Jongste aktiwiteit:

Ronel Janse van Vuuren
vir

Ronel Janse van Vuuren

Lees meer oor Ronel

Najaarsblom

1.Syns vir die najaarsblomme

Roesvlekke op die najaarsblomme vertel haar ‘n storie wat sy nie wil hoor nie. Mae knyp haar oë toe, maar dit help nie. Beelde van wat gebeur het vul haar hele wese.

Twee Feëryke buite Feërie het baklei oor eienaarskap van die land waaroor sy loop. Swaarde het koppe verwyder; pyle het hul merk getref van ver af; Feë bloed het oor die hele vallei gevloei.

Mae sidder. Sy probeer hard om nie meer die strydkrete en gevegsklanke te hoor of die bloed te ruik nie. Sy konsentreer op waar en wanneer sy is.

Dahlias, kosmos, asters en heideblommetjies saam met verskeie ander najaarsblomme lyk asof hulle deel is van ‘n skildery deur ‘n versteurde siel. Die vlekke op die verskeie herfsblomme is die bewys dat die plante die geweld en toorkragte geabsorbeer het saam met die verspilde bloed.

Trane loop saggies oor haar wange. Die geeste van die dooies is nog vasgevang in die heide. Nie eens Ankou, oppasser van die dooies, wil dit waag in hierdie vallei nie.

Die lug is staalgrys. Nog ‘n rede hoekom ander Feë nie daar is nie. Mae snik. Die yster reuk van die bloed wat die grond deurdrenk brand haar neus.

Pyn skiet deur haar en sy laat haar trane en woede vry.

Groen en pers blitse skiet deur die staalgrys lug. Wind druis oor die heide sonder om werklik aan die getoorde blomme te raak. Nie eens die blitse kan die blomme beetkry nie. Reën val sonder om aan die heide te raak – die geweld, toorkrag en verspilde bloed keer selfs dit af. Mae hyg, haar hart klop in haar ore, sy weet sy lyk soos ‘n besetene maar dit stop haar nie. Sy gaan haar toorkrag oor die natuur gebruik en regmaak wat ander gebreek het.

Die dooies kyk steeds hartseer na haar.

Trane biggel saggies oor haar wange. En sy stop die storm. Hulle is reg: sy kan nie die mensewêreld vernietig nie. Dit sal niks reg maak nie.

Mae vee haar trane af. Met ‘n bietjie toorkrag maak sy haarself weer lyk soos dit ‘n koningin betaam. Haar pers rok sleep agter haar en die lang moue wapper saggies in die wind. Sy weet wat sy nou moet doen. Sy laat toe dat haar denke deel word van die landskap, die toorkrag wat daar vloei, die toutjies toorkrag wat vasgeheg aan Feërie is – daar vind sy die Feë Koning, donker en nukkerig. Hy kikker op toe hy haar gewaar. Sy’s nie werklik daar nie, sy’s meer ‘n skim as enigiets anders in sy paleis.

‘Ek het jou hulp nodig. En jy myne.’

‘Klink interessant.’

Sy trek deel van hom saam met haar terug na die heide sodat hy dit self kan ervaar. Hulle is nie lank daar nie voordat hy terugtrek. Sy’t geweet as sy hom wys waar sy is en hoe dit lyk en voel dit baie meer effektief op ‘n wese soos hom sal wees as woorde.

Hy sidder.

‘Wat stel jy voor, Koningin Andromeda?’

Sy weet hy’s ernstig wanneer hy haar so formeel aanspreek. Buitendien, daar’s toorkrag in ‘n naam.

‘Ons moet die mensewêreld tussen ons verdeel. Alle Feë wat nie in Feërie woon nie, sal dan elke sewe jaar ‘n syns moet betaal om op ons land te woon. Alhoewel dit wreed klink, sal dit tragedies soos die een voorkom.’

‘En wat sal hierdie syns nogal wees?’

Sy’s nie seker of sy van die intrigerende kyk in sy oë hou nie.

‘Wat ook al jou hof sterker maak. Vir my sal dit natuurlik prag en kuns wees – al is dit ‘n mens wat dit verskaf.’

‘Dit kan werk… Ek neem aan een syns per groep Feë wat saamwoon? Anders kan dit nogal, a, bloederig raak elke sewende herfs dag-en-nagewening.’ Hy grynslag.

‘Ja.’

Nou kan niemand meer hul vryheid hê nie want duidelik waardeer hulle dit nie. Tog is daar ‘n deel van haar wat teen hierdie hele idee skop.

‘Waarmee gaan ons dit bind?’ trek hy haar uit haar gedagtes.

‘Jou beurt, Ciarán. Ek het laas keer die voorwerp verskaf.’

Hy glimlag asof hy beïndruk is en staan op.

‘Wag vir my op die heide. Ek sal oor ‘n paar oomblikke daar wees.’

Mae knik en gaan terug na haar liggaam; sy trek alle towerkragte terug na haarself en wag.

Dit vat nie lank vir die donker koning om op te daag nie. Hy hou ‘n staalgrys bakkie in sy hand gemaak van metaal wat net in Feërie gevind kan word. Sy kan die bakkie se toorkrag voel. Sy sidder.

‘Kom ons sê net dat dit magtig is en dat dit baie oud is. Dis absoluut perfek vir die doel wat ons dit voor wil gebruik,’ sê Ciarán met ‘n stoute blink in sy oë.

Mae weet sy moet nie verdere vrae vra nie, dit kan net tot onheil lei.

Hulle albei hou die bakkie vas; hulle dink hard oor wat dit moet beteken.

Blomme in pers, pienk, geel, brons, wit, blou, oranje, in al die skakerings daarvan verloor hul kleur en word iets wat nie eens wit is nie – net kleurloos. Om te wys dat hulle die vallei vry maak van al die Feëbloed wat daar gevloei het – en dus die newe-effekte daarvan – word al die blomme diep pers.

‘Kon dit nie ‘n diep rooi of iets geword het nie?’ vra die Donker Koning met ‘n pruil. ‘Dit sou beter simboliek gewees het.’

‘Ten minste weet ons dit werk.’

Hy sug en vir ‘n oomblik lyk dit asof hy hartseer voel oor die hele saak soos hy die dooie Feë dophou. Maar die oomblik gaan vinnig verby en hy is sy gewone vleiende self.

‘Ek sal hierdie in die Grot van Herinneringe gaan plaas. Doen jou soetsappige ding. Tot ‘n volgende keer.’ Hy buig effens en verdwyn.

Mae slaak ‘n sug van verligting. Om saam met die Donker Koning te wees is altyd moeilik, vir redes wat sy nie te diep wil bekyk nie.

‘Eindelik het jy ‘n plan gemaak,’ sê ‘n nuwe stem.

Sy draai om en dit vat alles in haar om haar gesig neutraal te hou. Ankou, die doodsfee wat selfs vir haar nagmerries gee, leun teen sy pikswart koets. Sy het nie eens gehoor toe dit opgedaag het nie.

‘Het jy nie hulp gebring nie?’ vra sy agterdogtig. Sy weet hoeveel Dullahans vir hom werk.

‘Nie vandag nie,’ antwoord hy sag en kyk hartseer na al die geeste wat nog rondhang. ‘Daar’s tye wat net ek kan help.’

Sy knik stil. Miskien is die koplose ridders te wild om hierdie verdwaalde geeste te help. Mae hou hom dop soos hy liefdevol elke Fee-gees na sy koets lei.

Ankou en sy swart uitrusting lyk amper deursigtig teen die pers najaarsblomme…

Elkeen van die geeste glimlag en los vir haar ‘n wit heideblommetjie agter soos hulle in Ankou se koets klim.

Mae sluk die trane weg voordat emosie kan oorneem. Sy’s Koningin van alle Feë. Selfs die wat dood is. Sy moet altyd majestueus voorkom. Hulle het stabiliteit meer as trane nodig.

Soos die heide terugkeer na die natuurskoon wat dit altyd gehad het – nou net met ‘n tikkie magiese praal – verdwyn sy terug na haar eie ryk.

@ Ronel Janse van Vuuren

INK gedenkbundel – Desember 2016 en Januarie 2017 projek

3.Die Beskermer

Daphne maak of sy flou val en dadelik het sy die volle aandag van die bestuurders van die trokkies wat kos na een of ander geleentheid vat. Behalwe vir hulle, was die straat tussen die hoë geboue heeltemal leeg. Haar strik werk en die twee mans hardloop dadelik na haar toe.

Terwyl hulle ‘n ophef van haar maak, hou sy die donkerbruin akkedis-tipe gediertes uit die hoek van haar oog dop soos hulle al die kos uit die trokkies verwyder en af ‘n drein vat na die stormwater tonnels. ‘n Spesiale trollie wag daar onder vir die kos. Die vyf kaboutermannetjies maak vinnig seker dat daar nie ‘n krieseltjie kos agter bly nie.

‘Dankie,’ sê sy vir die twee mans soos die laaste kos saam met die kaboutermannetjies verdwyn. Daphne sit regop en gee hulle ‘n stralende glimlag – dit beroof hulle van hul sinne vir ‘n oomblik. Sy duik in die drein in agter die Feetjie diewe.

Sy verkies dit om met die kaboutermannetjies te werk bo die Rooi Kappies. Die kaboutermannetjies is wragtig goeie diewe en hulle luister na bevele, waar die Rooi Kappies meesal net almal se bloed wil giet wat tussen hulle en hul prys staan.

Daphne spring vinnig van die stormwater drein na die ingang van die Labirint. Die opening is besig om al hoe kleiner te word. Sy veg teen die begeerte om haar oë toe te maak soos sy die lang afstand val na waar die kaboutermannetjies vir haar wag.

‘n Swart-grys kat krap haar linker hand soos sy die Labirint in val. Verblindende pyn skiet deur haar hele lyf en bars by haar vingerpunte uit. Sy vloek die Feetjie Kat toe sy haar hand sien: twee gaatjies op haar middel vinger was staalgrys en word al hoe donkerder soos die res van haar vinger silwer word. Sy weet dat haar vinger staalgrys en dan swart gaan word – ‘n teken dat haar dood naby is.

Die kaboutermannetjies bestuur die trollie met gemak deur die Labarint. Bruin klip maak plek vir swart en Daphne voel verlig soos hulle die Oniks Labarint binne gaan. Ten minste sal geen Feetjie Kat êrens daar kan rondhang om haar van kant te maak nie. Sy voel swakker en swakker soos hulle dieper in hul tuiste beweeg. Sy kan die kaboutermannetjies se kommer voel, maar sy konsentreer net daarop om wakker te bly.

‘Sterkte,’ sê hulle en ry weg van die hoof gebou af. Die swart klip glinster in die swak lig. Haar enigste gedagte is dat sy by die heler moet uit kom.

Sy loop en loop maar die lewendige klip weier om haar toegang te gee tot die heler se kamers. Eindelik kom sy in die binnehof aan die ander kant uit en ‘n paar treë neem haar tot op die groen gras onder die kunsmatige sonlig.

‘n Elfie, ‘n Feë van die kneg klas, lei ‘n groepie twaalfjariges êrens.

‘Ek het jou hulp nodig,’ sê sy met ‘n buiging.

‘Raak weg, Beskermer. Die Elfie vat ons na Haar Hoogheid se teater,’ sê ‘n snuiter in blou.

‘Verskoon tog, Beskermer. Wanneer ek klaar is, sal ek jou kom vind,’ sê die Elfie bedees.

Sy kyk hulle agterna. Woede bou in haar oor die snuiter se selfsugtigheid. Net Elfies, met hul fyn bou en punterige ore, kan gaan waar hulle wil in die Oniks Labirint. As sy nie gou by die heler uitkom nie, gaan sy dit nie maak nie.

‘Hoe voel jy vanoggend?’

Die stem laat haar al die dinge voel wat verbode is aan haar.

‘Goed genoeg, u hoogheid,’ sê sy sonder om op die kyk na die aantreklike aangesig van die Hertog.

‘Kom nou, daar is geen formaliteite tussen ons nie,’ sê Brandon en draai haar gesig na hom. Sy oë blink op die gelukkige manier wat hulle altyd doen wanneer hy haar sien. Haar hart gallop wild wanner sy naby hom is.

Maar realiteit het altyd ‘n manier om terug te keer. Hulle kan nooit saam wees nie. Hy moet met die prinses van ‘n ander Hof trou om hul gemeenskap se toekoms te verseker. Sy was maar net ‘n Beskermer – te laag in stand om ooit meer as net sy lyfwag te wees.

‘Miskien moet daar wees,’ sê sy en kyk weg. Hy laat sy hand van haar wang val.

Pyn skiet deur haar hand en haar vinger word die donkerste staalgrys wat sy al ooit gesien het.

‘Kort. Heler,’ sê sy voordat sy ineen stort.

Hy hardloop met haar in sy arms na die kamers van die heler. Daphne hou net-net haar bewussyn.

Sy sien die ouer vrou se gesig bo haar sweef soos sy haar ondersoek. Die snak to sy haar hand sien is diepgaande.

‘Wat het dit gedoen?’

Daphne kon nie praat nie, so sy wys haar die herinnering van die Feetjie Kat wat haar aanval deur haar gedagtes uit te saai na die heler. Dit voel so goed om nie die versperring op te hou nie.

‘Bly by my,’ beveel die heler.

Sy voel die skerpste pyn in haar hand en alles word donker.

Daphne is in die tuin, nagemaak om te lyk soos iets bogronds met die maan wat die area verlig, waar sy veronderstel is om op die uitkyk te wees vir ongenooide gaste en hulle te keer om die aand te bederf. Haar hart is besig om te breek soos die sekondes aan stap. Hy is besig om verloof te raak aan daardie prinses. Sy weet al die redes – veral die politiese redes – hoekom, maar sy haat dit steeds.

‘Hoekom so hartseer?’

Sy spring effens. Dit is hy.

‘Jy weet hoekom,’ sê sy kragteloos.

‘As dit net oor jou en my was, sou ek nooit dit gedoen het nie. Maar die toekoms van ons Hof rus op my.’

‘Ek weet. Ek wens…’

Die woorde hang tussen hulle.

En hulle soen. En nie beleefd nie. Vurig. Iets wat nie deur ander gesien moet word nie.

‘Ek moet gaan,’ sê Brandon.

Sy knik stil, simpel, en kyk hom agterna.

‘Jy is weer springlewendig en gesond,’ sê die heler se stem. Daphne knip haar wimpers, die sprokie-droom weg en vervang deur die donker kamer van die heler en die heler se gesig en dit van ‘n ander vrou. Haar kommandant.

‘Dit was ‘n wetter van ‘n gif,’ sê die heler.

‘Hoekom het jy ons nie vertel nie?’ vra Daphne se kommandant in ‘n skaars beheerde sis.

‘Wat?’

‘Dat julle gesoen het.’

Daphne kyk na hulle verward.

‘Jy het jou gedagtes uitgesaai,’ verduilelik die heler.

Paniek probeer Daphne oorweldig.

‘Moenie bekommer nie, ons het dit in hierdie kamer gehou.’

Daphne onstpan.

‘Hoekom het jy ons nie vertel nie?’ vra haar kommandant weer, hierdie keer kalm.

‘Omdat daar niks is om te vertel,’ antwoord sy ontwykend, haar keel droog en krapperig.

‘As daardie herinnering die een is waaraan jy moes klou om deur die gif se pyn te kom, dan is dit nie niks nie,’ sê die heler.

‘As julle albei so voel, dan is ons diep in die moeilikheid. Die koors kan julle vat en dit kan katastrofies wees,’ sê Daphne se kommandant terwyl sy op en af loop in die kamer.

‘Hy sal dan nie met die prinses kan trou nie en ons toekoms sal dan donker wees.’

‘Bly weg van hom, vir almal se onthalwe.’

‘Veral jou eie.’

Vreugde dat hy oor haar voel soos sy vir hom word oorskadu deur die aakligheid van was sal gebeur as hy nie met die prinses trou nie. In plaas van die geluk wat gedeel moet word wanneer die koors twee vat, sal sy gestenig – of erger – word vir haar liefde.

Hulle sal haar brand vir verraad.

@Ronel Janse van Vuuren

Mei 2017 – Moedersdag Psalm/Vonkfiksie projek

1.Net reg

Sy glimlag vir die soveelste keer, haar oë net-net té kalm soos sy luister na haar dogtertjie se dag by die kleuterskool. Die vyf-jarige babbel oor alles van die oggend se saam-lees storie tot die middagete van harde macaroni-en-kaas.

Dis elke dag dieselfde ding, die kos wat óf hard óf droog óf koud is. “Jiggie” is wat haar kind dit partymaal noem. Net een seuntjie in haar klas kan blykbaar als eet – hy eet sommer haar kos ook klaar sodat sy ook ‘n skoon bord kan hê.

Sy hou haar oë op die besige pad, al wil sy vuur blaas van woede.

Die volgende middag straal haar dogtertjie soos sy vertel van die nuwe tannie wat in die kombuis werk en die lekkerste visvingers en ertjies gemaak het vir middagete.

“Nes mamma s’n.”

‘n Glimlag speel om haar mondhoeke. Partymaal moet ‘n ma doen wat ‘n ma moet doen: verander in ‘n draak om haar kind te beskerm.

@Ronel J v Vuuren

JULIE – Oop en nuwe projek

1.Die donker muse

Die oomblik toe hulle die Oniks Labirint binnetree knik Ruhan vir haar en gaan sy eie weg. Daphne gee nie om nie. Die tyd wat sy saam met hom spandeer het om die Feetjie Katte te jag en Kaye aan die dood af te staan was nie een van haar beste herinneringe nie.

Hulle het reeds hul kommandant als laat weet wat sy moet deur hul gedagtes met haar te deel toe hulle naby genoeg was om dit te doen. Nou moet Daphne net nog haar goed uitpak en haar kop skoon kry van al die dinge wat so lelik verkeerd gegaan het in die Labirint. Veral as sy nog haar gedagtes weg wil hou van die ander Beskermers – veral dié wat haar dood kan beteken.

Die Oniks Labirint laat nie toe dat sy direk na haar kamer gaan nie. Dit stuur haar deur die tuine. Nie dat sy omgee om die lewendige steen se speletjies te speel nie. Sy kan die tyd gebruik om haar gedagtes in orde te kry.

Brandon se blonde hare glinster in die kunsmatige son. Daphne snak na asem; dit maak amper seer. Sy het amper na hom uitgeroep voordat sy onthou het dat hy die Hertog is en sy maar net ‘n Beskermer. Buitendien, ‘n beeldskone rooikop met foutlose melkwit vel staan langs hom. Sy dra ‘n ysblou chiffon rok wat skaars die grond raak voordat dit agter haar uitsweef.

Jaloesie maak dat Daphne op haar tande kners. Die manier waarop Brandon na die vrou kyk… Sy sluk. Miskien is dit die prinses, sy aanstaande. Daphne het haar nie op die aand van die verlowingsparty gesien nie. Al was sy saam met Brandon in hierdie tuin daardie aand… Sy onderdruk die herinnering van hul soen; die herinnering wat haar lewendig gehou het nadat die Feetjie Kat haar aangeval het.

Brandon se sorgvrye lag maak dat Daphne se kop opruk. Hy klink ‘n biejtie waansinnig. Die vrou se tingelende lag sluit by syne aan.

Die laggende paartjie verlaat die tuin.

‘Iets is baie verkeerd,’ sê ‘n Elfie in ‘n huilstem langs Daphne.

Sy draai om en sien die kneg se vreesbevange oë.

‘Wat bedoel jy?’ dring sy aan.

‘Die Muse Feë is nie veronderstel om mag oor ander Feë te hê nie,’ sê die Elfie, haar fosforglimmende oë groot met vrees.

‘Die Muse Feë?’

‘Toe ek in ‘n ondergrondsestad van die Donker Feë gewerk het, het ek baie van haar soort gesien. Gewoonlik gebruik sy net haar mag oor kunstenaars – en altyd net mense. Haar betowering is nie veronderstel om op ‘n ander Fee te werk nie.’ Die Elfie se punterige ore bewe.

‘Weet jy meer oor haar?’

‘Nee. Net dat sy haarself as Leanne voorgestel het voordat sy die Hertog bekoor het.’

‘Het jy enigiemand anders vertel?’

‘Nee.’

‘Kom saam met my. My kommandant moet dit van jou hoor.’

Daphne was nie meer moeg nie. Haar tuiste was in gevaar – enigiemand wat soveel beheer oor die Hertog kan uitvoer is ‘n bedreiging. En sy weet dat haar kommandant dit van iemand anders as sy moet hoor – omdat sy weet van haar geheim kan haar kommandant dalk dink dis jaloesie wat praat.
#
‘Kommandant?’ vra Daphne soos hulle die kantoor binnetree.

Hulle het baie vinnig daar uitgekom met die Elfie wat die steen van die Oniks Labirint kan manipuleer.

‘Kom in, Daphne.’

Hulle tree die kantoor behoorlik binne, versigtig om nie die hope papiere en boeke te versteur wat orals staan nie. ‘n Hout tafel glim saggies in die dowwe lig en die katana daarop wink vir Daphne. Haar vingers jeuk om aan die antieke Japanese swaard te raak.

‘Jy het gesê dis dringend?’ sê haar kommandant soos sy uit die donkerte van die vertrek verskyn. Haar oë en hare het nog steeds skadus wat daaraan klou.

‘Vertel haar,’ beveel sy die Elfie.

Vinnig, bewend vertel die Elfie die Kommandant van die Beskermers wat sy vir Daphne vertel het van die Hertog se nuwe metgesel.

‘Dit is nie goed nie.’ Die kommandant loop op en af.

‘n Paar oomblikke later daag Ruhan en ‘n Beskermer wat Daphne nie ken nie op.

‘Die drie van julle gaan dit ondersoek. Versigtig en swygsaam,’ sê hul kommandant nadat sy die ander twee ingelig het oor wat hulle te doen staan.

‘Elfie,’ sy draai na die arme bewende kneg. ‘Jy sal die Hertog en sy metgesel dophou. Rapporteer terug na my as enigiets verander.’

‘Seker.’

‘Verdaag.’
#
‘Hoekom kon jy nie net die dag afvat nie? Het jy regtig nodig gehad om ‘n komplot te ontbloot voordat jy nog by jou kamer uitgekom het?’ vra Ruhan.

‘Ek het nie gevra om met jou te werk nie,’ antwoord Daphne kwaai.

‘Hey! Ontspan julle twee,’ sê die jonger Beskermer.

‘Ons het nou net teruggekeer van die Labirint – en nou gaan ons terug,’ sê Ruhan fronsend vir die jong Beskermer.

‘Vertel ons om te onstpan nadat jy tyd in daardie verraderlike plek spandeer het,’ voeg Daphne by.

‘Wat ook al. Terloops, ek’s Henri.’

‘Ruhan.’

‘Daphne.’

Hulle praat nie verder soos hulle rantsoene vir die tog bymekaarmaak nie. Dit was nog vroeg genoeg dat geen ander Beskermers in die kafeteria is nie.

‘Ekstra slaapsak?’ vra Ruhan soos hulle by die gangetjie afloop wat die lewende steen hulle afstuur.

‘Jip. En jy?’

‘Ekstras van alles.’

Hulle deel ‘n wetende kyk. Dit was nie ongehoord om op ‘n misie te gaan nog voordat ‘n Beskermer heeltemal terug is van ‘n ander nie.

‘Het ek twee slaapsakke nodig?’ vra Henri ‘n bietjie angstig.

‘Nie vandag nie. Maar dis ‘n goeie idee om ‘n spaar stel van misie goed in jou kamer te hou – as jy nie in dieselfde ongewasde goed van die vorige keer wil leef nie,’ verduidelik Ruhan.

Daphne is verbaas dat hy dit gedoen het en terselfdetyd glad nie.

‘Dankie,’ sê Henri en kyk orals behalwe vir hulle.

‘Ek neem aan jy het klaar ‘n idee?’ vra Daphne vir Ruhan.

‘Ja. Daar is ‘n bron êrens in die Labirint wat ons kan gebruik. Dit kan dalk makliker wees as om bogrond te gaan om inligting by die Donker Feë te kry wat die Elfie van gepraat het.’

‘Hoe lank gaan dit vat?’ vra Henri.

‘Hang af.’

‘Van wat?’

‘Die gediertes wat in die Labirint woon.’

Daphne ril. Al het hulle die Feetjie Katte gestop om die geheime tonnels te gebruik en die rotte om meer te maak, beteken dit nie dat daardie gediertes nie vir wraak soek nie.

‘Bly bewus van jou omgewing, Henri,’ sê sy en volg vir Ruhan.
#
‘Wat soek ons voor?’ vra Daphne ure later in die Labirint.

‘Die Orakel van Delphi,’ antwoord Ruhan kortaf.

‘Vasgevang hier vir millennia?’

‘Soos baie ander monsters,’ beaam hy.

‘Wat –’ Henri word afgesny deur fakkels wat skielik aan die brand slaan.

‘Ons is hier,’ sê Ruhan ernstig.

Daphne sluk. Wanneer die ouer Beskermer meer ernstig word as gewoonlik weet sy dit beteken gevaar.

‘Wees stil en hou dop,’ sê sy vir Henri toe hy sy mond weer oopmaak om te praat.

Hulle gaan in deur Griekse pilare en volg die flikkerende fakkels na ‘n daklose vertek waar die nag lug opgehou word deur nog glimmende Griekse pilare.

‘En wat het ons hier?’ vra ‘n beeldskone rooikop vrou in ‘n klouende swart rok wat agter haar op die grond sleep.

Daphne kan nie wegkyk van haar groot groen oë nie. Alhoewel haar rooi lipstiffie lyk soos gesmeerde bloed is dit haar oë wat Daphne bang maak. Sy sluk en ruk haarself reg: Beskermers voel nie vrees nie.

‘Jy is die Orakel van Delphi?’ vra Ruhan styf.

‘Ek is.’ Sy hou hulle dop, haar melkwit vel glimmend in die lae lig.

‘Ons het gekom om jou om hulp te smeek.’

‘Regtig?’ Sy lig een wenkbrou óf vraend óf omdat sy hulle amusant vind.

‘’n Muse Fee het ons Hof binne gekom en ons leier betower. Ons moet haar bekoring ontdaan maak,’ sê Daphne.

Die Orakel lag hard en vrolik.

Die Beskermers kyk geskok en amper hopeloos na mekaar.

‘Vergewe my. Dis ‘n lang tyd sedert ek verbaas is deur die kaskenades van die Muse Feë.’

‘Jy is ook een?’ vra Henri.

Die Orakel gluur vir hom.

‘Die ooreenkomste –’

Ruhan sit sy hand oor Henri se mond om hom stil te maak.

‘Ek sal kies om dit as ‘n kompliment te aanvaar,’ sê die Orakel. ‘Die Muse Feë het ‘n uitgesogte skoonheid.’

Daphne probeer hard om nie honend te proes nie.

‘Sal jy ons help? Asseblief?’ vra Ruhan.

‘In ruil vir wat ook al ek wil hê?’ daag sy uit.

‘Binne rede,’ antwoord Ruhan sonder om oogkontak te verbreek.

Daphne bewonder hoe hy op staan teen die gedierte. Sy moet haar eie emosies – iets tussen vrees en veragting – die hele tyd beheer.

‘Goed dan,’ sê die Orakel nadat sy vir ‘n hele tyd in Ruhan se oë gestaar het.

‘Wat wil jy hê?’

‘Oor ‘n oomblik… Nou: die Muse Fee. Soos julle klaar weet lyk hierdie Fee baie soos ek – merkwaardig pragtig. Sy kies net jong, aantreklike mans as haar minnaars. Sy sal hom insprireer tot groot hoogtes in ruil vir sy algehele toewyding. En, natuurlik, sy lewenskrag.’

‘Wat?’ kry Daphne dit reg om te vra.

‘O, dis erg eenvoudig. Hoe langer sy saam met hom is, hoe meer van sy verstand en lewenskrag sal sy van hom vat,’ sê die Orakel met ‘n glimlag.

‘En as hy weier?’

‘Hy kan nie nadat hulle ‘n soen gedeel het nie – een kus en hy is hare vir altyd. Dié wat haar toenaderings verwerp voordat sy hom kan soen… Wel, die dood is baie beter.’

Daphne wil die Orakel se moedswillige glinsterende oë uit haar mooi kop sny.

‘Sal dit self regkom?’ vra Henri hoopvol.

‘Nee. Dit kan net op een manier vir jul leier eindig: waansin, wanhoop en eindelik die dood.’

‘So hoe stop ons haar?’ vra Ruhan.

‘Normaalweg kan jy nie.’

‘Maar?’ druk hy.

‘Hierdie donker muse kon jul leier bekoor ten spyte daarvan dat hy Fee is as gevolg van die Labirint. Alle Feë wat hier onder woon het dit al so lank gedoen dat hulle weg beweeg het van die ware weë van die Feë. En sodoende is julle almal vatbaar vir die betowering van ander Feë.’

Daphne was woedend. Die Orakel put duidelik genot uit hul penarie.

‘Bedoelend?’ vra Ruhan.

‘Vind die een wat die jong man werklik lief het. Een soen van haar en die Muse Fee se bekoring sal breek.’

‘Daar is geen ander manier nie?’

‘Nee. Betowering soos dié betrek dele van emosie wat nie met nog toorkrag ontdaan gemaak kan word nie.’

‘So ons moet net sy ware liefde vind? Dis al?’ vra Daphne. Dit is net té maklik en die manier waarop die Orakel se oë blink maak haar agterdogtig.

‘Nee. Eers moet julle die Muse Fee se hekseketel vind en leeg maak.’

‘Wag. Wat?’ vra Henri en kyk van een na die ander.

‘Hekseketel?’ vra Daphne, nie heeltemal seker dat sy reg gehoor het nie.

‘Sy tap die bloed van dié wat sy nie goed genoeg ag vir haar liefde nie in ‘n hekseketel. Hulle lewenskrag en alles wat hulle is word bymekaargemaak daarin saam met hul bloed. Sy drink hierdie bloedmengsel so gereeld as wat sy kan. Dis die oorsprong van haar mag en skoonheid.’

‘Dankie.’

‘Nou vir wat ek wil hê,’ sê die Orakel voordat hulle kan loop.

‘Ja?’ vra Daphne versigtig.

‘Ek wil hê dat jy,’ sy wys na Ruhan, ‘hier by my bly totdat hulle terugkeer om te sê dat hulle die Muse Fee oorwin het. Net dan kan jy weer gaan.’

‘Goed dan,’ sê Ruhan.

‘Jy’s nie ernstig nie!’ gil Daphne vir Ruhan deur haar gedagtes net met hom te deel.

‘Gaan,’ sê hy op dieselfde manier. ‘Red die Hertog. Net jy kan.’

‘Wat?’ vra sy versigtig, haar hart so wild en vinnig soos ‘n bang haas s’n.

‘Kaye en ek het geweet van die eerste aand af. Dis wat hy jou probeer vertel het toe hy sterf.’

Daphne sluk swaar.

‘En ten spyte van jou vrese, veral dat ek die een sal wees om die vuur by jou teregstelling aan die brand te steek, sal ek jou nooit verraai nie. Ons is makkers. Beskermers. Ons kan nie verhelp op wie ons verlief raak nie.’

Sy staar net na hom, heeltemal geskok.

‘Gaan. Red hom. ‘n Paar dae hier saam met haar sal my nie doodmaak nie.’ Hy grinnik.

Daphne knik en gryp vir Henri om saam met haar weg te gaan.

‘Wat het tussen julle twee gebeur?’

‘Ons het gestry.’

‘Duidelik.’

Sy ignoreer hom en konsentreer op wat sy volgende moet doen: ‘n hekseketel leeg maak en die man wat sy lief het soen. En heel moontlik brand vir verraad.
#
‘Ons moet die Labirint tonnels en kamers naaste aan die Oniks Labirint eerste deursoek,’ vertel Daphne vir Henri soos hulle hul pad terug maak.

‘Dink jy dis waar sy haar hekseketel wegsteek?’ vra Henri.

‘Die lewende steen van die Oniks Labirint sal nie iets soos dit versteek nie,’ antwoord sy met sekerheid. Dit was geen toeval dat die Labirint haar gedwing het om na die tuin te gaan die oomblik toe sy terugkeer van ‘n misie nie: dit wou hê dat sy moet weet dat daar ‘n vyand in hul midde is.

Hulle praat nie weer nie. Die Labirint was heeltemal stil en sonder lewe. Die laaste keer wat sy deur die tonnels en kamers gegaan het was dit vol kaboutermannetjies, rotte en ander gediertes wat vry rondbeweeg het. Nou was daar niks. Dit maak Daphne meer benoud as wat ‘n Feetjie Kat sou.

Hulle soek deur al die tonnels en kamers naby die Oniks Labirint. Geen gediertes, nie eens spinnekoppe, kan êrens gesien word nie. En daar was ook nie ‘n hekseketel nie.

Daphne weet dat dit onmoontlik is dat daar niks is nie. Die Labirint is altyd vol lewe. Nie een van die kamers het iets vreemds of wonderbaarliks in nie.

‘Toorkrag,’ fluister sy.

Henri ruk soos hy skrik van die skielike klank in die stil Labirint.

‘As haar toorkrag op Feë kan werk, dan moet dit sterk genoeg wees om op die Labirint ook te werk,’ verduidelik sy deur haar gedagtes te deel.

Henri sluk angstig en knik.

Daphne verstaan: wat as die Muse Fee hulle op daardie oomblik dophou?

‘Wel,’ sê sy hardop, ‘duidelik het die Feetjie Katte nie teruggekeer nie. Dis ‘n goeie ding. Kom ons gaan huis toe.’

Henri knik en hulle loop. Daphne hoop net dat hulle iets nuuts omtrent hul vyand kan leer.
#
Hulle het skaars die Oniks Labirint binnegetree toe die Elfie wat hulle vertel het dat die rooikop Leanne ‘n Muse Fee is vir hulle nader wink. Die arme ding was aan die bewe.

‘Wat is verkeerd?’ vra Daphne.

‘Elfies verdwyn,’ piep die kneg.

‘Weet jy waar hulle heen gaan?’ vra Henri saggies.

‘Sy vat hulle,’ sê die Elfie terwyl sy op die plek wieg.

‘Jy weet waarheen,’ sê Daphne.

Die Elfie knik.

‘Kan jy ons wys?’

‘Ja,’ piep sy.

Die Elfie reik uit na die mure om hulle en skielik is hulle aan die ander kant van die Oniks Labirint. Sy loop vinnig deur die tonnels, die Beskermers op haar hakke. Hulle beweeg geruisloos deur die tonnels en kamers wat hulle vroeër deursoek het.

Iets ruik vreemd, soos metaal, in die tonnel wat nie vantevore daar was nie.

Die Elfie maak ‘n beweging vir hulle om te stop. Sy wys na ‘n tonnel. Daphne en Henri los haar en beweeg saggies voorentoe.

Wat hulle vind is absoluut afgryslik en te verskriklik om te aanskou.

Die Muse Fee, rooi hare los oor haar rug, drink van ‘n silver beker. ‘n Groot, swart hekseketel staan op ‘n voetstuk.

Daphne kan die bloed oor die vrot reuk van die ontbindende lyke ruik. Sy voel siek. Die lyke van Elfies, kaboutermannetjies, Feetjie Katte en ander lê gestrooi oor die kamervloer. ‘n Paar fakkels skyn helder genoeg om die wonde te sien waar hul bloed gesteel is.

Daphne beduie vir Henri dat hulle moet loop. Die Muse Fee was nog besig om gulsig te drink van haar beker sonder om ‘n druppel op haar wit chiffon rok te mors.

Hulle maak dit terug na die Elfie en die drie van hulle verlaat die tonnel wat skerp ruik na bloed.

‘Wat nou?’ vra Henri toe hulle versteek is in ‘n alkoof.

‘Ons wag.’

Nie lank nadat die woorde haar mond verlaat het nie kon hulle vinnige voetstappe in die tonnel hoor. Toe dit verby hulle is kyk Daphne versigtig uit. Die Muse Fee is oppad terug na die Oniks Labirint.

Sy wag totdat dit heeltemal stil is voordat sy die alkoof verlaat.

‘Kom.’

Hulle tree die kamer van dood binne. Die Elfie kreun. Daphne kyk weg van die pyn op die kneg se gesig; dit was privaat.

‘Gebruik jou toorkrag om vir hulle grafte te grou,’ sê sy vir die ander twee.

Sy gaan na die engiste oop hoek in die kamer en begin om grafte te maak. Hulle vul die gate met lyke maar maak nie die grafte toe nie. Teen die tyd dat al die lyke in die grond is, kan Daphne skaars haar toorkrag voel.

‘Moenie!’ gil sy toe Henri na die hekseketel uitreik. ‘Dit kan beskermingstoorkrag op hê.’

Hy knik en tree terug.

Sy konsentreer hard en lig al die bloed uit die hekseketel uit. Dit sweef deur die lug en besprinkel al die lyke. Toe die bloed klaar uitgedeel is tussen die grafte val Daphne op een knieg en hap na asem.

‘Ek is in orde. Maak die lyke toe,’ sê sy vir die ander.

Hulle gebruik hul toorkrag om die begrawing te voltooi.

Stilte hang oor die vertrek.

Die Elfie haal ‘n akker uit haar sak.

‘Doen dit,’ sê Daphne goedkeurend.

Die Elfie begrawe die akker in die middel van die kamer. Dadelik vul verblindende lig die vertrek. Toe Daphne weer kon sien het ‘n klein akkerboom daar gegroei.

‘Kom ons gaan,’ sê sy terwyl die silwer beker en swart hekseketel wegsmelt in die grond.

‘Wat –’ begin Henri.

‘Dis nou heilige grond. Alle donker toorkrag verdwyn,’ verduidelik die Elfie met ‘n glimlag.
#
‘Ons het ‘n probleem,’ sê Henri deur sy gedagtes soos hulle die Oniks Labirint nader.

‘Wat?’

‘Net ‘n soen van die Hertog se ware liefde kan die bekoring ontdaan maak. Ons weet nie wie dit is nie.’ Hy kyk bekommerd na haar.

‘Hou haar dop en hou haar weg van hom af,’ sê Daphne saggies vir haar metgeselle. ‘Laat my oor die res bekommer.’

Henri maak sy mond oop om te stry, maar die Elfie trek hom saam met haar in ‘n nuwe tonnel in.

Daphne sug. Sy raak aan die lewende steen.

‘Ek het jou hulp nodig. Ons moet hom red,’ fluister sy.

Die steen bewe en ‘n smal gangetjie maak oop.

‘Dankie,’ fluister sy en volg die weg.

Brandon staan alleen in die tuin. Die kunsmatige sonlig maak dat sy blonde hare glim soos ‘n stralekrans.

Daphne sug.

‘U hoogheid,’ groet sy met ‘n vriendelike glimlag.

‘Beskermer, het jy vir Leanne gesien? Ek het iets om vir haar te wys,’ sê hy sonder om na haar te kyk.

‘Mag ek sien?’ vra sy terwyl sy hom nader.

‘Sekerlik.’

Daphne kners op haar tande toe sy sien dat hy Leanne se gesig in die grond van die Zen tuin geteken het.

‘Dis goed, né?’ vra hy; sy blou oë blink koorsagtig.

‘Ja,’ sê sy en gaan staan teen hom.

Hy kyk verward na haar. Hul gesigte is baie na aan mekaar. Sy soen hom. Hy trek dadelik terug, sy hande op haar bo-arms. Sy kan sy hitte deur haar leerbaadjie voel. Iets word helder in sy oë en hy kyk na haar met herkenning.

Hierdie keer soen hy haar. Behoorlik. Heeltemal. Passievol.

Toe hulle die soen breek voel dit vir Daphne asof al die bene in haar lyf gesmelt het.

‘Wat het gebeur?’ vra hy terwyl hy fronsend na die kuns in die sand kyk.

‘’n Muse Fee het jou bekoor.’

‘Jy het my gered.’

‘Altyd.’

Die manier wat hy na haar kyk gee haar weer hoop. Sy sal enige tyd brand vir verraad as hy net vir haar sal kyk met soveel aanbidding en bewondering.

Hy maak sy keel skoon soos die spanning tussen hulle bou.

‘Wat gaan jy met haar doen?’ vra sy.

‘Ek het geen idee nie.’

‘Ek het,’ antwoord sy met ‘n breë glimlag.

Sy haal diep asem. Sy moet gaan voordat iemand hulle vind.

‘Ek moet gaan,’ sê sy terwyl sy nog in sy oë verdrink.

‘En ek moet dit ontdaan maak,’ sê hy en beduie vaagweg na die grond.

Voordat sy nog iets kan sê skuif die grond en sy vind haarself in ‘n ander deel van die Oniks Labirint.

Henri en die Elfie praat met die Muse Fee. Henri vertel haar net hoe mooi sy is en die Elfie wil weet of sy enigiets wil eet.

Daphne wil-wil lag vir die vasgekeerde uitdrukking op die rooikop se gesig. Sy haal haar oniks boeie uit en sluip agter hulle op.

‘Jy is onder arres,’ sê sy en boei die Muse Fee se hande.

Die gedierte spartel en skree.

‘Ek sou stil bly as ek jy was. Jou toorkrag is weg,’ fluister Daphne in die rooikop se oor.

Die Muse Fee sak ineen.

‘Wat gaan jy met my maak?’

‘Ruil vir ‘n ander gevangene.’
#
‘So vinnig terug?’ vra die Orakel.

‘Ek het vir jou ‘n geskenk gebring,’ sê Daphne.

‘O, ja?’ vra die Orakel nuuskierig.

‘Laat Ruhan vry en jy kan haar kry,’ sê Daphne terwyl Henri die Muse Fee binne sig bring.

Die Orakel se oë pop amper uit haar kop uit.

‘Wat ‘n prys,’ adem sy. ‘Gaan!’ beveel sy Ruhan wat baie gelukkig die daklose kamer verlaat.

Toe hy tussen die ander Beskermers staan haal Henri die boeie van die Muse Fee se hande af en stoot haar in die rigting van die Orakel.

‘Julle moet pret hê,’ sê Daphne toe sy wegdraai van die Griekse pilare.

‘Ek sal dit nie vergeet nie,’ sê die Orakel met gevoel.

‘Ek weet,’ antwoord Daphne en loop weg.

‘Ek verstaan dit steeds nie,’ sê Henri to hulle by ‘n ander tonnel afloop.

‘Die Orakel is eensaam, honger vir geselskap. Die Muse Fee het geen toorkrag nie. Hulle kan mekaar geselskap hou vir ewig,’ verduidelik Daphne.

‘Die Orakel voel nou asof sy Daphne skuld,’ sê Ruhan. ‘Sy sal volgende keer verniet help.’

‘Sal die Muse Fee nie haar teen ons vergiftig nie?’ vra Henri.

‘Om haar toorkrag te verloor is veel gawer as om haar aan die Donker Feë te oorhandig vir tugtiging,’ sê Daphne met ‘n skouerophaling.

Sy kan regtig nie veel omgee oor iets anders as die gevoel van Brandon se lippe teen hare nie. Selfs al was dit net om hul Hof te red… Verraad en brandstapels kan maar gaan vlieg: om weer verseker te wees dat sy Brandon se een ware liefde is, is die beste gevoel in die Labirint.

Ronel Janse van Vuuren

Oktober 2017 – Fees projek

1.Die blou fees

Tema: Fees. 381 woorde.

Sia spring van die dak af en hardloop by die stegie af. Sy het nie nodig dat enigiemand sien – of weet – waarheen sy gaan nie.

Grootendeels het die studente waarmee sy rondhang geen benul wat die ooreenkomste is wat hulle sluit nie. En selfs as hulle dit sou uitwerk gee niemand om nie. Om roekelose pret te hê voordat hulle die regte wêreld betree is wat meeste van hulle soek. As sy haar Hof in die proses help…

Sy spring oor die heining en gaan die woud binne. Niemand gaan daar nie, nie eens die dwaasste sterfling nie. Na die dodetal gedurende die laaste fees…

Sia sluk en beweeg geruisloos deur die bome. Bosnimfe gluur vir haar vanwaar hulle onder ‘n olmboom vergader; wimpel-feetjies sis vir haar soos sy onder hul doringboom duik; selfs die dwaalligte vlieg weg wanneer sy nader kom.

Sy ignoreer hulle almal. Sy het ‘n belangrike taak. Eindelik maak sy dit tot by die opening in die middel van die woud. Sy tel ‘n blaar op, prik haar vinger en drup bloed op dit.

‘My bloed, roep dié wat ek soek.’

Binne oomblikke is die opening gevul deur Feë van elke kleur, ras en grootte.

‘Jy is laat.’

Sy gluur vir die man wat heel moontlik die moderne uitbeelding van vampiere as aantreklike gediertes wat getem moet word geïnspireer het.

‘Ek het my deel gedoen.’ Sy gluur vir hom. ‘Die Fees kan voortgaan soos beplan.’

Hy lig ‘n wenkbrou.

‘Jy het…’

Sy hou ‘n hand op. ‘Laat hulle net weet, okay? Ek moet terug voordat ek gemis word.’

Net na sonsopkoms op ‘n Saterdagoggend staan Sia omring deur dronk studente. Hulle is dié wat altyd laat by partytjies bly. Hulle is die sterflinge wat roekeloos is en té dwaas om te weet wanneer om te stop.

Sy kyk hoe ‘n see van blou op hulle afdaal vir die fees. Feë van orals kom: blou water Feë en blou veld Feë; selfs die blou muse Feë daag op.

Sonder weifeling kyk sy hoe die sterflinge weggelei word om hulself tot uitputting te dans tydens die fees – en dan die hoofmaal te word. Sy het haar deel gedoen om haar Hof gevoed en veilig te hou vir nog ‘n jaar. Sy gryp ‘n vuil-vos-kabouter en gaan dans saam.

Ronel Janse van Vuuren

SILWERKLAS

Rubriek wenner – Januarie 2018 – Weerbegin projek

1.‘n Nuwe Plek om Boeke te Adverteer en te Vind

Wel, dis seker nie “nuut-nuut” nie, maar wanneer jy die wêreld van boekbemarking betree sien jy hierdie webtuiste met nuwe oë: Goodreads.

Ek het onlangs ernstig begin om my boeke – en boeke waarin my werk voorkom – te bemark op al wat ‘n sosialenetwerk is. Wat ek agtergekom het is dat meeste lesers hul nuwe gunstelinge op webwerwe soos Goodreads vind – ‘n plek waar hulle hul resensies (die goeie en die slegte) kan deel van wat hulle gelees het.

Daar is baie inligting, as jy op die regte plekke kyk op die webwerf, om jou “Author Page” te skep met al jou boeke. (Dis nou vir die skrywers/digters.)

En dis ‘n maklike plek om ander lesers te vind wat van dieselfde soort stories hou en hul resensies te lees – skep ‘n profiel, laai jou resensies en merk al die boeke wat jy nog graag wil lees. Dis soos ‘n kategolus van alles wat jy al gelees het en wat jy nog wil lees. Wen-wen vir leser en skrywer – as skrywer weet jy presies wat lesers dink en dis ‘n goeie manier vir lesers om vir skrywers te vertel wat hulle spesifiek van hul stories/gedigte hou.

Ek het Inkspraak op Goodreads gelaai: https://www.goodreads.com/book/show/37901478-inkspraak
Ongelukkig kon ek nie al die “vreemde” penname as skrywersname byvoeg nie, so party digters/skrywers is ongelukkig uitgelaat. Ek het my bes gedoen om almal se volle skrywersname te gebruik soos aangedui in die inhoudsopgawe. (Veranderinge kan gedoen word deur die regte besonderhede aan die “Librarians” te stuur sodat hulle dit kan byvoeg.)

So, die punt hiervan? Dis ‘n goeie plek om jou skryfwerk wêreldwyd te bemark. Jy kan “Goodreads Giveaways” gebruik om lesers in jou genre opgewonde te maak oor jou nuwe bundel/boek. Jy kan ook by verskeie groepe aansluit om oor boeke te praat. Ook, resensies maak dat nuwe lesers vertroue het in jou werk voordat hulle dit koop.

Die beste deel hiervan is dat dit maak dat jou naam (jou skrywersnaam) bekend word aan lesers. Onthou om altyd dieselfde skrywersnaam vir alles te gebruik – moenie op een plek Ronel van Vuuren wees, op ‘n ander Ronel J van Vuuren en dan weer op nog ‘n plek Ronel Janse van Vuuren nie. Wees konstant, dis die enigste manier om al jou skryfwerk op een slag voor te laat kom op “search results”.

So gaan vandag en sluit aan by Goodreads: al skep jy net jou bladsy, voeg al jou boeke by en gaan nooit weer terug vir enigiets anders nie, is dit goed vir jou Google “search engine rankings” wanneer iemand jou naam op die internet soek. (Volg die instruksies op die webblad om jou “Author Profile” te skep.)

Wanneer jy ‘n skrywer/digter in hierdie nuwe tegnologiese era is, moet jy leer om met die tegnologie maatjies te maak. Al is dit so wispelturig soos ‘n tiener…

Ronel Janse van Vuuren

Mei 2018 – Moeders projek

1.Brose baba

Denise kyk af na die klein wese wat op haar bors lê en slaap. Sy kan sy vinnige hartklop teen haar voel. Sy sluk swaar. Reën spat teen die venster en die stormwolke maak die vertrek donker. Skadu’s druk teen hulle.

“Jy is so broos.”

Sy vryf oor sy koppie.

“Ek sal my bes doen om jou veilig te hou. Maar wanneer jy groot genoeg is, sal jy self moet veg vir wat jy wil hê.”

Hy druk sy gesiggie stywer teen haar, asof hy haar in sy slaap antwoord. Denise glimlag.

“Jy is absoluut perfek.”

Sy buig voorentoe en soen hom op sy voorkop. Hy gaap en sy pienk tongetjie lyk helder teen sy donker gesiggie.

“Kyk net daai tandjies! Eendag gaan jy lekker kan byt.”

Met een hand op sy warm lyfie, raak Denise weer aan die slaap; die baba rottweilertjie snoesig teen haar.

Ronel Janse van Vuuren

Augustus 2018 – Haikoe projek

2.Rook en kersiebloeisels

Die swaard val uit haar hand uit. Dit is verby.

Yuki kan nie glo dat sy gefaal het nie. Die katana glim in die dowwe lig van dagbreek. Haar opponent se donker oë bly emosieloos.

Sy kan nie glo dat hierdie vreemdeling die geheime van die swaard beter ken as sy nie. Sy was die laaste van haar bloedlyn; die laaste van die oudste afdeling samoerai in die vier koninkryke.

Yuki verwyder haar masker en val op haar knieë. Kersiebloeisels lê vermorsel om haar. Dit is die oomblik. Dit is die einde. Sy is reg om ‘n eerbare dood te sterf.

‘Dit was pret.’

Yuki ruk haar kop op.

‘Jou tegniek is ‘n bietjie stram, maar met genoeg oefening is ek seker dat jy ‘n formidabele kryger kan wees. Of selfs ‘n sluipmoordenaar.’ Die vrou grynslag.

Yuki se hart dawer in haar bors. Die vreemde vrou se woorde maak nie sin nie. Watter tipe toespraak is dit om te maak voordat die oorwonne sneuwel?

‘Kom saam, ek wil graag die plaaslike kos uit probeer.’

Yuki verstaan steeds nie. Die vrou in leer kniel voor haar.

‘Ons kan met meer vrouens in die Orde van Sluipmoordenaars doen. Kom ons bespreek dit oor saki.’

Sy aanvaar die vrou in leer se hand en staan op. Haar kimono ritsel in die die briesie vol rook. Yuki sit haar katana terug in sy skede; die son gloei vir ‘n oomblik soos bloed op die lem.

Ronel Janse van Vuuren

November 2018

2.Plastiekwoorde

Koffiefontein is een van daardie dorpies waar jy elke soort onder die son vind. Tante Kotie weet dit alte goed. Party noem haar dan “Antie” of “Antie Koot” of sommer “Antie Koot van Koffiefontein”. Sy verkies Tante Kotie – dit klink net meer opgevoed.

Aai, maar dis die kinders wat haar “Antie” noem wat haar hart so sag maak.

Sy trek die plat pan vol klapperkoekies uit die oond en sit dit op die stoof neer. Hartverskeurende snikke vul die kombuis. Tante Kotie kyk na die meisiekind wat sy al vir meer as twee dekades ken en sy voel haar hart verteder.

“Hierso,” sy gee vir haar ‘n sterk koppie koffie en ‘n paar van die varsgebakte koekies. Sy gaan terug na die kas en rol nog koekiedeeg in bolletjies en sit dit in die panne om oond toe te gaan.

“So,” sê sy na ‘n ruk. “Wat het gebeur?” Sy kyk nie na die tafel nie, sy hou net aan om koekies te maak.

“Hy – hy –” Sy snik verskriklik. “Hy blameer my vir alles. As iets by die werk verkeerd loop, is dit ek. As die verkeer nie saam speel nie, is dit ek. As die tuinier die kruiwa breek, is dit ek. As die petrol prys opgaan, is dit ek.”

Tante Kotie sit die laaste pan in die oond en gaan sit by die tafel.

“Dink jy dis als jou skuld, Mandie?” vra sy saggies.

Die donkerkop skud haar kop en vee haar trane af.

“Dan hoekom laat jy dit toe?”

Sy kyk op na Tante Kotie met traanblink oë, haar mond bewend soos sy die trane probeer inhou. “Ek weet nie. Hy –” Sy sug. “Hy is altyd vreeslik jammer en belowe om dit op te maak aan my. Maar…” Sy skud haar kop en kyk weg.

“Het jy hom aangetree oor sy optrede?”

“Ja.” Trane biggel oor haar wange. “Hy’t sy vuis stukkend geslaan teen die badkamer teëls. Gesê eerder dit as my gesig.”

Tante Kotie voel yskoud. Die oond se alarmpie gaan af en sy haal die koekies uit voordat sy die oond afdraai.

“Mandie? Het jy enigiemand anders hiervan vertel?”

“Nee. Wie sal my glo behalwe Antie?” Sy kyk weg en knibbel aan ‘n koekie.

Tante Kotie verstaan. Divan is van die goeie kant van die dorp en Mandie… die minder gegoede kant. Niemand kon dit glo toe die twee gaan staan en trou het nie. Maar sy weet nou hoekom… Hy wou iemand gehad het wat té bang is, té alleen is in hierdie koue wêreld om enigiemand te vertel van sy humeur en wreedheid.

Hy het nie op háár gereken nie.

“En was dit net die badkamer muur?”

Mandie trek haar baadjie uit. Tante Kotie hou haar gesig uitdrukkingloos; sy weet dat die kind nie nodig het dat iemand iets voel oor wat met haar gebeur het nie. Die blou, geel en rooi vlekke op haar vel is meer as wat enigiemand nodig het om ooit te voel.

“Nog koekies?”

Mandie knibbel aan ‘n koekie en kyk net af na haar koue koffie. Tante Kotie het die polisie kaptein op die lyn – haar selfoon het ‘n spesiale knoppie wat sy kan druk om direk na hom te skakel.

“Wat kan ek vir Antie Koot doen?” vra hy aan die ander kant.

“Sareljie, jy kan daardie boef gaan arresteer: ek het al die ewidens wat ons nodig het.”

Ronel Janse van Vuuren

Desember 2018 projek

2.Drake vlug

Die draak was té stadig. Die gevleulde draak het klaar die brandende pêrel onderskep en is oppad na die doelpaal. As die blou span weer wen, gaan hy nooit die einde daarvan hoor nie. Hy klap sy vlerke vir ‘n vale en haas agter die gevleulde draak aan.

Ver onder hom brul die skare en party blaas onwettige vlamme na die spelers in die lug. Die feniks op die draak se span vat vinnig ‘n vuurbad om homself van parasiete vry te maak. Die draak maak sy oë vir ‘n oomblik toe soos die amphithere hard lag dat die trillings deur sy vere kuif tot by sy goudvissie stert strek. Die longdraak het nie sy oë toegemaak nie en is tydelik verblind deur sy spanmaat se flonkering.

Die draak duik kantwaarts. As kaptein van sy span is dit asof al sy opponente dit uit het vir hom. Veral die vuur-mal ondersteuners van die blou span in die skare. Nóg ‘n vuurbal mis hom net-net en ontplof teen die gevleulde draak – wie die brandende pêrel laat val. Die draak duik af en vang dit en vlieg na die ander doelpaal.

Dit is nou of nooit.

Die skare gil en gaan mal. Sy span beskerm hom teen vuurballe en opponente. Drake val na die grond. Die brandende pêrel brand sy poot.

En dan…

Doel!

Die skare gaan wild tekere. Die longdraak val uit die lug uit in skok. Die feniks vlieg deur al die vuurballe en slaan aan die brand.

Die draak het uiteindelik gewen. As spankaptein het hy die pêrel gewen… nou kan hy eindelik sy vuur kry. Nou kan hy ‘n regte draak wees: hy kan ‘n houplek hê vol skatte en vreesbevange mense.

Ronel Janse van Vuuren

3.Griffioene vir die Wen

Die skare juig. Almal is geklee in hul span se kleure. Reuse naaldekokers, geverf om by die verskeie spanne se kleure te pas, staan reg om hul span se plek in die wedstryd te merk.

Die hippogriewe proes en gooi hul gesnawelde koppe trots in die lug. Die jeti’s grom; almal klap hul hande oor hul ore. Verskeie magiese wesens is daar om hul streke te verteenwoordig. Selfs die griffioene wat dink dat kompetisies benede hulle is en selde hul beste lewer by sulke geleenthede.

Maar, daar is iets anders omtrent die griffioen paar wat dié jaar deelneem. Hulle lyk… opgewonde.

Hul ondersteuners, geklee in goud en bruin, maak die meeste geraas op die paviljoen. En hulle het ‘n kreet: “Griffioene vir die wen! Griffioene vir die wen!”

Die twee griffioene op die veld lig elkeen ‘n poo ten waai vir die skare.

‘n Hinkypunk val om in skok. Sy lamp beland op ‘n jeti en slaan hom aan die brand. Die jeti skreeu in pyn en trap op ‘n aswang. Die aswang se tong skiet uit en lek die chimera langs haar. Die chimera se verskeie oë draai om in sy drie koppe en hy val neer op die hippogriewe.

Chaos heers soos die skare kreun en protesteer terwyl die mediese spanne mekaar na die veld jaag.

Die griffioene lig hul skouers gelate en staan terug sodat orde geskep kan word en die beseerde wesens versorg kan word.

Ja, hierdie wedstryd gaan anders en opwindend wees.

Ronel Janse van Vuuren

Mei 2019 projek

1.Opelug (Silwer)

“Dit is nie wat ek bedoel het met ‘onsigbaar’ nie,” sis Malachi.

Die skare versamel om hulle en vul die amfiteater.

“Ontspan, niemand kyk na jou nie,” sê Beau, leunend teen ‘n boom.

“Hoekom sou hulle? Ek is korsmos!”

“En?”

“Ek het jou gevra om my onsigbaar te maak, nie onaangenaam nie!”

Beau lag. ‘n Paar koppe draai in hul rigting voordat hulle weer na die verhoog kyk.

“Jammer, boet, maar jy was ‘n parasiet lank voordat ek jou beet gekry het.”

Die musiek swel en Malachi vergeet wie hy is toe hy die son begin absorbeer en fotosintese sy wêreld word.


*Tema: kwansuis
*Volgens HAT: kwansuis = skynbaar, kamma, kastig.

Junie 2019 projek

1.Oyuki 

Oyuki loop deur die sneeustorm, ys klou aan haar blou kimono. Die wit duisternis verberg die landskap, maar sy kan voel waar lewe probeer deurdring. Sy draai regs na waar hitte wil-wil sterker word. Sy waai haar hand en die sneeu verdwyn voor haar. ‘n Hout hut verskyn. Sy grinnik. Alhoewel die hutjies oor die berg goeie skuiling bied vir stappers gedurende die warm maande, kan dit niks doen teen die koue nie. Sy wikkel haar vingers en ‘n yswind ruk die deur en hortjies oop. Die mense lê opgekrul en bewend op die hut se vloer. Uitputting het hulle oorweldig. Oyuki skud haar kop. Sy blaas haar koue asem uit oor hulle en hulle hou op bewe. Yskristalle vorm op hul wimpers en lippe. Die hitte verdwyn. En so-ook die lewe wat probeer deurdring het in haar ysryk.

##

Jy kan meer lees oor hierdie Japanese feetjie op my webtuiste: http://www.ronelthemythmaker.com/cold-ones-yuki-onna-and-tsurara-onna-folklore/

Ronel Janse van Vuuren

Maart 2020 – Triomfboog projek

2.Dink aan my

Bosse vorm ‘n ‘n kasteel binne ‘n kring menhirs. Die gekunstelde natuurskoon lok feë van alle klasse en nasies. Cian kan hoor hoe hulle giggel en speel in die gedenkteken vir die tandefeë en wonder of hulle nog onthou wat ‘n eeu tevore gebeur het. Hy maak sy oë toe en laat herhinneringe oor hom spoel.
#
#
Zee is nie gek oor haar uitrusting nie. Die lawwe donserigheid waarin alle tandefeë hul vlerke moet styl griewel haar grensloos. Maar geen fee kan kies wat hulle as gebore word nie. En tandefeë kan nie hul uitrustings kies nie: die tandefeëprinses hou van pastel en chiffon, so dit is wat hulle dra. Gmf! Zee trek haar romp reg.
Sy vlieg deur dimensies en eindig op hoog bo Londen. Dis jare sedert sy in ‘n stad gewerk het. Maar dis nou haar beurt om tussen die masse mense te beweeg. Sy mis klaar die platteland. Sy kyk af na al die flikkerende straatlampe wat aangesteek word, die rook wat uit skoorstene borrel – swart teen die pienk en pers skemer lug – en al die mense wat huis toe skarrel. Sy hou van hierdie tussen-in tyd van die dag. Dis ook die beste tyd om tussen dimensies te beweeg: tussen-in tye maak die mure tussen Ryke dun.
Zee fladder af na ‘n blok huise waar kindertjies hul tandjies onder hul kussings wegsteek. Sy hap na asem en val amper uit die lug uit. Haar longe brand. Haar keel voel of sy vlamme ingeasem het.
Yster!
Zee kyk verwoed rond. Yster rame om bome op die sypaadjies. Yster pale wat die straatlampe op hou. Yster bankies in die parke en op party sypaadjies. Yster rame vir vensters en deure. Yster… yster in die speelgoed.
Sy sak al hoe laer soos die yster haar toorkrag uitput en haar wese aanval. Sy reik uit en pluk aan ‘n onsigbare draad wat haar dadelik terug na Feërie vat.
Sy sak neer op haar kniëe.
“Wat bedoel jy hiermee, Zee?”
Sy lig haar kop op en sien dat sy haarself in die tandefeëprinses se raadsaal bevind.
“Mensewêreld. Yster. Gif.” Is al wat sy uitkry voordat sy haar bewussyn verloor.
#
“Ek is bly jy is nie dood nie.”
Zee knipper haar ooglede en fokus op die fee wat langs haar sit en haar hand vasklem in hare.
“Cee, jy gaan my hand dooddruk.”
Die tandefeëprinses laat dadelik haar hand gaan.
“Dood? Was dit só erg?”
Cee knik net. Zee sluk en druk haar suster se hand.
“Ander het gesneuwel. As jy nie die noodlyn gebruik het nie…”
Zee weet wat haar suster nie sê nie. “Hoeveel?”
“Té veel.” Cee sug. “’n Kwart van die wat gisteraand uitgegaan het, het nie terug gekom nie. die helfte van my onderdane is in intensiewe sorg. Ankou het laat weet dat hy nie kan wag om te sien hoe ek sy Ryk verder gaan uitbrei nie.”
Zee se kop ruk op. “Het hy self…?”
“Nee. Die Koning van die Dode het ‘n Banshee gestuur.”
“Wat nou?”
“Ons gaan voort soos altyd. Die tandmuise is immuun teen yster, so hulle gaan die stede behartig.”
“Daar is nie genoeg van hulle nie.”
“Nee.”
“Wat…? O.”
“Ek los jou in bevel. Ek en my elite sal gaan doen wat ons kan.”
“Die ander feë, kan hulle nie help nie?”
“Ek wag nog om terug te hoor van die Feetjie Honde, maar al die ander sê dis ‘n saak vir die tandefeë – en dalk die Feëkoningin.”
“En sy weier steeds om in te meng?”
Cee rol haar oë en Zee snork. Die twee susters lag oor die belaglikheid van Feë-politiek.
“Die boomnimfe het ekstra betowering opgestoor vir hul susters in die stede en het aangebied om ons te help beskerm teen die yster.”
“Wat wil hulle in ruil hê?”
“Net ons ondersteuning in hul petisie om boomnimfe uit die mensewêreld te red.”
Zee knik. Sy weet hoeveel boomnimfe al gesneuwel het aan die hand van gierige mense wat hul bome afgekap het.
“Wees versigtig.”
“Jy ook.”
Zee kyk haar suster agterna met ‘n hol gevoel op haar maag.
#
Zee bewe. Selfs haar vlerke vibreer. Woede. Hartseer.
“My suster is dood. Die tandefeëprinses is dood! Die helfte van die tandefeë is dood. ‘n Kwart van die tandmuise is dood. En al wat jy kan sê is ‘jammer vir jou verlies’?!”
Sy haal hortend asem. Die koue gesig van die Feëkoningin verander glad nie. Verskeie feë teenwoordig lyk ongeërg en ander vererg – oor haar uitbarsting, nie oor die dood van so baie feë nie.
“Dis tyd vir jou om te gaan. As die nuwe tandefeëprinses het jy beter dinge om te doen as om vir die koningin van álle feë te gil.”
Die Assassyn tree uit die skadu’s en loop op haar af. Sy kil blik skok haar. Sy maak ‘n vinnige kniebuiging vir die Feëkoningin en fladder weg.
Buite in die opelug, laat sy toe dat snikke deur haar skeur. Al die tandefeë en tandmuise gaan sneuwel en niemand gee om nie.
“Genoeg, prinses. Jou feë het jou nodig.”
Zee draai om. Die Assassyn staan onder die wilgerboom wat oor meeste bome in die omgewing toring.
“Wat wil jy hê?”
“Ek wil jou help.”
Zee kyk hom wantrouig aan. Sy weet dis onregverdig, maar ná alles wat gebeur het…
“Ek was in die mensewêreld. Ek weet wat die probleem is. En die oplossing.”
“Wil ek weet?”
“Hou jou feë uit die mensewêreld uit totdat dit veilig is – ek sal intussen die tande verwyder.”
“En die toorkrag om tande te laat groei?”
“Net ‘n tandefeë kan dit gebruik.”
“Dan moet ek saam met jou gaan.”
Die Assassyn knik.
Saam pop hulle van plek-na-plek en verwyder tande. Tyd beteken niks. Rondom hulle skuil die mensdom soos oorlog heers. Alle yster word nou net vir militêre doeleindes gebruik – vêr van kinders en waar Zee en haar tandefeë moet werk. Mettertyd gaan die Assassyn terug na sy koningin en ‘n verandering in feë-politiek bring met dit die gedenkteken wat feë herhinner dat as een swaarkry, almal swaarkry.
#
#
“Jy lyk so ernstig, Cian.”
Hy maak sy oë oop. Voor hom, geklee in ‘n swart lyfpak met verskeie sakkies en gereedskap aan haar vas, fladder ‘n tandefee.
“Is daar nie ‘n kind êrens wat ‘n tand gewissel het nie, Zee?”
“Natuurlik is daar!” Sy steek vir hom tong uit. “Die lewe gaan aan: al vat dit tyd.”
Hulle albei kyk na die gedenkteken wat alle feë – en mense wat weet – herinner dat daar altyd ‘n oplossing is solank daar hoop is.
##
1091 woorde

Ronel Janse van Vuuren

Mei 2020 “Ek wens dat ek…” projek

1.Sigaar meisie

Virág giggel oor die nuwe plakkaat op die muur: “In compliance with the 18th Amendment NO intoxicating liquor allowed on the premises.” Reg langs dit is ‘n toring sjampanje glase gevul met die glinsterende, borrelende drankie.

Die orkes speel die wonderlikste klanke – jazz. Ongetroude paartjies dans wild op die musiek onder die bruin-geel ligte van die ondergrondse Speakeasy. Ander sit om tafels en drink wat ook al hulle kan bekostig. Mans en vrouens rook. Almal kuier lekker.

Virág loop tussen deur die tafels met haar skinkbord aan ‘n band om haar nek.

“Sigare? Sigarette?”

Sy verkoop meer as net dit. En haar werk is meer om seker te maak dat almal hulself geniet as om iets te verkoop…

Haar rooi hout skinkbord staan uit teen haar swart rok. Die moulose rokke wat net onder die knieg eindig is ‘n drastiese verskil van die modes van net die vorige jaar. Virág verstaan. Sy het die Eerste Wêreld Oorlog oorleef – nes almal daar. Maar waar sy nog weet wie sy is, waar sy in pas en wat haar toekoms is, weet die jong mense daar nie enigiets meer nie. Hulle wil net vir die oomblik leef. Hulle wil hulself geniet.

Sy wens sy was weer terug in die berge van Hongarye. Sy mis die ander Tündér. Sy mis die sprokiesagtige tuine, die danspartytjies onder die volmaan, die fabelagtige kastele.
Maar dis hul geswore diens om dié te versorg wat niemand anders het nie. Gewoonlik weeskinders en die verstote. Maar na die oorlog het die laggende jong mense om haar, haar verskriklik nodig. Sonder haar sorg sal hulle hulself dood speel. Hulle sal net drink, lag, dans en rook. Sonder haar praatjies in die stiltes tussen drankies en sigarette, sal hulle verval in hul ontnugtering wat die oorlog gebring het. Sonder haar aanmoediging sal hulle dans totdat hulle uitbrand. Sonder haar hulp, sal hulle hul dae ook deur drink in plaas daarvan om ‘n nuwe wêreld op hul terme te bou.

Virág sug saggies soos die hartseer agter die wilde note van die jazz orkes oor haar spoel. Sy haal een van die kostelose pêrels uit die versiering in haar hare uit en gee dit vir die jong vrou wat lusteloos aan haar sigaretstokkie teug.

“Gaan skryf jou spioen boeke. Gaan doen wat jou gelukkig maak,” sê sy en omvou die vrou se hande om die pêrel. Lig flikker op agter haar dowwe irisse. Met ‘n glimlag en ‘n ware wip in haar stap verlaat sy die Speakeasy.

Virág glimlag. Soveel soos wat sy wens dat sy by die huis was, help sy baie meer in die Speakeasies van Chicago.
#
440 woorde

Ronel Janse van Vuuren

Junie 2020 – Vryheidsprojek

3.Kruip na Vryheid

Feërie het verander. Té veel na Brody se smaak. Dinge het verskuif en op onnatuurlike maniere beweeg. Ondanks sy onberispelike voorkoms, was hy ‘n borrelende gemors binne. Elke keer as ‘n tropiese blom blom, krul hy innerlik ineen.

Dit was gevaarlik.

Hy kniel om die laaste heideblomblare op te tel. Flitse van vernietiging – Feërie se vernietiging – laat hom sug. Die heideblomblare verander in as en dryf grond toe terwyl hy huis toe vlieg.

Brody soek deur die Groene-Feë in hul veelkleurige blomme-uitrustings na die dame Juno. Sy is die sterkste van hul soort – sy het beheer oor al die elemente – en is dus hul leier. Al die Groene-Feë rondom hom was goudkleurig en wys hoe gelukkig hulle was. Hy bly groen, hy bly in beheer van sy emosies.

Hy ignoreer die gegiggel van ‘n groep meisies soos hy verbygaan. Hy wens dat hy net so sorgeloos kon wees soos die meeste Groene-Feë, maar … Die dame Juno was alleen op die boonste tak van die juniper boom. Hy vlieg na haar toe, verby Groene-Feë wat bessies eet en op hangmatte van spinnedrade sit.

‘My dame.’ Hy buig, vuis op sy hart.

‘Brody.’ Sy frons. ‘Jy lyk maer. Eet jy genoeg, skat? ‘

‘Dit gaan goed met my, Moeder.’ Hy kug. ‘Ons moet praat.’

Terwyl Groene-Feë rondspeel in die bome om hulle, vertel hy haar van sy visioen.

‘Wat stel jy voor?’

‘Die gerugte beweer dat die Galno en die Feëkoningin ‘n meningsverskil gehad het. Die alewige vegtende idiote is die rede vir die vinnige verandering in seisoene en plantegroei.’ Hy haal diep asem en kyk sy ma direk in die oë. ‘Ons moet weggaan.’

Sy gaan sit terug teen die growwe bas van die boom, met haar vlerke om die kurwes van die tak. Haar kleur het van goud na swart na groen verander tydens hul gesprek. ‘Dan is dit wat ons sal doen.’

#

Brody weet dat niemand gelukkig is nie – hulle was swart van woede omdat hulle hul huis moes verlaat – maar hy wens dat hulle vinniger sal beweeg. Daar is ‘n koue oor die gebied tussen Avalon en die Donker Lande en dit laat hom kriewelrig voel. As dit sy keuse was, sou hulle weggaan die oomblik toe sy ma ingestem het. Maar nee, almal moes huil oor hul besittings. Hulle moes almal hul gevoelens hê. So hier was hulle, twee weke later, en nog steeds in die bos juniper bome.

‘Almal het by die wortels bymekaargekom, Brody,’ sê sy ma sag agter hom.

Hy draai om en sien hoe die grond opgeruk word.

‘Duik! “

Hy gryp haar om die lyf en hulle duik op die grond af na die plek waar die ander Groene-Feë bymekaar is.

Die wêreld beweeg rondom hulle. Gille weergalm deur die lug. Brody weet dat hulle moet bly waar hulle is.

‘Wind-gebruikers! Skep ‘n koepel rondom ons!’ beveel hy.

‘Doen dit!’

Hulle gee aandag toe Juno haar stem by syne voeg.

‘Aard-gebruikers! Hou die grond onder ons bestendig. ‘

Hulle gehoorsaam sonder wyfel.

Toe die brand deurbreek, hou die vuur-gebruikers die vlamme weg sonder dat hulle beveel word. Terwyl water oor hulle was, keer die water-gebruikers dat hulle verdrink of weggevoer word.

Selfs oor die geluid van die windskerm wat hulle beskerm, kon hulle die vernietiging van Feërie hoor. Die geskree van verskrikte feë skeur deur Brody.

Dit voel of dit vir ewig aangaan. En toe stop dit. Hy laat toe dat die uitgeputte Groene-Feë ophou om die elemente te beheer.

Toe blare en stof gaan lê, voel Brody sy maag sak.

Hulle was nie meer in Feërie nie.

#

Brody laat dit aan sy ma oor om die Groene-Feë te kalmeer. Hulle het elke kleur van die reënboog geflikker terwyl ‘n verskeidenheid emosies kom en gaan. Anders as die res van sy soort wat sukkel om meer as een emosie op ‘n slag te voel, het Brody beheer oor sy gees, liggaam en emosies. In vergelyking met die ander heeltemal normale Groene-Feë, was hy vreemd. Hy weet dat as hulle ooit uitvind hoe anders hy was, hulle meer sou doen as om hom ‘n uitgeworpene te maak.

Hy fladder die massiewe rooihoutboom op. Aan die bokant kon hy die pragtige land uitgestrek tot teen die horison sien. Die sterflike ryk was pragtig. Gehoornde diere galop oor die grasveld. Verskeie wesens skarrel onder die bome. Groot voëls vlieg oor die boomtoppe.

Die groot voëls duik neer en eet die Groene-Feë wat tussen die boomtoppe speel.

Brody skud sy kop. Die visioen laat ‘n metaalagtige smaak in sy mond. Hy fladder af na die ander.

‘Bly verborge. Daar is roofdiere wat nie sal huiwer om ons te eet nie. ‘

‘Belaglik!’

‘Stilte!’ sê Juno. ‘Ons sal na Brody luister en sy leiding volg.’

Hy het die aardgebruikers en windgebruikers ‘n drywende skyf van kompakte grond laat bou om as basiskamp te gebruik. Die twee groepe was nie gelukkig nie, maar hulle doen soos hul dame beveel. Die res moes blare en takkies versamel om tydelike hutte op die aardskyf te bou. Hulle het nodig om skuiling te hê en veilig te wees. Maak nie saak hoe hulle daaroor voel nie.

#
Tyd het anders beweeg in die sterflike wêreld. Of miskien voel dit net soos ure vir altyd aasleep as gevolg van die suur atmosfeer. Nie een van die Groene-Feë was goud nie. Die meeste was rooi, swart of geel – die laaste neem hy vir melancholie. ‘n Paar was groen. Hy weet nie wat om daarvan te maak nie. Maar hy het ander dinge om oor te bekommer. Vrugte was skaars. Die blare het van kleur verander. En die koue lug maak dat die Groene-Feë nie in staat is om te vlieg nie, want hul vlerke kon nie beweeg soos dit moes nie.

Wat erger was: rimpelings van toorkrag het deur die landskap beweeg, dinge verander, dinge geskuif en nuwe dinge geskep. Dit het hom bekommerd gemaak dat toorkrag wat die werklikheid verander het, toorkrag wat net in Feërie hoort, besig is om wild in die sterflike wêreld te beweeg.

Lig flits deur hul kamp en die wêreld draai.

Groene-Feë skree, maar Brody kon niks hoor nie. Wit donkerte omring hulle. Alhoewel hy niks kon hoor of sien nie, weet hy dat hulle beweeg. Deur tyd? Deur plek? Beide?

Toe dit stop, was hulle in ‘n versorgde tuin. Elke boom, struik en grasblaar is perfek gesnoei. Die oorweldigende groen was ‘n welkome gesig.

‘In die struik!’ beveel hy.

Sommige het gevlieg terwyl ander te verward was om meer te doen as om op die aardskyf te bly terwyl dit na die naaste struik verskuif is.

‘Ten minste is dit warm,’ sê een van die Groene-Feë terwyl hy sy vlerke strek.

‘Stil!’ sis Brody soos beweging van die tuin af kom.

‘n Vrou in ‘n swaar rok stap by die paadjie af, gevolg deur ‘n man in pofferige kortbroek, kouse en ‘n noupassende wessie.

‘My liewe Anne, wanneer gaan jy ingee?’

‘Slegs in die huwelik, my heer.’

Hulle beweeg verby en Brody sluit hul gesprek uit.

Mense.

Hy gryp die tak voor hom vas.

Groene-Feë geklee in groen uitrustings wat ooreenstem met dié van die mense wat by hulle verbygegaan het. Groene-Feë wat groen bly. Groene-Feë wat in die tuin woon. Groene-Feë wat genoeg het om te eet.

Toe die visioen verbygaan, sug hy in verligting.

‘My dame? Ons het werk om te verrig as ons in groen klere wil aantrek in die styl van die mense.’

Hy sien hoe haar oë ophelder toe sy verstaan wat hy bedoel voordat sy verblindend glimlag.

‘My liewe Groene-Feë, ons gaan ‘n geruime tyd hier bly. Laat ons in pas. ‘

#

Brody geniet die intrige van die Hof van Henry die Agtste. Hy weet dat die res van die Groene-Feë daar tevrede was – selfs gelukkig -. Dit was ‘n interessante dekade. Hy glimlag en fladder na die bak vrugte in die koning se slaapkamer.

Onthoofdings. Dood. Verraad.

In plaas van ‘n volledige visioen soos gewoonlik, kom net hierdie indrukke na hom. Brody vlieg so vinnig as wat hy kon en versamel die Groene-Feë in die struik.

‘Wat is verkeerd?’ vra Juno.

‘Iets groot gaan gebeur. Ons moet eerder saam bly. ‘

Nie lank daarna nie word Koningin Anne verby hulle gelei – in boeie.

Brody bewe soos rillings van toorkrag deur die tuin skeur. Hy kyk hoe die wit duisternis hulle omhul soos voorheen. Hulle beweeg weer deur ty den plek en die lewe wat hulle geken het word agtergelaat.

Toe die toorkrag terugsak, bring die gesig wat hulle begroet trane na Brody se oë.

Sneeubedekte berge raak die lug. Wolke dryf teen berghange af. Bome bedek die basis van die berge. Gras en heide groei tussen die rotse wat die landskap besaai. Voëlsang vul die lug. Konyne jaag mekaar oor die heide.

Hy tel ‘n rots op en hou dit in sy vuis vas.

Geen visioene nie.

Hy haal maklik asem.

‘Ons moet ‘n behoorlike tuiste bou. Verwyder die grond. ‘

Hulle skep ‘n groot krater. Met toorkuns help Brody hulle om boorde te plant van pitte wat Hyacinth in Henry se Hof versamel en saamgebring het. Niemand bevraagteken sy ongewone gebruik van toorkuns nie.

Toe hulle ‘n koepel van die aarde bo hul nuwe woning skep, blom die appelbome in hul nuwe boord.

‘Ons sal hier bly,’ sê Brody terwyl Hyacinth die laaste gras op die grondkoepel plant. ‘Ons sal dit Mag Mell noem.’

Die Groene-Feë juig.

‘In ons nuwe huis sal ons ewig-vrugdraende vrugtebome en ewige lente hê!’ sê Juno en glimlag vir hom. Hy tree terug toe die Groene-Feë aanhou juig.

‘Wat doen julle’ op ons heide? ‘

Die Groene-Feë draai as een na die bron van die indringende stem. Hulle word almal swart. Brody sou ook as hy nie beheer oor sy emosies uitgeoefen het nie.

‘n Groep Galno staan net onder die betowerde versperring wat hy opgerig het.

‘Jul heide?’ vra Juno.

‘Aye. Ons het dit eerste gevind.’

‘Nee. Ons bou en woon al meer as ‘n maand lank hier. ‘

‘Ons ook!’

‘Jammer om te hoor.’

‘Julle het vete op hande, lassie!’

‘Gaan weg, jou onbeskofde drommel.’

Die Galno skreeu ‘n oorlog kreet en storm na hulle – en val plat op die grond toe hulle die beskermende versperring teëkom.

‘Ons sal terugkeer! En julle sal weggaan! ‘

Juno wuif vir hulle.

‘Moet ons wagposte instel, Brody?’

‘Soos u wil, my dame.’

Hy sug innerlik. Hulle was vry van Feërie, vry van die wilde towerkuns wat hulle deur tyd, plek en ryke geslinger het. Nou is hulle vasgeval met die vete-liewende Galno as bure. Wonderlik.

##
1775 woorde

Ronel Janse van Vuuren




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed