Jongste aktiwiteit:

Die nagspook se kuier. (Brons)

(713 woorde)
Hierts! Jou nagspook! Soos ‘n vallende klip tref ek die gang se vloer met ‘n hik. Ek probeer paniekbevange my oë soos ‘n verkleurmannetjie rond te draai, terwyl my neus die vloer geselskap hou. Ek waag dit nie eers om asem te haal nie, nét vir ingeval. Na wat voel asof tyd sy voete aspris sleep, besluit ek dat dit nou veilig is en ek verrys uit my standbeeldposisie. Maar dis net daar wat die nagspook besluit om my hare vinnig te kom kielie. My bloed verkoel in my are tot onder vriespunt, my tone skiet wortel in die vloer. My neus sit vinniger die gesprek voort met die vloer, soos dik pêlle van ouds.
Deksels! Toe lieg my brein nie vir my oë nie. My verstand werk in hoogste versnelling. Beweeg, skree my brein vir my. Aikôna skree my spiere terug. ‘n Klein stemmetjie fluister iewers in my oor dat ek laf is en ‘n spektakel van myself maak en dié dreig met mag en mening dat as ek nie nou gaan opstaan nie, ek die grap van die huis gaan wees. My spiere is op ‘n volskaalse staking, want wat as die nagspook weer my hare kom kielie? Ek is ‘n hulpelose gevangene van ‘n donker, vlieënde, veerlose wese.
Sekondes stol in tyd en nogsteeds hou my neus ‘n hewige gesprek met die vloer in die hoop dat die vlieënde nagspook my nie sal gewaar nie. Jy weet mos, daai as-ek-dit-ignoreer-dan-bestaan-dit-nie gevoel. En daar is dit toe so. ‘n Deur kraak liggies oop en my dogter verstar in die deur. “Vlermuis!” skree ek. My hoop verdwyn in die laaste kraak van die toeswaaiende deur en ek voel weer stoksielalleen in die gang.
Ek kan in my geestesoog sien hoe hulle nou daar aan die anderkant van daardie deur met my die spot dryf. Maar iewers binne my begin die besef groei. Hulp kan ek nie vanaf die krakende deur se kant verwag nie, my standbeeldposisie gaan nie laat die situasie soos mis voor die son verdwyn nie en boonop kom daar nou skielik ‘n geklingel van ‘n rondwippende deksel op ‘n vergete pruttende pot op my stoof.
Ek luislang-seil teen die spoed van slak tot by my kombuis se stoof. Versigtig bespied ek my omgewing. Ek gewaar nie ‘n spoor van ‘n geswoosh naby my nie. Huiwerig trek ek my halfmas teen my pottekas op. Baie stadig trek ek die laai oop en haal die naaste, grootste pot uit. Dit gaan my kop se pantser wees teen hierdie nagspook se aanslae. Die pot is swaar en ek moet dit met my een hand vashou en stut dat dit nie afgly van my kop nie. Nou voel ek gereed vir enige aanslae wat mag kom en kan ek my woes pruttende pot op die stoof red voor dit oorkook.
‘n Valse gevoel van veiligheid omvou my en laat my baie braaf in die eetkamer se rigting beweeg. Maar dis net daar, vyf tree binne my eetkamer, waar ons bots. Ek en die nagspook. Ek skrik myself amper in ‘n ander haarkleur in. Van iewers hoor ek ‘n skril stem gil: “Hoe de ongeluk werk jou interne radar nie?!” Geskok besef ek dat dit net die einste uwe is wat soos ‘n vyfjarige histeries gil. My neus sit weer die gesprek voort met die vloer en ek luislang-seil tot by my kamer. Basta met daai lot wat my nou gaan uitlag. Hier bly ek nie ‘n minuut langer nie. Ek gee ook nie meer om hoe hulle, hulle mage vanaand gaan volmaak terwyl hierdie vlieënde nagspook nog hier rond vlieg nie. Vir my part kan hulle vanaand honger bed toe gaan of hulle moet self plan maak vir kos.
Indien jy gewonder het. Die vlermuis het heerlik die nag in my huis vertoef tot die volgende oggend. Ek het nie uit my kamer beweeg nie totdat manlief die volgende oggend meneer vlermuis vriendelik die deur gewys het. Ek slaak ‘n sug van verligting met sy laaste vlerkklap uit my huis uit, al weet ek dit is net tot die volgende nagspook vir ons wil kom kuier. Maar weet gewis, ek sal gereed staan met my kospot op my kop en my sweisbril voor my oë. Geen nagspook gaan my hare weer kom kielie nie.

©Taai Bonthuys




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed