge veters.
Intussen merk ek op dat haar/sy/dit se aandag beslis nie meer nét op my deurgetrapte stapstewels gefokus is nie, maar eerder iewers hoog teen my bewende en ontblote dye op…!
Instinktiewelik pluk ek my bene na my bors toe en vat my eie veters in my eie hande vas:
“I will do it…” dreig ek vriendelik, dog ferm, terug na Reënboogkop toe met my beste, Boere-glimlag.
“Okay darling! Just thought I could help!” animeer hy/sy/dit vermakerig om my te oortuig van sy/dit/haar se onskuld, maar gluur my terselfdertyd veragtend aan van onder haar/hom/dit/sy se blinker-belaaide, vals, oogwimpers.
“No thank you.”glimlag ek beslis terug. Dan pluk ek my stewel hardhandig van my moeggeloopte regtervoet af. Vir ‘n kortstondige, ironiese oomblik is ek opreg dankbaar vir die luierende parfuumwolk om ons, want ek weet wat heel moontlik volgende gaan kom. Dan stroop ek stadig die dik wolsokkie van my voet af…
Reënboogkop steier geskok terug en pluk sy ringbedruipte hande na sy gapende mond, asof hy\sy\dit besef hulle het sopas ‘n melaatse aangeraak:
“Oh my God!!”
Olga skuifel bekommerd nader:
“What’s wrong, Karl…?”
“Cathy!” korrigeer hy haar bitsig, voor hy/sy/dit weer in karakter kom en dramaties na my ontblote voet beduie met een, uitgestrekte, bloedrooi-benaelde vinger:
“Have you ever seen anything like that ?!!!”
Olga verstel haar donkerbril na die “op”-posisie bo haar kop en leun vorentoe om my gehawende toonnaels van nader te inspekteer…
“Xxxxn !!” uiter sy verbaas ʼn Sweedse woord wat ek nie hier durf vertaal nie, maar dit rym min of meer met “Yuck.”
“You’re gonna need a grinder for that, my dear!!” spoeg Reënboogkop sy afsku in haar rigting, voor hy terstond op sy hoëhakstewels omtol en so vinnig as moontlik wegtrippel van die afgryslike gesig agter hom af.
Olga het haar baie goed van haar taak gekwyt, hoewel in absolute (heel moontlik geskokte) stilte.En gelukkig sonder om ooit ʼn hoekslyper, of enige ander vorm van kraggereedskap te moes gebruik.
Ek het uiteraard deurentyd baie simpatie met haar gehad, terwyl sy gewoeker en gewerskaf het met my deurgetrapte, oor-die-wêreld- heen-geloopte, Boere-tone. Om die ure om te kry het ek myself deeglik en vanuit alle moontlike hoeke en kante bekyk in die vele spieëlbeelde van myself vanaf my verhewe, pienk plastiektroon. En, net daar op daardie pienk, plastiekstoeltroon in Kopenhagen, het ek tot ‘n beslisde en klinkklare gevolgtrekking gekom:
Ek is inderdaad intens tevrede en gelukkig met myself. Presies netsoos wat ek na myself terug-geglimlag het vanuit die dolle spieëlmalemeule om my. Ek wil niks aan myself verander nie: nie my “looks” nie, nie my styl nie, nie my voorkeure of afkeure nie. Niks!
Maar, het ek myself tog net daar en dan iets voorgeneem:
Ek sal nooit, ooit weer toelaat dat ʼn totale vreemdeling met my moeggeploegde Boere-toonnaels staan en peuter nie…!
©Fanus Strydom
April 2023 – KLUG projek
2.Klugliedere
1613 woorde
“Sneeuwitjie, word wakker!!”
“Uh-uh!”
“Jy moet opstaan!”
“Ek wil nie…”
“Vir wat nie?!”
Want ek’s depressed, okey?!”
“Oor wat?”
“Oor my prins nou skielik kop uittrek oor sy belofte, dis wat!”
“Waarvan praat jy, kind?”
“Hy’t laat weet hy identifiseer nou as “prinses” en dat ek “haar” moet kom red, eerder as hy vir my…!”
“Askuus?!”
“Ek sweer!”
“Ek glo dit nie, Sneeutjie, ek dink jy yl of iets. Het jy jou pille gedrink vanoggend?”
“Watter pille? Daar’s so baie…”
“Jou anti-depressante.”
“Nee, ek gaan nie meer daai gemors drink nie!”
“Nou vir wat nie?!”
“Want ek wil nie! Ek wil eerder net hier lê en doodgaan van ellende!”
“Selfmoord pleeg?”
“Selfdood asseblief…dood, nie moord nie.”
“Klink vir my na een en dieselfde ding.”
“Wel, dit is nie. Daar’s ʼn groot verskil, okey!”
“En wat is die verskil nogal?”
“Ek weet nie, maar dood klink net soveel beter. Moord klink so gross!”
“Wel, doen dan maar wat jou ook al gelukkig maak, meisiekind. Ek en die ander hoogte-gekompromiseerde lede gaan in dorp toe vanoggend.”
“Hoekom?”
“Ons gaan betoog op die stadsplein.”
“Teen wat?!”
“Diskriminasie natuurlik! Ons dwerge het ook mos regte!!”
Oppad dorp toe loop die sewe hoogte-gekompromiseerde lede vir Wolf raak waar hy kop-onderstebo onder ʼn verlepte vyeboom sit en sy wonde lek.
“Hey Wolf! Wat’s fout…?”
“Ag, sommer als.” sug hy moedeloos.
“Hoe dan?”
“Toe ek daar by die drie varkies se huis aankom en dit met een asemteug die lug in probeer blaas, kry ek die verassing van my lewe!”
“Ja?!”
“Ja…(sug)”
“Hulle het so vet geword vandat ek hulle laas gesien het, dat ek hulle skaars kon herken!”
“En toe?”
“Toe ek hulle vra wat aangaan sê hulle vir my dat hulle by die Liggaams-positiewe- beweging aangesluit het en nou hulle oorgewigheid gelate vier met trots en sonder terughou…hulle vreet onophoudelik!”
“En toe? Het jy hulle opgevreet?”
“Natuurlik nie!”
“Nou hoekom dan nie?”
“Ag….ek sukkel mos vreeslik met my cholesterol en ʼn té vet vark is gif vir my galblaas…so, nou gaan ek maar uithonger en maer word soos ʼn kraai. Anorexia is my voorland!”
Net toe kom Grietjie en ʼn ander meisiekind daar aangestap.
“Halo Grietjie.” groet Wolf mismoedig. Hy sien hoe groot die kind geword het.
“Haai Wolf!” waai sy opgewonde.
“Halo Wolfie…!” sê haar maatjie vermakerig en knipoog ʼn paar oordadige wimpers in sy rigting.
“Hansie?!” roep Wolf verbaas.
“Henrietta…” antwoord Hansie vermakerig en gooi sy pruikbetooide kop agteroor.
“Vir wat is jy so aangetrek?!” vra Wolf oorbluf en wys na die jongman in visnetkouse en hoëhakskoene voor hom.
“Ons is oppad biblioteek toe”, antwoord Grietjie en wys na haar broer.
“O, dis goed…” sê Wolf verlig “…julle jonges lees deesdae heeltemal te min.”
“Is waar nê!” beaam Hansie/Henrietta met groot, bloubesmeerde oë. “Dis hoekom ons ʼn “Drag-queen Story-hour” by die skoolbiblioteek gaan aanbied. As die kinders dan nie meer wil lees nie, dan lees ons vir hulle! Cool hê, oom Wolf?!”
Wolf sug swaar en laat sak weer sy kop.
“Waarom die lang gesig?” hoor Wolf na ʼn rukkie iemand langs hom. Dis Rooikappie. Wel, voorheen bekend as Rooikappie, want deesdae identifiseer sy mos as “Witjassie”.
“Ai, Witjassie…” kla Wolf “…wat word van ons kinders?”
“Waarvan praat jy, Wolf?” wil Witjassie weet en vroetel in haar medisynetassie. Na ʼn baie kort kursus by die WOKE-universiteit op die dorp is sy deesdae die hoof van Welsyn en Gesinssorgdienste in die omgewing.
Net toe Wolf wou antwoord, lui haar selfoon.
“Hallo?” antwoord Witjassie en hou haar een vinger in die lug vir Wolf om stil te bly.
“Waar is hy…?” hoor Wolf haar vra.
“Het hy gespring?” wil sy weet.
Wolf lig sy wenkbroue…
“Ek is oppad!” sê Witjassie haastig en verstel haar medisynetassie oor haar skouer.
“Wat nou?” wil Wolf weet.
“Dis Hompie Kedompie…” sê Witjassie en begin haastig in die paadjie afdraf met Wolf agterna. “Hy worstel mos nou al geruime tyd met sy selfbeeld as eier en oorweeg al lank die oorgang na iets anders…” vertel Witjassie uitasem en teug benoud aan haar asmapompie.
“Wat anders kan hy wees as ʼn eier?!” vra Wolf verbaas.
“Wel, ek het hom beraad en vir hom verduidelik dat daar baie ander vorme van eier kan wees waarmee hy homself kan vereenselwig. Hy moet net geduldig wees en sy tyd vat voor hy besluit watter een vir hom die gemaklikste is om uit te leef…”
Wolf kan nie glo wat hy hoor nie en probeer voor Witjassie inhardloop om haar duideliker onder oë te kry, maar hy’s honger en die rumatiek vreet aan sy regterheup.
“En…?!” roep hy uitasem agterna.
“Wel, klaarblyklik wou hy nie meer wag nie…” antwoord Witjassie haastig en klouter oor ʼn boomstomp in die paadjie.
“Wat bedoel jy?!” vra Wolf benoud en probeer bybly.
“Hy’t blykbaar besluit “Roer-eier” is die beste keuse vir hom en toe…”
“Toe wat?!” hyg Wolf.
“Toe spring hy…” antwoord Witjassie en stop vir ʼn oomblik om haar asem terug te kry.
“Waar?!” roep Wolf geskok.
“Daar onder langs die stadsmuur…”
Witjassie wys in die rigting van die hoofpad dorp se kant toe. “Hy lê in stukke gebreek op die sypaadjie en die koning se soldate probeer om hom weer aanmekaar te kry, maar niks wil werk nie…”
“Wat gaan jy doen?!” vra Wolf benoud.
“Wel, ek het hormoonpille en testosteroon-onderdrukkers hier in my medisynetassie…” antwoord Witjassie ingenome en kyk half-dom na die oorvloed bottels en pille in haar sakkie. “Miskien sal dit help om ten minste sy wit gestol te kry vir ʼn ruk. Kom, ons moet gaan!”
“En wat van sy geel?!” wil Wolf bekommerd weet…die prentjie van arme gebreekte Hompie Kedompie helder in sy geestesoog.
“Nee, díe sal ons maar moet skei van sy wit.” antwoord Witjassie en versnel haar pas.
“Jy meen hom kastreer…?!” roep Wolf benoud en sak moeg terug op sy hurke.
“Hm-hmm.” hoor hy vir Witjassie sê toe sy om die draai verdwyn.
Hy stap moedeloos en stert-tussen-die-bene langs die paadjie af dieper die bos in…
Waar sy hande-viervoet op haar knieë staan en die kombuisvloer skrop, kom Aspoestertjie moedeloos orent en vee oor haar voorkop. In die vertrek langsaan hoor sy haar susters praat:
“Oe, Gertruida! Die mastektomie het gewerk. Jou borste….hulle is weg!”
“Gerhardus…” korrigeer Gertruida vies haar/sy jonger suster. “As die prins nou skielik ʼn prinses geword het kan ek mos ʼn man word, of hoe?!”
“Ja verseker, Gertrui…Gerhardus! Dit gaan hom uitoorlê!!” klap haar jonger, dom suster opgewonde haar hande.
“En jou….” die dom suster sukkel om die woorde te vorm, maar wys nuuskierig met een krom vinger na Gertruida se lies. “Hoe lyk jou….wel, jy weet…hoe voel dit?!” Sy giggel opgewonde.
Gertruida vroetel ongemaklik tussen haar bene en verstel die pas-ingeplante peno-plastie in ʼn meer gemaklike posisie voor in haar broek in. Sy is nie gewoond aan die ding tussen haar bene nie.
“Werk hy?!” wil haar dom suster weet.(Sy maak ʼn opwaartse gebaar met haar vinger.) “Jy weet…?!”
“Natuurlik nie, Griselda!” snou Gertruida haar toe. “Dis net vir die show! Moenie vir jou simpel hou nie. Maar die plan gaan werk…die “prinses” sal nooit die verskil agterkom nie!”
“Oe, ek is so opgewonde!!” lag die dom suster en klap weer haar hande voor haar gesig.
In die kombuis sak Aspoestertjie terug op haar knieë en begin saggies bid vir genade en verlossing.
Langs die paadjie, nou diep in die digte bos, sien Wolf vir Judas onder ʼn groot Terpentynboom sit. By sy voete lê ʼn growwe, bruin tou. Hy stap stadig nader.
“Halo Wolf” groet Judas sag.
“Judas…” antwoord Wolf. Hy sien die man lyk erg ontsteld. “Wat’s fout…?”
“Niks!” antwoord Judas te vinnig.
“Judas…?” wil Wolf weet.
“Wil jy geld maak?” vra Judas onverwags.
“Wat bedoel jy?” vra Wolf agterdogtig.
“Hiersô…” sê Judas en hou drie silwer-muntstukke na Wolf toe uit. “Jy lyk brandmaer en uitgehonger. Gaan koop vir jou ʼn skaap-kostuum in die dorp dan kan jy vir jou ʼn skaap gaan vang. No problem…!”
Wolf vertrou nie die vrede nie:
“Waar het jy die geld gekry?” Hy sien die leersakkie met nog muntstukke op Judas se skoot.
“O…” antwoord Judas (weer te vinnig) “…ek het die lotery gewen gisteraand! Hiersô, gaan koop jou skaap-vermomming!”
“Jy bedoel soos ʼn wolf in skaapklere?” wil Wolf versigtig weet.
“Ja!” lag Judas verleidelik. “Niemand sal agterkom totdat jy tussen die dom klomp skape is nie. Dis foolproof, sê ek jou!”
Wolf dink vir ʼn oomblik, dan sê hy met ʼn beslisde skud van sy ou, grys kop:
“Nee!”
“Noumaar, vir wat nie?!” wil Judas vies weet.
“Want ek is bang vir die herder…” antwoord Wolf sag.
“Moenie oor hom worry nie!” lag Judas en kyk anderpad. “Hy sal jou nie meer pla nie…”
“Wat bedoel jy?” wil Wolf weet.
“Hy’s gisteraand ge-arresteer. Hulle kruisig hom as we speak…” Hy wys met een hand na die bult aan die oorkant van die vallei.
“Wat?!” grom Wolf en spring haastig orent. “Maar hulle kan mos nie!”
“Vir wat nie?” wil Judas weet.
“Want hy is ʼn goeie herder en hy gee om vir sy skape!” protesteer Wolf.
“Twak man!” grynslag Judas en hou die geld na Wolf toe uit “…dê, vat die geld!”
“Hou jou geld!” roep Wolf gebelgd en steier weg van Judas af. Dan draf hy kruppel-kruppel in die bospaadjie af so vinnig as wat sy moeë bene hom kan dra. Toe hy ʼn tak hoor kraak agter hom, kyk hy om…
Hy sien die lewelose liggaam van die man Judas waar hy aan sy nek aan die tou hang. By sy voete blink dertig stukke silwer dofweg in die laaste lig van die skemerson.
Meteens is die bos pikdonker.
©Fanus Strydom
Mei 203 – OOP projek
1.Beskermengel
1 909 woorde
Angelo was geen gewone engel nie, inteendeel…
Reeds sedert sy vroeë engel-kinderdae het hy tekens getoon van ongewone deursettingsvermoë en gedetermineerdheid. Maar, terselfdertyd ook van uiterste hardkoppigheid en eiewysheid. Soms het sy impulsiewe aksies en onbesonne oorhaastigheid amper gegrens aan absolute waansinnigheid! Nie een van die ander beskerm-engel kandidate sou ooit waag om te probeer doen wat hy so gereeld en sonder moeite, of denke aangevang het nie. Meer gereeld as soms met katastrofiese gevolge en tot uiterste frustrasie van die Ouderlinge, die Leermeesters en die verskeie ander Raadgewers van die Uitvoerende Orde. Maar geen mate van waarskuwing, straf of ander vorm van inperking kon Angelo laat afsien van sy planne nie…
Vanwaar hy nou op die rand van die afgrond staan waar dit uitkyk oor die eindelose vallei onder hom, hoor hy sy boesemvriend se nuttelose waarskuwing in sy gehoorstuk:
“Angelo, luister na my asseblief! Jy is heeltemal gek om dit te wil doen…!”
Gabriël was die agterkleinkind van die engel Gabriël.
Wys voor sy jare en uiters slim.
Die perfekte teenwig vir Angelo se argelose roekeloosheid en blinde onverskrokkenheid.
“Ag Gabe, chill my vriend!” gaan Angelo hom egter teë, soos altyd. “Ek wil net eenkeer gaan probeer…moenie worry nie, ek’s terug voor jy nog kan breek vir ʼn ruskansie!”
Hy verstel die klein gehoorstukkie dieper in sy oor in en druk die groen knoppie langs die GPS-kontrole op sy polshorlosie:
“Gabe, hoor jy my nog…?”
Gabriël weet wat kom…, hy leuen vooroor en praat dringend in sy mondstuk in:
“Angelo, waar is jy?! Wat de dinges voer jy nou weer in die mou?!”
Maar voor hy nog iets kan sê praat Angelo weer in sy gehoorstuk:
“Hou jy maar net ʼn oog op die monitors en laat my weet hoe lyk dinge aan jou kant van die skerm…onthou: jy is my oë en my ore. En cover vir my…!!”
Gabriël druk die rooi knop op sy beheerpaneel…wens om te vloek, maar hy durf nie, want engele mag nie!:
“Angelo, waar is jy?!”
“Waar dink jy is ek…?” hoor hy Angelo lag in sy mondstuk in.
“Moenie vir my sê jy staan by die Verbode Vallei nie, asseblief!”
“Baai Gabe! Sien jou later…!”
In die kontrolekamer van die Derde Hemel staar Gabriël in geskokte ongeloof na die skerm voor hom…sien hoe die klein, rooi liggie meteens al hoe dowwer begin flits soos wat dit oor die afgrond tuimel na benede.
“Angelo…!” roep hy angstig in die mikrofoon in.
Maar al wat hy hoor is stilte.
Hy sien die liggie se sein al hoe flouer word…
“Wat gaan aan, Gabriël?” vra een van die Opsigters skielik agter hom. Hy leuen oor Gabriël se skouer.
Gabriël klik vinnig ʼn sleutel op die sleutelbord voor hom om die skerm voor hom te verdonker.
“Niks Meneer…net ʼn vals sein van iewers oor die Verbode Vallei.”
“ʼn Vals sein…?”
“Ja, Meneer. Niks om oor te bekommer nie!”
“Is jy seker?” wil die opsigter weet en leuen vooroor om by Gabriël se monitor uit te kom, maar hy keer met ʼn vinnige hand en wys na ʼn ander skerm voor hom:
“Wat dink u moet ons dáármee maak…?”
Hy wys na ʼn ander flikkerende liggie op die skerm langsaan.
“Hmmm….hou hom dop en hou my op hoogte.”
“Ja, Meneer.”
Toe die Opsigter wegdraai, tik Gabriël verbete alternatiewe kombinasies en kodes op die sleutelbord voor hom in om weer kontak te probeer maak met Angelo, maar tevergeefs. Al wat hy kry is ʼn dooie plat-lyn op die skerm voor hom en ʼn gekraak in sy kopstuk.
“Angelo, hoor jy my?!”
Niks.
Die rotswand van die afgrond waarop Angelo ʼn oomblik vantevore nog gestaan het, val nou agter hom weg en verdwyn bo sy kop toe hy spring. In plek daarvan is daar skielik net ʼn oneindige vakuum van leegheid en loeiende wind wat hongerig na sy skoppende bene gryp soos wat hy kop-onderstebo na benede tuimel.
“Gabriël, kan jy my hoor?!” roep hy benoud in die mondstuk voor sy kopskerm in, maar al wat hy hoor is wind en geraas en klankversteurings.
Vêr onder hom sien hy die blinkswart rotse vinnig nader kom…gereed vir hom om homself daarop te pletter te val!
Om te val was nie die ideale posisie vir ʼn engel om in te wees nie, veral nie gat-oor-kop soos nou nie. (Dit besef Angelo maar alte goed…engele was nie veronderstel om te val nie. ʼn Gevalle engel was so goed soos ʼn dooie engel!)
“Gabe…!” gil hy weer in die mondstuk in en probeer om homself regop kry, maar hy bly halsoorkop tol en tuimel na benede…
Ongeveer ʼn duisend kilometer onder Angelo op aarde, sit ʼn jong man kop-onderstebo op die mat van ʼn klein, beknopte tuinwoonstelletjie. Buite loei die Suid-Ooster onheilspellend deur die dennebome teen die berg. Vlae reën dwing ongeduldig teen die vensters vas. Onder in die hawe stoei reuse golwe hardkoppig teen die Houtbaaise strand op en breek stormagtig oor die hoofpad langs die kaai.
Die voordeur staan oop en ʼn dowwe liglyn skyn matlangs daardeur tot teenaan die seun se bene. By sy voete lê ʼn oorgehaalde pistool, dofblink en koud…
Dieselfde wanhopige gedagte-stem eggo oor en oor deur sy brein; radeloos en sonder rede:
“Dit is verby…ek kan nie meer nie!”
Angelo val soos ʼn klip, terwyl hy desperaat stoei en spartel teen die lugsteurings om homself net weer regop te probeer kry. Hy gooi sy kop een laaste maal agter-oor in die hoop om meer wind onder sy vlerke in te kry.Ten einde laaste skop hy sy bene met mening reguit oop agter hom en sprei sy vlerke oop met die laaste greintjie krag wat oor is in sy rug. Toe hy die vlymskerp rotsbanke onder hom al amper kan ruik, tol hy meteens regop en swiep rakelings oor die klipbank onder hom. Hy klap sy vlerke met mening in ʼn laaste, desperate poging om sy noodlottige invalshoek te korrigeer. Op die laaste nippertjie verander sy posisie genadiglik meer horisontaal en begin hy meteens weer hoogte wen. En ten minste was hy darm weer regop! Die ruwe terrein swiep nou blindelings verby onder hom. Hy kan niks sien, behalwe verlatenheid en eindelose, dooie vlaktes nie. Hy vroetel aan sy kopstuk…verstel die nagvisie-kontrole om die terrein voor hom in fokus te probeer kry, maar iets is fout…
Hy probeer weer kontak maak met Gabriël:
“Gabe, hoor jy my…?!”
Niks.
Net kraakgeluide en steurings, selfs in die sigskerm voor sy oë. Hy vlieg blindelings vorentoe, boontoe…of ondertoe, hy’s nie meer seker nie.
Hy het geen idee meer waarnatoe hy oppad is nie!
“Angelo…! Kom in!!”
Gabriël probeer alles, maar niks werk nie. Op sy skerm bly Angelo se vlugplan en posisie net ʼn stil, donker geheim…
In die dofverligte woonstel teen Hangberg leuen die jongman stadig agteroor…trek een laaste keer ʼn vlak asemteug en buig dan voor-oor vir sy laaste gebed:
“Pa, vergewe my…Here, ek is jammer…”
Toe hy regop kom, druk hy die koue pistool onder sy ken in…
Angelo tref die boom met ʼn harde slag halfpad teen die growwe, dik stam op. Voor hom sien hy ʼn steil berghang en ver agter hom ʼn onstuimige kus. Hy klou krampagtig aan ʼn tak bo hom om vasvatplek te kry, maar dan tuimel hy holderstebolder ondertoe. Om hom breek takke en val blare saam met hom grond toe.
“Deksels!” probeer hy gryp na een laaste tak op sy pad ondertoe, dan tref hy die grond met mening plat op sy rug. Hy hoor (en voel!) die harde kraakgeluid in sy regtervlerk…sien die vere stadig neersyg om hom. Dan laat sak hy sy kop stadig agteroor en kyk in die donker hemel in. Vêr bo hom sien hy vir ʼn oomblik die Orionsgordel in ʼn gaping tussen die wolke, voordat dit weer tussen die misnewels verdwyn.
Eers toe besef hy hoe vinnig en hoe ver hy moes geval het…
In die woonstel hoor die jongman die dowwe slag iewers buite die oop deur…takke wat kraak en iets wat voor die afdak val. Hy verlig die drukking op die sneller onder sy ken en maak sy oë stadig oop.
Hy kyk na die deur…niks. Net die wind en die reën.
Dan maak hy sy oë weer toe en sit sy vinger terug op die sneller…
Angelo sien die dowwe lig skyn buite die geboutjie ʼn entjie voor hom. Hy sukkel moeisaam regop en begin daarheen aanstrompel. Agter hom sleep sy gebreekte regtervlerk slap en leweloos oor die druipnat aarde. By die deur trek hy homself stadig regop en leuen teen die kosyn. Hy kyk na binne…
“STOP!!” hoor die jongman meteens ʼn dringende stem agter hom. Hy laat val die wapen voor sy knieë en kyk verskrik om.
In die deur-opening leuen-staan ʼn sopnat-gereënde, modderbesmeerde man met sy een skouer teen die kosyn. Donker haarslierte hang nat teen sy voorkop af oor sy gesig en sy klere lyk hier-en-daar aan flarde geskeur, asof hy in ʼn oorlog was, of ʼn ongeluk… Al staan hy effe vooroor gebuig sien die jongman hoe frisgebou en groot hy is; hy staan amper die hele deuropening vol! Iets wat lyk soos ʼn reuse arendsvlerk hang half-skeef teen sy regtersy af tot op die grond langs hom.
Dan strek hy een hand stadig voor hom uit en pleit weer saggies:
“Om hemelsnaam, stop…”
Teen eerste lig die volgende oggend klouter Angelo moeisaam agter die jongman aan teen die steil wand van Hangberg op. Hy’t gesê daar’s ʼn selfoontoring op die berg. Miskien kan Angelo kontak maak van daar af…
Hulle het deur die nag gepraat en uiteindelik het die seun verstaan en ingestem om moed te hou. Om weer te probeer aangaan met die lewe…
Nou wou hy vir Angelo help.
Wou hy hom terugbetaal vir sy onbaatsugtige reddingsdaad gisteraand…
Bo-op die berg se piek toring die selfoonmas hoog tot tussen die miswolke in.
“Wag hier…” sê Angelo sag en sit een voet op die eerste spar van die leer teen die toring. Hy vou sy beseerde vlerk versigtig agter sy rug in en begin klim, tot hy tussen die miswolke in verdwyn…
In die kontrolekamer van die Derde Hemel kry monitor Nommer 3 meteens lewe voor Gabriël…flikker ʼn dowwe liggie onseker aan-en-af…
“Angelo…?!” roep hy verbaas in sy mondstuk in.
“G..be…hoor jy m…?!”
“Ek hoor jou, Broeder, ek hoor!! Waar is jy?!!”
“…iewers o…Aarde…het ʼn jongman….e lewe…ered…gisternag…”
“O, my liewe Angelo!” lag Gabriël bewoë en vee die trane van blydskap uit sy oë uit.
Dan voel hy ʼn hand op sy skouer…
Agter hom leuen Hoof-Superintendent Josephus Konstantin III voor-oor en druk die rooi kommunikasie-knop op die beheerpaneel voor hom. Hy praat in die mikrofoon in:
“Kandidaat beskerm-engel Angelo De Sant-Guillaume, kan jy my hoor?”
“…k hoor,…Super..dent..”
“Besef jy dat jy die Groot Reël oortree het…?”
“Ek…sef, superin..ent..”
“En verstaan jy dat jy daarom nooit weer sal kan terugkeer huis toe nie…?”
“…k verstaan, s..perinten..ent.”
“Angelo De Sant-Guillaume, namens die Raad van Opperbevelvoerders verklaar ek jou dus nou hiermee amptelik as “gevalle engel”… mag die genade, krag en leiding van ons Heilige Opperwese met jou wees, nou en vir altyd.”
“…Super…..dent.., ek is…ammer..”
“Oor en uit.”
“Sê asseblief vir Gabriël ek is jammer, ek gaan hom mis en ek is lief vir hom…!” roep Angelo vir oulaas in sy mondstuk in, maar hy kry geen reaksie meer nie.
Op die gekraakte polshorlosie-toestel aan sy arm verdoof die groen kommunikasie-liggie stadig tot niks…
©Fanus Strydom
Junie 2023 – Winter projek
1.Noodvlug
1639 woorde
Angelo klief blitssnel deur die Derde Poort oppad aarde toe. Hy erken skaars die twee Intergalaktiese Wagte aan weerskante van die polsende lig-portaal. Toe hy anderkant uitflits registreer sy deurgang momenteel as ʼn groen seinkode op die GPS-toestel op sy pols. Tesame met sy togsnelheid en verwagte aankomstyd.
Hy mag nie laat wees nie…
In die flikkerende portaalopening agter hom warrel die yslug tregteragtig by sy sleurstroom in en vertuit in die verte agter die osoonlyn-horison. Toe hy afkyk na die lesings op sy pols-instrument, vang die naderende weerpatroon en temperatuurlesing hom onkant. Dit is winter in die Suidelike halfrond, maar sneeu en ysreën op die Hoëveld is ongewoon.
Sy strategie-pva wat hulle aan hom oorhandig het voor sy vertrek gister, het alle moontlike omstandighede bygereken. Uiteraard is daar altyd die moontlikheid van onverwagse hindernisse en uitdagings, want die vyand is onvoorspelbaar en uitgeslape. En hy moet gereed wees daarvoor. Hy is per slot van rekening opgelei as ʼn NRBE : Noodreddings-Beskermengel.
Maar sneeu en ysreën!
Hy fokus sy regteroog op die kommunikasie-toep op die gesigskerm van sy helmet voor hom. Die blou lig flikker aan:
“Alpha-zero-nege, kom in…”
“Alpha-zero-nege stuur, oor.”
“NRBE Angelo De Saint-Guillaume 1357, ontvang ?”
“Stuur oor.”
“Ek is sowat vyf kilometer bo die rendevouspunt, maar hier’s moeilikheid. Ek ervaar erge weerversteurings…hewige elektriese storms…GPS is deurmekaar. Ek benodig dringende begeleiding ondertoe..!”
“Roger 1357, behou jou vlugpatroon, ons werk daaraan, oor.”
“Roger, oor.”
ʼn Blinkwit weerligstraal blits nouliks verby sy kop en forseer hom van koers af. Die skokgolf veroorsaak ʼn versteuring op sy elektroniese gesigskerm. Hy swenk skerp-regs en mik vir die donker donderwolke aan sy bakboordkant. Toe die donkerte om hom toevou, skakel hy die projeksielig in sy helmet aan met ʼn knip van sy linkeroog. Hy sien dat die wolkmassa dig ge-ys en haas ondeurdringbaar is en gryp na die harnas langs sy flank. Dan begin veg hy noodgedwonge ʼn onbekende en dringende pad oop deur die ysbelaaide kristalkolomme voor hom met sy laser-rapier. Stoom en waterdamp verys onmiddellik teen sy gesigskerm vas en hy stoei blindelings vorentoe deur die vlymskerp, grysgrou ysgraf om hom.
“NRBE 1357, kom in…” kraak sy gehoorstuk.
“1357 stuur, oor!”
“Bly op jou trajeklyn, jy is roger-zero. Ek herhaal: roger-zero vir landing oor twintig…negentien…agtien…sewen…”
“Roger-zero, oor…”
Dan breek hy deur die digte wolkmassa.
Onder hom kom die grond meteens teen ʼn duiselingwekkende spoed nader:
“Ek sien die hospitaal onder my! Kontak in drie…twee…een…”
In teater 3 van die MegaMedi-kliniek in die Krugersdorpse middestad, hou die hoofpediater bekommerd sy oog op die hartklop-monitor bo die vrou se kop. Sy wankel onstabiel op die nippertjie van ʼn katastrofiese hartaanval. Hy maak haastig ʼn verstelling aan haar binne-aarse toediening.
Maar dan verlep die hortende klop-grafiek meteens tot ʼn stil, plat lyn…
“Kode Rooi!” blaf die spesialis en wys na die elektriese-skoktoestel op die instrumenttafel langs hom. “Suster, een-tagtig volt, STAT!”
In die hoek van die teater wieg ʼn donker figuur stadig heen en weer en grynslag knersend op geelvrot tande. Onsigbaar vir die ander beweeg hy geruisloos tussen hulle deur. Hy verstel hier en daar aan ʼn beheerknop op ʼn noodtoestel. Tik haastig ʼn paar kodes by ʼn rekenaar-sleutelbord in en gly dan tot langs die vrou. Daar begin hy peuter met die kraantjie van die noodtoevoerbuis in haar arm. Toe hy tevrede is, buig hy laag bo-oor haar en sit een, benerige klou-knyper op haar opgeswelde buik:
“Yetneteko arsepan…Molog obayito. Molog obayito…!” roggel hy in onhoorbare, klikkende klapklanke.
“Ons gaan haar verloor!” kommandeer die spesialis sy mede-personeel oor tot nood-aksie “en die baba…!”
“Ons worry nie oor haar nie, dis die seunmens wat moet vrek!” sis die swart figuur in die spesialis se nek in langs hom.
ʼn Yskoue rilling gly teen die dokter se ruggraat af.
Hy steier verskrik agtertoe…stamp teen die bystaan-dokter agter hom:
“Wat de?!”
“Wat nou?” wil die junior dokter weet.
“Ek weet nie, hier’s iets…”
Hy wys na die spieëlgladde vloer onder die teaterbed.
Vir ʼn oomblik verbeel hy hom hy sien ʼn donkerdof skaduwee onder die bed insypel soos rook, of roet. Op die bed rol die vrou se oë skielik bleekwit en glaserig terug in haar kop.
“Ons gaan in, nou!” blaf die spesialis en tree vorentoe met die blinkwit skalpel voor hom uitgelig.
Buite die vensters blits die weerligstrale. Vlae hael en gryswit sneeu sif meedoënloos neer op die dak. In die parkeerterrein pluk die stormwind aan die ontstelde bome.
Toe die hospitaaldeure oopgly voor Angelo, kraak sy gehoorstuk weer:
“NRBE 1357 kom in…”
“1357 stuur, oor.”
“Ons sien jy’t veilig geland, oor…”
“Dis ʼn pappa-delta ja, positief. Ek’s nou oppad in, oor…”
“Wees op die uitkyk vir agente van die Molog-kartel…hulle het ons uitoorlê. Hulle is reeds binne…teater 3, vierde vloer, oor.”
“Roger, oor.”
Angelo glip ongesiens by die skuifdeure in en hardloop regdeur die liggame van ‘n paar besoekers en pasiënte oppad uit van voor af. Hulle kan hom nie sien of voel nie, maar hulle sal nooit weer dieselfde wees nie. As ʼn engel eers deur jou gehardloop het, is jy onmiddellik en vir altyd anders…beter.
Hy vlieg blitsvinnig deur die betonvloere bo hom en land buite die hysbak op die vierde vloer. Die teater is op regs aan die onderpunt van die gang.
Toe hy sy oopgespreide vlerke agter hom toevou, sien hy die demoonskaduwees van die Molog-kartel in sy rigting aangeskuifel kom. Hy lig sy vuursabel voor sy gesig in…
Hulle herken hom dadelik en verander eensklaps in ʼn groep skarrelende kokkerotte teen die lysie van die vloer.
Sy reputasie as vreeslose vegter en Ligsoldaat het hom vooruitgeloop. Geen demoon wou onnodig met hom paaie kruis nie!
Hy stamp met sy stewel in hulle rigting en hulle vlug halsoorkop onder ʼn toe deur in.
ʼn Skril skreegeluid, soos staal op staal, klief in die gang af na die teater toe.
Die swart skadufiguur draai sy kop effe skeef.Twee hatige, bloedbelope oë kyk in die rigting van die deur. Hy ken díe waarskuwingskreet van sy gesante. Iets is oppad…
Angelo voel-vat aan die bruin kameelhaarknapsak teen sy gordel. Hy voel die klein, ronde glasbotteltjie daarbinne en vryf sagkens daaroor, verlig dat dit nog in een stuk en veilig is.
Hy moet dringend daarmee by die kind uitkom.
Op die operasietafel lig die spesialis versigtig die bebloede seuntjie vanuit sy ma se oopgekloofde buik uit. Haar hart het intussen gaan staan en daar is niks meer wat hulle vir haar kan doen nie, maar die kind lewe. Skaars, want sy hartjie klop wild en onreëlmatig op die skerm bo die bed. Die dokter knip die naelstring en oorhandig die kind aan die senior-verpleegster. Hy moet dringend broeikas toe.
Toe sy hom sagkens op die warmkombersie neerlê en die nood-ondersteuningsapparate aan sy lyfie koppel, staan die swart figuur langs haar.
Hy mik vir die seun se bloederige koppie…vir die klein, ronde fontanelle bo-op sy porseleinwit skedeltjie.
Meteens slaan ʼn hewige weerligstraal die kragtoevoer uit. Die teater is skielik pikdonker.
Bo die kind se kop aarsel die skadufiguur vir ʼn oomblik, maar gooi dan sy groot, misvormde kop agteroor:
“Tenak ateras te kera…te kera Molog!”
Blouwit vonke skiet by die kontrolebord uit en die personeel skarrel verward rond opsoek na noodligte.
Hy moet nou die gifsaad by die menskind se kop inplant, anders is dit neusie verby! Hy grou naarstigtelik in die donker in sy jas se sak en kry die gloeiende, rooi kristal vasgevat tussen sy krom vingers. Maar hy misvat die vuurwarm klont en verloor dit onder die teaterbed in.
Die gloeiende, rooi kool-klip rol kletterend oor die pikdonker vloer…
“Wat de…?!” roep die spesialis verbaas daarna en steier verskrik agtertoe.
Angelo storm by die teaterdeur in en duik vir die gloeiende kool onder die bed. Maar die skadufiguur kry hom aan die enkel beet en pluk hom verwoed terug…slinger hom sooos ʼn lappop teen die oorkantste muur vas. Hy val kletterend op sy rug teen ʼn staal teatertrollie vol toerusting. Die vlymskerp instrumente daarop deurboor hom op verskeie plekke van agter-af, maar hy strompel swaar orent en duik weer vorentoe.
Hy moet by die mensekind uitkom!
Die chaos in die donker teater laat verskeie verpleegpersoneel verskrik by die deure uit vlug. Toe die weerlig weer buite blits, sien die spesialis twee figure verbete stoei op die vloer voor die kind se broeikas. Die een sit bo-oor die ander met ʼn blinkwit dolk in sy hand…
Angelo bly steek totdat die swart figuur in ʼn roetswart miswolk onder hom wegsmelt en by die dreineringsgat onder die bed insypel. ʼn Skril ys-kreet weergalm deur die teater:
“Eekaa na te sut meeee…Molog mienaaaa….!!”
Dan is als meteens doodstil.
Bo die kind se bedjie lig Angelo versigtig die klein glasbotteltjie tussen sy vingers op. Hy kyk vir ʼn oomblik eerbiedig na die klein, polsende blou-wit druppeltjie voor hom deur die glas. Dit glinster en skyn in helderblink reënboogkleure teen die dowwe mure van die teater om hom. Hy skroef die botteltjie haastig oop en drup die ligtraantjie versigtig bo in die holtetjie van die seuntjie se fontanelle bo sy koppie…
“Vader, U lewensdruppel is veilig afgelewer…”
Dan strompel hy kruppel-kruppel by die teaterdeur uit.
Toe die krag weer aankom haas die spesialis hom na die kind se bedjie toe. Hy voel versigtig vir ʼn hartklop en sug tevrede toe die monitor meteens eweredig begin pols bo die broeikassie.
“Ag dankie, Here!” bid hy saggies en buig vooroor om die kleintjie op sy voorkoppie te soen.
Vir een, vlietende oomblik sien hy ʼn helder, flikkerende reënboog-pols onder die vel reg op die kind se koppie, dan is dit weg.
Buite die hospitaal soek Angelo uitgeput skuiling teen die ysige wind onder ʼn boom:
“Alpha-zero-nege, kom in…”
“Alpha-zero-nege stuur, oor.”
“Dis NRBE 1357…opdrag uitgevoer. Maar ek’s swaar gewond…soek dringend bystand…”
“ Bly sterk, Angelo! Hulp is oppad…verwagte aankoms in twintig…negentien…agttien…”
©Fanus Strydom
Julie 2023 – OOP projek
1.Toe val lig
3372 woorde
Die grysblou volmaan soek onseker na deurkomplek iewers tussen die donderwolke bo die kuslyn deur. Dit gly onvas tussen vlae reën en digte miswalms bo ons koppe verby. Tussen die berge aan weerskante van die stilswart hawe hang die naghemel laag en swanger met stormbelofte.
Ek beur met moeite strandlangs teen die wind in en sukkel om bo die water se spoellyn te bly. Elke nou en dan vang die deining my onkant en spoel die onverwagse ysigheid krampagtig om my bene vas tot amper by my knieë. Dan moet ek eers vierkantig in my spore stop en myself wydsbeen staanmaak in die sagte dryfsand onder my, terwyl die bewegende sandvloer vraatagtig suig en torring aan my druipnat stewels en broekspype en ek stelselmatig al hoe dieper wegsak tot bo by my enkels in die sponsige onvastigheid. Sodra die onrustigheid om my vir eers weer saam met ontelbare, haastige krappe by hul oopbekgate in die sand in verdwyn kan ek weer my arms laat sak langs my sye en die oopgeflansde pante van my reënjas weer toevou voor my bors. Die reën sif meedoënloos neer van voor af en vlaag na vlaag waterbelaaide windwalms dwing my op my knieë neer om my vasgesuigde enkels uit die sand uit te bevry. Eers na ek altwee uit die suigsand losgewikkel het kan ek dit waag om weer regop te kom en verder voort te stoei teen die woedende wind in. Om voort te soek na ʼn onbekende plek van vrede en rus iewers langs hierdie ontstoke kus van my gemoed.
Shadow bly onrustig om my ronddraai en hy druk homself elke nou en dan tussen my en die onstuimige branders in. Elke keer as ek struikel is hy dadelik langs my en lek hy my naarstigtelik deur die gesig om my op te help met sagte tjankgeluide en ʼn waai van sy witgekalkte stert. Die res van sy pikswart Skaaphondlyf smelt onsigbaar weg in die donker nagmis om ons. Elke nou en dan voel ek egter die dringende aandruk van sy sopnat flank teen my kuite. Asof hy my probeer opdruk duin se kant toe, weg van die aanhoudende en hipnotiese gelokroep van die malende golwe af. Asof hy weet my kop en my hart staan alweer diepsee se kant toe vanaand…
Langs ons dawer die branders onophoudelik en onkeerbaar strand-op in die maanlig met witskuim-maanhaarkuiwe hoog oopgesproei bo hulle rûe. Onder hulle maal en kolk die donker water onheilspellend op en af soos die oseaan se ontstelde polsslag iewers diep vanuit die donker dieptes hulle oproer en opstook tot aksie. Asof hulle instinktiewelik weet hulle is amper op land, beur die witrug branders dan een laaste maal dawerend en vasberade vorentoe met opgeligte koppe en kromgebuigde rûe. Voor, aan die voet van die hawe se breekwatermuur en tussen die oopgegooide bekke van die skerptandrotse, lê hulle beloofde vastrapplek reeds sigbaar ongeduldig en wag op hulle aankoms. Ek stop vir ʼn oomblik en verwonder my aan die gewelddadige gewilligheid waarmee die golwe hulleself daar teen die ondeurdringbare muurskans te pletter loop. Vir ʼn oomblik dink ek ek verstaan die wanhoopkreet waarmee hulle blindelings en onafwendbaar-oopgeflans skuimend die lug in tuimel. Vir ʼn oomblik hang die gebreekte branders so in tyd en tye tussen die hemel en die aarde, voordat hulle dan noodlottig gewond neersak tot stilte tussen die onrustig-vasgemeerde bote in die hawe aan die ander kant van die keermuur in.
“Shadow, kom weg daar!”
Ek moet hard skree teen die wind se geraas in om sy aandag te kry. Eers toe ek teen my been klap, sien hy my en kry dadelik die boodskap. Hy draai gehoorsaam weg van die glibberige kant van die hawemuur se selfmoordrant af en kom skeef-skeef teen die wind op aangedraf om weer langs my enkels in te val.
Aan die bopunt van die keermuur, langs die ligtoring, draai ek weg van die water af en mik duine se kant toe. Nou druk die vlymskerp seewind ongeduldig en ysig van agter af teen ons rûe op. Voor ons lê die duin bleekwit en steil oop teen die berg op en ek is meteens dankbaar vir die ysnat vlae van agter af. Dit help my om teen die steilte uitgeklouter te kry, ten spyte van die koue. Langs my sak Shadow tot teen sy borskas weg in die sagte sand en ek kan sien hoe sukkel hy om by te bly. Halfpad teen die duin op brand die dors en koue ysig in my keel en ek stop eers om asem te skep langs ʼn omgevalle boomstomp in die sneeusagte sand. Ek val dankbaar op my sitvlak neer en sak laag teen die stomp af om skuiling te vind teen die huilende wind. Toe ek my knieë teen my bors optrek kom hyg Shadow teen my aan met sy deurnat lyf en val langs my neer in die nat sand. Ek gooi een arm oor sy bewende rug en trek hom stywer vas teen my. Hy steun sag en probeer geïrriteerd die krappende sand uit sy oë uitvryf met sy kop teen my sy. Ek help hom en vee versigtig die saamgeklonte sandkorrels by die hoeke van sy oë uit, terwyl my tande onkeerbaar opmekaar klapper van die koue.
“Ai, Shadow,” bibber ek teen sy oor in, “ek weet nie meer nie. Wat gaan van ons word, my seun?”
Ek kyk op en sien hoe die inkswart water nou ver onder ons in die baai rondmaal in onstuimige tregterkolke tussen die vlymskerp rotse deur. Asof hulle daar eers moet planne beraam en strategie bespreek, voordat hulle weer terugtrek diepsee toe. Om daar in die donker dieptes te moet gaan delf vir die volgende tonnemaat stormrede vir die nimmereindigende en alewige aanslag teen die land.
“Nes die lewe…” dink ek hardop by myself en sug swaar by die gedagte van die afgelope paar dae se dinge.
Ek voel hoe Shadow se kop skuins draai onder my hande soos hy begryp en ek wens opnuut weer ek kon verstaan wat in sy gedagtes aangaan. Wens ek kon hoor watse raad daar opgesluit lê agter daai paar sagte, okkerneutbruin kykers van hom. Al is hulle nou onsigbaar in die donkerte voor my, weet ek hulle bly onvoorwaardelik en onophoudelik soek na myne. Is ek seker hoe hulle nou op hierdie oomblik klop en krap teen die toegewasemde ruite van my gekneusde, moedelose siel om in te kom in die donker binnekamers van my menswees in. So asof hy weet dat net hy daar toegelaat word. En Angelo…
“Why the long face?!”
Ek skrik so van die skielike stem agter my ek stamp my kop hard teen die stomp toe ek omkyk.
“Eina bliksem!” probeer ek ontsteld die brandpyn teen die kant van my gesig wegvryf. Maar ek is meteens opreg dankbaar by die besef dat hy uiteindelik weer hier is. By my. Ek het al begin twyfel in sy bestaan en sy betroubaarheid. By die aanhoor van die bekende stem, ruk Shadow sy kop opgewonde van my skoot af op en spring stertswaaiend oor die stomp na die stem toe. Ek kry ʼn pootvol sand in die mond en proes vies aan die gevolge daarvan.
“Moet jy mens altyd so bleddie staan en bekruip?” spoeg ek vies in die sand voor my voete in. My manier van se: “Halo Angelo, lanklaas van jou gehoor. So bly jy is weer hier…”
“Ouch, ouch, ouch!” hoor ek hom kerm van agter die stomp uit, “linkervlerk…penveer…’n grote.”
Ek besef onmiddellik wat aangaan toe ek die ontsteltenis in sy stem hoor. Ek weet mos hoe werk die ding met die vloekery en al die ander insidente van rebelse ongehoorsaamheid van my kant af. Elke keer as dit gebeur verloor hy ʼn veer, tesame met ʼn kritiese, swaarverdiende vaardigheid. Nie net gooi dit hom van balans af nie, maar dit is ook ʼn bron van skande en skaamte vir hom tussen die ander engele. Om te moet herken hy faal in sy taak om my op die regte pad te hou. Meteens kry ek hom regtig jammer, want dit kan nie maklik wees met iemand soos ek nie.
Shadow kom teruggedraf van agter die stomp uit en kom staan voor my met iets in sy bek. Ek weet wat dit is sonder dat ek hoef te kyk. Ek voel dadelik spyt oor my agterlosigheid.
Die spierwit veer in sy bek blink bleekwit teen die maan en hy trap-trap na my met sy voorpoot om die ding te vat by hom. Ek haal dit versigtig by sy bek uit en stryk ontsteld oor die perlemoenwit flank daarvan met die agterkant van my hand. Dit ruik vaagweg na Jasmyn, of Mirre. Die skaf voel nog warm tussen my vingers en toe ek dit teen die maanlig ophou sien ek dat dit amper netso lank is soos my uitgestrekte voorarm. Ek weet uit ondervinding dat dit ʼn belangrike veer is. ʼn Prinsipaalveer van die punt van sy vlerk af. Ek kan net dink hoe seer dit moes wees toe ek die ding sommer so sonder denke uitgepluk het. En watse ongelooflike effek dit nou op sy vlugvermoë gaan hê. Totdat hy namens my gaan moet boete doen daarvoor en die vaardigheid weer van vooraf terug sal moet verdien. En dit alles net om my beskermengel te wees…
“Van wanneer af praat jy Engels?” vra ek kop-onderstebo in die rigting van die stomp agter my. Ek hoop hy sal hoor ek is regtig jammer oor die veer. Ek sien nie meer kans om omverskoning te vra nie, want ek dink nie eers hy glo my meer nie.
“Van wanneer af vloek jy alweer so?” antwoord hy vinnig.
Ek kan hoor hy wil so graag kwaad wees vir my oor die veer, maar hy mag nie. Engele mag nie kwaad word nie. Dit is teen die reëls. Indien hulle hulself in ʼn oomblik van swakheid daaraan skuldig maak, val hulle onmiddellik in rang, status en voorreg. Die feit dat my vloekery veroorsaak het dat hy een van sy hoof-penvere verloor het, maak die uitdaging aan hom ekstra moeilik. Ek kan letterlik hoor hoe hy op sy tong moet byt om sy irritasie te onderdruk, maar hy kan nie die teleurstelling in sy stem kamoefleer nie:
“Vir wat sit jy so hier in die reën in die middel van die nag?”
“Ek het net bietjie kom stap langs die strand,” probeer ek my antwoord so vaag as moontlik hou. Ek weet dit help ook nie om vir hom te probeer lieg nie, want hy sal onmiddellik weet, maar ek probeer nietemin ʼn bietjie aansien terugwen. “Om my kop skoon te kry.”
“In die middel van ʼn storm?”
“Ek hou van storms.”
“Fanus…”
As my uitverkose beskermengel sedert my geboorte, bykans vier dekades gelede al, ken hy my uiteraard deur en deur. Hy kan my gedagtes so akkuraat en moeiteloos lees soos die eindelose boekrolle en arkadiese kontrakte wat hy foutloos moes instudeer en integreer, voordat hulle hom op hierdie sending kon stuur. Hy weet alles van my af.
“Wat is fout?”
Ek hoor die erns in sy stem, maar ook genadiglik die omgee en ek is bly om te weet dieselfde ou Angelo is weer terug. Al is dit sans ʼn penveer in sy linkervlerk. Sy stem is weer sag en liefdevol soos altyd en ek het skielik geen verweer daarteen nie:
“Ek is moeg, Angelo. Ek sien nie meer kans om so aan te gaan nie…”
Soos altyd verstaan hy onmiddellik wat aangaan:
“Het jy gebid daaroor?”
“Nee.”
“Nou maar vir wat nie?”
“Ek wil nie meer nie. Dit help tog nie.”
Toe die warrelwind warm oor my kop dartel en voor my gesig verbywaai, weet ek dit is hy wat voor my kom staan. Ek ruik weer die sagte Jasmynreuk van sy vlerke. Shadow draai sy kop half-skeef na bo en kyk nou ook na iets in die lug voor my. Sy spierwit stertpunt swiep stadig heen en weer, terwyl hy sagte tjankgeluide maak in sy keel. Ek wens ek kon vir Angelo sien soos hy…
“Nonsens man,” hoor ek hom sê. “Het hy alweer ʼn klomp twak in jou kop ingepraat?”
Ek weet presies van wie hy praat en ek voel dadelik skuldig oor my kleingelowigheid. En my ongehoorsaamheid.
“Jy weet as jy nie bid nie, kan ek niks vir jou doen nie,” gaan hy voort “…mag ek niks doen om jou te help nie!”
“Ek weet, ek is jammer. “ breek ek my voorneme om op te hou jammer sê. Maar die idee dat ek myself alweer laat vang het in die vyand se vangstrik laat my bloos van skaamte en teleurstelling. Ek kan net dink hoe die ander engele hom moet spot oor my onbeholpenheid. Om nie eers te praat van die nimmereindigende regsargumente en pleidooie vir genade voor HOM aangaande my nie…
“Moenie jammer wees nie, bid. Nou dadelik!” val hy my gedagtes in die rede. “Ek gaan daar anderkant staan. Jy weet ek mag nie by wees wanneer jy bid nie.”
Ek voel weer die warm warrelwind voor my gesig opwaai en Shadow spring op en jaag speel-speel iets teen die duin se wal af tot so twintig meter verder vorentoe. Dan sak hy stil op sy agterpote neer en kyk stertswaaiend en stip na iets in die sand voor hom.
Ek buig my kop vooroor en bid: “Here, ek is jammer. Ek weet nie meer wat om te sê nie. Gee my net ʼn teken asseblief. Iets om te wys U weet van my…”
Die volgende oomblik spring Shadow op en hardloop blaffend en halsoorkop duin-af see se kant toe. Ek spring regop en roep hom terug, maar hy kyk nie eers om na my nie. Hy boender net blindelings voort oor die sand en by die water boogspring kop-omhoog by die branders in. Die laaste wat ek van hom sien is sy wit stert waar dit agter die donker golwe in verdwyn soos hy spring en spartel agter iets aan oppad diepsee toe.
Ek gil verbouereerd en storm agter hom aan teen die steil duin af.
“Shadow, kom terug!”
Halfpad verloor ek my balans en struikel val-val vooroor, totdat ek uiteindelik kop-eerste in die sand naby die vlakwater te lande kom. Toe ek opkyk is hy weg. Al wat ek sien deur die dowwe maanlig is die onophoudelike gebreek van die golwe met hulle witperd-skuimwalms.
“Angelo!” roep ek desperaat, maar daar is geen antwoord nie, net die aanhoudende geraas van die wind bo die water.
“Die Here weet, as my hond vanaand verdrink maak ek jou vrek!” blaf ek sonder om te dink die onmoontlike dreigement teenoor die onsigbare engel iewers in die onstuimige water voor my in. Dan weer anderkant toe : “Shadow!”
Maar daar is geen teken van hom, of die engel nie.
Ek strompel hygend op en af langs die strand en roep myself hees teen die huilende wind in. Elke nou en dan val ek oor ʼn versteekte rots, maar spring weer regop so gou as wat ek kan om verder te soek na hom. Ek voel nie eers meer die koue en die seer op my hande en knieë waar die rotse my stukkend sny nie. Al wat ek voel is die ondraaglike pyn en vrees in my hart oor my hond wat weg is.
“Here, asseblief, my hond…ek kan nie sonder hom nie!” bid ek weer desperaat. Díe keer bedoel ek dit opreg. Ek weet mens durf nie die Here dreig nie, maar ek is nou radeloos en lankreeds verby die punt van rede of sin. ʼn Verstikkende vloedgolf van woede en vrees oorweldig my en klem aan my keelgat vas. Ek skud gebelgd my vinger na die donderwolke bo my kop:
“Here, as hy nie nou dadelik terugkom na my toe nie, dan swem ek vanaand in hierdie pikswart golwe in om nooit weer uit te kom nie, verstaan U my mooi?!”
Ek snik tussen die trane deur agter die maan aan waar dit weereens agter ʼn donker wolkbank in verdwyn. Almal se Hy’s iewers daarbo, maar hoekom hoor of sien ek Hom nie? En vir wat hoor of sien Hy my nie?!
“Here, wys my tog net U wéét van my…”
Ver oorkant die hawe skiet ʼn roospienk ligbal meteens helder opwaarts en klief deur die lug soos ʼn verskietende ster. Dit hang vir ʼn oomblik amper bewegingloos teen die onderkant van die lae wolke en begin dan stadig na benede tuimel in ʼn sierlike, ligpienk boog. Die flikkerende lig hang moeiteloos in die lug en word stelselmatig al hoe groter soos die wind dit stadig al hoe nader aandryf strand se kant toe. Toe dit uiteindelik laag bo die diepste golf se deining kom hang, streep ʼn roospienk ligstreep dansend daarvan af oor die golwe tot teen die strand. Dit breek sowat vyf tree voor my saam met die branders in die sand in op en spoel glasagtig oor my verby tot agter teen die duin.
Toe ek omkyk sien ek iets anders in die liglyn op die sand le ʼn entjie voor my; die engelveer van vroeër. Ek strompel hande viervoet vorentoe om dit op te tel. Die oomblik toe ek dit optel uit die sand uit begin die lig in die hemel onseker aan-en-af flikker bo die water. Dan tuimel dit terstond na benede tot niks agter die laaste brander in en is alles weer pikswart om my.
Ek val vooroor met my gesig in die nat sand in. Ek voel die deurdrenkte veer grof en nat onder my wang en bly netso in die vlakwater lê. Ek het eenvoudig nie meer die wil om op te staan en aan te gaan nie.
Shadow trap-trap met sy voorpoot teen my skouer en blaf proesend deur sy soutnat neus. Toe ek my kop oplig tel hy die engelveer versigtig in sy bek op en sit dit weer voor neer op die sand. Dan draai hy om en draf weer haastig terug vlakwater toe. Ek sien iets le in die sand net waar die laaste brander sy breeklyn oor die sand trek. Shadow tel dit versigtig in sy bek op en kom kopskuddend daarmee aangedraf terug na my toe. Dit hang spierwit en verlep uit sy kake. Toe hy voor my kom, laat sak hy die deurdrenkte valskermpie versigtig op die sand neer langs die veer. Reg voor my gesig. Dan sak hy stadig op sy maag neer en laat sak sy kop op sy voorpote. Net toe breek die maan helder deur ʼn wolkvenster bo ons koppe en ek sien vir ʼn oomblik hoe sy okkerneutbruin-oë uiteindelik weer die opening na my gehawende, gebreekte siel vind. Hy waai sy stert stadig heen en weer.
Die volgende dag gons die storie van die wonderwerk deur die vissersdorpie se windverwaaide strate. Die vissermanne het geen idee wie die noodfakkel gisteraand oor die diepsee afgevuur het toe hulle skuit in die moeilikheid beland het nie. Dit was nie hulle nie, want al hulle noodtoerusting was sopnat en deurdrenk deur die stormsee. Daar was ook geen ander bote meer op die water nie, daarvan kon die kuswag vanoggend getuig. Maar, danksy die fakkel, kon die kuswag die manne se beskadigde boot opspoor in die diepsee net buite die hawe en hulle red van ʼn sekere waterdood laasnag.
Op die mat van my tuinwoonstel teen die hange van die berg bo die hawe, tel ek weer die klein, spierwit valskermpie op en kyk aandagtig daarna. Dit is gemaak van ragfyn sy en dien as boei vir die noodfakkel om aan te hang wanneer dit afgevuur word oor die oop see in geval van reddingsnood en lewensgevaar.
Ek bevoel dit saggies tussen my vingers en toe ek dit omdop op die mat voor my, sien ek vir die eerste keer die klein, rooi lettertjies al op die soom daarvan ingeborduur:
“Manufactured by hand by: De Angelo Emergency Rescue Equipment (PTY) Ltd. Palermo, Italy.”
En presies daarteenoor aan die ander kant:
“The Lord will hide you always in the shadow of His wings. Psalm 17:8”
Toe die trane op Shadow se blinknat neus land waar hy in die sonnetjie langs my lê en slaap, kyk hy na my met sy okkerneutbruin-oe en weet ek: hy verstaan.
© Fanus Strydom
Augustus 2023 – Musiek projek
1.Landslied: Simfonia
4074 woorde
Die mense van Simfonia was oortuig daarvan dat hulle nooit weer die hemelse klanke van hulle geliefde landslied sou hoor nie. Die onderdrukking daarvan het so vinnig en totaal onverwags gekom, dat niemand gedink het enige-een sou ooit weer die dag beleef om weer die heilige instrumente te kan bespeel nie.
Dit het gebeur kort nadat Willem Witbooi die blink klip onder by die Groot Rivier opgetel het.
Dit was ʼn helder sonblink oggend en hy het, soos gewoonlik, waterkant toe gegaan om ʼn paar visse te gaan uittrek vir die aand se pot toe die vreemde klip sy oog gevang het. Dit het ewe doodluiters tussen al die ander spoelklippe gelê en blink in die vlakwater neffens die plek waar die stroom begin rigting draai en pad vat watervalle toe. Maar iets aan die klip was anders. Dit het onmiddellik sy oog gevang en vir hom het dit kompleet gevoel asof die ding met hom praat … hom naderroep vanuit die vlak poel waarin dit gelê en knipoog het. Willem het stadig nadergestaan en dit versigtig tussen die ander, kleiner klippies uit die sanderige modder opgetel. Toe hy dit tussen sy vingers teen die son in ronddraai het dit dofblink terug bly flikker en flits na hom, asof dit lewendig was in sy hand. Hy het dit versigtig, half skrikkerig, toegewikkel in ʼn stukkie Springbokvel en vinnig by sy knapsak ingedruk. Toe het hy haastig daarmee teruggedraf kraal toe om vir die ander te gaan wys.
Hulle was nie juis beïndruk met die eiergrote, bleekwit klip in Willem se handpalm nie. Vir hulle het dit gelyk na maar net nog ʼn klip uit die rivier se binnegoed uit. Nie een van hulle het juis gehoor dat dit met hulle praat, of flikker in die sonlig, of énigiets buitengewoons doen as hulle half skepties daaroor vryf nie. Maar Willem het bly volhou dat die ding met hom gepraat het, vir hom gesê het om dit om sy nek te hang. Toe hy dit vroeg die volgende dag vasknoop met ʼn saggebreide riempie Dassieleer en dit stadig, amper eerbiedig, om sy nek laat hang, kon hy sweer hy voel die ding klop teen sy hart. Net daar het hy besluit dat dit die gees van sy oorlede vader moet wees wat uiteindelik weer teruggekom het van sy doodsreis af drie maande gelede. En dat sy pa nou in die klip om sy nek kom loop lê het. Om daar vir altyd weer naby aan sy geliefde seun se hart te wees; onafskeidbaar soos vantevore. Tot die hartseer dag toe die Groot Rivier hom onverwags ingesluk en weggevat het watervalle toe…
“Mens sal sweer julle is broers en nie pa en seun nie.” het sy moeder op ʼn keer gemurmureer toe hulle weereens na son-onder eers met die visgoed van die rivier af teruggekom het. Dit was al donker en sy moes die ander kinders lankal kooi toe stuur met net pap en wilde marog in hulle honger mae vir die nag. Willem en sy pa was altoos weer laat, maar sy ma het geweet dat kla niks sou help nie: die twee was onafskeidbaar.
“Watwo Vrou,” het sy pa net effe ongeërg teruggekap en langs hom by die vuur kom sit, “ons moes praat.”
“En oor wat nogal?” wou sy ma weet.
“Oor dinge…”
“Watse dinge?”
“Mansmens dinge.”
“Gmf…”
Willem vryf sagkens oor die klip teen sy bors en onthou weer daardie aand langs die rivier toe sy pa hom vertel het van Simfonia se lied. Van die ontstaan daarvan en die geweldige betekenis daarvan vir die stam.
“Die toordokter en die oudstes het self die handjievol manne uitgesoek vir die taak…” het sy pa begin vertel. “Hulle was baie begaafd en ʼn honderd jaar gelede al het hulle die reuse dromme en tromme uit hout uit gekerf vir die speel van die lied. Hulle het twee-twee saam gewerk…”
“Nes onstwee, Pa?”
“Nes onstwee, seun. Elke drom is geduldig aan geskaaf en gekerf tot dit perfek versier was met al die heilige tekens van die stam en die gesigte van die voorvaders. Daarna het hulle dit styf oorgetrek met vel: sebra vir die grotes en springbok vir die kleintjies.”
Sy pa het verduidelik hoe die instrumentmakers maande lank in die bos deurgebring het opsoek na nét die regte hout vir die sitare en ghoemas en allerhande ander snaarinstrumente ook. Díe het hulle dan saans om die kampvure uitgekerf uit die sagte hout met hulle vlymskerp messe en die stukke versigtig aanmekaar geplak met halfmensgom en harpuis. Wilger vir die ghoemas en mopanie vir die sitare.
“Die lied sou ons volk se simfonie van verlossing word…” het sy pa gesê met ʼn vreemde, veraf kyk in sy oë, asof hy die wreedheid van die tyd voor hom af sien speel, “ …ons vryheidslied na jare se swoeg en sweet in slawerny en onderdrukking deur die indringers van die kuslande af.”
Willem het daardie dag geleer dat soveel van die mans en jong seuns op die slagveld gesterf het tydens die bevrydingsstryd, dat dit amper die hele stam uitgewis het. Saam met amper elke bewys van hulle bestaan en hulle amper vir ewig van die aardbol afgevee is.
“Net ʼn handjievol vrouens en kinders het oorleef…”, het sy pa voortgegaan. “Hulle moes naarstigtelik te voet op vlug slaan die sandveld in.”
Hy wys met ʼn draai van sy hand na die wye sandveld in die verte agter hulle. Die wrede woestynwêreld waar geen mens of dier ʼn kans staan om te oorleef nie.
“Die paar oorblywende mans, meeste van hulle oud, of erg gewond, moes halsoorkop die bos in vlug om daar te gaan raad soek by die oudstes in die grotte en om planne te beraam vir die herstel van die stam.”
Willem het gehoor hoe die handjievol, brawe manne daar vir maande lank onder leiding van die oudstes die rituele en inisiasies deur moes gaan om die volk weer eendag bymekaar te maak en terug te bring vallei toe. Hulle swaar gewonde lywe ten spyt. In die aande het hulle in stilte om die vure gesit en werk aan die stompe hout en leë kalbasse wat hulle bymekaargemaak het, terwyl die toordokter en medisynevrouens hulle wonde gelaaf het met aftreksels van Kankerbos en tinkture van Dassiepisbos. Baie het dit nie gemaak nie, maar die paar oorblywendes het die velle van die bokke wat hulle in die veld gejag het deur die dag, versigtig in sout ingelê en gelooi totdat dit sag en werkbaar was. Saans het hulle strykgoed gemaak van saamgevlegte wilgerlatte en die sterthare van jakkalse en sebras om die ghoema-viole en sitare mee te speel. Aand na aand het hulle geleer aan die heilige woorde en akkoorde vir die lied. Die vryheidslied. Dit oor en oor geoefen totdat dit aanvaarbaar was vir die Groot Moruti in sy hemelplek daar ver tussen die sterre aan die anderkant van die Orionsgordel. Want vryheid sou weer kom. Eendag met die nuwemaan en wanneer die eerste lam weer langs sy ma sy staanplek kry op sy wankelrige, nuwe pootjies om te suip aan die melk wat lewe gee…
Toe hulle na maande uiteindelik weer uitkom een volmaan-aand met die dromme agter op hulle rûe, of bo hulle koppe vasgemaak en met die sitare en ghoemas voor hulle borste vasgebind, het die vrouens oorstelp gehuil van blydskap. Die handjievol oorblywende kinders het opgewonde rondgedans en om die manne saamgebondel om te sien en te vat aan die handgemaakte musiekinstrumente…die magiese toorgoed waarmee die mans uit die berge uit teruggekom het om die Groot Moruti mee te bekoor.
“Daardie aand is die vryheidslied vir die eerste keer gespeel…” het Willem se pa eerbiedig gesê en stadig opgekyk na die blou lug bo hulle koppe. Na die presiese plek waar die Orionsgordel daardie nag oor die rivier se Oosoewer sou kom hang; twee handlengtes anderkant die Aandster se vroegskemer vasmaakplek. “ Die landslied van Simfonia. ”
Die woorde het so sag oor sy pa se lippe geval dat Willem die heiligheid daarvan kan voel klop aan sy ontroerde hart.
“Daardie aand het die mense tot laatnag toe saam gesing, gedans en fees gevier langs hierdie einste rivier, ” het sy pa na die breë waters voor hulle gewys, “ om die afgestorwenes te herdenk en die aanbreek van ʼn nuwe begin te vier. Daarna het dit elke jaar gebeur vir ʼn honderd jaar tot vandag toe nog…en net een keer die jaar op ʼn baie spesifieke aand.”
Willem se pa het na sy seun gekyk om seker te maak hy verstaan van watter dag en tyd hy praat.
“Wanneer die oudstes vanuit hulle grotte in die klowe afkom rivier toe..?, ” het Willem sy nuwe, brose kennis aan sy pa bevestig, “… en die nuwe maan laag en vol kom hang oor die oopgestrekte veld daar anderkant? ”
Hy het met sy hand na die oopte van die ruigveld anderkant die Groot Rivier se oorkantste wal gewys.
“Ja , ” het sy pa tevrede kopgeskud, “ ʼn aand wanneer die laaste gerwe uiteindelik veilig van die land afgehaal is en in die stoortorings ingebêre is vir die winter.”
“En die eerste boklam uiteindelik sy staan kry langs sy ma se flank in die kraal…” het Willem eerbiedig bygevoeg.
“Einste, ou seun, einste. Dan was dit tyd vir die speel van die lied. Die teken dat vernuwing en vryheid weereens hopelik vir nog ʼn jaar saam met onse mense sal kom bly…”
“ Ja Pa.” het Willem die hoop beaam.
Sy pa het meteens met erns in sy oë na Willem gekyk en gesê: “Die lied mag nooit weer stilgemaak word nie, Willem. Belowe my…” Hy het hom saggies aan die skouer aangeraak en laat belowe dat hy sal sorg daarvoor.
“Ek belowe, Pa.”
Min het Willem geweet dat dit die laaste ding sou wees wat hy ooit teenoor sy pa sou sê.
Oppad terug kraal toe daardie aand het hy misgetrap toe hulle oor die dawerende rivier moes kruis en gegly op een van die gladde klippe onder hulle. Hy het in ʼn oogwink onder die stomende water in verdwyn waar dit woedend tussen die reuse klippe deur versnel oppad watervalle toe. Willem het hom een laaste maal nog gesien uitkom bo die malende watermassa en toe is hy weg…
Willem is lugtig toe hy by die besige markplein instap. Hy probeer homself skaars hou soos hy tussen die tente en stalletjies deurbeweeg. Die eenmaalse tog dorp toe het swaar op sy gemoed gelê, want die mense daar was wild en vreemd en anders as waaraan hy gewend was in die veld. Meeste van die mans op die plein het half-besope rondgeslinger, of sommer netso in die grond gelê en bak in die son in hulle eie kots. Hier en daar het ʼn paar met mekaar baklei om van die los vroumense by te kom wat wellustig voor hulle rondgeparadeer het opsoek na bevrediging en geld vir seks. Orals het hongerige, vuil kinders met snotneuse en vlieë op hulle wange gestaan en kyk na die geweld en chaos op die plein om hulle met dooie oë … oë wat lankreeds wasig geword het en dof van verwaarlosing en oorlewing op straat.
Hy druk die knapsak stywer teen sy sy vas en mik vir die volgende skadukol agter een van die stalletjies. Hulle moes hom nie raaksien nie. Vir hulle was hy ʼn onwelkome indringer. Een van die bos-rebelle wat nie wou saamwerk met die Bleekvelle en hulle bose planne nie. Maar hy moes inkom om bestanddele te kom koop vir medisyne en vuurklippe om die vure mee aan die gang te hou. Anders gaan hulle die winter ingaan sonder vuur en gaan die koors hulle oorval. Van die kleintjies het klaar begin hoes en tekens toon van die swart-koors wat aan hulle binneste begin vreet het. Hy moes eenvoudig by die medisynetent uitkom.
“Haai jy, wat soek jy hier?!” hoor hy die stem agter hom. Hy steek vas sonder om om te kyk…trek net die velhoed laer oor sy gesig en probeer maak of hy nie hoor nie.
“Ek sê, Boesman! Wat soek jy hier? Wil jy ons vrouens kom steel?”
Willem draai stadig om. Die groot Bleekvel kom stadig nader. Nog twee staan nader van agter af.
“Nee meneer, ek soek net medisyne vir die koors. En vuurklip…”
Die Bleekvel staan nou reg voor hom. Sy oë is bloedbelope en vol haat:
“En wat hang daar om jou nek…?”
Hy wys na die klip voor Willem se bors.
“Dis…dis my pa se klip,” probeer Willem die man paai, terwyl hy soek na wegkomkans agter hom, maar die ander twee staan nou reeds in ʼn sirkel om hom en kry hom hardhandig aan die skouers beet. Hy sit sy hand beskermend oor die klip en probeer dit onder sy velkaros indruk. Die Bleekvel spring vorentoe.
“Laat ek sien!”
Toe hy die klip van Willem se bors afpluk en dit teen die son uithou voor sy gesig voel Willem hoe die klop uit sy hart uitgaan … hoor hy duidelik die benoude roep van sy pa se stem teen die verblindende lig van die son op die plein om hom. Toe die knuppel hom teen die kop tref word alles meteens pikdonker en stil in sy binneste.
Twee dae later het ʼn groot groep Bleekvelle op hulle perde by die stam se blyplek langs die rivier aangejaag gekom en wild begin skiet met hulle gewere onder die mense. Die mans se pyl-en-boeë was nie bestand teen die aanvallers nie en meeste van hulle is vinnig uitgewis. Hulle lyke is sommer net daar in die son gelos om te lê en swel vir die aasvoëls om aan te kom vreet. Die vrouens het probeer vlug met die kinders, maar vergeefs. Meeste van hulle is vinnig gevang toe hulle deur die rivier probeer swem het om weg te kom.
ʼn Week later het die eerste waens daar aangekom. Vol gelaai met toerusting, houtstellasies en allerhande ander grawe, pikke en siwwe en begin grou en grawe opsoek na klippe in die rivier se loop. Meeste van die vrouens was nou weggevoer as gevangenis na die dorp toe vir seksslawe. Die kinders moes agterbly en is wreed geslaan en gedwing om slawearbeid te doen vir die myners daar langs die rivier. Hulle moes die swaar sakke sand en klipgruis aan dra na die onophoudelike gedruis van die mynmeule en klipwassery toe om die onversadigbare lus van die dreunende masjinerie te bevredig.
Die groot Bleekvel wat die klip van Willem se bors afgepluk het daardie dag op die markplein was aan stuur van sake. MacMillan was sy naam. Hy was wreed en ongenaakbaar en het die mynbedrywighede met ʼn ysterhand en ʼn rewolwer op elke heup beheer. Voor sy bors het Willem se pa se klip aan die Dassieleerriempie gehang en dofweg in die bloedson bly glinster, terwyl die krygsgevangenis onder sy voete en vloeke moes swoeg en sweet van sonop tot sononder. Opsoek na nog klippe uit die rivier se oopgekalfde walle uit.
“Diamante! Bring vir pappie nog daaimonds!” het hy elke nou en dan bo die geraas uitgegil, terwyl hy nog ʼn gehawende, uitgeputte kind met sy sweep bykom. Die heeltyd het hy hongerig gewys na en gevroetel met die groot, dowwe klip voor sy harige bors.
Weke het maande geword en die maande uiteindelik ʼn jaar.
Elke aand, wanneer dit stil word onder in die kamp en die vure koud en uitgebrand, het Willem Witbooi vanuit sy skuilplek in die rantjie uitgekruip en oor sy gebreekte volksgenote uit kom kyk van agter ʼn Boesmanskersbos op die rivier se wal. Daar het die gehuil van die kinders tot in die binneste van sy murg ingedring en het die weeklaag van die handjievol vrouens hom op sy knieë platgedruk. Hulle moes gedurig regstaan met kos en drank vir die gierige Bleekvelle. En vermaak as die heuningwyn hulle dronkgesuip by hulle tente in laat kruip, of sommer so in die oopte onder die waens laat neerslaan van onblusbare brassery.
Nag na nag het hy daar langs die Groot Rivier se wal na sy mense se gehuil geluister en planne beraam oor hoe om die Bleekvelle van kant te maak. En nie ʼn aand het verbygegaan dat hy nie gesoek het tussen die dwalende skadu’s deur na haar nie … sy Thalitha.
Die beeldskone jong meisievrou op wie hy sy hart verloor het die oomblik toe hy haar daardie dag drie jaar terug tussen die riete sien uitwandel het langs die rivier. Hy het geweet dat dit verkeerd is om so na haar te staar waar sy nakend afgekom het om te kom bad in die vlakwater, maar hy kon eenvoudig nie wegkyk nie. Sy het ʼn holte in sy hart kom oopruk wat net sy pa se klip kon toemaak tot hy haar eendag sy vrou kan maak. Tot dan, het hy homself daardie dag belowe, sal hy die klip oor die gat in sy hart bly dra.
“Jy moet wag vir haar, Willem, ” het sy pa hom eendag moed probeer inpraat, toe hy sy verlore verliefdheid teenoor hom bekla het oor die meisiekind wat sy hart kom steel het daar langs die rivier. “Sy is nog nie reg nie. Geduld en tyd is nodig. Dit moet eers ʼn man maak van jou en ʼn goeie vrou van haar. Alles op die regte tyd, ou seun. Alles op die regte tyd…”
Toe hy haar vir die derde nag by die Bleekvel MacMillan se tent sien ingaan brand die plek op sy bors waar sy pa se klip gehang het so vurig warm onder sy hand dat hy gebelgd oor die seerplek in sy hart vryf en woedend teenoor homself vra: “Wat loop soek sy daarbinne?!”
Vir die soveelste keer probeer hy die planne in sy kop uitpluis oor hoe om die Bleekvel uit die weg uit te ruim. Hy durf nie afgaan na die kamp toe nie, want hy mag nie weet hy lewe na die aanval op die markplein nie. Dit sal die ander net in onnodige gevaar stel en sy planne om die oorhand oor die wrede Bleekvelle te kry in die wiele ry. Hy sal nog moes wag op die regte tyd.
“Tyd, ou seun…” hoor hy weer sy pa se rustige stem.
Toe hy omdraai om terug te draf berg se kant toe, staan sy voor hom.
“Thalitha…,” fluister hy geskok, “…wat maak jy hier?”
“Ek kom soek na jou, Willem…”, sê sy en vat saggies aan sy hand, “…ek weet jy kom elke aand af hiernatoe. Ek het jou die eerste aand al gesien.”
Toe vertel sy vir hom hoe die gogo’s die kosvrouens die afgelope tyd stelselmatig al hoe meer skerpioengif en wilde-als by die heuningbier in laat meng om die bleekvelle mee te vergiftig.
“Dis hoekom hulle deesdae so te kere gaan onder mekaar…” sê Willem verbaas en knik sy kop om vir haar te wys hy verstaan. Die Bleekvelle het die laaste tyd al hoe meer onder mekaar begin baklei en MacMillan het sy hande vol gehad om hulle uitmekaar uit te hou. Die myngrawery het bykans tot stilstand gekom as gevolg van die oproer en muitery onder die bleekvelle.
“Wat van MacMillan?” vra Willem en kyk bekommerd na haar. “Het hy jou…?
“Nee Willem…dis hoekom ek elke aand by sy tent ingaan. Om seker te maak hy drink sy eie porsie gif. Spesiaal vir hom gemeng deur gogo Witgat…dis ons enigste hoop.”
Sy kom staan vlak teen Willem en druk haar sagte, warm lyf teen syne.
“Hoe lank nog?” wil hy weet.
“Gogo Witgat sê nog drie dae, dan is als verby…”
Toe sy haar sagte bruin oë voor syne sluit en haar lippe teen syne druk, sak hulle stadig in die lang gras langs die rivier neer en gaan hy haar teer, maar dringend binne.
Drie dae later, vroeg die môre, bars MacMillan in ʼn rasende woedebui by sy tent uit. Hy spring op een van die waens en waai verwoed met ʼn rewolwer in elke hand bo sy kop:
“Vandag maak ek julle almal vrek!”
Toe een van sy eie bleekvelbroers hom probeer kalmeer brand hy skielik los en skiet die man op die plek dood saam met twee ander wat ook nader probeer kom. “Vrek, almal van julle! Donnerse Basters!!”
Die gogo’s herken die kyk van waansin in sy oopgesperde oë en beduie versigtig vir die ander om suutjies skuiling te soek. Die uur het aangebreek.
Bleekvel MacMillan swaai sy arms wild bo sy kop en vuur die een skoot na die ander af. Nog drie van sy eie manne sterf in ʼn wriemelende hoop voor sy voete.
“En f*k julle d*nnerse Groot Maruti in die hemel daarbo! Ek soek daaimonds, nie bleddie useless klippe nie!” Hy beduie boos met een rewolwer na die wolke bo sy kop en vuur nog ʼn sarsie skote af die lug in.
Toe die weerligstraal hom tref, staan hy vir ʼn oomblik nog so met een hand bo sy kop, asof versteen in tyd. Die volgende oomblik ontplof hy in ʼn vlammende vuurbol en steier gillend tussen die oorblufte omstanders in. Dan struikel hy oor een van die houtstellasies waarop die gruis gewas word en die slaan ook onmiddellik aan die brand. Baie vinnig versprei die vuur na al die ander houtstrukture en wastrôe toe en binne oomblikke staan die hele kamp in ligte laaie. Hier en daar ontplof vate olie en skiet loeiend die lug in soos reuse fakkels vuur. ʼn Handjievol verwarde Bleekvelle steier paniekerig en halsoorkop teen die steil rivierwal op en slaan op vlug sandveld toe om nooit weer gesien te word nie.
Die brandende MacMillan het uiteindelik verkool en swart verbrand neergesak in die vlakwater van die rivier, presies op dieselfde plek waar Willem maande tevore sy klip tussen die ander opgetel het. Hy het vir ʼn oomblik daar bly lê en stoom, voordat hy stil geword het met ʼn grynswit doodslag op sy verbrande skedel en een doodsklou uitgestrek na bo. Teen die borsbeen van sy ontblote, verbrande skelet het Willem Witbooi se klip dofweg lê en blink tussen die roet en rook.
Nege maande later, op ʼn helder volmaanaand, het die manne teen die oorkantste wal van die Groot Rivier begin afstap en onder by die oewer bymekaargekom om die Landslied Simfonia te speel vir die mense. Hulle ewige vryheidslied. Toe die sterkste en frisste manne die eerste slae op die reuse dromme met die Sebraveloortreksels slaan, het ʼn paar wasige vlieswolkies weggetrek bo hulle koppe en kon die Orionsgordel duidelik gesien word in die Oosterhemel. Presies twee handlengtes anderkant die Aandster se vroegskemer vasmaakplek. Die vrouens het sagkens begin saamneurie op die maat van die hemelse sitare en die ghoemas het een vir een ingeval by die kloppende ritme van die Springboktromme. Toe het die riet-panfluite saam met ʼn paar naguiltjies begin roep teen die naglug in voor die jong seuns se lippe. Hier en daar het groepies meisies in rietrompies en met krale om hulle enkels kaalvoet in die sand begin dans en tiekiedraai op die maat van die magiese musiek.
“Jou seun, Willem…” sê die toordokter teenoor Willem Witbooi en sy skone bruid Thalitha en oorhandig die klein bondeltjie lewe aan hulle.
Toe Willem vooroor buig om die seuntjie op sy voorkop te soen, swaai sy pa se klip soos ʼn pendulum om sy nek en kom tot stilstand reg bo die kind se kloppende hartjie. Vir ʼn oomblik hang dit doodstil daar en voel dit of tyd vir ewig stil loop staan daar op die wal langs die Groot Rivier.
Toe die musiek van die vredessimfonie ʼn crescendo bereik en die hemelse klanke oor die stil, donker waters weggly watervalle toe, verskiet ʼn ster vêr bo hulle koppe en peil in ʼn sierlike boog tot vêr anderkant verby die Orionsgordel.
“Simfonia, land van vrede, land van vreugde!” sing die mense saam in ʼn luide koor en klap hande oor die nuwe, eersgebore lam in sy pa se arms.
Vir ʼn oomblik sien iedereen, sonder uitsondering, hoe die klip bo die kind se hartjie stil bly hang en stadig begin flikker in ʼn blou-blink flikkering. Sien hulle duidelik die blou en geel polse klop-klop, voordat dit, netso vinnig weer, verdof dit tot niks.
Dan hoor die mense van Simfonia net die stil gedruis van die donker, swart rivier langs hulle en die laaste note van hul ewige vryheidlied.
Hulle Landslied Simfonia.
©Fanus Strydom
September 2023 – OOP projek
1.Blouklip se boodskap
2968 woorde
Vandag, presies agtien jaar gelede, het Lukas Witbooi se pa Willem die bloublink klip oor sy pasgebore seun se hart laat hang. Almal het daardie dag hier op die einste wal van die Groot Rivier gesien hoe die klip vir ʼn oomblik stil bo die kind se hartjie bly hang het, voordat dit stadig begin aan-en-af flikker en klop het in reëlmaat met die kind se eie hartklop. Vir ʼn oomblik was die mense stomgeslaan deur die feit dat Willem toe tóg die waarheid moes gepraat het oor die klip se andersoortige toorkrag, veral toe hulle die magiese kleurespel daarvan oor die stil, donker water met hulle eie oë gesien dans het daardie maanligaand.
Nou lê Lukas uitgestrek op die naat van sy rug en bak in die son op die einste, plat klipbank waar hy ingesweer is die aand. Hy luister ingedagte na die rustige gekabbel van die kalm water om hom. Hy het vroegdag al sy ganse lyf ingesmeer met bokvet vir die gemoedelike oggendson om die mahoniebruin grein van sy jonkmansvel dieper in sy donker blinklyf in te bak. Op sy borsbeen, presies bokant sy hart, voel hy die blinkblou klip raak stelselmatig warmer in die son se welkome helderheid. Toe hy saggies daaroor vryf kan hy sweer hy voel sy hart mis ʼn klopslag of twee, asof die klip direk met sy hart praat. Hy snak liggies na sy asem. Sy pa het hom van vroegkind af al geleer van die klip se onverstaanbare krag en hy het stelselmatig begin gewoond raak daaraan. Maar die klip se andersoortige geklop teen sy bors het nogsteeds vir hom vreemd gevoel en elke keer ʼn rilling teen sy ruggraat afgestuur.
Eendag en op die regte tyd, het sy pa gesê, sal hy weldra tog die klip se taal verstaan en sal hy weet wat om daarmee te doen. Tot dan moes hy net geduldig wag en solank alles leer wat hy kan van die natuur en die diere hier langs die Groot Rivier.
Iewers stroom-af roep ʼn visarendmannetjie na sy maat en Lukas vergeet vir ʼn oomblik van die klip om sy nek. Met sy oë op skrefies getrek begin hy instinktiewelik soek na die ander voël iewers in die helder blou hemel bo sy kop. Voordat die voël vir ʼn tweede keer roep onder langs die rivier spoor hy die bekende swart-en-witgevlerkte spikkel op vêr in die lug bo hom. Hy fokus sy blik intens daarop en volg die ylingse spikkel-voël op haar moeitelose sweefvlug al met die lugstroom langs. Al hoe laer en laer in langsame sirkels, totdat hy haar spierwit kop duidelik kan sien waar sy dit agteroor gooi oor haar rug, in antwoord op haar maat se roep hier onder langs die rivier. Sekondes later arriveer die bekende antwoordroep dan hoorbaar by Lukas en weet hy die jag gaan enige oomblik begin. Hy kyk stroom-af en sien net betyds hoe die mannetjie ook geruisloos opstyg vanuit sy boomstomp-uitkykpunt langs die rivier af om sy eie opwaartse spiraal te begin. Iewers in die spieëlgladde waters voor hom weet Lukas dryf daar ʼn vetgevoerde geelbek, reeds hulpeloos gehipnotiseerd deur die onweerstaanbare spiraalvlug van die twee visarende, al hoe nader na die water se oppervlak. Nou is dit net ʼn kwessie van tyd voordat, op presies die regte oomblik, die hulpelose vis sy blinklyf bo die water uit sal steek en die arendwyfie hom moeiteloos uit sy watergraf op sal raap. Lukas vestig solank sy blik op presies die plek waar hy weet die vangslag uit gaan speel. Hy het die ritueel al soveel male dopgehou hier langs die rivier, dat hy sonder moeite weet waar die wyfie se uitgestrekte kloue die water in ʼn oogwink oop gaan klief om die vis op te raap, maar tog bly hy steeds verwonderd oor die bekoorlike spiraaldans van die arendpaar. Iets moes hulle egter die skrik op die lyf gejaag het, want meteens laat vaar hulle hulle gesamentlike jagdans en kies vlerkswiepend koers rivier-af. Watervalle se kant toe. Lukas lê terug en sluit sy oë teen die helder sonlig. Kort voor lank oorval ʼn diep slaap hom en droom hy die vreemdste droom…
Hy sweef meteens moeiteloos oor die water saam met die twee arende. Tussen hulle en so naby hy kan amper aan hulle vat as hy wil. Hy kan sien hoe die wind die klein, wit veertjies bo hulle groot, geel bekke heen-en-weer piets en as hulle hulle koppe draai, dan sien hy wat hulle sien. Saam peil hulle vinnig stroom-af oppad na die stomende watervalle toe. Dan kom iets van vooraf oor die water aangesweef na hulle toe. Stroom-op van die watervalle se kant af en teen die wind in. Geruisloos en helder-blink, maar polsend vinnig soos ʼn flikkerende ligbal oor die staalblou water. Die ligbal peil reg op hulle af. Die twee arende kyk na hom waar hy tussen hulle sweef en knipoog gelyktydig vir hom met twee geel, songevlekte oë. Hy kan sweer hulle glimlag vir hom, asof hulle vir hom iets wil sê, maar hy kan nie hoor wat nie. Toe die polsende lig ʼn paar meter voor hom oor die water tot stilstand kom, deins die twee arende meteens swiepend aan weerskante daarvan verby en verdwyn buite sig stroom-af. Skielik hang hy alleen, asof versteen in tyd, voor die polsende ligbal. Teen sy bors begin die blouwit klip nou warm klop en flikker in pas met die polsende ligbal bo die water. Sy hart begin wild en onreëlmatig klop in sy bors. Hy probeer wegkom van die polsende lig af, maar die ding trek hom in. Hy het geen verweer, óf wilskrag, om daarvan af weg te kom nie en voel hoe die polsende lig hom totaal omgewe en verblind met glimmende, glinsterende reënboogkleure…
Die volgende oomblik stap hy op ʼn vreemde strand met ragfyn sand soos fyngemaalde meel en ʼn koelblou, kalm see langs hom. ʼn Heerlike koel seebries waai liggies van die see se kant af en streel sagkens oor sy sonbruin vel. ʼn Onverstaanbare begeerte om te gaan swem oorweldig hom en hy stap blindelings in die heerlike, asuurblou water in. Dieper en dieper die see in totdat die water uiteindelik bo sy kop toemaak en die son spieëlagtig bo die wateroppervlak begin dans en vervaag. Sonder om te bekommer oor asemhaal of suurstofnood stap hy al met die seebodem langs. Verby reuse seewierwoude en ontelbare skole blinklyf visse van alle soorte. Die heeltyd voel hy die blouklip pols teen sy hart en volg hy die rigting wat dit vir hom aandui. Aan die agterkant van ʼn reuse rotsgestalte vind hy hom meteens in die middel van ʼn perfekte sirkel-opening diep op die seebodem. Verweerde rotsformasies van ʼn lank-vergete, antieke stad omsirkel die onderwater amfiteater en troon meters, nee kilometers bo sy kop uit, toe hy tot in die middel van die sirkel stap. Teen sy bors klop die klip meteens wild en gloei polsend rooi. Hy stop en kyk op. Vêr bo hom verdonker die verwaterde sonlig stadig maar seker soos wat een of ander reuse dier, of vis afgeswem kom na hom toe. Gevolg deur nog een en nog een. Kort voor lank sirkel tien reuse walvisse stadig om hom en so naby dat hy die pupille van hulle hartseer pieringoë duidelik kan sien. Saam met die walvisse kom honderde dolfyne. Hulle speel en duikel hipnotiserend in-en-uit tussen die rots-ruïnes deur en dans los en vas in groepe van vyf, dan tien, dan twee en dan weer vyf. Al hoe nader in ʼn malende sirkel om Lukas totdat die spiraal-maalstroom hom om-en-om laat tol in die sand. Meteens word alles doodstil en die onderwater sandwolk sak stadig op die seevloer om sy enkels neer. Vanuit die dowwe ligkol vêr bo sy kop daal ʼn donker skaduwee stadig van bo af neer en kom staan reg voor hom. Die half-mens/ half-vis wese het groot, groen oë en ʼn wye visagtige mond. Dit staan vir ʼn oomblik roerloos voor Lukas en tuur intens na die blou klip om sy nek. Lukas voel die reaksie in die klip en toe hy afkyk daarna sien hy hoe dit verander na dieselfde smaraggroen kleur as die oë van die vreemde wese voor hom. Hy wil sy hande oor sy blouklip toevou om dit te beskerm, maar sy arms hang lam langs sy sye af en hy staan onbeweeglik en hulpeloos voor die vreemde vis-mens. Tog, besef hy in sy droom, is hy gladnie bang nie. Eerder onkeerbaar nuuskierig. Dan, sonder om ʼn geluid te maak, kommunikeer die wese telepaties met Lukas en dra aan hom die afgryslikste boodskap oor…
Op die wal van die Groot Rivier skrik Lukas wakker vanuit sy nagmerrie-slaap. Papnat gesweet en met die dors wat hortend brand in sy keel, probeer hy regop kom, maar die kloppende pyn in sy kop druk hom teen die klipbank terug. Hy bly vir ʼn oomblik so lê met sy hande oor sy brandende gesig, want waar daar netnou nog ʼn heerlike oggendsonnetjie oor hom uitgehang het, brand daar nou ʼn kokende bal vuur in die bedompige lug bo hom en verblind hom onmiddellik toe hy daarteen inkyk. Hy vryf die trane en die tydelike blindheid uit sy oë uit en kyk weer versigtig van agter gebakte hande teen die geelwit hemel in bo hom, opsoek na die visarende van vroeër. Sy oog vang ʼn pikswart spikkel tussen die glinsterende hittedeinings en hy sug verlig, dankbaar dat die visarende nog daar is.
“Dan het ek nie so lank geslaap nie.” prewel hy droëmond en kom stadig orent tot ʼn sitposisie. Maar sy oog vang ʼn tweede spikkel hoog in die lug bo hom … dan nog een en nóg een.
“Aasvoëls…?” sê-vra hy verbaas terwyl hy die al-hoe-groterwordende sirkel stadig sien afspiraal ondertoe. Eers dan tref die oorweldigende stank hom. En die doodse stilte. Behalwe vir die vlymskerp geskril van die sonbesies…
“Die rivier!”
Lukas steier verskrik orent en strompel oor die vuurwarm klippe na die rivier toe. Of eerder na waar die rivier veronderstel is om te wees. Waar die water ʼn uur gelede nog blink-blou en wyd tussen die groengebosde walle deurgegly het, is daar nou net ʼn karige stroompie vol slikgroen slym en modderige skuim hier en daar te siene tussen die witgekalkte, ontblote rotse. So ver as wat hy kan sien lê duisende verrottende viskarkasse in die kokende son op die hardgebakte, gekraakte modderbodem waar die rivier vroeër was. Met een hand voor sy mond en neus om die wolke vlieë en muggies weg te keer, strompel hy verskrik tussen die stinkende poele deur opsoek na lewe en rede vir die slagting.
“Waar’s die water heen…?” vra hy geskok en kyk verbaas stroom-op se kant toe (of wat netnou nog stroom-op was!), berg se rigting en na die ruie reënwoudklowe.
Toe Lukas die swartgebrande hange van Platberg in die verte gewaar en die vuilgrys rookwolke oor die reënwoud uit sien borrel begin sy bene outomaties met hom hardloop in die rigting van die vuur. En na die kraal met sy mense aan die voet van die brandende berg…
“Pa, Ma!”
Hy klap en stoei teen die uitgebrande bosse en takke in sy pad en elke hier en daar lê ʼn verkoolde dierkarkas tussen die swartgebrande klippe. ʼn Skilpad, ’n Rietbokkleintjie met oopgesperde oë…
Dan doem die donker klipwal meteens duiselingwekkend en onheilspellend hoog voor hom op, asof vanuit nêrens.
“Wat de…?”
Lukas versteen in sy spore en stap versigtig nader aan die growwe klipmuur in die rivierbedding voor hom. Toe hy daaraan vat voel die grofgekapte klippe koud en klam onder sy bewende vingers. Hy vind haastig vastrapplek teen die growwe klipwand en klouter halsoorkop teen die klipwal uit tot bo. Toe hy uiteindelik oor die rant van die wal uitrys val hy amper agteroor van skok. Voor hom uitgestrek lê die enorme dam onheilspellend stil en bleekwit in die rokerige lig. Die hele vallei is onder water en van die kraal en sy mense is daar geen teken meer nie.
“Lukas?!”
Die skielike stem agter hom laat hom byna sy balans verloor en hy tuimel amper vooroor die vreemde, stil water in.
“Koos..?”
Koos Patat is sy beste vriend en lewenslange jagmakker, maar die Koos wat nou hier voor hom onder die wal op die uitgebrande grond staan, is nie sy Koos nie. Hy is brandmaer en vooroor gebuig. Sy oë peul half by sy skedel uit en die verwilderde kyk in hulle maak vir Lukas bang.
“Wat gaan aan met jou?” vra Lukas en wys terselfdertyd na die stil, grys watermassa agter hom oor die wal. “Waar’s die rivier…en die stat?!”
“Waar was jy, Lukas?”
Koos Patat kyk met vêr-af oë op na Lukas en waai nie eers die vlieë weg wat om sy gebarsde lippe saamkoek nie.
“Ek het aan die slaap geraak…”
Lukas wys na die plat klip in die droë sandbedding waar die rivier netnou nog sterk geloop het langs hom toe hy op sy rug gaan lê het.
“Lukas,” val Koos hom stadig in die rede “jy was weg vir twee jaar…het net spoorloos verdwyn. Al wat ons gekry het was jou knapsak daar op die klip langs die rivier waar jy dit gelos het.”
Lukas sien sy gehawende Springbokvelknapsak oor Koos Patat se maer skouerknop hang en hy klouter haastig teen die klipmuur af en kom staan in die warm sand voor Koos. Hy pluk die knapsak van sy benerige skouers af.
“Jy’s bleddie mal, man. Ek het aan die slaap geraak…gedroom. Dis al!”
Koos Patat bly net kyk na Lukas met geelwit uitpeuloë.
“Waar’s my pa en ma? En die mense…?!” Lukas wys verskrik met ʼn onseker hand na die afgebrande veld om hulle.
“Hulle is dood, Lukas…almal dood.”
Koos Patat kry ʼn hartseer kyk in sy uitpeuloë en wys na die aasvoëls wat ver bo hulle koppe in die blinkwit lug rondsirkel.
Lukas stamp vir Koos hard teen sy benerige bors. “Wat bedoel jy dood?!”
Koos steier sonder weerstand op onseker bene en val stadig agteroor. Toe hy op sy sitvlak in die warm sand te lande kom, begin hy vir Lukas vertel van die dag toe hy sy knapsak daar langs die rivier sien lê het…
Hy vertel vir Lukas hoe die Bleekvelle kort daarna met waens en osse volgelaai met swaar masjinerie en toerusting in die vallei opgedaag het. Hoe hulle die klipkranse langs die rivier met vreemde, vuurkerse oop laat bars het met oorverdowende geraas.
“ Soos donderweer en bliksemstrale,” sê Koos en wys met ʼn benerige arm bo sy kop.
Hy vertel hoe die mense van die stat oorval deur vrees op vlug geslaan het die bosse in. Meeste van die mans en seuns is gou ingehaal deur die Bleekvelle en op die plek gevange geneem en in rye met rieme agter die perde vasgemaak. Hulle is op ʼn drafstap teruggedwing vallei toe agter die perderuiters aan met skietende gewere en swepe wat oor hulle kaal rûe bly klap het, terwyl die verskrikte vrouens en kinders agter hulle die bosse ingevlug het. Vir twee, langs jare het hulle soos slawe gewerk om die dam se wal te bou.
“Vir besproeiing…”.
Koos Patat en staar net stil voor hom uit na waar die rivier eens op ʼn tyd voor hulle verby gestroom het.
“Be-wat?!” wil Lukas ontsteld weet.
“Besproeiing,” sê Koos weer die vreemde woord en skud sy kop stadig heen en weer, terwyl hy wys in die rigting van die damwal agter hulle. “Die Bleekvelle het die bosse begin afbrand en die grond begin omploeg met hulle osse en vreemde trekmasjiene. Toe het hulle leivore en keerwalle begin uitlê vir die slawe om uit te kap tussen die kliprante deur. Om die water mee uit te keer uit die dam uit. Glo om druiwestokke te plant vir die Hollanders in die Kaap…”
Koos praat nou omsamehangend, asof hy nie eers meer bewus is van Lukas voor hom nie.
“Hoe is Pa dood?” val Lukas hom in die rede.
“Hy het hom dood gewerk. Die swaar sakke vol klippe het net te veel geword vir hom. Hy het net eendag neergeval onder die gewig.”
Koos wys met ʼn bewerige hand in die rigting van die rantjie. “Sy kruis staan daar anderkant tussen die Kokerbome…”
“En Ma…?” wil Lukas saggies weet, te bang om regtig te weet wat met haar gebeur het.
“Sy’t haar dood getreur, ” antwoord Koos stadig. “…Oor jou wat so spoorloos en sonder woord loop staan en verdwyn het.”
Lukas steier terug met sy hand voor sy verskrikte mond.
Toe het hy daardie dag uit die warm sand uit opgespring en al gillend weggevlug van Koos Patat en sy uitpeuloë af. En van sy uitgemoorde en gestorwe mense af. Hy het al vallende langs die droë rivierloop afgestrompel watervalle se kant toe. Na die plek waar hy die blouwit lig sien roep het na hom daardie oggend nog …
Niemand het hom ooit weer lewendig gesien nie, maar party sweer hulle sien hom party aande, altyd met volmaan, op-en-af loop op die dam se wal terwyl hy oor die stil water voor hom uitkyk, asof hy soek na iets of iemand.
Dan hoor hulle hom roep na ʼn vreemde “visman” of iets en iets prewel van ʼn blouwit lig wat hom ingesluk en weggevat het watervalle toe… see toe. En hoor hulle hom kla van sy vreemde nagmerriedroom daar langs die plek waar die rivier nog vanoggend geloop het.
En, so sweer die mense, terwyl hy so op-en-af loop op die wal, pols die einste bloublink klip aan ʼn dassieleerriempie nogsteeds om sy nek in die helder maanlig en flikker saam met die bang geklop van hulle eie ontstelde harte waar hulle hom van agter die bosse uit dophou…
© Fanus Strydom
Oktober 2023 – KORT projek
1.Heilige sakrament
850 woorde
Pa smyt vies die koerant voor sy voete neer. Hy skop verontwaardig na die voorblad met sy verband-toegedraaide voet. Die gebreekte groottoon klop weer erg aan sy gewonde ego en swaar gemoed.
“Dis als jou skuld,” sê hy vies in my rigting en soek opnuut na rede om my te blameer vir die ergste, onlangse verleentheid van sy lewe. “Kyk nou hoe pryk die verdomde goed op die voorblad vir almal om te sien. Wat gaan die mense van ons sê?”
“Wat bedoel Pa?”
Ek probeer onkundig klink, maar ek weet hy praat van die boeppensbottel soetwyn en halwe witbrood in die voorgrond van die foto op die Beeld se voorblad.
“GESIN SE VAKANSIE EINDIG IN LIGTE LAAIE!” basuin die opskrif die tragiese nuus uit van ons wreed-kortgeknipte vakansie. In die agtergrond smelt die skelet van ons uitgebrande karavaan saam tussen die doringbome weg teen die sakkende Laeveldson in en voltooi die dramatiese effek van die vollengte, hartseer berig daarnaas.
“Los nou die kind,” kom Ma vir die soveelste keer op vir my. Sy vou versigtig die koerant weer bymekaar en stap daarmee kombuis toe. Sy gaan dit saam met die ander oorblygoed stoor in die boks bo in die kas vir ʼn aandenking. Dis mos nie aldag dat mens die voorblad van die koerant haal nie. “Dit was nie sy skuld nie,” sê sy teenoor Pa toe sy terugkom.
“Ek weet, maar verdomp…”
Pa grom vererg en vryf vies oor sy kloppende groottoon . “Al wat mens sien is die bottel wyn en halwe witbrood in die voorgrond! Wat gaan die mense sê?”
“Wat gaan die mense sê?” beproef Ma sy kloppende groottoon-geduld.
“Hulle gaan sê ons is verdomde suiplappe en gʼn wonder dat ons karavaan aan die brand geslaan het nie!”
“Ag nonsens man,” knip Ma Pa se pyn-betoog kort. “En laat hulle sê wat hulle wil. Hulle kan vir Dominee en Mevrou loop vra wat gebeur het. Hulle was mos saam met ons op vakansie.”
Pa proes net. Nou nog meer ontsteld by die gedagte dat ons tragedie dalk die oorsaak kan wees van twyfel op Dominee en Mevrou se vlekkelose reputasie ook nog.
Al wat ek gedoen het was om maar net sy opdrag uit te voer na die beste van my vermoë die oomblik toe die ondenklike tragedie ons tref. Hy het drie weke gelede met die reuse bottel soetwyn by die huis aangekom en my aangestel as die amptelike bewaker van ons nagmaalwyn vir die vakansie. Pa het ons deeglik geskool in die duiwelse euwels van drank en diesulke dinge, maar die bottel soetwyn sou saamgaan as eregas op vakansie vir nagmaal elke Sondag tydens middagete. En Dominee het blykbaar gehou van ʼn glasie wyn saam met sy ete, so ek moes seker maak die bottel bly veilig en te alle tye buite gevaar. Pa wou nie hê Dominee moes dink hy gaan onverantwoordelik om met alkohol en ander dergelike euwels nie.
Daarom was die bottel die eerste ding wat ek gegryp het die oomblik toe die vuur ons karavaan so onverwags van die sytent se kant af verras het. Dit en die halwe witbrood. Ma het dit spesiaal gebak in die groot swart pot op die vuur die vorige dag en dit was gans te lekker om te los vir die vuur om te verteer. So, toe die vlamme begin lek aan die tent se flap het ek instinktief gegryp na die bottel en die brood en inderhaas daarmee op vlug geslaan buitentoe. Die ander het verskrik begin vat en los na klere en ander goed om te probeer red, maar ek was seker van my missie met die brood en die wyn. In die halsoorkop verwarring het Pa sy toon des moers geskop teen die driebeen pot vol pap en al swetsende verby Mevrou Dominee na buite gestrompel waar sy hand voor die mond en stom van vrees gestaan en smeek het vir redding en genade teen die dreigende vlammehel.
Teen die tyd dat die vuur sy brand gebrand het, het net die raam van ons karavaan bly staan en smeul soos ʼn reuse, uitgebrande voëlkou teen die skemerson. Hier en daar het bondels beddegoed, klere en ʼn paar ander haastig bymekaargeskraapte karavaanvakansiegoed verstrooi gelê oor die swartgebrande stukkie veldgras wat oomblikke tevore nog ons heerlike uitspanplek was. ʼn Klein skare geskokte mede-vakansiegangers het kopskuddend in plakkies en swemklere gestaan en kyk na die slagveld voor hulle. Party het ingedagte bly lek aan hulle draairoomyse en hulleself opsluit herinner daaraan om hulle eie gasbottels na te gaan die oomblik as hulle terugkom by hulle onderskeie uitkampplekke vir die aand.
Die rede vir die brand is nooit uitgeklaar nie en daar was verskeie, wilde spekulasies en vingerwysings in alle rigtings. Maar die BEELD-verslaggewer was toevallig ook op vakansie by dieselfde oord en die storie het die volgende dag die voorblad gehaal.
Pa se toon het na omtrent ses weke van hel en erge pyn weer stelselmatig begin beter word saam met sy ontstelde gemoed.
Die foto pryk steeds in Ma se foto-album.
©Fanus Strydom
November 2023 – OOP projek
1.Die laaste wals
1236 woorde
Anna Conradie sit vasgepen in ʼn hoërugstoel iewers langs ʼn tafel in ʼn groot vertrek. Sy is vaagweg bewus van sagte musiek iewers in die agtergrond en die dowwe flikkering van kerse hier en daar. Sy hoor mense om haar, maar meeste bly dofweg verskuil in die grysgrou skadu’s van die halfdonker vertrek.
By ʼn helder beligte tafel oorkant haar kan sy vaagweg die silhoeët van ʼn man in ʼn swart pak klere uitmaak en iemand in ʼn wasige wit rok langs hom. ‘n Vrou.
“Wie is hy?” dink sy verbouereerd. “En sy…wie is sy?”
Sy strem haar oë om te probeer sien wie die persoon is, maar die wasige dowwigheid om haar maak dit moeilik en gou begin die ou-bekende pyn weer klop in haar slape. Sy laat sak haar kop maar weer vooroor op haar bors en voel ʼn druppel spoeg by haar een mondhoek uitloop. Sy probeer haar hand oplig om dit af te vee, maar haar arms bly net bewegingloos langs haar sye hang.
Paniek pak haar beet en sy haal begin hortend asem haal. Sy strem haar in om die man oorkant haar onder oë te hou, want hy bly die heeltyd kyk na haar en dit maak haar erg ongemaklik. As sy tog net kon opstaan om die kamer te verlaat, maar sy bly net sit asof versteen. Haar bene en arms wil eenvoudig nie saamwerk nie. Dis asof die man haar hipnotiseer met sy heeltydse gekyk na haar. Sy probeer iets sê, maar die woorde droog onhoorbaar weg iewers diep onder in haar brandende keel.
“Mpfhh…” probeer sy die aandag trek van die persoon langs haar, maar die musiek doof haar pleidooie uit.
Sy probeer haar kop draai om hulp te kry van iewers af, maar selfs dit is onmoontlik vir haar. Niemand hoor haar nie.
“Waar is ek?! Wat gaan aan?!” dink sy vreesbevange en rol haar oë desperaat in haar kop.
Maar niemand reageer nie. Dis asof hulle haar nie eers raaksien nie. Net die man wat nou weer bly staar na haar.
Dan staan hy stadig op en kom doelgerig aangestap in haar rigting.
“Here, help my!” prewel sy saggies en knip haar oë verbete in die hoop om wakker te word vanuit die nagmerrie.
Maar dis te laat, want hy staan reeds reg voor haar.
“Sien julle hom dan nie?!” roep sy stomstil om hulp en skud haar kop stadig heen en weer.
Die man steek twee, groot hande na haar toe uit. Hy is groot gebou en fris en sy besef dat sy geen verweer het teen sy portuur nie. Toe hy sy arms aan weerskante onder haar armholtes indruk en haar stewig om die lyf vasvat, probeer sy een laaste maal desperaat om hulp roep, maar niemand hoor haar nie. Niemand kom haar tot hulp nie. Inteendeel, hulle bly net stilweg toekyk soos gewillige medepligtiges. Party neem selfs die gebeure op hulle selfone op en al wat sy sien is die liggies van die fone oral om haar. Agter die fone is die anonieme gesigte donker en onherkenbaar.
Sonder moeite trek hy haar vanuit haar stoel uit op en hou haar vir ʼn oomblik in sy uitgestrekte arms soos ʼn lam ter slagting. Dan trek hy haar styf teen hom vas en druk haar kop neer op sy groot, breë skouer. Sy hang in sy arms met haar voete ʼn entjie bo die grond. Hulpeloos soos ʼn lappop en totaal onbevoeg om iets te doen. Sy sluit haar oë by die besef van haar magteloosheid en laat die man toe om met haar te maak wat hy wil.
Om haar begin die mense stadig handeklap. Hier en daar dink sy selfs sy hoor iemand saggies snik, asof hulle huil. Hoekom doen hulle dan niks om haar te help nie?!
“Ag, Here help my asseblief!” prewel sy teen die man se skouer vas, maar die klank verdwyn saam met haar eie vreesbevange trane in sy baadjiepak in.
Hy begin stadig met haar oor die vloer ronddans en draai haar eers díe kant toe dan daai kant toe, asof hy haar vertoon aan sy medepligtiges. Die gedraaiery maak haar dronk en sy wil opgooi, maar selfs dit is vir haar onmoontlik. Uitgeput en hulpeloos sak sy dan maar teen sy borskas vas en laat hom toe om sy gang te gaan met haar.
Oomblikke tevore het Chris Conradie en sy nuwe bruid by die onthaalsaal ingestap. Die eerste persoon waarna hy gesoek het was sy ma, Anna.
Hulle het haar rystoel staangemaak langs die bruidstafel en haar so gemaklik as moontlik probeer maak. Niemand het gedink dat sy die bruilof sou kon bywoon nie, maar sy het vasgebyt soos die ystervrou en ma wat sy altyd was.
Die motorneuronsiekte het haar laasjaar so onverwags beetgekry en in ʼn japtrap was sy totaal uitgemergel en onherkenbaar vasgekeer in haar eie, pynlike alleenwereld. Daar was niks wat enige-iemand meer vir haar kon doen nie. Somtyds het sy hulle nog herken, maar meeste van die tyd het sy eenvoudig weggesmelt in haar eie, verlore verlatenheid in. Die laaste keer wat sy hom herken het, was toe hy en Marietjie vir haar gaan sê het dat hulle wil trou. Sy was so bly en vir ʼn oomblik het die opgewondeheid helder in haar oë gestraal.
“Belowe my jy sal met my dans daardie aand…” het sy vir hom gesê.
“Ek belowe, Ma.” het hy geantwoord.
Nou hang die uitgemergelde vrou wat eens op ʼn tyd sy ma was amper leweloos in sy arms waar hy stadig met haar oor die dansvloer rondbeweeg. Soos ʼn lappop.
“Mamma, ek is lief vir Ma…” fluister hy saggies teen haar agterkop vas en druk sy gesig in haar vaal, ylerige haartjies in om sy trane weg te steek.
Vir ʼn oomblik dink hy hy voel haar reageer, dink hy hy hoor haar iets terug sê, maar dan verslap sy weer in sy stewige arms. Hy tel haar saggies effens hoër op om seker te maak haar kaal voete sleep nie oor die grond nie. Om hulle klap die mense saggies hande en huil onbeskaamd oor die tere toneel voor hulle.
Oor die luidsprekers sing Jim Reeves die woorde van “The Last Waltz”.
Dit was Anna se gunsteling, veral toe haar man Gert nog geleef het en hulle sommer so op die ingewing van die oomblik om die kombuistafel daarop gedans het. Vir ʼn oomblik dink sy sy hoor die woorde en melodie van ʼn oubekende lied, maar dan vervaag die klank weer vinnig in die niet in. Vir ʼn oomblik dink sy sy hoor die stem van haar geliefde seun Chris wat vir haar sê hy’s lief vir haar, maar dan hang sy maar net weer in die arms van die vreemde man. Onbeholpe en verlate. Soos ʼn lappop.
Tien dae later, op Anna Conradie se begrafnisdiens, het hulle haar kis ingedra op die maat van “The Last Waltz”.
Op die groot skerm bokant die preekstoel het die video gespeel van Chris en sy ma se laaste wals op sy en Marietjie se troue ʼn week vantevore. Die keer was die vertrek helder belig en die gesigte van al die ou-bekendes duidelik sigbaar en ontsteld oor die roerende toneel.
Net Anna het slapend stil en beeldskoon wit bly wieg in haar kis op die maat van die laaste wals die ewigheid in.
©Fanus Strydom
3.Skietstilstand
873 woorde
“Mamma, wat raas so daarbuite?”
Jasmina kyk met swaar oë na die versplinterde vensterraam bo haar kop. Sy is te moeg om op te staan. Te bang om na buite te kyk.
“Dit is vuurwerke, Yussuf,” antwoord sy en streel oor haar seuntjie se swartgekoekte koppie. Die kind is te klein om deur sulke dinge te moet gaan, dink sy hartseer. Maar ook gelukkig, want hy glo genadiglik dat alles net ʼn speletjie is.
“Skiet hulle klappers?” wil hy weet en trek aan haar mou om haar aandag van die venster af te kry.
“Ja, my seun. Hulle skiet klappers…en vuurpyle.”
“Sjoe, dit klink na groot klappers. Is hulle nie bang vir sulke groot klappers nie? Pappa sê mens moet versigtig wees met sulke groot goed, hulle kan mens baie seer maak.”
“Pappa is reg, my kind.”
Jasmina staan swaar op en stap teësinnig na die venster toe. Sy loer versigtig by die gebarsde glasraam uit. Buite dreun die aarde soos die bomme onophoudelik val. In die kombuis ratel die paar oorblywende borde en koppies op die rak. Sy wil nie meer sien nie, maar sy dwing haarself om te kyk. Sy moet, want hy is iewers daarbuite. Iewers tussen die puin en smeulende geboue. Twee dae lank al.
“Waar bly jy, Mohammed?” dink sy bekommerd by haarself en soek tussen die puin en rommel deur.
“Waar’s Pappa, Mamma?” wil Yussuf weet, asof hy haar gedagtes lees.
Sy skrik en draai stadig van die rookgevulde venster weg.
“Pappa is daar onder in die stad…” wys sy na die straat ver onder hulle woonstelgebou.
Toe die seun opspring om te kom kyk keer sy hom voor en druk hom versigtig terug op die bank teen die muur. Hy moet nie sien hoe dit daarbuite lyk nie.
Sy kyk bekommerd na die puin en rommel onder in die straat. Oral hardloop mense verskrik rond en skree benoud na hulp. Hier en daar grou ʼn paar manne naarstigtelik met hulle hande in verwronge hope beton en staal opsoek na oorlewendes. Die paar oorblywende ambulanse het lankal stil geword. Die hospitaal is al dae lank reeds oorvol en onderbeman. Daar is te veel gewondes en dooies om te versorg. Die mense sê hulle laat die lyke sommer so in die oopte lê vir iemand om hulle te kom opeis en iewers te gaan begrawe.
“Wat maak hy daar?” vra Yussuf.
“Hy speel saam met die ander ooms,” probeer sy die kind se aandag aftrek van die venster af.
“Wat speel hulle?”
“ Cowboys en Kroeks,” antwoord sy vinnig. Te vinnig, besef sy. Die belaglikheid van haar antwoord laat haar vir ʼn oomblik saam met Yussuf lag, maar dan oorweldig die vrees en kommer haar weer. Sy kan nie meer die trane keer nie en draai haar kop eerder weer anderpad. Die kind moet nie sien sy huil nie.
“Kan ek gaan saamspeel, Mamma?”
“Nee, jy bly net hier!” antwoord sy vinnig en wys dreigend na hom met een vinger.
Meteens sien sy die skrik op haar seun se gesiggie. Haar antwoord was te vinnig. Te kwaai. Hy verstaan nie hoekom sy so kwaai is met hom nie. Sy verhef nooit haar stem vir hom nie. Dit is nooit nodig nie. Yussuf is ʼn lieflike, stil kind. Hy wil net by sy pa en ma wees die heeltyd. Nie soos die ander nie. Hulle wil die strate invaar om te gaan baklei, of moeilikheid maak waar hulle kan. Maar nie hy nie. Hy wil eerder boeke lees en leer en help in die huis waar hy kan.
“Mamma…?”
Die onsekerheid rol in ʼn vraagteken oor sy gesiggie. Vir die eerste keer sien sy vrees in sy twee, groot bruin oë.
“Askuus, my kind. Mamma is jammer.” Sy vryf oor sy kop en vat hom versigtig aan die hand. “Kom, ons gaan kamer toe dan lees ons bietjie in jou storieboek.”
“Ja, Mamma.”
Sy handjie vou warm in hare en hulle stap haastig in die gang af slaapkamer toe.
“Mamma..?”
“Ja, Yussuf?”
“Wanneer kom Pappa terug?”
“Netnou, my kind, netnou…”
Toe sy haar hand op die deurknop neersit tref die mortier.
Eers voel sy die hitte en toe die oorweldigende slag. Sy steier agteroor en val half-skeef oor haar kind om hom te probeer beskerm. Vir ʼn oomblik is daar net ʼn suis in haar kloppende ore, maar uiteindelik hoor sy hom gil onder haar. Sy probeer haar lyf beweeg, maar haar bene wil nie saamwerk nie. Toe die pyn in haar bors haar soos ʼn hamerslag tref en die reuk van brand en swael verstik in haar keel, hoor sy hom kerm iewers ver onder haar. Maar sy kan hom nie meer antwoord nie. Sy voel hoe sy begin wegdryf tussen die rook en dampe deur, tot alles stil word en donker om haar.
Yussuf stoei en wriemel om onder sy ma uit te kom. Oral om hom brand die kamer en val stukke plafon en rommel neer. Hy draai haar op haar rug om en stamp verbouereerd met sy handjies op haar bebloede bors.
“Mamma! Mamma…!”
Maar sy mamma antwoord hom nie meer nie.
Dan hou die vuurwerke en die klappers op met skiet en alles raak weer stil.
Doodstil.
©Fanus Strydom
Februarie 2024 – Dolos projek
1.Sangoma Suzi
5099 woorde
(Waarskuwing: Hierdie skrywe bevat enkele vloekwoorde en kru taal.)
Sannie Van Graan verklaar haarself amptelik as keelvol teenoor die gesig vol plooie in die spieël. So wat van op die stoep sit en staar na die vergetelheid is nou genoeg, besluit sy.
Vandag is dit al amper een volle jaar dat haar oorle’ Gert besluit het om sy hartaanval op hierdie einste stoep te loop staan en kry. En dit nogal ten aanskoue van almal. Dit was die sustersvereniging se laaste vergadering van die jaar en die susters het geil gesit en kekkel, soos henne op ʼn heiningdraad.
Toe oorle’ Gert met die skinkbord vol koffie en tee kletterend voor hulle voete doodneerslaan, het hulle, oorval deur pligsywer, met kamma-meegevoel en valse trane om haar saam begin koek. Soos brommers om ʼn drol. Maar deesdae loop die klomp neusindieluggetrek by haar verby voor die einste stoep en groet haar skaars. Weduwee wees is blykbaar ʼn hoogs-aansteeklike siekte op dese dorp en die betrokke besmette moet liefs in die geheel en totaal en al vermy word. Ter wille van die gemeenskap, die gemeente en die afsonderlike susters se eie, wankelrige huwelike se algemene welstand.
Sannie kyk lank na die vrou in die spieël.
Uiteindelik sien sy haar kopskuddend saamstem dat sy wat Sannie is maar net eenvoudig nie uitgeknip is vir so ʼn alleenwesery nie. Die probleem was net; op díe dorp het daar net mooi niks meer aangegaan nie, nie eers die straatligte nie! Sy sou aan ʼn ander plan moes dink om Gert se gat weer vol te maak op haar voorstoep hier langs die hoofstraat. En sy het.
Sy lees weer die klein, swart-en-wit advertensietjie op die agterblad van die Landbouweekblad:
“SANGOMA SUZI.
HELP FOR: LOVE, FAME, MONEY and MENSTRUAL PAINS.
This weekend only at Bredasdorp Fair. R100. CASH ONLY.”
“Gmf…” sê Sannie ingenome en neem ingedagte nog ʼn slukkie tee. “Money…”
Danksy haar oorle’ Gert het sy genoeg geld gehad om van te lewe, want sy pensioen het darem min of meer gesorg vir die nodigste. Sy het beslis nie honger gely nie.
“Roem…” Sy kan nie anders as om terug te dink na die stoepgedoente daardie tragiese dag en aan die susters nie. “Ag neewat, Sannie Van Graan, díe het jy genoeg al van gehad in jou lewe mens. Wat met voorsitter van die sustersvereniging, voorsanger in die kerk se koor, jare van getroue diens by die ouetehuis en dan nog ʼn solo-sanguitvoering elke nou en dan ook ten bate van die kerk se boufonds.” Meteens besef sy hoe tot-oorlopenstoe vol haar roembeker, en die van heelwat ander bevoordeeldes, eintlik was. “ Neewat, meer roem begeer ek beslis nie, dankie!”
Sy vee in druppel tee uit haar mondhoeke uit met ʼn wit servet, stryk vergenoegd ʼn vou uit die stywe crimpelenerok oor haar knieë uit en druk-druk aan die styfgespuitte kapsel bo haar kop. Die stywe gedoente begin deesdae vir haar al hoe meer voel soos een van daai pruike wat die dames in Clicks so lief is om te dra en sy moet haarself keer om nie te wil klap-klap aan die ding nie. Oorle’ Gert het nou wel gehou daarvan, maar hy’s nou al vir amper ʼn jaar lank nie meer daar om vir haar te sê die miershoop bo haar kop lyk mooi nie. “Miskien is dit tyd om die ding finaal te laat afbreek,” dink sy.
Onder in die straat worstel-waggel ou Oom Herklaas Du Preez wankelrig en onstandvastig op sy pasvervangde heup verby. Toe hy haar op die stoep sien sit, probeer hy sy kromgebuigde rug meer regop maak, maar vergeefs. Dan lig hy maar sy skewe, growwe kierie in haar rigting in die hoop dat die ding se yslike, blink knop haar sal beïndruk. Sy kyk haastig liewer anderpad.
Volgende op die lys: “Menstruele pyne.”
Daarvan kon sy genadiglik drie dekades gelede al vergeet. Van die oomblik af dat sy vir klein Gertjie, haar en oorle’ Gert se vyfde, by haar moeë dye uitgestoot het. Daarvoor het die dokter mooi gesorg. Alles uitgesny na die mannetjie se geboorte. Hy was mos groot van lyf, nes sy pa. Net jammer die klein bliksem het intussen toet en taal vergeet van sy stomme ou moeder op haar oudag en flenter die wêreld vol rond, onder om haar ooit te bel of te kom sien.
“Maar nouja,” sug sy so-te-sê tevrede en tel maar haar eenhand-seëninge. Ten minste hoef sy haarself nie meer te kwel oor menstruele pyne nie.
“Nou vir wat wil die vrou my nogal R100 vra?” wonder sy hardop. “ Liefde?!”
Net by aanskoue van die woord kom roep ʼn vreemde stem voor die venster van Sannie se gemoed … kom klop ʼn anderse ritme skielik aan die voordeur van haar hart. En net daar, op die stoep langs die hoofstraat, besluit sy dat honderd rand seker nie ʼn té duur prys is om te betaal vir nog eenkeer se probeer op geluk in die lewe nie.
Sy knip die goue gespe van haar blinkleer handsak oop, maak seker daar is twee blou buffels in die beursie en tel dan die Valiant se sleutels gevul met nuutgevonde hoop en ywer van die tafeltjie af op.
Toe sy die geroesde motorhek na haar blinknuwe toekoms krakerig voor haar oopstoot, vra Breggie Smit van langsaan oor die heining:
“Waar gaan jy, Sannie?”
“Maan toe, Breggie.”
Sy het nie nou tyd, of lus, vir die praatsieke ou vrou se geite nie.
“Askies?”
“Maaind jou eie bleddie besigheid, Breggie.”
“Ongeskik!”
Breggie storm ontstoke trap-op voordeur toe, gooi die plank ontsteld agter haar agterstewe in en druk die slot opsluit weer veilig toe op knip. Mens weet nooit met die skelms op die dorp deesdae nie. Deur die geriffelde glasgleuf in die middel van haar voordeur sien Breggie Briel hoe drie Sannie Van Graans haastig wegry hoofstraatlangs in drie ligblou Valiants.
“Gmf!” grom sy en wonder waar sy haar selfoon neergesit het.
Die Landbouweekblad lê netjies oopgevou op die laaste bladsy onder haar handsak op die sitplek langs haar. Sannie is , om een of ander rede, vas oortuig daarvan dat sy vandag vir die laaste keer as enkel-weduwee by hierdie dorp se hoofstraat uit gaan ry. Iets in haar binneste sê net vir haar dat vandag die dag is waarop sy wat Sannie is, weer vir ʼn slag geluk iewers langs die pad van die lewe raak gaan loop. Maar nie in díe dorp nie. Daarom moet sy ry Bredasdorp toe.
“Luck is a lonely, lonely lady…” het haar oorle’ Gert vanmelewe altyd geloop en predik oor die sondes van geluk en enige-iets anders wat volgens hom nie die Here se wil was nie. Die Bonusobligasie-nommers in Sondag se Rapport, tombolatrekkings by die kerkbasaar, tot voorbehoedmiddels en geboortebeperking was taboe in sy verkrampte oë.
“Ja, en kyk wa lê jy nou, Gert Van Graan, ” sê Sannie amper-verbitterd en soek na sy grafsteen tussen die populierbome deur toe sy by die kerkhof verbyry oppad grootpad toe. Bo, by die T-aansluiting waar sy moet regs draai Bredasdorp toe, maak sy vir oulaas net gou seker in die truspieëltjie dat haar lipstiek net só is op haar lippe. Mens weet nooit wie jy kan raakloop op die buurdorp nie…
۞۞۞
In haar bedompige, rissierooi gazebo trek Gladys Khumalo vies die langhaar pruik weer stywer oor haar natgeswete voorkop vas. Dan maak sy seker die string krale en bene en vere en goeters hang laag voor haar oë verby, nes Suzi haar gister weer gewys het om te doen.
Sy kan nie glo sy het haarself so waaragtig weer ʼn gat in die kop laat praat om in te staan vir haar jonger suster by die verdomde fair vandag nie. Suzi doen dit elke keer. Sy sal haar nooit vra om te help by die groot stede se feeste nie, nee, want daar rol die rande mos sommer vanself in haar sakke in. Maar wanneer een of ander klein, plattelandse dorpie soek na ʼn cheap Sangoma vir hulle landbouskou, dan word Gladys ingespan.
“Soos ʼn bleddie dol os!” dink sy vies en trek weer aan die krapperige pruik op haar kop.
Elke keer ontwikkel Suzi skielik en op die laaste nippertjie, maagpyn, kraampyn, of een of ander ánder tipe van pyn en moet Gladys maar weer gewilliglik instaan vir haar.
“Ag please, sis. I thought you love me…?”
Elke keer gee Gladys maar weer in. Die ergste van alles is dat Suzi nie eers ʼn regte Sangoma was nie, nog minder Gladys. Net omdat hulle groot-gogo jare terug ʼn vroedvrou was en mense gehelp gesondmaak het met kruie en blare en allerhande ander stinkende brouselgoed, het nie van hulle twee toordokters gemaak nie. Inteendeel! Van dolosse gooi en toordery wou Gladys eintlik net mooi niks weet nie. Sy het afterall voorgesing in die koor by die United Full Gospel Church of Eternal Freedom and Redemption, onder in die township se gemeenskapsaal. En as die fris jong dromspeler moes uitvind sy doen sulke goed, verloor hy verseker die ritme in sy langerige stok. Saam met alle belangstelling in haar wat Gladys Khumalo is. En dit vir geld!
Sy rol benoud haar oë na bo en stuur gou ‘n haastige skuldgebedjie op hemel toe – sommer so deur die luggat in die lae dak van die tent bo haar kop. En hoop van harte Trevor die drommer is nie in Bredasdorp vir die naweek nie. Feit van die saak is: die witmense het gehou van die foefie en die geld was goed, veral as daar buitelandse toeriste in die dorp was. Sy moet erken: haar jongsus Suzi het ʼn punt beetgehad. Toe haar selfoon lui, kyk sy na die skerm…praat van die duiwel:
“Hello?”
“Where are you, sis?”
“I’m at the fair, where do you think?”
Gladys hoor mense lag in die agtergrond…borde en koppies en glase wat klingel. “Where are you?”
“I just popped in to Jimmy’s on my way to the clinic.”
“Jimmy’s?!” vra Gladys moerig, “the tavern?”
“Relax, sis. I’m just having a quick Sjisanjama-brekkie with Promise. She’s going for an audition with that big film-producer I told you about. Remember?”
Gladys kan haar ore nie glo nie en sy slaan vies met een hand op die kaal sementvloer voor haar.
ʼn Wolkie stof styg stadig op vanuit die gehawende springbokvel by haar voete. Oorkant haar, teen die ander kant van die bedompige gazebo, klap-klap die wind bedompig teen die tent se kant en stamp amper die wankelrige houtbankie van sy pote af. Dit val amper op die geel emalje-bakkie vol “walkie-talkies” – hoenderkpote en koppe. Vir effek. Sy’t dit sommergou-gou by Shoprite gekoop oppad hierheen vanoggend.
Gladys waai vies na ʼn vlieg bo haar kop:
“Suzan Khumalo, if I find out you have bulshitted me again today, I swear…”
“Halloooo?” sê ʼn sangerige stem meteens van buite die tent se ingangsflap.
Gladys druk vinnig die selfoon dood en steek dit haastig weg onder die lae en lae valle en voue van haar wye, etniese romp. Ook net betyds, want twee wit, oumenshande vat-vat onseker na die ingangsgat by die lap voor die tent. Dan verskyn ʼn styfgespuitte, persblou kapsel uiteindelik deur die opening en begin twee groengeverfde oë op skrefies soek na lewe in die halfdonker tent.
“Ola yalla bora-bora-bora, kakka mamma pappa…” begin Gladys gou ʼn klomp gemors te prewel en rol haar oë dramaties agteroor in haar skedel agter die vere en krale voor haar gesig. Dan waai sy vies na ʼn lastige vlieg bo haar kop met ʼn helderpienk, plastiek vlieëplak. (Ook sommer by Shoprite gekry vanoggend.)
“Oe, askies!” vra Sannie se kop plegtig omverskoning deur die tent se ingangslap en wil-wil sy dit weer terugtrek by die opening uit.
“No, no, no! come in, come in…” nooi Gladys haastig en wys met een hand. Sy herrangskik die yoga-kussing onder haar wye rok in ʼn gemakliker posisie in onder haar agterstewe en wys na die houtbankie aan die ander kant. “Come sit, please.”
“Ag, baie dankie!”
Sannie loop gebukkend en buig-buig na die bankie toe. Uit respekte vir die groot vrou voor haar in die deurskynende rooi tent. Sy gaan staan voor die lae houtbankie en kyk vir ʼn oomblik skepties daarna: “Dis eerder net ʼn plank vasgespyker aan twee ander planke…” dink sy half bekommerd en hoop maar die ding gaan hou onder haar. Toe haar oë uiteindelik begin gewoond raak aan die halfdonkerte binne die beknopte ruimte, lyk dit vir haar vir ʼn oomblik of sy haarself binne-in ʼn groot, rooi lemoensak bevind. “Of dalk ʼn uiesak…” bly haar kop sin probeer maak van die vreemde omgewing om haar. Sy besef dat sy half teleurgesteld is, want sy het iets heeltemal anders verwag.
“Maar wat weet ek nou,” dink sy die laaste bietjie onrustigheid uit haar binneste uit en kry versigtig haar sit op die lendelam bankie. Daar rangskik sy haar rok weer mooi netjies oor haar bymekaargemaakte knieë en vou haar enkels styf teenmekaar onder haar in. Soos dit ʼn gas in iemand anders se huis betaam.
Net haar groot, swart kunsleerhandsak bly staan nét hier langs haar op die bankie. Mens weet nooit by sulke plekke nie…
“And what are jor name?” besluit Sannie om maar die ys te breek, want die vrou bly net doodstil sit en staar na haar.
“Miskien is dit maar ʼn Sangoma-ding,” dink sy, maar dis nie genoeg rede om tyd te mors nie, want sy is mos hier vir ʼn doel. En die son trek water buite die bedompige tent.
“I’m sorry?”
Gladys kyk vir ʼn oomblik oopmond en heeltemal uit die veld uit geslaan na die vreemde vrou oorkant haar.
Haar styfgespuitte, blougrys kapsel rys hoog bo haar kop uit soos ʼn ou-verdroogde miershoop. Aan haar lenige lyf ʼn pers en pienk geblomde Crimplene rok en donker sykouse oor haar bene.
“Kry die stomme vrou nie warm nie?!” wonder Gladys verbaas en onthou intussen om haar mond weer toe te maak. (Die vlieg is nogsteeds lastig om haar kop. Miskien was die walkie-talkies nie so goeie idee nie, maar dis nou te laat.) Die vrou oorkant haar bly net vriendelik lag na haar met ʼn dikgesmeerde, bloedrooi glimlag op haar wye mond.
“Dis nou gladnie die tipe waaraan ek gewoond is om by my tent (wel, Suzan se tent) in te stap nie…” probeer haar verwarde kop sin maak van die vrou op die bankie oorkant haar.
“Jor name…what are jor name?” val Sannie haar verwarring in die rede en beduie stadig met een vinger na haar. Dan weer terug na haarself: “ Aai Sannie, you…?”
Sy lig een wenkbrou in opgewonde afwagting op ʼn antwoord. Soos ʼn laerskooljuffrou voor haar groot-oog klassie op die eerste dag van skool.
“Eish ê ê…” is al wat Gladys uit kan kry. Dit neem haar ʼn ruk om tot verhaal te kom en sy moet diep loop soek na elke greintjie selfbeheersing binne haar om nie haar pose totaal en al te verloor nie.
“I am Gladys” kom sy uiteindelik tot verhaal. Maar besef dan onmiddellik weer haar fout en korrigeer haarself vinnig: “I mean Suzi, I am Suzi!” Sy rol weer haar oë dramaties om in haar kop in vir effek. En in die hoop dat die vrou nie sal agterkom sy’s ʼn totale fake nie.
Toe Sannie uitbundig aan die lag gaan, loer Gladys skelm deur een skrefie-oog na haar.
“What a naais name, Suzi!” lag Sannie en wonder of sy moet opstaan om die vrou met die hand te groet, maar besluit dan daarteen. Sy is afterall die gas in die vrou se huis, (wel tent), en is derhalwe heeltemal bereid om in te val by haar gasvrou se gebruike. So, sy vou maar eerder weer haar hande netjies terug op haar skoot en sê opgewonde:
“Suzi Sangoma, I are Sannie Van Graan. It’s so bleddie naais to meat you, man!”
Gladys hap weer kortstondig na lug, soos ʼn baber op droë grond. Dan besef sy net daar en dan dat dit beter gaan wees om so vinnig as moontlik korte mette te maak met die vreemde vrou voor haar. Voordat sy wat Gladys Khumalo is vandag histeries, en heeltemal buite beheer, aan die lag gaan gaan en van haar yoga-kussing af gaan rol reg voor hierdie vreemde vrou.
“Yes, well…what can I do for you?” probeer sy so formeel as moontlik weer wet en orde skep in haar towertent en haar eie binneste.
Sannie lig haar vinger sonder om ʼn woord te sê. Sy leuen oor en begin vroetel in die groot handsak langs haar op die bankie. Stilte. Net die vlieg wat bly gons. Uiteindelik bring sy ʼn opgevoude tydskrif te voorskyn.
“Look…” sê sy en wys na die klein advertensietjie op die agterblad van die Landbouweekblad. “I saws your advertensie in dis boek and I just new…”
“Knew what?” Gladys frons verbete tussen die klein, swart skrif in die tydskrif en die vrou se wye, oopmond glimlag. Meteens oorval ʼn klemmende benoudheid haar. “Weet die vrou van haar en Suzan se scheme?… dalk is sy van die polisie!” Sy is op die punt om te begin verduidelik toe Sannie haar weer in die rede val:
“I just knows that you will have the answers for me today.”
Die vrou kyk na haar met opregte hartseer in haar oë en Gladys wil wegkyk, maar dan klik sy op haar tong, sit een hand oor haar hart en sê half-bewoë: “Dis aloneliness, I’m telling you man, its killing me. No bleddie laais…”
Vir ʼn oomblik kom hang daar ʼn bedompige stilte tussen die twee vrouens.
Sannie leun stadig vorentoe en hou die boek na Gladys toe uit om self te lees wat sê Suzi se advertensie op die agterblad. Sy onderstreep een, spesifieke woord met haar vinger:
“LOVE…I soeks the love man, please.”
Dan vou sy die tydskrif tevrede toe, sit dit terug in haar handsak op die bankie langs haar en wag geduldig vir Suzi Sangoma om te begin.
“Ten minste weet die vrou nou wat lê op my hart,” dink sy in haar skik en wag nou maar vir gods water om nou oor gods akker te loop. Nie eers oorle’ Gert se vermaninge sal dinge nou meer kan keer nie. Die koeël is deur die kerk. “Wel, die tent…” korrigeer sy haarself en vestig haar onverdeelde aandag op die vrou voor haar.
“Ôkei…” kom Gladys stadig tot verhaal.
Sy is nie meer seker of sy moet lag, of huil nie. Dan besef sy dat dit dalk die beste gaan wees om so gou as moontlik aan die gang te kom, want hoe gouer sy die vrou hier uikry – en haarself- hoe beter vir almal.
Sy begin naarstigtelik vroetel met die sakkie sopbene op haar skoot en mompel weer iets onhoorbaar binnensmonds. Dan gooi sy skielik haar kop wild heen en weer op haar skouers en begin die sakkie hoogdrawend rondskud bo haar kop. (Dis min-of-meer hoe Rafiki dit gedoen het in The Lion King, as sy reg kan onthou…)
Die heeltyd hoop sy van harte dat die Jik sy werk gedoen het met die bene en hulle mooi wit geblyk het na noudieaand se skaapnekbredie. Want die vervlakste Suzi het mos haar sakkie met fake-bene op die taxi se sitplek loop staan en vergeet die annerdag.
“Die meisiekind se kop is mos deesdae net vol bleddie muisneste!” dink sy, terwyl sy die sakkie bo haar kop rondrol. “Vandat sy en daai verdomde klein maergat-Sipho mekaar op varsity raakgeloop het! Sy vertrou die knaap nie sover as sy hom kan gooi nie…”
“Oe, wait eers ʼn bietjie, please!” val die vrou haar skielik weer in die rede.
“Hê?” Gladys se arms stol verbaas bo haar kop.
“I must first pays you, man. I almost forgots!”
Sannie lag uitbundig en begin half-verlee weer vroetel in die handsak langs haar sy. Sy soek na die klein, pienk beursietjie met die lemmetjiegroen kraletjies daarop vasgewerk.
“Never does bisnis wif a vreemdeling before he pays you…” predik sy intussen na Gladys sonder om op te kyk. “Die beursie moet tog hier iewers wees,” dink sy en soek verbete voort tussen al die goed in haar handsak. “ That’s what my husband, Gert always het gesê.” Sy knik haar kop in Gladys se rigting, terwyl sy wonder of sy dan nou die beursie in die handsak se kantsak geloop sit het.
“Ai man!” se sy terwyl sy sukkel met die dekselse zip aan die kant van haar handsak. Sy kyk verskonend na Gladys: “ He died…” Sy lig een vinger: “ One years ago. From a heart-aanval, nogal. And sommer right there on the stoep. Can you beliefs it?”
“Askies?” vra Gladys verbouereerd sonder om eers agter te kom sy’t oorgeslaan na Afrikaans toe. Meteens is sy oortuig dat sy gaan flou word. Net daar op die stowwerige Springbokvel voor die vreemde vrou.
Genadiglik vind die vrou waarna sy soek en haal ʼn blou honderdrander by ʼn klein, bekraalde beursietjie uit, voor sy die ritssluitertjie weer versigtig toezip. Dan sit sy die noot voor Gladys se voete op die Springbokvel neer, stryk dit mooi plat met een hand en sê:
“Der you go, my dear, one hundred rands, just like you says in the boek. Hm, mooi velletjie…”
Sy streel vir ʼn oomblik ingedagte oor die ylerige hare op die deurgetrapte sprinbokvel op die vloer voor haar. “Ag shame, arme ou bokkie…”
“Excuse me?”
Gladys se mond val onkeerbaar oop. Haar arms hang slap en leweloos langs haar sye. Maar Sannie waai reeds omverskoning met een hand voor haar mond en bloos half-verleë:
“Ag, I’m so sorrie, Suzi Sangoma. Please go on man. I keeps on interrupting you…”
Gladys kom weer stadig tot haar sinne, terwyl sy vaagweg probeer onthou wat Suzi volgende sou doen in die situasie. Iets in haar agterkop (dalk ʼn toneel wat sy op Isidingo gesien het) sê vir haar om by die sakkie se bek in te blaas en sy maak haastig so. Dan gooi sy die bene dramaties op die vel uit voor haar en onthou genadiglik om ʼn “towerwoord” te brabbel:
“Oscar caltex edgars capitec mabusa…” is al wat op daardie oomblik uit haar verwarde gedagtes uit op wil kom, maar dit moet maar doen vir nou.
“Oe my gonnapatat…!” roep Sannie opgewonde toe die bene voor haar voete ooprol en bring een hand na haar mond toe.
“Sjjjttt!” lig Gladys een vinger en dwing Sannie nou tot stilswye. Sy besef sy sal moet beheer terugkry oor die situasie, anders is die kaiings in die vuur vandag.
Sy staar kammakastig met diepe konsentrasie vir ʼn lang ruk na die bene. Lees kamma hoe hulle oormekaar lê en wat hulle vir haar probeer sê. Maar al wat eintlik regtig deur haar kop gaan is die dankbare besef dat die Jik genadiglik gewerk het. Die skaapskenkels lê spierwit gebleik en sonder ʼn seningtjie in sig op die vel voor hulle oopgesprei. “I see…” begin sy verlig.
