Jongste aktiwiteit:

Die veeldoelige toiletrol

Die veeldoelige toiletrol…
‘n Toiletrol is weggesteek agter lae papier. Die uitvindsel is so oulik dat elke huis in die wêreld een iewers in hul huis het. Ryk of arm, jonk of oud, die kontrepsie word oral gebruik. Sonder dit kan dit benoude oomblikke veroorsaak veral as jy alleen is. Ek dink almal kan ‘n storie skryf daaroor. Jy kry dit in verskillende kleure, met klein hondjies of blommetjies op. Ek het selfs al ontwerperstoiletpaier gesien om jou besig te hou terwyl jy op die keramiektroon sit. ‘n Heel eenvoudige gebruiksartikel wat in enkel of dubbellaag voorkom. Nou, ek weet nie van jou nie maar ek hou van die dubbellaag een, die enkel een kan jy net sowel jou vinger gebruik.
Jy vra seker Lynelle, hoe het jy by die onderwerp uitgekom? Wel, lang storie eintlik maar kom ek begin by die begin. Jy het mos tyd om te lees.
Jy sien, die saak staan so, geld is nie soos toiletpapier vrylik beskikbaar nie al dink ons liewe regeringsamptenare so. Nee, geld is eintlik yl gesaai en dunner as ‘one ply’. Wel, in my wêreld in elk geval. As gevolg hiervan is daar altyd tekorte en moet jy sny waar nodig.
So, my hare, ek is baie puntenerig daaroor, groei nou wild en ‘n haarkapper nie bekostigbaar nie en soos duisende ander Internet gebruikers gaan ek toe op die YouTube toep. Ag, en wat ‘n wonder is dit nie, daar kan jy als leer. Van hoe om bomme te maak tot geld… maar dit is nou nie regte geld nie…indien dit moontlik was om geld te kon maak sou ek eerder haarsalon toe gegaan het. Ek bly maar soek en bly weg van die verleidings en kom toe mos op ‘n videogreep af wat jou wys oor verskillende style vir hare. Onder andere is daar een vrou wat aan al die kykers demonstreer hoe om ‘n toiletrol kartonnetjie in jou hare te gebruik. Kompleet soos ‘n roller, die wat my ma altyd gebruik het.
Tussen hakies, ek hou mos nie van rollers nie en het ‘n lang geskiedenis daarmee soos gesien aan die fotos. Nommer een moet jy met die goed loop vir ure voor dit uitgehaal mag word. In daardie ure moet jy die pyniging van klein pennetjies in jou kopvel verdra totdat dit droog is. Nou, ek het dik hare, dit beteken ek het letterlik lang ure geloop om die hare droog te kon kry, en ek moes stil sit. Ek onthou my tiende verjaarsdag so goed. My hare was al vroeg oggend ingerol deur Tannie Assie, rus sag my tannie, en die partytjie het om en by vyfuur begin. Met ander woorde, ek het omtrent agt ure rondgeloop met die pynigende toestelle in my kop. En bewaar my siel as ek probeer krap of skuif het aan die goed.
So, terug na die hede, ek loop nie met rollers nie, nooit nie. Alhoewel ek wel ‘n paar besit het toe ek jonger was en dit soos ornamente my laai volgemaak. Maar ek sit met hierdie hare wat aandag nodig het en ek verstom my aan die vrou wat toiletrolle in haar hare draai. “Is dit nou nie fantasties nie,” het ek gedink so in my enigheid. Dadelik is ek na die badkamer toe en krap die weggegooide rolle uit.
Die volgende dag is harewasdag en siedaar, daar loop ek toe met die rolle in my kop rond. Jy sien, nadat jy dit klaar gewas het blaas jy dit droog, sit jou haarmousse aan, dan verdeel jy jou hare in die verlangde gedeeltes en rol dit een vir een in jou hare in wat jy dan vassteek met haarknippies. ‘n Halfuur later lê dit tog te mooi en, dit was nie eers pynigend nie. Ek kan 30-minute doen maar agture, Aikona. Nie ek nie.
Daar is natuurlik nog ander gebruike vir die veelsydige toiletrol, soos om dit in spirits te laat lê en dan ‘n vuur makliker aan te steek, kinder projekte is nog ‘n groot pluspunt vir vlytige handjies. Maar ek wou julle net vertel van die een doel wat ek kan aanbeveel vir die wat ook wil mooi lyk maar die finansies is knap. Dit werk soos ‘n bom…oeps, ek bedoel dit is doeltreffend.
Sien, boer maak altyd ‘n plan.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed