Desember 2023 – Veldslag projek – Kommentaar en uitslae
Baie geluk aan hierdie 10 lede!
WENNERS
GEDIGTE:
Goud:
No. 19 – Amanda De Meillon met Macbeth
No. 16 – Anzé Bezuidenhout met Beurtkrag van my gees
No. 12 – Andries Fourie met Gelofte
Silwer:
No. 5 – Hester Steenkamp met Vir Volk en Vaderland
GEEN
GEEN
Brons:
No. 3 – Anne-Marie Kotzee met Die geveg is nie myne nie
No. 9 – Cornien Naude met Wapenstilstand – Kersfees 1914
No. 6 – WJ Draaier met Vegkop
MENINGSTUKKE:
No. 3 – Marlene Erasmus Vrede bo veldslae
No. 2 – Ano wanneer geloof ’n slagveld word
GEEN
ARTIKELS:
No. 2 – Ano met Die slag van Opatikloof
No. 1 – Ano met Die slag van Grahmstad
GEEN
RUBRIEKE:
NO.2 – Pieter Mostert met Toe spottery se hart gaan staan
No. 3 – Ano met En soms is daar nie woorde nie
GEEN
VERHALE: GEEN
Lees gerus die weninskrywings hier: https://ink.org.za/biblioteek/projek-wenners/
KOMMENTAAR
GEDIGTE:
BRONS
3. Die geveg is nie myne nie
Ek dink jy het die tema besonders goed geïnterpreteer en die “veldslag” gebruik om jou eie rou en seer ervaring in ‘n vers te deel. Die gebruik van “volksbekende-woorde” uit die geskiedenis, soos ossewalaer, hanskakies en sanna, om ‘n paar te noem is baie raak en slim. Dit maak die leser betrokke juis omdat die leksikon in die volksmond bekend is. Jou vers is eerlik en baie teer geskryf. Baie goeie werk. Welgedaan. Jy het egter nie ‘n neologisme aangedui nie.
6. Vegkop
Dié veldslag is baie mooi in ‘n kort vers oorvertel. Die eerste stansa is egter vir my bietjie slordig en dit kort aandag. Vir die res is die woordkeuses reg, raak en juis. Jy het geen nuutskepping aangedui nie.
7. Geloftedag
Ek dink jy het nie té sleg gevaar om hierdie baie bekende veldslag te besig nie. Die woordkeuses en konstruksie daarvan kort aandag. Die gedig kon ook baat by die gebruik van funksionele punktuasie. Gesels gerus met my by inkmoderator@gmail.com indien jy nie met my kommentaar saam stem nie.
8. Geweld
Hierdie gedig poog om ‘n hartseer realiteit te verwoord. Ek dink egter dat daar ‘n beter weergawe van die vers verskuil is tussen die kriptiese aanbieding en die lukrake woorde wat hul pad papier toe gevind het. Dit is ‘n emosionele onderwerp, ek gee toe, maar die haak en steek manier van aanbieding is nie vloeiend nie. Gesels gerus met my by inkmoderator@gmail.com indien jy hulp wil hê om die potensiaal hierin te ontsluit.
9. Wapenstilstand – Kersfees 1914
Ek het nageslaan en geen bron gee vir my ‘n verwysing na die woord “sombernis” nie. Dit klink tog asof so ‘n term moet bestaan maar blykbaar nie. Ek stel voor jy redigeer (l 1, s 2) so:
“koue somberheid klou genadeloos”, of iets dergelik. Jy meld egter dat dit ‘n neologisme is, en daarom aanvaar ek jou gebruik daarvan. Jou vers beslaan nie ‘n konsekwente tipografie nie, en dit is ook nie voorskriftelik nie, maar ek dink dit sou die vers netjieser trek indien jou stansas ‘n eenvormigheid gehad het. Hierdie is seker een van die mees opvallende en verbysterende oorlog gebeurlikhede ooit. Die sinskonstruksie kort ook bietjie aandag maar ek dink jy het die “storie” mooi “vertel”
SILWER
1. Die arm man se ooitjie
Ek is nie oortuig dat jou vers ‘n epos is nie. In ‘n epiese gedig praat die digter in derdepersoon oor die heldedade van die “held”. Alhoewel die Bybel deurspek is van Dawid se heldedade, is sy wellustugheid vir Batsheba en die gevolge van sy besluite, nie in myns insiens ‘n heldedaad nie. Selfs sy erkenning teenoor die profeet en sy soeke na vergifnis, kan nie die heldedaad word nie. Jou vers opsigself vertel die verhaal, maar ek dink die versvorm wat jy aandui is nie korrek nie. Jy gebruik ‘n rits byvoeglike naamwoorde in een-woord sinne wat mynsinsiens nie die beste poësie-praktyk is nie. Dit is gewoonlik oorbeskrywend en onnodig. Die sinskonstruksie op sekere plekke is ook nie van die beste nie. Jou vers is lank, want dit is wat ‘n epiese versvorm vra, maar daarom moet jy juis daarop let dat jy jou leser se aandag hou. Ek dink jy het ‘n groot taak aangepak en daarvoor wil ek jou komplimenteer. Jy kan egter ‘n treffervers hieruit skep as jy jouself toelaat om daaraan te redigeer.
