DIE HAMERTJIE EN DIE KARRETJIE
Johan het die grootste gedeelte van sy kinderjare op ’n plattelandse myndorpie deurgebring, waar hy met Gerhard goed bevriend geraak het. Hulle het in dieselfde straat gewoon. Oorkant Gerhard-hulle se huis was daar ’n oop stuk veld, met ’n voetpaadjie wat daardeur gekronkel het. Dit was Johan en Gerhard se gunsteling speelplek.
Hulle het elke Saterdag met hul matchbox- karretjies in hierdie voetpaadjie gespeel. Gerhard was dan die Stadsbeplanner, wat met sy matchbox en dinky toy- stootskrapers en lorries vir hulle ’n dorp met strate uitgelê het. Hy het met een van sy pa se hamertjies, klippe en kluite stukkend gekap, gate, dammetjies, dongas, heuwels, ensovoorts gemaak. Dit was nou vir jou ’n handige hamertjie! Die een kant van die hamertjie was gebruik om spykertjies in te slaan, terwyl die ander kant soos ’n beiteltjie gelyk het. Dit was juis hierdie beiteltjie-gedeelte waarmee Gerhard hul dorpie heel behendig uitgelê het, terwyl hy die ander gedeelte van die hamertjie gebruik het om die paaie en damme mee te kompakteer. Gerhard het Johan altyd verstom oor hoe hy te werk gegaan het om met behulp van hierdie hamertjie die prentjie van die dorp wat hy in sy kop gehad het, binne ’n japtrap te laat verrys. Daar was ook damme, stroompies, vulstasies, ’n poskantoor en verskeie soorte winkels. ’n Ware miniatuurdorpie.
Wanneer Gerhard die groter klippe met die beiteltjie-gedeelte van die hamertjie stukkend gekap het, het Johan altyd gedink aan die gediggie, Die Beiteltjie, van N.P. van Wyk Louw, wat Ma vir hom geleer het. Soms het hy die woorde van die digter: “Ek sit ’n klippie op ’n rots:- mens moet jou vergewis: ’n beitel moet kan klippe breek as hy ’n beitel is,” hardop gesê.
Gerhard se speelgoed het benewens die stootskrapers en lorries ook uit caterpillars, trekkers en bakkies bestaan. Johan het so spoggerige metalic pienk BMW-sport match-box karretjie met ’n afslaan dakkie gehad. Ai, hy was so versot en trots op hierdie karretjie omdat hy al sy pennies lank moes spaar om dit te kon koop. Johan het selfs wanneer hy klaar daarmee gespeel het, ’n ou tandeborsel wat ma vir hom gegee het, gebruik om die karretjie mee te was. Dan het hy dit op sy studeertafel gaan sit sodat hy dit altyd kon sien.
Een Saterdag was hulle nog so heerlik aan die speel in die dorpie wat Gerhard vir hulle in die voetpaadtjie gebou het, toe daar twee groot seuns op hul fietse aangery kom en regdeur hul dorpie ry. Skielik doem die woorde van die digter Toitius in Johan se gedagtes op: “Daar het ’n doringboompie vlak by die pad gestaan… En eendag kom daar langes ’n ossewa verby, wat met sy sware wiele dwars-oor die boompie ry.” In hierdie geval was dit net ’n dikwiel fiets en nie ’n ossewa nie, en ’n dorpie en nie ’n doringboompie nie.
Gerhard het hulle iets toegesnou. Toe draai die een seun weer om en ploeg met sy dikwiel fiets diep spore deur hulle dorpie totdat dit heeltemal vernietig is. Hy klim daarna van sy fiets af en gryp Johan se sportkarretjie, asook die hamertjie uit Gerhard se hande. Die volgende oomblik slaan hy Johan se karretjie se voorruit met die hamertjie stukkend, gooi die karretjie en die hamertjie op die grond en jaag weg op sy fiets.
Johan en Gerhard was so oorbluf, hulle konnie glo wat besig was om voor hulle oë te gebeur nie. Johan se hart was stukkend. Dis alles Gerhard en daai verdomde hamertjie se skuld, het Johan in ’n staat van skok, woede en hartseer gedink. Inteendeel, hy het bitterlik gehuil. Gerhard het sy arm om Johan skouers gesit en gesê: “Toemaar ou maat, ons sal daardie ou terugkry.”
So gesê, so gedaan. Die wraak was soet. Hulle het daardie belhammel ’n behoorlike loesing gegee. Maar, dit het nie vergoed vir die skade wat hy aan Johan se karretjie aangerig het nie.
Johan het sy hart by sy ma gaan uithuil. Sy kan alles regmaak, het hy geglo. Wel, sy het Johan se sportkarretjie se voorruit netjies met bostic vasgeplak waar dit afgebreek het.
Hy en Gerhard het na hierdie traumatiese insident weer met hul karretjies soos voorheen in die voetpaadjie gaan speel, maar vir Johan was dit nooit weer dieselfde nie. Die letsel wat sy geliefde karretjie op sy voorruit gedra het, het sy spore ook diep in sy hart agtergelaat. Johan se hart was elke keer opnuut seer as hy na die karretjie gekyk het en ook na die hamertjie in Gerhard se hand. Die woorde van Totius: “Ook het die loop van jare die wonde weggewis- net een plek bly ’n teken wat onuitwisbaar is,” het voortdurend in Johan se kop gemaal. Dit het kompleet vir hom gevoel asof Totius hierdie woorde vir hom geskryf het. Johan kon homself ook so goed vereenselwig met die woorde: “die wonde word gesond weer as die jare kom en gaan, maar daardie merk word groter en groei maar aldeur aan.”
Gerhard het alles boonop vererger deurdat hy telkemaal vir Johan gesê het dat hy sy karretjie na die panneelklopper op die miniatuurdorp wat hy vir hulle gebou het moet vat, salig onbewus van die seer in Johan se hart. Dan het Johan maar net taktvol teruggespot deur te sê dat hy nie genoeg pennies bymekaar kon skraap om versekering op sy karretjie uit te neem nie.
Eendag kon Johan dit net nie meer langer verduur nie en het hy sy geliefde sportkarretjie met die letsel op sy voorruit vir Gerhard gegee. Hy het hom versoek dat hy die karretjie met sy hamertjie moet stukkend slaan en dat Johan dan die karretjie en die hamertjie nooit weer wil sien nie. Of Gerhard dit ooit gedoen het weet Johan nie, want hy het die karretjie en die hamertjie nooit weer gesien nie.
Johan en Gerhard was in dieselfde laerskool. In standerd vyf was Johan hoofseun en Gerhard onderhoofseun, maar die daaropvolgende jaar was hulle na verskillende hoërskole. Johan was in ’n akademiese hoërskool op sy tuisdorp, terwyl Gerhard na ’n tegniese hoërskool op hul buurdorp is. Na matriek het Gerhard onderwys gaan studeer, terwyl Johan teologie op Tukkies gaan studeer het. Hier het hulle paadjies geskei, en het hulle kontak verloor. Tot een aand op ’n reünie wat hulle albei bygewoon het. Bykans dertig jaar het verloop sedert Johan en Gerhard mekaar laas gesien het, en hulle het baie verlore jare se vriendskap gehad om op te vang. Hulle het gesels oor hul kinderjare en saam gelag en gehuil oor kosbare jare wat vir ewig verby is.
Skielik kry Gerhard so hartseer-kyk in sy oë, dan begin hy:
“Johan, onthou jy nog die keer toe my pa vir my vertel het dat hy die Vrydagaand aan ’n veerpyltjie kompetisie gaan deelneem en dat die wenner ’n trofee gaan huistoe bring. Ek was so opgewonde, want ek was so seker mý pa gaan daardie beker huistoe bring. Ek het al in my gedagtes gesien hoe staan die beker bokant die kaggel in ons voorhuis vir almal om te sien. Die volgende oggend toe ek my oë oopmaak, was die eerste gedagte wat ek hardop vir myself uitroep: “Die beker!” Ek het voorhuis toe gehardloop. Groot was my teleurstelling om te sien dat daar niks was nie, geen beker!”
’n Lang en ongemaklike stilte het gevolg. Johan kon die hartseer en teleurstelling in Gerhard se oë sien. Emosionele pyn wat hy al hierdie jare in sy binneste ronddra. Ja, nie eers Johan, wat sy boesemvriend was, het van sy hartseer en teleurstelling geweet nie. Nou, na bykans 30 jaar en hulle self kinders en kleinkinders het, maak Gerhard sy hart teenoor Johan oop. Dan gaan Gerhard voort:
“Daar is ook nooit agterna ’n woord oor die veerpyl-kompetisie en die beker wat die wenner sou kry gerep nie. Later jare het ek besef dat dit maar net ’n verskoning van my pa was om saam met sy vriende by die klub te kuier. Goeie man, en pa wat hy vir my was, het hy nie besef watse groot hartseer en teleurstelling hy hierdeur in my kinderhart veroorsaak het nie.
“Johan, my vriend, ek wou hierdie teleurstelling van my nooit met jou deel nie, want ek het geweet jy het ’n heldeverering vir my pa. Ek wou nie daardie beeld wat jy van hom gehad het afbreek nie, omdat ek tot die skokkende besef gekom het dat hy ook maar voete van klei gehad het.”
“Ons maak maar almal foute, my vriend,” was al wat Johan hierop kon sê.
”Ja, het Gerhard gesê, “party foute is net emosioneel baie duurder as ander.” Onthou jy nog die laaste strofe van Totius se gedig; Vergeet en Vergewe?, vra Gerhard. Toe sê hy en Johan die woorde saam op: “die wonde word gesond weer as die jare kom en gaan, maar daardie merk word groter en groei maar aldeur aan.”
“Maar dit nou daar gelaat”, het Johan gesê om die emosionele spanning van die oomblik te probeer breek. “Gerhard, onthou jy die Sondag toe jy so kliphard in die Kerk gepoep het?” Ja, ek gee toe dat die word poep nie ’n sondagskoolbaaitjie aanhet nie, het Johan vir homself gesê, maar om die ongemaklike spanning van die oomblik te breek was dit nodig om die daad op sy gekruide naam te noem, want dit het almal, insluitend vir Gerhard, hardop laat lag. “Ja,” sê Gerhard, “laat ek julle die storie vertel.”
“Nee,” was Johan se antwoord, “ek sal die storie vertel, want myne gaan nader aan die waarheid wees. Wel, so het die Sondag in die Kerk verloop. “Ek en Gerhard was op daardie stadium albei in standerd agt. Die betrokke Sondag was Nagmaal-sondag. Daar was dus geen Sondagskool of Katkisasieklasse nie. Almal moes die Nagmaaldiens in die Kerk bywoon, dus ek en Gerhard ook. En soos dit maar gaan op ’n plattelandse myndorpie, was elke siel in die dorp op ’n Nagmaal-sondag in die Kerk. Nodeloos om te sê dat die Kerk stampvol was, van die moederskamer tot op die galery. Daardie Sondag was gelaai met humor. Maar laat ek eers vir julle die geykte rituele prentjie skilder.
Die ouderlinge en die diakens het saam met Dominee in die konsistorie wat skuins agter die preekstoel geleë was, vergader. Wanneer die koster dan die kerkklok op die kop nege-uur gelui het, het die konsistorie se deur oopgeswaai. Dan het Dominee, uitgevat in sy swart pak, swart toga en wit das, reg voor geloop tot by die trappies aan die onderpunt van die preekstoel. Hy het dan met sy een hand geplaas op die houtreling van die trappies wat na die preekstoel lei, sy hoof gebuig en ’n gebedjie prewel. Daarna het hy die kansel bestyg, terwyl die ouderlinge en diakens soos houtsoldaatjies gekleë in hul swartpakke en wit dasse in ’n ry aangestap kom en hulle plekkke staande in die ouderling en diakenbanke, wat aan weerskante van die preekstoel geleë is, ingeneem. Almal het bly staan todat die laaste ouderling en diaken sy plek ingeneem het, en dan het hulle soos een man gaan sit. Dominee se boodskappe was altyd treffend. Ek kan tot vandag toe van sy boodskappe onthou, en het selfs van gedeeltes uit sy preke in my boodskappe ingewerk in my studentejare. Maar terug by daar die humorbelaaide Nagmaal-sondag.
Ek en Gerhard het in die heel voorste ry op die galery gesit – reg in die middel van die kerk. Vandaar het hulle ’n duidelike “uitsig” oor die gemeente gehad het, en natuurlik reg in lyn met Dominee se oë. Alles het pragtig en ordelik verloop totdat Dominee die trappie van die kansel afgestap het om die Nagmaal te bedien. Hy het ’n dankgebed gedoen, die brood gebreek, waarna die diakens die brood op pragtige silwer skinkborde onder die gemeente versprei het. Dan het dominee na ’n ruk vir die gemeente gevra: “Is daar enigiemand wat oorgeslaan is met die brood, steek dan net u hand op asseblief.” Dan het Dominee voortgegaan deur die diakens te versoek om die wyn aan die gemeente te bedien. Die wyn was in pragtige kelkies wat in ’n ronde tipe van skinkbord met gate waarin die wynkelkies gepas het, aan die gemeente bedien was. Daar was ook ’n groot silwer beker gevul met wyn sodat diegene wat eerder die beker wil neem dan kelkies, daarvan gebruik kon maak. Tydens hierdie ritueel kom daar toe ‘n hond ewe doodluiters die kerk binnne gestap en het al stertswaaiend met die trappies van die kansel opgestap. Toe hy bo kom, gaan staan hy op sy agterpote en rus met sy voorpote op Dominee se Kanselbybel, terwyl hy oor die gemeente tuur. Daarna het hy weer doodluiters met die kansel se trapppies afgestap, en deur een van die sydeure van die kerk verdwyn.
Hierdie insident was skreeusnaaks en daar was ’n hele paar gemeentelede wat maar gesukkel het om hul glimlagte te sluk. Intussen kon ek hoor hoe Gerdard se maag hier langs my grom, maar ek het my nie veel daaraan gesteur nie. Toe hoor ek Dominee vra: “Is enigeen dalk oorgeslaan met die wyn, steek net u hand op asseblief.” Daar was so doodse stilte vir ’n paar sekondes. Die volgende oomblik steek ’n klein seuntjie wat heelagter onder in die kerk gesit het sy hand hoog op, en skree: “Ek dominie”. Ek kon die verleë glimlag op Dominee en van die diakens se gesigte sien, terwyl die seuntjie se pa hom nogal hardhandig by die kerk uithelp. Ek het gedink die insident is skreeusnaaks en het my gegiggel moeilik onder bedwang gebring. Hier langs my het Gerhard se maag weereens so grom gegee. Ek het bekommerd na hom gekyk, en kon sien hy worstel met iets. Die gemeente het uit volle bors die Slotgesang gesing, waarna Dominee die seën oor die gemeente begin uitspreek het: “Laat die liefde van God, die Vader, en die genade van die Here Jesus Christus … ” Gerhard se maag het nou al hardergegrom. Ek het na hom gekyk en kon die trek van pyn op sy gesig sien soos hy probeer het om daardie peristaltiese bewegings in sy ingewande te beheer. Die volgende oomblik het daardie wind soos ’n geweerskoot na buite gekom. Dominee het amper van ongeloof in sy woorde verstik, terwyl ek onbeheersd gekraai het soos ek lag. Nie soseer omdat Gerhard in die kerk gepoep het nie, maar oor die onskuldige uitdrukking op sy gesig. So vroom, asof niks gebeur het nie, maar toe Dominee “Amen” sê, was ek en Gerhard reeds die trappies af en by een van die sydeure van die kerk uit. Wat ’n humorbelaaide Nagmaaldiens was dit nie gewees nie! ” Almal het heerlik gelag. Die ongemaklike emosionele spanning van vroeër was iets van die verlede, en ons het heerlik voort gekuier.
Met hul reünie-aand het Johan vir Gerhard gevra wat van die gewraakte hamertjie geword het. Gerhard het net glimlaggend sy skouers opgetrek. Maar soms vertel jou oë ’n ander verhaal as jou mond. Johan kon dit in Gerhard se oë sien en het besluit om die saak net daar te laat, deur die onderwerp van ons gesprek te verander.
Gerhard en sy gesin het in Windhoek in Namibië gewoon, terwyl Johan en sy gesin in Centurion in Gauteng gewoon het. Na afloop van ’n heerlike reünie-aand het hulle telefoonnommers en adresse uitgeruil, en mekaar ’n kuiertjie binnekort belowe, waarna elkeen sy eie koers in is. Johan kon die gedagte aan daardie gewraakte hamertjie nie uit sy kop kry nie. Wat sou Gerhard daarmee gemaak het? En sy karretjie met die gebreekte vooruit? Daar was iets in Gerhard se blou oë wat ek nie kon pyl nie.
Johan het hierdie verhaal vier jaar gelede, kort na hul reünie, tot op hierdie punt geskryf. Hy kon nooit ’n sinvolle slot vir hierdie verhaal kry nie. Toe hy gister weer sy rekenaar vir die soveelste keer by hierdie verhaal oopmaak en daardeur lees, kom die gedagte by hom op om dit maar te delete, want dit hang nou al vir soveel jare in die lug. Hy word net opnuut hartseer as hy daardeur lees. Tot op hede het daar ook niks gekom van hul beloftes van spoedig weer oor-en-weer kuiertjies. Elkeen was maar weer besig om sy eie ding te doen, vasgevang in die allerdaagse maalstroom van die lewe.
Johan wou net die delete knoppie op my rekenaar druk, toe skril die klokkie by sy voorhekkie dat hy byna van sy stoel afval soos hy skrik. Hy kyk vererg deur die venster van sy studeerkamer, en sien daar staan ’n bakkie van ’n koerier-diens voor sy hek. Ag, dis nou seker weer iemand wat ’n pakkie êrens moet aflewer. Kan hulle nie maar vir hierdie mense GPS’e gee om hul werk te kan doen nie? Vies stap Johan na sy voorhekkie.
“Môre meneer, is u meneer Els?” “Ja”, sê Johan verbaas. Wie sal nou vir hom ’n pakkie stuur, hy het niks bestel nie. Toe sien hy die adres op die pakkie: Sender: Windhoek, NAMIBIË, en besef dadelik dat dit van Gerhard af moet wees. Johan teken vir die pakkie en haas hom na binne. Wat sou Gerhard nou vir hom stuur. Miskien biltong?
Toe Johan die pakkie oopmaak, lê daardie gewraakte hamertjie en sy pienk sportkarretjie voor sy oë, wat van ongeloof begin traan. Deur ’n waas van trane lees hy Gerhard se nota daarby: “Dankie my ou maat, vir al die goue kinderjare wat ons saam kon geniet. Hierdie aandenkings is nou joune, gee aan hulle ’n ereplekkie in jou lapa. Teen die tyd wat jy hierdie nota lees, sal ek reeds die tydelike met die ewige verwissel het. Mooi loop my vriend – Gerhard.”
Johan gryp na sy selfoon en skakel met bewende vingers Gerhard se nommer. Sy vrou antwoord. Toe sy Johan se stem hoor, begin sy hartroerend en onbeheersd huil. Haar dogter vat die foon en sê die mees gevreesde woorde: “Oom my pa het gistraand selfmoord gepleeg.”
Die selfoon val uit Johan se hande en sy skouers ruk soos hy met geskokte trane in my oë begin snik. “Hoekom…? hoekom …? hoekom?” Hy staar na die rekenaar voor hom. Sy vingers beweeg bewend oor die sleutelbord en tik, asof outomaties: “Gerhard ou maat, dankie dat jy die slot van hierdie hartseer verhaal vir my geskryf het, ek dra dit op aan jou. Mag jy vergifnis, vrede en ewige rus vind.”
——-ooo000ooo——-
Aanhalings uit Die Beiteltjie, van N.P. van Wyk Louw; en
uit Vergeet en Vergewe van Toitius.
(©Pieter Mostert)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2024 - OOP projek