“Ja?” vra Sannie opgewonde.
“Hey wêna…!” gee Gladys haar weer ʼn kwaai kyk en druk haar vinger voor haar eie mond.
“Oe, I’m sorrie, I’m sorrie…” belowe Sannie om haarself in toom te hou. Dis net, die opgewondenheid is amper te erg vir haar om te verdra.
“I see fame,” gaan Gladys voort. “And fortune…”
“Aggenee…” voel Sannie meteens half teleurgesteld. Dis nie eintlik waarvoor sy gekom het nie.
Gladys merk die teleurstelling op die vrou se gesig op en besluit om eerder van rigting te verander. Dis tyd om oor te skakel na ʼn ander rat. Afterall, die stomme vrou het klaar betaal én haar dag totaal en al gemaak! “O no…” sê sy meteens en kyk met grootgerekte oë na Sannie. “I see trouble…”
“Oe aarde!” begin Sannie weer opgewonde giggel en sit gretig vorentoe op die bankie: ”watse trouble?”
Gladys klap gefrustreerd na die vlieg bo haar kop met die pienk vlieëplak en wonder wat de hel sy nog moet doen om die verdomde vrou net vir een oomblik stil te kry. Duidelik sink die erns en simboliek van die oomblik en die tradisie gladnie nie by die vrou se styfgespuitte kapsel in nie. Sy besluit geïrriteerd om ʼn heel ander rigting in te slaan: “But wait!”
“Aahh…” Sannie snak weer na haar asem. Maar die keer liggies, want sy kan sien die vrou hou nie daarvan dat sy so interfere die heeltyd nie. En sy wil haar tog net nie nou ontstel nie, want netnou gee sy haar net slegte nuus en is haar honderdrand daarmee heen. Saam met haar hoop op liefde en geluk.
“I see love!” kondig Gladys triomfantelik die pierce de resistance aan en wys na een besondere groot stuk skenkel met die vlieëplak se handvatsel .
Dit lê half-skeef oor die gat in die vel waar die koeël die bok getref het. Reg langs die hart. “Dit moet ʼn teken van liefde wees,” dink Gladys meteens self half-verbaas oor haar nuutgevonde sangoma-talent.
“O jippie!” klap Sannie opgewonde haar hande en buig vooroor oor die vel. “Waar?” vra sy.
“There…”
Gladys wys met die vlieëslaner na die been.
Sannie draai haar kop eers die kant toe, dan daai kant toe terwyl sy die stuk been bestudeer.
“Mmm…” sê sy ingedagte. “Lyk nie eintlik na iemand wat ek ken nie.”
Skielik weet sy nie of sy teleurgesteld, of bly moet wees nie.
Meteens versteur ʼn opgewekte Kwaito-tune, die gewyde oomblik van swanger stilte. Diep van iewers onder die valle van Gladys se rok lui haar foon skielik dringend en onophoudelik.
“I’m so sorry,” sê sy nou die keer half verleë met een vinger na bo om te wys daar gaan net eers gou ʼn kort pouse in die verrigtinge wees. Dan begin sy naarstigtelik grou tussen die lae materiaal tussen haar bene opsoek na haar foon, terwyl dit onophoudelik bly lui.
“Nee mens,” wys Sannie vir Gladys om nie te bekommer nie en maar eerder anderpad. “You must get it. Now-now its a noodgeval en wat dan?”
Uiteindelik spoor Gladys die singende foon iewers in die voue op en druk dit ongeduldig vas teen haar oor:
“Hello?”
Sannie hoor vaagweg ʼn benoude vrouestem aan die ander kant, maar sy bly ordentlik anderpad kyk. Sy wil mos nou nie opsetlik ongeskik wees nie. Maar sy kan hoor daar’s fout…
“What?!” vra Gladys meteens geskok. “Where? Oh my God….No, just wait, I’ll come immediately!”
Toe sy opkyk sien Sannie die rou vrees in Suzi Sangoma se oopgesperde oë.
“What’s wrong, my dear?”
“It’s my sister,” antwoord Gladys met ʼn bewerige stem. “She was in an accident.”
“Wanneer?!” vra Sannie geskok.
“Just now.”
“Is she oraait?”
“I dont know…”
Gladys begin saggies huil.
“But then we must go and find her!” sê Sannie en sy spring haastig op. “Toe toe kom, Suzi,”
Sy gryp haar handsak van die bankie af en trek vir Suzi aan die elmboog op.
“Genade maar die vrou is vet!” dink sy vir ʼn oomblik, voordat sy die stomme mens by die lemoensaktentgedoente se opening uitgeboender kry en haastig begin aanstap parkeerterrein toe. “Dere…” wys sy na die getroue ou Valiant toe waar dit onder ʼn koelteboom staan, “ dere’s my car!”
۞۞۞
Sannie jaag so vinnig as wat sy moontlik kan in Bredasdorp se hoofstraat af, terwyl Suzi Sangoma die heeltyd in ʼn huilerige stem met iemand op haar selfoon praat.
“Okei…yes…yes. We’re on our way.”
“Waar’s sy?” vra Sannie en vergeet skoon sy moet engels praat met die stomme vrou.
“At the hospital.”
“I knows where it is.”
Sannie gooi die Valiant terug na derde toe en sit haar voet teen die vloer neer op die petrolpedaal.
“Hold vas!” gil sy teenoor Suzi en knyp die stuurwiel vas met witgevlekte kneukels toe die Valiant begin dreun onder hulle.
Onder by die sirkel, langs die skouterrein, glip hulle by sesuur in en skiet dan weer soos blits by twaalfuur uit oppad Hospitaalstraat toe.
Dan hoor hulle die sirenes.
Dit kom van agter af aangeloei en kom vinnig nader. Sannie kyk geskok terug in haar truspieëltjie en sien die verkeerspolisieman op sy motorfiets.
“Ag fok, tog net nie nou nie!” sê sy vies en begin naarstigtelik soek na aftrekplek. “I’m sorrie,” maak sy grootoog verskoning by Suzi en kyk weer na die spietkop in die truspieëltjie. Hy kom stadig van agter af aangestap na die Valiant oe.
Toe hy uiteindelik langs haar afgerolde ruit kom staan en sy blinkglas donkerbril van sy neus afhaal, kyk die mooiste, diepste, blouste paar oë meteens af na Sannie toe en sien sy hoe hulle vir ʼn onbewaakte oomblik skaamteloos afgly tot net bo haar hygende halslyn. Sy lig een hand stadig na haar bors toe op en bloos in een onbesonne oomblik van pure angs en opgewondenheid purperrooi op na die aantreklike geregsman langs haar venster.
“Goeiemiddag konstabel,” groet sy half-verleë. Welwetende dat sy sonder twyfel skuldig is.
“Mevrou…”
Die blouoogspietkop bly net afkyk na haar met ʼn seunskindagtige, wye, wittandmond.
۞۞۞
Na ʼn vinnige, benoude en deurmekaar verduideliking in engels en afrikaans deur Sannie en Suzi Sangoma die beurt, het die gawe geregsdienaar hulle vinnig en teen dolle vaart na die hospitaal toe begelei met loeiende sirenes.
Daar aangekom het Sannie en Suzi haastig ingehardloop om te gaan soek na die gewonde suster.
Díe is gelukkig gou opgespoor in ʼn stoel in ongevalle met ʼn Coke in die een hand en ʼn hengse knop op die voorkop. Langs haar op die stoel se armleuning het ʼn maererige jong man gesit met sy een arm beskermend oor haar skouer.
“Suzi…!” het Gladys na haar kleinsus toe gehardloop en haar styf teen haar vasgedruk.
“Ouch, my head!”
“Trevor.” Het Gladys vies, maar ook ontsettend dankbaar na die jong man gekyk en hard probeer om nie vriendelik te lyk nie.
En net daar het Gladys Khumalo haarself tranerig ontbloot teenoor die goedhartige, vreemde vrou Sannie Van Graan en aan haar beken dat sy wat Gladys is geen verdomde sangoma is nie.
Buite, in die parkeerterrein langs die ligblou Valiant, het die gawe spietkop wydsbeen oor sy motorfiets gesit en wag vir die aanvallige dame met die mooi pers rok om weer uit te kom.
Toe Gladys probeer aandring om vir Sannie haar geld terug te gee, het Sannie kopskuddend bly weier:
“Vir wat?”
“Because I’m not a real Sangoma,” het Gladys skaam en tussen trane van dankbaarheid deur gesnik, terwyl Sannie haar styf teen haar lyf vasdruk.
“Oh but you are, my dear, you are. Look…”
Sy het deur die venster op die tweede vloer gewys na die frisgeboude vekeersman waar hy onder op sy motorfiets langs die Valiant sit en terugwaai op na haar.
“Everything you said came true…”
©Fanus Strydom
2.Toordokter
1923 woorde
“Beste uitvindsel ooit…”
Die gryskopman draai moeilik om na die klein houtvenstertjie toe en wys na die uitgestrekte kaai voor ons. In ʼn ellelange, uitgestrekte lyn lê honderde sement-dolosse slaggereed en wag op die volgende woedende golf om te arriveer vanuit die diepsee uit. Die hoogwater bly onstuimig aanstoot wal toe en die wind stamp onophoudelik teen die klein houthuisie se verweerde deurkosyne vas. “Nog ʼn dop?”
“ Asseblief.”
Ek hou my beker na hom toe uit. Sien die ligte trilling in my hand.
“Wat bewe jy so, is jy op jou senuwees?” Hy kyk agterdogtig na my en hou die bottel met whiskey eers weer terug.
“Nee,” lieg ek. In my binnekant ril die opgewondenheid meteens. Ek besef as my vermoede reg is, gaan hier ʼn groot ding gebeur vandag. Hy wys weer na die dolosse langs die kaai.
“Die ou wat hulle kamma “uitgevind” het mos te vertelle gehad dat hy die idee by ʼn toordokter loop kry het.”
Hy wys weer met sy beker by die venster uit en lig dit in ʼn siniese saluut bo sy kop. Net toe slaan ʼn reuse brander homself weer skuimend te pletter teen die opgestapelde keerlyn van die dolosse vas.
“Ja?” speel ek saam, “ het die toordokter hom vertel van die dolosse?”
“Nee,” antwoord hy en skud sy kop. “Hy het eintlik die toordokter gaan sien vir raad met geld oor sy moerse klomp skuld. Die perde, jy weet.”
“Hmm…,” knik ek my kop.
“Ja, hy’t gehoop die ou man sal hom uit die gemors uit kry met sy getoordery, maar toe stel die ou hom bitter teleur.”
“Hoeso?”
“Want, toe die toorman die bene voor die armsalige vent se gulsige oë uitgooi op die karos, het die bleekgebleikte dolosse ʼn heel ander uitkoms voorspel as wat hy gehoop het.”
“Hoe dan so?” wil ek weet.
“In plaas van roem en rykdom…” Hy waai stadig met sy beker in ʼn wye kring oor die tafel, nes ʼn toordokter. Dan kyk hy op na my: “ het die bene eerder ʼn storie van ongeluk en dood vertel.”
“Ja? En toe?” maak ek of ek nie weet nie.
Arnoldus Koeleman kyk lank na my met een skeel oog, asof hy my probeer opsom. Dan lag hy skalks onderlangs by sy beker in:
“Jy’s ok ma lekke nuuskierig, hê?”
In die donker holte van sy geplooide mond blink een goue voortand dofweg in die flikkering van die lantern op die tafel. Om hom is die ooglopende armoede en eenvoud genadiglik verskuil in die dowwe gloed van die lamp.
“Wel, dit klink na ʼn ongelooflike storie, meneer Koeleman. So, ek wonder maar net wat het gebeur.”
Hy mag nie weet ek weet hy lieg nie.
“Arnoldus,” sê hy en maak keelskoon, asof iets oor die naam hom skielik pla.
“Jammer. Arnoldus,” maak ek verkoning en wys vir hom om verder te vertel. Hy kom sit weer oorkant my. Toe hy nog whiskey by my beker in wil gooi keer ek hom met die agterkant van my hand.
“Wel…” Hy skink sy eie beker weer vol en vertel verder: “Aubrey Kruger. Hy was die man wat eintlik die Dolos uitgevind het…”
“Aubrey Kruger?” maak ek of ek verbaas is. Maar die naam stem ooreen met die een op die dokumente in my baadjie se binnesak.
“Ja,” se Arnoldus. “Hy het jare terug op die idee afgekom toe hy saam met sy kinders met hulle houtblokkies in die sand gespeel het hier langs hierdie einste strand.”
Hy kyk weer verlangend by die venster uit na buite. “Briljante man gewees…”
“Leef hy nog?” wil ek weet. Ek ken die details van die storie, maar ek wil hom dit self hoor sê. Ek moet doodseker maak.
“Niemand weet nie,” sê hy stadig en begin verder vertel: “Sy baas op daardie stadium was ʼn Ingelsman met die naam Eric Mowbray Merrifield. Soos ek sê: ʼn Ingelsman. Skelm donner…”
“Hoeso?”
“Want, toe Aubrey hom vertel van sy idee oor hoe om die golwe te stuit wat die hawe so teister die heeltyd, sê Merrifield hy dink dis ʼn moerse goeie plan. Aubrey was bly om sy baas te beïndruk vir ʼn slag, want die ou het hom maar sleg behandel meeste van die tyd. Toe vra hy vir Aubrey of hy vir hom ʼn prentjie sal kan teken van hoe die goed moet lyk.”
“En toe doen Aubrey dit?”
“Natuurlik!” antwoord die ou man vinnig. “ Sommer net daar op ʼn stuk papier in Merrifield se kantoor. Met presiese afmetings, hoeke, grade, gewig. Alles!”
“Toe steel hy Aubrey se ontwerp, nê Oom?”
Ek hou hom stip dop om te sien hoe hy reageer.
Vir ʼn oomblik lyk hy heeltemal uit die veld geslaan. Dan skuif ʼn hartseer kyk oor sy oë en hy kyk anderpad. Kaai se kant toe. Hy klik hoorbaar spyt op sy tong. Onder by sy voete maak Kobra, sy steekhaarhond, lui-lui een oog oop en kyk op na sy baas.
Buite die beskeie houthuisie strek die kilometerlange lyn deurmekaargegooide sementblokke al langs die kaai af.
Toe die volgende woedende golf daaroor breek, reduseer die dolosse die stomende watermuur in ʼn oogwink weer tot niks. Moeiteloos en pligsgetrou. Soos altyd.
“Einste,” antwoord Arnoldus stadig en sug swaar, sonder om terug te kyk na my. Kobra staan swaar op en kom staan langs my onder die tafel. Hy waai sy stert liggies heen en weer.
“Toe die ding uiteindelik op die lappe kom was dit te laat,” gaan Arnoldus voort, nou asof ʼn wal meteens in sy binneste gebreek het. “ Die koeël was deur die kerk, soos hulle sê.”
Hy lag sinies en kyk na my. Skielik brand daar ʼn helder vuur in sy potblou, oumansoë:
“Merrifield het Aubrey se planne sommer dieselle dag al na die patent office toe gevat en in sy eie naam laat registreer. Toe die eerste dolosse ses maande later hier in die hawe by Oos-Londen uitgestrooi word en Aubrey sy ongelowige oë uitvee, het Merrifield lankal al die pad bank toe geloop en skaterlag.”
Ek hoor die bitterheid nou vlak lê in sy stem.
“En Aubrey?” wil ek weet.
Kobra kom leuen sy moeë hondelyf teen my linkerbeen en ek streel saggies oor sy stekelrige kop. Ek voel die growwe kankerknoppe orals tussen sy sagte ore.
“Nooit ʼn sent gesien nie,” antwoord Arnoldus sag. Hy spoeg vies ʼn skeut pruimtwak na die vloer toe voor sy voete en vee sy mond met die agterkant van sy hand af.
“Bliksem!” sê ek voor ek myself kan keer. Onder die tafel kyk Kobra op na my met glaserige oë en waai sy stert stadig heen en weer.
Die volgende oomblik kyk die ou man skielik agterdogtig na my:
“Hoe’t jy nouweer gesê is jou naam?”
Ek verbeel my ek sien meteens vrees of iets in sy oumansoë.
“Pretorius. André Pretorius, Oom.” antwoord ek saggies.
“En wat wil jy van my hê, broer?”
Ek brand om hom net daar die waarheid te vertel, maar besef ek moet eers doodseker maak. Ek kan nie bekostig om nou ʼn fout te maak nie. Dit sal hom doodmaak.
“Wat het geword van Merrifield, Oom?” besluit ek om deur te druk.
“Ga!” Hy blaf verontwaardig en sit sy blikbeker hard op die tafel neer voor hom. “Hy’t sy verdiende bleddie loon gekry!”
“Wat bedoel, Oom?”
“Twee jaar later, toe die rykdom en roem van sy “ontdekking” hom al blinkvet gevoer het en log van lyf geloop maak het, het die see hom eendag onverwags ʼn moerse surprise kom gee!”
“Wat het gebeur?”
Ek is bekend met die storie. Die koerantuitknipsels lê in die leer in my kantoor saam met die polisieverslae. Maar ek wil hê hy moet my self vertel. Ek wil die woorde uit sy eie mond uit hoor.
“Die koerante wou ʼn foto van hom kom neem hier buite op die kaai.” Hy wys by die venster uit. Buite waai die wind nou onophoudelik en stamp hardhandig teen die vensters vas. “Uitvinder van die eeu!” het die mense hom genoem. Gmf!”
“En toe, Oom?”
“Wel, toe hy nog so diklyf staan en pose op die dolosse voor die kaai, kom slat ʼn moerse fratsgolf hom van agter af en slaat hy gat oor kop agteroor in die water in. Net daar, voor allie mense ennie kameras!”
Vir ʼn oomblik lyk dit of hy homself verknog in die man se ellende, dan vertel hy voort:
“Gesink soos ʼn bleddie klip, sê ek jou. Die stomme vent. En voor enigiemand nog iets kon doen, toe vat die golwe hom weg diepsee toe. Hulle het hom nooit weer gekry nie… ”
“Oom Aubrey…” vat ek my kans.
“Ja, Boet?”
Hy besef onmiddellik sy fout. Vir ʼn oomblik sit ons mekaar so doodstil in die oë en kyk. Dan kom ek stadig tot die punt:
“Ek is ʼn prokureur, Oom en ons maatskappy het gehoor van Oom se storie. Hoe Oom al daai jare teug ingedoen is deur meneer Merrifield en hoe hy Oom se geld gesteel het.”
Ek bly ʼn rukkie stil om seker te maak my woorde sink in by hom.
“Ja, en?” vra hy na my met onseker oë.
“Wel, ons het laasmaand Oom se saak by die hooggeregshof opgeneem en die hof het verlede week in Oom se guns besluit, Oom.”
“En wat het hulle nogal besluit?”
Hy kyk half-agterdogtig na my en roep skielik na Kobra om weg te kom van my af. Asof ek die vyand is. Kobra bly egter net langs my staan en waai sy stert stadig heen en weer, terwyl hy na sy oubaas kyk onder die tafel deur. Ek vryf weer oor sy knopperige kop.
“Hulle het besluit om die patentreg vir die Dolos in Oom se naam te her-registreer, Oom. Soos dit hoort.”
Hy kyk vir ʼn oomblik stil na my terwyl die woorde insink. Dan waai hy argeloos met een hand in my rigting:
“Ag, wat beteken ʼn patentreg tog nou op my ouderdom?”
“Daar’s meer, Oom…”
Hy kyk stadig na my.
Ek haal die koevert uit my binnesak uit en hou dit uit na hom.
Hy vat dit by my en hou dit vir ʼn lang ruk in sy hande vas sonder om iets te doen, of sê. Dan vra hy:
“En wat is die?”
“Kyk gerus, Oom” Ek lag na hom toe en wys vir hom om die kovert oop ge maak.
Toe hy die bruin koevert oopmaak, val daar, saam met die formele hofdokument, ook ʼn getekende tjek by die koevert uit. Dit land in die dowwe ligkol op die tafel voor hom. Hy lees die dokument aandagtig deur sonder om ʼn woord te sê. Dan tel hy die getekende banktjek stadig en met bewende hande op en hou dit voor hom uit na die ligkol toe. Hy begin stadig en hardop lees:
“Begunstigde: Meneer Aubrey Kruger. Bedrag: Vyf en twintig miljoen rand.”
Buite bedaar die storm meteens en skyn die son in ʼn helder skag deur die klein houtvenstertjie na binne. Die straal skuif oor die tafel en kom rus in ʼn helder halo op Aubrey Kruger se oumanskop.
Kobra begin opgewonde blaf en gaan staan stertswaaiend by die deur om uitgelaat te word.Toe Aubrey die deur vir hom oopstoot, draf hy mank-mank al met die kaai se breekwaterlyn af. Al die pad verby die kilometerlange ry dolosse.
Dolosse wat sy oubaas al daai jare terug al uitgevind het toe hulle die dag saam met die kinders op die strand gespeel het met hulle houtblokkies.
©Fanus Strydom