2. D-dag
Ek is onseker of jou vers die gebeure van Junie 1944 onder die loep neem, en of dit geheel niks daarmee te doen het nie. Die verwysing in jou vers na 94 mense het my verwar, tensy daar ‘n deel van dié geskiedenis is waarvan ek nie bewus is nie. Die herhaling van “dag/dae” (8 keer) in jou vers is ook effe steurend. Ek moet bieg: ek verstaan nie die vers nie, en daarom is dit moeilik om dit ten volle te evalueer.
4. Gevolge van wag
Ek wil ‘n paar “akademiese” dinge aanspreek in jou vers:
1. Jy merk jou vers as ‘n elegie. M.a.w. ‘n treurige vers oor die verganklikheid van die lewe en die verlies aan ‘n geliefde. Ek persoonlik het nie die seer en verlies wat jy gely het in jou vers ervaar nie. Die gebeurtenis is omslagtig beskryf en die leser is bewus van die verlies, maar die emosie, behalwe dat die narrator kwaad is oor die gebrek aan stiptelikheid, ontbreek.
2. Jy merk jou vers ook as ‘n epiese vers. Vir ‘n gedig om ‘n epos te wees moet dit die dade van ‘n held vertoon, en alhoewel die leser ‘n afleiding kan maak dat “Proppie” in die oë van die verteller ‘n held is, word dit geensins duidelik genoem nie.
3. Daar is ook onnodige herhaling in die vers, en om een voorbeeld te noem, hoe die manskappe die verteller in die helikopter verhoed om uit te spring. Daaraan word twee strofes gespandeer wat presies dieselfde inligting deel.
4.Daar is onnodige woordoorbodigheid en veral waar die digter beskrywende byvoeglike naamwoorde gebruik om elke aspek te verduidelik. Ek noem paar voorbeelde:
a. Die maan katedraal grootoog sy baan
b. sterre spring-huppel tonteldoos sterrestof
c. Ruiter-karos die fluweel van die nag ens. ens.
In hierdie situasie waar soldate nie weet hoe, waar en wanneer hul aangeval sal word nie, sal die omskrywing van die omgewing vir seker nie oortreffend poëties wees nie. Emosies sal baie meer donker sinister wees.
Die gedig beskik oor baie potensiaal, juis omdat dit op die waarheid geskoei is, maar ek wat dit evalueer, en ander lesers sal moeilik hieraan lees.
5. vir volk en vaderland
Dit is ‘n pragtige algemene verwysing wat na baie veldslae kan verwys. Jy het slim beplan en mooi geskryf om elke “geveg” in te sluit waaraan die leser mag dink. Mooi gedoen.
13. Slitstorms
Ek dink in jou poging om ‘n gedig te skryf om die menslike beproewing te verbeeld het jy in ‘n strik getrap deur te veel beelde te gebruik. Jou vers ontbreek aan nodige en funksionele punktuasie wat baie sou help om die terme te orden. As voorbeeld, kom ons kyk na 2 sinne in die 2 de strofe:
“fluks kloof my boeg deur deinings
kiel en spante suile van my siel”
Jy heg terme aanmekaar sonder onderskeiding. Punktuasie sou hier kon help. Soms is minder meer.
14. Veilig
Die gedig is ‘n groepering van lukrake woorde wat bymekaar gegooi is in die hoop dat dit ‘n vers sal vorm. Ek dink die vers is slordig. Wat beteken die sin: “vrystad Jesus Sterke Vesting”?
Niemand praat mos so nie, en indien jy ‘n raaisel wou skryf het jy mynsinsiens daarin geslaag.
17. Goed genoeg?
Nie net is die sinne baie lank in die vers nie, maar dit is vir seker nie die beste weergawe van hierdie vers nie. Ernstige redigering hierin skort.
18. Sproetgesig se seëning
Die gedig is slordig.
GOUD:
10. Kanker veldslag
Dankie vir jou deelname.
11. Kismet
Dankie vir jou deelname.
12. Gelofte
Jy het gepoog om hierdie bekende geskiedkundige verhaal vanuit jou eie oogpunt oor te vertel, met genoegsame digterlike vryheid. Jy maak in hierdie vryheid aannames dat byvoorbeeld die Zulu vegters van die Boere se Godsgees bewus is en dat almal ‘n nagrus gehad het hoor dié noodlottige dag. Die kombinasie term van “onskuldig stomverlate” laat my met vrae. Hoekom hierdie woordkeuses? Die vers is egter keurig en die nuutskeppinge is interessant.
15. Vergifnis
Ek ervaar die verteller in die vers as ‘n buitestaander en is nie noodwendig betrokke in die “vele veldslae” nie. Die aspek van kwytskelding glip in die vers in sonder dat die leser ten volle bewus gemaak word of dit gegee of ontvang word. Ek vind dit moeilik om assosiasies te maak met watter karakter hierin vergifnis gee óf ontvang. Die beelde is ook onnodig swaar op sekere plekke soos byvoorbeeld waar “vergifnis” verpersonifiseer word en ballet. Vergifnis as ‘n daad is reeds mooi, goed en naby-goddelik, en is daarom nie nodig om die op te tooi in allerhande digterlike fitterjasies nie. Beelde moet funksioneel wees anders word dit net “klinkende metale en luidende simbale”*
*Aanhaling:Die Bybel 1 Kor 13:1
16. Beurtkrag van my gees
My kommentaar is slegs op die akademiese meriete van die vers en daarmee wil ek nie hierdie seer ervaring onderspeel nie. Ek verstaan nie die gebruik van “beurtkrag” hierin nie. Dit kan maklik dan as tydelik geïnterpreteer word, en ek is seker die skade en pyn is ‘n konstante wat nie sommer lukraak aan en af geskakel kan word nie. Jou gebruik daarvan kan natuurlik geheel iets anders beteken, wat ek as leser nie verstaan nie. Dit vra moed om jou hart en seer so te belig.
19. Macbeth
Ek verstout myself en dink: miskien verstaan ek óók nou die storie van Macbeth, maar dan, dinge is nooit só eenvoudig nie. Gelukkig ken ek darem die verhaal en kan beaam, alhoewel jy dit in ‘n baie klein pakkie ingedruk het, het jy darem daarin geslaag om die kompakte oorvertelling korrek te doen. Ek dink dit is ‘n goeie projek vir die nuwe jaar: maak Shakespeare toeganklik, maar moenie lui wees in net drie stansas nie, soos jy hierdie gedoen het nie. 🙂
MENINGSTUKKE:
1. Maak liefde, nie oorlog nie.
Dankie vir jou bedrae.
2. Wanneer geloof ‘n slagveld word
Die sluitings-woord in jou mening kan maklik as sarkasties ervaar word. Alhoewel jou mening nét soveel gewig dra as ander s’n, het ek geleer, óm oortuigend te wees, help vingerwys en sarkasme nie. Jou mening bly egter joune en niemand kan en mag dit as onbenullig beskou nie. Dit is ‘n warm onderwerp wat maklik ‘n veldslag in sy eie kan word.
3. Vrede bo veldslae
Dit is ‘n netjies geskryfde, duidelik gemotiveerde meningstuk. ‘n Mening kan ‘n akademiese inslag hê, soos jy bewys het. Dit hoef nie noodwendig emosioneel te wees nie. Mooi gedoen.
RUBRIEKE
1. Skietstilstand
Onthou “ego” met een “g” beskryf die self en is nie ‘n weerklank wat “eggo” is nie. Let op die lengte van sinne en maak gebruik van jou arsenaal punktuasie. Dit maak net die leerervaring beter en makliker. Dankie vir jou deelname.
2. Toe spottery se hart gaan staan
Jy het die ervaring met groot deernis gedeel. Mooi geskryf.
3. En soms is daar nie woorde nie
Met deernis vertel. Dit is eerlik en mooi geskyf.
4. ‘n Klinkende oorwinning.
‘n Feitlike skrywe is nie ‘n rubriek nie. Dit moes eerder ‘n artikel gewees het. Dit is egter netjies en feitelik.
5. My reis, van vrees na vertroue
Keurig. Dankie vir jou deelname.
ARTIKELS
1. Die slag van Grahamstad
Baie netjiese navorsing en ‘n lieflike artikel. Welgedaan.
2. Die slag van Opatikloof
Jy het goeie navorsing gedoen en ‘n baie netjiese en duidelike artikel geskryf. Mooi gedoen.
VERHALE
1. Oproep tot plig
Alhoewel jy aan die verhaal ‘n persoonlike veriasie gegee het, dink ek tog dit is ‘n lui poging tot ‘n kortverhaal. Daar is niks oorspronklikes hierin nie en hy het maar net ‘n oorvertelling gedoen van hierdie bekende geskiedkundige verhaal.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.