Die begrafnisstoet
Die begrafnisstoet, deur Stephan Uys
Een ding weet ek wis en seker, ek is nie familie van oorlede Job nie. Dis nou Job van die Bybel, nie Job wat in ons tuin gewerk het toe ek nog ʼn laitie was nie, hoewel ek redelik seker is daardie Job is ook teen die tyd al oorlede. Nee, ek is sekerlik nie familie van die Bybel se Job nie. Nie eers verlangse familie van oeroupa of oerouma se kant nie. Om die eerlike waarheid te sê, ek is oortuig daarvan dat my familie se stamboom nie eers in die selfde lappie grond as Job se familie stamboom geplant staan nie. Saak staan so, Job word gesien as ʼn man van groot geduld. ʼn Man wat met ʼn vrou wat hom wil dood hê en ʼn siekte wat hom stukkie vir stukkie laat opvrot, nog steeds tyd maak om sy lot in lang hoofstukke teenoor sy vriende en die Here te bekla, was onse Job.
Nooit sal jy my sien stilsit en luister na iemand wat hoofstukke vol nonsens oor my praat, sonder om gegewe idioot sommer van ʼn wars kant af in die rede te val en hom of haar op die foute en flaters van hul eensydige filosofiese en teologiese opinies te wys nie. Liefie sê mos altoos vir my ek moet meer luister en minder vrae vra, maar as mens nou so van die Kaap se kant af ʼn storie vertel en jy weet die storie is op pad na Namibië toe, stop ek gou as iemand dan eers wil gaan voete natmaak in Natal. Ek is ʼn ‘wie, wat en waarom’ tipe mens, ek verloor vinnig entoesiasme as jy te lank kuier by wanneer en hoe dinge gebeur het. Maar ek loop draai nou self daar naby Natal met my storie.
Van kindsbeen af het ek nie vir mense gewag nie. Toe ek in Graad Een was, vergeet my liewe ma van haar oudste wat stok siel alleen vir haar by die busstop wag. Sy besef haar fout so twintig minute na die tyd wat sy gewoonlik vertrek om die oulike seunskind van haar te gaan oplaai, en sy spring in haar kar en sit voet in die hoek om my te gaan oplaai. In die tussentyd het ek van die bus afgeklim, gesien Ma is nie daar nie, rondgekyk om seker te maak ek is alleen, en toe sonder verdere versuim begin stap na die plaas wat sowat drie kilometer van die busstop af was. Teen die tyd dat my ma op die grootpad uitdraai, kom ek net mooi om die laaste draai gestap. Ma is net betyds om my die laaste driehonderd meter huis toe te ry. Daardie dag het ek besluit ek hou nie van wag nie, en nog niks het gebeur om my denke verander nie, maar eendag was dit so hittete gewees.
Ek het net klaar gestudeer vir pastoor toe ek een oggend ʼn oproep kry vanaf ʼn bekende groep begrafnisondernemers. Die persoon aan die ander kant van die telefoonlyn (daardie dae was daar nog meer hoendertande as selfone in Suid Afrika gewees) vertel my hulle het ʼn ongekerkte familie wat ʼn ewe ongekerkte oorlede familielid wil laat begrawe deur ʼn gekerkte leraar. Ek bevestig met geen besadigdheid dat ek wel ʼn gekwalifiseerde gekerkte is, en dat dit my grootste plesier sal wees om vir die ongekerktes hul oorlede familielid te begrawe. Ons bevestig datums en tye, en ek kry so bietjie persoonlike inligting oor die afgestorwene.
Ek het nog nooit iemand begrawe nie, en ek was op daai stadium nog net by Grootouma se begrafnis gewees – my familie is skynbaar nie groot op vroeg doodgaan nie. Hierdie sal dus my eerste begrafnis wees, en ‘eerste kere’ is altyd mos maar ʼn moeilike storie. Met jou eerste soen weet jy mos nie wat om met jou hande te doen nie, en of jy jou oë moet oop of toe hou nie. Ek onthou ek het my hele lus vir soen verloor toe ek tydens my eerste soensessie een oog skelmpies oopmaak en sien die mooi nooi beloer vir my met beide haar donkerbruin oë.
Ek begin ʼn preek uitwerk dat selfs ek naderhand dink as ek die hele preek gaan preek, gaan die oorledene begin ruik van die lank uit die yskas wees, en ek begin te snoei aan my woorde. Ek skryf vir my notas oor hoe ek die familie en vriende moet welkom heet, en ek probeer ook iets persoonlik sê oor die oorledene wat ek nooit self geken het nie. So breek die groot dag aan, en net na middagete (wat ek redelik senuagtig aan geknibbel het), vat ek die pad na een van Johannesburg se noordelike voorstede. Die diens word sommer by die Ondernemers se kapel gehou, en ek is lekker vroeg daar. Ek word vriendelik by die kapel se deur ontvang en ʼn begrafnisbrief in die hand gestop. Daar is nog kind nog kraai in die kapel en ek gaan neem my ereplek agter die kanseltjie in en begin deur die begrafnisbrief lees. Alles lyk in orde tot ek hier na die einde lees van die draers. Draers? Dit slaan my met ʼn vuishou ek kan die tante wat so ongekerk gesterwe het nie vir ewig hier in die kapel sal kan los nie, ek sal haar seker een of ander tyd by ʼn begraafplaas moet kry – ek wens net ek het daaraan gedink toe ek my notas so sorgvuldig voorberei het. Koue sweet slaan op my voorkop uit en ek begin notas skribbel op my notas. Haastig soek ek vir ʼn versie om te resiteer langs die graf, maar die Bybel val net oop by “verbly jou in die Heer” en “Kom Sy poorte binne met lofliedere”.
Teen die tyd het die familie rooioog opgedaag en word ek aan elkeen voorgestel en probeer ek hul troos en bemoedig, terwyl die doodsklokke beier in my onderbewuste – vandag sien ek meer as net die oorledene se gat!
Presies wat ek gesê het, en hoe lank ek gevat het om dit te sê, kan ek jou nie vertel nie, maar einde ten laaste is die slotgesang gesing, die oudste seun het my en die ondernemers bedank en die draers by die kapel het soos een man die kis in die lang slap swart lykswa gelaai – alles onder ʼn swaar somber gemoedstoestand wat ek heelhartig met die familie gedeel het. Die tante se teraardebestelling het swaar op my gemoed gedruk. Die bestuurder van die lykswa vra my om agter hom te ry, sodat ek die familie by die begraafplaas kan ontmoet. Dit klink vir my na ʼn goeie plan en toe die groot kar uitbeweeg skuif ek agter hom in. Ons is op pad na Johannesburg se begraafplaas waar Grootouma ook begrawe is, maar ek het nie eers ʼn halwe idee waar die begraafplaas of die graf is nie. Terwyl ek so agter die lykswa aanry, probeer ek my indink in wat ek moet doen daar by die graf. Ek onthou in flieks is die ‘dust to dust’ ding baie treffend en ek probeer dit vryweg te vertaal na Afrikaans. My gedagtes is gefokus op die komende teraardebestelling en ek dink nie aan enige iets anders nie. Stadig maar seker raak ek wel bewus daarvan dat die persoon in die groot swart motor hier voor my darem wragtag stadig ry, en ek begin haastig raak. Stadig ry beteken ek wag vir die persoon voor my om die versneller van sy motor te ontdek – en ek haat dit om te wag!
Geïrriteerd sit ek my flikkerlig aan, maak seker daar is genoegsame skoon pad om by die slakkepas drywer verby te gaan, en toe skiet ek langs hom verby soos ʼn pyl uit ʼn boog. Ek weerhou my om vir die skilpadbestuurder enige handseine te stuur, maar gee darem so ʼn lekker laaaang toeter toe ek verby snel. Tevrede sien ek hoe die swart kar en die string karre agter hom in die truspieëltjie verdwyn. Die pad lê wyd en oop voor my, en ek begin weer die begrafnis en die verrigtinge rondom die graf te bedink. Dit is toe ek die tweede keer in my gedagtes die familie agter die lang swart motor ontmoet, dat ek besef die motor wat ek so ʼn paar minute gelede verbygegaan het, en die motor in my gedagtes, het dieselfde nommerplate. Koue sweet slaan weereens op my uit en ek stop amper net daar in die middel van die pad. Ek soek vir die naaste aftrekplek en begin bid soos ek nog nooit van tevore gebid het nie – ek bid dat daardie stoet tog net asseblief tog by my verby sal ry. Ek het seker so vyf minute gewag toe sien ek so ʼn lang swart motor doer agter op die horison verskyn. Nog nooit was ek so dankbaar om te wag vir iemand om na my toe te kom nie, en die dankbaarheid het nie eers effe verdwyn toe daardie lang swart kar se bestuurder met die breedste glimlag verby my ry en ʼn baie oordrewe saluut vir my gooi nie. Ek het nog gewonder of ek agter hom gaan kan inval, toe draai die man regs en ry by die begraafplaas in. Ek was so paniekbevange ek het nie eers besef ek sit reg voor die laaste rusplek van duisende siele nie. Heelwat later, toe die tante mooi gebêre is, kom staan die astrante bestuurder langs my en vra so sonder om te blik of te bloos of ek ʼn bietjie gaan wag en dan sommer agter hom aan wil ry na die onthaal toe, en of ek maar vooruit gaan jaag teen my eie spoed… Verbeel jou die onsinnigheid. Die man weet mos ek wag vir niemand nie!
©Stephan Uys – 2018/06/10
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.