Wilma Heinlein
BRONS KLAS
Julie 2018 – Oop projek
3.Sheik Nasser al Byan
Jong sheikh Nasser al Byan se kop ruk op. Hy kyk sy moeder aan asof sy skielik in ‘n ruimtewese verander het. Hy het gehoop sy het al vergeet van die troustorie. Aarde, hy is ‘n man van agt en twintig. Hoe kan hy haar toelaat om vir hom ‘n vrou te soek?
“Begin Ma alweer? As ek ‘n vrou soek, sal ek self een gaan soek. Ek is nie meer ‘n kind nie,”
“Jy moet verstaan, Nasser! Jy is ons enigste kind. Ons seun! Jy moet vir ‘n erfgenaam sorg!”
Hy wil uitstorm maar sy neem hom ferm aan die arm. Nie weer gaan sy hierdie saak uitstel nie. Nie weer nie. Hy moet trou en vinnig ook. Haar man raak ongeduldig met haar.
“Ek sal trou, Ma! Dis net dat ek nie gereed is om die ernstige stap te neem nie. ‘n Huwelik is ‘n ernstige saak! Gee my nog ‘n rukkie tyd. Ek gaan nou Suid Afrika toe om ‘n rukkie daar na my besighede om te sien. Sodra ek terug is, gesels ons weer. Dan kan ons na al die hubare meisies kyk en besluit!”
Hy spring die trappe drie drie op en klap sy kamerdeur agter hom toe. Soos ‘n ou man gaan sit hy op sy bed met sy kop in sy hande. Waarom moes sy moeder nou weer begin met die troustorie? Hy wil nie trou nie. Nie nou al nie. Hy wil beslis nie soos sy vader en baie van die ander sheiks uitdraai nie. Nee, ‘n huwelik is ‘n ernstige saak.
Ongeduldig pluk hy sy reissak uit die kas. Dit was nie sy plan om so gou na Suid Afrika te reis nie, maar sowaar, hy sien nie kans om in ‘n huwelik gedwing te word nie. As hy trou moet dit vir alltyd wees. Hy wil nie skelmpies agter sy vrou se rug met ‘n klomp minnaresse sukkel nie. O, nee!
Dit neem net ‘n paar minute om sy tas te pak voordat hy besef hy het nie plek op die vliegtuig bespreek nie. Met ‘n diep frons tussen sy wenkbroue skakel hy sy bestuurder om sonder versuim vir hom ‘n sitplek op die eerste beste vlug te bespreek.
Hy sug en ontspan in sy sitplek. Sy oë dwaal oor die res van die passasiers. Die vliegtuig is vol, kom hy agter. Langs hom skuif ‘n persoon in en om nie nuuskierig te lyk nie, hou hy hom besig met sy veiligheids gordel.
Hy loer so onderlangs na sy reisgenoot en merk op dat dit ‘n vroulike passasier is. Sy het sulke klein, fyn hande wat mooi opgepas is. Nou is hy behoorlik nuuskierig. Ongeerg kyk hy na haar en sy hart ruk in sy borskas.
Watter pragtige, sielvolle oë het sy nie. Alles omtrent haar prikkel sy nuuskierigheid. Dan onthou hy sy ma se woorde dat hy tot trou moet kom.
“Goeie middag. Waarheen is u oppad?”
Nasser se kop ruk. Het sy met hom gepraat met daardie musikale stem? Hy kyk vlugtig na haar en weer vinnig weg.
“Ek is oppad Suid Afrika toe.”
Sy antwoord is bot en hy kan homself skop oor sy onbeskoftheid. Weer kyk hy vlugtig in haar rigting. Hy sien die seerkry in haar oë. Hy probeer dit van hom afskud, maar die uitdrukking in haar oe wil hom nie los nie.
Hoog in die lug, tussen die wolke, kom hy tot sy sinne.
“Waarheen is jy oppad, Dame?” vra hy versigtig?
“Ek is ook oppad Suid Afrika toe en ek kom nie weer terug Saudi Arabië toe nie.”
Verbaas kyk hy na haar.
“Ek gaan by my tante woon.”
Na haar woorde skuif sy gemaklik in haar sitplek, haar lippe styf op mekaar. Hy kan sien die gesels het nou beslis opgedroog.
Dis lang ure in die lug. Die lugwaardin bedien hulle met drankies en daarna met iets te ete. Nasser kyk by die venster uit en sien hoe die skemer oor die aarde skuif. Noudat hy verder en verder van sy vaderland en ouers is, hoe meer ontspan hy.
Hy vergeet van die pragtige meisie wat langs hom sit. Hy weet in elke geval nie eers wat haar naam is nie. So wil hy dit ook hou. Met sy gesig weggedraai sodat hy by die venster kan uitkyk, bly hy sit. Sy gedagtes by sy ouers wat daarop aandring dat hy moet trou.
Hy dink aan al die meisies waaraan sy ma hom al voorgestel het. Die een mooier en ryker as die ander. Elke meisie was so gretig om hom te behaag. Dit het hom siek tot in sy kleintoontjie laat voel. Hy soek ‘n vrou wat vir haarself kan dink. Wie se lewe nie net om hom draai nie.
En sy moet hom liefhê. Baie liefhê vir homself en nie vir sy titel of sy geld nie. Hy sal haar nog ontmoet, hy weet. Met al die gedagtes wat in sy kop rondwarrel, raak hy aan die slaap.
Soraja kyk na haar reisgenoot en glimlag. Die arme man kon nie wag dat die vliegtuig opstyg nie. Miskien is hulle in dieselfde situasie. Haar ouers het ‘n huwelik gereel met ‘n man wat baie ouers is as sy. Oor haar dooie liggaam sal sy met hom trou. Sy is nou eers twee en twintig, glad nie oud nie.
Donkerte verdryf die laaste lig in die vliegtuig. Hier en daar word ‘n liggie aangeskakel maar sy verkies om so in die donker te sit. ‘n Rilling hardloop teen haar ruggraat af as sy aan haar aanstaande bruidegom dink. Stinkryk is hy wel.
Die hele nag sit sy en wroeg oor haar situasie. Voor sonop is sy reeds in die piepklein badkamertjie om haarself te verfris. Nog ‘n paar uur voordat hulle in Johannesburg land. Stil stil gaan sit sy op haar sitplek en raak aan die slaap.
Nasser word wakker en skuif by haar verby. Tyd vir hom om gereed te maak. Sy hart klop vinnig want oor ‘n uur land hulle. Hy kan nie wag om sy nuwe lewe in Suid Afrika te begin nie. Gelukkig het hy ‘n woonstel waar hy kan woon. Hy is lief vir hierdie land.
‘n Halfuur voor hulle land skrik Soraja wakker en kyk op haar horlosie. Sal haar tante daar wees soos sy belowe het? Sy kyk nie een keer weer na Nasser nie. Styf klem sy haar handsak vas. Die klein reissak met haar besittings is bo haar kop in die stoorplek.
Nasser haal die sak uit en oorhandig dit aan haar nadat die vliegtuig geland het.
“Baie dankie en totsiens.”
Haastig draai sy om en stap vinng die gangejie af. Sy is moeg vir die vliegtuig na die lang vlug. Nou wil sy by haar tante kom en dadelik gaan slaap. Dit was ‘n lang, lang nag.
Nasser kyk haar verslae agterna. Dan maak hy sy bagasie bymekaar en stap heel laaste die trappies af. Hy adem die vars lug in. Met ‘n bree glimlag ontmoet hy die man wat hom kom afhaal het. Hy word na sy woonstel geneem.
Die warm son wat op sy gesig skyn, maak hom wakker. Stadig maak hy sy oë oop en kyk om hom heen. Vir ‘n splitsekonde weet hy nie waar hy is nie. Die onthou verhelder sy oë en met ‘n energieke sprong spring hy uit die bed.
Die spanning het hom verlaat en hy is gereed om sy besighede te besoek. ‘n Vinnige stort en ‘n beker sterk swart koffie voltooi sy oggend ritueel. Hy vermy die hysbak en draf die trappe af. Vier verdiepings se trappe.
Dit gaan goed met sy besighede. Die personeel groet vriendelik. Dadelik is die sekretaresse by om hom in te lig wat in sy afwesigheid gebeur het. Sy is deeglik en hy vertrou haar oordeel. Hy hou ook vergaderings met die leiers om belangrike sake te bespreek.
Dit is waar hy ingelig word oor die personeel tekorte.
“Het julle al in die koerante adverteer? Ons kan nie nou met ‘n tekort aan personeel sukkel nie.”
Hy is sommer geirriteerd met die nuus.
“Hier is ‘n paar dames wat uitstekende ondervinding het. Ons kan dadelik met die onderhoude begin.”
Die sekretaresse kry opdrag om die dames te kontak sodat die onderhoude nog dieselfde dag gedoen kan word. Soraja se hart klop in haar keel. Haar tante het haar cv orals ingehandig die oomblik wat sy op die vliegtuig geklim het.
Nog dames sluit by haar aan in die wagkamer en sy bekyk hulle onderlangs. Die een wil mooier wees as die ander. In hul hande hou hulle koeverte met hul kwalifikasies. Haar moed wil haar begewe en sy moet op haar tande byt om nie op te vlieg en uit die vertrek te hardloop nie.
Sy is die laaste een om ingeroep te word. Haar hande is in twee vuisies gebal. Met bewende kniee stap sy die kantoor in waar die onderhoude gevoer word. Vier persone vra haar vrae wat sy gelukkig maklik kan beantwoord.
Nasser se oë kyk fyn na die laaste meisie en sy binnegoed ruk. Dit is die meisie wat saam met hom op die vliegtuig was. Sy oë sien raak wat hy nie op die vliegtuig gesien het nie. Hy neem die aansoekvorm en sien haar naam is “Soraja”.
Die meisie wat hom die hele nag in sy drome ontwyk het. Die mooi musikale stem wat hom bekoor het. Sy oë gaan vlugtig oor haar. Met die westerse klere aan lyk sy alte fraai. Hy neem ‘n besluit sonder om eers met die mans by hom te vergader.
“Wanneer kan jy begin, Juffrou Soraja?”
Hy steur hom nie aan die mans se verbaasde gesigte nie. Hy weet net hy kan haar nie weer verloor nie.
Intens hou hy haar dop en wag inspanning vir haar antwoord.
“Ek kan vandag al begin as julle my nodig het.”
Soraja se oë sluit in die van Nasser en haar hart ruk. Nou herken sy hom ook.
“My sekretaresse sal jou na jou omsien. Welkom by ons.”
Die fyn glimlag om Nasser se mond is skaars waarneembaar maar Soraja wonder daaroor. Gelukkig sien niemand hoe sy hart soos ‘n spul wilde perde gallop nie. Hy staan saam met die ander mans op en verlaat die vertrek, maar nie voordat hy nog een maal na haar gekyk het nie.
Soraja bly sit en laat haar oë oor haar onmiddellike omgewing dwaal. Alles is baie luuks en oral staan plante rond. Vir haar wat in die woestyn gebore en groot geword het, lyk dit pragtig. Na ‘n paar minute staan ‘n vriendelike meisie in die deur.
“Kom asseblief saam met my. Al begin jy eers môre werk, wil ek jou graag wys waar jou kantoor is en jou pligte vir jou uiteen sit.”
Soraja staan vinnig op en stap saam met die meisie in die gang af. Die tweede deur regs is haar nuwe kantoor en sy glimlag bly. Daar staan ‘n lessenaar in die een hoek met ‘n rekenaar wat byna die hele lessenaar volmaak.
“Laat ek my eers voorstel. Martie Vermaas. Ons twee gaan die baas se sekretaresses wees. “
Soraja se mond hang oop. Hoe klink dit dan nou of sy ‘n belangrike betrekking losgeslaan het. Haar reisgenoot is nou haar baas.
“My naam is Soraja. Aangename kennis.”
Die twee meisies gesels land en sand en kom nie agter dat Nasser in die deur na hulle staan en luister nie. Hy is verstom oor Soraja se kennis van Engels. Sy gaan ‘n aanwins wees wanneer hy sake in Saudi Arabie wil doen. Hy maak keel skoon sodat hulle van sy teenwoordigheid bewus kan wees.
“Ek wil hê jy moet saam met my kom. Ons moet ‘n paar sakies bespreek voordat jy hier begin.”
Soraja volg hom na sy kantoor en op sy uitnodiging gaan sit sy in een van die gemaklike leerstoele.
“Is jy bereid om na my sakebelange in ons vaderland om te sien?”
Verslae kyk sy na hom en kom stadig orent.
“Nee, ek sal dit nie kan doen nie. Nee, ek is jammer.”
Nasser kyk na haar besliste gesig en hy glimlag innerlik. Sy was dus ernstig op die vliegtuig. Daar moet ‘n rede wees waarom sy so voel.
“Mag ek weet waarom nie? “ hou hy vol.
Vinnig draai sy haar rug op hom en kyk by die venster uit.
“Ek is jammer, ek moet weet. Ek het jou dadelik aangestel omdat jy ‘n Arabiese meisie is. Lyk my ek het ‘n fout gemaak.”
Soraja swaai om en kyk hom met vlammende oë aan.
“Ek het van my ouers gevlug omdat hulle my in ‘n huwelik met ‘n ou sheik wil dwing. Ek is nou maar eers twee en twintig en hy al sestig. As ek terug keer Arabie toe, sal ek met hom moet trou.”
Trane van magteloosheid spoel oor haar wange en hy kan die smekende uitdrukking in haar oë nie miskyk nie. Sy hart trek pynlik saam. Sy is in dieselfde bootjie as hy.”
“Nou goed, ek sal dit nie aan jou doen nie. Ek is self nie lus om terug te keer na my land nie. Hier is ons vry mense wat ons eie besluite kan maak.’
Hulle staan ‘n rukkie na mekaar en kyk. Hy glimlag stadig vir haar en wys haar om te sit. Die keer gaan sit sy op die punt van die stoel. Hulle bespreek haar salaris en na al die formaliteite afgehandel is, keer sy terug na haar tante se woning.
Daar is vreugde in haar hart omdat sy werk gekry het en nou haar eie salaris gaan verdien. Haar salaris is so goed, sy sal later haar eie woonstel kan bekostig. Dit is ‘n vrolike groepie mense wat daardie aand om die etenstafel gesels.
Soraja is eerste by haar werk. Martie Vermaas kom ‘n paar minute later by haar kantoor ingewaai. Hulle het net ‘n paar minute vir ‘n hartlike verwelkoming en ‘n drukkie. Dan is dit tyd om te werk.
Nasser bring self haar werk en kyk haar waarderend aan. Hy het die vorige nag weer van haar gedroom. Sy het so pragtig gelyk in haar huweliksgewaad. Hulle het hand aan hand oor die sand duine gehardloop en agter hulle het ‘n aaklige ou man gestaan met ‘n swaard in sy hand.
Hy lag byna hardop en kyk met nuwe oë na haar. Sy prettige oë laat haar ongemaklik voel.
“Kan ek vanaand vir jou gaan wys hoe jou nuwe land lyk?’
Soraja glimlag skaam.
“Dit sal baie vriendelik wees van jou.”
Laat die aand neem hy haar hand en druk ‘n soentjie op haar palm. Die ete was heerlik en daarna het hulle by ‘n nagklub gaan dans. So tussen die kuier vertel sy hom van haar ouers en hy bieg oor waarom hy weg is uit Saudi Arabie.
“Jy dink nie ons het van ons ouers gevlug om mekaar te ontmoet nie? Sal ons ‘n verhouding begin met die doel op ‘n lewe saam?” vra hy sag.
Soraja lag gelukkig en knik haar kop.
EINDE
Wima
Augustus 2018 – Haikoe projek
1.SUN EN MOON SE AVONTURE
Sun en Moon is twee dwerg olifantjies wat diep in die Japanese oerwoud woon. Hulle mammas is susters. Daar is nog ‘n hele paar klein olifantjies in die trop. Maar Sun en Moon is baie groot maats.
Die oerwoud is vol lewe. Daar is voëls, insekte en diere. Die watergate is die twee maats se gunsteling plek. Hulle mag nie alleen daarheen gaan nie want daar is ook baie gevare in die oerwoud.
Elke dag gaan swem die trop in die rivier. Die rivier is so diep, hulle kan heeltemal onder die water verdwyn. Ag, dis heerlik by die rivier. Daar groei groen gras wat baie lekker smaak. Net ‘n entjie van die rivier is daar ‘n plekkie, ‘n mooi plekkie waarheen hulle ook gaan.
Hulle maak beurte om van die gesonde modder te eet. Moon se mamma het hulle vertel die modder is vol gesonde minerale wat hulle liggame nodig het.
Vanoggend is ‘n spesiale dag. Sun verjaar. Hulle gaan saam met al die diere in die oerwoud partytjie hou. Moon het al vroeg vir Sun geluk gewens met sy verjaarsdag. Hy is vandag een jaar oud. Oor ‘n paar weke is hy ook een jaar oud.
Hierdie tyd van die jaar is dit herfs. Al die blare verkleur. Party word rooi en ander geel. Sommige lyk soos goud en ander bly net so groen. Sun en Moon kan hulle verkyk aan al die mooi kleure waarmee die oerwoud getooi word.
Hulle maatjies kom sommer vroeg al na die oopte waar hulle almal se verjaarsdae vier. Sun se ogies blink opgewonde omdat hy al die diere weer gaan sien. Dis ‘n opgewonde groep diere wat mekaar oor en weer groet.
Ekkie, die vlieende eekhorintjie mik en korrel en vlieg dan deur die lug. Met ‘n hik land hy op Sun se rug. Ekkie hardloop vinnig tot Sun se slurp en kyk hom laggend aan.
“Hallo, Sun. Baie geluk met jou verjaarsdag!” roep hy vrolik.
Sun lag van oor tot oor. Sommige diertjies soos die apies klim teen sy bene op en spring op sy rug. Dit laat Sun hardop lag. Moon geniet die diere se mannewalesse.
Die voëltjies sing vir Sun hul spesiale liedjies. Dis omtrent ‘n vrolikheid. Maar daar in die verte hoor hulle ‘n geluid waarvan hulle nie hou nie.
Die apies spring rats in die bome en kyk met groot oë in die rigting vanwaar die geluid gekom het. Sun en Moon kruip styf teen hulle mammas weg. Hulle hou nie van die tier nie. Gelukkig eet die tier nie olifante nie.
Al die klein olifantjies gaan staan bymekaar terwyl hul mammas ‘n kring om hulle maak. So beskerm hulle al die kinders. Mamma olifante is baie erg oor hulle kinders.
Na ‘n rukkie is die gevaar verby. Die dierekinders begin weer speel maar die apies vertrou nie die vrede nie. Hulle bly liewers in die bome en swaai aan die takke rond. Die bokkies kyk versigtig heen en weer en staan nader aan hul mammas.
Sun en Moon staan onder die bome sodat die apies op hul rug kan speel. Hulle is groot vriende met die apies. Gou vergeet hulle van die tier wat naby hulle speelplek was. Hy was seker nie honger nie.
Die hele dag speel hulle totdat hulle so moeg is en sommer daar onder die bome aan die slaap raak. Hulle mammas staan nader om ‘n oog te hou oor die twee slapende, moeë olifantjies. Toe hulle wakker word, gaan die hele trop rivier toe om daar af te koel na die warm dag.
Moon en Sun is baie gelukkig. In die water spuit hulle mekaar nat met hul slurpe en klim op mekaar se ruggies. Hulle speel baie lekker. Soms verdwyn hulle heeltemal onder die water en steek net hul slurpies se puntjies bo die water uit.
Traag klim hulle uit die water toe hul ouma, die matriarg van hulle trop, besluit genoeg is genoeg. Dis tyd om gereed te maak vir die nag. Hulle moet ‘n veilige plek soek waar hulle kan oornag. Saam loop hulle in ‘n bondel na waarheen hulle gelei word.
Na ‘n lang nag, is die twee olifantjies vol energie. Hulle jaag mekaar rond en bestorm die duiwe wat eenkant wei. Hulle druk mekaar met die kop dat die stof so staan. Hulle slurpe knoop en moet al hulle vernuf gebruik om dit weer los te kry. Alles speel-speel.
En so dwaal hulle van die trop af. Die vorige aand het hulle nie gesien hoe naby die moddergat hulle geslaap het nie. Met al die gespeel beland hulle albei in die gat. En daar sit hulle vas. Dit is te glad om uit te klim en dit voel dan asof die modder hulle vassuig.
“Wat gaan ons nou doen? Waar is ons mammas dan?” vra Sun bekommerd.
“Ek weet nie. Ek het glad nie gesien toe hulle geloop het nie.”
Die twee olifantjies begin roep. Hulle roep en roep totdat hulle mammas deur die gras aangehardloop kom. Van al die gespartel in die modder sit hulle nou behoorlik vas.
“Mamma! Help ons asseblief!” roep Moon nou na aan trane.
Dis omtrent ‘n gespook en gespartel om die twee olifantjies uit die modder te kry. Hulle is later baie moeg en raak sommer daar in die modder aan die slaap. Dit is toe dat hulle mammas hulle veilig uit die modder trek.
Almal is baie verlig toe die olifantjies uit die modder is. Gulsig drink hulle van hul moedersmelk. Gou herwin hulle hul kragte en beweeg hulle weg van die moddergat.
“Ek gaan nooit weer na die moddergat nie.”
Sun en Moon kyk vir mekaar en knik ernstig. Hulle het groot geskrik. Styf teen hulle mammas loop hulle saam met die trop. Hulle sien nie hoe die twee ma’s na mekaar kyk en lag nie.
Soos kinders maar is, vergeet hulle gou van hul noue ontkoming in die moddergat. Hulle speel en hardloop rond. So tussen in eet hulle darem ook. Stadig maar seker beweeg hulle rivier toe. Sun en Moon is eerste in die water.
Hulle flap hulle ore en val oor mekaar. Nie een sien vir Rina Renoster aankom nie. Die matriarg stap met stywe bene nader en gaan staan tussen die renoster en Sun en Moon. Renoster wou nog ‘n tree nader gee maar hul ouma trompetter dat die twee klein olifantjies se ore tuit.
Rina Renoster draai om en hardloop weg. Sy is nie lus vir ‘n geveg met ‘n olifant nie. Die olifant trop beweeg stadig terug bosse toe. Daar is hulle veilig. En met hul ouma aan die voorpunt sal hulle altyd veilig wees.
Die vroegoggend sonnetjie maak die twee maatjies wakker. Die voëltjies sing vrolik, te bly dis ‘n nuwe dag. Die apies spring energiek van een tak na die ander. Sun en Moon bekyk die vrolikheid en begin ook vrolik rondhardloop. ‘n Nuwe dag met nuwe avonture.
Soos dit hulle gewoonte is, gaan hulle reguit rivier toe. Die visse gee dadelik pad sodat die olifante in die rivier kan speel. Moon maak sy ogies onder die water oop en kyk na die vissies wat tussen die grassies wegkruip.
“Hoekom is julle daar eenkant?” wil hy weet.
“Ons is bang julle trap ons raak dan gaan ons dood!” beskuldig die vis.
“Maar ons sal julle mos nie aspris raak trap nie.”
Die twee olifantjies kyk na hulle groot pote en lag lekker. Die visse weet nie eers hulle kan met hul voete ook hoor nie. Gou is die visse vergete en speel hulle weer alte lekker. Die water spat in alle rigtings soos hulle bokspring in die water.
Die martriarg maak ‘n waarskuwings geluid en dadelik kyk hulle om hul rond. En daar in die rivier kom tier aangeswem. Sun en Moon is gou by hul mammas en staan en kyk hoe die tier ‘n groot vis met sy pote vang.
Met sterk hale swem hy kant toe en begin die vis eet. Die olifante hou hom gespanne dop.
“Mamma, kan ons ook visse eet?” vra Moon saggies.
“Nee, Moon. Ons eet gras en blare. Ons sal baie siek word as ons visse eet.”
Die tier is weer in die water en weer vang hy ‘n vis en eet hom op. Hy loer onder die water en sien die visse wat tussen die gras in die water wegkruip.
“Oppas! Tier is hier en sy eet visse.”
Die visse verdwyn vinnig. Moon is ook nie meer lus vir swem met die tier so naby hulle nie. Sy mamma se slurp vou saggies om syne om te sê hulle gaan na die ander kant van die rivier. Hy bly naby haar sodat sy hom kan help as die wal te skuins is.
Gelukkig kom hulle veilig aan die ander kant. Dadelik sien hy en Sun die skoenlappers raak wat van blom tot blom vlieg. Met hul kort slurpies probeer hulle die skoenlappers vang. Hulle mammas lag vir hul lawwe speletjies.
So met al die speletjies gaan die tyd gou verby en voor hulle dit mooi besef, is hulle kinderdae verby. Sun en Moon word twee pragtige dwerg olifante.
©Wilma