Jessica Venter
BRONS klas
Desember 2017 – Kersvieringe projek
1.Kersete fiasco
Adele trek die tafeldoek reg. Sy sug tevrede toe sy terugstaan en haar handewerk bekyk.
“Dit lyk feestelik,” sê Niklaas.
“Ek dink ook so.” Met die laaste versierings op hul plek, stap sy terug huis toe.
“Wat ruik so?” vra Karel.
“Die aartappels is in die oond.” Adel hardloop die kombuis in. Rookbolle hang in die lug. Sonder handskoene pluk sy die oonddeur oop, gryp die bak. “Eina!” gil sy en die bak tref die vloer.
“Is jy oukei?” vra Niklaas. “Ek gaan haal die salf.” Terwyl hy haar hand regdokter, probeer sy die trane afsluk.
“Daarsy, dit sal sommer vinnig beter voel.” Saggies soen hy haar vingers voordat hy haar in sy arms intrek.
“Nou het ons nie gebakte aartappels vir ete nie.”
“Dit maak nie saak nie. Kersfees gaan oor familie,” stel hy haar gerus.
“Ek weet maar tog…”
‘n Harde slag ruk hulle albei se koppe om.
“Wat was dit?”
“Ek weet nie.” Niklaas neem haar hand in syne. Saam loop hulle sitkamer toe. In die deur stop sy. Haar oë rek.
“Karel, wat het jy aangevang?”
“Skies, mamma. Ek het met my bal gespeel en toe ek hom skop, tref dit die kersboom.”
“Jy weet jy mag nie binne met jou bal speel nie,” kners sy op haar tande. Al haar harde werk aan die kersboom lê oor die vloer versprei.
Skaam kyk Karel af. “Jammer, mamma.” Hy storm verby haar kamer toe. Niklaas staan soos ‘n soutpilaar. Stadig begin sy die versierings optel. Haar hande bewend van woede.
Met die kersboom weer op sy voete gooi sy die sak versierings op die bank neer.
“Ek het nie nou die krag om alles oor te doen nie. Dis lekker man. ‘n Kersfees sonder ‘n boom.” Vies strompel sy kombuis toe vir die laaste kosvoorbereidings.
Adel vries in die kombuisdeur.
“Brutus, af!” gil sy.
Die Boerboel kyk haar skuldig aan voordat hy stert tussen die bene by die deur uit kruip.
“Wat nou?” vra Niklaas toe hy instorm.
“Jou brak het die helfte van die poeding opgevreet.”
Niklaas kyk geskok na die tafel. Poeding pote versier die vloer.
“Ag, tog, die hond.” Met ‘n sug begin Niklaas haar help om op te ruim. Adele gooi die poeding in die vullisdrom.
“Ek sal iets anders gaan koop,” probeer Niklaas troos maar dit vuur haar net aan.
Sy gluur hom kwaai aan.
Hy sug moedeloos. “Ai, liefie.”
“Pappa! Mamma!” Karel kom ingestorm. Sy oë pieringgroot.
“Nie nou nie, seun,” keer Niklaas.
“Maar pappa moet kom. Daar is ‘n probleem.”
“Ek sal later kom kyk.”
Karel skud sy kop. “Nee, pappa. Nou.” Hy gryp sy pa aan die hand en sleep hom na buite.
Adele volg hulle. “Die dag kan seker nie nog erger word nie.”
Buite op die stoep ruik sy rook. Sy word yskoud toe sy om die hoek storm. Die tafel is aan die brand.
“O, nee,” sê sy gesmoord. Haar kristalglase bars een vir een. Niklaas kom verby met die brandblusser. Die skuim bedek die vlamme en stadigaan smoor die vuur. Net ‘n swart tafel bly oor.
“Hoe het dit gebeur?” vra sy geskok.
“Die wind het die tafeldoek oor die kerse gewaai,” verduidelik Karel.
“Maar hulle het nog nie gebrand nie.”
Hy kyk skaam af, boor met sy groottoon in die grond. “Ek het hulle aangesteek. Ek wou so jammer sê oor die kersboom.”
“Dit het nie gehelp nie.” Trane vul haar oë voor sy omdraai en die huis in storm. Sy slaan haar kamerdeur agter haar toe en val snikkend op die bed neer.
Adele lê opgekrul op haar bed. Leeg gehuil. ‘n Sagte klop aan die deur laat haar omdraai. Niklaas loer by die deur in.
“Kom gou saam.”
“Waarheen?”
“Dis ‘n verassing.”
Sy gluur hom aan, staan toe tog op en volg hom na buite.
“Maak toe jou oë.”
“Hoekom?”
“Jy sal sien.” Sy maak haar oë toe. Sy growwe hand vou sag om hare. Hy lei haar by die stoep af. Op die gras loop hulle nog ‘n paar tree tot hy stop.
“Maak maar oop,” beveel hy sag.
Voor haar is ‘n kombers oopgesprei. Eenkant staan ‘n houtkruis met liggies versier. Sy snak na asem. “Sjoe, dis mooi.
“Kom sit, mamma,” roep Karel.
Adele gaan sit langs haar seun, oë gevul met trane. Hy lê sy kop teen haar skouer en slaan sy arms om haar.
“Ek is jammer.:
Sy vee oor sy hare. “Dis oukei. Mamma wou alles net perfek gehad het vir vandag maar julle plan werk beter.” Hy lag opgewonde. Niklaas gee vir haar ‘n glas shampagne aan. Sy glimlag, haar hart loop oor. Vir ‘n meer perfekte dag kon sy nie vra nie. Van ‘n kersete fiasko na’n Kersfees fees.
Jammer Here, fluister sy in haar hart. Dis tog waaroor Kerstyd gaan.
Jesica Venter