Jongste aktiwiteit:

Die tyd toe afskeid-neem verander het.

Die tyd toe afskeid-neem verander het.

In die pandemie-tyd het so baie dinge verander. Een van die groot veranderinge is hoe ons van geliefdes moet afskeid neem. Sedert die Covid-19 pandemie ʼn werklikheid geword het, hoor ek daagliks klagtes rondom die kilheid van begrafnisse wat nou onder nuwe regulasies moet geskied.

Weens verstaanbare redes is verskeie maatreëls ingestel rakende die plek en getal wat die intieme geleentheid mag bywoon. Op die manier word familie beroof van die samesyn en ondersteuning in saamwees met geliefdes. Ook die aantal mense wat genooi mag word, veroorsaak soveel hartseer in die reeds hartseertyd in ons lewens. Hoe kies jy ʼn handjie-vol wat mag bywoon?

Roudienste vir ons geliefdes het grootliks die nuwe norm geword, maar meestal ook met die afwesigheid van ʼn oop graf waar afskeid ʼn afsluiting geword het. In die verlede was begrafnisse ook die geleentheid waar vriende, familie en kennisse mekaar weer ontmoet het wat dikwels mekaar jare laas mekaar gesien het. Juis daarom dat ʼn stywe handdruk en ‘teen die boesem-vasdruk’ by ʼn begrafnis heel anders voel as ʼn doodgewone raakloop na jare van mekaar nie-sien nie.

Nuwe rituele is ingestel wat die psigologiese funksie moet vervul in die plek van ʼn kis wat stadig in ʼn oop graf afsak. Nou word daar dikwels ʼn kers aangesteek wat brand tydens die roudiens, wat teen die einde van die seremonie deur die familie uitgeblaas word as ʼn sigbare simbool van ʼn lewe op aarde wat verby is.

In so baie gevalle moet tegnologie noodwendig ingestel word om die afskeidneem op ʼn nuwe sinvolle manier te probeer voltrek. Hier kan families wat deur landsgrense van mekaar geskei is, deel uitmaak en betrek word by die roudiens. Soms word geleentheid geskep vir geliefdes om te kom groet deur verby ʼn plek te ry, te stop en simpatie te betoon (drive-by). Soms ook regstreekse uitsendings van die afskeidsdiens in die kerk. Hierdie tipes van afskeidneem bied dikwels ook uitdagings soos byvoorbeeld internet-opvangs of klanktoerusing wat nie wil saamwerk nie.
Hier teenoor is ook die gevoel van: jy is deel van die verrigtinge, maar ook nie regtig deel nie. Op die manier word jy eintlik ontneem van die geleentheid om in persoon saam met die familie te rou. Ons word beroof van die kans om mekaar in die oog te kyk en saam kosbare herinneringe op te roep om so sinvol afskeid te neem – SAAM.

Die feit wat vas bly staan by ʼn begrafnisdiens of roudiens, is dat ons opnuut bewus raak van ons sterflikheid, wat soms ook tot angs kan lei. Hoe moet ons dan die angs hanteer? Dalk kan ons Henri Nouwen se woorde hier ter harte neem: “I have a deep sense, hard to articulate, that if we could really befriend death we would be free people.”

Die verstaan van ʼn begrafnis het ook te doen met ons verstaan van God en ons siening oor lewe en dood. Hetsy by ou tradisionele begrafnisse of die nuwe norm van roudienste, is die belangrikste wete dat die gebeurtenis na God toe heenwys. Dit is immers in die uur waar ons gestroop staan van ons aardse voornemens, sonder pretensie.

Tydens die Covid-19 pandemie het die dood in baie gevalle sonder waarskuwing, ʼn groter werklikheid geword en het die roudiens vir ons die plek geword waarin ons die sterflikheid moet omhels. Die plek waar ons kan getuig van hoop wat ons omring. Die plek waar ons kan getuig van die skepping en dat die Vader die dood oorwin het – so word die angel uit die dood gehaal.

Dalk is dit tyd om onsself te troos dat die probleem: om daar te wees, maar ook nie werklik daar te wees nie, ʼn manier geword het om gedeelde rou so te beleef. Dan kan ons ook hierin troos vind: dat ons saam verlang na ons geliefdes; al sou ons op die ou bekende manier van hulle wou afskeid neem.

©Marlene Erasmus
31/07/2021

(654 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed