Jongste aktiwiteit:

Ronnie
vir

Ronnie

Lees meer oor Ronnie

Februarie 2019 projek

1.Oorlat

“Dis maar ʼn valerige plekkie.” merk manlief diplomaties op toe ons Volksrust binnery.

Ek glo dat die dorpie eens heelwat anders daarna uitgesien het as vandag. Ek herroep die skoon breë strate, netjiese huise en goedversorgde tuine van talle soortgelyke dorpies uit my jeugdae. Vandag lyk hulle verwaarloos, vuil en deurmekaar, daardie dorpies waardeur ons ry, van wie ek die name dalk nog sou kon opspoor in donker geheue gange as hulle nie verander het nie. Verandering is nie maklik nie. As iemand die kaas skuif, en jy vee nie jou korreltjies moed bymekaar en gaan soek dit nie, dan gaan jy vrek van ellende. Is verandering regtig verandering? Wat is in ʼn naam? Of jy hom shuffle of bloody spade noem, dit bly mos steeds ʼn graaf.

“Hoekom het jy nou juis hier bespreek vir die aand?” vra hy toe ek niks sê nie. “Newcastle is net ʼn paar kilometer verder, dalk sou dit beter gewees het om daar te oornag.”

“As ons in Newcastle oornag het, het ons Amajuba misgery en ek wil more eers daar ʼn draai maak voor ons aanry.” verduidelik ek vir die duisendste maal, luister hy ooit na ʼn woord wat ek sê?

“Wat is nou weer so belangrik aan Amajuba?”

Daar het ek die antwoord, die man luister gʼn niks. Ek begin sing “I talk to the trees but they don’t listen to me”. Hoeveel keer moet ek nog hierdie appeltjie skil? Ek weet, al vertel ek hom nou van Amajuba gaan hy teen moreoggend weer vergeet het. Hy gaan die motor aanskakel en ‘huis’ intik in die slim tannie wat al die paaie ken, en ek sal hom weer moet herinner ons moet eers Amajuba toe, en dan gaan hy my weer vra hoekom.

Hy kyk vraend na my en ek maak of ek hom nie sien nie. Ek staar na die vuil strate met slaggate en verwaarloosde huise sonder tuine.

“Dis iets met die Anglo-Boereoorlog te doen, Pa” kom dit van die agterste sitplek.

“Watter een?” vra hy en ek is verbaas dat hy darem onthou dat daar meer as een was. Ek kan my kinders hulle onkunde nog verskoon want as dit ook nie vir my was nie sou hulle gedink het hulle land het eers in 1994 tot stand gekom. Alles voor dit was soos voor die skepping, woes en leeg en niemand vertel regtig wat aangegaan het nie. Almal praat asof hulle weet, maar meestal maak hulle dit op soos hulle aangaan. Dis my selfopgelegde taak om my kinders in te lig.

Wanneer vakansiepaaie die bordjies van vergete slagvelde of konsentrasiekampe, of boesmantekeninge of waar Vasco de Gama geland het op ons pad bring, draai ek af. Ek is lief vir die dinge van gister, want dit help my om sin te maak van die deurmekaar van vandag en wat om nie weer aan te vang more nie. Nie eers ʼn donkie stamp sy voet meer as een keer teen dieselfde klip nie, en almal weet ʼn donkie is onnosel. Ek lees baie oor die gisters van die hele wêreld, en is dankbaar as iemand belangstel as ek daaroor gesels, dalk is daar tog hoop want dit lyk asof die Prediker reg was toe hy gesê het daar is niks nuuts onder die son nie. Mense leer nie uit hulle eie of ander se foute nie en so vind ons oor en oor die wiel uit en kom ons nooit by die vliegtuig uit nie. Daarom moet ons by Amajuba stop en daarom moet my gesin weet wat daar gebeur het. Ons is nie meer onnosel as donkies nie.

Ek sug en begin die storie by die 1820 Engelse setlaars. Na ʼn paar sinne onderbreek manlief my.

“Ja maar wat het dit nou met Amajuba te doen? Gaan ry jy nou weer Kaïro om? Kan jy nie net reguit Kaap toe gaan nie?”

Ek vervies my.

“Jy’s nou soos daai predikante wat ʼn versie hier en ʼn versie daar gryp en dit ʼn preek noem. Elke ding moet binne sy konteks gesien word, anders kry mens ʼn skewe prentjie en maak jy dom besluite en herhaal die geskiedenis hom oor en oor en leer niemand uit hulle foute nie en ..”

“Okay! Okay! Vertel nou maar die storie soos jy wil. Ek het net ʼn eenvoudige vraag gevra en gehoop op ʼn eenvoudige antwoord, nie ʼn geskiedenisles nie.” Ek kan hoor en sien hy is ook nou geïrriteerd.

“Wees bly ek begin nie by die Hugenote, of nog beter, by Jan van Riebeeck, of wag by Adam en Eva nie” brom ek en vou my arms oor my bors – my manier om te wys ek het ‘n stilstuipe aanval. Hoekom dink almal die geskiedenis is eenvoudige, kortpad stories oor ʼn dingetjie hier en ʼn dingetjie daar?

Stilte….. twee stopstrate ver se stilte.

“Okay, vertel nou verder.”

Ek ignoreer hom.

“Toe Ma!” kom dit van die agterste sitplek, en ter wille van my oningeligte kinders begin ek weer by die 1820 setlaars.

Ek maak nie onnosel kinders groot nie.

Geskiedenis is soos die Bybel, as jy nie na die prentjie in konteks kyk nie gaan jy die kat aan die stert beetkry en dan is die duiwel een of ander tyd weer brieklos.

Alles is verbind met ʼn oorlat … soos Eva wat verbode vrugte geëet het oorlat sy ook wou slim wees, en toe word almal uit die paradys gejaag … en oorlat almal uit die paradys gejaag is val Jerigo se mure oorlat almal toe huisloos en landloos vir kwaadgeld die wêreld vol rondswerf … en oorlat Jerigo se mure geval het, het Judas soene uitgedeel oorlat hy ook sy eie idees gehad het van hoe dinge eintlik moet wees … en oorlat Judas linker wange gekus het gaan daar vier ruiters kom … en dan gaan…. oorlat ….

Amajuba was nie die begin nie, dit was ook nie die einde nie. Amajuba het gebeur oorlat die Engelse agter die goud en diamante aan was…. en oorlat die Englese op hulle herrie gekry het by Amajuba is daar toe weer ‘n oorlog oorlat die Engelse nie daai skatte wou opgee of daai verloor gelaaik het nie …. en oorlat die Boere die tweede oorlog verloor het veg hulle voort en word ons ‘n Republiek oorlat die volkie hier aan die suidpunt van Afrika gʼn niks knie buig vir ʼn Queen oor die waters nie en oorlat hulle veg vir hulle volk, taal en kultuur …. en oorlat ons ʼn Republiek word toe maak ons met ander soos die Engelse met ons gemaak het en toe word ons ‘n Demokrasie oorlat die ander volke in die land nie langer hul knie wou buig soos derderangse mense nie …. en nou gaan …. oorlat …

Natuurlik is daar ʼn hele rits oorlatte tussenin maar mens kan nie elke keer Kaïro om ry as jy Kaap toe wil gaan nie.

Die volgende dag het ons by Amajuba uitgekom … oorlat ek dit so wou… oorlat my pa en ma en onnies my vertel het hoe die dapper Boere die Engelse daar bloedneus geslaan het …. en daarna … oorlat….

Daai plek was eens die Mecca van elke ware Voortrekker en Bloubloed Afrikaner. Daar is nagwake en parades en kampe en kerk en feeste gehou want … wel … oorlat. Nou is dit ‘n verwaarloosde, vergete plek want wie worry nou oor die Boere en die Engelse se oorlog? Dis lank gelede oor en verby. Ons het ʼn nuwe oorlog … ons moet nou veg vir ons volk, taal en kultuur oorlat dit bedreig word … want …. oorlat.

En sal jy glo, daar herhaal die geskiedenis homself daai dag. Die ouer garde, dis nou ek en manlief, maak dit toe net so derde teen Amajuba uit, maar die jonges storm hom uit tot bo. Jy sien, met die oorlog jare gelede, het die Boere-ooms sommer met die eerste oogopslag gesien teen die kop kom hulle nie uit nie. Toe lê hulle onder teen die kop en skiet die wit rook uit die Kakies sodat die jongeres tot bo kan storm en die Kakies behoorlik kan bykom. Ons word vertel die Boeroompies kon skiet, want ʼn ou wat nie kon skiet nie het honger gaan slaap.

Terwyl ek daar teen die hang sit en wag vir die verslag en selfoonfoto’s van bo (mind you met ʼn wandelstok nie ʼn roer of vlag in die hand nie) toe besef ek Prediker was ʼn baie wyse man.

Amajuba mag dalk nou vergete, soos daai skildery van De Wet, Cronjé en De La Ray in die donker gang hang, uit die oog en uit die hart, maar die perde so oë lyk nog steeds moeg want die stryd om vrede het nog nooit opgehou nie. Ons veg wragtig nog steeds dieselfde oorlog as wat die Boere en die Engelse daai dag geveg het, net die vyand en slagveld het verander. Nou ja toe, daar is niks nuut onder die son nie, want ….

… daar is altyd ʼn blerrie oorlat …. en oorlat …. en …. oorlat … en dit net oorlat Eva nie die verdomde slang in sy maai gestuur het nie…

Ronnie

 

3.Sandloper

Juliemaand in die bosveld. Skoolvakansie. Laat lê, rondlê, niks-doen-dae – wat ʼn wonderlike vooruitsig vir ʼn moeë tiener siel, maar Pa het ander planne.

“Ons moet more vroeg roer. Die dae is kort en ons het baie loop om te doen.” groet hy my wanneer ek met my skooltas en koshuiskoffer die kombuis instrompel.
“Hoekom?” vra ek verslae. My eksamen moeë brein delf diep, soos ʼn langafstand atleet oor die laaste honderd meter. Dit moet seker die jaarlikse beeste skuif wees. Elke winter jaag ek en Pa die beeste vyf-en-twintig kilometer na Oom Byeboer se plot wanneer ons eie plot se weiding uitgetrap is.

Oom Byeboer het nie beeste nie, ook nie bye nie en hy boer nie rêrig nie. Hy en pa werk saam op die myn. Oom Byeboer is een van daai mense vir wie tyd ʼn mite is. Hy gebruik nie ʼn horlosie nie, hy gebruik ʼn almanak. Dis nou weer my pa met sy byname vir almal wat met Byeboer begin het. “Jan,” dis sy regte naam, “maak nou heuning” vertel Pa vir die myners in die werkswinkel “maar julle moet julle bestelling vroegtydig plaas, daar is ʼn lang waglys want hy het net een by.” Oom Byeboer lag saam. Almal ken my pa, die man met die skerp sin vir humor, die kort humeur wat gou weer goed word en die groot hart: “Hy sal sy laaste flenter onderbroek weggee vir ʼn ander” kla Ma gereeld.

“Gaan ons nou weer beeste jaag?” vrae ek. Dis nie só bad nie, dis net een dag se vroeg roer. Ek kan dít doen al is ek nie lus vir die ver stap in die son nie, dink ek.
“Nee, ons gaan rieme brei”
Pa drink behaaglik diep uit die koffiebeker, oë toe van lekkerkry. Ek weet nou hoe voel ʼn ballon wat met ʼn naald gesteek word en bars.
‘Paaaa!” kerm-kreun ek. “Dis vakansie!”
“Ek weet”
“Daar is net twee weke van vakansie en volgende week moet ek op die hokkietoer gaan!”
“Ek weet”
“Ek het net één week van regtig vakansie!”
“Ek weet”
“Rieme brei is ʼn week se werk!”
“Ek weet”
“Hoekom kan Jack pa nie help nie?”
“Hy het nie vakansie soos ek en jy nie.” Jack werk saam met Pa op die myn maar bly by ons op die plot. Sy vrou werk vir Ma in die huis en hy doen tuinwerk Saterdae. Niemand werk op ʼn Sondag op hierdie werf nie.

Ek probeer nog ʼn keer uitwurm. “Pa ek het by Wilma die nuutste James Brown boek geleen en moet hom volgende week terug gee. Wanneer gaan ek tyd kry om hom te lees? Komaan Pa, ek kry nooit tyd in die kwartaal nie, dis net skool en sport en koor, heeldag lank en dan naweke is dit altyd sportbyeenkomste.”
Pa se rieme bind styf. “Jy het die hele aand om te lees. Ek belowe ons sal jou nie pla nie. Ek sal nie een maal vra vir koffie nie. Die jagseisoen het begin en die manne gaan nuwe velle bring. Ek sit nog met ʼn hoop velle van laas jaar. Ek wil nie te ver agter raak nie. Die ouens wag vir hulle rieme.”
“Kan ons dan nie in die Desembervakansie rieme brei nie? Ek sal Pa help al vat dit drie weke. Dan brei ons laasjaar se velle en sommer die jaar sʼn ook.”
“Kom nou Patrys, jy weet Desembermaand is helmaand. Ons kan nie van sonop tot sononder rieme brei nie, die son sal mens wragtig doodbrand.”
Ek weet wanneer om handdoek in te gooi.

“Hallo Pa”
Hy lag en gooi sy arms wyd oop vir ʼn stywe druk soos net hy kan gee.
“Hallo Patrys”. Hy ruik na doringbome, son en veld. Ek hoor sy hart klop ritmies op die plek waar ek die veiligste in die wêreld voel – omsingel in sy arms, styf teen sy bors.
“Hoe lyk die rapport?” Pa vra altyd, maar behalwe as ek dop, wat nog nooit gebeur het nie, stel hy nie regtig belang nie.
“Deur is deur, vir wat moet die kind nou A’s en B’s kry?” is sy reaksie as ander begin vra oor persentasies en prestasies.
“Okay, ek is deur, Pa” mompel ek teen sy bors.
“Gaan bêre jou tasse in jou kamer” sê Ma terwyl sy haar handsak met een hand op die kombuiskas neersit en met die ander die stoofplaat aanskakel. Sy doen altyd tien goed gelyk. Ek word sommer moeg as ek net saam met haar in dieselfde vertrek is.
Dit kon erger gewees het, besef ek. Ma kon besluit het ek moet haar eerder help huis skoonmaak, ma-style. Ek sou heeldag kaste pak en mure was en afstof en meubels politoer. Dan eerder rieme brei saam met Pa in die veld.

Met Genis, ons hoenderhaan, se eerste kraai sit Pa die koppie koffie op my bedkassie neer. “Kom, Patrys, die morestond het goud in die mond.”
Hoe is hy so vroeg al so opgewek, wonder ek vies. Daar is sielkundig groot fout met mense wat so vol lewe is nog voor die son behoorlik op is. Ek kreun saggies sodat hy kan hoor ek is soort van wakker.
“Ma bak al die eiers, die pap is klaar gemaak en die wors is gaar. Moenie te lank draai nie, anders is die eiers koud en dit proe soos ʼn klap op die bek”.
“Ek kom, Pa.” mompel ek onder my kussing uit.

Dis nog donker toe ek en Pa die voetpad vat deur die veld. Pa dra die bos ongebreide rieme oor sy skouer en die erdekannetjie varkvet. Ek strompel agterna met sy FMpie en die mandjie met koffie, water, bekers en koekies. Ma sal middagete bring.
“Kyk mooi voor jy jou voet neersit, Patrys. Nie alle slange slaap al nie,” kom die bekende waarskuwing van Pa. Vandat ek knee-high to a grasshopper was hoor ek hierdie woorde elke keer as ek my voet by die huis uitsit.

Boesman kom verby my geskuur in die nou voetpaadjie, stamp my amper om. Hy het ook gou sy ontbyt afgesluk.
“More Oubaas se honne,” groet Pa die boerboel toe hy sy groot lyf by Pa verbyskuur.
Ek sug. Ek is lief vir Boesman, maar hy kan die wêreld moeilik maak vir ʼn mens. Soos die keer toe hy die bosvark gestorm het en toe self gestorm is. Hy het oop-en-toe na my gehardloop vir beskerming en ek het hom net betyds opgeraap en in die boom geklim. Gelukkig was hy nog ʼn puppy, want nou sal ek nie eens sy voorpoot opgelig kry nie. Ons het vir twee ure in daai boom gesit terwyl die bosvark al om die boom geloop het en ons met wrede varkogies aangegluur het. Of daai keer toe hy die bobbejane bestorm het. Die mannetjies het omgedraai en vir hom gekom. Weer het hy my vleuels van beskerming kom opsoek. Gelukkig was die bobbejane se vrees daai dag groter vir die .22 skoot as hul woede vir Boesman.

ʼn Patrys skiet skielik skreeuend die lug in waar Boesman sy kop onder ʼn bos indruk, reg voor Pa. Die kosmandjie val en die blikbekers kletter soos R4 skote. Pa trap hoog van skrik. Hy weet nie waar die gevaar nou eintlik is nie … voor by die gedoente wat uit die bos bars of agter hom waar daar geskiet word.
“Bliksemse hond!” skree Pa toe die skrik gaan lê. Boesman draai om toe hy sy naam hoor en kyk trots na Pa. Dit lyk kompleet asof hy vra “het jy gesien wat het ek gekry?”

Ek probeer baie hard my lag sluk waar ek kop onderstebo die spyse en dranke weer in die mandjie pak. Pa hou nie daarvan dat mens vir hom lag nie. Dit kom uit sy kinderdae toe sy stiefpa en -boeties hom so genadeloos gespot en verpes het.
“Ja toe lag en kry klaar” brom hy en begin weer aanstryk. Ek wag totdat hy om die draai verdwyn waar die voetpad kronkel om die reuse hardekoolboom en gee stem aan my lag. Ek spoor die laaste blikbeker onder die marretlabos op en begin weer aanstap.

Ek sien skielik die mooi om my. Die oranje, pienk en grys lug waarteen die hoogste boomtakke swart silhoeëtte maak. Die voetpad wat witsand kronkel deur die vaal bosveldgras en doringbosse en ek ruik diep teue aan die soet geur van die veld. Ek wil dankie sê vir iemand vir die mooi, maar my jongmens hart, nog letselvry van die lewe se seer, kom nie dadelik op met Wie die mooi in die môre sit nie.

Pa is al doenig met die rieme en breiklip onder die geelhoutboom toe ek hom inhaal. Van Boesman is daar geen teken nie en ek hoop hy los die ratels, muishonde, bobbejane en goeters uit, ons het genoeg opwinding gehad vir vandag.

“Klim jy nou op en dan gooi ek vir jou die riem.” gee Pa sy eerste instruksie.
“Boomklim was in my prille jeug laas lekker, Pa.” merk ek droog op terwyl ek die kosmandjie langs die afgebreekte tak, ons bosstoel, neersit.
“Hou op slim wees en sit daai mandjie op die tak, die miere is netnou oral in alles in.”
“Op die tak of op die grond, die miere sal die kos uitruik en kom.”
“Jy’s weer baie bekkig vanmore. Onthou ʼn toebek is ʼn heelbek.”
Ek glimlag. So skerts ons met mekaar in die gesin. Mense wat ons nie goed ken nie dink ons is heeltyd aan’t bakleie.

Ek sit wydsbeen oor die dikkerige tak. Pa het die bos los rieme aanmekaar vasgebind sodat dit nou ʼn ellelange velslang is. Hy gooi die punt op, ek vang hom, gooi hom oor die tak en laat sak weer vir Pa. Hy druk hom deur die afgesaagde mik van ʼn knoppiesdoringboom wat hy aan ʼn groot klip met bloudraad vasgedraai het. Die mik staan regop op die klip sodat ʼn driehoek vorm. Dit laat my dink aan driehoeke in meetkunde en ek voel naar en wiskunde maak my siek. Om en om en om… gooi op … oor die tak … gooi af … deur die mik … gooi op…
“Hoeveel rieme het Pa hier beet?” vra ek ongeduldig. Taksit is nie gemakliksit nie en ek is elke keer bang ek verloor my balans as ek moet rek om die riem se punt te vang.
“Amper klaar” sê Pa en gooi weer die riem se punt vir my.

Terwyl ek afklim bind Pa die lang riemslang se begin en eindpunte aan mekaar en kom moeisaam orent. Sy rug is nie meer so soepel nie, hy word oud. Wórd oud? Hy ís stokoud. ʼn Volle sewe-en-vyftig jaar. In my vyftienjarige oë was Pa en Metusalem saam op skool.
“Nou ja toe, laat ons begin. Ek wil nog klaarmaak terwyl ek lewe.”
Pa druk die stok, wat hy sorgvuldig uitgesoek het net soos die mik en die breiklip, deur die driehoek en begin stap. Die riembrei sirkel is al mooi uitgetrap van elke jaar se stap. Pa sê hy skat ons stap maklik van Thabazimbi tot in Pretoria as ons ʼn bos rieme brei.

“Patrys, sit aan die draadloos, op RSG. Dis tyd vir die nuus, laat ek hoor wat jaag die Engelse nou weer aan. En skink vir my koffie, dan kom vat jy oor.”
Die Engelse, is in Pa se oë, vir alles wat verkeerdgaan verantwoordelik. As jongman, voor ons Republiek geword het, is Pa een aand in die fliek gearresteer omdat hy geweier het om op te staan vir God Save The Queen. Die grootste belediging wat Pa vir iemand kan gee is om hom ʼn joiner te noem. Ek dink nie Pa weet die Anglo-Boereoorlog is verby nie.

Ek neem die stok by Pa en gee my eerste tree vir die dag op die rondomtalie riembrei pad … om en om. So wen die rieme op en begin lyk soos ʼn reuse koeksister, terwyl die klip hoër lig. Nog so aan die begin kan ek maklik stap tot die rieme nie meer kan koeksister nie, maar hoe meer hulle uitrek, hoe hoër lig die klip, later gaan Pa die laaste sirkels moet loop want dan gaan ek nie meer bykom met die paal nie.

“Hokaai maar. Trek uit die stok en gee pad, daai klip gaan nou wyd slinger,” maan Pa van waar hy op die afgebreekte tak sit. Die nuus en koffie is klaar.
Ek trek en rem, maar kry nie die stok beweeg nie.
“Jy moet meer pap eet.” sê Pa en gee een pluk.
Die rieme ont-koeksister en die klip swaai wild en wyd. Ons staan en kyk … en wag. Dan begin die klip in die teenoorgestelde rigting draai en wen die rieme weer op. Pa hou dit fyn dop. Net voor die klip tot stilstand kom en weer begin afdraai, steek hy behendig die stok deur die mik en begin in die ander rigting stap … om en om… Ek neem oor by Pa na die derde rondte.

“Hoeveel ure het Pa al so rieme gebrei in Pa se lewe?”
“Baie. Ek brei al rieme vandat ek sewe jaar oud was. Ek en Tjabalang het altyd sy pa gehelp. Ou Maseko het my geleer.”
“En Pa se ander boeties, het hulle ook gehelp?”
“Nee. Ek wou ook nie hulle hulp gehad het nie. Riembrei is ʼn privaat ding, Patrys. Mens moet mooi dink met wie jy jou rieme brei.”

Pa het ‘n ver uitdrukking in sy oë en ʼn hartseer trek om sy mond. Ek weet hy praat nie graag oor sy grootwordjare nie. Dit was nie lekker onder sy stiefpa nie. Pa praat nooit sleg van hom nie, maar Ma het my al vertel hoe hy vir Pa op winteraande uit die huis gejaag het omdat die beeste nie water gehad het nie. Hoe Pa in die kraal tussen die koeie en kalwers geslaap het in sy kortbroek en kortmouhemp, styf teen die koei vir hitte. Hoe Ouma vir hom kos uitgesmokkel het. Ek het nooit vir Oupa Frans geken nie. Dis nie ʼn groot gemis in my lewe nie.

“Dit was lekker om rieme te brei langs die Matlabas so op my eie.” praat Pa aan: “In die begin het ek en Thabalang gespeel, geswem, in die veld gestap en ou Maseko het al die werk gedoen. Later, toe ons ouer word, het ons meer en meer gehelp, tot ek later alleen gebrei het.”

“Maar hoeveel ure, Pa? Hoeveel minute? Hoeveel sekondes? So baie soos die sand hier onder die boom?”
“Nee, nie soveel nie.”
“Soveel soos daar sand in ʼn uurglas is?”
Die rieme krul en draai soos ek dit opwen en lig die klip al hoër. Pa kom neem oor en ek gaan gooi vir my water in die blikbeker. Lekker soet water diep uit die bosveldgrond.

“Wat weet jy van ʼn uurglas?” vra Pa terwyl hy die stok uittrek en die breiklip tollend die rieme begin afdraai en uitrek.
“Ons het ʼn gedig gedoen daaroor.”
“Wat is daar nou te dig oor ʼn uurglas? Drink klaar en kom vat oor.”
Ek sluk vinnig en vat die stok by Pa. Ek begin weer my sirkelstap.
“So waaroor gaan die gedig?”
“Dit gaan oor die uurglas van liefde wat uitgeloop het vir ʼn man en vrou en nou gaan hulle skei.”
“Watse stront leer hulle julle op skool? Dis seker een van hierdie nuwerwetse goed. Die gedig rym seker ook nie eers nie. Dis mos nou kuns. Skryf ʼn klomp woorde neer en noem dit ʼn gedig. Gooi verf op ʼn doek en noem dit ʼn skildery. Wie het die ding geskryf?”
“Karel Boskriek, dis sy skryfnaam, ek kan nie onthou wat sy regte naam is nie.”
“Nou wat se naam is dit? Dig seker soos sy gat, as mens dit dig kan noem. Hoekom doen julle nie die verse van Langenhoven, of van Van Wyk Louw of Totius nie? Dis nou mense wat kón dig!” reageer Pa driftig.
Sy God, sy land, sy mense, sy taal, die Dopperkerk en die Bloubulle lê hom na aan die hart. Mens mors nie met daai goed waar Pa by is nie.

“Wat weet daai poepol van dig of liefde? Ek sal jou sê, hy weet boggerôl. Verbeel jou, die uurglas van liefde wat leegloop. Dis presies wat fout is met die wêreld, Patrys. Mense weet nie van liefde nie.”
“Seker so, Pa. In die een kortverhaal wat ons gedoen het, het die ou gesê liefde is aanhou beweeg en geraas maak. Ek dink hy weet ook boggerôl van liefde, behalwe as hy seks bedoel.”
Pa se kop ruk asof iemand hom geklap het en ek besef te laat seks is een van daai dinge waaroor Pa nie met my wil praat nie. Ek laat sak my kop en leun teen die stok op my sirkelstap op die bosveldsand.
“Nou my donner, daar het jy dit.” Pa skud sy kop en skyf reg op die afgebreekte tak. Ek ken daai skuif. Hier kom Pa se wyshede. Ek sug en kringstap voort.

“Patrys, liefde is nie daai vlinders in die maag en hart in die keel nie. Daai, my kind, is net hormone en emosies. Luister jy nou mooi vir jou pa vandag. Liefde is respek en vertroue. As daar nie respek en vertroue is nie, kan daar nie liefde wees nie. As ʼn man jou nie respekteer of vertrou nie, het hy jou nie lief nie en jy los vir hom net daar, en dit moet jy altyd onthou. Liefde het ook nie ʼn uurglas nie, dit hou nie op nie. Dit bly vir ewig en ewig. ʼn Mens het ʼn uurglas, en al loop hy uit en sit jy in die hel of die hemel, lief sal jy bly. God sê so in die Bybel. Liefde vergaan nooit. Hoor jy my, Patrys?”

Ek knik my kop en begin op my tone loop soos die rieme die klip hoër trek.
“Wanneer mense dink daai maag fladders en hartkloppings is liefde, dan trou hulle sommer holderstebolder, kort voor lank is die vlinders weg en begin hulle oë dwaal en dan kom daar ʼn ander een wat weer vlinders in die maag sit. Dis dan wat hulle mens vertel die liefde se uurglas het uitgeloop en gebruik hulle dit vir ʼn rede om te skei. Stront, man.”
“Ja, Pa.”
Pa staan op en kom vat aan die rieme. Ek sirkelstap voort op my tone.

“As hy nou afgedraai het moet ons vet smeer voor ons weer begin opwen. Het jy al ʼn uurglas gesien?”
Dis nou tipies Pa. Praat oor ʼn ding, dan oor iets anders en spring dan weer terug sonder waarskuwing na waar die gesprek netnou al begin het. Vir ʼn oomblik weet ek nie waarom hy my so vraag vra nie, dan onthou ek van die uurglas gedig.
“Net ʼn prentjie, Pa.”

Hy gaan sit weer op die gebreekte tak en skink ʼn koppie koffie.
“Jou Ma sal seker nou hier wees met die kos. Ek kan nie glo die stront wat Jan Bosluis kwytraak nie, sy brein is seker nie veel groter as die van ʼn bosluis sʼn nie.”
“Karel Boskriek, Pa, nie Jan Bosluis nie” help ek laggend reg.
“Bosluis, Boskriek wat is die verskil? Altwee is donnerse plae. Verbeel jou ʼn uurglas van liefde. Simpel donner.”

“Jy praat so voor Patrys, more praat sy agterna en sit jy ek en jy in die hoof se kantoor en luister na klagtes oor skeltaal van ons kind.” nie ek of Pa het vir Ma gesien aankom nie.
Pa glimlag breed en sy oë skitter as hy vir Ma ʼn stywe druk gee. Na baie jare se eg is hy en sy steeds lief vir mekaar, miskien weet Pa meer van liefde as die skrywers, besef ek.

“Watter Engelsman vloek jou Pa nou weer, Patrys? Los nou daai vrot rieme en kom eet eers.”
“Nee, Ma dis ʼn digter wat ʼn gedig geskryf het oor die liefde se uurglas wat leeg geloop het, dis nie ʼn Engelsman die keer nie.”
“Sy voorsate was seker almal joiners” sê Pa so om die hap boerbrood met koue vleis, kaas en tamatie.

“Moenie so met ʼn mondvol kos praat nie. Weet jy wat is ʼn ander woord vir uurglas, Patrys?”
Dis nou Ma, sy ly aan slaaploosheid en sit nagte om in die kombuis en vul blokkiesraaisels in. Sy het altyd ʼn ander woord vir iets.
“Nee, Ma”
“Sandloper.”

“As jy nou weer in die skool is dan sê jy vir daai onderwyser Piet Sandluis is ʼn dom drol jy wil eerder van Totuis leer.”
Ma gee Pa net een kyk. Daai kyk wat net sy kan kyk.
“Maar ek trek jou gat velle af as jy vloek” Pa besef te laat hy het weer gevloek. “My ou liefie dit was die lekkerste broodjie wat ek nog ooit geëet het, het jy iets anders gedoen toe jy hom gebak het?”
Ek staan op en stap tot agter die boom sodat Pa nie kan sien hoe ek lag nie. Ai die twee oumensies.

“Pa, vanaand pak jy daai gangkas reg. Ek en Nukuna maak huis skoon en daar is baie gemors in daai kas van jou. Of jy pak hom reg of ek doen.” Ma is ook dik van die lag, ek kan dit hoor in haar stem.
“Dis reg so Ma, ek en Patrys sal dit doen. Vanaand nog.”
Ek loer geskok om die boom: “Pa het belowe die aande is vir my en ek hoef niks te doen nie.”
“Ag ou Patrysie, help nou net vanaand vir Pa, dan belowe ek, ek pla nie weer nie.”
Ek kan hom nie iets weier as hy so mooi vra nie. Ek besef weereens dat as dit nie vir Pa was nie, het ek nou kaste gepak, mure gewas en meubels gepolitoer.

“Ek kook vir sesuur, sien dat julle by die huis is. Julle moet bad voor julle aansit, ek wil nie die vrotgeit van rieme aan tafel ruik nie.” groet Ma oor haar skouer.
“Reg so my lief. Dankie, die kos was lekker.”

En begin weer die sirkelpad stap, my oë op die bosveldsand onder my voete. Dis anders as seesand, fyner. Strandloper by die see, dan seker sandloper in die bosveld, dink ek. Ek rol die nuwe woord wat Ma my geleer het rond op my tong. Ek is ʼn sandloper. Is ek dan ʼn uurglas? Ek wil vir Pa vra maar besluit daarteen. Hy sal dink ek is ook ʼn dom donner.

“So het Pa al soveel sekondes rieme gebrei as wat daar sand in ʼn uurglas is?” vra ek eerder.
“Hang af hoe groot die uurglas is en hoeveel sand daarin is en hoe fyn die sand is. Hoekom vra jy?”
“Ek wonder maar net of daar nie ʼn vinniger manier is nie. Hierdie ge-in-die-rondte-loop-vir-dae-aaneen is darem ʼn vreeslike mors van ʼn mens se tyd. Ek is seker Pa het al ʼn paar jaar van Pa se lewe so om-en-om omgeloop, en dit vir niks.”
“Riembrei is nooit tydmors nie, Patrys.”
“Ek is bly hulle het tou uitgevind, Pa. Dink net as ons nog net rieme gehad het om te gebruik soos in die ou tyd. Dis heelwat vinniger om ʼn tou te maak as om rieme te brei.”
Pa skuif reg op die tak, ek rol my oë.

“En dit is presies wat verkeerd is met die wêreld, Patrys. Niemand wil meer tyd vat en rieme brei nie. Nee, dis woerts-warts en dan storm almal voort en knoop die goed vas met ʼn tou wat nie hou nie. Hoor jy nou vir my vandag. As mens die tyd neem en jou rieme brei, sal daai riem nooit as te nimmer breek nie. Maar jy moet vir hom reg brei. Brei jy hom vir te kort dan is daar nie buig in hom nie, kry jy niks behoorlik styf vasgebind nie, en dan kan jy hom maar weggooi. Brei jy vir hom te lank dan sit jy te veel rek in hom en kry jy vir hom nie nooit styf getrek sodat hy styf bly nie, en dan is hy ook niskwerd.”

“Nou hoe weet jy hoe lank moet jy hom brei?”
“Jy brei hom tot hy klaar gebrei is. Elke riem het sy eie tyd. Jy moet hom heeltyd kyk en voel en vet smeer. Jou breiklip moet ook nie te swaar of te lig wees nie, anders rek jy hom te veel of te min. Jou stok moet ook nie te lank of te kort wees nie, anders kry jy nie daai rieme styf genoeg gedraai nie of swaai daai klip te wyd en slaat jou dat jy op jou gat sit. Vir riembrei het jy die regte goed nodig en moet jy tyd maak. Jy sal weet as jou riem reg is.”
Ek het nie daardie dag verstaan wat Pa bedoel het toe hy gesê het jy moet jou rieme brei tot hulle reg is nie, dat jy moet seker maak jy het die regte breiklip en stok nie en dat riembrei, al neem dit tyd, nooit ʼn mors van tyd is nie.

Pa se breiklip lê al amper agtien jaar vergete onder die geelhoutboom. Die laaste rieme het hy alleen gebrei, ek was in Johannesburg op universiteit. Ek wou die breiklip vir sy grafsteen gebruik, maar Ma en Sus en Boet het gesê ek moet nou nie kommen wees nie. Die granietsteen is nie Pa nie, maar dit kon erger gewees het, dit kon ʼn engel of ding gewees het soos die monumente wat party mense op hul geliefdes se grafte bou.

Ek dink nie hulle dat liefde nie ʼn uurglas het wat uitloop nie en wil hulle met al daai engele en heilige pilare op die grafte vir oulaas sê hulle is nog lief vir die een wat daar lê. Ek dink hulle bou daai gedoentes want hulle het nooit geleer onder ʼn geelhoutboom van rieme bry met God en geliefdes en die lewe nie en dat mens moet klaar brei voor die uurglas leegloop.
Gelukkig het Pa my geleer. Ek het nie meer ʼn enkele riem gehad wat ongebreid was toe pa se laaste sandkorrel deurgetregter het nie. Daarom dat ek nie gehuil het nie … nie toe nie, ook nie nou nie. Ek kyk en luister so na die ander om my as hulle van Pa praat en ek kan hoor en sien daar is nog ʼn riem of twee wat gebrei moes word het met Pa, maar die uurglas is nou leeg.

Ek wonder of Pa nog nodig het om riem te brei daar in die hemel. Ek twyfel. ‘n Mens het mos nie meer sorge en kommer en vrae daar nie. Hier op aarde brei ek nog elke dag rieme. Party is sommer gou klaar, maar steeds goed gebrei, nie afgejaag nie. Ander vat tyd …, om en om en om moet ek loop, soms vir jare, soos daai riem met my bestuurder by die werk … ek wen hom op en laat hom afdraai … ek rek hom en smeer hom vet …. voel hom en toets hom …. ek moet net geduldig wees, ek sal weet as hy klaar gebrei is.

Pa het my gehelp om die regte klip te gebruik – die Boek wat ek elke oggend oopslaan, en my stok die verstaan van die woorde daarbinne. Die stok het al gegly en die klip het my al hard getref, sodat ek op my jack sit, maar so leer mens as jy sirkelstap en rieme brei.

Ek wil tog net nie eendag my kop neerlê terwyl daar nog ongebreide rieme rondlê nie. Geen mens weet mos wanneer daai laaste sandkorrel gaan val nie. Daarom brei ek maar die rieme soos hulle oor my pad kom … soos Pa my geleer het …. daar onder die geelhoutboom in die bosveld.

Ronnie

Maart 2019 projek

1.Die groot aptyt

Petrus Enkelblade en sy vrou Sarie, het die Bybel heel mis verstaan. Hulle het nie voort gegaan en vermeerder nie, nee, hulle het voort gegaan en vervuil. Die stadsraad het later twee huise langs mekaar vir Petrus Enkelblade gegee om al die Enkelbladejies te huisves. Toe Petrus, kort na die geboorte van nommer agtien by Dokter Verster opdaag en kla oor ʼn vurige brand op die maag, het die Dokter hom oortuig dit is sy blindederm en net daar en dan sy vreugdes veiliger gemaak, en sommer die oormatige suur op die maag ook behandel.
Petrus Enkelblade is in werklikheid Petrus Swanevelder. As jong seun is hy, na standerd ses, uit die skool en het hy by die Munisipaliteit begin werk ‘op die paaie’. Hy het homself opgewerk totdat hy later die groot padskraper bestuur het. Die dag toe die nuwe angle blade skraper afgelewer is was een van die hoogste hoogtepunte in Petrus se lewe. Trots het hy vir al wat leef en beef vertel dat hy nou die enigste een in die distrik is wat die paaie skraap met ‘n enkelbalde skraper, so word sy opgeblasenheid toe sommer sy nuwe naam.
Petrus Enkelblade se werk op die paaie het hom dikwels van die huis geneem. Sarie moes maar die kindertjies versorre, huis hou en tred hou met almal se doen en late. Wanneer Petrus op ʼn projek gewerk het soos die nuwe pad tussen Rooiberg en Warmbad, het hy net elke tweede naweek by die huis uitgekom en dan het sy loon vinniger verdwyn as ʼn verjaarsdagkoek in die Enkelblade gesin. ʼn Man wat paaie skraap se geld gaan nie ver as dit ʼn troppie kinders moet voed en klee en skooltoe stuur ôk nie. Vir ekstras was daar nie ʼn sent nie, Sarie het ʼn sent gerek tot hy koperdraad was.
Die mense op die dorp het geweet dit gaan maar noustrop by nommer 8 en 9, Krugerstraat en het gereeld ʼn ou ekstra plukselkie groente of vrugte, en hul ou klere wat nog diensbaar was daar gaan aflaai. Sarie en haar kinders het hul eenkant en op hul plek gehou. Nooit voor gesit in die kerk of in die skoolsaal met die skoolkonsert nie, en by die sustersvereniging se dames tees en gemeente etes was hulle die gewillige hande was die skottelgoed gewas het agter in die kombuis. Dit was ongetwyfeld nie vir Sarie of Petrus lekker om so van hand tot mond en op genade van ander te oorleef nie. Ook maar mens, ook maar trots, het hulle gedroom oor ʼn nuwe rok vir Sarie, skoolskoene vir die kinders, nuwe gordyne en ʼn lekkertjie vir elke kinderhandjie. Daarom ook dat Petrus altyd op die uitkyk was vir ʼn ekstra geldjie, ʼn klein gelukkie, ʼn kans in die lewe en daai soort van ding.
So was dit ook die Saterdag toe Petrus daar in die padkamp sit, ver van huis en haard, met geen spaar sent om op die naaste dorp iets mee te gaan drink saam met die ander manne nie. Die padkamp was op die plaas van Dewald Koekemoer. As daar nou ooit ʼn man met ʼn gepaste van was, dan was dit Dewald. Hy was ʼn sterke derduiwel met ʼn humeur korter as ʼn opsitkers vir ʼn onwelkome vryer. Boonop was sy vroutjie ʼn mooie kind. Die manne het almal gekyk, maar was voor die voet te bang vir Dewald om meer te doen as kyk. Die groenoog monster het vir Dewald boonop bloots gery en hy het gʼn man of seun bo veertien naby sy Dina vertrou as hy nie by was nie, wel bykans niemand nie.
Die Munisipaliteit het vir Dewald goed betaal vir die huur van ʼn stukkie van sy grond vir die tydelike padkamp, water en alles wat die werkers gebruik het, en Dewald was nie té ontevrede oor die manne op sy grond nie. Veral nie nadat hy dit baie duidelik gemaak het dat enige een van hulle wat na sy Dina se kant toe loer of haar net waag groet, aan hom sal moet rekenskap gee, nie. Die feit dat hy hierdie woorde geuiter het terwyl hy die agterkant van die ingenieurkie se Ford in die lug gehou het in sy twee hande terwyl twee ouens die pap band vervang het, het ʼn groot indruk gelaat op die manne. Die enigste een wat nie daar was toe dit gebeur het nie was die ingenieurtjie, en hy was ook die enigste een wat ooit welkom was om op Dewald se werf te kom. Die mannetjie was juis in die huis saam met Dina, besig om koffie te drink toe Dewald die werkers onder vier oë gespreek het oor sy vrou.
Die betrokke Saterdag, toe Petrus so in die padkamp op sy eie sit, dink hy dit sal seker nie ʼn slegte idee wees as hy so bietjie in die rivier gaan afkoel nie. Dis nie asof hy iets anders het om te doen nie. Met ʼn verbleikte handdoek oor die skouer en sy ou slaapbroek in die hand stap hy heel rustig aan en dink dat hy vir Mielie moes gevra het of hy sy visstok kan leen, ʼn vars paar kurpers of ʼn groot karp oor die kole sou nou vorentoe gesmaak het. Miskien kan hy dit more doen. Die swem- en badplek in die rivier is geleë waar die Krokodilrivier skerp kronkel na links. Daar is ʼn groot Witstinkhout en ʼn sanderige strandjie. Net voor Petrus deur die boskaas wat langs die rivier groei uitkom, hoor hy mense lag. Hy is effens teleurgesteld want hy het gedink dit is net hy wat agtergebly het toe die klomp agter op die vragmotor geklim het en dorp toe is. Miskien sal hy tog nog kan swem, dink hy en gaan lê plat en seil op sy maag die laaste paar meter na die rivierwal. Versigtig stoot hy die buffelgras weg en kyk af op die klein strandjie, hy wil eers sien met wie hy die swemplek gaan deel, netnou is dit Dina en Dewald, mens loop nie onverhoeds in so ʼn hinderlaag in nie.
Sweis du Plooy, die jong ingenieur wat die projek bestuur en Dina Koekemoer swem laggend in die koel waters…. hul klere lê vergete onder die Witstinkhout. Petrus was nie die skerpste potlood in die blikkie nie, maar heeltemal stomp was hy ook nie. Desperate mense vang dikwels iets onnoseliks aan sonder om te besef dat die rol twak wat hul optel eintlik ʼn dinamietkers is waarvan die lont brand. Terwyl Petrus so lê en kyk vir die twee kry hy ʼn idee wat hy eerder nie moes gekry het nie. Hy het net lank genoeg gelê om seker te maak die twee doen meer as swem en toe hulle baie besig is om te doen wat skelm vryers doen, kruip hy na die boom, raap Sweis se binnebroek vinnig op en vat koers padkamp toe.
Maandagmore, toe die manne aantree om hul instruksies te kry van die voorman wat dit op sy beurt van Sweis gekry het, vra Petrus of hy met die ingenieur kan praat. Ben Brand, die voorman, hou nie daarvan dat die manne die ingenieur se tyd mors met onbenullighede nie en wil eers niks weet nie, maar Petrus hou voet by stuk by móét vir Mnr. du Plooy sien voor hy vandag in sy enkelblade klim.
Petrus het ingestap in die sinkkantoor waar Sweis gesit en papiere teken en planne bekyk het. Sonder om ʼn woord te sê het hy Sweis se binnebroek op die lessenaar gesit. Woorde was nie nodig nie. Toe Petrus die kantoortjie so rukkie later verlaat was Sweis witter as die papiere op sy tafel en Petrus se glimlag amper reg rondom sy kop.
Toe die weeklikse lone betaal word was Petrus se koevertjie bietjie swaarder en die ingenieur sʼn ʼn bietjie ligter. Daardie naweek was daar groot vreugde in die Enkelbaldes se huise. Daar was ʼn lekkertjie vir elke klein handjie, en vir Sarie ʼn nuwe paar skoene, kontant gekoop by die Jood se winkel. Twee weke later het Sarie ʼn nuwe rok, handsak en hoed, alles pas mooi bymekaar, en vir elke kindjie wat in die skool is, nuwe kleurpotlode. Ja, Petrus het sy kans gesien en geneem en sy gesin trek goed voordeel.
ʼn Joernalis het eendag vir ʼn miljoenêr gevra wanneer is genoeg geld genoeg, waarop die miljoenêr geantwoord het: “Nooit nie. Soos jy meer geld kry, so raak jou aptyt groter.” Petrus Enkelblade was ʼn sprekende voorbeeld. Vir ʼn maand of wat het die ekstra geldjie sy mond dig gehou en was hy tevrede. Maar skielik was dit nie meer genoeg vir Sarie om ʼn rok by die Jood te koop nie, sy wil een laat maak soos die ander vrouens by Bettie Steyn. Elke Enkelbladejie wil ook nie net meer ʼn toffie of nikkerball kry nie, nee, dis nou sjokolade en roomys. So stap Petrus weer een Maandagmore in by die ingenieurtjie en vra ʼn groter stukkie van díé se salariskoek.
Die ingenieurkie het gesluk en samestellend probeer verduidelik van motorpaaiemente, petrolgeld, klererekenings, losiesgeld en sulke dinge, goeters waarvan Petrus nog nooit gehoor het nie en hom nie aan gesteur het nie. Sweis het geweet as Dewald te hore kom van hom en Dina gaan daar bloed vloei, en dit gaan nie Dewald sʼn wees nie. Daardie Vrydag is Petrus se loonkoevert nog ʼn bietjie dikker en die ingenieurtjie sʼn opmerklik kleiner.
Weereens het dit vir ʼn rukkie goed gegaan. Petrus was gelukkig, die Enkelbalde kindertjies was gelukkiger en Sara was die gelukkigste. Nuwe sitkamerstel, nuwe gordyne en beddegoed, nuwe klere, ʼn spens vol kos. Niks om oor ongelukkig te wees nie. Sara word verkies op die bestuurspan van die vrouevereniging en dit is Koos Poggenpoel se vrou en kinders wat nou die skottelgoed was in die kombuis. Met verhoogde status kom ekstra uitgawes. Daar is ʼn groot vergadering van die streek se vrouevereniging in die buurdorp. Sara het nuwe uitrustings nodig en dan nog die kostes van vervoer en verblyf. Hannie, die oudste van die Enkelblade kroos het ʼn vryer en gaan Saterdagaande dans, nuwe uitrustings vir haar ook. Tonie die tweede oudste is vriende met die Tandarts se seun, maar dit gaan meer oor die hondjie as die halsbandjie en om die vriend se sussie te beïndruk moet daar geld wees vir blomme en sjokolade en melkskommels by die kafee. Kortom, die ekstra geldjie is net nie meer genoeg nie.
Die Maandagmore is Petrus weer by Sweis in die kantoor. Sweis sweet bloed, smeek, praat, huil, maar Petrus se hart is hard. Hoe kyk hy sy gesin in die oë as hy nie vir hulle die beter dinge kan gee nie? Veral nou dat almal hom en syne met respek behandel. Hulle is nog nie gesiene lede van die gemeenskap nie, maar hulle geniet wel aansien. Klein Lina staan hoeka nou voor in die koor … skoolkoor.
Die einde van die week is Petrus se koevertjie lekker dik en Sweis sʼn bykans leeg. Mens kan ook nie bloed uit ʼn klip tap en rose in die woestyn groei nie. Drie weke later, toe Petrus weer na ʼn naweek tuis by die padkamp opdaag staan daar ʼn nuwe motor waar Sweis se swart Ford altyd geparkeer het. Op navraag blyk dit dat daar nou ʼn nuwe man op die job is. Sweis en Dina het blykbaar oor die naweek tasse gepak en hulle is vort. Niemand weet waarheen nie. Dewald is soos ʼn brullende leeu met ʼn seer b … been. Almal loop lig. Die polisie staan wag by die padkamp se hek en patrolleer die heining met honde om die man uit te hou. Hy wil al wat padwerker is doodslaan.
Almal lag te lekker oor Sweis wat so onder Dewald se neus sy dierbare Dina gesteel het en skud verwonderd hulle koppe. Niemand het in hul wildste drome kon raai of dink dat Sweis dit in hom het nie. “Ook maar mens, ook maar lus” het Ben gelag.
Toe Petrus weer huis toe gaan na twee weke was dit met lood voete en ʼn diep sug wat hy met sy tuinpaadjie voordeur toe gestap het. Klein Frik moes op die uitkyk gewees het vir sy pa. Voor Petrus nog halfpad voordeur toe is storm hy en ‘n groot gros van sy boeties en sussies op hom af. Frik klou styf vas aan die boek wat sy pa vir hom vir sy verjaarsdag gekoop het en skreeu luidskeel sodat die hele buurt kan hoor: “Pa is hier! Pa is hier! Kom Pa! Kom lees vir ons! Lees vir ons die storie van die gans wat die goeie eiers gelê het! Pa het laas belowe as Pa weer by die huis is gaan Pa dit vir ons lees!”

Julle ken daai sprokie ….

Ronnie

April 2019 Humor projek

3.Spêktakoeler Proposal

Elke pot kry ʼn deksel, maar die dag as pispot ʼn oor kry, en díé sit nog skeef boonop …
So was dit, toe Bella van Breda vir Boesman Bronkors vasdruk tussen die mopanies op haar pa se plaas en sê: “Jy gaan my te vra om te trou en dit gaan special wees. Dit gaan spêktakoeler wees! Jy gaan propose as die klok twaalfuur slaan vir die nuwe jaar tydens die Oujaarsdiens en ek gaan ‘Ja’ sê net soos die nuwe jaar aanbreek. Ek sal met Dominee reël. Ons trou veertien Februarie op Valintines Day.”
“Ja my Duifie” het Boesman net betyds uitgekry voor Bella hom op sy rug gegooi en hom behóórlik vasgedruk het daar tussen die mopanies.
Bella is ʼn formidabele stuk vlees, meer ʼn kerktoring bell as ʼn Italiese Bella Donna en Boesman, ja wel, hy is soos Jan F. Cilliers se osse – geduldig, gedienstig en gedwee.
Dominee Grove het ongemaklik rondgeskuif toe Bella haar die dag kom sitmaak in sy studeerkamer en haar versoek rig. Bella is die enigste dogter van Koos en Bettie Schoeman. Korreksie – enigste en tot-in-die-afgrond-in-bederfde-dogter van skatryk, stinkryk, baas-van-die-distrik Koos Schoeman. Koos mag die hoof van sy huis wees, maar Bettie is die nek wat daai hoof draai net waar sy hom wil hê. Ou Bont Hans het eendag dronk in die kroeg gesê: “Ou Koos en Bettie het ʼn goeie verstandhouding, sy het die verstand en hy die houding.” Net die volgende week is Bont Hans gefire want Piet Steyn van Steyn Stene, by wie Bont Hans al vir vier-en-twintig-jaar gewerk het, se vrou en Bettie is boesem vriendinne. Dominee Grove was behoorlik tussen die spreekwoordelike duiwel en die baie diep en pikswart, stiknag donker see.
Hy het probeer verduidelik dat die Oujaarsdiens nie eintlik die geskikte plek vir so iets is nie en voorgestel hulle doen dit by die jaarlikse Oujaarsbal. Maar Bella hou voet by stuk, dit móét in die kerk gebeur: “Come hell or high waters.”
Dominee Grove het na drie weke en twee dringende kerkraadsvergaderinge bes gegee. Koos en Bessie wil vir Bella happy maak en dit sal vir Bella ekstaties happy maak as Boesman om twaalfuur tydens die Oujaarsdiens propose. Die kerkraad het met Koos onderhandel vir ʼn skenking om die kerk en die pastorie binne en buite te laat uitverf, en toe vir Dominee aangemoedig, om ter wille van die liefde, vrede en harmonie vir Boesman ʼn spreekbeurt te gee.
So ooreengekom, so gedaan.
Snorre Jordaan, die koster, het later loop en vertel dat hy vir almal gewaarsku het toe die eerste klomp duiwe afgelewer is: “Ek het hulle gewaarsku dat party mense meer geld as gesonde verstand het, en Koos en sy vrouens het nie brieke nie.”
“Ag jy kon praat soveel jy wou daar was gʼn keer aan die ding nie. Die kerkraad wou die kerk en pastorie geverwe kry, Bella wou gepropose worre en almal het tog geweet die spul Schoemans is simpel gebore en boepens grootgemaak, daars nie pille vir dit nie.” het Sofie Vermaak hom afgejak toe Snorre weer begin met : “Ek het julle gewaarsku!”
Ewenwel. So teen tienuur die oggend van die laaste dag van die jaar daag Koos se mense met ʼn trok by die kerk op. Dit lyk of iemand daar sy intrek wil neem soos die ding gelaai is met bokse en goed. Toe hulle so teen seweuur die aand daar wegry het Oom Snorre en Dominee Grove dit gewaag om te gaan kyk wat is oor van die kerk.
“My gits Dominee, hulle was heeldag hier doenig maar ek kan nou nie eintlik sien wat is gedoen nie.” het Snorre teleurgesteld gesê toe hy die kerk onder oë neem. Buiten vir die pragtige ruiker voor in die kerk was dit same old, same old.
Dis eers toe Dominee antwoord: “Ek slaan my oë op na die plafon … ons gaan baie hulp nodig hê Broer” wat Oom Snorre die vrug van die hele dag se arbeid in aanskoue neem.
Daar het ʼn tros bokse aan die plafon gehang, elk met ʼn toutjie wat gelei is na die muur. Later die aand sou die doel daarvan meer duidelik word. Die bokse het beweeg en mens kon die geskarrel van klein pootjies duidelik hoor.
“Ek hoop nie dis rotte nie” het Dominee gefluister.
“Nee, Dominee, dis duiwe. Spierwitte duiwe.” het Oom Snorre terug gefluister. “Dit sal nou nie doen om die spul opgewerk te kry nie. Netnou tuimel die dose na benede en hoe kry ons dan al die bloed en vere en gemors skoon voor die diens?” het hy bang voortgegaan.
“Mevrou het gevra vir Dulux verf wat mens maklik kan was en sy wil self elke kamer se kleur kies.” het Dominee Grove gesê, omgedraai en koers gekies kerkkantoor toe.
Teen tienuur was die kerk reeds stampvol, want teen die tyd het die hele kontrei geweet van die groot proposal surprise wat Boesman vir Bella het, daarvan het Bella en haar ma seker gemaak.
Teen half-elf was al die staanplek ook vol en die hoof-ouderling het opgemerk hulle moes toegangsgeld gevra het: “Maak seker julle loop by elkeen vanaand om met die kollektesakkie, staan sommer by die deure van meet af, gʼn een gaan uit voor hy nie iets ingegooi het nie.” het hy die Diakens gemaan.
Kwart voor elf daag Boesman met sy vriend Vaatjie op. Die voorste bank was vir hom en die Schoemans gereserveer. Soos hy die paadjie afstap en elke mens volstruisnekrek om hom te sien, kom die mense agter hy lyk nie soos ʼn voornemende bruidegom nie: “Ag sjame, hy lyk soos ʼn bees wat ter slagting gelei word” het Wilna Marais die man raak beskryf en almal binne hoorafstand het in simpatie hul koppe geskud.
Skaars het hy sy sit gekry of Koos, Bessie en Bella kom ingestap. As Bella se ore nie daar was nie, was haar glimlag reg rondom haar kop. Dis hoe sy haar dit nog altyd voorgestel het … ʼn kerk propvol mense … en haar ridder op sy knieë wat vra om haar hand.
“Wat op dees aarde het sy aan?” vra Poppie Kotze.
“Fok weet” antwoord Gert haar man: “Maar dis bliksems lelik”
“Gert! Gedra jou! Jy’s in die kerk my donner!” spreek oom Jan sy seun ergerlik aan.
“Dis ʼn Van der Fleur uitrusting” prewel Sannie de Lange in ekstase, sy droom al haar lewe lank oor ʼn Van der Fleur skepping.
“Van der Fleur of te not, dit doen niks vir haar figuur nie.” snuif Mrs Johnston, die Burgemeester se vrou en trek haar rooi lippe op plooi.
Dominee Grove het met ʼn frons en dun lippe die preekstoel bestyg , dit was duidelik dat hy glad nie ingenome is met wat hier aan die gang is nie. Mevrou Dominee het die eksotiese name van kleure op haar tong rondgespoel … purper, aqua blue, granaat rooi ….
Die orrel het begin speel en die bokse het gevaarlik begin rondswaai. Die geklap van vlerke en gekoer van duiwe was duidelik hoorbaar en mense het benoud opgekyk. Dominee Grove se lippe het dunner getrek en Mevrou het haar foon uitgehaal en op Dulux se webwerf na kleurskemas begin kyk. Boesman het gelyk of hy nou net uit die stort geklim het soos die sweet hom in strale afloop en Bella het trots vir almal wat haar oog vang geglimlag. Oom Snorre het in die konsistorie ingeglip en die ambulansdiens op speed dail gesit en ʼn glasie nagmaalwyn afgesluk.
ʼn Minuut voor twaalf sê Dominee Grove “Amen” en daar daal ʼn groot afwagtende stilte oor die kerk. Almal se oë is op Boesman wat kop onderstebo mismoedig na sy voete sit en kyk. Net toe almal begin dink daar is fout, dreun die eerste note van Steve se Pampoen oor die luidsprekers: “Sing, sing jou woorde teen my vas … Bring jou hele lewe in ‘n tas”. Terselfdertyd bars die konsistorie se deur oop en ʼn regte egte lewendige Cupid kom dansend die kerk binne.
Cupid is Tokkie, Bella se boesemvriendin, se elfjarige nefie. Op sy rug is daar egte gansveervlerke vasgemaak met wit bande oor sy bors. In sy hand hou hy ʼn oulike goue bogie met ʼn bloedrooi pyl. Op sy kop is daar ʼn goue kroontjie … en dit is al.
“Die kind is poedelnakend kaal” kry Mrs Johnson dit geskok uit.
Op die maat van Pampoen dans kaalgat Cupid op Boesman af. Dominee Grove gaan sit agter die preekstoel waar niemand hom kan sien nie en waar hy ook nie die ontheiliging van die kerk kan aanskou nie. Hy dink hy moet eerder Koos se geld vir die weeshuis gee, mens kan nie jou siel so verkoop nie. Mevrou Dominee kyk op en dink dat goud dalk nie sleg in die sitkamer sal lyk nie, goud soos Cupid se bogie en kroon. Bella straal, en Boesman se kop sak laer.
Snorre duik terug in die konsistorie en sukkel nie met ʼn glasie nie, hy vat sommer slukke so uit die bottel.
Mense begin lag en jonges ruk selfone uit: “Hierdie ding gaan groot wees op social media. So groot soos Marelize” verseker Hannes sy vriende en klim op die kerkbank om seker te maak hy vang elke detail.
Cupid dans en alles wikkel en skud tot hy vir Bella aan die een hand en Boesman aan die ander hand het en na vore lei.
“Dis bliksems onsedelik. A Nee A! Gaan trek vir daai kind klere aan, hier is vrouens en dogters in die kerk” bulder Pa Jan woedend. Maar niemand slaan ag op hom nie. Hulle vergaap hulle aan die spul.
Intussen het Boesman sy proposal gefluister want die mikrofoon was nie aangeskakel nie. Die man van die klank druk en skuif knoppies, en die volgende oomblik bulder Bella se “Ja” deur die kerk. Die duiwe is histeries en toe die mense die toutjies trek wat die bokse bo oopmaak, daal daar meer as net duiwe en confetti na benede.
“Dis nou letterlik en figuurlik ʼn groot kakspul” lag Gert terwyl Poppie haar handsak oor haar kop hou.
Dis chaos. Party soek skuiling onder die kerkbanke, ander bestorm die kerkdeure om weg te kom van die verskrikte duiwe en hul uitgestresde mage.
Petrus van der Poel, wat in sy hele lewe nog nooit wakker was tydens ʼn diens nie, skrik wakker … dink dis die oordeelsdag en sak net daar in mekaar. Snorre druk speed dail en laat kom die ambulans.
Die dorp het vir weke gegons oor die spêktakoeler proposal van Boesman, net soos Bella dit wou hê. Dominee Grove het vroegtydig verlof ingesit vir die week van die veertiende Februarie: “Om de dood trou ek nie daai twee nie.” het hy sy voet neergesit en geen beloftes van bonusse of ʼn vakansie oorsee kon hom roer nie.
Die proposal het groot opslae gemaak op sosiale media en ʼn bekende dagblad het baie geld betaal vir die eksklusiewe regte om die troue by te woon.
Die oggend van die troue het Tannie Engela in die salon dit raak gevat: “My darlings, as die proposal die voorgereg was, kan ek nie wag vir die hoofgereg nie.” Die dames het almal instemmend kop geskud.
Skeel Sara, oujongnooi van die dorp, het hoopvol opgemerk: “Ek hoop Bella huur díé keer ʼn man om Cupid te wees. Ek meen te sê as mens iets doen, doen dit ordentlik. Ek sit after all nie hier en spandeer ʼn klein fortuin om my hare te en doen en naels te cutex nie vir daai twee simpel mense nie.”

Hierdie is gedeeltelik waar … stroes bobs … die deel van die elfjarige Cupid … tydens ‘n huweliksbevestiging …

Ronnie

Mei 2019 projek

2.Bende bende

‘Tweede pouse, vergaderplek nommer vyf. As jy klaar gelees het, skeur die brief op en eet hom. Hierdie boodskap mag nie in die vyand se hande val nie.’ Ek hoef nie weer die briefie, wat ek agter die toiletbak in die vierde toilet van die deur af gevind het, te lees nie. Ek weet presies waar ek tweede pouse moet wees en hoekom. Die Vreeslose Vegters het te ver gegaan, hulle kan nie ongestraf bly nie.
Haastig skeur ek die nota in stukkies en druk dit in my mond waar dit vinnig ʼn dik pappery word. Ek sluk dit sukkelend af met water wat ek bakhand uit die wasbak drink. Hoekom kon ek nie net die stukkies papier in die asblik gooi nie? Dit is ʼn meisies toilet, die Vreeslose Vegters mag nie hier inkom nie. Dan weer, as Lisa of Karin dalk die papiertjies kry en dalk die boodskap ontsyfer sal hulle vir die Vreeslose Vegters gaan vertel. Bakvissies, dis wat my ma, hulle noem. Ek weet nie wat dit beteken nie, maar ek dink nie dis ʼn kompliment nie.
Terug in die klas gee ek vir Johanna die teken dat ek die nota gekry en vernietig het – ek krap eers my linkeroor en dan vryf ek my regteroog. Sy vryf haar neus en tik twee maal met haar wysvinger op haar lippe – sy het my teken gesien.
Die klok lui en ons storm by die klaskamer uit. Ek loop ʼn paar draaie om seker te maak geeneen van die Vreeslose Vegters of die bakvissies agtervolg my nie, ek weet Johanna, Sarah en Kobie doen dieselfde. Ek is die laaste een wat vinnig agter die hibiskusbos induik. Niemand kom hierheen nie. Om die hoek van waar die bos welig groei is die skool se asblikke, dit stink as die wind van daai kant af waai, gelukkig waai die wind nie vandag nie.
“Wagwoord” vra Johanna. “Skorriemorrie” antwoord ek en frons. Sy kan mos sien dis ek! Partykeer kan sy so simpel wees. Haar pa is die polisiestasie se bevelvoerder op die dorp, dis waar sy aan al die simpel goed kom soos wagwoorde en briefies in die toilet.
“Sersant, rapporteer.” beveel Johanna toe ek my sit kry op een van die klippe wat ons daar gepak het. Ons kyk afwagtend na Kobie.
“Kosie, die leier van die Vreeslose Vegters, het vir Lisa gesê sy kan sy girfriend wees vir ʼn week as sy Johanna se penneblikkie steel en vir hom eerste pouse bring.” (Lisa sit langs Johanna in die klas. Natuurlik het sy dit gedoen. Lisa is mal oor Kosie). “Dit was hy en sy simpel bende wat die klomp erdwurms in jou penneblikkie gesit het.”
Johanna het na eerste pouse gaan sit soos die res van ons, en toe ons in ons skoonskrif boeke moet werk en sy maak haar penneblikkie oop toe krioel dit van slymerige wurms. Sy het geskrik, gegil, die penneblikkie neergegooi en van die grieselrige goed het op haar boek beland met hul modderlywe. Juffrou het verniet na die skuldiges gesoek. Johanna, wie se boek altyd die netjiese is en wie se werk altyd goue sterre kry, se boek is nou ʼn gemors.
“Is jy seker van jou inligting Sersant” vra Johanna. Ek dink haar pa praat ook so met die polisiemanne in die stasie.
“Ja Kaptein. Lisa het gebrag dat sy en Kosie nou boyfriend en girlfriend is toe die Jonge Dames van More, net na pouse by Juffrou Swart was om te praat oor Saterdag se Ma en Dogter tee. Sy het vir hulle vertel wat sy gedoen het.” bevestig ek alles wat Kobie gesê het.
“Ons is gelukkig dat Sonja se ma haar dwing om aan daai simpel klub te behoort, anders sou ons nooit uitgevind het wie die skuldiges is nie. Ons kan haar gerus deel van die Geheime Katte maak.” stel ek ook dadelik voor. Sonja wil so graag aan ons bende behoort, maar omdat sy aan die Jonge Dames van More behoort, vertrou die ander lede haar nie. Sy het haarself en haar lojaliteit, wat my aanbetref, bewys.
“Ons sal daaroor praat en stem later vanmiddag. Vir nou moet ons besluit wat ons gaan doen. Ons moet optree Katte. Ons kan nie net sit en vir Kosie en sy simpel bende laat wegkom hiermee nie.” Johanna wil wraak neem en soos ek haar ken gaan Kosie en kie die wurm ding diep berou.
“Ons kan hulle fietse se wiele afblaas, dan moet hulle vanmiddag huis toe loop én hulle fietse stoot.” stel Kobie voor. Haar kort swart hare staan elkeen in sy eie rigting. Waarom haar ma haar hare so kort sny weet net sy. My ma sê dis omdat die vrou eintlik ʼn seun wou gehad het. Haar name is Johannes Jakobus, maar die laaste een wat haar dit genoem het, het ʼn bloedneus gekry. Koba lyk nie net soos ʼn seuntjie nie, sy kan ook slaan soos een.
“Dis nie goed genoeg nie.” Johanna gaan met niks anders tevrede wees as bloed nie, dink ek.
“Wat van ons steek hulle wiskunde boeke weg sodat hulle nie kan huiswerk doen nie, dan gaan hulle more na die hoof se kantoor gestuur word, Mnr. Erasmus het gesê die ou wat nie huiswerk doen nie gaan detensie sit vir ʼn maand.” stel Sarah voor. Sy hou vir elkeen van ons haar kosblik wat vol koekies is. Haar ma is ʼn baasbakster en besit die tuisnywerheid op die dorp. Sy het altyd koekies of iets lekkers. Haar dun blonde hare is met ʼn groen en wit strik vasgebind, maar daar is meer hare buite die ponytail as binne.
“En hoe presies moet ons hulle boeke gesteel kry?” vra ek. Johanna trek haar voorkop op ʼn plooi en kou die punt van haar bruin vlegsel, iets wat sy altyd doen as sy dink.
“Ek kan nie sien hoe ons dit kan doen nie, nie al vier van hulle se boeke nie.” sê sy na ʼn rukkie.
Ek neem nog ʼn grondboontjie koekie by Sarah: “Wat van ons bak vir hulle koekies?” vra ek skielik. Die drie kyk my aan asof ek mal is.
“Ek dink nie jy verstaan die situasie korrek nie Konstabel” Johanna is weer in Kaptein mode.
“Nee wag julle. Ons bak vir hulle koekies en sit brooklax in. Dan stuur ons een van die graad eentjies om vir hulle elkeen ʼn pakkie koekies te gee en sê dit kom van Karin af. Hulle sal dit glo.”
“En hoekom sal hulle dit glo?” vra Johanna, baie nuuskierig. Hulle luister nou, dus dink hulle nie meer ek is so simpel nie. Ek skep moed. Ek is moeg om konstabel te wees, as ek ʼn Sersant wil word moet ek myself bewys. Hierdie is my kans.
“Wel sien, as ons sê dit kom van Lisa af, gaan Kosie vir haar dankie sê en dan gaan sy niks van niks weet nie, en dan gaan hulle agterdogtig wees. As ons sê dis van ʼn geheime bewonderaar gaan hulle ook nie die vrede vertrou nie, hulle is nou op hulle hoede want hulle weet ons weet dit was hulle. Hulle wag vir ons om revenge te neem. As ons sê dis van Karin af, gaan hulle dit glo, veral Kosie. Hy weet dat sy van hom hou en dat sy en Lisa niks van mekaar hou nie. Hy sal dink sy probeer hom afvry of iets. Hy sal ook niks vir Lisa sê nie want hy weet sy sal kwaad wees as sy hoor Karin gee vir hom koekies en hy gooi dit nie weg nie. Hy sal dit nie weggooi nie, want wys my nou iemand wat koekies weggooi. Dus sal hulle niks vermoed nie.” Ek het my eie redes waarom ek die vier wil bykom. Sing hulle nie gereeld vir my ‘Bring die water, bring die sand, kerriekop is aan die brand!’ nie? Het Jannie en Danie nie vanmore weer vir my gesê ek het seker met ʼn sif probeer keer toe ek met modder gegooi is nie, kyk al die spatsels wat in my gesig sit?
Kobie, Johanna en Sarah kyk my bewonderend aan: “Dis frieken briljant!” roep Johanna uit. “Maralize, jy word nou bevorder tot Inspekteur.”
Kobie lyk bekaf. Sy is nou nie meer nommer twee nie, maar dan glimlag sy breed: “Dit gaan epic wees!”
Ons spreek af om die middag by Sarah se huis bymekaar te kom en chocolate brownies te bak. Haar ma het ʼn maklike resep. Kobie bring die brooklax, haar pa besit die algemene handelaar in die onderdorp: “Daar is ʼn rak vol van die goed, my pa sal nie ʼn pakkie of twee mis nie” verseker sy ons.
“Bring vier pakkies, ons moet seker maak” het Johanna gesê.
Die volgende dag voor skool het ons ʼn graad eentjie nader geroep, die kind het ons van gʼn kant af geken nie. Ons moes vir haar vier keer wys vir wie sy die koekies moet gee. Ek dink sy het ons gesigte vergeet die oomblik toe sy omdraai en in die Vreeslose Vegters se rigting begin stap. Hulle het op die rugbyveld gestaan en vir mekaar ʼn rugbybal gegooi. Ek het skielik onthou dat ons skool vanmiddag rugby speel teen die buurdorp se skool en gehoop die brooklax is uitgewerk teen daai tyd.
Wel, dit was nie. Daai vier knape is in die eerste periode al huis toe – hulle het nie die badkamers betyds gehaal nie. Ons het vir maande gelag oor daai een, maar hulle nooit gespot of geterg daaroor nie. Hulle was vir twee weke nie by die skool nie.
“Dis darem ʼn vreeslike maagding wat die arme kinders platgetrek het.” Het my ma vir Kosie se ma gesê toe dié vir haar vra of sy sal uithelp met die na-kool. Sy moes na Kosie omsien, wat saam met sy maters in die hospitaal gelê het … op ʼn drup. Hulle het ontwater … wat dit ook al beteken.
Ek het vir Kobie en Johanna gesê om net ʼn klein stukkie brooklax in een brownie per persoon sit, maar nee, hulle jaag elke ou ʼn hele boks van die goed in. Ek dink daar was meer brooklax as chocolate in elke brownie.
Ons was baie bang dat iemand sal uitvind dat dit ons was wat die vier so siek gemaak het. Ons het ʼn bloedeed gesweer om nooit ʼn woord hieroor te rep nie, want Johanna het ons verseker dat ons van poging tot moord aangekla sal word, en dan gaan mens tronk toe … for life. Soos ek verstaan, was hulle baie baie siek … amper dood gewees.
Die Vreeslose Vegters het gelukkig nooit self een en een bymekaar gesit nie. Ons weerwraak was toe nie so soet nie, ons kon nooit vir hulle se dit was ons nie.. .
*
“Showtime Maralize!” my drie vriendinne bars by die hotelkamer in waar ek staan en dagdroom oor ons bende dae van lank gelede.
“Wow, Jy lyk stunnig!. Kobie gee my ʼn stywe druk.
“Pasop haar rok en hare, jy is altyd so rof. Wag tot na die tyd!” Johanna beveel steeds almal.
“Kom, ons gaan laat wees. Ek weet ʼn bruid moet laat wees, maar nie té laat nie!” jaag Sarah ons aan.
Ek lig my kop en trek my skouers terug. Dit is tyd ….
tyd om kerk toe te gaan ….
tyd om daai man myne te maak, voor hy dalk koue voete kry …
en om te dink …
ek het amper vir Kosie vergewe in graad drie…

HAT – Kardoes – Dit was ‘n bende van Kardoes. Dit was die skorriemorrie. Genoem na die berugte sewentiende-eeuse Franse bendeleier, L D Cardouche
HAT – ‘n bende van Kardoes (veroud.), rowerbende, rumoerige groep, skorriemorrie. |F. bende- hoof Cartouche}

Ronnie




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed