Die Franse Revolusie en n” jas
Johan j van Rensburg Brons afd Kortverhaal.
Die Franse Revolusie en ‘n Jas
Ek sit al vyftien minute in ‘n pashoekie van ‘n Eietydse Klerewinkel in Melville en
karring met my naelvyl aan die sak van ‘n ou jas.
Ek is van nature ‘n avontuurlustige, en dis toe ek my hand so “terloops” in die sak steek
om voor die spieel te tiekiedraai, dat ek die aardige verdikking in die voering van die sak
onder my vingerpunte voel. Asof ‘n slang my gepik het, het ek my hand vinnig
teruggeruk. My hart het getromslag in my keel en ek het geweet ek moet iewers
privaat wees om my “vonds” van naby te ondersoek.
Die bleek ontvangsdame het skaars die pienk doek oor die pashoekie drapeer of ek ruk
my naelvyl uit my geborduurde handsak. In my brein het die naelvyl die binneste
sy-agtige voering van die regtersak gesny soos ‘n warm mes deur plaas botter gly. Die
werklikheid was tragies. ‘n Vyf minute avontuurverhaal raak ‘n vyftien minute stoeigeveg
met ‘n stomp naelvyl en ‘n tweedehandse monster!
Ek kou die laaste garing los en bid vurig dat die pienk doek net nie nou, met die jas in
my mond, moet lig nie. Ek sal nie weet wat om ter verdediging aan die bleek
ontvangsdame te pleit nie!
Daarsy!. Uiteindelik los. Ek wriemel met my teer vingerpunte die opgevoude stukkie
papier vanuit die voering los. Die papier is al geel van oudgeit. Ek ruik ingedagte
daaraan…Kan dit pyptabak wees?
Onderbreking. Dis die bleek ontvangsdame wat deur die pienk fluister. “Alles oraait
mevrou?” Ek besef ek is steeds in die pashoek. Ek gryp die swart jas, druk die naelvyl
in die sak, gryp my hansak en swaai die pienk lap wyd oop. “Waar betaal ek?” Ek
glimlag mooi.
Eers moet ek ‘n sterk kafeien inspuiting kry. Die roetine vragies van die kelnerin by die
koffie stalletjie frustreer my opeens. “Goeie more, ek is Chantelle, ek sal u vandag
bedien”. Sy glimlag soet. My gesig bly ‘n masker. “Kan ek vir tannie iets bring om te
drink?”
Ek voel skuldig oor my ongemanierdheid. Ek maak oogkontak. “Cappuccino asseblief.
Met baie room, skattebol”
Ingedagte het ek die geel briefie om en om gedraai in my vingers. Die nuuskierigheid
maak my al kortasem. Stadig nou, maan ek myself. Vanuit my handsak diep ek my
natuurlike kalmeer tablette. Ek sit sommer drie onder my tong en suig my wange hol
asof ek ‘n ontydige dood afspraak moet keer.
Ek dwing myself om aan iets anders te dink.
Ek dink aan my werk as biblioteekaresse van die Nasionale Biblioteek in die stad. Ek is
‘n gebore boekwurm. Ek verslind speurverhale. Ek is ‘n vyf-en-veertig jarige oujongnooi
met ‘n diep siel en my gunsteling fliek is “Age of Adeline”. Dit is waarom die jas my
aandag getrek het. Hoe oud is dit? In watter era is dit gemaak en hoe is dit moontlik dat
dit nog steeds so goed daaruit sien?
Sou die jas vanuit Frankryk kom, was dit waarskynlik die eiendom van ‘n Franse heer
wat tydens die Franse Revolusie onder Marie Antoinette se valbyl gesterf het.
Ek het iewers gelees dat, al sou Franse here net op straat in ‘n eg Franse jas verskyn,
hulle daarvoor aan die guillotine gesterf het.
Sou die jas uit die Victoriaanse era spruit, is hy heel waarskynlik gedra deur gaste van
Prins Albert se talle uitspattige koninklike onthale. Hierdie jasse is net deur adelikes
gedra, en sou iemand jou so ‘n jas as geskenk gee, is jy onmiddelik in die adelike kringe
opgeneem en aanvaar.
Die jas kom beslis nie uit die jare tydens die Groot Oorlog nie, want dit getuig die snit.
Dit is ‘n enkellengte jas, en dit wys dat daar meer as genoeg materiaal beskikbaar was.
Die materiaal is ryk en swaar, en die binnevoering is met oorleg gedoen. Hier was geen
sprake van minimalisme en tekorte wat in die depressiejare kort na die oorlog geken
het nie!
Die cappuccino is heerlik. Ek drink dorstig en stort van die room in die piering. Dis tyd
om die geel vierkantjie van naderby te besigtig. Behoedsaam skuif ek die koffiekoppie
ver oorkant my.
Kan dit wees dat my vingers bewe?
Die geel vierkantjie vou vinnig los. Ek haal my leesbril uit my handsak. Die woorde is
onherkenbaar en baie dof, ek maak slegs hier en daar ‘n naam uit: Louis-Charles,
Madame Elizabeth, Marie Antoinette, en Louis XVII…die res van die brief is hierogliewe
en verstaan ek g’n sout of water van nie…
Ek is teleurgesteld. As ewige romantikus het ek soveel meer verwag…
Ek haas my met gloeiende wange na die biblioteek. Ek studeer nagte om. Ek raak
luistergenot en my kennis vermenigvuldig daagliks. My stap is regop, ek straal van
ekstase. Na ‘n volle twee weke het ek die Franse boodskap ontsyfer. Ek voel soos ‘n
Franse adelike.
My jas hang veilig in my kas.
Die boodskap, vertaal in Afrikaans, lees as volg:
My liewe Louis-Charles, ek neem aan dat die oorlog nou verby is en jy het jou vader se
jas. Hy het dit gedra ten tye van die Franse Revolusie. Dit het hom verraai en hy is
gedood. Neem die jas, dit verkondig dat jy van adelike oorsprong is, dit maak jou die
regmatige koning van Frankryk, Louis XVII.
Dra dit met trots, ter ere van die adelikes wat gesterf het tydens die Franse Revolusie.
Jou tante, Madame Elizabeth
Januarie 1793
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2024 - OOP projek