Mossieman vang amper ‘n dief
Die was winter in die Vrystaat en Mossieman het ‘n lang baadjie en sy kort rooi winterkouse aangehad. Sy beste maat, Geronkie die Donkie, het spesiaal twee wolkouse oor sy ore getrek om die koue en die sneeu uit te hou. Geronkie en Mossieman het elke aand om die kaggelvuur in Mossieman se snoesige nes gesit, en dan het hulle stories vertel tot laat in die nag. Mossieman het nie net stories vertel nie, maar in sy vrye tyd ook boeke geskryf en prentjies geteken, meesal om kinders te laat lag.
“Maar Mossieman,” sê-vra Geronkie een aand so terwyl hulle lekker warm blikbekers melkkos eet, “het jy nie ‘n boek geskryf oor hoe om ‘n dief te vang nie?”
“Ek het, Geronkie,” erken Mossieman met ‘n effens skugter kuggie. “Ek het ‘n boek geskryf oor die beste manier om ‘n dief te vang. ‘n Soort handleiding hoe om diewe te vang.”
“En sê jy in die boek vir die mense hoe om dit te doen?” vra Geronkie nuuskierig.
“Jààà.., ek skryf op die laaste bladsy van die boek hoe jy eintlik te werk moet gaan om ‘n dief te vang.”
‘Die metode?” wil Geronkie nuuskierig weet.
‘Jààà. .. maar dit is eintlik ‘n geheim,” sug Mossieman en hy teug aan sy lekker warm melkkos. “Op die laaste bladsy deel ek my geheim met almal, sodat almal in die hele Vrystaaat en die hele wêreld kan weet hoe om ‘n dief te vang.”
“Ek is nou baie nuuskierig Mossieman,” sê Geronkie, “wys my jou boek, veral die laaste bladsy, sodat ek ook kan sien hoe om ‘n dief te vang.”
“Ek sal netnou,” sug Geronkie, “ek drink nou eers my lekker warm melkkos. “En buitendien, dit hang af watter soort dief jy wil vang.”
“Soort dief? Wat bedoel jy Mossieman?”
“Daar is mos baie soorte diewe.”
“Bedoel jy soos ‘n handsakdief, Mossieman?”
“Jààà.., mens kry baie soorte diewe en die metode om elke soort dief te vang is anders.”
“Soos ‘n motordief? Of ‘n perskedief? Soos ek en jy daardie een keer die dominee se perskes uit sy tuin gesteel het.”
“Nee, wag nou,” sê Mossieman, “ons praat nie daarvan nie.”
“Maar die dominee het làànk na sy gesteelde perskes gesoek, selfs by die polisiestasie.”
‘Vergeet nou van die perskes Geronkie, ek praat van allerhande ander diewe, soos hoenderdiewe en skaapdiewe en melkdiewe.”
“Wat van grypdiewe?”
“Hulle ook. Dit hang af wie of wat hulle gryp. Byvoorbeeld, as hulle ‘n ouma wil gryp, dan los jy hulle.”
“Sê nou maar hulle gryp boeke? Dan is hulle boekediewe.”
‘Ja, maar dit is ‘n groot sonde om boeke te steel. Mense en diere kan boeke weggee, maar niemand mag ooit ‘n boek steel nie.”
Geronkie dink so bietjie na en sluk weer van sy lekker warm melkkos uit sy blikbeker. Hy weet nie altyd of hy vir Mossieman moet glo nie, veral nie as dit by slaaptydstories kom nie. Hy het al agtergekom dat Mossieman se oggend en aandpraatjies nie altyd ooreenstem nie.
‘Mossieman, gaan haal nou jou boek, sodat ek op die laaste bladsy kan lees hoe ‘n mens ‘n dief moet vang.”
“Reg so, ek gaan nou,” antwoord Mossieman langsaam en hy stap traag weg om die boek te gaan haal. “Daar is net een ding wat jy moet onthou Geronkie, ons is nie mense nie, ons is diere. Die storie gaan oor hoe mens ‘n dief te vang. Maar diere soos ons kan ook diewe vang, veral in die Vrystaat.”
“Ek weet Mossieman,” gaap Geronkie, “gaan haal nou die boek, ek wil op die laaste bladsy sien hoe om ‘n dief te vang.”
Nà ‘n rukkie kom Mossieman terug met die boek wat hy geskryf het en hy gee die boek vir Geronkie. Geronkie blaai angstig deur die boek en uiteindelik kom hy by die laaste bladsy uit. Hy is baie nuuskierig om te lees hoe mens ‘n dief vang en met ‘n dief se gal werk. Geronkie blaai en blaai en soek en soek na die laaste bladsy van die boek.
“Maar Mossieman,” sê Geronkie verbaas, “hier is dan glad nie ‘n laaste bladsy in die boek nie. Die laaste bladsy het verdwyn, hy is heeltemal weg. Hier is nie ‘n laaste bladsy nie!”
“Ek weet, Geronkie” antwoord Mossieman lomerig en sluk die laaste bietjie mellkos in sy blikbeker weg voordat sy oë toegaan.
“Ek dink ‘n dief het die laaste bladsy gesteel.”