Daar’s net iets omtrent ‘n Sondag
die son val deur my ruite
en maak patrone op my bed
met tak en blaar . . .
en vêraf hoor ek kinders
wat in die strate van Brackenfell
baljaar
daar’s krieket op die tv
maar die radio speel nog steeds klassiek
die wind is net ‘n roering
en die duif in die Acasia
maak – tortelend – sy eie
sad musiek
met af en toe ‘n hond wat blaf
en ‘n motorfiets wat brul
voel alles net so dood
klink alles net so
stil
en die middag raak ‘n newel
in die son se laaste glans
wyl skadu’s lank en uitgerek
oor gras
en baksteenmure dans
die bure steek ‘n vuur aan
die rook hang rook’rig in die lug
en daar’s net iets omtrent ‘n Sondag
wat my van hier af
– na ‘n ander wêreld –
wil laat vlug
*
die son val deur my ruite
en daar buite het die kinders
nou bedaar . . .
ek luister Kris Kristofferson
en lê hier op my bed
langs patroontjies gevorm
– met skadu’s gegooi –
deur tak en blaar
© C. Shaw
30 Januarie 2015
3 Kommentare
-
-
neels
Dit is so waar, Sondae het n karakter van hulle eie
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Mariette
Jinne dit is nou dêm goed verwoord. Jy stuur my terug na sondae toe ek nog 'n kind was en ons na ete moes gaan slaap.