Jongste aktiwiteit:

Koshuis-kaskenades – Draai die kam om
vir

Koshuis-kaskenades – Draai die kam om

*Goudveld Hoërskool in die middel-Vrystaat was en is bekend as ‘n ‘groot’ skool, waar meer as ‘n duisend plaas-, myn- en dorpskinders in die middel-sewentigjare verbete probeer het om die stremmende kloue van onkunde, oningeligdheid en blote domheid te ontsnap. Die strenge koolhoof was ene Joubert en die onderwysers ‘n motlike samestelling van briljant slim en begaafde menere en juffrouens wat daarin geslaag het om aan die kinders van die Vrystaat ‘n besonderse opvoeding te verskaf.

Leon, Danie en Vlooi was drie stouterige koshuiskinders in Gouties se wit en blou koshuis, net langs diè beroemde skool in Welkom se sportvelde en tennisbaan. Ten spyte daarvan dat die koshuis règ langs die skoolgronde geleë is, het Danie min of meer elke oggend met ‘n agterstand teen beide die koshuisklok en die skool se doodsklok begin. Die ander koshuiskinders was lankal opgestaan en aangetrek, in ‘n ry voor die eetsaal vir ontbyt, dan trek Danie nog in die kamer aan, met baadjies, dasse, skoene en onderbroeke wat in alle rigtings trek.

“Nee wat Danie,” adviseer ‘n geammuseerde Leon een oggend, “met jou sal ons ‘n plan moet maak. Jy kan mos nie elke oggend van jou lewe laat wees vir skool nie. Selfs ou Div en meneer Ludick en die tannies in die kombuis moes al kom hand bysit om jou betyds by die skool te kry.”

“Maar wat kan ek doen?” kla Danie tragerig. “Ek kan nie vinniger aantrek nie en ek kan ook nie vroeër in die oggend opstaan nie. Die hoenderhane in die Vrystaat is geleer om eers van half-sewe af in die oggende te kraai. Ek weet nie wat om te doen nie.”

“Ons sal ‘n plan moet maak.”

“Kom ons pak Danie se klere die vorige aand uit, dan hoef hy nie in die oggend so na die goed te soek nie,” sê Vlooi, die kleinste outjie in die koshuis.

“Vlooi, jou kerjakker! Dis nou ‘n slim plan,” sê Leon en klop Vlooi op sy kop.

“Ons moet dit in die regte volgorde uitpak,” sê Vlooi, “anders trek Danie sy onderbroek bo-oor sy broek aan en sy kouse bo-oor sy skoene.

“Of sy skoene bo-oor sy kouse!.” Leon en Vlooi lag dat die stof so staan en Danie trek vieserig aan sy das. “Julle ouens wil my kamstig help, nou spot julle vir my.”

“Ok,” sê Leon, kom ons maak ‘n slim plan. Hoe klim jy uit die bed Danie?”

Danie dink so ‘n bietjie na. “Eers sit ek my kleintoontjie op die vloer langs my bed, dan my ander tone, dan my hele voet en dan my been. In daar die volgorde.”

“Watter been eerste?” vra Vlooi onnutsig.

“Maak dit saak? Kla Danie, “ek klim amper elke oggend van my lewe met die verkeerde voet uit die bed.”

“OK,” help wyse Leon met advies, “nou is jy uit die bed uit en jy moet badkamer toe om jou gesig te was en jou tande te borsel. So, ons pak eers jou tandeborsel op die vloer, gevolg deur jou tandepaste, dan seep en jou handoek en shampoo. Alles in ‘n ry.”

“Jy kan ook sommer die vorige aand jou hare natmaak,” help ‘n stout Vlooi met nuttelose kommentaar. Danie se bestrawwende blik het baie gehelp om Vlooi se verbale heldhaftigheid in toom te hou.

“Danie,” verduidelik Leon verder, “as jy van die badkamer af terughardloop kamer toe, tel jy jou klere in volgorde op om tyd te spaar. Eers jou swart skoene, dan jou grys kouse, gevolg deur jou rooi onderbroek, dan jou grys hemp en jou blou Goutie-das.”

“So, ek trek my klere so in sekwensie aan,” merk Danie verwonderd op, baie beïdruk met Leon se slim plan.

“Nee,” meng Vlooi in, “in volgorde, nie sekwensie nie, man. Sekwensie is Frengels, en in die Vrystaat praat ons Afrikaans.”

“Sharrap Vlooi! Daar is nou vir jou ‘n mooi oorspronklike Afrikaanse woord.”

“Reg,” sê Leon, “nou is jou gesig in volgorde gewas, jou hare mooi ge-shampoo en jou lyfie is blinkskoon – dan trek jy net jou skoene en jou broek aan en jy is reg vir skool. Voor die klok lui, nie ná die klok soos wat jy gewoonlik daar by die skool aankom nie.

“Maar wat van my skooltas en my boeke?”

“Ons sit hom daar langs die tennisbaan,” adviseer Leon hulpvaardig, “dan gryp jy hom sommer so in die verbygaan op pad skool toe. En ons sal een van die Standerd Sesse kry om jou boeke aan te gee soos jy verbykom.”

Naomie en Renè en die ander koshuisbrakke het gou van Leon se briljante plan gehoor, en hulle drom saam om die gebeure stap vir stap te volg. Party van die meisies het sommer oor die muur langs die eetsaal geklim, nuuskierig om te hoor wat aangaan.

“Manne,’ sê Danie uiteindelik nadat hy hard en diep oor die saak gedink het, “dit is ‘n briljante plan. Takties en strategies is die plan uitstekend en kreatief en goed bedink.”

“Ons dink ook so, Danie,” antwoord Leon en Vlooi genoegdoenig en hulle skud mekaar die blad. Daardie jare was daar nog nie ‘n ding soos ‘n ‘High 5’ in die Vrystaat nie.

“Maar daar is net een probleem, manne. My hare.”

“Jou hare?”

“Ja. Deur al die stappe wat ons geneem het, moet ek nog voor skool my hare kam. My hare is vir my belangrik.”

Wyse Leon het vir so ‘n oomblikkie diep nagedink en sy blik stadig so oor die Vrystaatse vlaktes en mynhope laat draai. Op ‘n mooi skoon dag sonder wolke kon jy maklik van Welkom af tot in Bothaville sien.

“Ek weet .. die kosyn!”

“Hoe nou? “ wil Vlooi en al die ander koshuiskinders verwondered weet.

“Ons kam Danie se hare deur sy kam aan die onderkant van die deurkosyn vas te gom!”

“Maar ek het net lym, niks gom nie” kla Danie. “Net houtlym waarmee jy hout aanmekaar sit.”

“Dis reg so, Danie,” antwoord slim Leon, “jy het mos ‘n houtkam. Ons lym jou kam aan die onderkant van die kosyn vas, dan hardloop jy net onderdeur en die houtkam kam jou hare. Dit gaan vir jou nog baie addisionele tyd bespaar.”

“Maar,” protesteer Danie, “as ek onderdeur die kosyn hardloop, gaan die kam mos al my hare agtertoe kam! Ek kam my hare vorentoe.”

“Dis nie ‘n probleem nie, ou Danie,” help Leon hom reg.

“Ons draai net die kam om.”




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed