
Die kammaland hond
Waar die blou see se vingers nie raak
en skuimlose duine lê
sal die albatros sy winde voed
onder ‘n veergeplakte kim
weerkaats naak skadu’s in die palblou heelal
seeblou lug oor die donker droë kruin
diep in sy stille gewaar
sy stem, die ewige staar
in die toneel van die nagtesang
kom die kil die swakkes haal
en met sy rooistowwerige pels
sit ou Johnny en gesels;
hy vertel van die Walvis:
die walvis wat die blou see sluk
wat die diep droë dors bring
wat die waters na vêr’e hemel’e neem
en soms na sy geboorte sal dit reën;
hy vertel van die Slang:
die slang wat met sy tong die blou van die see lek
die slang het die waters gelei van hier en daar
dan was hy lank en kort en breed en smal,
lewe en dood het hy saam gebring;
hy vertel van die Jakkals:
die jakkals kon met die walvis praat
die jakkals het die slang paljas,
‘n helse groot gat het hy gegrou
waarin slang se kop sou lei,
net jakkals weet waar hom te kry;
hy vertel van die Lang dag:
toe jakkals vir slang kul was die dag nog kort
die bome het vrugbaar oor die groen ooptes gekraak,
onder die bloeiende blom kon hul liedjies sing
en die laken van die goue vrou se juwele tel,
maar die walvis het die blou-blou see gesluk
en slang het in die jakkals se gat verdwyn
soos die groen ooptes en vrugte kwyn
dors het die bloeiende blom gebrand
en lank die dag en kort die nag
liedjies oor die goue vrou se lag.
©Morné du Preez
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.