Jongste aktiwiteit:

DIE WIEL DRAAI HFSTK 2

HOOFSTUK 2

Die aand toe Hans Struwig op die trein klim op Germiston om n nuwe wêreld te gaan betree is hy gelukkig alleen in die kompartement, die trein is nie so vol nie. Hy kan hom dus aan sy eie gedagtes oorgee terwyl hy na die gesuis en die geklap van die wiele oor die spoorlaste luister. Voor is doodstil en gly die 2 klas 5E elektriese lokomotiewe geluidloos deur die nag met die trein. Al wat hy soms sien as hy by die venster uitkyk is die blou blitse op die bobaandraad as die pantograwe onder die stroombrekers deurgaan. Hy glimlag by hom self as hy terugdink aan die onderhoud wat die indiens nemingsbeampte met hom gehad het. Die man kon nie verstaan hoekom hy juis wou Bethlehem toe as n stoker nie, hy kon in Braamfontein of Germiston n assistent op die eenhede geword het, baie ligter werk en as hy dan nou wil stoom toe wat van Germiston. Hans het vas gestaan en het op die ou einde sy sin gekry.
Nadat die kaartjiesondersoeker sy vrypas kom knip het het hy maar sommer so op die bank gaan lê om te slaap, hy het nie n bed bestel nie want dit is te warm. Sy gedagtes bly hom rondjaag en sien hy deur die venster hoe die voorstedelike stasies een na die ander verbygly en is hulle eerste stop Vereeniging. Dit is eers nadat hulle op Vereeniging weg is wat hy in n diepe slaap wegtuimel.
Toe hy vir die eerste keer wakker skrik staan die trein stil. Toe hy deur die venster kyk sien hy dat hulle in Kroonstad stasie staan. Vir drie uur die oggend is dit nogal bedrywig op die stasie maar is Kroonstad stasie een van daardie stasies wat baie passasierstreine in die nanag het. Hy is ook skaars wakker toe hy voel dat hulle in beweging kom. Agter is nou n geblaf van n stoom lokomotief wat die string rytuie uittrek en heen en weer begin rangeer om die Bethlehem trein op te maak. Hans lê vir al die bedrywighede deur die venster en kyk, rangeer ders wat met hulle lampe seine vir die drywer gee en toe die lokomotief met die string rytuie onder die lampligte deurbeweeg is dit of Hans met nuwe oë na die blinkende lokomotief kyk wat die rooksuile op maat van die geblaf die lug instoot. Na n paar heen en weer bewegings word hulle stadig nadergestoot na n klomp rytuie toe en kom met n sagte stampie tot stilstand.
Nou staan hulle weer stil op n platform en kom n raserige trekkertjie verby gejaag met n hele string rasende waentjies met pakkies en possakke daarop. Hans raak weer aan die slaap en toe hy wakker word is dit met die reuk van rook en stoom in sy neusgate en is dit besig om lig te word. Voor die trein is n geblaf en toe Hans by die venster uitkyk gaan die trein net om n draai en sien hy die blink 15E voor die trein met n rook kolom wat op maat van die geblaf die lug inseil en soos n kombers in die lug bly hang. Hy is op die laaste been van sy reis en is dit of die gesuis en geklap van die wiele vir hom n lied sing, Hans Struwig kom terug huis toe.
Sewe uur trek hulle Bethlehem stasie in en is Hans uit op die platform. Om hom is dit mense wat groet en kom en gaan. Net hy is eensaam op die platform maar begin hy aanstap platform 1 toe om te gaan uitvind hoe hy by die spoorweghostel kan uitkom. Hy besoek eers die stasiekafee vir n koppie koffie en n pasteitjie om die innerlike te versterk en dan begin hy rondsoek na iemand wat hom die pad kan beduie. Die geluk is met hom en loop hy homself in n afleweringsman, wat n klomp pakkies kom ingee het by die pakkettekantoor, vas wat aanbied om hom by die hostel te gaan aflaai.
Dit gaan vinnig by die hostel en nadat hy sy kamer gekry het vat hy die pad loko toe om te gaan aanmeld.
By die loko gaan dit nie so vinnig nie en toe hy by die toonbank in die personeelkantoor aanmeld word hy gehelp deur n hooghartige personeelklerk wat hom aanskou of hy iets is wat die katte aangedra het. Nadat hy tydsaam die aanstellingsbrief bestudeer het gaan sit hy by sy tafel en begin n klomp dokumente invul. Nadat hy klaar is oorhandig hy n vorm aan Hans met die woorde: “Loop gee vir die stoorman dat hy vir jou oorpakke kan gee en sorg dat jy sesuur more oggend inklok. Jy moet voor ses hier wees om in te klok by die roosterkantoor. Daar sal vir jou n klokkaart wees, soek hom maar net en nadat jy ingeklok het sit hom terug in sy vakkie en meld by die roosteropsteller aan. Hy sal weet wat om met jou aan te vang meneer die aspirant stoker”.
Hans wil hom eers vererg vir die man se sarkasme maar besluit wyslik om hom te ignoreer, hy is nie lus vir probleme sommer met die intrapslag nie.
Hans soek die store tot hy dit kry en beskou die vriendelike stoorman, n ouerige man, die vorm en roep Hans agter die toonbank in om te kom aanpas. Met die takie afgehandel keer Hans weer terug koshuis toe om net betyds vir middagete aan te land en is dit seker die middagete wat sy ooglede laat swaar word en hy n middagslapie gaan vang. Met niks om te doen toe hy wakker word nie gaan stap hy n entjie en is net betyds terug vir aandete. Met aandete is daar baie meer manne in die eetsaal en verneem hy dat ontbyt van half vyf af bedien word sodat die manne wat ses uur aan diens gaan ontbyt kan geniet. Die manne wat tot twee uur toe werk moet die boek teken vir laat ete sodat daar vir hulle middagete gehou kan word. Vir die wat twaalf uur skofte werk word n blik gepak vir middagete.
Na ete gaan stort hy en gaan na sy kamer toe. Sy eerste aand in die vreemde en gaan sy gedagtes Boskop toe. Hy kan tot vandag nog nie glo dat dit weerlig was wat die stoor aan die brand gsteek het nie. Hy glo nog dat die werkers wat so verdwyn het die stoor vir een of ander rede aan die brand gesteek het. Die swaar weer het vir hulle net die ideale geleentheid geskep om dit te doen. As dit maar net wou begin reën het sou dit gehelp het om die vlamme te blus maar het die wind die swaar wolke weggedryf. Wat die brand ook gejaag het was die feit dat dit Augustus was, die veld was droog na die winter.
Voor Hans gaan slaap sit hy eers n rukkie by die venster en uitkyk. Sy kamer is op die boonste verdieping en het hy n goeie uitsig op die straat. Die straatligte verlig die straat dofweg en sien hy n jong man met n kosblik in sy hand aangestap kom. Seker n stoker wat nou van diens af kom en terugkom hostel toe.
In die verte hoor hy die geblaf van twee lokomotiewe oppad êrens heen. Aan die geblaf kan hy hoor dat hulle n swaar vrag moet aanhê, een van die dae is hy ook op hulle, oppad êrens heen.
Hy glimlag by homself as hy dink hoe baie hy en Marietjie daar op Boskop langs die treinspoor die treine sit en dophou het. Hoe hulle saam drome gedroom het van hoe hy eendag die vlaktes gaan platjaag en sy vir hom gaan huishou. In sy hart wel n skielike verlange na Marietjie op maar kom daar ook n blondekop met lang hare wat so in n gerf oor die een skouer lê in sy gedagte op en verlang hy na Elsabe ook.
Hans was maar altyd n alleenloper op skool en het nooit met die ander seuns gemeng nie want hy was ouer as sy klasmaats. Met sy eie ouderdomsgroep, wat in hoër klasse was, wou hy nie meng nie. Dit was dus maar altyd Marietjie en Elsabe wat deel van sy lewe was.
Hy glimlag by homself toe hy onthou hoe een van die onderwysers hom eendag toegesnou het dat hy net goed genoeg vir n stoker op die spoorweg sal wees toe hy gesukkel het met die boekhou. Hans is maar een van daardie mense wat nie n kop vir leerwerk het nie. Hy is n werksman wat met sy hande noet werk. Die onderwyser sal seker baie genot daaruit put om te weet dat hy nou n stoker geword het.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed