Jongste aktiwiteit:

Professor en die dowe Kakkerlakkie
vir

Professor en die dowe Kakkerlakkie

*‘n Kakkerlak is ‘n eienaardige bruin-swart goggatjiewat wat vir baie mense bietjie grillerig is. Hy hou van donker plekke, hardloop vinnig oor die kombuis se vloer en kan vir ‘n hele maand sonder kos klaarkom! ‘n Kakkerlak se brein sit nie in sy kop nie, maar in sy lyf en hy is ‘n baie goeie swemmer omdat hy sy asem langer as dertig minute onder die water kan ophou. Regtig.*

Eendag kyk ‘n Professor in sy laboratorium by Kovsies (‘n beroemde Afrikaanse universiteit net Noord van die magtige Oranjerivier in die pragtige Vrystaat) na ‘n Kakkerlak wat op sy tafel sit. Die Professor het rooi-grys hare, ‘n ronde brilletjie wat op die punt van neus sit en ‘n belangrike groot wit jas. Om sy nek dra die Professor ‘n stetoskoop wat hom baie vernaam laat lyk en hom help om sy studente en die proefdiere in sy laboratorium beter te kan hoor.

“Nou ja,” sê die Professor vir sy assistant wat ‘n groot swart bril dra, “kom ons kyk hoe intelligent hierdie Kakkerlak is.” Die Professor het êrens gehoor dat Kakkerlakke baie slim is, selfs slimmer as springkane en muise en studente. Hy loer vir Kakkerlak deur sy vergrootglas en Kakkerlak loer met sy groot oë terug.

“Hierdie kakkelakkie is darem baie lelik, professor,” gooi die assistent, wat self bietjie na ‘n kakkerlak lyk, ‘n stuiwer in die armbeurs.

Die Kakkerlak het sulke groot ogies wat beide kante toe gelyk kan kyk en hy bekyk die Professor nuuskierig. As mens of ‘n Professor of ‘n Kakkerlak deur ‘n vergrootglas kyk, lyk alles aan die ander kant groter en belangriker.

“Reg,” sê die Professor, “ons is reg vir die eksperiment” en hy trek een van Kakkerlak se bene af en gooi hom in die asblik, “Spring !”

Kakkerlak het vyf van sy ses bene oor, maar hy spring sommer hoog die lug in toe die Professor die bevel gee.

“Sjoe,” sê die Professor, “dit is darem nou ‘n slim Kakkerlak. Selfs met vyf bene spring hy lekker hoog die lug in.” Die Professor maak ‘n aantekening met sy potlood in sy notaboekie. “Sonder een been is Kakkerlak nog steeds ‘n baie gehoorsame en slim insek.”

Die Professor loer weer deur die vergrootglas na die Kakkerlak en sit sy stetoskoop op die Kakkerlak se hart. Kakkerlak se hart klop woes van al die moeite om so hoog in die lug in te spring.

“Reg,” sê die Professor en hy trek nog een van die Kakkerlak se bene af en gooi hom in die asblik, “Spring!”

Kakkerlak het nou net vier bene oor, maar hy spring sommer weer hoog in die lug, net soos ‘n Olimpiese hoogspringer.

Die Professor is baie beïndruk. “Dit is ‘n baie slim Kakkerlak hierdie, twee van sy bene is in die asblik, maar hy spring sommer nog hoog in die lug in.”

Weer maak die Professor ‘n aantekening in sy boekie. “Sonder twee van sy bene is die Kakkerlak nog steeds ‘n baie slim en gehoorsame insek.”

Die Professor se assistant kyk vir Kakkerlak wat op die tafel sit. Hy weet darem nie so mooi nie, vir hom lyk dit of die Kakkerlak nie meer so hoog spring nie.

Kakkerlak loer na die Professor wat nou vir hom sommer kleiner lyk as die vergrootglas nie naby is nie.

“Reg,” sê die Professor en hy trek sommer nog twee van die Kakkerlak se bene af en gooi hulle in die asblik, “Spring!”

Kakkerlak het nou net twee van sy ses bene oor, maar hy spring weer, hoog in die lug.

“Gedorie,” sê die Professor, “die Kakkerlak is so slim dat hy met net twee bene oor nog na my luister.

“Kyk net hoe hoog spring hy met sy twee bene.” Die assistant is beïndruk, hy het ook nog nooit so ‘n slim Kakkerlak gesien nie.

Die Professor skryf weer in sy boekie : “Al het die Kakkerlak nog net twee bene oor, is hy steeds ‘n baie gehoorsame en slim insek en hy spring sommer baie hoog.”

Die Professor staan weer nader.

“Reg,” sê die Professor, “kom ons kyk wat gebeur” en hy trek die Kakkerlak se laaste twee bene af en gooi hulle in die asblik.

“Spring!” sê die Professor vir die Kakkerlak sonder enige bene, “Spring !”

Kakkerlak doen niks nie. Hy sit net op die tafel, sonder enige van sy bene en hy loer vir die Professor in sy wit jas en die assistant met sy groot swart bril.

Die Professor haal sy stetoskoop uit en luister na die Kakkerlak se hart. “Neewat,” sê die Professor, “sy hart klop nog steeds lekker hard en vinnig, hy is gladnie dood nie.

Kakkerlak sit doodstil op die tafel. Hy het nie meer bene nie, maar sy groot oë kyk die hele tyd vir die Professor met sy wit jas.

“Spring!” sê die Professor weer vir die Kakkerlak sonder enige bene, “Spring !”

Niks gebeur nie. Kakkerlak sit doodstil in die asblik en loer vir die Professor. Die Professor haal toe maar vir Kakkerlak uit die asblik uit, sit hom weer op die tafel en gee vir hom bietjie kos om te eet.

“Aha,” sê die Professor vir sy assistant, “nou weet ek, nou weet ek.”

Professor haal sy boekie uit, maak sy potlood skerp en skryf in sy boekie.

“As jy al ses ‘n Kakkerlak se bene aftrek, word hy doof.”




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed