Jongste aktiwiteit:

Die lewe is ‘n dansvloer deur Lynelle Clark

1950 Woorde Brons gradering

“Wat is fout hartjie?”
“Niks nie ouma.”
“Dit lyk nie soos niks nie, pop.” Die gerustellende breinaalde se ritmiese klanke die enigste geluide wat die laatmiddag versteur. Die sagte skynsel van die lamp omring ouma in rustigheid, die teenoorgestelde van haar gevoelens.
Maré staar deur die venster. Die grou nat weer ‘n weerspieëling van haar gemoed. Hoe verduidelik sy aan ouma haar hart. Sy wil so graag gaan verder studeer maar daar is nie geld nie. Pappa het vanoggend laat weet dat dit net nie moontlik is nie. Sy het gedroom, gehoop, en geglo vir ‘n deurbraak. Sugtend vou sy haar bene onder haar in. Haar lewe strek voor haar uit sonder enige vooruitsigte.
“Ek was ook jonk, soos jy. Ek verstaan dalk beter as wat jy dink.” Maré kyk belangeloos na ouma Mariaan. Die kleurvolle ontwerp begin om al hoe meer sigbaar te word in die sagte pastelle, merk sy op. Klik klak gly, ruis die ritme voort. Die word opgevolg met kortstondige poses voor die volgende ry begin word.
Ouma se seningrige vingers is nog soepel genoeg om grasieus te wees. Raak vat hande wat als kan doen. Die familie sê altyd dat sy ouma se hande en voete gekry het. Iets waarop sy baie trots is en bekyk haar eie jonghand, wat getuig van jeugdigheid en krag.
Ouma Mariaan was ‘n mooi vrou op haar dag; is eintlik nog. Als aan haar is stylvol en met smaak. Haar spierwit hare netjies versorg in ‘n moderne styl. Selfs die kniekombers spreek van goeie behandeling in sagte voue gewikkel om haar bene. Maar Maré wonder hoe hou sy dit om so te sit, elke dag terwyl die lewe verby haar snel. Hoe sal sy weet van die hunkering in haar wese? Die verlange na meer. Die branding om verder te studeer. Om iets te word.
Ouma Mariaan was altyd gelukkig. In als wat sy doen vind sy vreugde. Eers as boervrou en later, na oupa Chris se dood, as dorpsvrou. Na die groot skrik toe sy geval het en haar heup gebreek het bly sy nou, ‘n jaar later in ‘n klein woonstelletjie agter hul erf. Sy het altyd ‘n glimlag op haar gesig. Maar haar lewe is doelloos. Hoe hou sy dit?
“Ek glo ouma was jonk maar tye het verander.”
“Die tye is nog dieselfde: ons vrouens se verlanges nog onveranderd. Ons smag na ‘n groter doel as wat mense op ons plaas. Maar ons leer om aan te pas. Ons eie ritme te dans in die midde van tekorte.”
“Ek hoor ouma,” Op negentien wil sy die wêreld sien en nie hier bly nie. In die dorp is daar geen moontlikhede vir haar nie. Werk is so skaars soos hoender tande. Wat gaan sy doen? Ouma sal tog nie verstaan nie.
“As jong meisie moes ek uitspring en help. Mammie en Pappie moes behoorlik skraap om genoeg kos op die tafel te sit vir die sestien monde. Dit was swaar tye.”
“Ek weet ouma,” Sug Maré, amper verveeld.
“Maar wat jy nie weet nie pop is dat ek gaan werk het by die losieshuis op die dorp.” Verbaas kyk Maré na haar ouma. Met nuwe aandag luister sy na die ouer stem, beleë deur jare se koorsing. Elke woord duidelik uitgespreek.
“Ek moes hout vloere skrop tot my gesig daarin gereflekteer het, en dan moes dit gepolitoer word totdat my vingers stukkend was. Mevrou van Breda was ‘n presiese dame wat als reg wou hê. My knieë het permanente eelte gehad. Daardie eerste maand was my skouers en rug gedaan maar het dit verdra. Daar was nie masjiene wat kon help nie. Nee, alles was per hand gedoen. Ek het die reuk van vloer politoer gehaat. Om die waarheid te sê, nou nog.” En sy knipoog ‘n gegrimeerde ooglid vir haar. Verwonderd gaap Maré haar ouma aan en begin te giggel. “Maar dit het kos op die tafel gebring. Ek sal nooit die uitdrukking in Pappie se oë vergeet die dag toe ek my eerste geldtjies voor hom neergesit het nie. Die twee pond was soos ‘n welkome sonstraal en Pappie het ‘n traan weggepik. Mammie het sommer begin huil. Op daardie oomblik was die lam arms en seer rug iets van die verlede. Want my ouers se oë het weer geglinster.”
“Hoe oud was ouma?”
“Ek was sestien jaar oud. Ek kon nooit skool klaar maak nie,” asof daar ‘n lig aangegaan het kyk Maré na ouma Mariaan met nuwe oë. Op sestien was sy nog onbekommerd en het met blink oë na die toekoms gekyk dink sy. Die verantwoordelikheid van ‘n huis nog nie deel van haar denke nie. “Ek wou so graag ‘n verpleegster word maar geld was nooit daar nie,” gaan ouma voort. Haar vingers nou stil en haar oë toe van ‘n ver onthou.
“Met alles in my wou ek verpleeg.” Haar stem so sag dat Mare vorentoe leun om mooi te hoor. “Ek het nog altyd die jonger kinders versorg. Toe boetie Walter eendag sy knie oop val en ek hom alleen moes verpleeg het ek geweet dit is wat ek wou doen vir die res van my lewe.”
Oorlede oom Walter was ‘n interessante karakter wat ‘n geliefde persoon was. Tien jaar jonger as ouma het sy hom en vyf ander kinders groot gemaak toe grootjie dood is. Oupagrootjie het eenvoudig in die rivier ingestap dae na haar begrafnis. Die druk van alleen ouer wees te veel. Die groter kinders het aanbeweeg en die jonger kinders het agtergebly. In ouma Mariaan se sorg. Ouma was net sestien jaar oud. Grootjie moes natuurlik net na sy begin werk het gesterf het. Die kanker het haar behoorlik weggevreet van binne, het haar ma haar vertel. Oupa kon die leemte nie hanteer nie. Maré het nog nooit werklik enige aandag daaraan gegee nie; tot nou toe.
“En toe ouma?” sy kan nie dink dat sy ooit hiervan gehoor het nie.
“Dit het nooit gebeur nie. Ek het myself opgewerk by die losieshuis en was tot voor my troue die kok. Tant Berta het inmekaar gesak sommer so by die koolstoof toe moes ek oor neem. Op agtien het oupa Chris in my lewe ingestap. Hy was ‘n losseerder by die Breda huis. My hart het sommer bollemakiesie geslaan toe ek hom die eerste keer gesien het. So sterk en vors met oë wat kon raak kyk. Ek was bang om hom huis toe te vat. Bang dat die klomp kinders hom sou afskrik maar hy het gebly. Saam het ons kinders groot gemaak tot hulle almal uit die huis was, insluitend jou ma.” Sy lag saggies en tel dan die breinaalde weer op. Met die wol oor haar pinkie gespan brei sy verder, ‘n sagte glimlag op haar lippe. Die ritmiese klanke ‘n gerustellende deuntjie waarvan net ouma die woorde ken.
“Elke keer wat ek iemand moes verpleeg het daardie verlange teruggekom, soms baie fel. Dan was ek sommer befoeterd, hoor,” en sy gee ‘n verleë laggie. “Oupa het my dan oor die kombuisvloer getol tot dit als verdwyn het. Ons kon die mooiste musiek met ons voete maak.” ‘n Traan glinster in die sagte oë en Maré kon nie help om self ‘n traan weg te pik nie. Oupa Chris was ‘n merkwaardige man, selfs nou nog praat mense in verwondering van hom, tien jaar na sy afsterwe. “Daardie draaie het my voete geanker. Ek het geleer om rustiger te raak. Nie meer te peins oor die hoekoms of verlore geleenthede nie.”
“Hoe het ouma dit reggekry?” vra sy sag.
“Pop die lewe het my geleer ons elkeen kry dieselfde skoon bladsy in die lewe, hoe jy daarop dans is jou keuse. Ek kon kies om neerslagtig te word daaroor of om die beste te maak van my lewe. Chris het dit moontlik gemaak dat ek my passie kon uitleef sommer so op die plaas. Wanneer daar ‘n hanslam was het hy hom sommer in my hande kom sit want hy het geweet ek sal na hom kyk.”
“Dit is nie so maklik nie ouma.”
“Nee dit is nie. Maar hoe jy die lewe in die oë kyk bepaal die ritme van jou lewe. Ons almal het drome en verlanges, ek kon myne uitleef deur my liewe boeties en sus en ook my eie kind. Op die plaas was daar baie geleenthede wanneer die plaaskinders na my gekom het. In ‘n mate het ek my begeertes deur hierdie tye uitgeleef. Selfs deur die versorging van die siek diere. Soms is ons drome en die werklikheid nie dieselfde nie maar die lewe het tog ‘n manier om reg uit te werk. Ons moet net leer om verby die vrae en verlange te kyk om dit raak te sien. Vind die musiek in jou eie voete my kind. Dit is dan wat jy sal leer om jou lewe te dans asof niemand kyk nie.”
“Mammie sê nou ‘n waar ding. Hallo Maré.” Met ‘n plons val haar handsak op die eetkamer tafel neer. Haar ma se eie mooi voorkoms verskuil agter moegheid.
“Hi mams, koffie?”
“Asseblief my kind. Dit was ‘n lang dag.”
“Ek hoop daar is vir my ook ‘n beker. Ek dink nie ek het gesit vandag nie.” en hang sy baadjie oor die eetkamerstoel.
“Natuurlik pa, ek bring.” Maré spring op en gee elkeen ‘n piksoen voor sy in die gang afbeweeg na die kombuis. Haar gedagtes by ouma se laaste woorde.
Hoe dans mens op jou eie maat? Hoe het ouma dit reg gekry? Die vrae warrel deur haar terwyl sy op outopilot die koffie maak. “Help my om te verstaan Here.” Bid sy saggies.
“Ek het goeie nuus Meraai.” Begin pa die oomblik wat sy die skinkbord op die koffietafel sit. Haar hart gee ‘n bokspring.
“Wat is dit pa?”
“Ek het met my bestuurder gaan praat. Die kanse vir die bevordering is beslis in die pyplyn vir Januarie. Met die verhoogde salaris sal ons dit kan by bring. Ek sal die finale brief more ontvang.”
“Maar dit is fantastiese nuus Coenraad.” Gil mamma en storm op hom af.”
“Hokaai vrou, ek wou net seker maak vandag. Ek het eers gedink ek het dit nie gekry nie maar John het my verseker vanmiddag die base is in eenstemming daaroor.” En draai mams in die rondte in blye viering. Toe stilte eintlik weer terug keer kyk haar pa weer na haar, “Jy sal natuurlik vir jou eie sakgeld moet werk maar die klasse sal betaal wees. Tannie Mart het ingestem dat jy by haar kan kom bly. Ons moet net bydra vir kos en krag.”
“Pa bedoel…” stom geslaan staar sy na haar pa en dan omhels sy hom. “Dankie pappa.” ‘n Traan wiggel teen haar wang af.
“Jy moet vir ouma ook dankie sê Meraai. Sy het die proses aan die gang gesit en die deposito betaal. Jy begin die 14de Januarie maar ons sal jou die naweek voor dit moet deur vat.”
“Ouma? Hoe, wanneer?” die ouer dame gee ‘n skalkse laggie en plaas die breiwerk terug in die mandjie. Maré buk voor haar ouma, haar gemoed vol, en neem die mooi hande in haar eie.
“Dit is niks nie pop. Ek kon net nie meer langer in jou lang gesig vas kyk nie. Natuurlik moet jy my belowe dat jy die kanse sal benut en dat jy sal dans, elke oomblik van elke dag. Dit is die voorwaarde.”
“Ouma is ‘n ouma duisend. Ek is so lief vir ouma. Baie dankie. Ek sal elke dag in ‘n two step doen, ek belowe. Net soos ouma my vertel het.”
“Dan is ek bly. Dans asof niemand kyk nie.”
“Dankie oums,” prewel Maré en gee haar ‘n klapsoen.
©LynelleClark2019
Foto gekry van Google




3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed