Lynne Lexow
September 2018 – Spyse vir die siel projek
1.Ontsnaproete vir jou siel
“Marietjie, Mariet, Merraai…kom sê vir jou ou man koebaai…” Kobus se vrolike stem weergalm deur die stil huis. Hy is al weer oppad na een van sy vele visvang naweke saam met Jan van Niekerk en Petrus van Zyl.
Marita staan moeisaam op. Hoewel sy weet dat al die biere nog veilig in die koelsak is klink Kobus al reeds of hy ‘n paar agter die blad het. Sy opgewondenheid oor ‘n naweek saam met twee ander mans langs ‘n rivier of by die see kon sy nooit verstaan nie, tot sy hom eendag direk gevra het.
“Wat sloer jy so ou vrou, daardie vissies gaan nie vir ewig vir ons wag nie…”
“Hier is ek Kobus. Het jy jou warm jas gevat? En daardie goed vir die muskiete?”
“Ja vrou, dis darem nie my eerste trippie na die viswaters toe nie.”
Marita moet op haar tone staan om haar man te soen, maar nog voor sy behoorlik kan bykom lig Kobus haar van haar voete af en plak ‘n natbek soen op haar lippe.
Terwyl Marita voor die venster staan en vir haar man wuif skud sy haar kop – na dertig jaar van saamwees leer sy nou eers vir Kobus ken.
Marita keer terug na haar studeerkamer en gaan sit weer agter haar rekenaar met die doel om die kortverhaal waaraan sy werk klaar te maak, maar haar gedagtes dwaal terug na haar man. Kobus staan ‘n volle ses voet twee in sy sokkies, is ‘n ingenieur en mede-eienaar van sy firma. Aan die begin van sy loopbaan het hy amper dag en nag gewerk maar toe die kinders opdaag het hy ook plek en tyd vir hulle ingeruim. By die werk is hy ‘n streng baas, maar tuis was dit meestal sy wat dissipline moes toepas.
Daar was ‘n tyd in hulle huwelik dat sy gevoel het dat hulle niks in gemeen het nie. Hy is luidrugtig en sosiaal, ‘n kenner van elke sport denkbaar, netjies en presies en sy was stil, ‘n regte huishen, kunstig en ten spyte van haar loopbaan as onderwyseres, soms verstrooid. Vir ‘n paar jaar het Marita onvergenoegd gevoel met haar lewe en gedink dat haar huwelik slegs in naam bly voortbestaan. Sy het egter niks gesê nie en Kobus was te besig om enige iets agter te kom.
Twee jaar nadat die laaste kind uit die huis uit is en enkele dae na haar vyftigste verjaarsdag het Marita aangekondig dat sy uit die onderwys gaan tree. Kobus se eerste reaksie was om haar te vra wat sy dan gaan doen om haarself besig te hou en net daar bars die opgekropte emosies in Marita los. Haar woede het oorgekook en sy kon die speeksel wat saam met haar woorde by haar mond uit gevlieg het nie keer nie.
“Magtag Kobus, is dit al wat jy van my dink? Dat ek net ‘n ma vir jou kinders en juffrou vir ander se kinders kan wees? My liewe man, kyk vir my, ek is ook ‘n vrou, ‘n vrou met talente en belangstellings, nie die bleddie outomaat wat al vir jare elke aand ‘n bord kos voor jou neersit nie…” Marita het begin huil en vir ‘n oomblik was Kobus stil, toe staan hy op, neem haar in sy arms en druk haar nat gesig styf teen sy borskas vas.
“Ek is jammer Marita, so jammer. Ek het dit nie so bedoel nie, ek het nie gedink voor ek gepraat het nie. Natuurlik gun ek jou die tyd om weer aandag aan jouself te gee. Ek is werklik jammer, dis nie dat ek nie weet van jou belangstelling in kuns en hoe graag jy ‘n boek wil skryf nie, dis net dat ek gedink het dat jy gelukkig is…”
Snikkend het Marita na haar man opgekyk.
“Ek kort spyse vir my siel Kobus, ek is leeg binne…”
Die einde van daardie termyn het Marita opgehou skoolhou. Haar huwelik het daarmee saam ‘n omwenteling begaan. In plaas van elke aand sit en boeke merk het sy en Kobus begin fliek, teater toe gegaan en kon sy hom selfs met ‘n bord kos by sy gunsteling restaurant omkoop om haar na ‘n ballet uitvoering te vergesel.
Ja, alles het verander, behalwe vir een ding, Kobus se visvangery. Een aand terwyl hulle snoesig in die bed lê draai Marieta na Kobus.
“Kobus, wat is daar aan die dekselse visvangery wat jou so aantrek?”
“Dit is daardie spyse vir die siel waarvan jy gepraat het Marita, jy weet, daardie ‘na waters waar rus is’ ding…”
Kopiereg Lynne Lexow 2018
Oktober 2018 Projek
1.‘n Vrou van formaat
Dit is 25 Oktober 1908. Toe ek in my beste uitrusting by Mnr Smith se winkel aankom was daar reeds ‘n groepie mense voor die ingang vergader. My hart klop onstuimig en my hande sweet so effe. Ek verstel die gaas sluiertjie van my modieuse hoedjie so effe en stryk die wye romp van my rok plat, meer om my palms te droog as enige iets anders, trek my skouers en ruggraat reguit en peil op die groepie mense af. Terwyl ek so ongemerk moontlik deur die skare loer, herken ek vir James Kingsley, ons plaaslike koerant se redakteur/joernalis/fotograaf, in die skare. Hy het my ook raakgesien en voor ek kon wegkyk, lig hy sy kamera en neem ‘n foto. Die flits het my vir ‘n oomblik verblind, maar toe ek my oë knip en opkyk, sien ek dit waarvoor ek al die pad gekom het. Die splinternuwe Model T Ford staan glinsterend blink in die oop deure van Mnr Smith se pakhuis geparkeer.
Ten spyte van die opleiding wat ek vir die laaste twee weke ontvang het, was ek nogtans gespanne. Ek kon my net voorstel wat die mense sou sê, en wat James Kingsley in sy koerant sou skryf, as ek hier met horte en stote sou wegtrek.
Tyd vir staan en wonder was daar egter nie. Mnr Smith druk ‘n bos blomme in my arms en James Kingsley laat sy kamera aanhoudend flits. Die klein skarretjie gil en juig toe Mnr Smith my die motor inhelp. Vir ‘n oomblik kyk ek om my rond en trek my asem diep in. Ek ruik die hout van die blink nuwe instrumentpaneel en die leer van die rooi gekleurde leer sitplekke.
Toe haal ek diep asem, lê die bos blomme versigtig op die leë sitplek langs my neer, vroetel ewe belangrik ‘n bietjie hier en ‘n bietjie daar, verstel die spieëltjie en glimlag breed, en uiters verlig, toe ek, ons dorp se eerste vroulike bestuurder en motor eienaar, geruisloos wegtrek.
Ek loer in my tru-spieeltjie en merk dat James agter my in die middel van die straat staan en steeds fotos neem en ek glimlag so in my enigheid, want die mooie man weet nog nie wat ek alles vir hom beplan nie. Ek en my splinternuwe Model T Ford gaan nog baie avonture hê waaroor hy nog sal moet berig.
396 woorde
Lynne Lexow 2018
November 2018
1.Tant Kotie van Koffiekan
In ‘n dorpie, soos die van ons, bly daar ‘n verskeidenheid van rare en unieke karakters. Tant Kotie het erg gebrei (of is dit ‘gebgei?’) Jong, en as sy met haar arms, so dik soos boomstompe, en hande in die sye gaan staan het…wel, dan het ‘n mens nie geweet of haar ge’moerg’ na koffie of ‘n pakslae verwys het nie, want sien, Tant Kotie kon enige matroos in sy skaamte in vloek.
