Jongste aktiwiteit:

Die Groot Trek

Die Groot Trek
“Die Jirre alleen weet hoe ons met die spul snotneus kinners en blêrende boklammers by Lutz-se-puts op die trein gekom het. Die helfte aan die pram en die ander aan die speen.” Mike Booysen skuif rond op sy stoel asof hy die hele episode weer beleef. “Jy moet weet die mense ken net vir Riemvasmaak. Daar het ’n tier of drie rondgeloop maar daar in Otsihawera het die leeuse dik geloop.” Mike is lief om ’n storie bietjie spek aan te sit. Net vir ’n bietjie geur. “Die Nuwe Testament sê mos daar is niks verkeerd met ’n stukkie vark nie.”
“Laat my dink aan die donkie wat ek gehad het. So ’n donker ene. Seker op die derde dag daar in die verte stap die donkie al snuiwend om ’n bos en kyk toe vas in leeu se kind. Die donkie het opgestyg, in die lug omgedraai, ’n lang slap skyt geskyt en lang ore neergesit. Die eerste keer lat die arme dier omkyk was toe hy daar by Upington verbytrek.” Mike delf diep.
“Maar laat ek jou vertel van Sarie Adams. Dit was nou ’n mooi kind gewees.” Mike kry ’n veraf kyk in die oë.
Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Brood kon sy knie. Afval skraap en katoen pluk soos ’n masjien. As sy die dag daai stappie optel kon niemand haar skaal klop nie. Sy het katoen gepluk asof sy en die katoen mekaar geken het. Haar hart is egter gebreek in ’74 met die groot trek.
Daai tyd het sy vir Oumatjie Siena opgepas.
Toe die eerste storie beginne loop oor trek uit Riemvasmaak het Sarie die donker wolk van vrees saam met haar beginne dra. Die Vader het getroos, “Alles is in die Meester se hand. Niks sal ons ontbreek nie.”
Die dag toe die nuus amptelik oorgedra word dat daar getrek word, het sy begin bid. In God se hande is alles moontlik. Die groepie biddende susters het by die dag groter geword. Van die nonne het bystand gelewer. “God sal niks toelaat wat Hy nie in Sy Raadsplan het nie.”
Die dag toe hulle goed gelaai is, het haar hart amper in twee geskeur. Hoe kan dit wees dat God hierdie dinge toelaat? Steeds verwonderd en wagtend op God se ingryping het Sarie onwillig begin pak. Hulle is streng orders gegee oor hoeveel hulle kan pak. Noudat hulle hierdie kilogramme gebruik is dit so min. In ponde se tyd sou hulle ten minste die goed kon saamvat wat hulle nodig het. Die nuwe katoenskaal laat so min toe.
Soos hulle goed op die lorries gegooi is, is hulle huise aan die brand gesteek. Meeste huise was van Molopo-gras gemaak. Ander van riet uit die rivier uit. Van die ou mense het net verwese rondgestaar. Trane het vrylik geloop. Sommige mense is in daai ou huisies gebore en meeste van hulle het familie uit daai huisies aan die dood afgestaan. Die gloed van die brandende huisies het hul gedwing om eenkant toe te staan.
Die weer was dik in die Ooste.
Vir Sarie was dit duidelik dat God ’n ander plan vir hulle gehad het. In haar hart het sy afskeid geneem en gefokus op oorlewing. Die ander kinders en Ouma Siena het nou haar fokus geword.
Hulle sou die trein op Kakamas vat. Alles sou in die trein gelaai word en hulle die onbekende pad Noorde toe vat. Suid-wes toe. Dis waarheen hulle sou gaan. Die groep van Melkbosrant was al amper vir ’n jaar daar. Woeste wêreld daar bo. Leeus het blykbaar elke nag verwoesting onder hul bokke gesaai. Tot hulle geleer het om die bokke saans kraal toe te bring en vuur te maak buite die hek.
Die spul met die diere het al ’n paar dae vroeër die pad gevat met die vee. Kakamas is ’n goeie drie dae se trek weg. ’n Paar keer het hulle aan’t stry geraak as die bokke uit die gorrel glip. Die goed is nie gewoond aan ’n klein spasie nie.
Op Kakamas aangekom kry hulle die boodskap, “Moenie afpak nie, julle moet trug.” Dis waar alles vir Sarie gevang het.
Hulle het die afgelope maande gebid en gesmeek dat God sal ingryp. Hoewel Sarie geweet het dat die Melkbosranters weg en gevestig is het sy aanhou glo God sal sy voet dwars sit. Tot die Vader eendag vir haar gesê het: “Vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Die mense het gejubel. God het sy voet dwars gesit. “God het ons aangehoor.” Die ou mense het met trane in die oë die pad terug gevat. Meeste van hulle het gedink hulle sal Riemvasmaak nooit weer sien nie. Sarie het van beter geweet. Die Stasievoorman het vir haar gesê die spoorlyn tussen Karasburg en Keetmans het weggespoel. Sy het geweet dis net ’n tydelike onderbreking in hulle groot trek.
Terug op Riemvasmaak was daar niks. Alle huise is afgebrand. Onder ’n kameeldoring staan Sarie en Ouma Siena in die reën en kyk hoe daar tente opgeslaan word. Eintlik kan hulle nie sien nie, dis pikdonker. Die soldate slaan tente op terwyl die blitse in die koppe slaan. Sarie kyk na die jong seuns wat die tente opslaan. Elkeen het iewers ’n ma. “Vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Vir die eerste keer keer verstaan sy dit.
Die dag toe hulle ’n tweede keer trek het dit kliphard gereën. Uit die ooste uit. Dit beteken groot reën. Die Molopo loop al vir weke. Die dag toe die mense met die vee deur die rivier moes trek het ’n paar bokke weggespoel. Die Vader het gesmeek om genade. Die groot sersant van die Polisie was onverbiddelik. “Trek sal julle trek. Julle klomp Roomse aanbid mos ’n vrou. Al kom julle God voetsaam van daai rooi berg af sal julle trek. Trek sal julle trek.”
Lutz-se-puts. Dis waar hulle die trein sal vat Khorixas toe. Kakamas lê agter die water. Die Grootrivier het afgekom. Dis Maartmaand en dis reëntyd. Hulle word aangejaag. Die spoorlyn kan weer wegspoel. ’74 is ’n reënjaar.
Op Lutz-se-puts gekom het die spul verwese na die paar huisies gekyk. Die wêreld is plat en hout is skaars. “Moenie die drade plattrap nie.” Die vrouens steur hulle min aan die Sersant. Die ergste wat kon gebeur het reeds gebeur. “Wat sal jy in elk geval doen. Ons toesluit? Op Kakamas? Skree maar tot jou stemmetjie wegraak Sersant.” Sarie het ’n wilde kyk in die oë.
Die mans pak die trein en die vroue maak kos. ’n Mens weet nooit wanneer hul weer kans kry nie. Meeste van hulle was nog nooit verder as Kakamas nie. Dis vreemd vir almal. Die kinders is soos altyd die wie hulle min steur aan probleme. Die meeste het nog nie ’n trein gesien nie, wat nog te sê op een ry. Hulle speel soos kinders speel.
Van vroeg vertrek die volgende oggend is daar min sprake. Kry nou ’n klomp kinders, ’n klomp honde en ’n spul bokke op ’n trein. Uiteindelik skril die Stasiemeester se fluitjie en die reis begin. Die kinders kyk verwonderd hoe die wêreld by hulle verbyvlieg en die ou mense vee ’n traan af. Hulle besef hulle sal Riemvasmaak nooit weer sien nie.
Op Grünau wag hulle eers vir ’n ruk om berig te ontvang van die spoorlyn vorentoe. Dit het weer swaar gereën en kanse kan hulle nie vat met hierdie vrag nie. Daar is te veel honde en kinders wat kan wegraak. Almal kry streng orders om nie die trein te verlaat nie. Mens en dier moet egter eet en drink, so dit gaan moeilik om orders uit te voer.
Op Mariental stop die trein en kry hulle kans om die diere kos en water te gee. Die vroue soek hout en slaan ’n vuur aanmekaar. Kosmaak. Die mans gesels met die Namas wat by die koöperasie werk. Die taal van die Namas klink soos musiek in die ore. Baie van die Riemvasmakers kan nog Nama praat. Versigtig vis hulle uit van Khorigas en Otjihawera.
“Leeuwêreld.” Dis al wat hulle uit die Namas kry.
Dis ’n gesukkel om die honde en kinders weer op hulle plek te kry. Die treindrywer vloek vreeslik. “Dis nie ’n vakansie nie.” Nee dit is nie. Dit is vir baie die einde van alles. Vir die kinders is dit egter ’n avontuur.
Een van die Gouse raak weg.
Op Windhoek stop hulle en kry opdrag om al wat mens en dier af te laai en goed te versorg. Al probleem is dat daar nie hout is nie. Daar is aan alles gedink, lusern, water, mieliemeel, broodmeel, vleis, aartappels en uie. Net nie aan vuurmaak nie. Gou word dit ’n groot uitdaging wat net opgelos kan word deur ’n baie praktiese oplossing: kry hout.
Nadat die probleem uitgesorteer is daal daar vrede oor die kamp neer. Die vroue kook kos, die mans gee die diere kos en die kinders verwonder hulle aan die vreemde dinge rondom hulle. Hulle sien selfs ’n vliegtuig opstyg in die verte.
Die ou mense sit verwese en wag. Wag. Hulle nuwe werklkheid. Wag. God alleen weet waarvoor hulle wag. Daar is niks oor om voor te wag nie. Die hele gemeenskap is uitmekaargeskeur. Sommige is suid na die Transkei. Sommige is Noord na Khorixas toe. Hulle weet nie waar hulle gaan eindig nie. Broer Mike probeer ’n grappie maak. Niemand lag nie. Een ou antie glimlag effens. Meer uit beleefdheid as iets anders.
Hulle klim af op Outjo. Die plek ruik vreemd.
Tyd vir vuur aanslaan en kos maak is daar nie. Alles word oorgelaai op die lorries wat staan en wag. Die jongetjies kry nie die donkies op die lorries nie. Hulle besluit om met hulle te trek.
“Julle sal in julle moer in verdwaal. En die leeuse sal julle opvreet. Donkies en al. ’n Donkie het nie ’n wil nie. Kry die hardegatgeit uit hulle.” Ouboet Frans tree na vore as die leier. Iemand moet nou hierdie spul wys waar Noord is. Moses van die Riemvasmakers?
Na nog ’n uur of twee is almal gelaai en die lorries vertrek. By die gemeenskapsaal op Khorixas word hulle verwelkom deur die Kaptein en sy mense. ’n Klomp sinkplate en ’n klompie pale is elke gesin se toekoms. Dit sou lank vat voor die dowwe gesigte weer lewe kry. Sommige het net daar probeer uitvind watter rigting Kakamas is. Stadig het die besef tot hulle deurgedring dat dit hulle nuwe tuiste is.
Op die derde aand vreet die leeus die eerste bok op.
Teen die einde van die jaar sit Sarie Adams en ’n klomp vroue hulle voete dwars en trek met die hulp van die Kaptein weg De Riet toe. Die leeus sal hulle almal met diere en al opvreet. Op De Riet hoef hulle hulle net oor olifante te bekommer. As jy onder hulle voete kan uitbly kan jy saam met hulle lewe.
Een voordag oggend staan Sarie Adams buite haar eenvoudige huisie. Die weer is swaar. Die blitse slaan in die koppe. Die Huab Rivier kan afkom. Aan die Suidekant is dit oop. Die Suiderkruis hang oor Riemvasmaak.




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed