Racheltjie de Beer
IN die geslagregister van een van die families De Beer in Suid-Afrika verskyn die
naam van ene Dapper George Stephanus de Beer, wat in 1794 gebore is. Of Dapper
toe sy voornaam gestand gedoen het, weet ons nie, maar ’n moontlik betreklik nabye
familielid van hom word vandag steeds gehuldig as een van die heldhaftigste figure
in die geskiedenis van Suid-Afrika.
Wat haar heldedaad des te aangrypender maak, is dat sy ’n blote melktand-tienertjie
was toe sy haar eie lewe gegee het—om die lewe te red van haar sesjarige boetie in
’n snerpend koue winternag in die veld.
Haar naam was Racheltjie de Beer. Dit was 1843, toe die trekkers van die Groot Trek
nog moes spartel om hul staatkundige ideale te verwesenlik en baie boere steeds nie
’n blywende holte vir hul voet kon vind nie en aan die rondtrek was om siel en
liggaam aanmekaar te hou. Só was die De Beer-gesin op trek uit die Vrystaat na die
destydse Suidoos-Transvaal op soek na grond.
Een nag staan die gesin toe oor in die veld op ’n welwillende boer se plaas. Die beeste
is aan die einde van die dag in die takkraal gejaag, maar een kalfie is soek. Die De Beer-
kinders is baie geheg aan hierdie kalfie en noem hom Frikkie. En dit kan nie hoër op
laer nie, elkeen wat kan, moet na die vermiste Frikkie help soek.
Onder die soekers is ook Racheltjie en haar kleinboet. Waar kan Frikkie tog wees?
Die kinders dwaal rond, roep waarskynlik keer op keer Frikkie se naam uit, maar hul
geliefde dierevriendjie is nêrens te vinde nie. Maar in hul jeugdige onverantwoordelikheid
raak hulle geskei van die ander soekers. Die skemer vou hulle toe, sneeu val uit die
groue hemel en Racheltjie en haar boetie besef hulle is verdwaal.
Racheltjie is verstandig genoeg om te weet dat hulle aan die loop moet bly, dat hulle
kan verkluim as hulle nie aanhou beweeg nie. Maar uiteindelik kan hulle nie verder
voortploeter deur hierdie verskriklike koue kapoknag nie. Hoe nou gemaak?
Racheltjie kry ’n plan. Sy moet ten minste haar boetie van ’n gewisse dood red, al
moet dit beteken dat sy haar eie lewe vir hom neerlê. Met ’n klip begin sy ’n miershoop
uithol. Sy trek haar klere uit en trek dit vir haar boetie aan. Klim in die miershoop in,
sê sy vir die seuntjie. En toe hy dit doen, gaan lê sy voor die holte en beskerm hom
met haar naakte liggaampie.
Dis hoe die grootmense die kinders die volgende môre gevind het: Racheltjie met haar
brose lyfie verkluim en leweloos voor die bek van die uitgeholde miershoop in die veld.
Haar boetie was styf van die koue, maar hy het gelewe.
Maar al was Racheltjie de Beer dood, bly haar gedagtenis langer as ’n eeu en ’n half nog
lewend en word sy onthou met ’n deernis wat oor alle groeps- en taalgrense heen strek.
Sy het die hoogste offer gebring. En sy was maar net weerlose meisietjie van twaalf.
Bron: http://kvbnuusblad.blogspot.co.za/2012/02/ons-kinderhelde-word-soms-vergeet.html