Martha Poller
Oktober 2018 Projek
3.Fanus koop kar
‘n Model T Ford. Mý Model T Ford!
As ek net kon slaap, maar die swart Ford spook by my. Sowaar, as môre net eers verby is …
“Fanus,” kerm Huipie, “hou op met rondrol! Ek kan g’n slaap as jy so tekere gaan nie.”
“Ai vrou, gaan maak tog maar koffie dat ons kan opstaan, toe?” vra ek mooi.
Maar Huipie wil niks weet nie. Sy is woedend oor die karkopery. “Dis afgodsdinge, Fanus, jy lol met die verkeerde goed.”
Teen opstaantyd is ek so moeg dat ek liewer die laken oor my kop wil trek. “Kom, Fanus, staan op en kry klaar. Die dag lê lank voor ons,” sny Huipie se stem deur my moeë siel.
Die verkoopsmannetjie weet ook nie so lekker hoe werk ‘n kar nie, lyk dit vir my. Hy het nou al ‘n honderd keer voor begin om vir my te wys hoe start ‘n mens die ding, maar ons kom nêrens nie. Dis elke keer in die kar, voor die kar met die slinger, in die kar, en dan weer voor die kar. Hierdie slinger is niemand se speelmaat nie, lyk dit vir my.
“Is hier ooit petrol in die kar, jongman?” vra ek heel onskuldig.
“My oom, as jy net wil luister na my, maar dit lyk my nie jy is lus om vandag met hierdie kar te ry nie,” grom hy vir my.
So ‘n klein twak! Met wie dink hy praat hy nou eintlik? Seker nie met Fanus Potgieter, die eerste man met ‘n kar in die distrik nie. Ek vies my sommer vir hom, maar ek bly liewer stil.
Uiteindelik kry hy die kar gestart en ek en my helfte kan die pad vat huis toe. Ek klou die stuurwiel met alle mag, maar die ding het ‘n wil van sy eie. Ons is meer in die veld as in die pad, maar ons ry dat die wind slierte waai in ons hare.
Ag, my genadetjie tog, hier is die plaashuis nou voor ons en die hek is wragtiewaar toe. Hoe stop ek hierdie gevaarte? Dankie tog, daar kom Karolus aangehardloop en maak die hek oop. Ons skuur rakelings verby die hekpaal, maar voor ek gestop kon kry is die hoenderhok in my pad.
Ek weet nie wat my vroutjie die kwaadste gemaak het nie – die twintig dooie hoenders, of die stukkende kar nie.
Martha Poller
November 2018
3.Liewe Antie Koot
Liewe Antie Koot,
Antie is seker baie verbaas om van my ‘n brief te kry, ha? Ek sien sommer hoe gryp Antie die kop vas en gaan sit op die stoel met ‘n ‘Haai mens!’ en roep dan eers vir ‘n koffietjie. En ag, dan sal Antie wonder nou hoekom het oom Koot nie tog maar net nog ‘n klein bietjie langer op hierdie ou aardbodem gebly nie.
Ek het nog altyd gewonder hoekom is Antie dan nou Antie Koot? Wilhelmina is vir my ‘n baie mooi naam, al dink Antie nie so nie. Ja, ek weet Antie is vernoem na daardie een ouma wat so kwaai was en dis hoekom Antie nooit gekla het om dan maar liewer Antie (van oom) Koot genoem te word nie.
Daar het so baie dinge gebeur sedert ek weg is daar uit Koffiefontein. Ek en Driekie het toe uiteindelik tot trou gekom, kan Antie dit glo? Sy het gekeer dat dit klap, maar hierdie klong van Koffiefontein vat mos nie nee vir ‘n antwoord nie. Ek kom een van die dae vir Antie vir Driekie en ons klein Willempie wys.
Ek werk al twee jaar by die myn hier in Welkom en my skofbaas het belowe dat my bevordering nie meer ver is nie. Ek het Driekie belowe dat ons dan vir ons ‘n bakkie gaan koop. Ek is so trots dat ek uiteindelik ook kan sê ek en my vroutjie het ons eie huisie en nou gaan ons ‘n kar ook kan koop. Dis nou juis met hierdie kar wat ons vir Antie gaan kom kuier.
Antie weet, as ek so alleen is wanneer ek nagskof doen, het ek baie tyd om te dink. Ek verlang sulke tyd my hart stukkend na die dae wat was. ‘n Mens is mos dom as jy jonk is, dan wens jy altyd dinge moet asseblief verander en beter word. Vandag vra ek myself af wat ek nou eintlik beter wou hê? Alles was dan goed en mooi en lekker.
Ag, Antie moet tog maar vergewe dat ek vanaand ou koeie uit die sloot uit grawe, maar my hart loop weer wye draaie en wil hom nie laat keer nie. Antie moet maar eers die brief neersit as ek te langdradig is en later verder lees, hoor?
Ek kan onthou, toe ek en Pa en Ma op Koffiefontein gekom het, was Antie en oom Koot al lankal daar. Ek weet, want dis julle wat vir Ma en Pa kom kerk toe nooi het en alles. Ek was daardie dag so skaam toe my pa so tekere gegaan het met julle! Ja, al was ek klein, het ek toe al geweet dat hy nie ‘n mooi mens was nie. Ek was baie kwaad vir Ma ook, want dit is sy wat altyd die brandewyn gaan koop het, ‘Anders raas hy met my, my kind!’
Ma het vir julle allerhande mooi storietjies vertel van hoe ons saans Bybel lees en bid en alles, maar dit was ook g’n die waarheid nie. Die waarheid was dat ons saans vir Pa moes wegkruip, anders het ons deurgeloop onder sy plathand. Wat my mos nou laat dink – sy was sowaar banger dat Pa sou raas as wat sy vir sy klappe was!
Toe kom die dag van die ongeluk. Ai, Antie Koot, daardie dag was nie ‘n mooi dag nie. Ek het al baie maal gewens ek kan dit asseblief tog maar vergeet, maar vergeet kan ek net eenvoudig nie vergeet nie.
Ek en daardie klein seuntjie (ek dink sy naam was Basie) van Ousie Mina het in die veld gaan probeer voëltjies vang met ‘n wip. Hy het by die groot seuns gesien hoe doen ‘n mens dit en hy het hom lekker slim gehou met my. Hy het my verseker ons sou daardie aand elkeen met ‘n paar voëltjies in die hand huis toe kon gaan. Ek het al geproe hoe lekker smaak die gebraaide voëltjies! Met al die probeerslae het ons heeltemal te ver in die veld in geloop en ons besluit toe om sommer padlangs terug te hardloop dorp toe voor die grootmense by die huis kom.
Antie Koot moet weet, ek het hierdie storie nog nooit vir iemand vertel nie. Hoekom ek nou juis vanaand daaroor moet skryf, slaan my dronk! Ek sê dan juis ek wil dit vergeet, ha? Maar dalk, net miskien, as ek dit klaar geskryf het, kan ek dit dan makliker vergeet?
Ons was al baie naby aan die brug toe ons die groot slag hoor. Basie het aan die hardloop gegaan en vir my geskree ek moet kom, daar was vir seker nou ‘n ongeluk. Ek wou nog stry, maar hy het net aanhou hardloop. Ek besluit toe ek hol maar saam, ek wil mos nie alleen in die veld bly nie.
Basie het so in die hardloop vir my gewys hoe staan die stofwolk daar bo die brug en toe weet ek dat hy hierdie keer sowaar weet waarvan hy praat.
En toe gaan Basie ewe skielik doodstil staan en hy gryp my aan die arm en ruk my in my spore tot stilstand. “Dis jou pa se kar daai, jong!” Ek sien nou nog daardie twee groot wit oë van hom soos hy daar langs my staan en blaas het van die moeg en skrik.
Ai, my antie, ek weet nie wat toe gebeur het nie, sowaar weet ek nie meer nie. Die eerste ding wat ek verder kan onthou is toe ek so in die kar in loer en sien hoe lê my dooie pa daar so skeef oor die sitplek.
Sal Antie my asseblief glo as ek vandag sê dat ek nie van hom gehou het nie, maar ek wou hom sowaar nie dood gehad het nie. Ek wou hom weg hê, maar nie dood nie, regtig nie.
Toe ek die oggend na die begrafnis opstaan, is Ma ook sommer net weg. Ek onthou hoe ek die briefie wat sy op die kombuistafel gesit het, probeer lees het, maar ek kon toe mos nog nie lees nie. Oom Koot het my daar by die kombuistafel gekry, die briefie nog steeds in my hand. Was dit die namiddag of die volgende oggend? Ek weet sowaar nie meer hoe lank ek daar so alleen gesit het nie.
En toe is ek sommer julle kind! Vandag begryp ek eers watter opoffering julle twee moes maak om my by julle in die huis te vat. Julle was self nie vreeslik vol geld nie, as Antie my nou sal vergewe as ek dit sê. Ek weet, want ek onthou dat ek by die skoolhoof se vrou klere gekry het vir kerk op Sondae en skoolklere die volgende jaar toe ek skool toe moes gaan.
Die dag toe oom Koot weg is hemel toe, was dit vir my of my pa oorlede is. Julle twee was in werklikheid die enigste ouers wat ek ooit gehad het.
Antie Koot, ek het nou ‘n baie lang draai geloop om by die eintlike doel van my brief te kom. Ek vra asseblief baie mooi dat Antie eers moet slaap oor die ou sakie, want onthou, hierdie klong van Koffiefontein vat nie nee vir ‘n antwoord nie.
Ek en Driekie wil, wanneer ons Koffiefontein toe kom met ons bakkie, vir Antie kom haal om by ons te kom bly. Ons ou kindjie het nie ‘n ouma nie en ons wil baie graag hê dat Antie vir altyd en altyd by ons moet kom bly.
Ek sien uit om ‘n brief van Antie af te kry en onthou maar net die boerklong wag vir die ouma om huis toe te kom.
Met baie liefde en verlange
Antie Koot se eie kind.
@ Martha Poller
Junie 2019 Projek
1.Vaarwel, my geliefde (441 woorde)
Liewe Winter
Ek dreig al so lank om vir jou te skryf, maar elke keer bedink ek myself. Elke keer dink ek dat ek jou nog net een kans gee – een kans om te bewys dat jy my nie verraai het nie. En toe, uiteindelik, besef ek dat dit nooit weer soos voorheen kan wees nie. Uiteindelik moes ek dit aan myself erken: Jy het my verraai!
Ai, man, hoe kon jy dit aan my doen? Het ons twee se liefdes-pad dan vir jou niks beteken nie? Het jy dit doelbewus gedoen om my te verlei, of is dit maar in jou aard om speel-speel van die een verkluimde wese na die volgende te dartel? Was dit dan nooit by jou ‘n saak van hartstog en passie soos vir my nie?
Ek was elke keer so opgewonde, net by die gedagte dat jy op pad was. My hart klop nou nog vinniger as ek dit onthou – mooi, warm truie en wolmussies; warm lakens en verekomberse; lekker dik sop en ‘n broodjie met regte plaasbotter. Ja, jy weet mos, die liggaamlike behoeftes is altyd maar daar by ons vroumense.
Wanneer ek deesdae gaan slaap, smag my hart na hoe jy was, jare gelede. Jy was liefdevol en geheimsinnig. Ek wou jou indrink en net vir myself hou. Ek onthou hoe ek soggens uitgestorm het om jou te gaan ontmoet. Jy het my nooit teleurgestel nie; nooit nie. Met jou ysige hande het jy my gesig kom liefkoos … passievolle soene op my wange en mond. Die bloed het deur my are gebruis en my jong liggaam het gedy onder jou aanraking. Onthou jy? Wanneer ander murmureer het oor jou, het ek stil geglimlag. Ek het jou bemin, my geliefde. Ek het jou bemin.
Wanneer die tyd dan gekom het dat jy my moet verlaat, het ‘n diepe heimwee in my hart kom lê. Ek wou jou nie groet nie, my beminde. Ek wou jou by my hou, maar jy het stil-stil weggegaan elke keer.
Maar iewers op ons pad (ek weet nie wanneer presies nie) het jy venynig begin raak, my geliefde. Dit was asof jy my nie meer so liefgehad het soos voorheen nie. My gesig het begin skrynerig voel wanneer jy my liefkoos. My liggaam het rebelleer teen jou vrypostige aanraking. Ek het begin wegskram wanneer ek jou gewaar.
Wat het dan skeefgeloop? Waarom het jy my nie meer so lief soos voorheen nie? My geliefde, antwoord my, toe?
My rumatiek-lyf smag na die bruising van krag en energie met jou eerste verskyning. Maar, helaas, jy het my verraai.
Dan groet ek maar met innige verlange
Jou liefde van sewentig jaar gelede.
Martha Poller
November 2019 – Laat lente projek
2.In die lente van ons liefde
Die aarde is ‘n rooi stofwolk. Dat sy nou juis op so ‘n dag hier moet afklim! Annelie bind ‘n serp oor haar mond en neus en sien dat die meeste ander passasiers dieselfde doen.
Iemand kry haar aan die arm beet. “Mevrou, ek is John. As ons uitklim, moet jy aan my vashou. Hierdie wind speel nie met kleintjies soos jy nie. Ek neem jou reguit na jou woonwa toe, vandag sal niemand kan werk nie.
Die moderne woonwa is gelukkig redelik stofdig. Annelie begin dadelik haar tasse uitpak. As hierdie wind gaan lê, wil sy gereed wees. Tien dae is so kort vir dit wat sy alles wil doen.
“Jammer, onder normale omstandighede sou ek darem eers klop voor ek inkom, maar met hierdie wind …”
Sy stol in haar spore. Voor haar staan haar jeugliefde, Martin. Sy skud ‘n slag haar kop om seker te maak dat sy nie droom nie. Hoe is dit moontlik?
“Ekskuus tog, het ek jou laat skrik?” vra hy besorg.
“Nee … ek …” stamel sy.
Hy lag. “Ek dink dit is nou veilig om die serp van jou gesig af te haal. Hier in die woonwa is die stof mos darem nie so baie soos buite nie.”
Die serp! Senuweeagtig sukkel sy om die knoop agter haar kop los te maak. Hemel, hoe het sy in hierdie situasie beland? Gaan hy haar herken?
Uiteindelik is die knoop los en val die serp op die grond voor haar. Sy buk vervaard af en tel dit op. Om haarself tyd te gee, staan sy tydsaam die serp en opvou, sonder om na Martin te kyk.
“Annelie? My genade, mens, dat ons mekaar na twintig jaar hier in die boendoes moet raakloop! Wat maak jy hier?” Hy gaan ongenooid op die bed sit en klap met sy hand langs hom as uitnodiging vir haar om ook te sit.
“Ek kan dieselfde vir jou vra. Ek is besig met my doktorale proefskrif: boukuns. Wat my fassineer, is hoe hulle in daardie tyd gebou het sonder sement. Hoe bly die strukture staan? Na Martin se dood het die kinders my aangemoedig om weer te begin studeer … en hier is ek nou.”
“Ek is jammer om van jou man se dood te hoor.”
“Dis darem al ses jaar gelede. Dit gaan al beter as aan die begin. En jy? Vrou? Kinders?
Hy skud se kop. “Argeologie is my vrou. Nadat ons graad gevang het, was ek ‘n tyd lank bo in Antarktika en nou is ek hier, soos jy sien.” Hy lag. “Hier loop nie eintlik ongetroude vroutjies tussen die ruïnes rond nie.”
Hy staan op. “Wees rustig, hierdie wind gaan nie voor vannag lê nie. Ek kom kry jou sesuur vir aandete. Reg so?”
Sy knik. “Baie dankie. Ons sien dan sesuur.”
Martin is uit by die woonwa en Annelie pak gou klaar uit. Haar gedagtes is ‘n warboel. Hy hét destyds gevra sy moet vir hom wag, maar sy sporadiese briewe het al skaarser geword en later opgedroog. Pieter was eers ‘n vriend in nood en mettertyd het sy lief geword vir hom. Dierbare Pieter! Jy het dit nie verdien dat my hart net halfpad aan jou behoort het nie.
Etenstyd is ‘n roesmoes van mense. Annelie is bly dat hulle die tafel met tien ander mans deel. Sy kan glad nie bepaal of Martin nog ooit onthou dat sy hom jare terug in die steek gelaat het nie. Die geselskap is lig en ontspanne, met geen persoonlike verwysing na die verlede nie.
Iewers deur die nag het die wind gaan lê. Die woestynoggend is koel en verfrissend. By die tyd wat hulle egter by die uitgrawings kom, tap die sweet reeds van Annelie se gesig af. Vir haar lyk dit of die res van die span onaangeraak is deur die hitte. Hoe kry hulle dit reg?
“Kom ek gaan wys jou waar ons verlede maand klaargemaak het. Ek glo dit is waar jy die meeste van jou inligting sal kan versamel,” bied Martin aan.
Van die oomblik af wat sy die ruïne sien, is sy begeesterd. Sy begin dadelik foto’s neem en aantekeninge maak. Sy vergeet van Martin en die hitte, want sy weet haar tyd is beperk. Iewers hoor sy die sirene vir middagete, maar sy woeker voort. Tyd is te kosbaar om te mors.
Die laatmiddag-sirene roep dat die laaste bus op pad is terug kamp toe en Annelie drafstap om by die ander te kom.
“Ek dog jy slaap sommer vannag hier,” lag Martin toe sy uitgeput in die bus klim. “Kom skuif hier langs my in, die bus is baie vol vandag.” Hy sit sy arm om haar skouers en trek haar nader. “Sit nader, netnou val jy af.”
Annelie voel hoe haar wange vuurwarm word. Genugtig, die man is bloot bedagsaam, moenie nou allerhande gedagtes kry soos ‘n bakvissie nie. Martin sit doodrustig en gesels met die man links van hom, skynbaar onbewus van haar of haar ongemak.
Die dae gaan te vinnig verby. Die patroon bly dieselfde: Vroeg opstaan, heeldag in die bloedige son en saans eet hulle saam met die res van die kamp.
Annelie is verward en onseker. Nog net twee dae, dan gaan sy terug. Sy het in hierdie paar dae maar net weer besef dat sy nog altyd baie lief is vir Martin. Die probleem is dat hy onaangeraak en amper half koel teenoor haar optree.
Na aandete keer Martin haar toe sy na haar woonwa toe wil loop. “Kom saam, ek wil hê jy moet na iets by my gaan luister,” nooi hy.
“Ek wou eintlik begin inpak het, maar ek kan ‘n halfuur spaar.”
Annelie weet sy het nog genoeg tyd om in te pak, maar sy vertrou haarself glad nie alleen by Martin nie. Die blote gedagte daaraan laat die bloed deur haar are bruis.
“Sit gerus, ek gooi vir ons iets om te drink,” nooi hy. “Drink jy nog altyd ‘n rooietjie?” vra hy oor sy skouer.
Dit skok deur haar liggaam toe sy die glas by hom vat. “Baie dankie, Martin. Jy onthou sowaar nog altyd!”
Hy lag. “Jy sal verbaas wees wat ek nog alles onthou.” Hy druk ‘n CD in die speler. “Maak jou oë toe en luister,” fluister hy toe klavierklanke die woonwa vul.
Annelie ruk regop. “Dis mos …”
Hy sit sy vinger voor sy mond. “Sjuut, lê terug en luister, toe?”
In September word die wêreld weer mooi, In September in helder kleure getooi …
Hy kom langs haar sit en neurie saggies saam. Wanneer die laaste note wegsterf, is hulle stil. Woorde is nou oorbodig.
“In die lente van ons liefde,” mymer hy by haar oor. Ons het dit die aand voordat ek weg is, in die inry gaan kyk.”
“Martin, ek is so jammer oor alles. Kan jy my vergewe?”
“Sjuut, jy praat te veel, my lief.” Hy soen haar saggies op die voorkop voordat hy voortgaan. “Vir ons getroude maters is hierdie al lankal mid-somer, maar vir ons is dit die lente van ons liefde, dink jy nie so nie?”
Sy lag saggies. “Op ons ouderdom? Dan seker maar die laat-lente van ons liefde.”
Martha Poller