Jongste aktiwiteit:

Helena Mellett
vir

Helena Mellett

Lees meer bydraes deur Helena Mellett

BRONS KLAS

Carpe diem

1.Agter die pienk deur

Deur HelenaMellet

Lalie trek die deur versigtig toe, saggies sodat sy nie ’n geluid maak nie. Haar huismense slaap nog, want dis nog vroeg. Dit is net na ses en die son is nog nie behoorlik op nie, maar die flou oggendlig is genoeg vir Lalie om te sien wat sy doen. Haar hand rus ’n oomblik om die deur se knip. Die voordeur van haar ouerhuis waar sy die afgelope agtien jaar gebly het. Die pienk deur. Vyf jaar gelede het haar ma die deur pienk geverf, want sy wou dinge in die huis bietjie opkikker. Píenk van alle kleure, maar eintlik is dit al kleur wat daar was in die hand-me-down-box. Dié boks word altyd gepak met items wat nie meer in die Vissers se huis gebruik word nie. Die Vissers is gesiene mense in hulle Weskusdorpie. Meneer Visser is ’n boer, Lalie se pa werk vir hom. Mevrou Visser is ’n huisvrou, soos haar ma. Die Vissers se huis is nie vêr van Lalie-hulle se huis nie af nie. Die pad daarheen ken Lalie al te goed, want as die hand-me-down-box vol is, moet Lalie dit altyd gaan haal. Mevrou Visser is ’n dierbare mens, sy het ’n oop hart en hand vir haar medemens. Meneer Visser is ook gaaf, soms, maar meestal baie kwaai. Lalie loop net na hulle huis toe as sy weet hy die dag op een van sy buiteplase gaan wees, want sy is bang vir meneer Visser. Haar pa het al baie raas gekry by hom, maar dis nie hoekom sy vir hom bang is nie. Lalie het eenkeer gehoor hoe meneer Visser weer op haar pa skel en vir hom sê dat hy hom en hulle hele gesin van die plaas gaan afsit. Lalie se pa is nie baie fluks nie, hy wil eintlik glad nie werk nie, maar hulle het die geld nodig. Meneer Visser was die enigste persoon wat kans gesien het om vir haar pa werk te gee, want haar pa het al oral in die gemeenskap sy naam weggegooi. Lalie se pa is nie net lui nie, hy drink ook, selfs partykeer terwyl hy aan diens is. Sy skaam haar vreeslik vir hom. Eintlik skaam sy haar vir haar hele gesin en hierdie huis met sy pienk deur!
Sy kyk na die deur. Die pienk is al so dof gebak deur die son en plek-plek is die verf besig om af te dop. Sy los die handvatsel en gee ’n tree terug. Binne die huis hoor sy die gebrom van haar pa se snork. Verder is dit tjoepstil. Hulle is salig onbewus van wat sy besig is om te doen. Vandag trek sy hierdie deur vir goed agter haar toe. Vandag, loop sy, Lalie Gous, weg van die huis af. Weg van haar omstandighede af in ’n nuwe beter wêreld in.
Armblanke. Dís wat sy is. Lalie dink soms dat dit hulle eie skuld is dat hulle in hierdie gemors beland het. Haar pa wil nie hoor nie, hy karring net op sy ou manier voort en dit terwyl hy kan sien hoe swaar hulle as gesin kry. Haar twee jonger sussies lê net heeldag voor die TV en vreet die laaste bietjie kos wat in die kas is op. As hulle nie voor die TV lê nie, sit hulle met hulle alies buite in die son en blaai mevrou Visser se ou Huisgenote deur. Dan loop hulle verbeelding ophol en is hulle die modelle en aktrises op Die Huisgenoot se agterblaaie en neem hulle selfies tot die selfoon se battery pap is. Geeneen van hulle twee sal ooit ’n vinger verroer om die huis skoon te hou nie. En hulle huis is vuil! Die vloere is altyd taai en mens moet op jou tone loop partykeer om die honde- en katbollie mis te trap. Almal wil hê die hond moet in die huis slaap, maar niemand wil agter hom skoonmaak nie. Die mure se verf dop af en waar die verf wel nog sit, sien jy vlekke en skrape. Die kakkerlakke vier fees in die kombuis en badkamer. Hulle meubels is skraps, want haar pa moes al daarvan verkoop om skuld af te betaal. Dit voel soms vir Lalie asof sy die enigste een is wat omgee, asof die stink huis met die pienk deur net vir háár ’n verleentheid is. Haar pa worry nie, hy karring maar net voort. Van haar ma wil sy nie eens praat nie. As daar een persoon, behalwe Lalie, was wat nog ’n verskil in hulle gesin kon maak, was dit haar ma. Haar ma was nie altyd ’n huisvrou nie. Sy het hier en daar los werkies gedoen, maar toe raak daar eendag geld weg by die mense vir wie sy gewerk het en hulle verdink haar. Sy is nie eens ’n kans gegee om te verduidelik nie, net gefire. Daarna het haar ma heeltemal tou opgegooi. Sy het nie eens moeite gedoen oom weer te probeer werk soek nie. Nou sit haar ma bedags saam met Lalie se twee sussies en tydskrifte deurblaai terwyl sy die een sigaret na die ander rook. Asof hulle geld het vir sulke luxuries. Daar’s nie geld vir tampons en badseep nie, maar daar’s altyd drank en sigarette in die huis.
Lalie het geld, nie vreeslik baie nie, maar genoeg vir nou. Sy het die afgelope vyf jaar vir mevrou Visser met los werkies by haar huis gehelp en dan is sy daarvoor betaal. Mevrou Visser weet van Lalie se verleentheid, sy ken hulle omstandighede te goed, maar sy praat nooit met Lalie daaroor nie. Dit pas Lalie baie goed, want sy wil nie daaroor praat nie. Die Vissers het ’n mooi huis met baie meubels en dis baie skoon. Daar is altyd kos in die kaste en die huismense is liefdevol teenoor mekaar. Lalie wil ook so ’n huis hê. Sy weet sy is nog net agtien en sy het vyf maande van haar matriekjaar oor, maar sy gaan nou al begin werk aan haar droom. Die geld wat sy verdien het, het mevrou Visser vir haar gebêre, Lalie was te bang om dit huis toe te vat, want haar pa sou dit opspoor en uitsuip. Verlede week het mevrou Visser haar gevra wat sy met die geld wil maak en toe vertel Lalie haar van haar droom. Sy wil wegkom, sy wil ’n nuwe lewe op ’n ander plek begin, ’n mooi lewe sonder swaarkry en skaam wees. Maar sy wil wegloop sonder dat haar huismense weet, want hulle mag nie saamkom nie. Dit moet ’n geheim wees. Sy sal ’n blyplekkie soek. Dit kan maar klein wees, maar sy sal dit mooimaak en dit sal altyd netjies wees. Sy gaan ’n werk ook kry en eers wanneer sy sien dat haar ma en sussies begin het om na hulleself te kyk, mag hulle vir haar kom kuier, maar nét kuier. Hulle moet nie dink hulle gaan by haar kom bly nie. Sy gaan nie haar dinges afwerk en vir iemand sorg wat nie vir hulleself wil sorg nie. Haar pa sal nie welkom wees in haar huis nie, want sy weet hy sal nooit verander nie en sy soek nie ’n lui dronklap in haar mooi netjiese huis nie.
Mevrou Visser het na haar plan geluister en toe Lalie se geld gaan haal sodat hulle dit kon tel. Mevrou Visser het gesê sy wil Lalie help met haar plan en sy belowe om niks vir haar ouers te sê nie. Lalie kan self vir hulle laat weet as die tyd reg is. Mevrou Visser het gesê sy gaan vir Lalie ’n rekening by die bank oopmaak en die geld daarin sit, dan kry sy ’n rekeningnommer en ’n kaart. Mevrou Visser het ’n niggie wat in Beaufort-Wes bly. Sy het ’n gastehuis en soek op die oomblik iemand om haar daar te help. Mevrou Visser sal die nodige reëlings tref en dan kan Lalie by die tannie op Beaufort-Wes gaan bly en werk. Sy kan haar matriek later deur die pos klaarmaak. Sy het langs mevrou Visser gesit toe sy haar niggie bel. Die niggie het gesê dis reg so, sy wag vir Lalie.
Lalie kon haar ore nie glo nie. Vir jare al bid en wens sy vir haar donkerwolk se silver randjie en nou gaan dit regtig gebeur! Beaufort-Wes is nogal vêr hiervandaan, maar dit maak nie saak nie. Hoe vêrder weg, hoe beter. As sy die ou stink huis met sy pienk deur nooit weer hoef te sien nie, sal dit haar baie bly maak.
Lalie draai haar rug op die pienkdeur. In haar hand is die rooi Bybeltjie met die Nuwe Testament en Psalms wat Die Gideons nog by hulle skool uitgedeel het. Dis al wat sy uit die huis met die pienk deur saamvat Beaufort-Wes toe. Eergister was sy weer by die Vissers se huis. Mevrou Visser wou met haar gesels oor die finale reëlings vir Beaufort-Wes en Lalie het vir die laaste keer die hand-me-down-box gaan haal. En toe het mevrou Visser gesê sy het ’n geskenk vir Lalie en haar na die buitekamer geneem. In die buitekamer was twee splinternuwe tasse. Mevrou Visser het gesê sy moet dit oomaak. Lalie het begin huil. In die tasse was klere. Die mooiste rokkies, hempde, broeke én skoene. Dit was alles hare en dit was nuut! En dit was nie Pepstores se goed nie, Mr Price en Woolworths se labels was in die klere. Daar was ook ’n toiletsakkie met seep,sjampoo,tandeborsel en al die dinge wat ’n meisie mos maar nodig kry. Lalie het by die oop tasse gestaan tot die trane opgehou loop het, toe het sy vir mevrou Visser dankie gesê en sy het vir Lalie styf vasgehou. Lalie kan nie onthou of haar ma haar al ooit só vasgehou het nie. Dis hoe die warmte van moederliefde moet voel, het sy gedink.
Met die rooi Bybeltjie stap Lalie in die pad af, op pad na die Vissers se huis. Mevrou Visser wag al voor die huis in haar motor toe Lalie daar aankom. Lalie se tasse met die nuwe klere is op die agterste sitplek. Mevrou Visser groet vriendelik en Lalie klim in. Hulle ry in stilte dorp toe waar Lalie by die bushalte afklim. Voor sy op die bus klim, draai sy na Mevrou Visser toe en gooi haar arms om die vrou se lyf. Sy sê dankie vir alles en Mevrou Visser hou haar vas met daai moederliefde arms waarna Lalie haar lewe nog na verlang. Toe klim sy op die bus en Mevrou Visser ry terug huis toe. Kilometers later kom sy agter dat sy steeds die rooi Bybeltjie in haar hand het. Sy kyk daarna. As sy eendag haar eie huis het, sal sy die deur rooi verf, besluit sy, maar beslis nie pienk nie!

Herfs
1.1. Woorde op ‘n servet (Helena Mellet)

Katryn klap die veiligheidshek toe. Sy woorde hang in die lug, sy’t hulle gehoor, maar sy gaan nie hier staan dat hulle by haar ore verby kan seil in haar hart in nie. Sy stoot die voordeur toe en sien deur die venster sy gesig agter die tralies van die veiligheidshek. Hy bly staan, maar sy draai vinnig weg van die deur af en gaan val op ’n stoel neer langs die kombuistafel. Haar lyf voel swaar. Sy staar voor haar uit. Ek wil dit nie hoor nie. Ek wil dit NIE HOOR NIE! Baklei sy met haarself.
Dit werk nie meer vir my nie. Sy woorde. Daar waar hy dit gelos het agter die veiligheidshek, kry dit lewe en bars deur haar voordeur. Soos ’n tornado ruk dit deur haar kombuis en tref haar teen die bors. Katryn snak na asem. Dit werk nie meer vir hom nie. Wát werk nie meer vir hom nie? Sy besef dit was ’n fout om die hek toe te maak in sy gesig. Sy moet hom vra wat nie meer vir hom werk nie en hoékom! Katryn spring op en mik vir die voordeur. Sy loer deur die ruitjiie om te sien of hy nog agter die veiligheidshek staan. Hy’s weg. Sy vlieg om en hardloop die trappe na haar kamer twee-twee uit. Van daar sal sy kan sien of sy bakkie nog onder in die straat geparkeer staan. Niks. Geen teken van hom of sy bakkie nie. Dis asof hy nooit hier was nie. Sy woorde weergalm in haar kop en sy gesig agter die hek steek vas voor haar oë. Hy wás hier en hy het so pas hulle verhouding beëindig. Alweer.
Hierdie donkie het wragtag haar kop twee keer gestamp, dink Katryn. Vyf jaar gelede was dit die eerste keer. Katryn voel hoe iets binne haar begin brand. Sy het geweet dit gaan gebeur, haar gesonde verstand het haar gewaarsku, maar toe besluit sy om haar hart te volg, want dalk, net dalk, dié keer is dit anders. Sy dink terug aan die eerste keer toe sy vir hom geval het. Hulle was op skool. Hy, drie jaar ouer as sy en sy was maar pas in die hoërskool. Dis hý wat dit begin het. Sy was eers nie bewus van hom nie, maar toe kom vertel ’n vriendin haar eendag dat hy baie oor haar uitvra. Dis toé dat Katryn hom raaksien. Hy is lank met breë skouers en blonde hare, amper ’n tipe movie-figuur soos Ryan Gosling. Sy het vir die eerste keer agtergekom hoe hy onderlangs na haar loer as hulle in die skoolgange verby mekaar loop. Sy kyk het dinge in haar wakker gemaak en skoon kind wat sy toe nog was, het sy nie mooi geweet wat om met die emosies te maak nie, maar sy het geweet sy hou van hom. Hy het die eerste seine gestuur en sy het daarop gereageer en terug geloer, geglimlag en hy het haar glimlag beantwoord met ’n knielammaak smile.
Toe het die telefoonoproepe begin. Eers net elke Dinsdagaand en later sommer elke aand. Agtuur saans was die hoogdepunt van haar dag. Die foon het gelui en dan moes sy met moeite die opgewondenheid onderdruk as sy sy stem aan die ander kant hoor. Sy mag nooit vir hom gebel het nie. Hy het daarop aangedring om die belwerk te doen, want ’n vrou bel nie agter ’n man aan nie. Dis nog iets wat hom vir Katryn genadeloos aantreklik gemaak het – sy anderste manier van dinge doen. Die era van liefdesbriewe skryf was toe ook al lankal verby, maar hy het vir haar begin skryf. Kort een papier briefies wat hy saam met ’n vriendin pouses vir haar aangestuur het. Nog ’n sein van sy kant af waarop sy gereageer het en sy het vir hom terug geskryf.
Hulle gesprekke en geskrifte was oor alle daagse dinge en nog meer. Baie keer het hy haar gevra wanneer hy by haar huis kan kom kuier, sy weet nie hoekom nie, maar sy het altyd ’n verskoning gehad. Een aand wat hy gebel het en weer gevra het of hy kan kom kuier het sy vinnig die verskoning gegee dat sy verkoue het. Die volgende dag het hy saam met sy briefie vir haar ’n boksie Smarties gestuur. Pilletjies vir jou verkoue sodat jy gou gesond kan word en ek vir jou kan kom kuier. Maar hy het nooit kom kuier na die boksie Smarties nie. Katryn verstaan self nie vandag hoekom nie, maar sy het nooit met enige van haar vriendinne of haar ouers oor hom gepraat nie. Niemand het geweet van haar gevoelens vir hom nie. Die enigste persoon wat wel geweet het, was hyself. Sy het hom gesê hoe sy oor hom voel in ’n antwoord briefie op sy raad vir haar kama-verkoue. En toe is hy weg. Sommerso, het hy alle kontak verbreek. Geen telefoonoproepe meer nie, ook nie die briefies nie, selfs nie eens een woordjie as ’n reaksie op hoe sy haar hart op papier vir hom uitgestort het nie. Die seine was tog daar, hoe het sy dit so verkeerd gelees? Katryn was eers hartseer, toe verward en later kwaad. Sy het geglo sy het ’n goeie vriendskap dalk opgeneuk deur gevoelens te openbaar waarmee hy nie kon vereenselwig nie. Toe laat sy die saak maar daar, maar sy het al sy briewe gehou. Sy het dit in ’n koevert agterin haar Bybel gebêre. Die briewe was nie al wat sy gehou het nie, daar was ’n vlekkie op haar hart wat vir altyd aan hom sou behoort. Al was die gevoelens so deurmekaar en onbekend, was hy die eerste man vir wie sy werklik gevoél het.
Drie maande gelede, loop hulle mekaar vir die eerste keer na al die jare weer raak. Beide ’n bietjie ouer en sy heelwat wyser. Sy was met die eerste oogopslag al versigtig vir hom. Al was Katryn lankal nie meer kwaad nie, het sy hom op ’n afstand probeer hou. Die onthou van haar seer hart was vars in haar geheue, maar so ook die onthou van hoe kosbaar hy haar destyds laat voel het. Van sy kant af het hy die woord ‘vriendskap’ baie mooi voorgehou vir die eerste ruk. Hoe dankbaar hy is dat hy weer ’n ou vriendin terug gekry het en hoe baie hy haar vriendskap waardeur en en en. Die eerste sein het weer van sy kant afgekom, dink Katryn. Hy wou net vriende wees. Ten minste het sy dié keer geweet waar sy met hom staan. Of so het sy gedink, want dit was nie lank nie of dinge het begin uitrafel. Hy het weer begin bel, elke aand. Sy briefies van destyds het hy nou per SMS of op Facebook gestuur. Hulle het begin saam uitgaan en voor sy haar kon kry, was Katryn amper elke dag in sy geselskap. Toe begin dié twee “vriende” hande vashou in die fliek, lang stywwe drukkies deel en piksoentjies op die wang word intieme gevryery. Vriende doen toe dinge wat vriende nie veronderstel is om te doen nie en Katryn begin dit besef. Met een aand se gevry het sy hom gestop en reguit gevra: “Waar presies staan ek met jou?” Hy het haar hande in syne gevat, sy Ryan Gosling smile gegee en geantwoord: “Ek het jou lief.”
Dit was drie weke terug. Nou sit sy hier met daai vier woorde wat hy toe gesê het en die woorde wat hy vanaand daar agter by die veiligheidshek gelos het. Dit werk nie meer vir my nie. Katryn wil kwaad word, maar dit sal net vir haarself moet wees. Sy moes geweet het dit sal weer gebeur. Sy soek na die Bybel op haar bedkassie en tel dit op. Die koevert met sy briewe val uit en versprei op die mat. Haar oog vang ’n geel servet en sy tel dit eerste op. Verlede week toe hulle by La Romantica gaan pizza eet het, het hy dié woorde vir haar neergeskryf. Glo iets wat hy vroeër die dag raakgelees het.
Amber rus ons liefde, tot dit weer ontspring…
Wat sou hy tog hiermee bedoel het? wonder Katryn. Een ding is verseker, hier gaan nie gou weer ’n ding ‘ontspring’ nie. Nie vir hom nie, nie met hom nie, nooit ooit weer nie. Katryn gryp die bondel papiere op die mat. Sy maak haar kamervenster oop en begin elke briefie een vir een in stukkies skeur. Sy laat die flenters deur haar vingers val sodat die aandwind dit opskep en wegvat van haar. Net die servet skeer sy nie op nie. Sy maak die venster weer toe, druk die servet teen haar lippe. Sy sal hom laat gaan, sy sal die vlekkie in haar hart laat gaan en vergeet, vergeet van die telefoonoproepe, die briewe, SMS’e, als. Sy sal net hierdie een stukkie vir haarself hou, hierdie servet met die vreemde woorde sal haar herhinner; alle bome wat bot, dra nie altyd vrugte nie.

Winter-nostalgie
1.Koue hande, warm liefde

Die laatmiddagson gooi goue strepies deur die venster. Marietjie lê alleen in die kamer en lees haar boek. Haar oë volg die lyntjies van links na regs, maar sy neem nie een enkele woord in nie. Haar aandag is by die stemme in die sitkamer op die onderste verdieping.

Dit is ’n lang naweek. Marietjie se beste vriendin, Elisna en haar man, Paul, het ’n huisie in die Cederberge gehuur en ’n groep vriende saam genooi. Die houthuisie het twee verdiepings; bo is al die slaapkamers en badkamers en onder is die kombuis en ruim leefarea. Die gesels en gelag onder haar bly haar aandag aftrek en Marietjie slaan haar leesboek geirreteerd toe. Sy maak haar oë toe en probeer na die stemme luister.