Tant Kotie was ook nie juis klein van gestalte nie en het enige plankvloer na donderweer laat klink. My pa het altoos gesê dit was die enigste goeie eienskap van sy niggie, die dat sy mens nie kon bekruip nie.
Tant Kotie het ‘n dorpsplaas gehad. Dorpsplaas? Ja, ons dorp is nog so in die boendoes, dat Tant Kotie se huis in Bloemstraat staan, maar haar grond van agter die huis tot anderkant die berg strek. Volgens gerugte het Tant Kotie baie jare terug ‘n man gehad, maar die het glo nie lank gehou onder haar nie en is glo kort na die geboorte van hul seun sommer eendag dood. Pa sê die man het gevrek van slegtigheid. Nou, sê Pa, is arme Tant Kotie gestraf met ‘n seun wat na sy pa aard. Ja, Vaak Fanie van Tant Kotie was nie ‘n haastige ou nie, en dit is mos waaroor my storie gaan.
Tant Kotie het maar so op haar eie geboer. Sy het so paar varke gehad, so paar volstruise, drie beeste, hoenders en ganse, ‘n groentetuin en so aan. Haar grootste inkomste het egter van die pasteie gekom wat sy vir die dorp en omliggende omgewing gebak het. Kyk, ek eet nie ‘n winkelpastei nie, maak nie saak of hy ‘n Mamma’s of Pappa’s pastei is nie, ek eet nie daardie jellierige goed nie, maar aan Tant Kotie se pasteie kan ek my vervreet. Dit maak nou nie saak hoe Tant Kotie geleef en oorleef het nie, die vrou het hard gewerk, letterlik dag en nag. Almal was half dankbaar toe Vaak Fanie skool klaarmaak, want om die arme vrou so met haar logge liggaam te sien sweet was nogal ‘n jammerlike gesig. Kort na sy matriekeksamen kry Vaak Fanie toe sy lisensie en kort daarna annekseer hy Tant Kotie se bakkie – nou nie om te help boer soos ons gehoop het nie, maar eerder om byna elke dag Oudtshoorn toe te ry om wat ookal kamma te gaan doen of om elke aand by de plaaskroeg te gaan kuier.
Tant Kotie het nêrens loop kla nie, net maar begin om haar pasteie met haar ou Mercedes af te laai. Daar was ook ‘n menigte kere dat sy met die Mercedes se gai wat amper op die grond sleep en die kattebak wat punt in die wind oopstaan die hoofstraat af gekruie het met die kattebak vol voer. Dan het my pa sy vuiste gebal en ergelik gebrom.
Die predikant het gaan preek en gebid en Vaak Fanie het wel op ‘n keer of wat goed pak gekry by die kroeg, maar niks het gehelp nie, tot op ‘n dag…
Wat in Tant Kotie se gemoed aangegaan het sal geeneen weet nie, maar dat sy al goed keelvol moes gewees het is goed te verstane. Die grootste hartseer van hierdie verhaal is dat ek nie daar was om die gedoente self te kon aanskou nie en dat ek dit ongelukkig tweedehands moet oorvertel.
Vaak Fanie is glo die Maandagoggend so by tienuur Oudtshoorn toe en toe Tant Kotie die Mercedes wil uittrek om pasteie te gaan aflewer is die ding morsdood. Tant Kotie het in die enjin gevroetel, maar hoewel sy handig was in baie dinge het sy nie veel geweet van karre af nie. Met hande besmeer van die olie het sy glo die huis ingestorm en vir Vaak Fanie van haar landlyn na sy sel gebel. Vir ‘n uur of meer kon sy hom nie in die hande kry nie, uiteindelik het hy glo tog geantwoord en het sy hom beveel om onmiddelik huis toe te kom. Toe hy egter teen middagete se tyd nog nie by die huis was nie het Tant Kotie al stomende oor die straat geloop en oor die straat se buurman gaan vra om haar asseblief te vat om die pasteie te gaan aflewer. Volgens die buurman was Tant Kotie by daardie tyd al rooier in die gesig as wat sy gewoonlik was en was hy toe al bekommerd oor haar gesondheid, maar hy het haar maar sonder ‘n woord dorp in geneem en maar gedweë oral vir haar gewag om haar pasteie af te lewer. Sy het hom darem met twee van haar hoenderpasteie beloon. Volgens dieselfde buurman het Tant Kotie weer probeer om vir Vaak Fanie te bel terwyl hy in haar kombuis die pasteie gesit en eet het.
Ek wil net gou verduidelik van Oom Peet Poepies se plaaskroeg. Oom Peet Poepies het so 11km uit die dorp uit geboer. Hy was nogal ‘n suksesvolle boer, maar baie lief vir mense en kuier en so besluit hy toe mos om in een van sy skure ‘n kuierplek oop te maak. Die plek, nes sy boerdery, was ook ‘n baie groot sukses en menigte boer en dorpenaar het daar gaan kuier. Oor naweke het hulle daar gaan rugby kyk en drink en deur die week het hulle gaan veerpyltjies speel en drink. Die dorp se enigste spiedkop het sommer in een week sy Kersbonus op die sementpad verdien.
Duidelik het Vaak Fanie nie sy ma te goed geken nie of het hy gedink hy is veilig 11km uit die dorp uit. Volgens Kallie Spiedkop het hy rustig in sy voertuig onder ‘n boom gesit en koerant lees, want dit was nog te vroeg vir die dronkies om huis toe te gaan, toe hy iets soos ‘n bul hoor blaas langs sy kar. Teen die tyd dat hy die koerant kon opvou en neersit om mooi te kyk wat aangaan was al wat hy kon sien die agterkant van ‘n groen geblomde tent wat in ‘n wolk van stof langs die sementpad af beweeg. Kallie het sy oë op skrefies getrek om beter te kan sien en het hy hom verbeel dat dit Tant Kotie was.
Oom Peet Poepies het die storie verder vertel. Volgens Oom Peet was die kroeg nogal vol die Maandagaand, siende dat hulle Sondagaande toe is. Vaak Fanie was natuurlik daar en met ‘n paar biere reeds agter die blad het hy probeer om teen Sakkie Spoedvraat veerpyltjies te speel. Albei was reeds effe onvas op die voete en het baie gelag. Eers het hulle net die gebrul en geblaas gehoor en dit was glo so erg dat dit die musiek skoon uitgedoof het. Toe het dit donker geword en met die omkyk het Tant Kotie die deur vol gestaan. Sy het glo vir enkele sekondes rondgekyk en toe op Vaak Fanie afgestorm.
Fanie het nog so gestaan en wieg toe is sy ma by hom. Met ‘n brul het sy hom aan die kraag beet gekry en na die naaste bankie gesleep. Soos ‘n skip wat op droeë grond strand het sy op die bankie neergesak sonder om Fanie se kraag te los en hom sodoende saam met haar afgetrek. Nog voor enige iemand tot verhaal kon kom het sy vir Vaak Fanie net daar oor haar skoot getrek en sy sterre vir hom vuurwarm gefoeter. Vaak Fanie het stadig maar seker tot verhaal gekom en probeer wegkom, maar met haar een hand stewig om sy kraag en die ander wat die houe op sy sterre laat neer reën kon hy nêrens kom nie. Toe Tant Kotie uiteindelik nie meer die energie gehad het om skade aan te rig nie, het sy vir Fanie weggestoot en moeisaam opgestaan. Haar hare het wild om haar kop gestaan, die sweet het haar gesig afgetap en haar oë het wyd na die skaretjie terug gestaar. Oom Peet Poepies wou nog vir haar ‘n dop aanbied toe buk sy al en pluk vir Vaak Fanie weer aan sy kraag op en sleep hom by die deur uit.
Volgens Kallie Spiedkop het Tant Kotie die stof uit die sementpad uitgery daardie aand en hoewel sy seker myle oor die spoedgrens was het hy nie daardie aand genoeg moed gehad om haar te stop nie.
Wat daardie aand in Tant Kotie se huis gebeur het sal niemand seker ooit weet nie, maar van daardie dag af het die mense net vir Fanie in die bakkie sien ry as hy voer aangery het. Die boerdery het daarna ook fluks gevorder en soos ek hier vertel het Tant Kotie en Fanie al ‘n pragtige stoet beeste, die groentetuin het verdubbel en het Fanie seker al dertig kilogram afgeskud. Tant Kotie kuier nou meer gereeld in die dorp by haar vriendinne en familie en daar loop ‘n gerug in die dorp dat Fanie nou ‘n meisie het. Soos my pa altyd sê, ‘n pakslae op sy tyd kan wondere verrig.
1500 woorde
Kopiereg Lynne Lexow 2018
Desember 2018 projek
Netbal en Maskara
Marie val op haar bed neer met ‘n sware sug. Sy voel vandag swaarmoedig. Dit maak nie saak wat mens doen nie, as jy agter in die ry gestaan het toe talente uitgedeel is, gaan jy agterbly in die populariteit ranglys.
Sy trek haar skoolskoene uit en gooi die een oor die kamer. Die flippen babydoll skoen plof teen die oorkantste muur en los ‘n dowwe stofkol. Met ‘n sug staan sy op loop na die muur toe en vee die kol met die mou van haar skooltrui af, kyk na die skoen op die vloer, maar laat dit net daar lê en gaan val weer op haar bed neer.
Vandag is die netbalproewe. Nou nie proewe-proewe nie, nie vir ‘n provinsiale span of so iets nie, maar vir die eerste span. Sy speel al netbal van standard 2 af en al speel sy haar hart uit het sy nog nooit die eerste span gehaal nie, dit was ook nog nooit vir haar juis belangrik nie, maar hierdie jaar is anders. Hierdie jaar gaan die eerste hokkie, rugby en netbalspanne op toer na die Vrystaat. Dis ook nie die eerste keer in haar skoolloopbaan dat die eerste spanne op toer gaan nie en dit het ook nooit tevore op haar enige indruk gemaak nie, maar hierdie jaar wil sy ook op toer gaan. Al kan sy net as reserwe aangewys word vir die netbalspan, dit sal goed genoeg wees vir haar om te kan saam gaan.
Haar beste vriendin, Annelie, sal verseker op die toer gaan. Annelie speel al drie jaar lank vir die eerste span. Sommer al van standerd ses af het Annelie al saam met die matrieks en standerd neges in die eerste span gespeel. Annelie is sportief, en skraal, en mooi en Annelie is populêr. Sy is so populêr dat Willem haar na die matriekafskeid gevra het… en Annelie is maar in standerd agt. Vir ‘n standerd agt meisie om deur ‘n matriekseun gevra te word na sy afskeid beteken die meisie is populêr, of hoe?
Dis nou nie juis dat Marie matriekafskeid toe wil gaan nie, dis bloot toevallig dat Micheal in matriek is, net so toevallig as wat dit is dat hy vir die eerste span rugby speel. Ja, sy sou van hom gehou het al was hy nie in matriek nie en al het hy nie vir die eerste span rugby gespeel nie, maar nou is hy in matriek en speel hy vir die eerste span rugby en nou moet sy plan maak om op daardie toer te gaan, want dit is haar laaste kans om sy oog te vang.
Marie krap in haar kas opsoek na haar tekkies en diep hulle uiteindelik onder ‘n hoop sandale, kerkskoene en haar gunsteling trui uit. As haar ma moet sien hoe haar kas lyk sal sy die aapstuipe kry. Marie trek haar asem in toe sy die netbalrompie toeknoop. Flippit, sy wou daardie knoop al verlede week geskuif het, maar sy het vergeet. Miskien, as sy toilet toe gaan sal die romp nie so styf sit nie…
Haar ma het al weer vergeet dat sy netbal oefening het en is nog nie by die huis nie, wat beteken dat sy al weer moet fiets ry na die skool se sportgronde toe. Nou sal sy al weer moeg en natgesweet by die sportgronde aankom. Kon sy nie net vandag onthou het nie?
Annelie kom aangehuppel toe sy vir Marie sien.
“Vandag moet jy jou hart uitspeel Marie. Dit sal great wees as jy ook op toer kan gaan. Dink net, ons kan ‘n kamer deel…”
“Ek sal probeer…”
Hulle speel vandag ‘n rondomtalie wedstryd waarin meisies gedurende die wedstryd uitgehaal en ingesit word. Marie se hart sak in haar skoene toe sy nie van die eerstes is wat ‘n gekleurde frokkie kry nie. Marie is dadelik oortuig dat die onderwyseresse haar nie eers vir die span oorweeg nie. Trane prik agter haar ooglede. Annelie bly vir die eerste rondte in, en die tweede en steeds word Marie nie geroep nie. Die knop in haar keel groei tot dit voel asof sy ‘n tennisbal ingesluk het.
Sy weet sy is nie vinnig genoeg vir die senter of vleuel posisies nie maar die tweede span het hulle laaste wedstryd gewen en dit omdat sy wat Marie is drie uit drie balle in die net geskiet het. Miskien was dit net ‘n vloekskoot, maar ten minste moet dit vir haar ‘n kans verdien om vir die eerste span te speel, of hoe?
“Marie de Beer. Kom meisiekind, ons het nie die hele dag om vir jou te wag nie.”
Marie skrik so groot toe sy haar naam hoor dat sy amper oor haar eie voete val toe sy opspring. Sy pluk vinnig die geel frokkie oor haar kop en draf op die veld. Die onderwyseres het haar na die doelpaal gestuur en vir die eerste keer voel Marie of sy ‘n kans staan, dis nou as die geluk vandag weer aan haar kant is.
Marie se oë rek toe sy sien wie die doelverdediger is. Lora is een van die plastics in die skool. Hoewel sy ontken dat haar hare gekleur is weet almal dat dit is en die onderwyseresse het haar al vele kere laat uitstaan omdat sy onderlaag of maskara aan het, maar Lora kom keer op keer met haar nonsens weg omdat sy ‘n model is, haar pa die burgemeester is en haar ma op de skoolkomitee dien. Dit weet almal ook. Lora is ook ‘n kop langer as Marie.
Marie herstel egter vinnig van haar skok toe sy Annelie na haar hoor roep en sy is net betyds om die bal op haar te sien afpyl. Soos blits gryp sy na die bal en swaai op haar tone om na die doelpale toe. Lora duik voor haar in en begin haar arms wild swaai. Marie probeer by haar verby loer maar die meisiekind voor haar is net te lank. Skielik laat sak Lora haar een arm en gryp na haar linkeroog. In daardie breekdeel van ‘n sekond doem die netbalpaal voor Marie op. Sy knyp haar een oog toe, maak dit weer oop en gooi. Die bal sweef geruisloos deur die lug en Marie hou haar asem op. Toe die bal deur die middel van die ring val en deur die net glip blaas sy haar asem uit en draf terug na haar posisie. Lora kom kop onderstebo terug gestap, haar linkeroog is rooi en trane stroom oor haar wang.
“Is jy okay?” vra Marie saggies.
“Niks met jou te doen nie…”sis Lora deur haar tande.
Weer blaas die fluitjie vir die volgende afgooi. Marie draai haar rug op Lora en hou die vordering van die bal stip dop. Annelie kry die bal weer in die hande en die keer het sy nie nodig om na Marie te roep nie, want Marie is reeds gereed vir haar. Sy vang die bal behendig en swaai doelpaal toe. Lora kom met een oog toe aangewaggel en swaai lusteloos met een arm in die lug rond. Marie gee een toelaatbare tree vorentoe en gooi. Weereens trek die bal in ‘n perfekte boog en glip deur die ring en net.
“Yes! Yes!” skree Annelie en pomp ‘n vuis in die lug.
Die onderwyseres blaas op haar fluitjie en roep na Lora. ‘n Kort gesprek volg en hoewel niemand kan hoor wat gesê word nie is dit duidelik dat die onderwyseres goed omgekrap is. Lora pluk haar rooi frokkie oor haar kop en gooi dit op die grond voor sy van die veld af storm. ‘n Ander meisie word terug geroep en die wedstryd gaan voort.
Marie gooi nog twee doele voor die eindfluitjie blaas. Die meisies word vyftien minute gegee om water te drink en te rus voor hulle weer op die veld moet vergader vir die aankondiging van die eerste span. Marie en Annelie gaan sit onder die boom en hou die onderwyseresse dop. Die drie vrouens staan ernstig en praat. Uitendelik blaas Mev Marais op haar fluitjie en die meisies draf terug veld toe.
“Die volgende meisies is gekies vir die eerste span en moet more oggend voor skool by my klas aantree vir ons eerste vergadering. Sarie Vorster, Petro van Niekerk, Annelie Pretorius…” Marie voel hoe die naarheid in haar keel opstoot en haar hart in haar ore klop.
“Laaste maar nie die minste nie, Marie de Bruin.” Marie voel hoe haar wange gloei, sy kan dit nie glo nie, maar voor sy tot verhaal kan kom dring Mev Marais se stem hard en dringend haar gedagtes binne.
“Luister vir my mooi meisies. As ek een van julle met grimering op die veld vang is julle uit, summier, sonder waarskuwing. Julle het gesien wat ‘n klein stukkie maskara kan veroorsaak. As Lora nie vandag maskara aangehad het nie het sy dalk span gehaal, maar nou ja, wie nie wil hoor nie moet maar voel. Welkom in die span meisies…”
Kopiereg L Lexow 2018
Januarie 2019 Projek
1.Hanna se otterjasie-jaar
Hulle dink verniet dat sy nie hoor wat hulle oor die koektafel fluister nie. “Bitter, oujongnooi, suur, lewensmoeg…” Ja die susters hou hulle verniet so heilig. Teetyd by die kerk is alles behalwe heilig en as ou Dominie steeds daar was sou sy al lankal gaan kla het, maar die nuwe dominie is ‘n perd van ‘n ander kleur.
Tant Sus, ou Dominie se vrou, het altyd reg gestaan met ‘n teetjie en stukkie tert voor sy hulle alleen gelaat het in sy studeerkamer. Sy het nooit vreemd of aardig gevoel nie. Wanneer sy en Dominie hulle sake klaar bespreek het, het sy sommer bietjie by Tant Sus in die kombuis gekuier en weer verkwik huis toe gegaan. Die nuwe predikant is egter ‘n wewenaar en net die gedagte dat dit net hulle twee in die huis sal wees as sy hom gaan sien, gee haar sommer die bewerasie. Sy kan in haar gedagtes al die susters hoor skinder. Nee wat, sy sal haar maar doof moet hou en as dit te erg raak miskien ‘n afspraak maak en hom in die kerkkantoor gaan sien.
“Hanna, het jy gehoor wat ek gesê het?” Suster Annatjie staan hande in die sye vir haar en staar.
“Nee jammer, ek was ingedagte…” Hanna voel hoe ‘n gloed in haar nek opstoot. Sy is sommer ergelik,vir haarself. Magties, sy is al in haar laat dertigs en sy bloos nog steeds. “Wat het jy gesê Annatjie?”
“Ek en Susan het gesels… jy weet mos sy doen gesigsbehandelings en naels en sulke goete. Wel die Kersfees en Nuwe Jaar is net om die draai… Herkie se suster en haar man kom mos die jaar by ons kuier en ek voel altyd verlep teen haar. Wel, die jaar wil ek nie so voel nie en toe vra ek vir Susan of sy my bietjie onder hande sal neem en net daar kom sy vorendag met ‘n blink plan. Ai Hanna, jy moet net hiervoor instem, asseblief tog…”
“Hoe kan ek instem tot iets as ek nie die vaagste idee het waarvan jy praat nie Annatjie.”
“Wel, toe ek met Susan praat stel sy voor ons maak ‘n dag daarvan. Jy weet…soos toe ons tieners was… Susan het voorgestel ek kry ‘n klompie vrouens bymekaar, dan doen sy ons naels en gesigte, kry haar neef om te kom hare sny en daarna gaan ons stad toe en gaan koop vir ons elkeen ‘n nuwe uitrusting. Later kan ons ook iets lekkers by ‘n restaurant gaan eet. Ag man Hanna, dit sal so lekker wees en wanneer laas het jy jouself bietjie bederf?”
Hanna skud haar kop, maar sy voor sy die aanbod in soveel woorde van die hand kan wys, dink sy aan haar klerekas wat terug dateer na die negentiger jare, haar hare wat ook seker twintig jaar laas behoorlik gesny was en ‘n opstandigheid steek ‘n lont in haar aan die brand. Vir ‘n oomblik hoor sy die ander vrouens se nydige woorde om die koektafel en voor sy haarself kan keer stem sy in om een van Annatjie en Susan se groepie te wees.
Dit is eers toe sy terug is by die huis dat sy begin twyfel aan haar besluit. Sy werk al jare vir Mnr Vosloo, die dorp se prokureur, maar sy weet maar al te goed dat haar salaris nie naastenby tred hou met die van sekretaresses in die stad nie. ‘n Krag groter as haarself dwing haar na die badkamerspieël toe. Die gesig wat vir haar terugstaar is nog rimpelloos en behalwe vir die titseltjie ligpienk lipstiffie is haar gesig skoon en byna kleurloos. Hanna knyp haar wange in ‘n poging om kleur in hulle te sit. Nee, dit sal nie deug nie, miskien is dit tyd, tyd vir ‘n verandering.
Ten spyte van haar goeie voornemens het die vooruitsig van die honderde rande wat sy gaan spandeer swaar op haar gemoed geweeg vir die volgende twee weke, maar uiteindelik breek die dag aan en Annatjie is sommer ‘n halfuur vroeër by haar as wat hulle ooreen gekom het. Hanna het haar hare oudergewoonte in ‘n bolla gedraai, pienk lipstiffie aangesit en een van haar kerkrokke aangetrek. Hoewel dit vir jare die beste was wat sy kon doen, was sy vandag veral, bitter ontevrede met haar voorkoms.
Die ander vrouens is reeds by Susan se salon. Susan het sjampanje en tee uitgesit, maar dit was duidelik dat die vrouens vanoggend meerendeels sjampanje verkies het. Hanna het in haar spore vasgesteek toe sy die luide stemme en gelag van die ander vroue hoor. Miskien was dit nie so goeie idee nie. Sy het nog nooit ‘n manikuur of gesigsbehandeling gehad nie en het geen idee gehad wat vir haar voorlê nie. Sy weet nie of sy die kans wou waag om n gek van haarself voor die ander vrouens te maak nie.
“Hanna! Annatjie! Kom kry vir julle ‘n glas sjampanje.” Sonder seremonie of om vir hulle ‘n keuse te bied tussen sjampanje en tee, druk Susan vir elkeen van hulle ‘n glas in die hand. Dit was nou te laat vir Hanna om om te draai.
Die gesigsbehandeling was ‘n absolute plesier. Susan se koel hande het hulle werk geken.
“Hanna, gaan jy omgee as ek jou wenkbroue pluk? Jy het sulke pragtige oë, so paar plukkies hier en daar en jou oë gaan soos smaragde uitstaan.”
Hanna het amper aan die slaap geraak tydens die gesigsbehandeling en kon net stom knik. Die eerste pluk het haar egter vinnig na die werklikheid terug geruk.
Toe Hanna voor die spieël gaan sit vir haar haarsny kon sy net verbaas na haarself staar. Sy was nie seker of dit haar verbeelding was of nie, maar sy kon sweer sy lyk ten minste vyf jaar jonger.
“Wat gaan ons vandag hier doen?” Susan se neef was welbekend onder die susters. Ruan het omtrent al die dames in die kerk se hare gesny en sy lewensmaat Johann omtrent al die mans s’n. Saam het hulle ‘n baie suksesvolle salon in ‘n ander voorstad bedryf.
“Miskien maar net die punte Ruan” het Hanna skamerig laat hoor. Sy kon nie onthou wanneer laas sy haar hare laat sny het nie. Omdat sy ook nie juis ‘m modetydskrif aanhanger is nie, het sy geen idee gehad van die nuutste modes nie.
“Ek dog vandag gaan oor ‘n nuwe voorkoms… dink jy nie ons moet iets nuuts probeer nie?”
“Jy sal seker beter weet as ek Ruan…”
Toe Ruan se skêr deur haar hare girts en sy die hare op die vloer sien val kon sy nie anders as om haar oë benoud te sluit en te bid dat sy nie soos ‘n ontsnapte bandiet gaan lyk wanneeer hy klaar is nie.
“Jy kan jou oë nou maar oopmaak.”
As Hanna nie van nature ‘n stil, versigtige mens was nie het sy net daar hardop gegil. Haar hare het veersag teen haar wang gelê, die korter haarstyl en subtiel geboogde wenbroue het haar oê, soos voorspel, twee maal groter laat lyk. Hierdie keer het sy haar nie verbeel nie, sy het regtig ten minste 5 jaar jonger gelyk.
“Hanna! Ek glo dit nie! Is dit jy?” Annatjie het voor haar gebuk en te oordeel aan haar gesigsuitdrukking was sy werklik verbaas.
Skielik het Susan haar hande geklap om almal se aandag te kry.
“Dames, dit is tyd vir die volgende gedeelte van ons avontuur. Ons bussie het gearriveer. Ek hoop julle het vet beursies gebring want vandag gaan ons ‘shop till we drop…’”
Hanna het gevoel asof sy in ‘n droom meergevoer word. Terwyl die ander vrouens steeds in die bussie gejil en gegiggel he,t het sy in skok stil agter in ‘n hoek gaan sit. Die kort rit na die inkopiesentrum was te gou verby en Hanna kon dit nie regkry om heeltemal te herstel nie, nogtans het sy braaf uitgeklim. Sy was egter dankbaar toe Annatjie by haar kom inhak en haar die deure insleep.
Hanna het gou agtergekom dat die ander dames nie van plan was om sommer by enige kettingwinkel te gaan inkopies doen nie. Met Susan heel voor is hulle van die een boetiek na die ander. By die tweede een kom staan Susan voor haar.
“My mens, jy het dan nog niks gekoop nie! Kom, ek weet presies waarin jy pragtig sal lyk.” Hanna kon niks anders doen as om vir Susan soos ‘n skoothondjie deur die rakke te volg nie en het eers begin tot verhaal kom toe Susan haar met ‘n arm vol klere by ‘n aantrekhokkie indruk en aandring dat sy elke uitrusting eers vir haar kom wys.
Die rompe en bloese – en selfs ‘n langbroek of twee, iets wat Hanna nog nooit besit het nie – het sag en vloeiend oor haar liggaam geval en weereens het Hanna ‘n euforie beleef soos nog nooit tevore nie. Toe sy met die eerste uitrusting uit die aantrekhokkie kom was sy verbaas om vir Susan, Annatjie en ‘n paar van die ander vrouens te sien wag. Soos een mens het almal na hulle asems gesnak.
“Hanna! Ek het nie woorde nie….jy lyk…asemrowend.” Kry Susan uiteindelik uit.
Of dit die nootlot was of ou Satan, kon Hanna tot nou nog nie verklaar nie, maar al wat sy weet is dat toe sy met sakke vol klere by die winkel uitstap, was sy aansienlik armer.
In die bussie oppad terug huis toe het sy weer agter gaan sit en verkies om eerder na die ander te luister as om aan die gesprekke deel te neem. Haar hart het gejubel, maar haar verstand wou haar kort-kort aankla oor haar onverskilligheid. Dis juis toe dat sy een van die vrouens hoor vra “ek wonder hoekom noem die Chinese 2019 die jaar van die vark?”
Hanna het haar antwoord gehad. Miskien was sy so gulsig soos ‘n vark, maar nes die vark kan sy mos ook soms in die modder gaan baljaar. Die lewe is mos nie net vreet en slaap nie, maar soms duik daar mos ook bietjie plesier op, of hoe? En miskien moet sy tog ‘n draai by hulle wewenaar dominie gaan maak, dit is mos nog nie heeltemaal te laat vir ‘n klein varkie of twee van haar eie nie…
Kopiereg L Lexow 2019
Februarie 2019 projek
2.Omdraai
Annelle vee die sweet met die agterkant van haar hand af, net om nog meer van die sout en stof in haar oë te vee. “Bliksem!” gil sy sommer hardop terwyl sy die trane en sweet met die punt van haar rok uit haar oë uitvee. “Genoeg is nou bleddie genoeg…” kondig sy aan sonder dat daar ‘n siel is om haar te hoor. Sy gooi die graaf dat dit ‘n bruin wolk in die stof maak en skop die emmer sodat dit met ‘n hol klank van haar wegrol. Met haar vuil voete sommer skeef in haar skoene gedruk drafstap sy terug huis toe.
Annelle draai die kraan oop om water in die ketel te tap en voel hoe die trane agter haar ooglede prik wanneer die water in ‘n dun, vaal, straaltjie uit die kraan uit loop. “Dit ook nog…” Gelukkig het die ketel darem genoeg water in vir een of twee koppies koffie en sy draai die kraan maar gedwee weer toe. Dis nou reeds maande dat die droogte hulle dorp so erg knel dat die plaaslike raad gereeld die water toevoer deur die dag afsny.
Uiteindelik gaan sit sy met haar koffie en ‘n gifpyltjie op die plastiekstoel langs haar agterdeur. Sy maak haar oë vir ‘n oomblik toe en wens dat sy haarself êrens anders heen kan wens. Haar gedagtes dwaal langs die paaie wat sy tot hier, hierdie Godverlate plek, geloop het.
In Johannesburg gebore, in Kwa-Zulu Natal grootgeword, daarna het sy draaie gaan maak in Pretoria, Richardsbaai, Port Edward, Londen en High Wycombe(Engeland), Frankfurt (Duitsland), Dubai, Blarney (Ierland), Edinburg (Skotland) en nou… nou sit sy hier in sak en as, of eerder stof en hitte, op ‘n klein dorpie in die Klein Karoo. Annelle voel hoe die trane stofstrepe oor haar warm wange loop terwyl sy aan die goedkoop sigaret suig.
Sy hoor hoe haar buurvrou langsaan weer roggel en spoeg en sy moet haar kake styf opmekaar klem om nie op die vrou te gil nie. Annelle weet dat sy haar moet inhou, want die woede kook soos heksebousel in haar bloed. Dit was vandag nie die eerste keer dat sy ‘n dier of voël moes begrawe omdat dieselfde buurvrou weer soos ‘n wafferse Rambo in haar tuin loop en gif spuit het nie. Die spanningspyn in haar bors nek en kop raak amper ondraaglik en Annelle gooi die laaste sluk bitter koffie op die grond uit.
Sestig loer reeds vir haar om die hoek en sy weet dat haar uurglas al meer as halfpad leeg geloop het. Is sy werklik bereid om haar laaste bietjie tyd in hierdie droogte, hierdie lewensdroogte wat sy ervaar, deur te bring? “Adriaan Vlok, nee!”
Met hernude drif en energie storm sy haar huisie binne en begin skoonmaak. Na die skottelgoed en die vloere pak sy haar lessenaar voor sy agter haar rekenaar gaan sit om Menneer Google in te span om na die ideale plekkie in ‘n somer reenval streek te soek. Sy is so verdiep in haar soektog dat sy amper nie haar selfoon hoor lui nie. Dis haar dogter.
“Wat maak Ma?”
‘Ek draai my uurglas om, my kind.”
© Lynne Lexow
Maart 2019 projek
2.Die drie skapies
Eendag, lank, lank gelede was daar drie boetie-skapies wat saam met hulle mamma en pappa in ‘n mooi huisie gewoon het. Die skapies was oulike, skattige seuntjies en hulle mamma was baie lief vir hulle en het hulle vreeslik bederf. Die skapies het egter groot geword, skapie-skool klaar gemaak en dis toe dat die moeilikheid begin het. Pappa-skaap het baie hard gewerk en wou graag hê dat sy seuns ook hard werk, sodat hulle eendag mooi huisies en gesinne van hulle eie kon hê. Die drie skapies was egter baie lui. Die een wou net rekenaarspeletjies speel, die ander een wou weer net heeldag televisie kyk en die derde een het weer heel dag op sy bed gelê met sy selfoon en met sy vriende op Whatsapp gesels.
Pappa en Mamma het mooi gepraat en gesmeek dat die drie skapies tot ander insigte moet kom, maar niks wat hulle kon doen of sê het enige verskil gemaak nie. Mamma en Pappa-skaap was later moedeloos en einde ten laaste het hulle besluit genoeg is nou net genoeg. Hulle het een aand na hulle seuns se kamer gegaan en vir hulle gesê dat hulle hulle klere moet pak en regmaak om die volgende dag te vertrek. Die skapies het gekla en geween, maar Pappa het voet by stuk gehou.
“Maar wat gaan ons eet?” het hulle gekerm.
“Ek sal vir julle elkeen ‘n kospakkie opmaak wat julle so twee dae sal hou.” het Mamma gesê
“Waar gaan ons woon?” het hulle verder gekla.
“Julle sal maar julle kloutjies moet uitsteek en vir julleself huisies moet bou.” het Pappa geantwoord.
Die volgende oggend het die drie skapies ewe dikbek vertrek. Uiteindelik het hulle by ‘n vurk in die pad gekom. Daar het hulle vir ‘n ruk gestaan en stry voor elkeen ‘n ander paadjie gekies het en hulle verder aangestap het.
Die eerste skapie was gou moeg en honger. Hy het sommer langs die pad gaan sit. Later het hy om hom rondgekyk en gesien dat daar ‘n mooi gelyk stuk grasveld langs de pad is en net daar besluit hy om sy huis daar te bou. Maar o wee, hierdie skapie was baie lui en was nie lus om eers hout te sny of stene te bak nie. Hy het kloue vol gras begin uittrek en stokke opgetel. So, met gras en stokkies, het hy vir hom ‘n huisie aanmekaar geflans, in gegaan, die deurtjie agter hom toegetrek en op die naat van sy rug gaan lê en van sy ma se heerlike kos geëet.
Die tweede skapie het sy pad heel fluks aangepak, maar dit was nie lank nie of hy is ook nie meer lus vir die stowwerige pad waarop hy hom bevind nie. Hy het homself onder ‘n boom gemaklik gemaak en ‘n toebroodjie uit sy sak gehaal. Hy het na sy broodjie heerlik in die koelte van die boom aan die slaap geraak. Toe hy uiteindelik wakker skrik het die son al begin water trek. Hy het om hom rond gekyk, maar daar was nie ‘n gebou of enige iets waarin hy vir die nag kon skuil nie. Met ‘n sug en gekreun (hy was bietjie oorgewig) het hy opgestaan om die wêreld om hom beter te bespied. Een kant, op ‘n hopie, was daar ‘n paar houtstompe en ‘n paar riete. Hy het sy byltjie uit sy sak gehaal en ‘n paar planke begin kap. Moeisaam het hy begin om van die planke en riete vir hom ‘n huisie aanmekaar te timmer. Krom en skeef, maar darem met ‘n dak op, het sy huisie teen donker darem al gestaan. Hy het ingegaan, die deurtjie agter hom toegemaak en verder geslaap.
Die derde skapie was net so effe slimmer en het ‘n plan gehad. Hy het gestap en gestap tot hy uiteindelik die opstal en buitegeboue van ‘n plaas gesien het. Daar het hy gaan aanklop en gevra of hy kan oorbly vir die nag. Die plaasskape het hom met ope arms verwelkom. Daardie nag het hy van sy ma se lekkernye met hulle gedeel en het hulle hom vertel van die nare ou wolf wat in die omgewing rondswerf.
Die volgende more het hy vroeg vertrek. Hy het aangestap tot by ‘n rivier, waar hy begin het om van die nat grond bakstene te maak. Toe die stene lekker droog gebak was, het hy begin om dit opmekaar te stapel. Toe die huisie staan het hy dit mooi met modder afgewerk en ‘n deurtjie ingesit, wat hy uitgekerf het terwyl hy gewag het vir die stene om droog te word. Daarna het hy ‘n stewige grendel aangesit en ingegaan om te rus.
Die skapies het vir ‘n ruk gelukkig gelewe. Die eerste skapie het maar van tyd tot tyd in die veld na kos gaan soek en hoewel hy na sy ma se kos verlang het, of ‘n lekker burger van McDonalds, was hy net te lui om werk te soek en het hy hom maar verbeel dat hy tevrede was met ‘n vrug of twee per dag. Die tweede skapie was nie veel beter af nie, maar het, wanneer hy moeg was vir vrugte, ‘n vissie gevang en oor die kole gebraai. Die derde skapie het terug gekeer na die plaas en daar het hy saam met sy nuwe vriende gewerk. Sy werk was om die werfhoenders op te pas en te beskerm teen die nare wolf. Hy het sy werk goed gedoen en die boer het hom ook goed betaal. Soms het die buurvrou ook van haar gebak saam met hom huis toe gestuur. Met tyd het hy vir hom meubels en ‘n kaggel gebou, waarin hy vir homself saans die lekkerste sop en bredies in ‘n groot swart pot gemaak het.
Op ‘n dag is daar ‘n geklop aan die eerste skapie se deur.
“Wie is daar?” Die skapie was maar versigtig want hy het by sy broer gehoor van die wolf.
“Dis ek Malema, die wolf.”
“Jammer, ek kan nie nou deur toe kom nie.” het die skapie benoud laat weet.
“Kom maak oop of ek blaas jou huis op.”
“Nee!” het die skapie effe harder laat hoor.
“Ek tel tot drie…een…twee…drie…” met drie is daar ‘n helse slag en daar waai die skapie se grashuisie. Die skapie gil toe hy deur die stof en gras die wolf se gloeiende oë sien en hy swaai net daar om en hardloop so vinnig as wat sy kort beentjies hom kan dra na sy broer se huis.
Binne in sy broer se plank en riet huisie het hy vinnig sy treurige verhaal vertel, maar hy was skaars klaar of daar in ‘n klop aan die deur.
“Maak oop, maak oop, dis ek Malema die wolf, ek wil met julle praat.”
“Nee ons gaan nie oopmaak nie, ons weet jy wil ons eet.” Laat die twee skapies hoor.
“Ek tel tot drie en as julle nie oopmaak nie gaan ek die huisie ook opblaas.”
“Hahaha, hierdie huisie is tog sterker…” sê die twee skapies, min oortuig, in dun stemmetjies.
“Een… twee… drie” Skielik is daar ‘n vreeslike knal en dit is net stof en hout wat oral waai.
Die twee skapies gryp mekaar aan die kloue en hardloop so vinnig as wat hulle kort beentjies hulle kan dra na hulle broer se huis toe.
Uitasem vertel hulle vir hulle broer wat met hulle gebeur het.
“Toemaar, julle is veilig hier. Al wat julle nou vir my moet doen is om daardie pot vol water te maak terwyl ek ‘n vuurtjie stook.”
Net toe die water lekker in die pot begin borrel is daar ‘n klop aan die deur.
“Maak oop, maak oop, ek wil met julle praat…”
“Nee!” gil die drie skapies tesame.
“Maak oop, ek is Malema die wolf, ek sal julle huisie opblaas as julle nie oopmaak nie.”
Die derde skapie grinnik.
“Kom eers venster toe dat ons daar gesels, en as ek tevrede is dat jy ons nie wil opeet nie sal ek oopmaak.”
Die skapie wys vir sy broers dat hulle die pot kookwater moet bring.
Toe hy die venster oopmaak staan die wolf reeds daar met sy rooi oë en kwylende bek. Voor die wolf egter nog iets kon sê tree die derde skapie terug en die twee boeties skiet die kokende water in sy gesig.
Van daardie dag af was al die skape en hoenders veilig want ‘n blinde wolf kan nie ander diere vang nie. Selfs die boer was baie dankbaar en het die derde skapie beloon deur hom voorman op die plaas te maak. Die twee boeties het hulle les geleer en vir hulle stewige huisies gaan bou. Later is al drie met skapie-meisies van die plaas getroud en nog later het hulle kindertjies van hulle eie gehad en baie gelukkig verder geleef.
Kopiereg Lynne Lexow 2019
April 2019 Humor projek
1.Karel en die Spinnekop
Mense gaan kerk toe vir verskillende redes, sommige waarvan nie altyd veel met geloof te doen het nie. Sommiges verlang na die sosiale interaksie, ander na die gewydheid en vrede van ‘n kerkgebou en ander is daar in die hoop dat hulle vetroosting en/of ‘n boodskap sal kry. Vir kinders is dit egter meestal ‘n plig wat deur hulle ouers voorgeskryf word.
Na ‘n lang week van vroeg opstaan en skoolgaan is daardie Sondagoggend roetine van vroeg opstaan, hare was en skoene en kouse aantrek soms ‘n swaarmoedige gedoente. Om dan stil te gaan sit vir ‘n uur of langer met die wete dat daar nog ‘n uur van Sondagskool voorlê is soms vir ‘n kinderbrein net te veel. Wanneer die dominie dan nog elke woord, elke sin uitrek en die tannies elke noot van elke gesang vir ‘n leeftyd lank teem, dop die kinderbrein om van verveeldheid en word daar soms gekompenseer deur intense aandag aan die onwaarskynlikste dinge te gee.
Karel de Beer was twaalf jaar en vier-en-dertig dae oud op daardie spesifieke Sondag. Dit was een van die Karoo se warm dae met die kwik wat hier by een-en-veertig grade gaan vassteek het. Soos elke Sondag tevore het sy ma die vorige aand al sy grys langbroek, wit hemp met stywe boordjie, grys kouse en rooi das op die ander bed neergesit. Karel het al gesmeek dat sy ma hom sal toelaat om soos Japie van Breda in ‘n kortbroek kerk toe te gaan, maar sy ma wou niks weet nie en toe hy by sy pa gaan pleit het die net iets gemompel van ‘n treinspoor.
Die kerk is ‘n statige ou sandsteengebou en het net groot dakwaaiers en nie lugreeling soos daardie moderne kerkgebou waar hy tydens een van hulle skoolkampe was nie. Teen die tyd dat die ouderlinge en diakens hulle plekke ingeneem het sweet almal, insluitende Karel, al reeds.
Karel se pa is diaken en sit dus in elk geval nie by hom, sy ma en sussie nie en dus het sy ma al so twee jaar gelede besluit om vir haar en die kinders ‘n plek op die gallery te ‘bespreek’. Sondag na Sondag het hy, sy ma en sussie op dieselfde plek gaan sit. Vir Karel was dit ‘n aansienlike verbetering, want nie alleen was hulle nader aan die dakwaaiers nie, maar hy kon alles van daarbo af sien.
Karel se intense belangstelling in die mense in die kerk het al groot konsternasie veroorsaak, want op twaalf, en ‘n redelike naiwe twaalf daarby, het hy nog nie besef waaroor mens mag en nie mag praat nie. So was hy onder andere verantwoordelik dat die verhouding tussen die burgermeester se dogter en Dronk Danie van die Onderdorp se seun, op die lappe gekom het nadat hy gesien het hoe hulle agter die ‘beskerming’ van haar groot handsak handjies vashou.
Op sy twaalf jaar en vier-en-dertig dae verjaarsdag het hy egter die grootste konsternasie ooit veroorsaak. Vyftien minute en dertig sekondes in Dominie De Jager (ja, Karel het ‘n elektroniese horlosie van sy oupa gekry op sy twaalfde verjaarsdag en sodoende ‘n obsessie met tyd ontwikkel) se preek in, kon Karel voel dat sy ooglede swaar begin raak. Wetende dat sy ma hom binnekort hard in die ribbes gaan pomp met haar elmboog, het Karel sy oë gerek en regoper gesit, en dis toe dat hy die spinnekop aan sy draadjie van die dak af sien hang, reg bokant Ant Joey se geel hoed.
Die spinnekop was seker ook verveeld en het homself besig gehou met allerlei mannewales. Een oomblik skiet hy teen sy draadjie op en die volgende oomblik skiet hy weer af, en elke keer net so klein bietjie nader aan ‘Ant Joey se geel geblomde hoed. Karel het geweet dat ‘Ant Joey een van daardie vol-fiemies tannies was wat nie eers tee by iemand sou drink as hulle ‘n verdwaalde mier in die huis gehad het nie. ‘Ant Joey was ook ‘n luide mens en as sy iets gehad het om oor te kla in die dorp se kafee het die mense in die hospitaal aan die ander kant van die dorp daarvan gehoor.
Karel kon hom net voorstel wat sou gebeur as die arme spinnekop dit sou regkry om op Ant Joey se hoed te land en dan van daar af voor haar gesig sy manewales sou voortsit. Karel het net geweet dat hy iets moes doen voor ‘n katastrofe net daar in die gewyde atmosfeer van die kerk plaasvind. Hy het egter ook geweet dat sy ma hom sou vermorsel as hy dit sou waag om kriewelrig te raak. Gelukkig was dit byna tyd vir die eerste lang gebed.
Karel het eers seker gemaak dat sy ma se oë behoorlik toe was voor hy versigtig sy sakdoek uit sy sak gehaal het. Karel se arm was net-net te kort om die spinnekop beet te kry en versigtig sit hy sy linkervoet voor sy regtervoet en gee ‘n treetjie vorentoe tot teen die houtbank voor hom. Met sy tweede poging skiet die spinnekop weer ‘n entjie op en Karel vat hom weer mis. Met een oog op sy ma en die ander op die spinnekop verplaas Karel weer sy balans en rek homself effe langer uit deur op sy tone te staan. Die spinnekop sak weer af en die keer is hy ‘n breukdeel van ‘n millimeter van Ant Joey se hoed af. Karel sien sy kans en met die sakdoek oor sy hand gryp hy na die spinnekop. Sy sakdoek gly egter van sy hand af en beland op Ant Joey se hoed. Paniekbevange gryp Karel na sy sakdoek maar in die proses vat hy nie nie sy sakdoek vas nie, maar ook een van die geel blomme op die hoed en in ‘n breukdeel van ‘n sekonde staan hy met sy sakdoek, die spinnekop en Ant Joey se hoed in sy hand. Dit neem hom ook nie langer as daardie breukdeel van ‘n sekond om te besef dat sy agterstewe gaan brand wanneer hy by die huis kom nie en instinktief gooi hy die hoed, spinnekop en sakdoek dat dit trek… reg van die gallery af.
Met oë so groot soos pierings sien Karel hoe die hoed, sakdoek en spinnekop soos drie wafferse sweeftuie deur die lug sweef, tot die hoed skuins oor ou Oom Dirk se kop en gesig land, die sakdoek mooi oop gesprei in sy vrou, Tant Anna, se skoot land en die spinnekop tussen hulle bene verdwyn.
Oom Dirk gee ‘n gil en klap die gedoente van sy kop af, Tant Anna gil en gryp na die geel hoed toe Oom Dirk se klap dit weer laat opstyg. Dan skielik vergeet sy van die hoed en spring op die kerkbank en begin so hewig haar rok uitskud dat almal in die kerk die Woolworths etiket op haar onderklere kan lees. Mnr Spinnekop, verskrik deur sy onbeplande vlug, klou egter vir al wat hy werd is en probeer hoër en dieper in die oumensvoue inklim. Dominie vergeet om ‘amen’ te sê en Oom Dirk en Tant Anna se seun Klein Dirk storm uit die diakenbanke uit na sy ouers toe.
Intussen het Ant Joey ontwaak en haar hoed in die warboel van siele sien verdwyn en het sy van bo af begin gil, “my hoed, my hoed… pasop vir my hoed…”
DIt was seker nie die eerste onderbreking wat ooit plaasgevind het in die NG Kerk Alberton nie, maar dit was die eerste keer dat die chaos van so aard was dat Dominie maar besluit het om, na orde herstel is, die preek maar kort te knip sodat almal ‘n soet teetjie vir die skok kan gaan drink.
En Karel? Sy Oupa het sy ouers na die diens ingelig dat Karel daardie middag so bietjie by hom en sy ouma gaan kuier en dat hulle hom later huis toe sal bring. Karel se pa wou nog teëpraat toe waai Oupa al sy vinger. Na middagete het Oupa vir Karel eenkant gevat en hom mooi vertel dat hoewel hy seker straf verdien, hy sy sondes vandag gaan oorsien, want nog nooit was hy so dankbaar om uit ‘n warm kerk te kom soos daardie dag nie en na die lekker lag pla die droogte hom nie eers meer so baie nie.
© Lynne Lexow
Augustus 2019 – Wilde wind projek
2.Wilde winde
Hannah hou haar dogter deur die kamervenster dop. Anita was skaars by die huis toe hol sy al stalle toe en spring op Bles se rug. Nou waai haar blonde hare in die wind terwyl sy oopmond lag van pure lekkerkry. Anita is reeds 23, maar dit voel vir Hannah soos gister toe sy gebore is.
Hannah was reeds amper nege maande swanger en haar hospitaaltas was gepak, die babakamer was gereed en sy was liggaamlik en geestelik gereed vir die baba se koms. Terwyl sy vir haar kindjie wag moes die werk op die plaas egter normaalweg voorgaan. Sy was besig om middagete voor te berei toe Bernard haastig ingestorm kom.
“Hannah, vrou, jy sal middagete eers moet laat staan. Hier is ‘n storm oppad, ek moet daardie ooie en lammers in die skuur kry. As jy my eers met die bakkie tot by die buitenste veld kan neem sal dit baie help.”
Hannah het haar hande afgespoel, die sleutels afgehak en vir Bernard na buite gevolg.
“Liewe Here, laat dit tog reën… hou die wind weg van daardie wolke af…asseblief…” Bernard het sommer hardop en in die hardloop gebid.
Andries, Bernard se regterhand, was reeds besig om die skape aan te jaag.
“Basie, daardie ooi met die tweeling sukkel. Dalk moet ons hulle op die bakkie laai, hulle hou ons op…”
Met die ooi op die bak vasgemaak en die twee lammers in ‘n ou seil en kombers toegewikkel moes Hannah versigtig terug ry skuur toe. Aanvanklik was sy van plan om in die bakkie te bly sit en vir Bernard en Andries te wag, maar die ooi en lammers het onrustig begin raak. Sonder om die klap van die bak oop te maak het Hannah die ooi se pote los gewikkel voor sy uiteindelik die klap oopmaak en die ooi afjaag. Die lammers blêr agter hulle ma aan en met haar ronde pens het Hannah haar tot op die bak gewikkel. Gelukkig kon sy die punt van die seil beetkry en hulle nader trek. Met ‘n lam onder elke arm het sy die skuur binne gedrafstap. Die ooi en haar lammers is skaars herenig of Hannah kry ‘n geweldige steek in haar sy. Nog voor sy tot verhaal kon kom tref die volgende krampagtige pyn haar buik. Ten spyte van die koel lug het die sweet op haar voorkop uitgeslaan. Benoud het sy die skuurdeur agter haar toegemaak en in die bakkie geklim.
Teen die tyd dat Bernard uiteindelik by die huis aangekom het, was Hannah reeds gewa, skoon aangetrek en reg om te vertrek. Bernard het haar net een kyk gegee en spierwit geword.
“Vrou, ons is in die moeilikheid….” nogtans het hy haar tas by haar gevat en die voordeur vir haar oopgehou.
Hulle was skaars by die eerste hek toe die wind opsteek. Stof en tolbosse het die bakkie getref en Bernard kon skaars die grondpad voor hom sien. Nog voor hulle die teerpad kon haa,l het dit begin reën. Deur die wind aangedryf, het die reën die voorruit hard getref. Die ruitveërs het skaars ‘n verskil gemaak. Op die teerpad het dit nie veel beter gegaan nie. Water het reeds in strome oor die pad gevloei en die wind het steeds aan die bakkie geruk. Hannah se kontraksies het meer gereeld begin kom en Bernard het al hoe bleker geword.
Anita is binne ‘n halfuur, nadat hulle by die hospitaal aangekom het, gebore.
Skielik voel Hannah ‘n hand op haar skouer. Sy het nie vir Bernard hoor inkom nie. Met Bernard se arm om haar skouers staan hulle saam hulle rabbedoe dogter en bekyk.
“Ja nee ou vrou, die wilde winde waai nog al die tyd in haar siel.”
Lynne