Jongste aktiwiteit:

„Der Schwab” — (DIE SWAAB)

„Der Schwab” — (DIE SWAAB)

Op ‘n dag, doer in die middeleeue, sit ‘n paar Duitse vorste (prinse, hertzoë en diesulkes) in die ronde en vertel oor hulle onderdane. Die ene vertel hoe skelm en agterbaks hulle is; die andere hoe hard hulle werk, hoe graag hulle vir hom werk; en nog ene hoe getrou hulle hom dien. Dit aard in ‘n soort spog-kompetisie uit: Die ene wil die andere oortref met die goeie eienskappe van sy onderdane – alhoewel sommige tóg alte skelm is.

„En jy Eberhardt? Jy sit daar so stil in die hoek. Het jy nie ook iets om oor jou onderdane te sê nie?”

Eberhardt im Barte (nie „met die Baard” nie, maar „in die Baard”, dit moes ‘n welige kombers gewees het!), Eberhardt van Schwaben draai ewe stadig om en kyk die ronde aan: „Ek kan ter enige tyd, ter enige plek in my land my kop in die skoot van enigeen van my mense lê – en slaap.”

„DONNERWETTER”, kan ek net sê: Don! Ner! Wet! Ter! (= Nou soiets!)

Die Swabe is ‘n snaakse volkie. Hulle bewoon die suidelike deel van Baden-Württemberg en Beiere (Bayern) aan die noordoewer van die Bodensee (lac du Constance) tot aan die Donourivier en die binneland in tot Karlsruhe, Stuttgart, Ulm en Augsburg ongeveer; etlike tien of vyftien miljoen mense. Hulle is daarvoor bekend dat hulle goeie werkers is, vlytig, deugdig. Betroubaar: „Wat hulle doen, het hand en voet”. Daar word ook vertel, die mens werk om te lewe, maar die Duitsers – veral die Swabe – lewe om te werk.

En spaarsaam is hulle. Hulle is vir die Duitsers soos die Skotte vir die Engelse is: Daar’s net soveel grappies oor hulle as oor die Skotte.

Dis ook bekend dat hulle ewe snaaks is, komies, anders. . . Ons woord swaap kom waarskynlik daarvandaan. ‘n Sprokie handel oor die Sewe Swabe wat vir die keiser in die oorlog getrek het. Saam het hulle EEN lang spies, en elkeen het ‘n eie ONbekwaamheid (minstens). Hoe gaan hulle nou veg? Elkeen het boonop ‘n eie mening oor hoe en waar.

Een van hulle kom uit Bopfingen. Die Bopfingers word tot vandag toe die „Gelbfüßler” (geelvoeters) genoem, want hulle wou die keiser ‘n geskenk maak toe hy daarnaby by sy verwandtes gekuier het. Elke dorp sou ‘n geskenk bring. Die ene het ‘n slagvarkie gebring, die andere ‘n vaatjie vol heuning, ‘n paar bale wol of strooi vir die matrasse, koringgerwe en so voort. Maar die Bopfingers wou iets besonders bring, nie dit wat alle ander dorpe ook bydra nie. En toe kry die burgemeester ‘n briljante idee: „Kyk, ons het soveel hoenders en ‘n brekvis-eier is mos ‘n lekker ding: Elkeen bring môrevroeg al die eiers wat hy bymekaar kan kry – maar geen slegtes nie gehoor! Hulle sal onthou wat is ‘n lekker Swaabse ontbyt wanneer hulle teruggaan huistoe.”

Die volgende oggend dra die burgers van Bopfingen so veel eiers saam dat hulle die eselkarretjie tot aan die bordrand kon volmaak, en daar’s nog heelwat eiers oor. Hulle word in ‘n piramide opgebou tot bo uit. En tog is daar ‘n paar eiers oor. Hoe nou gemaak? „Gee maar daai laaste twee hier,” sê die ou wat in die boom sit om die piramide te bou, „dis mos ‘n belediging vir Ta’ Elsa as juis haar twee eiers nie aangeneem word nie.” En hy neem haar die eiers af. Versigtig-versigtig trap hy ‘n gaatjie bo in die piramide om die laaste twee eiers daarin te lê . . . En toe en toe . . .

In Suid-Duitsland tel ‘ n „voet” tot bo aan die boud; óns sou „been” sê.

Geelvoeters mos.

Ofskoon hulle baie vaderlandslief is, behoort die Swabe tot die groot emigrant-nasies: In die Middeleeue het hulle vlotte uit boomstamme gebou en het rivieraf gedryf om nedersettings langs die Donou te stig. Vandag nog herinner die mense in Hongarye aan die „Donauschwaben” — hulle voorvare. In die neëntiende of twintigste eeu het hulle in die omgewing van die Karmelberg in Palestina die grond weer oerbaar gemaak, onder ander met sitrusaanbou. Vrome, piëtistiese mense, die Karmeliter-Orde.

In Laupheim, naby Ulm, staan die bronse-standbeeld van

CARL LAEMMLE

‘n Joodse burger wat in die neëntien-twintigs na Amerika geëmigreer en Hollywood gestig en opgebou het (meegestig en saamopgebou moet mens seker sê). Vanjaar is ‘n jubileumsjaar, en die mense in sy „Heimatstadt” vier op verskeie manier, met konserte (by voorbeeld musiek uit sy films), seminare en redes tot sy ere. Daar is glad en al ‘n musical „Makin’ Hollywood” wat in November op die planke gebring gaan word. Ongelukkig was my verblyf slegs ‘n paar weke in Oktober.

Die nie-amtelike leuse van hierdie hardwerkende mense wat graag en hardop lag is „Schaffe, schaffe, Häusle baue,” ongeveer „Werk, werk, bou jou huisie”. Daarom word beweer dat hulle besonders goeie immigrante is, al die jare gewees het.

©24e.Oktober2017———— ※ ※ ※ ※ ※ —————————–tje




1 Kommentaar

  • Toom

    By die lys van voordele: Vlytig, deugdig, betroubaar en -- veral -- SPAARSAM! Die Swabe het die stelling onder die Duitsers wat die Skotte onder die Engelse het. Daar het hulle net so 'n lang lys grappies soos by die Skotte. GvT

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed