Marsofine Krynauw
Desember 2019 – Dans asof niemand kyk nie projek
2.Dans van dankbaarheid . . .
Nelmarie van Greunen raak stadig wakker. Sy is half deur die blare. Hoekom voel dit asof sy iets moet onthou. ‘n Diep frons ontsier haar pragtige gelaat. ‘n Voorval of gebeurtenis wat haar die vorige dag baie ontstel het. Dan slaan dit haar soos ‘n voorhamer tussen die oë – haar vriend wat sy al van voor skool af mee maats is, Jeandre Verhoef, se vrou het gister ‘n dubbele mastektomie ondergaan! Sommer net so, so skielik.
Sy lê vir ‘n oomblik roerloos. Die laaste sewe maande flits soos ʼn rolprent voor haar geestesoog verby.
Dit het alles in April op ʼn mooi somersdag begin. Sy onthou dit soos gister. Haar selfoon het gelui terwyl sy besig was om haar werkstasie op te pak vir die dag. Sy het gemerk dat dit haar kerk-ma, soos sy haar noem, is. Sy het Tannie Kate en oom Michael by die kerk ontmoet. Oor die laaste agt jaar het hulle soos haar ouers geraak en sy vir hulle die kind wat hulle nooit gehad het nie. Sy het skaars tannie Kate se stem gehoor soos wat sy gehuil het. Wanneer sy haarself uiteindelik tot bedaring gekry het, het die woorde gekom wat haar lewe vergoed sou verander: “Nelmarietjie, my kind, jou oom Michael het klierkanker. Sy hele liggaam is deurtrek.”
Vir ʼn sekonde het sy net verstar gestaan met die telefoon in die hand, tot sy besef het dit gaan nie nou oor haar nie. Haar Tannie Kate het haar nodig, het nodig dat sy sterk moet wees. Haar Tannie Kate het net vir oom Michael. Hy is nie net haar man nie, hy is haar vriend, haar familie, haar alles. Dapper het sy dit uitgekry, ‘ons sal bid my tante’.
Daardie dag het die bitter pad en stryd teen kanker vir haar tannie Kate en oom Michael begin. ʼn Pad wat Nelmarie saam-saam sou moes stap. ʼn Pad waar sy moes daagliks toesien hoe haar geliefde weg kwyn voor haar en Nelmarie haar enigste ondersteuning was. Die enigste een wat werklik verstaan het, by wie sy kon huil, by wie sy kon hoop vind.
Pas nadat oom Michael en tannie Kate vertrek het, hulle was by haar tuis terwyl hy sy bestraling gekry het, kry Nelmarie ʼn oproep van haar dierbare vriendin Carin. Sy was opgewonde om die oproep te neem. Sy was half emosioneel gedreineer na twee weke van hospitaal in en uit met tannie Kate en oom Micheal. Carin is so ʼn opgewekte persoon, dit is net wat sy nou nodig het. Haar opgewondenheid sou bitter vinnig soos mis voor die son verdwyn. Sy hoor dadelik dat daar groot fout met haar vriendin is, daar is geen lag in haar so bekende stem nie. Sy borrel nie soos altyd oor nie. “Nelmarie, ek is in die Kaap vir toetse. Hulle het my vandag meegedeel ek klierkanker het, dit is al baie ver gevorder.”
Nelmarie het nie woorde gehad nie, binne ʼn maand is twee mense baie naby aan haar met dieselfde verterende, uitmergelende siekte gediagnoseer. In die tien dae wat volg sukkel sy haar geweldig om kontak te maak met Carin. Sy kry haar net nie in die hande nie, en sy het ʼn dringendheid om met haar vriendin te praat. Sy besef sy is in die Kaap, maar sy moet net met haar praat. Daardie Saterdag, die tweede Julie, was sy vasberade. Sy gaan vir ʼn laaste maal probeer om Carin se selfoonnommer te skakel. Dit het uiteindelik gelui!
Dan hoor sy die moeisame stem wat net ʼn skadu is van die stem wat menigte laserskywe voort gebring het. Haar vriendin het moeg, lewens moeg geklink. In ongeloof luister sy na haar eens opgewekte, lewensblye vriendin se bitter moeë, vermoeide stem. Geen borrel lag, geen grappies, geen belofte van weer sien. Toe hul die verbinding verbreek, het sy verseker geweet dat dit die laaste maal was wat sy met haar dierbare, borrelende vriendin gepraat het.
Hoe het dit gebeur? Hoe is dit moontlik? Net twee weke nadat sy haar die eerste maal geskakel het om haar mee te deel dat sy kanker het. Nou is sy sterwend! Duidelik hoorbaar sterwend.
Nelmarie is verslae en plat geslaan. ʼn Maand en ʼn half later kry sy die oproep wat sy voor gewag het – Carin is oorlede. Haar hart was stukkend, haar lewens lus het verdwyn, sy het geen woorde gevind vir ʼn gedig of storie nie, sy was leeg. Dit het gevoel of Carin haar woorde saam geneem het.
Sy het egter nie ʼn keuse gehad as om aan te gaan en sterk te staan nie. Op Langstand het oom Micheal nog moedig voort geveg en tannie Kate het nog leun swaar op haar geleun. Middel September het sy net geweet dat dit tyd was om af te ry, tyd om al is dit net vir ʼn naweek die las vir tannie Kate ligter te gaan maak.
Die Vrydagaand toe sy daar afklim na haar drie ure lange rit, het sy ʼn verwese vrou gevind, wat baie naby aan die einde van haar kragte gekom het. Tannie Kate het ook net daar in haar arms geval en het haarself oor gegee aan die trane. Die Saterdag het hulle vir oom Michael in die hospitaal gaan kuier. Daar het sy net ʼn skaduwee van die eens forse, gesonde man gevind, met oë diep in sy kop in versonke.
Met die groet het sy geweet sy dat sy vir ʼn tweede maal binne vier maande ʼn geliefde vir die laaste maal gegroet het. Daardie middag groet sy tannie Kate met die belofte dat sy in haar spore sal omdraai as sy haar nodig het. Net vier en twintig uur later het sy weer die drie honderd kilometer kus toe aangepak, oom Michael is oorlede.
Met haar terug keer na ʼn week van roudiens reëlings, en al die ontelbare dinge wat in orde gekry moet word dat Tannie Kate kan aangaan om te leef van dag tot dag en genoeg fondse beskikbaar kan hê, was sy sielsmoeg en emosioneel gedreineer.
Daardie aand begin sy met ʼn skool vriendin op vonkpos gesels deur dood luiters te vra hoe dit met haar gaan na hul reünie. Net ʼn maand gelede het hul matriekklas hul veertigste reünie gevier, en die vriendin was die voorslag organiseerder daar van. Die antwoord was geensins wat sy verwag het nie. Haar vriendin is na ‘n maande van toetse en behandeling gediagnoseer met Evans Sindroom, ʼn outo-immuun bloedsiekte waarvoor daar geen genesing is nie. Die goeie nuus is hulle kan dit vir die res van haar lewe behandel met bloedoortappings elke twee weke, yster aanvullings binne-aars en Vitamien B12 aanvullings.
Nelmarie is die enigste van haar vriendinne wie sy met hierdie nuus vertrou het. Weer raak sy die een wat bid, die een wat bel, die een wat bemoedig en opbeur. Sy doen dit met ʼn omgee hart.
Dan die nuus oor Jeandre Verhoef se vrou waarvan albei borste afgesit is!
Nelmarie spring uit haar bed soos ʼn koëel uit ʼn geweer. Die besef dat sy ʼn baie geseënde vrou is om op byna sestig so gesond te wees, tref haar voor haar bors. Sy drink nie eers bloeddruk of cholesterol tablette nie. Dankbaarheid laat haar soos ʼn tiener na haar laserskyfspeler huppel. Sy skakel dit aan en so in haar slaap klere dans sy op die klanke van Carin se laaste laserskyf. Sy dans by haar kamerdeur uit, sluit haar patio se deure oop en dans na buite waar die son se strale warm en verfrissend oor haar kaal arms streel.
Sy word haar gewaar van die buurman wat van sy balkon met verbasing na haar staar. Dit bring haar glad nie van stryk nie, sy dans asof niemand na haar kyk nie. Van struik na stuik dans sy. Sy gee nie om wie haar sien nie, sy is dankbaar dat sy kan dans, dat sy geseënd is met gesondheid. Sy is dankbaar dat sy vir tannie Kate daar kon wees en nog steeds daar is. Dat sy Carin se man daagliks kan vertroos, al is dit net oor die telefoon, en soms ook saam met hom kan huil. Sy is dankbaar dat sy daar kan wees vir Hilma en haar kon bemoedig in die tyd voor die uitslag bekend was en die vrees vir haar ondraaglik was en kan bly bemoedig op die moeilike dae.
Sy wil dans solank sy lewe, soveel as sy kan, sy het rede om die lewe te vier, want die Vader seën haar om ʼn steunpilaar vir ander te wees.
Sy het rede om te lag en rede om te dans asof niemand kyk nie . . .
©Marsofine Krynauw
Februarie 2020 – Limeriek projek
1.’n Seën van bo …
“Na ons die offergawe opgeneem het, sing ons Lied 290,” hoor sy haar geliefde wederhelfte se stem van die kansel.
Instinktief neem sy haar Bybelomslag, slaan dit oop om haar kollekte geld te kry. ‘n Diep frons verskyn meteens tussen haar potlood dun wenkbroue. Daar is dan niks in die sakkie wat sy altyd haar geld sit nie! Paniek neem van haar besit. Sy maan haarself om net rustig te bly.
Sy gaan in haar gedagtes terug na vroeër die oggend voor sy kerk toe gestap het. Stap vir stap gaan sy oor haar bedrywighede. Nadat Dries die huis verlaat het, het sy haar gesig begin inkleur. Daarna het sy haar krale aangesit, voor sy haar hare gedoen het. Toe parfuum in haar kas gaan vat om aan te sit. Sy was net besig om haar kollekte geld uit haar beursie te haal, toe die vervlakste telefoon gelui het. Sy is dood seker sy het die geld uitgehaal. Wat op dees aarde het sy daarmee aangevang? Hoe sal dit nou lyk as die dominee se vrou nie kollekte ingooi nie.
Sy probeer so rustig as moontlik bly, maar die gemeente lede naby haar het klaar opgemerk dat sy erg angstig is. Sy skrop in haar Bybelsak soos ‘n hoeder opsoek na daardie enkele mieliepit tussen die gras. Sy het geen keuse as om onder die kerkbank in te loer of dit nie dalk uitgeval het nie.
“Mevrou, is daar fout?” hoor sy ouderling Botha van agter haar vra. Sy raak bloedrooi in haar gesig van verleentheid. Sy kan mos nie aan die ouderling beken dat haar kerkgeld nou weg is nie. Nog minder dat sy geen idee het wat daarvan geword het nie. Nie dat sy nou eintlik ‘n keuse het nie, want die kollekte bordjie is haastig op pad in haar rigting.
“Ouderling Botha, my kollekte geld is nou net weg. Ek is dood oortuig, ek het dit in my Bybelsak gesit soos ek altyd doen.”
Ouderling Botha, staan summier op en begin ook onder die kerkbank loer of hy dit nie daar sien nie. Van die preekstoel, staan en bekyk Ds Dries Vermaak die hele gedoente. Wat sal nou aangaan dat daar so ‘n bevange uitdrukking op Luna se gesig is?
Haar baadjie het nie eers sakke dat sy dit dalk daarin kon sit nie. Of het sy net met die haastigheid nooit die geld in haar Bybelsak gesit nie?
“Nee, mevrou Dominee, ek sien niks,” hoor sy ouderling Botha se verdoemende woorde.
Liewe genugtig daar is nog een ander plek waar die geld kan wees. Die gedagte tref haar soos ‘n voorhamer. Sy het die slegte gewoonte om haar selfoon en soms geld by haar boesem in te sit as sy nie ‘n sak het nie. Sy het sekerlik dit gedoen. Die gedagte dat sy ten aanskoue van die hele gemeente nou ‘haar hand in haar boesem moet steek’ laat haar gesig vuurrooi word. So ‘n skande sal nie Dries of sy oorleef nie.
Luna stoei nog so met die besluit: sal dit erger wees om nie kollekte in te gooi of sal dit erger wees om ten aanskoue van die gemeente haar slegte gewoonte te onthul.
“Mevrou,” hoor sy iemand langs haar sê. Dit is die diaken met die kollekte bordjie.
O! Liewe hemeltjie. “Vader, nou het ek ‘n hengse wonderwerk nodig en vinnig ook,” skiet sy ‘n stil gebed op.
Die hele gemeente se oë is op haar gerig. Die susters van die VLV sit met opgehoue asems, dit sal darem nou vir jou ‘n lekker brokkie skinder nuus wees as mevrou Dominee sowaar nie vandag kollekte geld gebring het nie.
Sy wil net haar hand oplig om tog maar te voel of die geld in haar geheime bêreplek is, toe ‘n beweging agter haar oog vang. ‘n Klein rooikop seuntjie wat net skuins agter haar sit, het die hele tyd die gebeure dop gehou, en voel baie jammer vir die gawe tannie Dominee. Op die ingewing van die oomblik buk hy onder die bank in. Kom dan op met ‘n groot glimlag op sy sproetgesiggie: “Me-vroo-u Dominee, me-vroo-u Dominee, ek het dit gekry!” Sy kyk verstom om. Hy steek sy armpie oor die bank se leuning en druk ‘n twintig rand noot in haar hand.
Sy is so verlig en bly, sy kan die kind sommer soen! “Baie dankie Boetie,” bedank sy hom dankbaar. Sy plaas die geld tussen twee ander note. Niemand sal weet wat sy in die bordjie gesit het nie.
Jannie glimlag net. Hy sal wel weer geldjies spaar vir daardie tol, wat hy na kerk wou gaan koop. Hy kan mos nie net toekyk, hoe sy Dominee se vrou so vreeslik verneder word nie. Sy is altyd so vriendelik met hom.
Sjoe, dit was darem nou byna ‘n vreeslike palawa. Jannie Mostert was vandag beslis ‘n sëen van Bo. Luna haal diep asem, om haar onstuimige hart onder beheer te probeer kry. Sy weet dat hierdie nie háár kerkgeld is nie. Dit maak haar net nog meer dankbaar vir die gebaar, sy is verskriklik verlig oor die uitkoms.
Sy stap dadelik pastorie toe na kerk, sy het nie na die besigheid lus om geselsies te maak nie. Sy wil nou net uit hierdie benoude kerk-pakkie uitkom.
Wanneer sy haar baadjie uit trek, val die honderd rand noot op die vloer voor haar voete. Sy raak so aangedaan oor die kind se gebaar, dat sy in trane uitbars.
“Luna, waar is jy?” hoor sy Dries na haar roep.
“Hi-e-r, in die kamer,” snik sy dit uit.
“Nou, hoe is dit dan nou, my Dierbaarste?” Hy troos haar en wanneer sy klaar gehuil het vertel sy vir hom van die seuntjie se onbaatsugtig daad wat haar gered het van vernedering voor die hele gemeente.
“Ek is seker as jy vir klein Jannie ‘n dosyn van daardie heerlike koeksusters van jou gee, sal hy ewig dankbaar wees dat hy jou gehelp het. Dit is goed om te weet dat daar nog kinders is met sulke mooi harte.”
Die Maandagnamiddag, loop Luna die straat af, haastig op pad na die Mosterd’s se huis. Wanneer sy aanklop is dit niemand anders as Jannie wat die voordeur oop maak nie.
“Me-vroo-u Dominee!” kry hy dit verbaas uit.
Sy hou ‘n mooi toegedraaide pakkie na hom uit. “Dit is net vir jou, baie dankie dat jy my so mooi gehelp het gister.” Voor sy moeder nog kan kom kyk wie by die deur is, is Luna al weer op pad.
Jannie glip by sy kamer in en skeur die pakkie oorhaastig oop. Daar is die heerlikste goudbruin, stroperige koeksisters in en toe hy dit oplig lê daar ‘n honderd rand noot. Hy spring op en af van blydskap. Nou kan hy sy tol gaan koop en nog spaar.
“Jannie, wie was by die deur?” vra sy Moeder.
“Me-vroo-u Dominee het vir my koeksisters en die gebring,” sê hy ingenome terwyl hy die honderd rand ophou en in die lug swaai. “Dit is om dankie te sê dat ek gister haar geldjie opgetel het,” hou hy mevrou Dominee se geheim dig. Hy voel sommer so groot en die feit dat hy so sleeptong praat pla hom skielik glad nie!
Marsofine
April 2020 – Grendel projek
1.Verby die grense van Vryheid
Sy kyk na hom. Daar waar hy so half pateties op die rusbank slaap. Meteens wonder sy: wanneer het die gesels, opgeraak? Wanneer het die opwinding, verveling geraak? Wanneer het die liefde, gewoonte geraak? En wanneer, is haar hart toe gesluit met ʼn slot en ʼn grendel?
Amanda maak ‘n poging om op haar hekelwerk te konsentreer. Maar, haar poging misluk jammerlik. Onwillekeurig, dwaal haar blik weer na die man wat op die rusbank slaap, haar man. Jare gelede het hierdie gedagte haar hart warm gemaak, nou laat dit haar net met ʼn seer gevoel in haar binneste.
Hy was so ‘n aantreklike man, toe hulle getroud is. Die vrouens het oor hul voete geval vir sy aandag. Sy was beny deur al haar vriendinne, dat sy met so ‘n beeld van ‘n man gaan trou!
Hier lê hy nou: oorgewig, onversorg, slordig – geen teken van die aantreklike man van ‘n paar jaar gelede te bespeur nie. Sy wonder wat hulle sou sê as hulle hom nóú kon sien.
Al haar pogings om hom te bemoedig, te versorg, te help om gesond te leef, word net in die wind geslaan. Sy het al mooi gepraat, gesoebat, kwaad geraak, en nou is sy nog net magteloos. Die aanvaarding het nog nie gekom nie. Die aanvaarding bly nog iewers ver weg.
Wanneer sy met hom praat oor sy ongesonde eetgewoontes, sy onversorgdheid, sy teenstand om sy persoonlike higiëne te handhaaf, kom die antwoord kortaf: “Vat my soos ek is, of los my. Ek hoef niemand te beïndruk nie.”
Al hierdie dinge het haar nie so erg gepla nie, want sy is maar meesal alleen by die huis. Callie is gewoonlik by sy vriende, iewers in ‘n kroeg of by een se huis besig om te drink. Oral anders as waar daar gewerk moet word.
Maar nou, nou dat hulle gedwonge agter slot en grendel moet sit, dag in en dag uit, nou is dit soos ‘n seer oog vir haar. Sy gril behoorlik as hy by ‘n vertrek instap. Dan bid sy net dat hy tog om hemels naam nie aan haar moet raak nie.
Amanda sluk swaar aan die knop wat skielik in haar keel is. Haar goedversorgde hande lê stil op haar skoot. Daar verskyn ‘n ver af uitdrukking in haar smarag groen oë. Haar gedagte neem haar ver terug, na tye van geluk en vryheid.
Daardie dag het die son al begin aanstaltes maak om te gaan rus, die windjie het al begin om die hitte van die Namibvlaktes see toe te jaag. Callie het opgewonde in sy moeder se plaas kombuis in gestorm, haar hand gegryp en met haar na die wild kar gehardloop. Sy het probeer uitvind waarheen hy so haastig op pad is met haar, maar hy het net bly lag en gesê dat dit ‘n verrassing is vir sy Namibroos. Hul hare het uitbundig in die wind gedans soos hy met die oop kar oor die vlaktes gejaag het. Skielik het hy by ‘n klein duintjie gestop. Vir haar die deur oopgemaak en weer haar hand gegryp en teen die duintjie op gehardloop met haar. Soos twee uitbundige kinders het hul gelag van die vreugde om saam te wees.
Toe hul die kruin van die duintjie bereik, het sy na haar asem gesnak. Voor haar het die Namibvlaktes, kaal en wyd uitgestrek gelê. Asemrowend mooi. Regs van hulle was een eensame doringboom, halfpad teen die duintjie af. Verder was die Namibvlaktes net versteur die die tweespoorpad wat soos ‘n slang gekronkel het, so ver die oog kon sien.
Callie het haar omhels en vuriglik gesoen. Sy kop opgelig, in haar oë gekyk, sy paar blou oë was so vol liefde dat haar hart net wou bars. Die volgende oomblik het hy voor haar neergesak op sy een knie en uit sy sak ‘n blou fluweel dosie gehaal. Sy het kon net haar asem oorstelp van geluk ingetrek. In sy diep bariton stem het hy terwyl hy haar hand houvas en na haar opkyk gevra: “my Namibroos, sal jy met my trou?” Sy was so oorweldig en gelukkig, dat sy nie woorde gehad het nie en net haar kop kon knik.
Hy het opgespring en haar weer vuriglik gesoen en haar in die rondte gedraai terwyl hul uitbundig gelag het uit pure vreugde. Hulle was so vry, so gelukkig, so lief vir mekaar!
Amanda skrik uit haar mymering op toe sy die trane nat en koel op haar hande voel val. Dit loop soos ‘n kraan wat oopgedraai is. Trane vir die mooi, die kosbare, die intense liefde wat hul vir mekaar gehad het, wat net verdwyn het. Verdwyn het sonder genade, sonder waarskuwing. Haar leeg gelaat het, leeg en kaal gelaat, net soos daardie Namibvlaktes waarvoor sy so lief is. Haar gelaat het soos daardie eensame boom teen die duin, wat dag na dag spook vir oorlewing. Wat in die wind en weer tog skuiling probeer gee aan die enkele geveerde vriend of selfs ‘n gemsbok skuiling bied. Tog vasgevang in die son en sand moet bly staan.
Sy kry die gevoel dat iemand vir haar kyk. Wanneer sy opkyk, lê Callie haar en dophou. Wat haar egter heel onkant vang, is die seer en deernis wat sy in sy oë bespeur. Stadig kom hy orent, gee twee treë tot by haar en hou sy arms na haar uit. Sy staan op en val in sy arms in, hy hou haar styf vas. Die trane vloei nou vrylik oor albei se wange.
Etlike minute later, lig hy haar ken op dat sy na hom moet kyk.
“My Namibroos, ek het jou lank dopgehou, jy het ver gaan draai vandag.”
“Ja, my Liefling ek het, daar by ons duintjie op die plaas.”
“Ek het so iets vermoed, dat ek die oorsaak van jou trane is. Dit was nie te moeilik om uit te werk nie.”
Sy kan nie vir hom jok as hy so in haar oë kyk nie. “Ja, ek verlang so terug na daardie tyd. Toe ons jonk, vry en lief was vir mekaar. Hier is ons nou noodgedwonge in isolasie, en skielik het ek jou, die man wat ek lief het, meer gemis as ooit.”
Hy druk haar stywer teen hom vas: “My vrou ek is ‘n idioot! Vergewe my, vergewe my asseblief? Ek belowe om van vandag af daaraan te werk om myself terug te vind. Om weer die man te raak waarop jy trots was en waarvoor jy lief was. Hoe kon ek jou, my eie Namibroos, al die tyd so afskeep en dit om my besig te hou met snert?”
“Callie, ek het jou nog altyd lief! Nogtans sal dit wonderlik wees om die man wat ek jou as leer ken het terug te kry. Ek ken nie die man wat jy geword het nie. Ek hunker na die uitbundig, kreatiewe, gelukkige man, wat oorgeloop het van vreugde.”
“My vrou, glo jy my, hierdie isolasie het my so pas meer vry gemaak as wat ek in jare was. Hier agter slot en grendel het ek weer besef hoe waardevol jy vir my is. Ook het ek besef hoe ek myself verwaarloos en jou afgeskeep het. Sodra hierdie isolasie verby is, gaan ons terug na ons duin. Daar sal ons weer ons belofte aan mekaar hernu en nooit sal ons weer anders as vry wees nie. Selfs al word ons gedwing om agter geslote deure te bly, want ons is vry in ons liefde vir mekaar.”
“Wag, laat ek my gaan bad en skeer! My mooi vrou verdien beter as ‘n man wat soos ‘n boemelaar lyk!”
Amanda kyk hom met ‘n lied in haar hart en ‘n gebed op haar lippe agterna. Die Vader het haar vandag gehoor! Sy kan nie wag om die pad verder saam met haar eie Callie te stap nie, vry, vry van die las van eensaamheid! Vir te lank was haar hart toegesluit vir liefde, vir omgee, vir lewe.
ʼn Halfuur later kry sy die geur van naskeermiddel, nog voor sy haar man sien. Wanneer hy die sitkamer binnestap, kan sy nie glo dit is haar man nie. Die man wat vir die afgelope jare soos ʼn boemelaar gelyk het. Hy is skoon geskeer, netjies aangetrek en hy ruik verruklik.
Hy hou sy arms na haar uit: “Kom hier, my Namibroos, ek het baie vermorste tyd om in te haal.” Hy vou haar teer in sy arms toe, plaas sagte soentjies oor haar hele gesig voor hy haar weer hartstogtelik soen. Wat het hom besiel om hierdie juweel van ʼn vrou vir so lank te verwaarloos! Hy is so bly dat hulle nog vir ten minste twee weke hier agter slot en grendel gaan wees, dit gee hom die geleentheid om sy vrou weer te ontdek!
Drie maande later staan hulle op hul eie Namibvlakte duintjie en kyk weereens in verwondering oor die vlaktes uit. Die gevoel van vryheid en liefde in hul harte nou nog meer kosbaar as jare gelede. Liefde het die slot oopgesluit en geluk die grendel oopgemaak!
©Marsofine Krynauw