Marianne Fourie
Desember 2021 – Metafoor projek
1.Die vere maak nie die voël nie
Pa was ʼn pastoor, ek ʼn middelkind en die enigste dogter.
Pa het ʼn huisstem gehad maar wanneer hy Sondae op die preekstoel klim sou hy die Huilige Geus aanroep en elke sin met ʼn uitroepteken eindig. Sy hel en bliksemstraal preke het elke hoekie van die kerkgebou gevul terwyl ou tannies met styfgepermde hare en Crimpelene rokkies, hande saamgeklem voor die bors, aan sy lippe hang en saamstem met elke woord wat Pa sou predik.
Pa was streng en ek was ʼn rebel.
Op skool het die seuns draaie om my geloop – Pa se preke was verder as sy eie kerk se mure bekend. Vir die hel en swaelsuur wat oor hulle sou reën as hulle aan my raak was hulle heeltemal te bang. My eerste kêrel het ek op Onderwyskollege gekry.
Wynand se vag bruin krulle het tot in die middel van sy rug gehang, sy kuif windmakerig in ʼn krul gebrylcreem. Die peace sign tattoeërmerk op sy linkerskouer was sigbaar vir die hele wêreld, die moue van sy hemde altyd so half opgerol wanneer hy nie in ʼn help-my-sterk-lyk onderhempie rondgeloop het nie. Sy geel Ford Cortina se suspensie was gedrop, die uitlaatpyp en mags gechroom, die enjin opgejooz sodat sy brul drie blokke ver gehoor kon word. Hy het perfek by my rebelse pastoriedogterbeeld gepas.
Pa het amper ʼn koronêr geskiet toe ek Wynand die eerste keer by die huis aanbring. Hy het niks gesê toe die Cortina backfire toe ons voor die huis stop nie. Hy was stil toe die hele buurt se jong seuns om die kar saamdrom. Die “Hoezit my oom” is met ʼn kopknik beantwoord. Ek kon die wit kring om Pa se saamgepersde lippe sien toe die vredesteken uitbult terwyl Wynand Pa se hand skud. Die vulkaan het uitgebars toe die Cortina om die hoek brul aan die einde van ʼn baie ongemaklike uur.
“Wat dink jy doen jy? Wat moet die gemeente van my dink as jy met so ʼn tang hier aankom. Hoe gaan ek ooit weer op daardie preekstoel kan klim en preek oor die onsedelike gedrag van ons jeug as my dogter haarself skuldig maak aan presies dit waarteen ek preek? Het jy die duiwelsteken op sy arm gesien? Weet jy wat dit beteken? Was Rodney Seale nie net verlede jaar by die kerk om aan julle uit te wys wat die betekenis is van daardie onheilsdinge nie? Ek verbied jou om enige iets verder met daardie Satanskind te doen te hê!” Pa was woedend, siedend kwaad. Skuimbolle om die mond kwaad. Ma het mooigepraat, die boeties het gedreig … ek sou van Wynand moes afsien. Pa se woord was wet – ek gehoorsaam of hy onterf my daar en dan.
In ʼn poging om my tot gehoorsaamheid en ʼn beter lewe te bekeer het Pa vir my ʼn afspraak gereël met die kerk se voorsanger se seun. Frikkie wat eintlik Frik moes wees want Frikkie was groot. Groot van aansien, groot van stem en volgens Pa, groot in geloof. Frikkie sou met trane wat oor sy wange rol, snotstrepe uit die neus en hande omhoog halleluja wanneer Pa ‘preuk’ oor die ‘onhuile’ wat soos ʼn leeu in die nag lê en wag om die jeug te verslind. Frikkie was Pa se droomskoonseun. Ma het begin troue beplan en baba booties brei. Die gemeente het ʼn dankseggingsdiens gehou – Pastoor se wilde dogter het haarself bekeer.
Ek is toe nie met Frikkie getroud nie. Pa se wet kon my net tot op my 21ste verjaarsdag beheer. Ek het maar my rebelsheid by die koshuis gelos wanneer ek naweke en vakansies huis toe is, my koekerige klere uitgehaal en aangetrek en sedig saam met Ma in die voorste kerkbank gesit. Pa het my beloon met ʼn karretjie, ʼn geel Volla sonder gechroomde wiele. Ek het my onderwysdiploma met onderskeiding geslaag en ʼn pos baie ver van die huis af gekry, by ʼn skool wat my en my boheemse kleresmaak aanvaar het.
Van Wynand kon ek nooit vergeet nie. In die paar kort maandjies wat ek en hy saam was het ek die mens agter die uiterlike gesien. Die klein seuntjie wat eintlik maar net liefde gesoek het. Die hippie wat homself voorgeneem het dat hy nooit ʼn dronklap soos sy pa sou word nie. Die jong man met ambisie.
Jare later sou ek hom op Facebook gaan opsoek. Dr Wynand Vosloo, hoof uitvoerende beampte van een van die land se grootste staalmaatskappye, netjies geklee in ʼn pak klere, sy hare steeds net daardie tikkie te lank. Ek het deur sy foto album geblaai. ʼn Willis Jeep in die garage langs ʼn bekende geel Cortina. ʼn Mooi versorgde huis in een van die armer woonbuurte in Pretoria. Twee blondkop dogtertjies op hulle ma se skoot, “Rykdom is nie geld nie. Rykdom is mense wat jou aanvaar vir wie jy is” in vetgedrukte letters onder die foto.
En Frikkie? Ma sê hy het in ‘onhuiligheude’ verval. Suip blykbaar soos ʼn vis.
Marianne Fourie
Februarie 2022 – Liefdesprojek
2.Ou liefde
Brons 1464 woorde
Magriet glimlag vir die kelnerin wat die spyskaart voor haar neersit.
“’n Cappuchino asseblief, met room. En as jy vir my twee suikers ingooi en roer voor jy die room opspuit, kry jy sommer ʼn ekstra fooitjie.”
“En dan eet sy die room af met haar teelepel!” grinnik Willem. “Bring sommer vir my dieselfde en twee lekker dik snye sjokoladekoek.”
Willem steek sy hand uit oor die tafel en lê dit oor Magriet se hande.
“Kan jy dit glo. Hier sit ons, agt-en-twintig jaar na daardie rampspoedige dag en bestel presies dieselfde!”
Magriet kyk na die man aan die oorkant van die tafel. Die jare het aan hom gevat. Sy digte, amper rooi hare, is nie meer so dig nie. Plooie langs sy oë vertel van tyd wat verloop het sedert sy hom laas gesien het. Sy was verras toe sy ʼn week gelede ʼn boodskap op Facebook oopmaak en sy naam sien. Nog groter die verrassing toe sy besef hulle bly al vir jare in dieselfde stad. Sy voorstel dat hulle vandag ontmoet vir koffie het haar met vrees vervul. Die geheim waarmee sy vir meer as die helfte van haar lewe saamleef, sal moet uit. Sy het oorweeg om die boodskap te ignoreer maar haar hart het anders besluit. Sy móés hom weer sien, al was dit dan net om finaal totsiens te sê.
“Ek kon vir baie lank nie tjoklitkoek eet nie. Dit het so dik in my keel geword… Hoe gaan dit met jou ma? Leef sy nog?” verander Magriet die onderwerp.
Willem lag. “Ja jong. Onkruid vergaan mos nie. Onthou jy hoe sy dit altyd gesê het daai tyd toe sy so siek was? Antie Jacoba laat haar deur niks onderkry nie, maar ek moet sê, my en jou storie destyds het haar geroer. Jy moet onthou jy was meer as net my meisie. Jy was die dogter wat sy nooit gehad het nie. Sy het my omtrent geskel. Gevra hoe ek verwag dat enige vrou met my sou wou opgeskeep sit as ek nie eens ʼn ordentlike werk gehad het nie, dat dit geen wonder was dat jy my onder my gat geskop het nie.”
“Ek dink dit was dalk vir my die heel moeilikste deel destyds. Ek het nie net met jou uitgemaak nie, maar ook met jou ma. Sy was so goed vir my. My hart wou breek.” Magriet voel hoe die trane haar keel toetrek.
“Ek het jou gaan soek hoor. Seker so twee jaar na ons uitgemaak het. Ek het deur die dorp gery en by die skool gaan navraag doen, of jy nog daar is. Ek het nie geweet of jy my sou wou sien nie, toe gaan sit ek eers by die Wimpy en drink een koppie koffie na die ander in ʼn poging om moed bymekaar te skraap. En raai wie stap toe in die straat verby met ʼn klein dogtertjie aan die hand. Dit was nogal ʼn skok vir my, dat jy my so gou vervang het met iemand anders.”