Daar is Elisna en Paul en Willem en sy verloofde, Igna. Willem en Ina kuier gereeld saam met Elisna en Paul. Dan is daar ook Harry en Janeke. Marietjie het al vantevore vir Harry ontmoet, maar sy ken glad nie vir Janeke nie. Daar was nog plek vir twee mense en Janeke het haar suster en dié se kerel saam genooi. Ongelukkig het iets voorgeval en Janeke se suster kon nie meer kom nie. Nou het net die kêrel hier opgedaag en dit is oor die einste kêrel se teenwoordigheid dat Marietjie in die kamer wegkruip.

Marietjie, Elisna en Paul het Donderdagoggend net na tien voor die huisie stilgehou. Die ander twee paartjies was kort op hulle hakke. Almal het gegroet, afgepak en Paul het dadelik die kaggel in die sitkamer aangesteek om die winterkoue weg te jaag. Elisna het koffie gemaak en die groep jongmense het rustig voor die kaggel in die sitkamer gesit en ontspan toe iemand aan die voordeur klop. Paul het die deur gaan oopmaak en Janeke se suster se kêrel het die uiteindelik by die groep aangesluit. Marietjie kon haar onderkaak voel val tot op haar skoot. Sy kon haar oë nie glo nie. Dit was Johan. Nie net Janeke se suster se Johan nie, maar ook dieselfde Johan wat ses jaar gelede Marietjie se hart in duisend stukkies gebreek het.

Die verhouding het geindig met ’n deur wat toeklap. Sederdien daai deur toe geklap is, het Marietjie en Johan nog nie weer met mekaar gepraat nie.
Dit is vandag Saterdag en Marietjie probeer al heel naweek uit Johan se pad bly. Gelukkig het sy haar kamera en twee leesboeke saamgebring. As sy nie lus is vir lees nie, gaan stap sy lang ente en neem foto’s. Die kamer is koud, maar sy weier om by die kaggel te gaan sit. Sy sien eenvoudig nie kans vir Johan se gesig nie. Elisna verstaan ook hoekom Marietjie haar skaars hou, want sy ken die storie.

Daar is oorgenoeg mense om Johan besig te hou, maar in die tyd wat hy hier is, het al ’n paar keer in Marietjie se rigting gemik. Dan maak sy of sy hom nie sien nie, draai om en loop by die vertrek uit. Gisteraand het sy wakker geword, want dit het gevoel of iemand haar dophou. Deur skrefies oë het sy hom in die deur sien staan. Haar kamerlig was al af, maar die ganglig het gebrand. Johan het in die deur gestaan en gevra of sy nog wakker is. Marietjie het hom nie geantwoord nie en haar oë styf toegeknyp tot sy hom hoor wegloop het.

Marietjie staan van die bed af op en gaan staan by die venster. Hulle is omring deur berge en ’n digte plantegroei. Marietjie kan vlekkies sneeu hier en daar op die hoogste pieke sien. Paul het vertel van ’n riviertjie wat naby die huis verbyloop. Marietjie voel lus om daarheen te stap. Sy gryp haar warm baadjie en kamera en toe sy voor die kamerdeur staan, steek sy vas. Die enigste uitgang is onder. Sy sal verby almal moet loop. Die gedagte maak Marietjie moedeloos, maar dan kry sy skielik ’n idee. Sy gaan staan weer voor die venster.

Daar is geen diefwering nie. Van hier bo af lyk die grond baie vêr. Sy sal nie kan spring nie. Haar oog van die geut wat langs die venster teen die huis afloop. Sy kan met die geut afgly tot op die grond. Dit klink absurd, maar dis haar enigste manier hier uit. Marietjie klim op die vensterbank en posisioneer haarself in die geut se rigting. Dit het makliker gelyk as wat dit is. Sy steek haar arms uit, vat die geut vas en swaai haar lyf van die vensterbank af sodat sy soos ’n bang kat aan die geut hang.

Vir ’n oomblik is Marietjie baie spyt oor die lawwe idee, maar dis nou te laat. Die wit pyp is klam en haar hande begin gly.
Sy skiet teen die pyp af met ’n onnodige spoed en net voor sy die laaste entjie bereik, glip haar hande van die geut af en Marietjie val agteroor. Sy skrik en probeer op haar voete land en slaag byna nie omdat haar een enkel onder haar meegee. Sy vloek saggies toe die skerp pyn deur haar lyf opskiet, maar staan regop en probeer so vinnig moontlik van die huis af wegloop voor iemand haar sien.

Marietjie hinkepink deur die bosse en oor die witsand van die rivierwal tot by die stroompie. Die toneel voor haar is aangenaam verfrissend. Die son is besig om agter die berge weg te sak en die laaste oranje gloede speel oor die vlak water wat sonder haas oor blink klippies kabbel. Reënwolke omhels mekaar in die lug. Marietjie stap ’n entjie vêrder tot sy ’n ’n groot kliprots bereik. Sy klim die klip uit en kreun toe haar enkel nie wil saamwerk nie. Sy gaan sit en maak haarself gemaklik met haar bene lank voor haar uitgestrek. Sy dink darem nie haar enkel het ernstig seergekry nie. In die koue voel alles mos erger.

Marietjie haal diep asem en probeer ontspan. Haar gedagtes dwaal terug na die houthuisie se sitkamer en Johan wat saam met die ander vriende voor die kaggel sit en kuier. Sy voel skuldig omdat sy hom ignoreer, maar wat sal sy tog vir hom sê? Wat sal praat nou help? Hy het die laaste praatwerk gedoen, die aand toe hy hulle verhouding verbreek het. So uit die bloute soos ’n voël wat op jou tjorts, het hy alles beindig.

Johan was haar eerste ware liefde. Voor en na hom was daar baie ander verhoudings, maar hy was tot dus vêr die enigste een wat sy verby haar hart, tot in haar rugmurg lief gehad het. Dinge het goed gegaan tussen hulle. Die verhouding was bietjie meer as vyf maande oud en Marietjie en Johan was dolverlief.

Toe daag hy een aand by haar woonstel op. Hy wou nie ingaan nie, het net buite die deur gestaan en haar met sy woorde verpletter. Dit werk nie meer vir hom nie. Marietjie het nie vrae gevra nie. Sy het die deur gevat en in sy gesig toegegooi. Sy het gewonder hoekom dit ewe skielik nie meer vir hom gewerk het nie en toe, ’n paar dae later, kry sy haar antwoord op Facebook.
Daar was ’n ander meisie en daar was nogal baie foto’s van hulle twee saam. Marietjie het deur die ander meisie se profiel gegaan soos ’n regte stalker en vinnig tot die slotsom gekom dat Johan en dié meisie mekaar al begin sien het terwyl hùlle twee saam was. Die lae luis! Marietjie voel hoe die vernedering weer in haar opborrel. En dan raak sy weer vir haarself kwaad soos sy daai aand wat sy die deur toe gegooi het ook kwaad geword het vir haarself, want hoe kon sy nié die tekens raaksien nie?

’n Koue windjie waai slierte hare in haar gesig. Hoendervleis slaan oral op haar lyf uit. Die wolke raak meer en donkerder. Daar is nogal reën voorspel vir die naweek. Ook maar goed sy het haar tas vol geprop met so baie warm klere. Toe Johan met haar uitgemaak het, was dit ook winter. Dit was die langste, koudste winter van haar lewe. Sy het gehuil todat haar traankliere nie meer trane wou maak nie en toe het sy gehuil sonder trane. Sy was hartseer, sy was kwaad, sy was spyt en sy het deur al die emosies gegaan tot sy nie meer wou voel nie en toe het sy aanbeweeg.

Hy skynbaar ook, want nie baie lank daarna nie, is hy en die ander meisie verloof. So het Marietjie by vriende gehoor. Toe haal sy hom van haar Facebook af en vee sy nommer van haar foon af. Wat intussen gebeur het dat hy van verloof na Janeke se suster se kêrel gevorder het, weet Marietjie nie, maar sy weet Janeke se suster is nie die meisie aan wie hy verloof was nie.

’n Geritsel in die bosse agter haar laat Marietjie skrik en omkyk.
“En as jy hier sit soos ’n uil op ’n kluit?”
Die stem eggo in haar ore. Johan kom nader geloop.
“Ek kan seker sit waar en hoe ek wil.” antwoord Marietjie.
Sy vergeet van haar enkel en spring vererg van die klip af, maar val plat op haar maag toe die seer enkel onder haar invou. Johan kom vinnig nader. “Pasop jong!” sê hy. Marietjie voel hoe Johan se warm hande haar aan die skouers vat en optrek. Die val was gelukkig nie hard nie, maar haar klere is nou vol sand. Johan se hande is nog steeds om haar skouers.

“Is jy oukei?” vra hy besorg. Marietjie wriemmel onder sy hande uit en probeer regop staan. Vies stof sy die sandkorrels af.
“Ja, dankie.” sê sy.
“Jy het omtrent in ’n springer ontaard.” spot Johan. Marietjie frons. “As jy nie uit kamervensters uitspring nie, hop jy rond tussen klippe.” Johan lag vir sy grappie,
maar Marietjie dink nie dis snaaks nie.
“Hoe weet jy van die kamervens…”
begin sy, maar hy onderbreek haar; “Ek het iets in my bakkie gaan haal, toe sien ek jou by die geut afseil.”

Vervlaks, dink Marietjie.
“Ek het ook gesien jou enkel het seergerky,” gaan Johan voort
“en toe kom kyk ek of jy oraait is.”
Marietjie sê niks. Kyk hom net aan met die frons tussen haar oë. “En, is jy?” vra Johan.
“Is ek wat?” vra sy bot.
“Is jy oraait?” herhaal hy.
“Ja, dankie. Verskoon my.” sê Marietjie en skuur verby hom. “Waarheen gaan jy nou?” vra Johan.
“Terug huis toe” antwoord sy.
“Maar jy het skaars hier kom sit?” sê Johan.
Marietjie antwoord nie. Sy byt hard op haar tande want die enkel is seer en sy loop met haar volle gewig daarop. Sy sal nie mank loop voor Johan nie. “Wag, ek loop saam!” roep hy agterna en kom nader gedraf. Marietjie gaan staan en draai om. “Nee!” sê sy streng. “Loop op jou eie, asseblief.” Johan gaan ook staan. “Hoekom?” vra hy verbaas.
“Sommer.” antwoord sy.
“Meraai.” sê hy sag.
Marietjie voel hoe haar binneste kriewel. Meraai is sy troetelnaam vir haar. “Moenie my Meraai nie, Johan. Los my net uit asseblief.” Sy draai weer om en stap vêrder in pyn.

Skielik is hy langs haar en hy gryp so vinnig na haar arm dat sy haar ewewig verloor. Voor Marietjie weer kop eerste in die sand duik, vang Johan haar in sy arms. Haar wange gloei. “Wat dink jy doen jy?” sis sy vir hom. Hy laat haar weer op haar voete staan, maar hy haal nie sy hande van haar af nie.
“Asseblief Meraai. Praat met my. Jy hardloop al heel naweek vir my weg. Praat net met my, asseblief.” soebat Johan. Dis byna donker en die wind waai nou sterk om hulle.
“Ek het nie lus nie.” sê Marietjie.
“Is jy dan nog steeds kwaad vir my?” vra Johan.
Marietjie kyk op in sy oë. Sy is bly hy hou haar nog vas, want haar knieë voel skielik lam. “Ek weet nie wat ek voel nie en ek weet ook nie wat om vir jou te sê nie.” sê Marietjie sag en kyk weg. Die huil stoot in haar keel op. Hy steek sy hand uit en lig haar ken sodat sy hom weer in die oë kyk. “Meraai.” fluister hy.

“Ek het gesê, moenie my Meraai nie!” skree Marietjie en stoot hom weg. “Hou jou naampies vir al jou ander girlfriends!”
“Watter girlfriends? Waarvan praat jy?” skree Johan terug.
“Daai flêrrie wat jy my mee verneuk het, jou kastige verloofde man en hierdie ander meisie…wat ook al haar naam is,Janeke se suster!” Die trane brand nou in Marietjie se oë.
“Janeke se suster is nie my meisie nie, dis net ’n vriendin.” sê Johan
“En wat van die ander een?” vra Marietjie.
“Kari? Ek het jou nie met haar verneuk nie, Marietjie. En sy het die verlowing verbreek. Twee jaar terug al.” antwoord Johan ongeduldig.

Marietjie voel die nattigheid oor haar wange rol. Johan sien dit en beweeg nader aan haar.
“Verlowing verbreek?” snik Marietjie. “Hoekom?”
“Want my hart was nie honderd persent by haar nie.” antwoord Johan. Hy staan nou reg voor haar. Groot reëndruppels plons een vir een om hulle neer.
“Wat het jou hart in die eerste plek by haar gesoek?” vra Marietjie.
“Meraai,” sê Johan sag en vee met die agterkant van sy hand oor haar hare. “ek en jy, ons verhouding het destyds baie vinnig baie ernstig begin raak. Ek was onseker of ek gereed sou wees om te settle. Ek het gedink om ’n break te vat. Net vir ’n rukkie om my kop reg te kry. Die aand wat ek gegaan het om met jou te praat, dit was ’n ramp. Ek was so senuagtig en die woorde het heeltemal verkeerd uitgekom. Toe jy die deur in my gesig toemaak het ek geweet die skade is gedoen en niks wat ek daarna sou sê sou dit beter maak nie.”

“En toe raak jy maar verloof aan die meisie met wie jy my verneuk het?” onderbreek Marietjie hom.
“Ek het jou nié met Kari verneuk nie, Marietjie. Ek ken Kari lank voor ek jou ontmoet het,ja, maar ek het eers met haar begin uitgaan na ek en jy uit is. En ja, dit was vinnig, selfs ek moet erken dat dinge hopeloos oorhaastig gebeur het en ek weet nie hoekom nie, maar dit was ’n dom fout. ’n Dom dom fout, want ek het jou lief, Marietjie. Ek het jou nog altyd lief gehad en Kari het dit geweet. Toe laat sy my gaan.”

Marietjie se trane en die reëndruppels is nou een. Hy het haar lief. Haar ore is bewus van al die woorde wat by sy mond uitkom, maar haar hart hoor; hy het haar lief.
“Sê iets, Meraai.” soebat Johan en neem haar hande in syne.
“Ek het jou ook lief, Johan.” sê Marietjie “,maar jou hande is baie koud.” Johan lag en trek haar teen hom vas. “Wel, jy weet wat hulle sê van koue hande?” terg hy. “Iets te doen met warm liefde?” fluister Marietjie teen sy wang en vou haar arms om sy nek. Hy laat sak sy kop en laat sy lippe saggies oor hare streel. Dit stortreën oor die omhelsende paartjie en die wind waai koud teen hulle vas, maar Marietjie se binneste voel vuurwarm. Dit is die warmste winter wat sy al ooit beleef het, koue hande en al.

@ Helena Mellet

‘n Stem vir Gesondheid – 1 Nov tot 30 Nov 2016

1.Ouma se drome

Dis nog vroeg en ek is dik deur die slaap. Ek staan seker al ‘n kwartuur lank onder die stort in die hoop om wakker te word, maar die warm water maak my net lomerig en lus om terug te klim in my bed. Hoekom alweer ek? Die onsmaaklike taak om Ouma haarkapper toe te vat, is gisteraand aan eettafel na my kant toe gegooi. Verstaan my mooi, ek is baie lief vir my ouma en ek weet sy kan nie help vir haar toestand nie, maar dis net so blêrrie ongerieflik. Here, vergewe my gedagtes, maar om ‘n kêns ouvrou te vat vir ‘n perm is nie ‘n nice manier om ‘n Maandag mee te begin nie. Ons studente is in die middel van eksamen. Ek skryf eers weer oor drie dae, maar elke afdag is kosbaar. Dis laatlê en asemhaal voor die groot leerproses hervat vir die volgende vraestel. Kopskoonkry en jouself omring met dinge en mense wat jou binneste weer rustig maak. Vyf minute in Ouma se geselskap put my uit. Sy praat dieselfde goed oor en oor en jy kan haar nie vir ‘n oomblik alleen los nie, anders klap haar kop vas en vat sy die pad. Soos die keer met Pa se vyftigste verjaarsdag. Ma het vriende en familie oorgenooi vir ‘n braai. Ouma en Oupa woon in ‘n aftreekompleks nie ver van ons af nie en hulle was ook hier vir die party. Halfpad deur die aand het Oupa benoud kom sê dat Ouma weg is. Met al die mense, musiek en dinge het niemand agtergekom toe sy die voordeur oopmaak en uitloop nie. Die partytjie was dadelik op ‘n einde, want ons moes na Ouma gaan soek. Tienuur daai Saterdagaand kry ons haar in ‘n parkie, drie blokke van ons huis af. Sit en swaai in die donkerte soos ‘n kind.

Ek draai die kraan toe en klim traag uit die stort. Ek pluk die handdoek van die reëling en droog af. Ek sal my dinges moet roer. Ek moet nog vir Ouma by die aftreekompleks gaan oplaai. My ouer suster het haar eie haarsalon, maar sy weier om Ouma se hare te doen. Sy sê Maandae is haar besige dae en sy wil nie hê Ouma moet haar ander kliënte pla nie. Ek dink sy kry net skaam vir Ouma en is bang die dorp se tannies gebruik Ouma vir ‘n onderwerp saam met al die ander skinderpraatjies wat in die salonne hang. Ons ouboet moet kastig saam met sy aanstaande gaan skoene soek vir die troue. Hulle trou Saterdag en dis nou juis die rede dat Ouma vandag ‘n perm moet kry. Ma en Pa werk altwee, so dis natuurlik buite die kwessie vir hulle om vir Ouma rond te ry. So die gelukkige wenner, is ek. Terug in die kamer, gooi ek ‘n ligte somersrokkie oor my kop en bondel my lang hare in ‘n morsige bolla. Wonder wat ek met my hare gaan doen vir die troue? Ek tel my beker op en sluk die laaste koffie daaruit wat koud geword het terwyl ek in die stort was. Ek druk my voete in ‘n paar sandale en gryp my Golfie se sleutels, beursie en selfoon. Here we go.

Die Maandagoggend verkeer is mal. Die bestuurders in die ander voertuie lyk ook maar nog net so deur die slaap soos ek. By die kompleks teken ek in en ry deur in die nou al bekende paadjie af na Ouma-hulle se straat. Niemand wil ooit vir Ouma rondry nie. Selfs nie Oupa nie. Al wanneer hy saam met Ouma in ‘n kar is, is as hulle elke Sondagmiddag vir ons kom kuier. As Ouma iets nodig het of op ‘n plek moet wees, is dit altyd ek en my Golfie wat verby moet kom. Ek hou stil voor die huisie, net so wit en eenvoudig soos al die ander. Die voordeur staan oop.
Oupa weet ek kom haal haar, daar is vooraf met hom gereël. Ek klim uit, sluit en loop by die huis in, maar daar is nie ‘n siel insig nie. Ek roep na hulle. Kyk rond in die kombuis en klein sitkamertjie. Daar staan ‘n bakkie met iets wat lyk soos half geëete hawermout. Ouma verskyn met ‘n dowwe geskuifel uit die gang. “Hallo en wat maak jy hier?” groet sy.
“Ek kom Ouma haal vir Ouma se hare. Is Ouma gereed?” Sy lyk nie gereed nie.
Sy het ‘n ou sweetpakbroek aan, pantoffels en ‘n wit trui wat hopeloos te groot hang aan die klein skouertjies. Die gerimpelde gesig is ook nog nie eens gewas nie, sien ek. “Wat makeer my hare dan?” vra Ouma en glimlag dom.
“Ons gaan Ouma laat mooimaak vir Boeta se troue. Ouma weet mos.”
Sy skuifel- skuifel kombuis toe en kyk by die venster uit. So asof sy my nie hoor of raaksien nie. “Waar is Oupa?” vra ek.
“Nee jong, ek weet nie.” antwoord Ouma en kyk weer na my. “Wat maak jy hier?”
Ek sug. “Ek het Ouma kom haal. Ons gaan haarkapper toe. Hoe weet Ouma nie waar Oupa is nie?” Die grys koppie skud heen en weer.
“Hy is net hier uit. Kuier seker weer by die buurvrou.” Die irritasie krap aan my maag. Ek loop deur die huisie, kyk buite om die huisie en in die garage. Hulle kar staan nie daar nie. Oupa het gery. Vervlaks! Hy het geweet ons kom haar haal en hy is nie veronderstel om haar alleen te los nie. “Oupa het gery, Ouma. Weet Ouma waarheen?” vra ek. Sy staan nog steeds in die kombuis voor die venster.
Hande in mekaar gevou. “Kyk in die kamer. Hy sit en lees daar ‘n koerant of ‘n ding.” sê Ouma. Ek byt op my tande.
“Oupa het gery, Ouma. Hy is nie hier nie.” Ek soek na ‘n stukkie papier en ‘n skryfding. Sal maar vir hom ‘n briefie los. Ek moét nou ry, anders gaan ons nie betyds wees vir Ouma se afspraak nie. “Het Ouma al geëet vanoggend?” vra ek en sit die nota so neer dat Oupa dit dadelik sal raaksien.
“Nee.” antwoord Ouma.
“Wie se pap is dit dan dié?” vra ek en beduie na die bakkie.
“Nee, ek weet nie.” glimlag ouma.
“Wil Ouma ander klere aantrek voor ons gaan?” vra ek.
“Hoekom? Waarheen gaan ons dan?” sy glimlag nog steeds. Ek dink nie dis ‘n vriendelike glimlag nie, sy doen dit omdat sy nie weet wat anders om te doen nie. “Ons gaan gou Ouma se hare mooi maak. Wil Ouma iets anders aantrek of is Ouma warm genoeg?” Die ongeduld pluk nou aan my stembande. Ek haat hierdie situasie waarin ek forseer word. “Nee, ek is reg.” sê Ouma.
“Nou kom dat ons ry, Ouma.” sê ek en vat haar hand. Ons loop by die voordeur uit. Ek trek dit agter my toe. Sal maar nie sluit nie, netnou kan Oupa nie terug in nie. Sal eintlik sy verdiende loon wees. Ons het al hoeveel keer vir hom gesê om nie vir Ouma op haar eie te los nie.

“Waarheen gaan ons dan nou?” vra Ouma toe ek die Golfie se enjin aanskakel. “Haarkapper toe, Ouma.” Ma sê altyd dit help nie om moeilik te raak nie. Antwoord maar net weer en weer dieselfde ding.
“Maar daar is niks fout met my hare nie.” sê Ouma verontwaardig.
“Ek weet, Ouma, maar ons gaan dit ekstra mooi maak. Vir Boeta se troue Saterdag.” Ek wag dat sy moet vra wie Boeta is of met met wie trou Boeta, maar sy doen nie. Ons ry in stilte by die kompleks uit. Ek is klaar vyf minute laat en vleg versigtig deur die verkeer. Ons laat doen gewoonlik Ouma se hare by ‘n vrou wat ‘n haarsalon by haar huis het. Dis makliker, want daar is minder mense en die vrou is baie geduldig met Ouma. “I dreamed a dream in times gone by.” sê Ouma saggies.
“When hope was high and life worth living.” voltooi ek. Dis ‘n liedjie wat Ouma gereeld sing of opsê wanneer sy verbouereerd voel.
“Waarheen gaan ons nou?” vra sy. Ek trap die petrolpedaal dieper in. Jesus, help my deur die oggend asseblief. “Haarkapper toe.” antwoord ek.

Ek hou stil in die straat voor die haarkapper se huis. Help Ouma met moeite uit die Golfie en oor die straat. Die haarkapper groet vriendelik toe ons die deur oopstoot. “More tannie. Lekker om tannie weer te sien.” sê sy vir Ouma, maar Ouma maak of sy haar nie hoor nie. Ek skud my kop verksonend en die haarkapper knik om te wys sy verstaan. “Sit solank daar op die bankie, ek is nou by julle.” sê sy en draai om om verder te knip aan ‘n vrou se reeds te kort hare. Ek en Ouma gaan sit op die harde bankie in die hoek. Spesiaal daar geplaas vir wagtende kliënte. Die salon is nie so stil soos ek gehoop het nie. Al is dit nog vroeg, het al vier die haarkapper se stoele ‘n lyf in. “Nou wat maak ons hier?” vra Ouma. Die vrou naaste aan ons loer onderlangs na Ouma. Haar kop is vol silver velletjies. Lyk of sy highlights kry.
“Ons kom maak Ouma se hare mooi.” fluister ek vir ouma in die hoop dat sy die skimp vang en ook sagter sal praat. Ek gryp ‘n tydskrif van ‘n hoop af en druk dit in Ouma se skoot. Ek weet sy lees lankal nie meer nie, maar die prentjies sal haar besig hou. Die haarkapper is byna klaar met die vrou met die kort hare. Sy het twee bruin vroutjies wat haar help om hare te was, droog te blaas en die geknipte hare weg te vee. Haar ma help ook soms uit, maar ek sien nie die tannie vandag hier nie. Ouma blaai lusteloos deur die tydskrif. Kyk na niks in besonder nie. Gou is sy deur dit en moet ek ‘n nuwe een aangee. Die vrou onder die velletjies foil kyk aanmekaar na Ouma se kant toe. Ek besef dadelik dat Ouma se sweetpakbroek-en-pantoffel uitrusting haar seker interesseer, want syself is geklee in ‘n swart stywe broek en rooi hoë hakke. Seker oppad na ‘n funksie toe of iets.

Die haarkapper haal die swart oorseil van die korthaar vrou se skouers af. Die vrou bekyk die kapsel van alle kante af, bedank die haarkapper, staan op en loop saam met die haarkapper na die till toe. Een van die bruin vroutjies kom dadelik met die besem nader en begin vee. Ouma kyk van die tydskrif af op. Die vrou met die besem het haar aandag getrek. “Kyk net hoe groot is haar agterstewe.” hak ouma kliphard af. Eers toe ek na die vroutjie kyk, sien ek vir die eerste keer die rondelyfie wat in ‘n te stywe denim ingedruk is. “En die dik bene! Hoe kom sy weer uit daai broek uit?” Ek het lus en kruip onder die harde bankie in! Die vrou onder die foil kyk na ons. My gesig slaan aan die brand. Ek kyk vining om te sien of die vroutjie met die besem gehoor het, maar ‘n droeër oor een van die ander vrouens se koppe dreun gelukkig hard genoeg. Ouma se woorde het net my ore en die vrou met die foil bereik.
“Wat sien Ouma wat mooi is in die boek?” probeer ek die onderwerp verander en Ouma se aandag van die bruin vrou met die stywe broek weglei. Ouma antwoord nie, blaai net weer deur die boek vol huis en tuin prentjies. Ek sug van verligting. Ouma kan mens soms lelik in die skande steek. Sy sê net wat in haar kop opkom, van enige iets of iemand. Sonder filter, sonder klankdemper, sonder nadink oor die gevolge. Nes ‘n klein kindjie. Die vrou met die kort hare groet die haarkapper en loop by die salon uit. “So ja tannie,” sê die haarkapper toe sy nader loop. “nou is dit tannie se beurt. Kom ons gaan was eers gou die haartjies.” Ouma kyk op van die tydskrif af na die haarkapper en dan na my. “Waarheen gaan ons nou?” vra sy. Sy lyk bang. “Ons gaan nou Ouma se hare mooimaak.” sê die vrou. Dankie Jesus, dis een minder antwoord wat ek moet gee. “Maar daar is niks fout met my hare nie. Ek wil huistoe gaan.” sê Ouma opstandig. Die vrou onder die foil kyk weer. “Alzheimers.” fluister die haarkapper vir haar en beduie met haar wysvinger na haar kop. Ek het mense dit al dikwels sien doen en dit maak my so befoeterd. Die gebaar wat aandui dat iemand mal in die kop is. Dis okay as ék dit doen, maar ander mense moenie so van my ouma praat nie. Sy kan nie help nie. Hulle weet nie wat dit is om so te wees of wat dit is om saam met so ‘n persoon te leef nie! “Kom Ouma.” sê ek en vat die tydskrif by haar. “Ouma se hare is mooi. maar ons gaan Ouma net nog mooier maak. Vir Boeta se troue, onthou?” Ek help Ouma op. Sy loop gedweë agter my aan na die wasbak waar ‘n ander bruin vroutjie wag. Die haarkapper sê sy is nou met ons en gaan solank aan met die vrou onder foil. Ek en die bruin vroutjie help Ouma op die stoel voor die wasbak. Gooi die handdoeke oor en verstel die stoel tot sy gemaklik sit. Onderlangs hou ek die haarkapper en die foil tannie dop. Druk ingesprek en hulle kyk kort-kort in ons rigting. Die droeër se gedreun maak dat ek nie kan hoor wat hulle sê nie, maar ek weet waaroor daardie gesprek gaan.

“My boude is te groot vir die stoel.” onderbreek Ouma my gedagtes. Ek kan nie help om te glimlag nie. Die vroutjie agter die wasbak glimlag ook. Sy paai Ouma, vertel haar sy kan onstpan. Sy sal saggies werk. Almal ken nou al vir Ouma. Eendag kom sy in, dan is die water te warm of te koud. Of sy gil dat hulle haar seermaak of sy kla hulle werk te sag. Hulle weet nou al hoe om haar te hanteer, nes ons. Jy hoor maar wat sy te sê het, maar gaan normaal voort sonder om jou regtig aan haar versoeke te steur, want hulle verander elke minuut. Maar vandag is Ouma rustig en ek stuur ‘n skietgebed na Bo. Sy sit stil deur die hele kopwas-sessie. Kla nie eenkeer nie.
Ek staan langs haar. Soos altyd. Moes dit van die begin af so doen. Wasbak, stoel, knip, perm, terug wasbak toe en dan weer terug stoel toe vir droogblaas en kam. Heel pad piekel ek so saam met Ouma. Solank sy jou by haar sien, is sy rustig. Los jy haar op haar eie tussen die vreemde mense, maak sy amok. Soos die keer wat sy die conditioner oor die spieëls gespuit het. Dit was die eerste keer wat ek haar moes bring en ek was nog nie so gekonfyt met Ouma en die haarsalon ritueel nie. Ek het op die harde bankie in die hoek bly sit en tydskrifte deur geblaai. Toe hulle Ouma se hare was, spring sy skielik van die stoel af op en skel die vroutjie wat haar hare was uit. Ouma het vas gegelo die vrou het in die tuin gewerk voor sy ingekom het en met haar vuil hande aan Ouma se kop begin werk. Toe gryp sy die naaste bottel en druk dit so hard dat die conditioner in dik strepe deur die lug trek.

Ek is dankbaar vir mense soos die personeel hier by die haarsalon. Hulle stap die pad saam met ons en Ouma. Hulle doen moeite om Ouma te akkommodeer ten alle tye en in alle situasies. Nes ons ook doen. Ek kan nou verstaan hoekom my suster nie Ouma in haar salon wil hê nie. Dis nie net oor die skaamkry nie. Dis ‘n ontwrigting. Vir haar, haar besigheid en vir Ouma. Want solank Ouma in ‘n omgewing is waaraan sy gewoond is of bekend is mee, is sy fine. Dis in nuwe plekke en vreemde spasies dat sy snaaks raak. Bang, benoud en onseker. Soos ‘n kind in ‘n groot winkelsenstrum wat van sy ma af weggedwaal het.

Ouma se hare is klaar gewas en ons beweeg na die volgende stasie. Hierdie staan gaan lank wees, want daai krullertjies vat nogal ‘n tydjie om in te draai. Weer help ek en die vroutjie haar op die stoel, verstel en skuif reg tot sy gemaklik sit. Die haarkapper haal die laaste stukkie foil uit die ander vrou se kop en stuur haar wasbak toe vir afwas. Dan kom staan sy agter Ouma. “Daarsy Oumatjie. Nou kan ons met jou begin.” sê sy. Hoekom praat almal met haar in verklein woorde? Oumatjie het ‘n mooi truitjie aan. Watter kossies wil Oumatjie eet vandag? Hoekom lyk die ogies dan so hartseer? Dit irriteer my grensloos. En dis mý ouma, sy is niks van die ander nie. Nie almal hoef haar so te “Oumatjie” asof hulle deel is van ons familie nie. Of dalk is hulle? Dalk is hulle in medelye en probeer verstaan deel van ons én haar.

Die haarkapper begin met die perm op Ouma se kop. Sy maak verskoning vir die koue stink vloeistof wat sy op die fyn haartjies spuit. Ouma hou haar dop in die spieël . Sê niks. Wonder wat dink sy? Ek haal my selfoon uit my rok se sak en vang op op die nuutste sosiale media nuus. Gou-gou is Ouma se kop vol van die klein bont krullertjies. Die haarkapper draai weg en gaan voort met die ander dames se koppe. Ek gee weer vir Ouma ‘n tydskrif aan vir prentjies kyk, want sy begin vroetel met die handdoek wat om haar kop gedraai is. Sy gee twee blaaie en klap dan die tydskrif toe, gooi hom op die kassie voor haar neer. “En nou, Ouma?” vra ek.
“Ek mis my man. Wanneer kan ek hom weer sien?” Ek vat die tydskrif en sit dit netjies terug op die hoop. “Nou-nou, ons is amper klaar hier.” paai ek.
“I dreamed a dream.” sê sy sag.
“Wat dink Ouma van die rok wat Ma vir Ouma gekoop het vir Boeta se troue?” probeer ek haar aandag terug kry in die werklikheid. Tevergeefs. Ouma zone heeltemal uit. Ek sien sy skuif-skuif rond op haar stoel, trap onder teen die muur vas en gly af. “Ouma moet stilsit, anders gaan Ouma afval” waarsku ek. Sy glimlag stout en hou aan. Sit regop en gly dan weer af tot op die punt van haar stoel. Nes ‘n stout kind. “Ouma gaan val.” sê ek streng.
“Is nie” praat sy teë. “My boude is net te klein vir die stoel.”
Liewe Vader, ek het al gehoor mense praat van oumense wat weer soos kinders word, maar dis heeltemal anders as jy dit eerstehands beleef. Daar is so baie mense wat kla oor die grootmens wêreld en dikwels terugwens na hulle sorglose kinderjare. Is dit dalk ‘n wens van Ouma wat waar geword het? Haar brein het ge-reverse na ‘n tydperk van dom en afhanklik wees. Mense met dié kopsiekte word weer kinders. Met kinders word daar geraas en met moeite en geduld geleer van die wêreld om hulle. Wat maak Ouma dan soveel anders? Net die ouderdom. Hoekom kan ons nie so verdraagsaam wees met Alzheimer-oues soos ons met klein kiddies is nie? Of is dit omdat Alzheimer ‘n siekte is, ‘n toestand waarvoor die oningeligtes vlug, want netnou moet hulle help of netnou steek hulle aan.

Ek bid die minute in die salon verby. Ouma se krullertjies word uitgehaal, hare gespoel en drooggeblaas. Die netjiese kapsel laat lyk haar sommer ‘n jaar of wat jonger. As ek vining na haar kyk, kan ek my verbeel dis die ou ouma van vyf jaar terug. Voor die groot vergeet sy tol geneem het. Ons ry in stilte huistoe. Ouma vra nie vrae nie, dream ook nie dreams nie.
Voor hulle huisie in die aftreekompleks hou ek weer stil. Die garage staan oop en ek sien hulle karretjie daarbinne. Oupa is terug. Die oggend het my moeg gemaak, ek het nie nou lus vir baklei met hom nie. Sal dit maar los vir Ma om te doen. Ons klim uit en ek help Ouma oor die tuinpaadjie tot in die huis. Oupa staan en lees koerant in die kombuis. Die half geëete pap staan nog steeds daar. Die lepel stokstyf in die koue hawermout. “Hallo Oupa.” groet ek. “Dagsê.” Hy vou die koerant toe en kyk na ons. “Wat het jy met jou hare aangevang?” vra hy vir Ouma.
Hulle het my mooi gemaak.” sê Ouma en glimlag vir Oupa. Sy loop opgewonde na hom toe, armpies uitgestrek vir ‘n drukkie, maar Oupa bly staan met sy hande op die koerant. “Hoekom doen julle dit?” vra hy vir my. Ignoreer vir ouma wat styf teen hom gaan staan. “Dis vir Boeta se troue Saterdag, Oupa.” antwoord ek.
“Sy gaan nie so saam met my nie.” brom hy. Is hy nou ernstig of grap hy?
“En hoekom nie?” vra Ouma verontwaardig.
“Nie met daai hare nie.” sê Oupa kwaai.
“Ai nee man, oupa. Ouma lyk pragtig.” sê ek met ‘n frons wat ek tot in my kroontjie kan voel. Wat gaan met Oupa aan? Ouma lyk sommer afgehaal en staan weg van oupa af. “Toemaar Ouma, Oupa terg net. Hy dink Ouma lyk sexy verby.” probeer ek troos en gee vir Oupa ‘n dringende kyk. Ek hoop hy kan sien hoe my oë hom waarsku om nie so lelik met ouma te wees nie, maar hy kyk dit mis.
“Sy gaan nie so saam met my nie.” hou hy vol.
“I dreamed a dream.” prewel Ouma.
Ag Vader van genade, behoede my. Ek het Ouma deur die oggend en die salonepisode gehelp, ek het nie nou lus vir ‘n hardkoppige oupa ook nie. Ek sal dié een ook vir my ma los om mee te deal. Dit is afterall háár ouers. “Wel, die hare is nou gedoen Oupa, en ek dink Ouma lyk pragtig. Ek moet nou weer gaan. Moet gaan swot vir die volgende toets. Koebaai.” Ek plak ‘n soen op sy wang, gee vir Ouma ‘n drukkie en maak dat ek weg kom.

Oppad terug huistoe, hak Ouma se liedjie in my kop was. I dreamed a dream in times gone by. Dit gaan oor drome wat verlore is, tragies. Ek het die movie al gesien en my in ‘n mik gehuil. Maar ek dink Ouma klou vas aan die woorde oor meer as net drome wat verlore is. Ek dink hierdie hele ding voel vir Ouma soos ‘n droom.
‘n Nagmerrie waarin sy vasgevang en vasgebind is in ‘n toestand waaruit sy nie kan ontsnap nie. Vader van genade én drome. Mag ek myself nooit in so ‘n nagmerrie bevind nie.

@Helena Mellet

Desember 2019 – Dans asof niemand kyk nie projek

1.Dans dans meisie

Annelie kyk stip na die goue bord op die koningsblou tafeldoek. Haar hande is styf inmekaar gevou op haar skoot. Die versoeking is baie groot om nie nou ’n sluk van haar vonkelwyn te vat nie. Nie dat mens hel toe sal gaan as jy onder gebed drink nie, maar sy sal skeef aangekyk word. Sy het al genoeg skewe kyke vir dag gehad omdat sy omtrent die enigste persoon by die troue is sonder ’n metgesel. Sy en natuurlik dominee Venter wat op die laaste nipper besluit het om te bly vir die onthaal nadat die bruidegom se ma hom eintlik vir ’n halfuur lank daarin geboelie het. Selfs die fotograaf en die platejoggie het ’n plus one, al is dit net hul assistente wat hulle help. Die twee oumas van beide families is mooi netjies langs mekaar sit gemaak sodat hulle mekaar geselskap kan hou. Die enigste twee oop sitplekke is dié van die bruidegom se pa wat die tafelgebed doen en die stoel langs Annelie.

Sy kon ook ’n date saambring, maar Smittie, haar regular date vir troues, het iets anders aan die naweek. Sy kon dalk ook soos met twee vorige troues ’n vriendin saambring, maar dan was die tonge éérs los. ’n Ongetroude vyf-en-dertige jarige vrou wat ’n ander vrou as metgesel na ’n familie troue saam nooi, kolf sekerlik vir die ander span. Sy kan al net sien hoe tannie Hettie hierdie woorde agter haar hand vir almal fluister. Dit het al gebeur. Die mense wat Annelie wel ken, sal maar te goed weet dis nie waar nie, maar dis genoeg om onnodige vrae en ongemaklike oomblikke te veroorsaak. Sy wat Annelie is, speel nie vir die ander span nie. Sy is nou maar net een van daai ongelukkige siele wat nie so maklik man kry nie. Sy kan haar werk as rekenmeester die skuld gee daarvoor, maar dis niks meer as ’n flou cliché nie. Dinge verloop maar net soos dit doen en sy aanvaar dit so. Sy sien ook nie die nut daarin om te veel tyd te spandeer aan verduidelikings nie. Dié wat moet weet, weet sonder die vrae. Sy is maar net dierbare ou Annelie. ‘n Raps voor veertig en sonder man.

Die tafelgebed se Amen kom ook net betyds. Annelie maak haar glas leeg. Die bruidspaar verskyn op die dansbaan en die musiek begin speel. Hulle het dit goedgedink om die baan te open voor die hoofgereg bedien word. Sodoende kan die wat wil eet, eet en die wat wil kuier en dans, kan hulle ding doen. Die musiek is sag en romanties en die bruid se rok vee soos ’n wolk oor die gepoeierde dansbaan. Annelie kyk die dansende paartjie glimlaggend aan. Haar niggie lyk beeldskoon. Sy het geweet Minka sal ’n mooi bruid wees. Die bruidegom swaai sy nuwe vrou tot in sy arms en laat haar laag afsak tot haar kop amper op die grond raak. Die gaste klap hande en ’n paar karakters fluit stuitig hard. Annelie se oog vang die paartjie by die tafel langsaan. Die man skink nog wyn in die vrou se glas. Sy kyk vinnig weg toe die vrou liefderik haar kop op die man se skouer sit en liefies glimlag. Annelie mik vir die vonkelwyn bottel en maak haar eie glas vol. Sy sit aan ’n tafel vol vreemde gesigte. Almal jong mense. Sy kan sien dit is een van die kuier tafels. Die span is amper nooit by die tafel nie. Kort-kort is een by die kroeg of glip by die saal se sydeur uit vir ’n dampie. Sy kou ekstra hard aan die kougom in haar mond om nie ook saam met hulle by die sydeur uit te gaan nie. Sy rook nie by familie troues nie. Dit bring net nog vrae wat nie nodig het om antwoorde te kry nie. Die kelners kom ingeloop met borde vol kos. Een vir een word die tafels bedien. Annelie het haarself voorgeneem om te bly tot ná die hoofgereg. Sy het klaar die bruidspaar gelukgewens en geselsies gemaak met wie sy moes. Sy het haar deel gedoen, sy was hier en dit kan ook nou van haar lysie afgemerk word.

Skewekop sit en staar sy na die dansende bruidspaar. Die gevolg en ouers het ook intussen by hulle aangesluit. Die glimlagte op die dansbaan is breed en die oë blink. Die wat sit en toekyk, wag of vir die kos of vir die geleentheid om ook hulle moves op die dansbaan te wys. Annelie se familie hou van dans. Sy ook, dis hoe haar en Smittie se paadjies gekruis het, maar vanaand gaan sy nie dans nie. Net eet, groet en dan reguit terug na die gastehuis toe. Net voor die liedjie klaarmaak, glip ’n klein figuurtjie in wit op die dansbaan. Dit is die blommemeisie. Annelie skat haar so vyf jaar oud. Die kind loop oor van energie. Nog voor die seremonie vroeër, het sy op en afgehardloop tussen die mense deur om af te show met die wit rokkie vol blinkers en blomme. Toe het die tannies almal nog oor haar gekoer en gekloek, maar nou-nou sal al die jong poppies haar geïrriteerd aangluur en oë rol oor ouers wat nie hulle kleintjies intoom kan hou nie. Dit werk mos maar altyd so by troues waar die klein mensies in ’n stadium dink hulle die dansbaan kan oorneem. Dan word hulle minder oulik en net in die pad vir die wat dink hulle is die vasdans kampioene.

Die minute sleep verby. Die dans liedjies volg een na die ander op mekaar. Annelie se bord kos word voor haar neergesit en sy val weg. Sy is die enigste een by haar tafel. Die rokers en drinkers het nog lank nie lus vir kos nie. Tussendeur die skaapboud en gebraaide aartappels hou Annelie die dansbaan dop. Sy moet erken, haar voete jeuk en sy mis vir Smittie. Jonk en oud volg die ritme met hulle voete en lywe. Die krulkop blommemeisie is nog eenstryk by. Sy draai en swaai en skud haar lyfie, soms heeltemal van die beat af, maar dit pla haar glad nie. Die kind se ma probeer ’n keer of wat om haar van die dansbaan af te kry, maar dis tevergeefs. Die poppies begin loer en gluur toe ook in die kind se rigting die oomblik toe die musiek trant verander. Nou gaan daar ge-jive en ge-losdans word en die geduld is maar min met die klein lyfie wat steeds probeer byhou. Die mooi wit rokkie met sy blomme en blinkers was toe ook net vir so lank oulik. Nou is dit net ’n bysaak, maar die klein mensie steur haar aan niks en niemand. Toe Annelie haar mes en vurk neersit en haar mond afvee, is die kind nog altyd aan’t dans. Annelie is verstom oor die energie en uithouvermoë van die klein dogtertjie. Sy beny die kind se kinderlike onskuld en lewenslus, die doelgerigte wil om te doen waarvoor sy lus is, ongeag die kommentaar en gevolge. Die ogies lyk al moeg, maar die mondjie lag nog wyd en oop. Dan besef Annelie die kind dans nie tussen die grootmense om aandag te kry nie. Sy dans, want dit maak haar gelukkig. Sy dans, want sy wil en sy kan.
ie ander mense aan Annelie se tafel keer een vir een terug vanaf die kroeg en rokers hoekies. ’n Kelner kom haal haar leë bord. Nou moet sy besluit; gaan sy bly vir poeding en geselsies maak met die vreemdelinge aan haar tafel uit ordentlikheid of gaan sy net ongemerk haar goedjies vat en ry. Sy is versadig; vir poeding is daar nie juis plek nie en die gesprekke aan haar tafel is so uiteenlopend dit laat haar kop draai. Annelie stoot haar stoel versigtig terug en staan op. Niemand sien dit raak nie. Sy vat haar selfoon en handsak en loop weg. Voor die saal se sydeur gaan staan sy stil toe ’n nuwe liedjie begin speel. Annelie kyk vinnig oor haar skouer om vir oulaas die blommemeisie te sien dans. Die kind is nie meer daar nie. Teleurgesteld loop Annelie by die saal uit die donker nag in. Dis ’n entjie se loop na die parkeer area en sy het boonop in die heel agterste ry parkeer ook. Dis genoeg tyd vir ’n vinnige smoke. Met die aansteek van die sigaret merk sy die maan op. Hy lê sekel op sy rug, so wit soos die blommemeisie se rokkie. Die musiek in die saal agter haar agtervolg vir Annelie tot by haar motor. Sy blaas behaaglik die laaste rook die naglug in en skiet die stompie grond toe. Sy lig haar voet om die rooi spikkel dood te trap. Met die neersit en draai van haar voet kom daar iets los in haar lyf. Die musiek wat nou dof vanuit die saal kom en die klein dansende dogtertjie se gesig steek vas tussen Annelie se ore. Eers begin haar kop op en af knik op die maat van die ritme en toe kom haar vingers al klappende by. Sy wieg eers effens heen en weer en trek toe los al swaaiende en draaiende. Annelie maak stof en spore soos sy trap en tree. Sy knyp haar oë toe ’n gaan voluit. Die liedjie maak klaar en toe is dit stil in die saal. Iemand praat oor die mikrofoon. Annelie maak haar oë stadig oop en hou haar asem op. Niemand het gesien nie. Sy lag saggies by haarself toe sy in die motor klim en die enjin aanskakel. Toe Annelie wegtrek sien sy die klein blomme meisietjie in die saal se sydeur staan. Sy waai vir Annelie en verdwyn weer terug na binne, terug na die musiek.

Helena Mellet

Februarie 2020 – Limeriek projek

2.Die groen sak

Sara Vermaak trap die sole van haar skoene aan die brand. Sy loop heen en weer voor die preekstoel verby. Van die diakens se vier rye banke tot by die ouderlinge se afdeling en terug. Met elke tree se trap word die vraagteken in haar binneste groter. Wat het sy my die dekselse groen lap sak gemaak? Sara kyk op haar polshorlosie. Beide wysters lê swaar op die drie. Ben sal al terug wees by die huis en na haar begin soek, maar sy durf nie nou teruggaan pastorie toe nie. Nie voor die vraagteken binne haar in ’n punt verander het nie. Hoe verduidelik sy vir haar man dat die belangrike groen sak net spoorloos verdwyn het? Wat sal die gemeente sê as hulle hoor Mevrou Dominee het Sondag se kollekte verloor?

Dis wraggies Murphy’s Law dat die groen sak in haar toesig moet verdwyn. Sara se pligte as dominee se vrou strek eintlik net tot by die oues van dae van die gemeente. Die ander afdelings en takies rus op die skouers van die koster, skriba en die jong dominee se vrou. Laasgenoemde is ook eintlik in charge van die kerk se finansies. Dis háár job om elke Maandag die laaste Sondag se kollekte te gaan bank. Nou is die jong dominee en sy vroutjie met verlof en die koster is dringend weg na ’n siek moeder op Kakamas. Sara het gewillig aangebied om te help waar sy kan en toe word die groen lap sak vanoggend vroeg in haar hande gedruk. Dit is ’n eenvoudige grasgroen lap sak. Sommer een van daai wat jy by Spar by die till kan koop. Elke Sondag na kerk word die kollekte getel en aangeteken. Dan word dit in ’n wit bank sakkie gesit en dan weer in die groen lap sak. Die groen sak maak dit minder ooglopend dat die inhoud finansieel van aard is. So het die jong dominee se vrou gereken. Niemand weet van die sak behalwe die dominees en hulle vroue nie en dan ook die koster en die skriba. Toe dié sak vanoggend aan Sara oorhandig is, het sy haarself voorgeneem om dit met haar lewe te bewaar. Die opdrag was eenvoudig. Bank toe en terug, maar toe breek die Maandag blou en die herrie is los toe die pastorie se geiser bars en die hele kombuis onder water los. Boonop moes Ben vandag ’n begrafnis behartig. Oom Daan se begrafnis, een van die dorpie se oudste inwoners. Oom Daan en sy familie is goeie mense. Sout-van-die-aarde mense, maar hulle kry vreeslik swaar. Sara het elfuur die diens gaan bywoon om haar laaste respekte aan oom Daan te betoon. Die groen lap sak styf onder haar arm. Sy sou ná die diens die kollekte gaan bank en dan die water gemors in haar kombuis takel. Hulle moes elk geval vir die loodgieter wag wat eers later die dag ’n opening in sy skedule sou hê. Halfpad deur oom Daan se roudiens het haar selfoon begin lastig raak en sonder ophou vibreer. Dit was die loodgieter. Noodgedwonge het Sara uitgeloop en die oproep beantwoord. Die loodgieter se skedule het verander en hy kan hulle nou dadelik help. Hy staan voor die pastorie, maar alles is toegesluit. Sara het vir hom gaan oopsluit en omdat die roudiens elk geval so te sê klaar was, het sy maar begin om die kombuis skoon te maak. So deur sy werkery kort die loodgieter ’n part of ’n ding en moes hy toe terug na sy werkswinkel toe. Sara moes mooi die broeiende ongeduld dood bid. Die kollekte moes by die bank kom en die loodgieter mannetjie se langdradigheid het op haar senuwees begin werk. En dan was sy nog vies ook omdat oom Daan se diens vir haar kort geknip is. Sy hoop die Here is haar genadig oor die vies, die loodgieter doen net sy werk en oom Daan sou verstaan.

Net na een trek sy die voordeur agter haar en die loodgieter toe en ry reguit bank toe. Sy het skaars die die motor se enjin afgesit, toe lui haar foon. Dit was ’n baie benoude Ben. Hy het sy Bybel in die kerk vergeet. Ben is saam met oom Daan se geliefdes begraafplaas toe om die verrigtinge daar voort te sit. Daar was ’n spesifieke teksvers wat by die graf gelees moes word en ’n kort gedig wat een van die kleinkinders geskryf het. Ben kon seker ’n Bybel iewers geleen het, maar wie vat nou ’n Bybel saam graf toe? Die papier met die gediggie was elk geval binne sy Bybel, dus moes die Bybel dringend begraafplaas toe. Sara het haar motortjie weer aan die gang gekry en, met ’n onbetaamlike spoed vir ’n pastoriemoeder, kerk toe gejaag. Die Bybel het sy gekry en weer vet gegee begraafplaas toe. Dis gelukkig skaars ’n kilometer uit die dorp. By die oop graf het die groepie bedroefdes reeds ’n kring gevorm. Die begrafnisondernemer was besig om te verduidelik wat volgende sou gebeur. Ben het eenkant gestaan, hande senuagtig agter sy rug. Sara was net betyds. Uitasem gejaag het sy agter om almal gesluip en saggies die Bybel in Ben se hande gedruk en toe ’n paar treë teruggestaan. Sy sou net vir ’n rukkie bly, het sy gedink. Eerstens om haar asem terug te kry en omdat dit ongeskik en steurend sou wees as sy weer net laat spat. Iewers het iemand van agter haar op die skouer getik. Die begrafnisondernemer se helpertjie het ’n mandjie vol langs teel rose in haar hande gedruk en toe weer verdwyn. Sy wou nog vra wat sy daarmee moes maak, maar het nie kans gekry nie. “En dan kan u elkeen ’n roos neem om op die kis te sit as nagedagte aan oom Daan. Ek sien Mevrou Dominee staan juis gereed met die rose.” Die begrafnisondernemer het stip na Sara gekyk en geknik. Toe begin sy maar rose onder die begrafnisgangers uitdeel. Sy wou vir haarself ook een uithou, maar daar was nie genoeg rose vir almal nie. Sara moet bieg, sy was nogal teleurgesteld. Eers kon sy net ’n halwe roudiens bywoon en toe kon sy nie eens ‘n ou rosie op oom Daan se kis sit nie.

Toe die trane klaar gevloei het en die lang steel rose almal op die kis lê, begin die mense om die graf verdaag na die gemeenskapsaal daar naby vir verversings. ’n Takie wat die susters van die VLV aangepak het om die sukkelende familie te ondersteun. Sara het die geleentheid gebruik en haarself uit die voete gemaak. Ben sou saam met die familie na die gemeenskapsaal gaan. Tannie Dottie het daarop aangedring, want hulle wou hom bedank vir die baie mooi diens. Ben sou nie nee sê nie, want hy eet graag en dit het Sara ’n middagete se maak gespaar. Dus ry sy toe weer bank toe om die kollekte uiteindelik te gaan bank. Sy het kliphard gebid dat die vyand ook net eers op ’n lunch break sal gaan sodat sy die groen sak se besigheid kan afhandel. Die swernoot vat blykbaar nie breaks nie. Toe sy weer voor die bank stilhou, kry sy die groen lap sak nêrens nie.

Sara trek haar skoene uit en gaan staan hande in die sye voor die preekstoel. Die rooi kleedjie se goue letters sê: God is liefde. God van liefde, wees my nou genadig asseblief, bid Sara. Sy het teruggegaan op al haar spore van die oggend en oral gesoek. Die kombuis en die kar het sy van hoek tot kant omgedop, selfs seker gemaak by een van die bankklerke of sy nie dalk die sak daar gelos het nie. Sara is ook terug begraafplaas toe. Daar was niemand en niks, net die vars toegegooide graf. Die laaste wat sy werklik bewus was van die groen sak, was hier in die kerk. Styf onder haar arm toe sy uit die diens uitgeloop het om die loodgieter se oproep te beantwoord. Die sak is ook nie hier in die kerk nie, daarvan het sy seker gemaak toe sy op haar knieë tussendeur die banke gekruip het. Maak nie saak hoe sy probeer onthou of dink nie, die sak bly spoorloos. Sara sug en tel haar skoene op. Sy sal maar terug pastorie toe gaan, vraagteken en al.

***

Die week het sy loop gegaan en die vraagteken oor die groen lap sak dag vir dag met hom saamgevat. Dis ’n nuwe Maandag en Sara Vermaak sit met ’n koppie tee op haar stoep. Oom Daan se begrafnis was gou ou nuus toe die storie oor die groen sak uitkom. Sara het die vraagteken na haar man toe gevat verlede Maandag. Sy het die sak laat wegraak en sy weet nie hoe en waar nie. Ben het haar hele storie geduldig aangehoor. Die skriba, koster en die jong dominee se vrou is in kennis gestel. Daar is besluit dat Ben, die Sondag wat kom, ’n afkondiging in die kerk sou maak oor die voorval en vra dat enige een met kennis oor die sak asseblief na vore sal kom. Die skaam was groot vir Sara en sy het haarself siek gehuil en bekommer. Geen troos het gehelp nie. Selfs nie eens die mooi boodskap van die jong dominee se vrou nie. Dié het Dinsdag ’n SMS vanaf die vakansieoord gestuur waarin sy Sara probeer gerusstel dat dit ’n glips is wat enige een kon oorkom. Sara wou nie die enige een met dié soort glips wees nie. Sy’t haar voorgeneem om nie weer haar voete by die deur uit te sit voor die sak nie uitgekom het nie. Iemand moes tog êrens die groen gedoente gesien of gevat het. Gelukkig was Sara se selfopgelegde huisarres van korte duur. Donderdagaand lui die foon in die pastorie en Ben het geantwoord. Na ’n baie kort gesprek kom staan Ben voor haar met ’n breë glimlag op sy gesig. Die groen lap sak is gevind!

Oorlede oom Daan se dogter is Maandag laatmiddag terug na die begraafplaas toe om vir oulaas haar pa te gaan groet. Daar gekom sien sy iets groen in die grond op haar pa se graf uitsteek. Sy het daaraan getrek en toe kom die sak uit. Groot was haar verbasing oor die sak in die grond. Hoe kon die graf toegegooi word sonder dat iemand die sak sien? Nog groter was haar verbasing oor die inhoud van die sak. Sy het eers nie geweet wat om van die situasie te maak nie. Sy het die begrafnisondernemer en naaste familie gekontak om te hoor of iemand ’n groen sak verloor het, maar niemand weet iets van die sak nie. Sy’t natuurlik niks gesê oor wat in die sak was nie. Die dogter besluit toe om te wag tot Donderdag. As die sak se baas nie uitkom nie, sal sy dit sien as ’n teken. En toe kom Donderdag en oom Daan se dogter móés net vir dominee Ben bel om hom van God se almagtige genade te vertel. Bo en behalwe dat hulle finansieel so in die knyp is, gaan haar man binnekort sy werk verloor en klein Daantjie se skoolfonds is maande agterstallig. Die beheerliggaam dreig al met regstappe. Die Here weet hoe hulle ’n klein bietjie uitkoms nou nodig gehad het. Sy glo God self het die groen sak daar by haar pa se graf gelos vir haar om te kry. Hoe dan anders verduidelik mens hoe die sak daar beland het sonder dat ’n enkele oog dit sien gebeur het?

Dominee Ben het die skriba, koster en die jong dominee se vrou in kennis gestel. Oom Daan se dogter is nie reggehelp oor die groen sak se werklike storie nie. Daar is besluit dat die geld as ’n skenking aangeteken sal word in die kerk se boeke. Sara se vraagteken het nie heeltemal verdwyn nie, want sy kan nie onthou dat sy die groen sak uit die kar gehaal het toe sy vir Ben die Bybel gaan gee het nie. Maar wie is sy om ’n punt wat die Here self aan die einde van ’n sin gesit het, te bevraagteken? Sy is Sara Vermaak. Mevrou Dominee, wat ook menslik befoutig, die kerk se kollekte kan verloor.

Helena Mellet

Januarie 2021 – Verwagting(s) projek

1.Draairoomys

“Was dit nou so erg?”
Amelia antwoord haar man nie. Sy gee hom eerder ’n kyk wat veronderstel is om ’n gat in sy kop te brand.
“Ek dink dit het verbasend goed afgeloop,” sê Ben toe hulle die dorp uitry.
Amelia vervies haar vir haar man se selfvoldaanheid en kyk anderpad. Die skemer landskap gly verby haar oë. Sy het lanklaas so baie emosies op eenslag in haar borskas gehad.

Skaars twee ure gelede kom Ben van die landerye af met die voorstel dat hulle draairoomys moet gaan kry. Vir Amelia kan jy omkoop met ’n lekker draairoomys. Boonop is so ’n vroegaand se trippie dorp toe op ’n anderste manier goed vir die siel. Daar is ’n salige bekoring wat oor jou kom hang as jy sien hoe die dag en sy mense tot rus kom.

Amelia het haar nie twee keer laat nooi nie. Sy kon al die romerige soetheid in haar kieste proe! Ongeduldig het sy vir Ben beduie om solank in te klim toe dié nog staan en draai met die selfoon teen sy oor. Nou weet sy hoekom hy nie die gesprek in die bakkie voor haar wou afhandel nie.
“Jy sal dit nie uit jou eie uit doen nie,” het hy koeltjies gesê “en as jy geweet het ek kom hierheen, sou jy nooit ingestem het om saam te ry nie.”

Verbaas het sy gesit en toekyk hoe Ben verby die kafee ry. Hy het hom doof gehou vir haar vrae en koers gehou tot by die heks se voordeur.
Dis nie ’n geheim dat sy en haar skoonsuster nie om dieselfde koektafel sit nie. Ben en sy broer probeer gereeld die vrede herstel, maar mans verstaan nie. Jy kan nie vertroue wat gebreek is fix soos ’n stukkende waterpyp nie.

Die vroue moes vanaand ‘n ding uitpraat wat laas Saterdag by Ouma se verjaarsdag gebeur het. Gepraat is daar gepraat, ja, maar die manne het op stoep staan en bier drink en niks van die gepratery gehoor nie. Nou dink hulle die probleem is opgelos en dis natuurlik als te danke aan hulle.

“Wil jy nog roomys hê?” vra Ben skielik langs haar. “Dis nog nie te laat om om te draai nie.”
Weer wens Amelia sy kan hom brand met haar oë.
“Ben Fourie, saam met jou ry ek nooit weer vir ’n blerrie draairoomys nie!”

©HMellet2021




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed