Johan J van Rensburg
Januarie 2023 – Projek NUUT
1.Jaar van vergewing
( 2975 woorde)
Die man voor Gerhard lyk gehawend. Gerhard doen wat enige nege-jarige sal doen: Hy stáár. Hy sien die gehawende skoene wat die gate in die kouse probeer wegsteek. Hy sien die vuil, oorgroot baadjie en die nog vuiler t-hemp wat bo by die nek uitsteek. ‘n Egalige ry tande waarvan ‘n woeste baard die meeste verberg. Hy staar tot by die lang hare.
Gerhard het nog nooit in sy lewe so ‘n vuil mens gesien nie.
Die man wag stil op die stoep nadat daar op sy geklop aan die voordeur reageer is. Tog, as Gerhard in die gesig kyk, wil- wil iets bekends nesskop. Is dit die groen in die oë, of die kuiltjie in die wange?
Skielik is Pappa by. Hy ruk die voordeur onnodig vinnig oop. “Kan ek help, meneer?”
Die stilte rek lank waar pappa ook na die man staar. Pappa kyk anders as Gerhard. Dit lyk of vrees in die man se oë flikker. En net daar, hakkelend praat die vuil man vinnig en kyk grondlangs. Voorspoedige kraaknuut jaar, vol van vars geleenthede om mense te vergewe en mekaar lief te he”..Dan draai die vuil man om en verdwyn af in die straat. Gerhard rek sy nek om te sien waarheen die vuil man verdwyn het. “Watse man was daardie, pappa?”
Pappa maak die deur stewig toe. Die antwoord kom vinnig en kortaf. “Dit was ‘n boemelaar. Gaan trek nou aan, ons gaan laat wees vir kerk.”
Gerhard trek sy rooi spinnekopman kouse sorgvuldig oor sy skoon voetjies.
Die kouse het nie gate in nie.
Mamma het dit net verlede week gekoop. Sy broek is netjies gestryk en sy kerkhempie is spierwit. Hy kyk vir homself in die spieël. Sy tande is wit, al is daar ‘n paar kort. “Kom jy Gerhard?” Pappa is al oppad motor toe. Mamma kom kam sy hare met haar borsel. Sy plak ‘n soentjie op sy wang. “So ja, nou is ons reg vir kerk.” Sy neem Gerhard aan die hand en loop saam met hom by die huis uit.
Pappa is ongeduldig.
Hy sluit die voordeur en jaag metbande wat skreeu die drie blokke tot by die kerk. Gerhard kyk uit vir die “Boemelaar”. Hy staan half verskuil in die skadu van die Bloureëns skuins voor hulle huis.
Gerhard wonder oor die man. “Mamma,” begin hy vra. “Ja liefie?” Mamma probeer lipstiffie in die spieëltjie van die motor aansit. “Wat pla?”
“Wat is ‘n boemelaar?”
Mamma laat sak die hand wat die lipstiffie vashou. Sy en pappa kyk vinnig vir mekaar. Dan sê pappa kwaai: “Dis husse met lang ore.” Mamma wys met haar voorvinger dat hy liewer niks verder moet vra nie, pappa se moermeter is klaar in die rooi.
Daar is baie mense by die kerk.
Gerhard wonder wat sou die mense sê as hy Boemelaar saam kon bring. Hy bly dink aan die man voor die deur. Nee, besluit hy. Dit sou glad nie deug nie. Al die mense hier het mooi klere aan en praat nie van snaakse goed soos voorspoedige kraaknuut en vars jaar.
Die word moeilik vir die seun om te verstaan.baie. Boemelaar is vuil en stil. Die mense sou vir Boemelaar lag. En om te lag vir iemand is nie goeie maniere nie.
Pappa druk sy tablet in Gerhard se hande toe hulle gaan sit. Hulle bank is amper heelagter in die kerk. Gerhard kan skaars die dominee sien van waar hy sit. Pappa wil nie “verneder” word deur ‘n klein seuntjie nie. Daarom moet hy “speletjies” op pappa se tablet speel terwyl die dominee sy uur preek. Pappa sê dit hou hom ten minste vir die uur van kerk uit die kwaad uit.
Gerhard speel nie vandag speletjies op die tablet nie. Hy vra vir Google wat ‘n boemelaar is.
Google antwoord dadelik.
“Dis ‘n arm mens uit die onderklas van die samelewing, dis ‘n man sonder woonplek en dis soms ‘n boelie.”
Al woord wat Gerhard verstaan is “arm” en “boelie”. Hy weet die oom is arm, maar van die boelie weet hy darm nie!
Na middag- ete help Gerhard mamma skottelgoed wegpak. Pappa sit verdiep in sy koerant in die sitkamer.
Mamma vat haar kans.
Gerhard hoor vir die eerste keer van pappa se boetie wat ‘n boemelaar is. Dít was die man in die deur vanoggend voor kerk. Die boemelaar hét ‘n naam….Herman. Natuurlik het hy nie geweet dis húlle wat hier woon toe hy vroegoggend kom brood bedel het nie!
Mamma sê dit was ‘n groot skok vir pappa en vir Herman. Dis tien jaar dat hulle mekaar laas van aangesig tot aangesig gesien het. Pappa is nou nog nie lekker nie, en Gerhard moet maar uit sy pad bly en rustig wees en pappa nie pla met al sy vrae nie.
Nou verstaan Gerhard glad nie. Die boemelaar, of Herman, is pappa se broer?
En pappa maak sowaar die deur in sy gesig toe!
Hoekom het papa hom nie ingenooi nie, en van sy klere gegee, of laat hom in die tuinwoonstel bly nie? As dit darem sý boetie was…hy sou nie só gemaak het nie. En hy wat Gerhard is, wil al vir lank sy eie boetie hê…maar mamma sê sy sien nie kans vir nog ‘n raasbek nie.
Sondae-middae is dit slaaptyd vir mamma en pappa. Dan moet Gerhard so stil soos ‘n muis wees.
Gewoonlik ry hy met sy fiets deur die stil strate, of gaan saam met die bure se groter seuns park toe en gaan skop ‘n paar balle.
Vanmiddag wil Gerhard alleen park toe gaan.
Hy weet pappa hou nie daarvan as hy alleen ry nie, maar, wie sal weet? Hy ry al met die kronkelpaadjies tussen die bome deur. Sy oë fynkam die groen lanings wilgebome deur die park. Hy is op ‘n missie. Hy soek na sy oom Herman. As hy dan nie vir pappa kan vra nie, sal hy oom Herman vra. Hy hoef ook nie lank te soek nie. Die wilgeboompark is ‘n gewilde uithangplek vir al wat ‘n boemelaar is.
Gerhard klim huiwerig van die fiets af. Oom Herman het hom nie gesien nie. Gerhard skuil agter die stam van ‘n kneuwel van ‘n wilgeboom. Oom Herman sit op ‘n groot klip by ‘n vuurtjie waarop ‘n gebrande blikkie staan en kook. Dit lyk asof hy besig is om ‘n duif te slag. Dis net vere en bloed rondom hom.
Hy kook seker vir hom middagete, dink Gerhard. Hy kon mos maar saam met hulle Kerrie en Rys en lekker slaai kom eet het…
Met ‘n baie klein hartjie sê Gerhard onwetend hardop: “Ek moes van die oorskiet saamgebring het vir oom Herman”. Skielik kyk oom Herman op, vas in Gerhard se oë. Maar Gerhard skrik nie, dis dan sy pappa se boetie?
“Ja….kan ek jou help, seun?” Die stem klink nes papa s’n, minus die kwaai klank daarin..
Gerhard dink nie die oom herken hom nie. Nou weet hy hoekom die groen oë en die kuiltjie in die wang hom so geraak het. Dis dieselfde as pappa s’n. Pappa het net nie kreukeltjies rondom sy ooghoeke, soos oom Gerhard nie…
Gerhard besef nie hy staan alweer en staar nie.
Oom Herman kyk nuuskierig na Gerhard. Gerhard kom uit in die oopte en neem sy fiets wat teen die boomstam rus. Hy stoot dit na oom Herman toe.
Dan steek hy braaf ‘n hand uit. “Hallo, oom, ek is Gerhard.” Die man vryf ‘n vuil hand oor sy baard.
Hierdie knapie is anders as die kinders wat altyd in die park is…baie anders. Traag steek oom Herman ook sy hand uit. “Bly te kenne, Gerhard.” Hy krap die kole met ‘n stuk stok. Hy kyk nie weer vir Gerhard nie. “Laat jou ouers jou dan toe om alleen hier in die park te speel?” Gerhard onthou van pappa wat nie wil hê hy moet alleen hiernatoe kom nie. “Nee oom Herman, hy sal slange van as hy weet…”
Gerhard besef glad nie hy het oom Herman op sy naam genoem nie.
Oom Herman se kop skiet omhoog en hy vernou sy blik op Gerhard. Dan kom die herkenning. Vanoggend. Hy staar bot na die vuurtjie, en sit die duif op die kole.
“Hoe weet jy wat my naam is?” Gerhard wonder benoud of hy nie eerder moes stilgebly het nie. Braaf druk hy deur.
“Mamma het my gesê. Oom was vanoggend by ons huis?”
Herman kou ‘n stokkie en gaan sit weer op sy klip. Gerhard sit sy fiets neer en soek ook ‘n klip om op te sit. Herman hou hom onderlangs dop. Dis verstommend dat sy gehawende voorkoms die kind glad nie afstoot nie. Gerhard lyk so tuis op sy klip voor die vuur as wat hy in sy eie agtererf tussen sy speelgoed is.
“Jammer seun, ek het nie besef júlle bly daar nie…“So… jy is Jasper se seun…”
“Ja oom”.
Gerhard sien uit die hoek van sy oog dat die bure se seuns hom gewaar het. Hulle kom met mening aangeloop. Skielik is Gerhard baie haastig. Hy spring op, sien nie die stof wat hy op oom Gerhard se middagete gooi nie.
“Skies oom Herman, ek moet waai.”
Hy spring op sy fiets en laat waai teen die bult uit. Herman kou steeds aan die stokkie terwyl hy die vriendelike seuntjie agterna kyk. Skielik is hy weer alleen. Tog, die warmte van Gerhard se besoek huiwer steeds in die lug. Dit was lekker om weer normaal met iemand te kon gesels. Herman spoeg die stokkie uit en blaas die grond van die halfgaar duif af.
Snaaks, baie snaaks…
By die huis gekom is hy net betyds vir middag tee.
“En toe, wat jáág jy so in die strate? Ek hoop jy hou by die verkeersrëels!”
Pappa sit op die stoep. ‘n Uur slaap op ‘n Sondag maak hom éérs beneuk. Gerhard knik sy kop, ek ry versigtig Pa , en antwoord nie die res van die vraag.
Pappa lag.
As hy lag lyk die kreukeltjies om sy oë nes die van oom Herman. Dis lekker om Pappa te hoor lag. Miskien is dit die regte tyd om hom te vertel van sy ontmoeting met oom Herman….of dalk nie. Nee wat, netnou verdwyn pappa se “goeie lag”. Dit gebeur min genoeg dat pappa so goed voel en lag.
Mamma roep na Gerhard. Dis badtyd. Gerhard wens sy ma wil ophou om hom soos ‘n baba te hanteer. Hy is nou mooi groot. Hy kan self agter sy ore was. Dis net mamma wat dink hy kan nie. Met mamma kan hy sy geheim deel. Sy sal nie praat nie. Gerhard gaan bad gewillig.
Hy gebruik die geleentheid om te vra terwyl mamma hom skrop. “Hoekom word mens ‘n boemelaar?”
Mamma sit terug op haar hurke. “Ag soms gebeur seerkry dinge in jou lewe en dan is jou hart só flenters dat jy niémand om jou wil hê nie. Jy wil net alléén gelos word tot die seer beter is”.
“Is dit wat gebeur het met oom Herman?”
Mamma vryf hom onnodig hard met die handdoek droog. Gerhard kan sien sy dink diep voor sy antwoord.
“Jongie ek weet nie lekker nie. Pappa praat nie graag daaroor nie…ek dink oom Herman het sy lag verloor…of miskien het hy hoop vir die lewe verloor…”
Mamma se hande raak stil om sy lyfie. Gerhard kan sien dis vir haar ook moeilik om oor oom Herman se dinge te praat.
Hy probeer help.
“Pappa het nog nooit ‘n lag gehad nie mamma… maar hy is nie ‘n boemelaar nie…”
“Pappa het ook ‘n lag gehad… en hy het hom ook iewers verloor, maar ek en jy is daar om hom te help om dit terug te kry, weet jy?”
“Arme oom Herman het niemand wat hom help soek nie..”
Gerhard sien ‘n traan op sy ma se wang afrol en vang dit met ‘n vingertjie. “Pappa gaan dan elke Sondag kerk toe, bring Jesus dan nie vir hom nuwe hoop nie?”
Mamma kyk net vir Gerhard. Sy sê niks nie. Gerhard weet die gesels is klaar as mamma haar lippe so opmekaar druk. Hy trek sy klere stil aan. Hy dink hard. Hoe kan hy help om Pappa en oom Herman se lag terug te bring? Hoe kan hy vir hulle laat weet daar is nog hoop?
Dalk is dit wat beteken kraaknuut vars jaar ,sodat twee mense mekaar vergewe en nuut oorbegin in die nuwe jaar wat voorle.
Daardie aand voor sy bedjie bid hy lank en ernstig vir oom Herman en vir Pappa. More, weet hy, sal Jesus vir hom ‘n plan van aksie gee.
En toe Gerhard Maandagoggend wakker word, het hy sowaar ‘n plan.
Dis ‘n blou Maandag. Hy kry heeltemal te veel huiswerk. Dis alreeds laatmiddag toe hy sy fiets stoot tot by die teerpad. Hy kyk op en af in die straat. Dankie tog, pappa kom nog nie aan nie. Hy het vir mamma laat weet dat hy gou ‘n wiskunde handboek by ‘n maatjie gaan haal. Nog ‘n witleuentjie…
Hy kies dadelik koers na die Wilgeboom park toe. Die briefie wat hy geskryf het terwyl hy huiswerk moes doen, het hy sommer voor by sy hemp ingedruk. Hy hoop hy het nie te veel spelfoute gemaak nie! Wat sal oom Herman dan van hom dink?
Gerhard stop met sy fiets en beweeg stadig nader. Oom Herman lê en dut op die gras.
“Loer jy lekker?” Hy stut hom lui-lui op sy elmboë.
Gerhard lag en laat staan sy fiets. Hy gaan sit kruisbeen voor oom Herman op die gras. “Oom Herman hét my lekker laat skrik. Ek dag oom slaap!”
Oom Herman loer in Gerhard se rigting. “Mens slaap in die aande.”
Gerhard haal die briefie voor by sy hemp uit. “Ek het vir oom net gou ‘n briefie gebring.”
“Van wie af?” Herman sit regop.
“Van my af.” Gerhard voel trots om so ‘n lang brief self te kon skryf.
“O so? en weet jou pa jy kuier alweer hier by my?”
Gerhard voel ongemaklik. Hy staan sommer op en maak reg om te ry.
“Nog nie, oom Herman, nog nie. Maar hy sal een van die dae uitvind.”
Voor hy begin trap kyk hy ‘n laaste keer na sy oom Herman.
Dis asof iets hom byval: “Ek weet oom het oom se lag verloor en oom het niks meer hoop nie…maar ek bid vir oom…en ek help soek…weet oom, mý pappa het nog nóóit ‘n lag gehad nie?”
Dan ry hy weg, so vinnig as wat hy kan met sy kort, stewige beentjies. Voor oom Herman die traan in sy oog sien.
Herman sit verbysterd. Dat ‘n kind hom so kan skok!
Hoe is dit moontlik dat Jasper nooit lag nie?
Toe Gerhard die volgende dag by die Wilgeboompark verby ry, is oom Herman nie daar nie. Ook nie die volgende dag nie. Gerhard ry vir vier dae verby oom Herman se “plek”, maar hy is nie daar nie.
En Gerhard wonder wat hy verkeerd gedoen het.
Was die spelfoute in sy briefie te veel?
Sy eetlus is skoon weg. Mamma wonder al wat fout is. Hy kan haar nie vertel nie. Oom Herman het ‘n gat in sy maag gemaak.
Vrydagoggend is daar ‘n toegedraaide skoendoos voor die deur. Die kaartjie voorop het pappa se naam daarop. Gerhard staan by pappa toe hy die bybel daarin uithaal. Pappa gaan sit op die voetenent van die bed. Hy lyk verstom.
“Wat is dít, Jasper?” vra mamma.
“Dis my en Herman se bybel toe ons tieners was. Ek het gedink dis verbrand!” Pappa maak die bybel oop. Daar val foto’s van hom en oom Herman uit, hánd om die lýf foto’s. Gerhard kyk mooier na die foto’s. Albei het groot glimlagte op hulle gesigte. Hy gryp na die naaste foto en druk dit opgewonde in mamma se gesig.
“Mamma kyk, hiér het hulle altwéé nog hulle lag!”
Gerhard se hart voel warm. Hy kyk vir papa. Pappa hét sowaar ‘n lag gehad! Daar is hoop!
Pappa bly blaai en blaai deur die bybel. Hy lees die versies wat onderstreep is oor en oor.
Daar is ook ‘n brief onder in die skoendoos.
Dis vir Gerhard.
Hy gaan sit langs pappa op die voetenent van die bed. Hy vou die briefie oop. Hy hoop oom Herman kan beter spel as hy!
Oom Herman skrywe: “Gerhard, ou seun, dankie vir jou briefie. Geloof, Hoop en Liefde bly. Maar die sterkste hiervan, is die Liefde. Jou pappa is baie lief vir jou. Dis ‘n feit. Ons twee moet hom weer laat glo dat die lewe die moeite werd is, ons moet hom weer laat hoop op die toekoms. Ons twee moet sy lag weer terugbring. Ek sal help waar ek kan. Ek is terug na ons familie wildsplaas in Sabie, daar waar ek en jou pa ons lag verloor het.
Ons was kerktoe een helder oggend toe daar ‘n brand in een van die wildskampe ontstaan het. Teen die tyd wat die kerk uit is en ons al ons vriende gegroet het, was daar niks oor van die plaas nie…ons was platgeslaan. Net ons bybel kon gered word… Jou pa het ‘n nuwe begin op ‘n ander dorpie gaan maak en ek…ek het die lewe van ‘n boemelaar gekies, ek het gedink as ek niks het nie, kan niks weer van my weggevat word nie..
Maar dis nou verby.
Ek gaan die plaas weer opbou tot beter as wat hy was. Ek gaan my lag terugkry. Ek sal skryf. Groete, jou oom Herman.”
Pappa lees ook die briefie. Hy huil. Hy hou vir mamma lank vas, en nou huil mamma ook. Albei opgewonde oor die kraaknuut kans wat die twee boeties nou het. Gerhard is bly, dis nou wel nog nie ‘n lag nie maar dis al beter as ‘n kwaai frons!
Johan van Rensburg
Maart 2023 – OOP projek
2.Tsholo se ark
Woorde : 2628
Kap! Kap! Kap! Die getimmer en gewerskaf eggo dawerend teen die rye kartondoossinkhuisies vas. Blits het al lankal onder die bakkie gaan lê− pote op die ore. Dis die honde van die plakkerskamp wat die eggo kordaat beantwoord. Tsholo glimlag oor die diere se gejou. So al asof hulle hom aanmoedig in sy belangrike werk. “Blits my brak, jy sal nog bly wees oor my gekap…”
Tsholo het vaardige hande.. Kleintyd al noem Oupa Thato hom sy raakvatter, solank hy net nie lang vingers groei nie. Sy oog vang die hand wat die plank vashou. Die duim wat hy gister raakgekap het is blou en opgeswel en klop-klop seer iewers binne. Die ander nege vingers is kort en vet, hy eet sy naels stompies om lang vingers te keer. Oupa Thato sê lelike dinge gebeur met plakkerskampkinders wat lang vingers het.
Eers het hy die paar weggegooide palette (wat hy by die skelm pakistaner se winkel afgebedel het) met ‘n ou tou tot vlak voor die sinkhuis gesleep. Dit was ‘n hele gedoente met Blits wat trek aan die eenkant, en hy wat trek aan die ander kant! Met Oups Thato se hamer kon hy maklik die dun spykers uithaal en die los houte alles op netjiese hopies stapel. Dit het hom drie dae gevat! Dit sou baie korter wees as Anabel hom net wou help.
So wat van n bangbroek het hy lanklaas gesien! Oupa Thato sê sy skrik vir haar eie poep, wat wou ‘n gekap met n hamer dag in en dag uit!
So onder die gekap loer Tsholo een−oog na die dreigende weer. Hy móét net klaar wees voordat dit beginne met reënt! Anders…anders is dit te laat….
Die wit kantgordyn roer skaam in die vuil kombuisvenster. Kap! Kap! Dis Oupa Thato wat so loer, hy verstaan nie gat van kop van wat Tsholo al drie dae lank doen nie. En in sy twaalf jaar van bestaan ken Tsholo nog nie genoeg woorde om Oupa Thato mooi te verduidelik nie. Hy weet wat hy doen. Dit sit duidelik hier diep binne sy “is”.
Hy het vir Anabel eendag na die droom in hulle kinnerbybel die prentjie gewys. Toe hy sê dat sy “is” voel hy moet ook so n boot vir Blits en sy maters van die straat bou het Anabel net gelag en bo oor die kinnerbybel drie bollemakieses gemaak. En toe hy vir Oupa Thato van die snaakse gevoel hier in sy “is” vertel, het Oupa Thato hom n groot skep kasterolie gegee en gesê hy moet die snaakse gevoel gaan uitskyt.
Nou kap hy maar alleen. Dag in en dag uit. Terwyl hulle vir hom lag. Met elke dag wat verbygaan waarsku die groot swart wolk bo hulle sinkhuisie hom om vinniger te kap.
Die wit kant roer weer. ‘n Vaal kroeskop loer uit. “Gaan skep vir ons ‘n bietjie water daar.”
Anabel kom skaar haar met plakkies en emmers en sonhoed en al, neffens Blits, wat stertswaaiend onder die bakkie uitboender. Tsholo kyk sy nege jarige sussie gedaan gekap aan. Dan kyk hy na die na die kwylende Blits. “Ag toe Tsholo…” (sy suig nog duim) kom ons gaan gooi klonte innie water.” Hy hou ‘n halfhartige hand uit. Die twee tande in die mondjie blink as sy Tsholo optrek en sy gatkant gemaak kwaai afstof. “Jy maak jou broek vol grond! Dit kommie maklik uitie klere uitie, hoor jy vi my!”
Tsholo vat die twee leë vyfliters uit haar hande en tik met sy vuil vinger oor haar neusie. Dit los ‘n lekker dik storfstreep oor haar wang as sy hom spelerig ontwyk. Anabel se skaterlag klok wyd oor die stil stofstrate as hulle die roesbruin hekkie oopstoot. Blits kry lewe en hol baldadig al om-en-om hulle.
Oupa Thato kyk hulle kopskuddend met skreefiesoë agterna. Sy vereelte vingers krap sy grys korrelkop. Hy klik sy tong. “Ai Here, kyk nou díe kinners wat jy aan my toevertrou het. Wat sal van hulle word? Sal ek uitgespaar bly totdat hulle klaar geskool is?”
Van die dag dat die twee se ma so voor sy huis in die straat dood bly lê het, kyk Oupa Thato agter hulle. Blits was ‘n ou kleintjie, skaars ses weke oud toe Anabel die tuinhekkie daardie dag ooplos. Ma Rose het Blits juis by die buurvrou gevra om Tsholo en Anabel op te pas wanneer sy saans by die kliniek werk.
Natuurlik het die jong Blits sy kans gesien en is in ‘n stofstreep al stertswaaiend deur die oop hekkie straataf. Juigende en gillende het die ander ingeperktes hom aangepor in sy soeke na vryheid. Rose het haar handsak en inkopies net so op die sypaaitjie laat val en die jong hond agternagesit, sommer so in haar kliniekskoene en al! Die kinders wou ma rose nog soengroet en Anabel het oopmond staan en wag by die hekkie…
Die Albanie broodwa was skielik op haar. Daar was ‘n helse slag. Rose was opslag dood. Reg voor sy sinkhuis. Wat moes hy doen?
Hoe moes ma Rose weet dat Blits al baie straat-af gekuier tot by einste Oupa Thato se huisie? Hy het altoos vir hom ‘n karmelaatjie reggesit by sy lendelam voordeur. Jammer vir die arme hond. Tsholo het sy ma nog probeer keer- maar Rose het róói gesien vir die rondloper.
Baie later, toe die ligte af was en die werf weer stil was, het Blits stert tussen die bene kom vra vir sy karmelaatjie. Die kinders het stil en geskok in die sitkamer gesit en Sewende Laan gekyk op televisie toe hy styf-styf kom nesskrop tussen hulle.
Oupa Thato knip ‘n traan uit sy gesonde oog. Hy ervaar weer die pyn toe hy sien hoe Tsholo se armpie kruip om Blits se nek en hy vir hom fluister dat hulle twee nie kwaad is vir hom nie. Dat dit die broodwa se fout was wat nie gekyk het waar hy ry nie… Blits het dankbaar sy ronde honde oë geknip en die lastige traan van Tsholo se wang afgelek. Van daardie dag af kry die kind die drome. En Anabel suig haar duim en maak haar kooi nat. Blits is al wat hulle op die aarde het. Dit troos darem.
Oupa Thato leun swaar op die kierie as hy omdraai huis in. Die windjie waai koud om sy lende. Hy kyk op na die swart wolk bo hom. Die nuus op die draadloos laat weet van erge stormweer wat oppad is. Die reën kom vroeg vanjaar.
Anabel kan al die vyftig tree tot by die rivier self aftel. Die uitgetrapte voetpad kronkel deur lang gras en lote, verby die stinkende longdrops, totdat die skuinste van die begroeide rivierwal hulle loop stuit. Terwyl Tsholo versigtig die styl helling met ‘n koppie en die twee emmers afsukkel, tel Anabel roeskleur kluite al langs die wal op en slinger dit so ver sy kan rivier in. Blits is lank voor Tsholo al onder by die water en proe-proe dikbek in die vuil modderpoele.
Oupa Thato kook die rivierwater en syg dit dan deur die dun moeseliendoek voor hulle dit mag drink. Hy meen hulle sal spuitpoep kry as hulle die water netso moet drink, mense dooi oor spuitpoep. Sy hele familie rus by die lang bome oor spuitpoep. Maar Blits mag die vuil water drink. Hy het “spesiale kragte ” glo Anabel en vertel ander kinders, wat maak dat hy nie sal dooi oor die stink rivierwater nie.
Blits is ‘n bobaas swemmer. Hy gee een reuse sprong en is sommer in die middel van die rivier! Dan vat hy sommer drie massiewe slukke van die water en duik ‘n vrot stuk stomp uit wat hy stertswaaiend vir Tsholo gaan wys. Tsholo gooi die stuk stomp verder rivier af en Anabel lag uitbundig bly as Blits binne sekondes weer, stomp in die bek, op Tsholo afswem. Dis Anabel se lekkerste tyd van die dag – die waterskep tyd. Soms is daar ander kinders ook en dan speel hulle in die vlak modderpoele totdat die skadus lank raak.
Toe die emmers bultend vol op die staan vee Tsholo se oë eerbiedig oor die waters. Sy rug trek krom soos hy die wal probeer uitklim, hier en daar gee dit mee en dan holderstebolder hy tot dóér onder in die vlakwater om maar net weer van voor af te begin klouter. Blits meen hy speel en maak dit nog moeiliker…maar vir Tsholo is hierdie nie speletjies nie.
Die droom se waters het ook so gelyk. Vuil en modderig…die wal was net nie so steil nie en die water was allesbehalwe so kalm. Die gedraai en gekolk en geskree van diere doem helder voor hom op toe hy uiteindelik bo kom. Hy knip-knip sy oë.
Sy greep is stewig om die twee emmers as hy vasberde omdraai. Sy asem jaag en sy keel voel droog. Tog weet hy hy kan nie die water in die emmers nou drink nie, al sou hy hoe dors wees. “Kom, dit word laat.”
Die gekap begin weer. Voort duur dit tot Uncle nie meer kan onderskei wat kap is en wat die sjebien om die hoek se dansmusiek is nie. Hy lig die kantgordyn. Wat sou die kind dan drywe om so te aanhou met sy gekap? Dis nou al drie dae aaneen. G’n regdenkende sal weet wat in die seun se kop aangaan nie!
“Kom slaap nou Tsholo…” sy hoesie aamborstig in die vroegaand. Dit het sag begin drup. “Jy gaan siek word om so in die reënt te staan en kap.
Niemand is so doof soos die een wat nie wíl hoor nie.
Tsholo lig nie eens sy kop nie. Elke kap is koorsagtig. Die tyd loop uit. Blits lê hier vlak voor sy koue voete, so asof hy hom daardeur wil ondersteun – of – so al asof hy op iets wag…. Elke spier in die twaalfjarige seuntjie se rug is al seer. Tog hou hy uit. Die boot móét klaar, voordat die reënt begin val. Daarna weet geen mens wat gaan gebeur nie.
Dit reën harder. Die vet ronde druppels val gate in die sinkdakhuisie, of so klink dit vir Tsholo. Modderwater kronkel soos dik krokodille straataf, riviertoe… Tsholo is deurdrenk. Klappertand kap hy..kap hy maar mis nou meer as wat hy raak kap, en die hamer kom venynig op sy stomp vingers neer. Hy knyp sy oë styf toe toe die pyn uiteindelik deur sy koue vingers skiet. Hy probeer weer die spykertjie tussen die twee vingers vasgepen kry…kap…”Eina!!”
Dis nou genoeg.
Oupa Thato stoot die krakerige buitedeur oop en strompel deur die die waterstrome na waar Tsholo gehurk sit, seer hand vasgeklem tussen sy bene met moedelose trane wat oor sy wange loop.
“Kom klong, dis nou genoeg…kom ek dra jou huistoe…” Toe Oupa Thato hom optel is dit asof ‘n damwal in Tsholo meegee. Hy huil stikkend versmorend in Uncle se japon. Speedster hol vervaard in die huis in en gaan skuil onder die kombuistafel toe ‘n helder bliksemstraal deur die grou lug klief. Dis skielik donker in die straat.
Oupa Thato gaan sit met Tsholo op sy skoot op die heel kombuisstoel in die kombuis en begin hom heen-en-weer sus. Die Reënwater borrel genadeloos onder by die agterdeur in. Paniek klop teen sy slape. Hy bid. Here? Terwyl sy oë vasgenaal bly op die vlak van die water in die kombuis wat al hoe hoër styg.
Toe hy voel hoe die storm in Tsholo bedaar, slof-slof hy deur die vlak water in die kombuis na die seun se kamer. Hy stroop die deurdrenkte broek en hemp van sy lyf af en trek hom warm aan. Hy trek vir hom kouse en tekkies aan en sit ‘n mus op sy deurmekaar hare. Dit alles sonder dat Tsholo een woord uiter – net’n droë snik van faal vanuit iewers diep binne sy siel…
Anabel slaap die slaap van die engele. Oupa Thato loer by haar kamer in en kyk af op haar stil gelaat. ‘n Lastige traan biggel weer uit sy gesonde oog. “so onskuldig soos ‘n engel…”Dis ‘n sagte prewel…of is dit ‘n smeking?
Die kinders slaap nog toe Oupa Thato plan maak boontoe. Die verweerde rooi sonsambreel maak hy op ‘n manier vas op die plat sinkdak. Met die karige huisraad bou hy ‘n leer dwaarmee hy sukkel-sukkel boontoe. Hy pak kos in ‘n kardoes. Hy brou stomende koffie in ‘n fles. Vanuit swartsakke maak hy reënjasse vir hom en die kinners…en natuurlik een vir Blits, wat heeltemal verboureerd op en af deur die water beur. Teen die tyd dat hy klaar is, hoor hy die druising van die rivier amper vlak voor die deur.
Dis amper lig, maar dis donker langs die Natalse kus.
Oupa Thato byt sy lippe vas as hy die watermassa onder sien beur en dreun. O God! Die rivier het sy walle oorstroom! Hy moet die kinners droog hou. Lewend hou. God het hulle aan hom toevertrou, hy sal veg tot op die einde.
Dis ‘n hengse gesukkel vir die ou man om die histeriese Anabel op die sinkdak te kry. Blits weier volstrek om op te klim dakwaarts en storm holderstebolder verby by die oop agterdeur uit die rooi watermassa in. Oupa Thato kyk net een keer en prewel ‘n gebed vir Blits. Dan moet hy Tsholo gaan haal. Sy tong sit vas in sy mond, hy neem alles waar met groot wit oë en sprak geen woord terwyl Uncle hom onder die sambreel neersit nie. Anabel klou histeries en bewend in haar swart sak om Uncle se bene vas.
Onder die sambreel sit die drie vir ure voel dit, en verkluim. Hulle sou ook, as dit nie was vir die reddingshelikopter wat die rooi sambreel vanuit die lug gewaar het nie!
Die man in die rooi helder oorpak het eers vir Anabel gevat en die leer stadig opgeklim. Daarna was dit Tsholo se beurt. Die kind het niks gesê nie. Nie gehuil nie, nie geskree nie. Soos ‘n lam ter slagting het hy in die reddingshelikopter geklm met slegs sy oë wat wild in die kasteheen en weer oor die watermassa onder hom gevee het.
Die hele plakkerskamp is weggewas deur die modderstorting wat deur die rivier veroorsaak is. So asof die bestaan van die dorpie net ‘n gedagte was. Toe dit lig word was almal stom van skok.
Elke uur word mense steeds deur die reddingswerkers gered en na die hawe ingebring… maar baie meer mense word lewendig begrawe in ‘n massagraf van rooi modder en slyk.
Anabel huil oor Blits. Tsholo se toestand bly onveranderd.
Die tweede dag na die Natalse ramp kyk Oupa Thato na die verwoesting op die nuus. Tsholo sit stil soos ‘n muis langs hom. Die kamera vee vlugtig oor die rampgebied. Dan huiwer dit…fokus weer…en vergroot die beeld. Tsholo skiet soos ‘n vuurpyl van die bank af. Beelde van ‘n hond wat ‘n vlot trek dwarsoor die kolkende rivier vul die tv-skerm.
Op die vlot sit twee jack russels, ‘n boxer, twee katte, ‘n fox terrier en ‘n mak vark.
Tsholo se tong beur los van sy verhemelte .
“Dis die ark! Dis Blits!”
Oupa Thato val omtrent agteroor van skrik. Hy kyk met sy gesonde oog. “Ja wragtig, dis onse Blits, daai wat die ark trek!”
Tsholo is uit sy vel uit. Anabel se lag is klokhelder. “Boeta, dit lyk dan nes die prentjie wat jy my in die kinderbybel gewys het!”
“Net soos in my droom!” lag Tsholo.
Die kinders was by toe Tsholo se Ark uit die water getrek is. Dankbare diereliefhebbers prys die seun met sy slim plan om ‘n vlot te bou. Maar net hy en Anabel weet dit was sy “is” wat gesê het hy moet.
En Blits word die Wolrad Woltemade van die Diereryk.
Johan J van Rensburg
Mei 2023 – OOP projek
3.Dertien minute te laat
Barend Coetzee het God se stem gehóór; én daarop gereageer.
Op sewe-en- veertig leef hy sy roeping uit deur daagliks die Goeie Nuus te verkondig op ‘n plaaslike gemeenskapsradio. Hy wéét daar is sowat sewentig duisend mense wat élke dag sy stem oor die radiogolwe hoor. Sý tydgleuf is gedurende oggend- spitstyd: die tyd waarin die meeste lede van ‘n gemiddelde gesin in die beknopte ruimte van hul voertuie sit oppad, óf werktoe óf skooltoe. Gedurende hierdie tyd dra Barend sý deel by deur die padwoede statistieke te verlaag, en hy poog om hoop te bring, en vrede, om mense wat genadeloos uitgelewer is aan ‘n vaste roetine positief te probeer beïnvloed, en soms, tong in die kies, te laat lag.
Hy ìs immers ‘n sendeling.
Daar was nog nooit ‘n verveelde oomblik in sy lewe nie. Geen roetine kan hierdie Gestuurde van God baasraak nie. As hy moet tel hoeveel poste hy al beklee het in sy lewe, sal sy vingers en sy tone te min wees!
Die algemen man op straat verstaan hom nie. Hoe hy net nie tot “nesskrop” kan kom, of nêrens wil wortel skiet nie. Want met sy werk is geen fout te vind nie. Hy volg die stem van die Here oral waar daar nood is en die deure vir hom oopgaan. So was Barend al ‘n tyd lank Jeugpastoor in die Middestad, waar ontwrigte en deurmekaar tieners met verskeie vorms van afhanklikheid tydig en ontydig op hom gesteun het.
Hy was ook Arbeidsterapeut by ‘n groot hospitaal, en het menigte Uitreik-geselskappe gelei, tot in die hartjie van Afrika! Hy was ‘n kruier in Nepal, en het vir vyf jaar ‘n kliniek in daardie area bestuur. Terug op die vasteland was hy betrokke in verskeie voedingskemas.
Barend is ‘n gesellige ou en ‘n ware vriend vir almal wat ‘n vriend nodig het. Sy oor is nooit te besig om na jou te luister nie, en sy hand is nooit te kort om te help nie. Hy het ook ‘n vier-en-twintig uur hulplyn waar enige iemand in nood, van watter aard ookal, by hom sal geholpe raak. Defnitief.
Sy betrokkenheid by Radiouitsending is vanweë die oproep as motiveringspreker by skole en geleenthede. Barend het bekend geraak en die mense was honger vir sy boodskap van Hoop en Redding vir alle nasies.
Barend het alle situasies leer hanteer. Hy weet hoe om sy vrede te hou, hy weet hoe om tot tien te tel, hy weet hoe om op sy tande te byt as die verkeerde opmerking op die verkeerde tyd gemaak word.
Soos nou weer: ‘n Dame met goed gemoduleerde stem het ingebel. Sy wou ‘n vraag vra. Natuurlik, Barend is nie bang vir vrae wat, soms aan uitlokking grens, en somshom heeltemal van koers af stuur nie. Tog voel Barend ‘n gekriewel hier agter sy kopvel, ‘n vae ongemaklikheid, maar wat die rede is, weet hy nie.
“Hoe hanteer jy ‘n persoon wat nie wíl verander nie?”
Barend het hierdie gesprek al ‘n paar keer met verskeie “anonieme” dames gehad. Die stem kom te goed gemoduleerd voor, te afgestomp en ontneem van alle emosie. Hy het te doen met ‘n vrou wat haar man wil verander. Die verhaal het homself ten volle afgespeel in die stilte wat rek na haar vraag.
Dis ongemaklik, hierdie soort vrae. Daar is soveel dinge wat in ag geneem moet word. Een ding wat vir Barend stuit teen die bors, is geweld teen vrouens en kinders. Miskien omdat hy vanuit so ‘n huis kom!
Barend kondig beleefd aan dat daar eers musiek gespeel gaan word voordat hy die vraag sal antwoord.
Terwyl hy nog aan die praat is gaan vier vingers op vir die klankman agter die glas venster. Die teken is gegee en die musiek begin draai.
Barend haal die gehoorstuk af en sit dit op die lessenaar voor hom neer. Hy en sy klankman glimlag in mekaar se gesigte waar elkeen in sy eie klankdigte hokkie teenoor mekaar sit. Albei weet hoe Barend hierdie vraag gaan beantwoord. Met behulp van ‘n staaltjie uit sy lewe. Barend bid dat die verhaal wat hy gaan vertel die antwoord op die dame se vraag sal gee. Dit gebeur baie dat hy niksvermoed ‘n staaltjie vertel wat antwoorde op dringende kwelvrae vrae gee. Dan skakel bewoë luisteraars later in en getuig vol verwondering van God se Wonderbaarlike Genesende Krag nadat hulle geluister het na Barend se staaltjie.
Barend haal diep asem. Hy is gereed vir die antwoord.
Ewe professioneel kom vyf vingers agter die glas op wat begin aftel. Die musiek draai sagter en maak plek vir die rustigheid van Barend se stem. Hy het dertien minute voor die volgende musiekinsetsel gespeel word.
Dis dertien minute wat ‘n verskil in hierdie dame se lewe kan maak.
Hy begin die verhaal van Victor van Rooyen. Hierdie sestienjarige seun het saam met sy ouers op ‘n plot net buite Delmas gewoon. Sy pa was die buurt se “backyard Mechanic” en motorwrakke het daagliks soos paddastoele die plot vol opgeskiet.
Victor het ook ‘n ouer broer, wat op die selfde perseel in die garage teenaan die huis sy eie “Spray-painting” besigheid het.
Almal in die buurt ken die van Rooyen familie. Daar is heeltyd mense op die erf: vuil mans wat op tyres sit en kuier met ‘n bier in die hand waar Pa aan hulle karre werk, of jong ouens wat teen die muur van die garage leun en sigaretstompies skiet terwyl Victor se broer hulle karre spray-paint.
Die tannie langsaan, op die plot teenaan die van Rooyen’s s’n, neem gereeld Vrydae aande haar seun Josua en Victor saam met haar dorp toe waar sy die week se groente gaan aflewer by die groentemark.
Victor se pa dink dat hy die buurvrou met die taak help, maar Victor en Josua is deel van die Jeug van ‘n gemeente op die dorp. Hulle is goeie vriende.
Josua weet dat Victor nie in die prentjie van die van Rooyens pas nie.
Victor praat nie baie nie. Hy is sensitief, kunssinnig, en het ‘n vreemde passie vir musiek en liriek,dit kom al van jongs af. Dis net Victor ma wat hiervan weet. Sy musiekboeke hou hy veilig weggesteek onder sy bed. Sy ma het toevallig daarop afgekom terwyl sy skoongemaak het. Sy bewaar sy geheim diep in haar hart.
Victor se ma is ‘n verwaarloosde gryskop vroutjie wat leef op die krummels liefde wat sy by haar man en kinders kry. Haar dae bestaan uit huis skoonmaak en kosmaak en sepies kyk. Die ander van Rooyens verstaan Victor gladnie, en het geen goeie woord nog ooit vir hom gehad nie. Die dat hy maar uit hulle pad bly!
Dis op een van hierdie Vrydag aande dat Victor vir Barend by die Jeugbraai ontmoet het. Hulle het vuur gemaak om wors te braai. Barend het op ‘n stomp gesit met sy blikkitaar en himself vermaak met ou Praise en Worship liedjies. Victor het oorkant Barend gaan sit met die vuur tussen hulle, en het dadelik aanklank by die musiek gevind. Ure lank het hy stil sit en luister na die eenvoud in Barend se woorde.
Barend het Victor ongemerk dopgehou en die liefde vir Taal en Klank in sy honger oë raakgesien.
Die mure om die tenger sestien jarige het vinnig verkrummel in die aanbiddingsatmosfeer wat Barend onwetend geskep het.
Terwyl hulle later die wors braai het Victor stotterend homself voor Barend leer ken. Barend het hom saggies gelei, wetend dat die kind se siel broos is. In die drie jaar wat Josua Victor ken, het hy hom nooit so baie hoor praat nie. Dis asof die kitaarspel die stywe noot in Victor se samestelling laat skiet het.
Victor vertel van ‘n afwesige pa wat heeltyd by die huis is, van ‘n broer, niks minder as ‘n groot boelie, en van ‘n stil afgeremde ma wat in meer as ‘n jaar nie die buitekant van hul erf gesien het nie.
Sien, Victor, sensitief wat hy is, het die wanbalans in sy gesin waargeneem, hy kon dit selfs verwoord…maar hy kon niks daaraan doen nie. Hy het Barend gevra hoe hy dit kan regkry om dinge te verander.
Victor het nog nooit die binnekant van ‘n kerk gesien nie.
Met ‘n ma wat van selfbejammering wegkwyn en ‘n pa wat naweke die grootste deel van sy werk inkry en ‘n broer wat alles wat sy pa doen slaafs navolg, laat dit hom nie ‘n keuse nie.
Barend se hart skeur in twee vir Victor.
Hy sleutel sy nood-nommer in op Victor se foon. Niemand was nog ooit vir Victor daar nie. Enige tyd van die dag of nag kan hy Barend bel. Victor bewaar die nommer soos ‘n kleinood.
Na hierdie Vrydag aand het die lewe sy gewone gang gegaan. Barend was op daardie tyd betrokke by ‘n sopkombuis in die plakkerskampe op Krugersdorp.
Victor het skooltoe gegaan, en huistoe gekom. Hy het sy pa gegroet en sy ma gegroet, sy kos in sy backpack gepak en verdwyn. Dit was elke dag se roetine. Kinders word mos gesien en nie gehoor nie. En hy mag nie sit en tande tel nie. Sy ma het hom stil aangekyk. Sy broer en sy pa het met ghriesbesmeerde hande hulle borde kos gevat en op die stoep gaan sit en eet. Sy ma het die remote gevat en verdiep geraak in die sepies op die TV. Dit was háár “escape”.
Victor se “happy place” is in die ruim van ‘n ou groen Volkswagen Kombi. Al wat van hom oor is, is die buikwerk, die engine het sy pa al lank terug vir spare parts gebruik. Hy het dit mooi ingerig, daar is ‘n bar-fridge vol coke, daar is ‘n stukkende sitkamerbank met ‘n kombers oor en ‘n mat oor die geroesde vloer gegooi. Victor gooi die deure gewoonlik wawyd oop en sit vir lang ure en mediteer op die stukkende sitkamerbank. Sy uitsig is nie wat wonders nie, scrap en scrap en nogmals scrap.
Ten minste kan niemand hom hier sien dagdroom nie, en hy doen die meeste van sy skryfwerk nét hier. Hy skryf gedigte. Nie oor die liefde nie, want hy het geen ervaring nie! Nie oor diep en donker dinge van die wêreld nie, want die sien hy genoeg van!
Nee, hy droom van ‘n vuurrooi sonsondergang in die Karoo, of ‘n maan wat hang oor ‘n blinkstil dam, of van sagte reëndruppels op ‘n groen blaartapyt… Alles dinge wat sy hart ligter laat voel.
Dis hier waar die Egiptiese Kobra vir hom gewag het.
Toe Barend die oproep kry, moes hy eers mooi dink wie praat. Hy kon uiteindelik twee en twee bymekaarsit. Aan die swaar asemhaling aan die anderkant van die lyn kon hy agterkom dat hy die heel laaste op Victor se lys was om te bel.
Al was sy pa daar, al het sy broer om die muur gestaan en rook, en al was sy ma in die huis verdiep in die sepies, het geeneen ag geslaan op Victor se hulpkreet nie. Niemand het die foon beantwoord toe hy aanhoudend huistoe bel nie.
Barend het dadelik uit Krugersdorp gery. Hy was ál een wat die kind kon red!
Hy was te laat. Victor was klaar dood.
Victor se foon was nog in sy hand vasgeklem toe die gif sy lyf oorwin het.
Barend het later gereeld by Victor se ma gaan draai. Sy is die hardste deur Victor se dood getref, en het vir maande gebuk gegaan onder ‘n las van selfverwyt. Sy was so platgeslaan deur ‘n harde en liefdelose huwelik dat sy die sonstrale wat God op haar pad gesit het, nie raakgesien het nie.
Nou is dit te laat.
Later het sy haar berus.
Sy het haar man se liefdeloosheid vergewe. Sy het haarself vergewe vir die kokon van selfbejammering waarin sy haarself so vasgedraai het dat sy niks vir enige iemand kon beteken nie. Sy het haar huis aan die kant gemaak en haarself opgeruim.
Sy het saam met Barend gegaan en elke dag vars brode in die townships gaan aflewer. Genesing het gekom deur van haarself te gee. Saans het sy ligaamlik vermoeid, agter die kospotte, ‘n nuwe lied geneurie.
Die lewe maak net sin as jy dit wil laat sin maak.
Dertien minute is verstreke. Barend sien die vyf vingers wat die draai van diemusiekinsetsel aandui. Hy vee oor sy oë. Dit is een ding wat sy werk nie maklik maak nie. Die herinnering aan elke keer wat hy te laat was om te help. Dis ingegraveer in sy geheue, en dit dring hom om te doen wat hy doen.
Hy wat Barend is weet, dertien minute, op die regte plek, kan die verskil tussen lewe en dood beteken.
Die foon lui. Bewoë bedank die dame vir Barend. Die antwoord is duidelik: Om ander te verander moet jyself eers bereid wees om te verander. Al is jou lewe nie perfek nie, fokus op die mooi wat daar is. Gee tonne liefde vir elke persoon rondom jou, en jy sal self God se genesing ervaar.
En die belangrikste – Blom waar jy geplant is.
Johan Jansen van Rensburg
Januarie 2024 – OOP Projek
1.Die Franse revolusie en ’n jas
Ek sit al vyftien minute in ‘n pashoekie van ‘n Eietydse Klerewinkel in Melville en
karring met my naelvyl aan die sak van ‘n ou jas.
Ek is van nature ‘n avontuurlustige, en dis toe ek my hand so “terloops” in die sak steek
om voor die spieel te tiekiedraai, dat ek die aardige verdikking in die voering van die sak
onder my vingerpunte voel. Asof ‘n slang my gepik het, het ek my hand vinnig
teruggeruk. My hart het getromslag in my keel en ek het geweet ek moet iewers
privaat wees om my “vonds” van naby te ondersoek.
Die bleek ontvangsdame het skaars die pienk doek oor die pashoekie drapeer of ek ruk
my naelvyl uit my geborduurde handsak. In my brein het die naelvyl die binneste
sy-agtige voering van die regtersak gesny soos ‘n warm mes deur plaas botter gly. Die
werklikheid was tragies. ‘n Vyf minute avontuurverhaal raak ‘n vyftien minute stoeigeveg
met ‘n stomp naelvyl en ‘n tweedehandse monster!
Ek kou die laaste garing los en bid vurig dat die pienk doek net nie nou, met die jas in
my mond, moet lig nie. Ek sal nie weet wat om ter verdediging aan die bleek
ontvangsdame te pleit nie!
Daarsy!. Uiteindelik los. Ek wriemel met my teer vingerpunte die opgevoude stukkie
papier vanuit die voering los. Die papier is al geel van oudgeit. Ek ruik ingedagte
daaraan…Kan dit pyptabak wees?
Onderbreking. Dis die bleek ontvangsdame wat deur die pienk fluister. “Alles oraait
mevrou?” Ek besef ek is steeds in die pashoek. Ek gryp die swart jas, druk die naelvyl
in die sak, gryp my hansak en swaai die pienk lap wyd oop. “Waar betaal ek?” Ek
glimlag mooi.
Eers moet ek ‘n sterk kafeien inspuiting kry. Die roetine vragies van die kelnerin by die
koffie stalletjie frustreer my opeens. “Goeie more, ek is Chantelle, ek sal u vandag
bedien”. Sy glimlag soet. My gesig bly ‘n masker. “Kan ek vir tannie iets bring om te
drink?”
Ek voel skuldig oor my ongemanierdheid. Ek maak oogkontak. “Cappuccino asseblief.
Met baie room, skattebol”
Ingedagte het ek die geel briefie om en om gedraai in my vingers. Die nuuskierigheid
maak my al kortasem. Stadig nou, maan ek myself. Vanuit my handsak diep ek my
natuurlike kalmeer tablette. Ek sit sommer drie onder my tong en suig my wange hol
asof ek ‘n ontydige dood afspraak moet keer.
Ek dwing myself om aan iets anders te dink.
Ek dink aan my werk as biblioteekaresse van die Nasionale Biblioteek in die stad. Ek is
‘n gebore boekwurm. Ek verslind speurverhale. Ek is ‘n vyf-en-veertig jarige oujongnooi
met ‘n diep siel en my gunsteling fliek is “Age of Adeline”. Dit is waarom die jas my
aandag getrek het. Hoe oud is dit? In watter era is dit gemaak en hoe is dit moontlik dat
dit nog steeds so goed daaruit sien?
Sou die jas vanuit Frankryk kom, was dit waarskynlik die eiendom van ‘n Franse heer
wat tydens die Franse Revolusie onder Marie Antoinette se valbyl gesterf het.
Ek het iewers gelees dat, al sou Franse here net op straat in ‘n eg Franse jas verskyn,
hulle daarvoor aan die guillotine gesterf het.
Sou die jas uit die Victoriaanse era spruit, is hy heel waarskynlik gedra deur gaste van
Prins Albert se talle uitspattige koninklike onthale. Hierdie jasse is net deur adelikes
gedra, en sou iemand jou so ‘n jas as geskenk gee, is jy onmiddelik in die adelike kringe
opgeneem en aanvaar.
Die jas kom beslis nie uit die jare tydens die Groot Oorlog nie, want dit getuig die snit.
Dit is ‘n enkellengte jas, en dit wys dat daar meer as genoeg materiaal beskikbaar was.
Die materiaal is ryk en swaar, en die binnevoering is met oorleg gedoen. Hier was geen
sprake van minimalisme en tekorte wat in die depressiejare kort na die oorlog geken
het nie!
Die cappuccino is heerlik. Ek drink dorstig en stort van die room in die piering. Dis tyd
om die geel vierkantjie van naderby te besigtig. Behoedsaam skuif ek die koffiekoppie
ver oorkant my.
Kan dit wees dat my vingers bewe?
Die geel vierkantjie vou vinnig los. Ek haal my leesbril uit my handsak. Die woorde is
onherkenbaar en baie dof, ek maak slegs hier en daar ‘n naam uit: Louis-Charles,
Madame Elizabeth, Marie Antoinette, en Louis XVII…die res van die brief is hierogliewe
en verstaan ek g’n sout of water van nie…
Ek is teleurgesteld. As ewige romantikus het ek soveel meer verwag…
Ek haas my met gloeiende wange na die biblioteek. Ek studeer nagte om. Ek raak
luistergenot en my kennis vermenigvuldig daagliks. My stap is regop, ek straal van
ekstase. Na ‘n volle twee weke het ek die Franse boodskap ontsyfer. Ek voel soos ‘n
Franse adelike.
My jas hang veilig in my kas.
Die boodskap, vertaal in Afrikaans, lees as volg:
My liewe Louis-Charles, ek neem aan dat die oorlog nou verby is en jy het jou vader se
jas. Hy het dit gedra ten tye van die Franse Revolusie. Dit het hom verraai en hy is
gedood. Neem die jas, dit verkondig dat jy van adelike oorsprong is, dit maak jou die
regmatige koning van Frankryk, Louis XVII.
Dra dit met trots, ter ere van die adelikes wat gesterf het tydens die Franse Revolusie.
Jou tante, Madame Elizabeth
Januarie 1793
Johan Jansen Van Rensburg
3.Die raaisel
996 woorde Kortverhaal
Met die inloop in my ma sitkamer het die hangkassie bruin en trots gepronk.
Na jare was die hout blink en sonder skraap, die glas, verdeel in drie groot panele, was heel, en die laatjies het hulle eie sleuteltjies gehad.
‘n Ware kanniedood!
Hy was maar altyd daar. Na ouma se afsterwe het hy gulsig die hoètroustel in die
sitkamer se plek ingeneem.
Ek onthou hoe ons Sondae na kerk by ouma Fien in die aftree oord gaan koffie drink het. Met die bruin melkpoeier brousel veilig in ‘n plastiekglasie het ek dan grootoog op die hardehaar matjie voor die hangkassie gaan sit en die ornamentjies daarin met my oë ontleed.
Ek was in ‘n ander wêreld!
Daar was die wit gehekelde swaantjie met sy lyfie vol pepermentlekkertjies, en ‘n
olifantjie gemaak uit ‘n ou handy-andy bottel met sy magie vol pienk ouderlingspilletjies!
‘n Dogtertjie gemaak uit seeskulpies, ‘n “lady bug” uit klippies, en ‘n tweewiel fietsie kunstig uit bloudraad gevleg. Ouma was sentimenteel. Alles van waarde kry ‘n ereplek in die hangkassie. Sy vertel dat die oudste ornament wat daarin is, die verdroogde handruikertjie is wat sy op haar sestiende verjaarsdag na ‘n skooldans gedra het.
Vanselfsprekend was dit taboe om die ornamentjies te hanteer.
Die klein brons sleuteltjie het ouma iewers versteek. Net sy kon die inhoud daarvan hanteer. Ek kon net kyk. Nou en dan het my nuuskeirigheid my genoop om opgewonde vragies te vra. “Waar het ouma die bottel wyn met die rooi rokkie aan gekry?” Ouma het dan so ‘n veraf kyk in haar oë gekry en die gesels het in die lug bly hang.
“Dit was my ant Sussie se kombuistee. Al die tafels is opgedollie en die wyn met
die rokkie aan was in die middel van elke tafel staangemaak. Ai, elke vrou van die dorp was genooi.” Ouma lag dat haar tande amper hulle plek verloor. Sy kyk vir ma. “ Tannie Sus het daardie dag soveel kombuisware gekry, ons kon ‘n restaurant oopmaak!”
Ma het afgekyk en ‘n mondvol koffie gesluk. Ma is nie ‘n opgaarder nie.
Een Sondag vra ek toe heel onskuldig uit oor die twee groen gebreide babaskoentjies in die hangkassie.
Ek sweer ouma het my gehoor, maar sy het aangehou praat asof ek nie daar was nie. Ek het bly wag vir die gesels wat moet stop, bly uitkyk vir die veraf lig haar oë, tot pa my later uitgevat het buite toe om te loop saamspeel met my sussies onder die druiwepriëel. “Kinners word gesien en nie gehoor nie”.
Ek het nie meer gevra oor die ornamentjies nie, ek het stil soos ‘n muis op die hardehaar matjie voor die hangkassie gesit en gedroom…
Jare later pronk die wit olifant in my ma se voorhuis.
Die sleutel van die glasdeurtjies het so met die verloop van tyd verlore geraak. Ma laat die kleinkinders toe om die ornamentjies uit te haal en daarmee te speel wanneer hulle kom kuier en die verveeldgeit hulle baasraak. Die pepermentjies en die pienk ouderlingspilletjies is lankal verorber.
Skulpiedogtertjie se voetjie is af en die glas spaarvarkie is al tweekeer aanmekaar gegom. Dis net die wynbottels en die groen babaskoentjies wat nog hul vroë bekoorlikheid behou. Dit voel aardig om die kinders so losweg en hardhandig met die ornamente te sien speel. My hart pyn as ek sien hoe Ken en Barby op die fyn bloudraad fietsie moet ry.
Die hollandse poppie se hare het ‘n nuwe kapsel, en die voëlnessie se pienk en blou wattetjies is weg. Ouma sal in haar graf omdraai!
Helaas skraap ek moed bymekaar en vra ma of ek nie die wit olifant mag saamneem huistoe nie. Sien, ma gaar mos nie op nie! Toe ma hoor ek wil ‘n nuwe “white wash” voorkoms gee aan die oue, was die koeël dwarsdeur die kerk. Die kinders pak dit wat oor is van die binnegoed opgewonde in ‘n kartondoos en skryf groot en swart “Oumagrootjie se Ornamente” op die kartondoos, voordat ma dit in die stoorkamer op die stukkende wasmasjien gaan neersit.
Tuis sit ek toe op die sementblad van die lapa en kyk deur die venstertjies en raak oordadig nostalgies. Ek proe weer die koffie-en-melkpoeier mengsel in my kieste, en ek voel weer die hardehaar matjie onder my sitvlak. Ek huil oor die agterkleinkinders se hardhandigheid en oor ek wat die voorreg ontsê is om aan die kosbaarhede te rààk!
Die sleuteltjie draai sag in die slotjie en ek wikkel die laatjie respekvol oop. Ouma moes die slotjie kort-kort dokter met spookpiepie, anders wou dit nie in die slotjie draai nie.
Ek onthou.
Daar is iets wat vassit aan die bodem.
Ek wikkel daaraan. Dis ‘n koevertjie. Ek trek dit versigtig los van die bodem van die laatjie. Ek sit verstom terug op my hakke. Ineens is ek weer die uittand dogtertjie op die hardehaar matjie voor iets baie interesants. In my gees sien ek weer hoe die gesels in die lug bly hang. Almal se oë is vasgenael op die vergeelde koevertjie in my hande.
Ouma het die kyk in haar oë, ek sweer ek hoor haar hier agter in my nek fluister. “Maak oop die briefie, my kind…”
Dis ‘n koerantuitknipsel. ‘n Klein beriggie, onder in die hoek van die bladsy:
Tragedie tref Noord-wes familie.
Ses familie lede sterf in fratsongeluk buite Ventersdorp.
Enigste oorlewende was Fien Visagie en baba Zelmari Visagie.
Frans Visagie, seun van Fien Visagie moes die masjiene van baba Zelmari Visagie
gaan afsit.
Ons harte gaan uit na hierdie verslane familie…
Ons bid vir julle.
Ek sien die groen babaskoentjies in die hangkassie, ek onthou hoe ouma my nie wouhoor nie. Kinders moes gesien word en nie gehoor word nie. Die atmosfeer was gelaai, ek onthou dit nou.
Dit was Zelmari se skoentjies. Pa Frans moes die masjiene gaan afsit…
Dit verduidelik waarom pa Frans so erg begin drink het. Dit was altyd ‘n raaisel.
Waarom my huis so gebroke was.
Ek verstaan.
Johan Jansen Van Rensburg
Januarie 2025 – OOP projek
3.Jannie Fiskaal
(1664 woorde)
Kortverhaal
Die son trek al water toe klein Jannie Fiskaal se boeksak met ‘n dowwe plof duskant Wagter op die bed neergevoeter word. Tjank- tjank wip Wagter van die bed af terwyl Jannie vir hom skewebek trek. “Aag vir wat lê jy ook jou dae en ómslaap op my kooi? Jy kan later huil daaroor!” Hy slaan soos ‘n os op sy deurmekaar bed neer dat jy net die stof op sy skoolskoene in die lug sien optrek. Jannie is lank, buitengewoon lank vir sy ouderdom; sy enkels steek ver by die voetenent van sy bed verby!
Klein Jannie Fiskaal is ‘n skrander graad agt seun met groen oë en ‘n weerbarstige blonde kuif. Daar sit ‘n ry sproete dwarsoor sy neus en tussen sy middelste twee voortande is ‘n gaping so groot dat n stewige straal water daardeur gespoeg kan word. Hy loop in ‘n kleindorpie skool, waar daar net ‘n raps oor die honderd leerlinge tans ingeskryf is.
Jannie se pa is die dorp se Geagte Posmeester; Hy is die enigste mens op die dorp wat selfoonopvangs het vanwëe die ligging van hulle huis. Sien, hulle bly heel bo op die punt van ‘n klipperige kop. Sy pa hanteer die hele dorp se foonoproepe, sms’e, whatssapp- groepe en emails.
Die mense van die dorp noem hom “Jan Fiskaal” omdat hy so maer soos ‘n kraai is en so kiertsregop soos ‘n fiskaal loop. Maar hulle hou van hom want hy is hulle enigste kontak met die buitewêreld.
Sy ma doen die Prokureers se boeke en sy is altyd vrééslik besig. Hulle woon ál Klein Jannie Fiskaal se jare op die dorp, en Klein Jannie Fiskaal weet nie eers van ‘n wêreld buite die dorpsgrense nie!
Pa Janstoot Klein Jannie se kamerdeur versigtig oop. Klein Jannie staar boontoe, dakwaarts toe.
Pa Jan leun teen die kosyn van die kamerdeur waar jare se lae verf soos ‘n kaleidoskoop afsplinter.
“So?”
Die groen van Klein Jannie se pupille draai duskant toe terwyl sy kop in dieselfde posisie bly.
“So wat, Pa?”
Pa Jan se duim skilfer nog ‘n paar repe verf van die kosyn af. “Ek meen maar net, ek sien jou en Wagter se bakkies staan ewe skeef vandag….”
Die kop word gordyn se kant toe geruk dat pa nie die storm in die groen moet sien nie. “Dis alweer die boelies in die klas.”
Die sug spreek boekdele. Dan bars die storm in volle geweld los:
“Jannie Fiskaal so maer soos die vlagpaal!”
“Jannie Fiskaal se vel lyk soos Tarentaal!”
“Jannie Fiskaal so lank soos ‘n spoorwegplank!”
Ma het sy uitbarsting ook gehoor. Die laaste sin het bietjie te hard uitgekom. Maar die snot sit te dik in klein Jannie Fiskaal se keel om nou nog te probeer om korrek te artikuleer. Sy kom staan vadoek oor die skouer teen die ander kant van die kosyn. Jannie hoor haar sug. Klein Jannie weet sy maak nou grootoog vir sy pa dat pa Jan sy grootmeneer skoene nou moet aantrek en sy kind moet moed in praat.
Maar pa Jan Fiskaal is nie ‘n man van baie woorde nie, sy praat raak gou op. Sy hart sit in sy dóén, Dit wéét klein Jannie.
Klein Jannie Fiskaal draai sy kop na die kosyn se kant toe.
Pa Jan kug ongemaklik.
“Sien ek is ok maar so lank soos ‘n Sondagmiddag.”
Ma rol haar bruin oë boontoe asof sy vra vir hulp en draai om om te gaan kosmaak.
Klein Jannie sien hoe hy eers die woorde proe voor hy dit sê. “Ek is my lewe lank die spot van die dorp. Fiskaal. Dis onse van boetie, en dis die mense wie ons is. Die lang mense van die dorp.”
Klein Jannie snork vererg deur sy neus. “Ek wil dit nie hoor nie. Ek wens my van was…Poggenpoel of Fredericks soos die dokter aan die bodorp…maar Fiskaal…ek haat die van!!
Ma kom help.
“Wat Pa bedoel is dit: jy moet dit van jou rug laat afrol soos water van ‘n eend se rug af. Moenie op hulle fokus nie, dink aan wie jý is en watter besondere talente en gawes die liewe Here jóú gegee het. Wie weet, hy het jou hoeka lank gemaak vir ‘n spesifieke rede!!
Ek wed jou die Here dink nóú, in hierdie oomblik, aan die werk wat Hy vir jou het! Dink net, jy en jou pa kan alles altyd éérste sien, die kort vettes van die dorp sien alles altyd ná die maal. Ma lag vir haar eie grappie. Klein Jannie fiskaal se mondhoeke trek ook al verby honderd grade, al wìl hy nie smile nie.
Hy staan sleepvoet op. Slaan ‘n halwe arm om pa Jan. “Sorry pa.” Hy kyk sy ma aan. Dis sý wat die rye sproete vir hom gegee het! Kyk hoe lyk háár neus! Praat van tarentaal! Sy kreukel haar neus vir hom. Hy lag. Klein Jannie fiskaal se wêreld lyk weer heel. So op ‘n manier.
Ma en pa kyk by die venster uit toe hy en Wagter later die veld in vaar. Hulle kyk vir mekaar en lag in mekaar se oë op. Toe ons nog kinders was…
Klein Jannie Fiskaal stap ‘n ent langs die grootpad – die dubbelpad wat sý dorpie met die groter dorpe verbind. Dis taamlik besig, daar is baie vragmotors wat groot vragte hout vanaf hulle dorpie vervoer. Wie weet waarheen! Klein jannie fiskaal raak al bekommerd. Die bome rondom hulle dorp raak ál hoe minder.
Al geselsend loop klein Jannie Fiskaal saam met Wagter, terwyl hy met hom redeneer oor die wysheid van die mensdom, oor aardverwarming, oor die koolstofvoetspoor wat hy los, en nog talle ander baie belangrike sake.
Jannie sien probleme raak, hy wonder daaroor, en hy los dit op. Hy weet net nie wat hy gaan doen om sy koolstofvoetspoor so klein moontlik the hou nie, want hy sukkel met die hele herwinningsidee. Daarom loop Jannie ver paaie om al die rommel wat vragmoters en motors langs die pad gooi op te tel om iets bruikbaars daarvan te maak. Dié verkoop hy in die straat voor hulle deur om sakgeld vir data te kry. Dis die enigste manier wat hy het om in voeling met die wêreldsake te bly. Die internet is sy BFF.
Klein Jannie weet net nie wat om met al die gemórs te doen nie!Jy weet, die goed wat nie herwinbaar is nie… Hy gooi dit altyd op die dorp se dumpingsite, maar voel so sleg daaroor dat hy soms in die nag opstaan en dit gaan terughaal en in die pakkamer bêre. Pa slag hom af as hy sien wat alreeds daar opgegaar is!
Jannie dink oor die boelies in die skool. Niemand kan nét sleg wees nie. Iéwers moet daar tog iets bruikbaars en van nut in hulle samestelling wees. Klein Jannie is seker mense is herwinbaar. As hulle tog net nie so erg met hulle geraasbesoedeling was nie!!
Soos wat klein Jannie Fiskaal weer aan die slegte ervaring in die klas terugdink, skop hy ‘n stuk gerolde koerantpapier met sy skoenpunt op. Wag… Daar is iets in. Wagter raak ook nou opgewonde en begin met sy pote krap-krap aan die koerantpapier. Klein Jannie gaan sit op ‘n klip en vou die pakkie oop.
Klein Jannie Fiskaal haal sowaar‘n weggegooide kunswerk uit die ou vervrommelde stuk koerantpapier! Dit is ‘n halssnoer vanuit hout gemaak, in die vorm van ‘n kruis, met ‘n diamant in die middel. Hy fluit ‘n lang verbaasde fluit. Hy hou die halssnoer teen die son. ”Hete ou Wagter, hier slaat ons sowaar ‘n jackpot!!” Wagter se stert swaai met mening en hy kwyl bolle slym van pure opgewondenheid. Klein Jannie fiskaal sit op sy hurke en vryf Wagter tussen die ore. “So voel Krismis my Honne, so voel Krismis!!”
Nou bestudeer hy sy fonds se detail. Daar is iets op die agterkant van die kruis in die hout uitgekerf. Klein Jannie Fiskaal draai die kruisie om om in die son te kyk.” L…I…E…F…D…E” Hy kyk verwonderd na Wagter. Wagter sit sy poot op Klein Jannie se knieg so al asof hy nét so verwonderd oor die ontdekking is.
“Dit spel dan Liefde, Wagter!”
Dan raak klein Jannie Fiskaal se hande om die halsnoer stil. “Ek weet wat dié is, wagter. Dis die Here wat my laat weet – Hy het my life, en hy het vir my ‘n werk. Hý het die skat op ons pad gesit ou Wagter, dat ek moet weet hy sien my. En hy wéét van die gemors wat ek nie weg kry nie. En hy weet hoe sukkel ek met die boelies. Ek is sy diamond. So lank soos ‘n paal en al.”
Nou is sy voete vlugtig. Hy en Wagter jaag soos die wind. Klein Jannie se hemp bol en die slym waai in slierte by Wagter se bek verby. Hulle stop in ‘n stofstreep by die agterdeur se stoep. Hulle asems jaag, maar daar is ‘n blos op Klein Jannie Fiskaal se wange en vuur in die groen oë.
Ma staan in die kombuis en eiers klits. Sy gooi ‘n kop vir pa Fiskaal wat by die kombuistafel sit en sms’se stuur.
“Kyk, die kind het weer kleur in sy wange, die buitelug het hom goed gedoen!”
Klein Jannie Fiskaal trippel by hulle verby en neurie ‘n verspotte liedjie in die gang af. Hy buk by sy bed en skuif sy geheime kissie onder sy bed uit. Hy haal die sleuteltjie wat aan ‘n kettingkie om sy nek hang af en sluit die kissie oop. Hy plaas die kruisie versigtig daarin. Dan, met ‘n honderd en tagtig grade smile sluit hy die kissie weer toe.
Klein Jannie Fiskaal plof op sy bed neer. Sy skoene hang ver verby sy voetenent. Wagter spring baldadig langs hom op die bed.
“Klein Jannie fiskaal, jy is bedoel vir GROOT dinge. Moenie dat die gemors in die lewe jou laat struikel nie. Herwin. Alles is op die ou end bruikbaar.”
Johan Janse van Rensburg
Maart 2025 – OOP projek
3.Wraak wat my vrymaak
Die kragtige engin van die viersitplek vliegtuig kom met ‘n snik tot stilstand. Veronica sug. Buiten die ritmiese gedraai van die propeller is dit grafstil om haar. Sy rek haar nek om die landskap vanuit die vliegtuigvenster te aanskou. Die bosveld was nog altyd vir haar ‘n pleister vir ‘n gekneusde hart. Hierdie keer egter, ‘n middel tot ‘n doel. Sy staan vasberade op en gryp haar rugsak.
Veronica was al agttien. Sy skep ‘n asemrowende mooi prentjie waar sy op die trap van die vliegtuig huiwer. Die liggroen broekpak beklemtoon haar groot groen oë, wat vandag troebel waters is. Sy het haar golwende blonde hare losweg in ‘n hoë poniestert op haar kop gestapel.
Sy lyk ouer as wat sy is – sy dra met opset klere wat haar volwassenheid beklemtoon.
Vir ‘n vinnige oomblik wonder sy wat sy eintlik hier soek. Dan steek die pyn soos ‘n mes en ‘n ontsettende naarheid stoot op in haar keel. Sy klou vas aan die reëlings om haar ewewig te behou. Die afgelope vier jaar kelk oop in misrabele asemteue…
Van kleins af blom Veronica in haar pa, die bekende dokter Mike Heine, se kringe. Sy moes vroeg in haar lewe al gasvrou speel. Tydens die menigte onthale wat tuis gehou is vir haar pa se vennote moes sy haar stempel afdruk. Haar ma is oorlede tydens haar geboorte, dus is haar band met haar pa baie nou…altans…tot ‘n maand gelede.
Hy was maar altyd daar. Wikus Landman. Dókter Wikus Landman. Pa se beste vriend – en vennoot. Pa Mike en dokter Wikus het mekaar getrou elke Woensdag by die gholfklub ontmoet vir ‘n uurtjie of twee se gholf genot. Eers was hy vir haar soos ‘n ouboet, die lang man met die atletiese lyf en broeiende oë wat homself dokter noem. Wanneer pa weg was op mediese kongresse het dokter Wikus haar onder sy vlerk geneem. Hulle was groot maats, daardie jare toe sy nog onder die toonbank van sy spreekkamer kon inpas. Hy het sy vrou pas na hulle wittebrood in ‘n fratsongeluk verloor, en pa sȇ hy rou steeds oor die mooi blondine wat so vroeg en wreed van hom af weggeruk is.
Veronica het gaandeweg rooi hakskene begin groei. Sy was pas in die hoërskool toe sy van hom as mán bewus begin word het. Dokter Wikus Landman het Veronica se tienerdrome oorheers. Hy was die held op die wit perd, die skim van die nag wat haar kon red uit haar klooster bestaan…
Sy het vasgegroei aan hom, soos mos aan ‘n boom. Selfs toe die grys teen sy slape kom was sy lief vir hom. Op soveel geleenthede het sy haar liefde aan hom probeer verklaar. Daar was lekkerruik briefies in koevertjies op sy lessenaar, weekliks vars blomme en die fynste gebak.
Vir hom was Veronica die mooi opgeskote dogter van sy beste vriend.
Dis al.
As ‘n mens te lank skoene dra wat nie retig pas nie kry jy liddorings op jou kleintoontjies. Dan dra geen skoen lekker nie. Veronica moes op ‘n manier los raak van die knaende seer in haar skoen.
Sy moes wraak neem…Wraaksug, boosardige gedagtes ens…
Eendag het sy “per ongeluk” op ‘n foto van dokter Wikus se oorlede vrou afgekom. Sy het die foto lank bekyk. Elke stukkie van die foto daarvan ingedrink. Die blonde groenoog vrou het wyd gelag in die arms van haar minnaar. Haar hals was slank en haar hare het sag daarom gegolf. Haar lippe was vol en rooi en reg vir miljoene minnaarskuste.
Stadig is ‘n plan in Veronica se binneste gebore. ’n Meesterplan, ‘n plan wat nimmer sou misluk.
Drie volle jare later is die plan voltooi. Die resultaat is merkwaardig. As iemand haar nie geken het nie, sou hulle waaragtig kon dink dat Veronica dokter Wikus se oorlede vrou is. Van haar kroontjie tot haar toontjie is Veronica haar spieëlbeeld. Haar blonde hare golf teen haar nek, die groen kontaklense skitter in haar oë, en haar rondings is vol en vroulik.
Eendag het dokter Wikus terloops laat val dat hy hou van ‘n vrou wat iets het om aan te vat.
Op agttien was Veronica ‘n oorryp vrug. Oestyd het aangebreek. Drie jaar se drome, fantasieë en trane kook en borrel duiseligwekkend oor.
Veronica het ‘n doktersafspraak gemaak, by dokter Wikus. Eintlik het sy self haar naam in die afspraakboek ingeteken. Sy het gewag, soos al sy ander pasiënte in die wagkamer, met sy ry pers stoele en potplante in die hoek. Die tydskrif op haar skoot was twee jaar terug se huisgenoot. Haar hart het geklop in haar keel. Sy het haar mooigemaak vir hom. Haar hare was syagtig en los, haar lippe was vol en granaatrooi en haar oë het gesmeul.
Toe dit haar beurt was het haar bene gebewe. Sy wou hom wys wat hy al die jare gemis het.
Pa kry altyd ‘n galaanval van te veel soetigheid eet.
Toe dokter Wikus haar liefdesverklaring so grapsgewys en bedaard van die hand wys het Veronica geweet sy sterf. Op daardie oomblik. Drie jaar se soet het in die bitterste galstene oorgekook.
Sy het sy spreekkamer naar verlaat.
Vir die eerste keer het Veronica en pa woorde gehad. Die geweld van die woordvloed het haar weggedryf uit die warm kring van haar ouerhuis. Pa was briesend. Die aantygings het in dik kotsels van sy mondhoeke af gedrup en soos warm lawa moes sy dit sluk.
Hoe kon sy haarself so goedkoop maak voor sy vennoot, sy vriend?
Jarelange vriendskap en wedersydse respek hang swaar in die weegskaal. Is bloed dan nie dikker as water nie?
Veronica is geweeg en is te lig bevind.
Stert tussen die bene het Veronica haar kamer ingeskuifel. Die skryfblok is nader getrek. Dieselfde skryfblok wat male sonder tal haar liefde verklaar het…
“Liefste pa
Ek gaan weg. Moet my asseblief nie probeer opspoor nie.
Liefde
Veronica”
En nou is sy hier – in die bos waar niemand haar kan sien, pla of herinnervan wat was nie..
Skielik is sy vry, reken die jong tiener dame terwyl sy haar planne tot vryheid volg.
Veronica, Veronica weet jy wat jy doen? Waar is jy my kind? Vrae van n” Vader in skok, rou en bekommernis.
Johan Jansen van Rensburg
APRIL 2025 – AARDE PROJEK
3.Aardsvyand
‘n Reuse Korona massa uitstorting van die son het tydens September in die jaar twintig vyf-en-twintig die lewe op planeet Aarde drasties verander. Die son was nie meer die aardbewoner se hoofverskaffer van energie en vennoot van warmte nie – nee – dié hoofkarakter van die aarde se heliosentriese sisteem het verrys tot ‘n drogbeeld van stille vernietiging van’n lewe van gemak en tegnologiese vooruitgang, soos wat aardbewonders lewe op aarde geken het.
Op ‘n helder Suid-Afrikaanse lentemiddag het die son besluit om ‘n reuse plasmawolk in die aarde se rigting te spuug. Sonder waarsku het die bol gelaaide gasdeeltjies na ‘n voorspoedige reis van 15 ure die aarde se niksvermoedende oppervlak binnegedring…tot verreikende gevolge vir die aardbewoners!
Joey Stravos, Kwantum Fisikus van die Universiteit van Kaapstad, was destyds besig met haar meestersgraad in alternatiewe energiebronne. Die aankoms van die gasmassa in die troposfeer is aangekondig in ‘n skielike bleekgeel skakering van die Kaapse uitspansel, met ‘n onmiddelike verhitting van die lug net onder die warm kombers van die stratosfeer. Joey was oortuig daarvan dat een of ander hemelliggaam deur die termosfeer gedring het en nie in die mesosfeer gedisintegreer het, soos ander meteoriete gewoonlik doen, nie. Die episenter van hierdie ongemagtige inbraak was al langs Kaap Alghulas, naby Kaapstad, aan die suidpunt van die kontinent van Afrika.
Alle satelietkommunikasie en GPS seine is onmiddellik verloor.
Regoor die wêreld het skokgolwe van vrees golf-op-golf elke hart deurboor. Merk hierdie gebeurtenis dan die einde van die mensdom?
Helaas nie.
Die son se aanloklikheid het verander in ‘n stille vrees wat elke aardbewonder tot stilte en onderlinge samewerking geskok het.
Die plasmawolk het vinnig en regoor die aarde versprei. Songelaaide partikels het die kragnetwerkte binnegedring en die werk van alle grootskaalse tegnologiese kettings in ‘n oomblik tot stilstand gebring. Water kon nie na huise gelei word nie, en voedsel kon nie geproduseer word nie. ‘n Era van internet, selfoongebruik, sosiale platforms en ander slim uitvindsels het ‘n stille dood gesterf. Besighede het bankrotgespeel en die ekonomie…wel…daar was nie meer ‘n ekonomie nie…
Vir twee jaar moes die aarde terugkeer na die baarmoeder van sy beginjare – vir twee jaar moes aardwesens ‘n gevorseerde moderne ystertydperk intree.
Dit was ses jaar gelede.
Joey staan op die dak van haar etanol-aangedrewe motor en staar deur haar sonbrille na die see van suikkerriet wat ver oor die horison strek. Die lug is ‘n skerp blou spatsel. Haar mond trek wrang. Wie sou kon dink dat die soetheid in hierdie plant die redding van ‘n nasie kan wees?
Haar navorsing was op papier. Haar berekeninge was perfek. Kort voor lank het etanol-produksie as alternatiewe energiebron die van sonkrag verbygesteek. Die son het sy houvas op die aarde verloor.
Die vervaardiging van bio-brandstof vanuit die fermentasie van suikerriet is in Brazilië getoets. Joey was daar, ‘n onervare gegradueerde, ‘n etlike aantal jare voor die sonvlam. Sy glo vas dat etanol – energie die antwoord vir die toekoms van alle aardbewoners is.
Dit is ook daar waar sy Berno Bahrikez, haar vurigste teenstander, doktor in alternatiewe energie, ontmoet het. Doktor.
Berno se antwoord vir die energiekrisis van die aarde is waterstof-brandstof selle.
Joey blaas onvergenoeg deur haar neus. So asof water ‘n onbeperkte energiebron is! Kyk die hoeveelhede platinum wat hy uit die aarde se maag kerf! Sy gee dit tien jaar voordat hierdie katalisator finaal opgebruik is! En dan, wat sal grote Berno dan as alternatief vir die elektroliese van water gebruik?
Die hele proses is onooglik en stimuleer geensins waardering vir moeder aarde en dit wat daar nog van haar oor is nie. Waterstof silos is monsters en onveilig en moet baie versigtig hanteer word. Aardbewoners is bang vir alles deesdae…
In die dae wat gevolg het direk na die sonvlam het Joey en haar span aan ‘n teorie gewerk waar alge direk vanuit sonlig etanol produseer. Grootskaalse algeplase is dwarsoor Afrika aangelê en die Algenol maatskappy is gestig. Berno met sy groot ego het ‘n stokkie daarvoor gesteek. Water was te kosbaar om te mors as groeibedding vir die alge – en kosbaar genoeg vir sy waterstof produksie!
Sy spring af, stof die stewelspore van haar dak af en klim in haar motor. Geruisloos ry sy tussen die suikerrietlande deur tot waar die suikerriettorings soos soekende vingers aan die uitspansel klou.
Die reuk van alkohol klim op in haar neusgate as die deur sag agter haar toevou. Andersins is die lug skoon. Die nuwe wêreldorde verbied ‘n koolstofvoetspoor van meer as twee persent per produksielyn. Die dikte van die osoonlaag het in die afgelope vyf jaar amper verdubbel en gemiddelde temperature van die aarde se oppervlakte het met meer as sewe grade selsius gedaal. Dit wys jou net, waar daar ‘n wil is, is ‘n weg.
Die etanol aangedrewe deure swaai stil agter Joey toe.
Aardsbewoners was vir honderde jare aartsvyand. Kan die Groot Hand die wyser van die tyd terugdraai?
Moeder aarde lek haar wonde en snik in haar hartseer in maan se groot wit sakdoek.
En weliswaar…
nou, na vyf jaar, is die lug skielik skoner, siektes en allergieë is minder, en die aardbewoners is gelukkiger. Almal pluk die soet vrugte van inkeer en omkeer.
Almal behalwe Joey.
Dis verstommend om te sien hoe aardbewoners nie in basiese vrede met mekaar kan saamleef nie. Die gemiddelde aardbewoner is wel belese, vooruitstrewend in aardse kennis, maar algeheel gebrekkig in sy vermoë om sinvolle onderhoubare verhoudings met mede aardbewoners te kweek.
Of met moeder aarde.
Hoe lank moet slim wetenskaplikes die aarde probeer red van sy aartsvyand, die aardbewoner? Hoe lank voor algehele verval weer aan die orde van die dag is?
Joey het geleer om met jaloerse mededingers in vergaderings te sit en selfs gedreig word. Alles net omdat sy die antwoord gehad het. Hul menings en pogings sal en wil nie werk nie.
Een laat aand word Joey se onderhoud met die media uitgesaai.
Baie verbaas het miljoene mense na die uitsending gekyk, verstom om rede geen bekendmaking van die uitsending gedoen is nie, rede was eenvoudig vir veiligheid.
Daar is baie mense wat dit sou wou keer dat joey die media te woord stel.
Vinnig en kort media verslag is voorgelees deur Joey met geen tyd vir vrae deur media want sy en beveiligingspan moes vertrek voor die geheime plek waar die media bymekaargekom het, uitgelek word.
Joey lees duidelik dat elke woord duidelik gehoor kan word.
Wees versigtig vir die Aartsvyand!!! Sy bestaan is waar en gevaarlik, maar een fout wat dit begaan het is om nie op iets groter en magtiger as hul bestaan te reken nie.
Joey glimlag en kyk reguit na die kameras toe, Nee nie ek nie maar waar ek my kennis en wysheid gekry het om ons almal te red !! Stilte.. dan lig Joey haar hand op na bo en wys na die sterre hoog bo in die hemelryk…
God ons skepper van Hemel en aarde, van mens en dier het my gehelp om almal op aarde te help want ons tyd het nog nie aangebreek dat die aarde vernietig word en verdwyn nie…
Joey stop om te praat en draai om en loop weg na die rigting van die veiligheidspan…
Baie lank na die media uitsending het mense en regerings gepraat hieroor, maar nooit weer Joey gesien of van gehoor nie… In die stilte verdwyn soos iemand wie se werk voltooi is te volle.
Johan Jansen van Rensburg
FEBRUARIE 2026 – OOP PROJEK
3.Spinnekop byt
Sy verspotte velhoed sit windskeef oor sy boskas as hy sy oë skrefies maak teen die skerp strale van die onnergaande son. Sy kyk vee oor die volle breedte van sy plaas. Sy naam is oral bekend – Jan van der Merwe. Sy plaas, eintlik nie veel meer as ‘n vergrote plot nie, en grens aan die hoofstraat van die plaasdorpie Biesiesvlei. Die enigste straat waaroor die dorpie beskik, in die hartjie van Noordwes.
Sy persoonlikheid beklemtoon sy naam. Jan van der Merwe is ‘n deurmekaar en windverwaaide mielieboer, maar sy vrou Estelle, hou sy naam hoog. Haar hanne vat raak wanneer dit vat, en wanneer sy nie haar vat kry nie, lag sy dit weg. Kommer ken sy nie. Jan se planne sal windskeef staan was dit nie vir sy Estelle nie.
Die seningrige mannetjie kry lekker as hy dink aan die stoetvrou wat moeder aarde hom gegee het.
Hy rol die soet lekker in sy kieste rond en dié proe sommer soeter as hy net aan haar dink.
Sy is welliswaar nou nie ‘n model nie, want die uiterlike tel nie vir Jan nie, maar binne in haar groot bors skuil ‘n feëkoningin. “Deur dik en dun”…deur die maer jare en die vettes…die lang derm en sy kort dik vroutjie se trou aan mekaar en liefde vir mekaar is alombekend in die distrik. Vir die mense van Biesiesvlei bly hulle ‘n rare verskynsel.
Die fynskrif wat nie aan die klok gehang word nie is dat dit nie altyd so was nie! Jan glip sy hand in sy boonste hempsak en kry nog een lekker om te suig. Daar was ‘n tyd toe hy sy vrou ampertjies verloor het…
Een Maandag more help hy toe, soos oudergewoonte, sy ouvolk beeste voer. Yster Brits, sy beste vriend wat die tuindienste op die dorp bedryf, laai so dan en wan oortollige tuinvullis af, veral peule, vir sy span beeste voor die kraal af. Dan meng Jan en sy ouvolk die peule met die groenvoer en stoor dit in bale in die ou sinkstoor langs aan die huis, vir die dae wat die son steek en die reën weg kruipertjie speel agter die wolke.
So op die betrokke Maandag oggend beland daar toe die een of ander gogga in Jan se werkstewels.Eers wis hy van niks nie. Later begin daar ‘n ding in sy skoen brand soos ‘n vuur uit die hel alleen kan! Denkend dat dit ‘n peuledop is wat by sy kous ingevoeter het, vryf hy sy duim in sy kous om van die lastigheid ontslae te raak en gaan verwoed aan in sy poging om die peule en die groenvoer op ‘n manier gemeng te kry.
Later is die brandpyn so lastig dat hy genoodsaak is om op die kruiwa te gaan
sit en sy skoen uit te trek om te sien wat die moeilikheid dan is.
Die vloek wat val oor sy lippe bring ‘n gewyde stilte oor die ouvolk. Toe hy sy skoen gooi dat dit ‘n boog in die lug maak en Oupiet skrams op sy korrel kop tref weet die ouvolk die Maandag draai blou.
Jan van der Merwe kyk na die overblyfsels van die spinnekop wat hy in sy skoen doodgedruk het toe hy gedink het ‘n peul het by sy kous ingeval. Hy kyk na sy voet en voel yl hoofdig. Die swerkater het hom gebyt. Drie keer nogal. En die gif brand ‘n pad dwars door sy voetbrug so al asof ‘n kan soutsuur oor hom loop. Yster Brits staan nader aan die spektakel, gee net een kyk en besef dat hiérdie doktersake is.
Hy laai vir Jan vinnig voor in die Ford Bakkie, skree dan vir Oupiet om die wa af te hak terwyl hy die bakkie reeds in eerste rat is. Die Ou volk staan met hoede in die hand en tong klik soos hulle die kreunende Jan jammerlik agternakyk.
Die peulebesigheid eers in die agterkop, nou skoon vergete. Onthou Oupiet wat in’n oomblik van helderheid Estelle se gesig sien. Hy vra toe sommer ‘n jong seun om by die huis langs te draf sodat Estelle die dokter kan oplui sodat hy hom kan voorberei vir Yster Brits wat oppad is na sy kantoor toe met n’ verskriklike vinnige spoed.
Dit vat Yster Brits skaars ag minute om amper by die deur van die kliniek in te ry. Hy lewer Jan af asof hy ‘n pakkie is, in die hande van dok Heunis. Die voet het teen hierdie tyd ‘n kol so groot soos ‘n ryp vy bo-oor die brug. Jan kyk vasgenael op die gif wat sy vleis verder vreet op sy voet.
Daar hang ‘n siek reuk van vrot vleis in die lug. Swerkater van ‘n spinnekop!
Die dokter lyk nie vreeslik bekommerd nie. Yster Brits sien hoe skryf dokter op Jan van der Merwe se pasientvorm dat ‘n “gogga” hom op die voet gebyt het. Yster Brits kyk onsteld liewers weg. Dit was ‘n spinnekop, nie ‘n “gogga” nie! Genugtig!!
Dokter trek ‘n naald vol spuitstof. Seker teengif, soos met slangbyte, dink Yster Brits.
Jan lê en kreun soos ‘n man op sy einde. Dis ‘n ellendige situasie. Die sweet lê blink oor sy voorkop en hy gryp-gryp na iemand se hande om dit te druk vir pyn . Yster wil-wil ongemaklik raak oor die hand vas houery, maar besef sy vriend moet seker ylend dink dis Estelle se hand wat hy nou hier vashou. Die dokter spuit in die vrot vleis in. Die gif versprei nog steeds soos ‘n veldbrand.
Jan vra ewe die dokter of dit nie beter sal wees om liewers die voet net onner die enkel af te sit nie.
Dis ‘n nare gedoente. Yster voel al lig in sy kop van al die reuke wat in die bedompige kamertjie nesskrop. Estelle stop in ‘n wolk van bakkie bande wat rem voor die kliniek. Sy was nog aan die aantrek toe sy tyding kry van haar man
Jan se ongesteldheid.
Sy het net daar en dan die bakkie se sleutels gegryp en kom sy nou by die
kliniekdeur ingewaai. Yster Brits los blitsvinnig Jan se hand en glimlag soos ‘n skoolseun wat op heterdaad betrap is. Sy gee hom een vuil kyk en kom binne.
Knap vrou wat Estelle is, som die situasie vinnig op en snel dokter Heunis te hulp. Sy gee die bakkie met ontsmet middel aan, sy gee die gasies, verbande en salf aan. Haar hande vat net reg. Jan het intussen weer Yster se hand gegryp en druk hard.Estelle sien niks meer raak as die ellende waarin haar man Jan verkeer nie.
Baie later skommel die paartjie terug huistoe. Uitgeteer van die honger en die skok. Saam met hulle ‘n berg steriele verbande, gaasverband, wondskoonmaakmiddel, pynpille en des meer . By hul die huisie op die plaas dink Estelle aan hulle troubelofte aan mekaar…”tot die dood ons skei”. Estelle weet sy word nou getoets.
En was dit nie ‘n toets nie! Skielik is Estelle nie meer net “tuisteskepper” nie. Die bordjies word verhang. Nou is sy boer, dokter, berader en die verpleegster!
Jan is meer deurmekaar as ooit tevore! Hy weet nie of hy moet lag of huil nie, baklei of sy nederlaag aanvaar nie. Aan die een kant,kry hy homself vreeslik jammer, aan die ander kant, kry hy vir Estelle jammer.
Dis asof dit oordeelsdag is toe hulle tien dae later die dokter op Klerksdorp moet gaan sien. Dit is hier waar hulle gaan hoor of Estelle wel Jan se wonde goed genoeg versorg het om ‘n veloorplanting op sy voet te doen. Daar is ‘n gat so groot soos ‘n botterskorsie op Jan se voet.
Die dokter knik goedkeurend. Estelle tevrede maar moeg knik terug vir die dokter. Weet die dokter wat dit gekos het om daardie voet kiemvry te kry? Sy is nie meer dieselfde mens as wat sy was voor hierdie tragedie nie…
Nou moet hulle ongevalle toe. Dis ‘n vreemde ervaring vir hierdie boeremense. Jan klou met sy seningrig lyf aan Estelle se sterk voorarm terwyl hy per rolstoel vervoer word na ongevalle. In Estelle se vry hand dra sy Jan se oornagtassie, dokter Heunis het gewaarsku dat dit mag nodig wees.
Estelle byt haar onderlip vas. Jan is reeds so deurmekaar, wat nou na die narkose ? Sal dit haar man se tor nie dalk finaal uit sy baan ruk nie? Sal hy weer dieselfde wees na hierdie ervaring? Dis met verskriklike skok dat Jan van der merwe op die bed by ongevalle by die suster hoor hy kry nie narkose nie. Estelle is dankbaar en stuur ‘n skietgebed op. Jan aan die ander kant, slaan in ‘n koue sweet uit by die aanhoor daarvan dat hy by sy volle positiewe gaan wees wanneer die dokter die vrot vleis uit sy voet gaan slag.
Die vriendelike rooikop verpleegster probeer hom gerus stel dat hy darem “lokaal” verdoof gaan word en niks sal voel nie, maar hy is so paniek bevange dat Jan haar skaars hoor. Hy sluk-sluk droog en gryp-gryp na Estelle se hand. Haar vingers voel koel tussen syne. Die dokter kom toe die vertrek binne. Jan sien hoe die naald vol getrek word van spuitstof . Jan sluit sy oë vir die slag. Die naald prik pynlik in sy voet. Weer en weer.
Dis toe die dokter die skalpil afvee en ‘n goedgemikte sny maak dwarsoor die wond dat Jan se bloed reguit na sy kop toe gaan. Sy tor word met geweld uit sy baan geslinger en Jan met sy seningrige arms wild begin swaai deur die lug en ‘n kreun oor sy droë lippe sodat hy van die wrede werklikheid ontsnap…
Estelle ruk soos sy skrik toe haar man Jan se arms die teaterlig, die silwerskoon gesteriliseerde instrumente, en die verpleegster omwaai. Sy spring vorentoe om sy arms vas te pen langs die bed.
Die verpleegster staan verskrik op vanaf die koue vloer en stryk oor haar uniform. Dan tel sy die skinkbord met instrumente op en gaan haal ‘n vars voorraad uit die kas langs haar. Die dokter gaan voort en sny en grawe in Jan se voet rond asof niks gebeur het nie. Sie verpleegster meld dat die pasient flou geword het.
Sy drup met ‘n ysblokkie aan Jan se lippe en gaan aan met haar werk. Estelle se hart klop in haar keel en haar hande bewe merkbaar. Sy het tien dode gesterf. Sy kyk liewers nie waar die dokter werk nie, sy het nie nou die maag daarvoor nie. Selfs vir ‘n sterk vrou soos Estelle raak dinge soms te veel…
Toe Jan ‘n uur later ontwaak is sy voet in skoon verbande toegewikkel en lyk dit asof niks gebeur het nie. Soos die stilte na ‘n noordwes storm. Hy loer deur sy half geslote oë na Estelle hier neffens hom.
Hy wonder wat vind sy so interessant daar buite. Sy bly dan staar deur die venster?
Terug op die plaas is alles in rep en roer. Estelle vra Yster Brits om ‘n ogie oor die boerdery te kom hou. Eers wil Jan niks daarvan weet nie, want hy vertrou nie n’ ander man by sy hartsdinge nie.
Later moes hy maar aan die bitter pil sluk. Sy kragte is min noudat hy so aan die bed vasgekluister lewe en pynpikke baie sterk .
Estelle kort rus vir haar siel, en kos vir haar gees. Sy dink weer aan haar troubelofte.
Soms ‘n sware kruis om te dra. Dis nie net ‘n silwer kettinkie om jou nek nie.
Miskien is dít die rede waarom hulle so goed bymekaar pas…Liefde, omgee, en deur alles daar vir mekaar te wees.
Ook nooit vir almal wat so opkyk na die bekende Jan van der Merwe dat hy soos baie mans maar lekker bang kan word by die dokter of in hospitaal.
Jan van der merwe het herstel van die spinnekop byt maar hy en Estelle praat nie oor die teater en gebeure in die hospitaal nie.
Johan J van Rensburg