
Die berugte Bengaalse Ming
(792 Woorde)
As ek kan een ding sê oor vandag, dan is dit dat dit die beste en miserabelste dag van my lewe was. Die dag het wonderlik begin. Dit was ‘n pragtige sonskyn dag. Maar buiten vir dit, het ek wakker geword met ‘n gewaarwording: Ek was verlief. Ek was nie verlief op Maharaj of Saskia, wat die hok met my gedeel het nie. Om die waarheid te sê, my liefde was nie eers vir ‘n tier nie. Ek was verlief op my hanteerder en versorger, Kitch. Ek weet dit klink vreemd dat ‘n tier op ‘n mens verlief is – die besef was net so ‘n skok vir my. Dit is dieper, groter liefde as enige ander liefde. Mooi. Misterieus. Kitch sorg vir my al vandat ek ‘n welpie was. Ek en Kitch het ‘n spesiale band – iets wat die ander tiere nie gehad het nie…
Elke dag bring Kitch klokslag ons kos en met sy vriendelike stem sal hy ons roep om te kom, sodra hy weer buite die kamp was. Maar vandag … vandag het Kitch nie gekom nie. Ek het gewag en gewag. Ek het konstant die lug geruik, maar die reuk van honderde toeriste wat om die hok gedrom het, het dit onmoontlik gemaak om een spesifieke reuk uit te sonder. Die honger het gegroei, en lateraan het ‘n hoofpyn by die honger aangesluit. Die geraas van die babbelende toeriste het dit ook nie beter gemaak nie.
Uiteindelik, net toe dit voel of my kop in ‘n miljoen stukkies gaan bars, hoor ek die grendel van die hek oopskuif. Weg was die hoofpyn! Weg was die honger! Die wêreld was weer perfek, want Kitch was hier.
My liewe, liewe Kitch.
Hy het die kamp ingestap, en ek het in ‘n oogwink tot langs hom gespring. Uit blydskap. Om hom te sê hoe lief ek vir hom was. Die vreeslikste ding het egter gebeur. Ek het skaars langs Kitch geland, toe slaan hy my met die stok reg op my neus. Nog nóóit het hy my met sy stok geslaan nie.
Tot my spyt het ‘n ongekende woede soos ‘n vloed deur my gevloei. Ek het bo-op Kitch gespring en hom gebyt. Geskok het ek geretireer in die rigting van die skuiling. Ek het my geliefde Kitch gebyt! Dit was net ‘n ongeluk… Of dalk was dit so bietjie opsetlik. Miskien iewers tussen die twee.
Ek het weer tot by Kitch geloop, en hy het angsbevange probeer wegkom. Maar ek moes dit wat nou gebeur het ongedaan maak! Ek het die vier perfekte ronde gate, wat deur my slagtande gelos is in sy nek, begin lek om die bloeding te stop. Sy bloed was heerlik. Soet. Lekkerder as enige van die ou vleis wat hy elke dag vir ons gebring het. Weereens het ek besef wat ek besig was om te doen. Ek het besef dat die lek van my growwe tong nie die bloeding gestop het nie. Ek het opgekyk na die skare mense om die hok, op soek na hulp. Ek het angsbevange begin brul; gesmeek om hulp. Die hordes mense het paniekbevange gegil en my gegooi met leë blikkies en klippe. Ek het opgelet dat die hek na buite toe nog oop was. Dalk was daar iemand daar buite wat Kitch kon help. Ek het vreesloos uitgehardloop. Weg van die kamp wat my tuiste was. Mense het op en af gehardloop, in al die verskillende windrigtings. Dalk het hulle ook gehardloop om hulp te gaan kry vir Kitch?
Een vrou het gestruikel en haar mens-welpie het uit haar arms geval. Ek het nader gehardloop om haar te help. Ek het die huilende mens-welpie versigtig in my kake geneem, en dit het feitlik onmiddellik ophou huil. Verbouereerd het ek besef wat ek gedoen het – my skerp tande en sterk kake het die brose welpie seergemaak.
Ek wou huil. Dít moes nie gebeur het nie. Ek wou nie my liewe Kitch seermaak nie, en ook nie die arme mens-welpie nie!
Die mens-welpie se ma was skielik by my. Sy het my geslaan met haar vuiste, haar hande in my kake gedruk en dit probeer oopsper. Dit was genoeg.
Ek het haar welpie laat val en haar gebyt. Ek het haar ingewande uitgetrek en daaraan begin smul. Haar bloed was soet op my tong. Die vleis van haar beendere getrek; sag en heerlik.
Dít was nie ‘n ongeluk nie.
Ek wóú haar doodmaak. Dit was onvermydelik. Noem dit maar … instink, as jy dit iets wil noem.
Ek was nog nooit so gelukkig soos nou nie!
Ek het te laat die man met die geweer gesien. Ek het te laat die harde knal gehoor.
‘n Stilte het neergedaal om my en oor my. Vryheid. ‘n Vrede. Gevul met die wonderlike gevoel van liefde, vir my Kitch.
‘n Verwerking van “The Infamous Bengal Ming” deur Rajesh Parameswaran.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2021 – intertekstualiteit projek