“Ai Wimp.” Magriet vee oor haar wang waar ʼn baie onwelkome traan probeer staanplek vind. “Vertel nou eers, wat het als met jou gebeur in die tyd wat verloop het? Is jy getroud? Kinders?”
Willem sluk sy laaste mondvol koffie af voor hy antwoord.
“Ek dink jou uitmaak met my was ietwat van ʼn wake-up call. Veral na my ma my ook nog so geskel het. Ek is weermag toe, het by die staande mag aangesluit. Na my basiese opleiding is ek Suid-Wes toe maar het ten minste eenkeer per jaar huis toe gekom, na mamma toe.” Hy lag. “Op een van die kuiers het ek vir Leilanie ontmoet en ons is later getroud. Ons het een dogter, Leatitia … Wag, ek het ʼn foto.” Hy vroetel sy selfoon uit sy broeksak en plaas die foon voor Magriet. “Die klein merrie is na skool Nederland toe om te gaan au-pair en het sommer daar gebly – natuurlik daar ʼn man ontmoet.”
Magriet voel hoe haar hart ruk toe sy na die foto kyk. “Sy’s pragtig! Duidelik haar pa se kind. Is jy nog steeds in die weermag?”
“Nee jong. Na ’95 was dinge nie meer dieselfde nie. Ek het my ontslag uit die army gekoop en teruggekom States toe. Sommer my ontslag uit my huwelik ook.” Hy gee ʼn skewe glimlag. “Ek het ʼn vragmotor gekoop en begin transport werk doen vir ʼn paar boere. Leilanie het nie baie van dit gehou nie. Dit was vir haar lekker om haarself voor te stel as mevrou Kaptein Faure en toe is sy ewe skielik mevrou Lorriedrywer Faure. Ons is drie jaar gelede geskei. Selfs die feit dat ek nou ʼn vloot vragmotors besit, was nie goed genoeg vir haar nie. Maar nee heiden, hier sit ek net oor myself en praat. Wat van jou, Griet? Het jy toe die ideale man gekry?”
Magriet vee-vee die krummels in haar bordjie bymekaar. Sy kon die tikkie bitterheid in Willem se stem hoor. Wat gaan hy doen, hoe gaan hy reageer op dit wat sy hom eenvoudig móét vertel? Sy kyk stadig op, ʼn rou seer in haar oë, steek haar hand uit na haar selfoon en maak ʼn leêr in haar foto-album oop.
“My dogter,” gee sy vir hom die foon aan.
“Maar …” Willem kyk onbegrypend na Magriet. “Dis dan Leatitia …”
“Nee Wimp, dis Willemien. Mý dogter.” Magriet probeer nie eens om die trane wat nou uit haar oë stroom te keer nie. “Ses weke na ek met jou uitgemaak het, het ek besef ek is swanger. Daai laaste aand … Ek het nie geweet wat om te maak nie. Hoe kon ek, na ek jou van my weggestuur het, weer terugkruip? My pa … hy sou dit nooit toelaat nie. Ek was minderjarig. Hy was so dankbaar destyds toe ek met jou uitmaak, dat ek uiteindelik, volgens hom, gesien het dat jy nie goed genoeg is vir sy dogter nie. Ons buurman, Gerhard, se vrou is ʼn paar maande voor dit oorlede. Hy het ʼn klein seuntjie gehad. Ek het dikwels daar gekom, die mannetjie opgepas as sy pa dringend iewers heen moes gaan. Ek het vir Gerhard vertel van my swangerskap en hy het voorgestel ons trou. Sy seuntjie kry ʼn ma en my kind ʼn pa. Dit was sy voorstel dat ons haar Willemien noem – jou naam. Hy was goed vir ons tot sy dood sewe jaar gelede.” Sy kyk na die man wat stom oorkant haar sit. “Ek is jammer Willem, so verskriklik jammer. Ek het jou kind by jou gesteel, jou ontneem van …”
“Griet, nee.” Willem steek sy hand uit en vee die trane op haar wange weg. “Natuurlik is dit vir my ʼn skok en ek sal so graag vir jou wou kwaad wees maar dis water onder die brug. Ons kan niks aan die verlede verander nie. Jy het gedoen wat jy gevoel het is reg.” ʼn Glimlag breek oor sy gesig. “Weet sy van my?”
“Sy weet. Gerhard het haar grootgemaak as sy eie dogter en hulle was ontsettend lief vir mekaar, maar hy het seker gemaak dat sy weet sy het iewers nog ʼn pappa, een wat sy dalk eendag sal kan ontmoet.”
“Daai eendag het gekom. Hemel, kan jy my ma al sien as ek nie net met jou nie, maar ook nog ʼn kleindogter by haar opdaag? Ek sweer sy skryf my terug in haar testament!”
Magriet kyk in ongeloof na hom. “Bedoel jy dit Wim? Bedoel jy dat jy my kan vergewe vir agt-en-twintig jaar?”
“Ja Mygrietjie,” die ou troetelnaam glip oor sy lippe. “ʼn Duisendmaal ja. Mens kry net eenmaal in jou lewe so lief soos ek jou destyds gehad het. Ek kon jou nooit vergeet nie. Ek het probeer om Leilanie lief te kry. Myself selfs met tye verbeel dat sy jou plek in my hart ingeneem het. Maar ek het vir myself gejok.” Sy hande vou weer om hare. “Ons het soveel tyd gemors, Griet. Tyd wat ons nooit weer kan terugkry nie. Weet jy hoeveel keet het ek myself verbeel ons sit so oorkant mekaar by ʼn tafeltjie? Hoeveel keer ek gedroom ons is nog bymekaar? Ek het jou gesoek in elke gesig in ʼn winkelsentrum, my verbeel ek hoor jou stem agter my.”
Magriet sien hoe sy oë blink. Haar hande knel om syne.
“Hoe lyk dit, Griet? Gaan ons, nou dat ons albei ouer en wyser is, weer probeer? Ons word een van die dae vyftig, ons het nog jare voor om op te maak.”
Sy steek haar vinger uit en vee die traan wat oor sy wang loop af. Dan laat rus sy haar hand in antwoord op sy wang. Sy knik. Haar stem kan sy nie nou vertrou nie.
Marianne Fourie
Maart 2022 – OOP projek
3.Agter toe deure
847 woorde
Agter toe deure
“Maak oop die deur!” ʼn Harde gehamer van vuis op hout volg. “Maak oop die donnerse deur nou! Ek maak jou vrek as ek hier uitkom, hoor jy my? Ek maak jou fokken vrek!”
Debbie sak bewend op die rusbank neer. Sy voel hoe haar lyf begin ruk. Suiker, dink sy, ek moet suiker in my lyf kry. Sy strompel na die yskas en gryp die bottel lemoensap uit die deur. Die sap stort oor haar ken en bors toe sy die bottel met rukkende hande na haar mond bring en sluk. ʼn Naarheid oorval haar toe sy die bottel voor haar mond wegneem en sy haal die wasbak net betyds. Vir ʼn lang ruk staan sy gebukkend oor die wasbak voor sy die kraan oopdraai en kyk hoe die lemoensap wat sy sopas ingeneem het deur die gaatjie wegspoel.
Waar het sy die, byna onmenslike, krag vandaan gekry om te doen wat sy ʼn paar minute gelede gedoen het?
Die oggend het soos enige normale oggend in haar huis begin. Soos gewoonlik het Fanus fout gevind met die ontbyt, met die klere wat sy vir hom uit die kas gehaal het. Die hemp het ʼn klein kreukeltjie gehad naby die soom, daar waar niemand dit sou kon sien nie. Dit was genoeg rede vir hom om te ontplof, haar aan die arm te gryp en te sleep na die badkamer.
“Jy leer nooit! Hoeveel keer moet ek hieroor praat? Jy wil sien dat ek uitgelag word by die werk, nè? Hoekom leer jy nie?” het hy gegil terwyl hy met sy vry hand houe in haar gesig laat reën het.
ʼn Onmenslike woede het op daardie oomblik van Debbie besit geneem. “Dis genoeg!” kon sy deur haar styfgeklemde kake uitpers. “Dis genoeg!” Met ʼn krag waaroor sy nie geweet het sy beskik nie, het sy haar arm losgeruk en in een beweging hom tot in die badkamer gestamp. Die totale ongeloof wat sy op sy gesig kon lees, het hom vir ʼn oomblik verlam, en in daardie oomblik kon sy die deur toestamp en die slot in die veiligheidshek draai.
Die gehamer aan die deur raak stil.
“Debbie? My Lief …”
Die stem van agter die deur is sonder bravade, amper pleitend.
“Maak oop die deur, asseblief. Ek belowe dit sal nooit weer gebeur nie. Ek is jammer oor my optrede. Ek weet nie hoekom ek so kwaad was nie. Debs …?”
“Nee!” Die enkele woord skeur uit haar keel. “Nee!”
“Asseblief! Ek smeek jou. Jy weet ek kry engtevrees … Ek belowe, ek sal die deur afhaal. Asseblief maak oop.”
Sy stap met afgemete tree na die deur. “Nee, Fanus. Wat het jy gedoen elke keer dat ék jou gesmeek het om die deur oop te maak? Jy het gelag. GELAG, Fanus. My engtevrees het vir jou niks beteken nie. My honger terwyl ek in die klein vertrekkie opgesluit was, was om my ʼn les te leer. Jy het werk toe gegaan en my gelos om ‘my sonde te oordink’. Sit daarbinne en vrek! Die polisie kan jou kom uithaal.”
Die vuishoue begin weer teen die toe deur reën.
“Wie dink jy is jy om my te probeer dreig met die polisie? Hulle gaan vir jou lag, man. Niemand gaan jou glo nie! Jy is ʼn nikswerd en die polisie gaan dit ook vir jou vertel. Hulle weet wie ek is. Hulle ken my aansien in die gemeenskap. Hulle gaan hierdie deur oopsluit en dan is ons alleen. Verstaan jy wat ek vir jou sê? Alleen, net ek en jy. Vandag maak ek jou vrek!”
Debbie voel hoe ʼn doodse kalmte oor haar vloei. Sy is nie meer bang vir hom nie, sy mag oor haar is gebreek. Sy vryf oor die staal van die veiligheidshek wat Fanus sowat twee jaar gelede voor die badkamerdeur vasgesweis het. Haar tronk. Die vertrekkie waar sy meer as die helfte van haar getroude lewe in toegesluit was omdat sy nie ‘haar les’ wou leer nie. Hoeveel ure van honger en angs het sy agter die tralies deurgebring?
“Jy is reg, weet jy. Almal kén jou, die pilaar van die samelewing. Die man wat oor sy eie voete sal val om mense te help – daar waar ander jou kon sien. Vandag gaan hulle die ware Fanus Verster sien, die man wat sy vrou toegesluit het in ʼn klein badkamertjie nadat hy haar ‘getugtig’ het. Die man wat sy vrou onderdanig gebliksem het. Hoe gaan jy die merke aan my verduidelik die keer, Fanus? Jou arme vrou, so lomp, val gedurig oor haar eie voete. Hoe verklaar jy my gebreekte neus, die wurgmerke aan my keel, jou vingermerke aan my arms? In watter deur het ek dié keer vasgeloop? Jy het jou hand die keer oorspeel, my ‘liewe’ man. Dis verby. Jy sal nooit weer jou hande op my lê nie want wanneer jy vrygelaat word sal ek nie meer hier wees nie. Jy het verloor, Fanus. Jy het geen mag meer oor my nie.”
Die skel van die deurklokkie onderbreek haar.
“Polisie. Maak oop die deur!”
Marianne Fourie
Julie 2022 – Wat skryf ek projek
2.Geduld, o Geduld (725 woorde)
“Is jy gereed vir die ‘tweede-pouse-treitering’?” vra Kate toe Magdel langs haar neersak.
Die nuwe hoof wat drie maande gelede by die skool begin het, het dié tradisie begin. Elke Maandag, gedurende tweede pouse, het hy ʼn inspirerende boodskappie vir die personeel – “om julle moraal hoog te hou, mensies”. Die eerste paar keer was inspirerend, nou is dit net ʼn mors van kosbare teedrink-en-afpak tyd.
“Goeie môre, kollegas,” begin die hoof. “Vandag wil ek praat oor geduld, daardie woordjie wat so kosbaar is vir ons wat met die toekoms van ons pragtige land werk. Dames en here, ons mag nie ongeduldig raak nie. Ons mag nie moed verloor nie. Ons mag nie toelaat dat hierdie pragtige jong mense wat aan ons toevertrou is uitgelewer word aan die ongeduld wat in die wêreld hoogty vier nie. Ek deel graag vanoggend iets wat ek op die internet raakgelees het met julle.” Hy skuif sy bril reg op sy neus en begin lees, sy stem hoogdrawend.
“Geduld is die vermoë om moeilike omstandighede in die gesig van vertraging te verduur; verdraagsaamheid van provokasie sonder om te reageer in ergenis; veral wanneer dit met langer termyn gekonfronteer word. Geduld is die vlak van uithouvermoë wat mens voor negatiwiteit kan hê.”
Magdel rol haar oë. Dis duidelik dat haar geëerde hoof nog nooit met graad 8E gekonfronteer is nie.
Hoërskool Witberg is in die ‘swakker’ deel van die dorp geleë en ongelukkig beteken dit ook dat hulle ‘kliënte-basis’, soos die personeel spottend na die leerders verwys, ook maar swakkerig is. Die swak sosiaal-ekonomiese agtergrond van die leerders skyn helder uit hulle kleredrag, gedrag en ambisie. Veral die E-klasse is ʼn uitdaging van formaat. Skool is nie hoog op die kinders se prioriteitslysies nie. Die graad agts wat dié jaar in Magdel se klas sit, is enig in hulle soort en Engels die taal van die verdrukker – wat sy natuurlik in hulle oë is.
Sy het al elke metode wat deur kenners voorgeskryf word probeer. Eers streng, en toe dit nie vrugte afwerp nie, meer ontspanne. Sy het prentjies geteken en hulle selfs laat inkleur soos laerskoolkinders, Powerpoint aanbiedings gemaak tot laat in die nag en later weer teruggekeer na die metodes van lank gelede. Hulle het gesing en rympies opgesê en hande geklap op die maat van rap liedjies. Niks werk nie. Hulle I are en we is nog net soos tevore.
Van huiswerk gee het sy lankal afgesien – dit word tog nie gedoen nie. Nou beplan sy haar lesse maar rondom ʼn paar praktiese oefeninge wat hulle so saam-saam in die klas doen.
Daar is net twaalf leerders in 8E. Twaalf moeilike, onleerbare, rebelse veertien-jariges.
“Probeer hulle maar net op skool hou tot hulle graad 10 geslaag het,” was die hoof se advies toe sy gaan kla het oor hulle onbetrokkenheid en rebelse gedrag.
Nog ʼn groepie wat maar net elke jaar deurgesit word ten spyte van die feit dat hulle niks geleer het nie. Magdel kan nie met die benadering vrede maak nie. Hulle sal, verdomp, iets leer al tap dit elke greintjie energie uit haar liggaam en siel.
Soos die noodlot dit wil hê is graad 8E haar voorland net na die hoof se ‘pragtige, inspirerende’ boodskap. Magdel haal die pak Fizzers wat sy die vorige middag, uit desperaatheid, gekoop het uit haar laai en sit dit op haar lessenaar neer. Omkoopgeskenke. As dit dan al manier is om die klompie te laat werk, koop sy hulle wragtag vandag om met lekkergoed.
“Ek gaan vir julle net vyf sinnetjies gee om vandag te doen. As jy al vyf gedoen het kry jy ʼn Fizzer. Vir elke antwoord wat reg is, kry jy nog een. Jy kan dus vandag ses Fizzers wen!”
Elf koppe buig oor hulle boeke, hande vlieg oor die bladsye in hulle boeke. Die voorkoppe is geplooi soos hulle konsentreer.
Warren lê met sy rug teen die muur, sy bene lank voor hom in die paadjie uitgestrek. Hy mag dalk in liggaam in die klas wees, maar sy gees is vêr buite die grense van die skoolterrein. Warren skryf nie. Hy staar nikssiende voor hom uit na daar waar hy vry van skool en onderdrukking is.
“Warren, wil jy nie ook ʼn Fizzer hê nie? Kyk, almal is besig.”
Warren kyk verveeld op na Magdel. “Ek sal my eie fokken Fizzers koop, okay.”
Marianne Fourie