Jongste aktiwiteit:

Die Woo-Woo van musiek en klank

(Woordtelling 615)

 

Daar is baie tye wanneer woorde net nie die regte ding sê nie, of dit kom verkeerd uit, of dit word sommer net verkeerd verstaan. Maar wanneer woorde bloot net nie genoeg is nie, kan musiek en klank ook met ons praat, dan nie? Daar is iets aan musiek wat mens se hart raak, selfs al is dit soms heel ongemaklik. Ek bedoel, niemand wil graag in die supermark in trane uitbars net omdat die musiek hul hartsnare geroer het nie!

Musiek het nog altyd ʼn baie belangrike rol gespeel en so lank gelede as 5,000 BC, het die Egiptiese priester-dokters klank gebruik om mense gesond te maak. Selfs Hippocrates het 400 BC vir sy pasiënte musiek gemaak, en vandag nog word musiek en dans gebruik as hulpmiddel tot beter gesondheid.

Navorsing het in die afgelope jare bewys dat daar inderdaad ʼn sterk verband tussen musiek en gesondheid is, want nie net het dit die vermoë om jou stresvlakke te laat daal nie, dit kan ook jou immuniteitstelsel ʼn hupstoot gee.

Musiek- en klankterapie is ʼn erkende kliniese veld, en musiek terapeute is opgelei om mense, veral kinders, mense met gestremdhede, met geestesongesteldhede, sowel as bejaardes te help. Dit word as terapie aangewend om fisiese, emosionele, en kognitiewe probleme te help kalmeer. Baie mense vind dit moeilik om deur middel van woorde hul behoeftes uit te druk, en gebruik dikwels musiek.

World Music Therapy Awareness Day word op die 1e Maart gevier. Die gebruik hiervan het in 2016 ontstaan om die waarde van musiek en klank in ons lewens te vier.

Musiek en klank help om stres en angstigheid te verlig, verlaag bloeddruk, stimuleer breinaktiwiteit, en kan selfs pyn verminder. Dit kan sekerlik as ʼn placebo effek gesien word. Alhoewel daar nie wetenskaplike bewyse gevind kan word waarom sekere produkte of gebruike help nie, beteken dit steeds nie dat dit geen waarde het nie. Die brein is immers ʼn baie magtige orgaan en beïnvloed die ervaring van jou lewenskwaliteit selfs sonder dat jy dit besef. Hoe sterker jou geloof in iets is, hoe makliker sal jy die positiewe waarde daarvan ontvang.

World Sound Healing Day word op die 14e Februarie gevier. Hierdie herdenking het in 2003 ontstaan om bewusmaking te kweek rakende die helende potensiaal van klank. Dit bring mense vanoor die hele wêreld bymekaar om ʼn liefdeslied aan Moeder Aarde te speel, want sien, selfs hierdie swewende lappie grond waarop ons woon het ekstra liefde en aandag nodig in ʼn tyd waarin ons dit gruwelik misbruik en verniel. Ons hoef nie net liefde deur middel van musiek te demonstreer nie, maar ook die manier waarop ons plante, diere, en die lug wat ons inasem respekteer.

In Klankterapie word musiekinstrumente gebruik om die brein, liggaam, gees, en emosionele gesondheid te ondersteun. Dit word gewoonlik deur ʼn opgeleide praktisyn gedoen en nie net gebruik hy sy stem nie, maar ook ander instrumente soos ʼn “gong”, singende bakke, dromme, didgeridoo’s, kalimba, en nog baie meer. Die gevoel waarmee die klank oorgedra word, het meer waarde as watter instrument gebruik word.

Die gebruik van musiek terapie word in die Westerse wêreld nog in ʼn groot mate met agterdog bejeën. Onbekend is verseker ook onbemind. Selfs gedurende die Eerste- en Tweede Wêreldoorloë het musikante van hospitaal na hospitaal gereis om musiek aan die beseerde soldate te speel.

Ek weet nou net nie of musiek en die kuns om metaal bakke met klank te laat vibreer ons cholesterol sal verlaag, of gebreekte bene sal herstel nie, maar ek weet wel dat dit ʼn positiewe invloed op mens se geestesgesondheid het. Wie sal werklik weet watter terapie vir watter persoon sal werk? En wie nie waag nie, sal nooit weet nie.




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed