Jongste aktiwiteit:

Pieter Mostert
vir

Pieter Mostert

Lees meer oor Pieter Mostert

Januarie 2023 – Projek NUUT

2. DIE PREFEK VERTEL

Ek is ’n ou moutortjie. My naam is Prefek, so blouetjie, kraaknuut en spoggerige 1960 model met net twee deure aan my vel, een vir pa en een vir ma. Ek was almal se liefing, deel van my gesin, hul plaas-toe-gaan moutortjie gedurende skoolvakansies. Dan het die kinders uitgelate jaar na jaar op my agtersitplek gesing en baljaar.

Desembermaande, wanneer die skool sluit en pa se verlof begin, het hy besluit ons ry die lang pad plaastoe môre-aand. Ons gaan ’n hele maand vir oupa en ouma kuier.

Dan word ek eers van kop tot bande gewas en gediens. My leersitplekke is kraaknuut gepoleer en ek het soos ’n nuwe moutortjie gevoel. Om die waarheid te sê sommer vonkelnuut met ’n nuwe brul in my stap. Ag skuus, ek meen met ’n nuwe brul in my enjin.

Wanneer pa agter my stuurwiel ingeskuif het, en my neus in die rigting van die plaas gedraai het, het die kinders begin sing: “Pappie trap die petrol dat ons vinniger kan ry…” Dan het my enjintjie met ’n vonkel in sy proppe en ’n vars kreun in sy punte gedreun van lekkerkry. Ek hoor en sien nog hoe pa agter my stuurwiel met stoot-bewegings steunend en kreunend, my die stewige bulte op pad plaas toe probeer uithelp het.

Destyds was daar nie deurpaaie soos die hedendaagse N4 met Ultra Cities , waar ons kon stop om bene en my bande te rek met ons swaar vrag nie.  Die afstande tussen die dorpe het net eenvoudig l..a..n..k gevoel. Ons het dit aan ons moëe lywe gevoel.

Tot op Middelburg was dit teerpad. Net buitekant die dorp was daar ’n aftrek-plekkie langs die pad met ‘n betontafeltjie en bankies onder groot Bloekombome. Daar het pa gestop sodat die kinders eers ’n toebroodtjie wat ma vir hulle ingepak het kon hap, voordat ons weer die die langpad plaastoe aandurf. In die dorp het pa by die vulstasie gestop om my maag weer vol te maak om te verseker dat ek genoeg krag het om die laaste skof plaastoe te maak.

Die grondpad vanaf Middelburg tot voor ons die berg afdaal Stofberg toe was vir my ’n langste en eentonigste stuk pad, plaas toe. Wanneer die berge en koppe so om my begin toevou het, het ek al vinniger begin ry, want ek het geweet dat die bergpas na Stofberg nou naby is. Die wêreld het nou, nadat ons die lang bergpas af is heel anders begin lyk. Dís mos plaas-wêreld hierdie! Dít is mos hoe oupa se wêreld lyk! Hoe nader ons aan die plaas gekom het, hoe stiller het dit in my kajuit geraak. Die gedreun van my enjintjie en die gedruis van my wiele het die gronpad laat kraak onder my nuwe bande.

Elkeen in my kajuit was nou besig met sy eie gedagtes. In my eie gedagtes kon ek sien hoe oupa, wat die pad al van vroeg af dophou kort-kort op sy polshorlosie kyk, en op en af met die pad tussen die laning populierbome stap sonder om ’n blik te wyk, hardop mor: “Waar draai Sus en Basie so lank? Hulle moes al hier gewees het, jis-hof, dis al twaalf uur!”

Dan druis my wiele op die grondpad deur die drif, oor die brug teen die laaste bult op. Dit was dan dat pa my so teen die bulte wou uitstoot met kreun-steungeluide, so asof hy wou sê: “Kom nou ou moutortjie, jy het jou tot nou toe goed gedra, nog net hierdie laaste bult uitloop.” Almal in my kajuit was nou angstig op die uitkyk vir die naambordjie: J.A. OOSTHUIZEN Dít is die uitdraai na oupa se plaas; oupa se bordjie.

Wanneer ek eindelik in die laning tussen die populierbome afgekom het, kon ek in my gedagtes sien hoe die ritueel homself herhaal. Oupa, wat met sy kakiehoed in sy hand staan en wuif. So asof hy my met sy hoed op die werf wil invee. Dan skiet oupa se hemelblou oë vol trane van dankbaarheid, en omhels hy die vier kinders sommer almal gelyk: “Waar draai julle so lank? Ek hou die pad al van vroeg af dop. Ai, maar ek is bly om julle te sien”

Intussen het ouma ook nader gekom, met trane in haar oë. Ek sien nog haar pragtige voëlnessie warm bruin oë onder haar kappie uitloer terwyl sy ’n traan of twee met haar voorskoot wegvee, die kinders hartlik omhels en vir my ’n dankie-sê klap op my skouer gee. Ouma het nooit baie gepraat nie. Ek het baie maal gewonder wat dan nou in haar kop aan die maal is. Sy was ‘n netjiese vrou, ’n ware dame. Mooi, ’n sagte beskeie vrou, ’n regte ouma, met haar lang grys hare in ’n netjiese bollatjie agterhaar kop opgebind.

Nadat pa hulle bagasie afgelaai het, het hy my netjies in een van oupa se store, wat hy spesiaal vir my skoongemaak het, getrek. Hier op oupa se plaas het ons vir ‘n maand lank gekuier,en het ek heerlik uitgerus. Na ’n maand se lekker kuier op oupa se plaas, is ek weer gelaai vir die lang pad huistoe en was die afskeid met ’n tranedal bejeën. Ek moet erken dat ek maar self moes sluk aan die knop in my keel wanneer ek in die laning opgery het oppad terug huistoe.

Jare later het pa gevoel hy moet opgradeer, en het hy my gelykop verruil vir ’n Zehpyr – so windmakerige maroon een met vlerke en ’n wit dak. Ek onthou nog hoe ons almal lang trane gestort het toe die nuwe eienaar met myby my geliefde familie se erf uitry. Ek kannie onthou wie die meeste getreur het nie, ek of die kinders. Selfs pa het ’n traan weggevee.

Oor die jare het daar baie eienaars vir my gekom en gegaan, maar niks was ooit weer dieselfde nie. Ek het gerou oor my geliefde gesin, en het dit al ’n hele paar keer ernstig oorweeg om terug te ry na hulle toe. Plaas dat ek dit maar gedoen het, want my gesin het my altyd blink vertroetel my vonkelnuut gepoets en met soveel liefde behandel.

Maar nou ja! So verspeel ’n moutortjie maar sy kanse. Spyt kom altyd te laat!  Nou bevind ek myself hier in ‘n skrootwerf waar ek van my kar-wees gestroop word. My baadjie se moue is al afgeruk en is vuil, verkreukel en geroes. My voor en agter oë asook my knip-oog-liggies is ook al verwyder deur motorversamelaars. Daar is nie meer vonk in my proppe nie en my punte het ook verslyt geraak.  My leersitplekke wat altyd so mooi deur pa versorg  was is in flarde geskeur, en my bande is ook al vir maande lank pap. My binnegoed word die een na die ander verwyder. Net my geraamte is nog staande. Naak en week gestroop staan ek nou hier in die winterson. Ek is besig om ’n stadige, maar pynlike dood te sterwe. Ek wil so graag na pa toe teruggaan, maar ek kannie loop nie. Ek het my kanse om weg te ry na my geliefde gesin verspeel, maar ek het so tussen die praatjies gehoor dat pa ook al oorlede is. Ek wonder waar die kinders is.  Seker ook al groot en oud. Nou sit ek ook maar hier in sak en as die lot op my verspeelde kanse en afwag.

Môre word my geraamte inmekaar gepers en in die vuuroond opgesmelt. Maar my hart sal niemand kan opsmelt, verspeelde kanse ten spyt. My hart behoort vir ewig aan my geliefde gesin by wie ek altyd kraaknuut, vonkelnuut en vars gevoel het …

WOORDETAL: 1280

(© Pieter Mostert)

 

Desember 2024 – Kersfees projek

2.Toe antwoord die krans

Oom Jan is die trotse eienaar van ’n spog-wynplaas tussen die Bolandse berge. Een van sy jarelange getroue werkers se naam is Krismis. By monde van homself het sy ma hom as Krismis gedoop omdat hy op Kersfeesdag gebore is. Krismis is ’n opperste platjie in murg en been.
Oom Jan het by sy buurman se volk gehoor dat die natuur met woorde toor en dat die kranse op Oukersaande antwoorde op die vrae in die eggo’s van jou stem gee.
Oom Jan het dit nie geglo nie, maar tog besluit om dit in die geheim op Oukersaand te probeer.
Om seker te maak niemand sien hom nie, het hy aan sy werkers takies uitgedeel ter voorbereiding van die geselligheid saam met sy familie en vriende later op sy plaas.
Met sy luukse 4×4 bakkie betree oom Jan die klowe tussen die berge op sy plaas. Voor een van die hoogste kranse hou hy stil. Hy glimlag by homself terwyl hy dink: Ag, hoe belaglik. Dis seker nou weer ’n ‘tokolosie-mite’. ‘Ai!, die mense kan tog so bygelowig wees!’ sê hy hardop vir homself.
Uit volle bors skree hy ongelowig vir die krans. ‘Wie is jy daar’? Toe antwoord die krans. ‘Dis ekke, Krismis, my Oubaas!’
Oom Jan kan sy ore nie glo en skree vir ’n tweede keer, net om seker te maak hy het reg gehoor.
‘Wat maak jy daar?’
Toe antwoord die krans weer. ‘Ek vang ’n plasie, my Oubaas!’
——————————ooo000ooo—————————
©Pieter Mostert
[Silwer]
[Woordtelling = 247]




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed