Jongste aktiwiteit:

Dit begin by MY! (Silwer)

Kuberboelies is ‘n realiteit. Ons almal het dit al gesien gebeur – iemand maak ‘n plasing op ‘n blad, en skielik word hulle oorval met kwetsende boodskappe, spotprente en selfs doodsdreigemente. Het jy al ooit gewonder waarom ons dit aan mekaar doen?  Die antwoord lê in ‘n komplekse knoop van sielkundige, sosiale en tegnologiese faktore.

Sosiale media het gekom om te bly, en het die manier waarop ons met mekaar kommunikeer, totaal en al verander. Hierdie platforms is ontwerp om ons te verslaaf. Dit gebruik algoritmes wat deelname bo menslikheid stel. Hoe meer aanvegbare sensasie, hoe beter! Sosiale media maak ons virtuele wêreld lewensgroot, en ons leefwêreld bitter klein, want dit hou ons vasgenael aan die klein skermpie voor ons. Die hou-van duimpies, hartjies, drukkies en kommentaar gee vir ons kitserkenning. Ons leef vir die reaksies en kommentaar op ons plasings deur vriend en vreemdeling, sonder dat ons die privaatheid van ons voorkamer hoef te verlaat. Dit ontbloot egter ook ons ​​onsekerhede. Ons stel die (dikwels oordrewe) blink kant van ons lewens ten toon, wys ons suksesse en verberg ons mislukkings. Ons deel intieme besonderhede oor ons lewens, en wonder dan waarom sommige mense so gemaklik voel om negatiewe, soms selfs haatlike kommentaar daarop te lewer. ‘n Gebrek aan persoonlike grense is ‘n vrugbare teelaarde vir oordeel en oorreaksie.

Sosiale media bied ons ‘n mate van anonimiteit, wat ons toelaat om agter avatars en skuilname weg te kruip. Hierdie gesigloosheid gee ons moed om dinge te sê wat ons nooit sou waag om aan iemand in persoon te sê nie. Dit beperk ons vermoë om sinvolle gesprekke te voer. Ons gaan oor tot persoonlike aanvalle eerder as om tyd te neem om verskillende perspektiewe te probeer verstaan ​​en aan konstruktiewe debat deel te neem. Ons raak baie vinnig vasgevang in dié gedrag, en aangevuur deur ander wat ons sienings deel, demoniseer ons dan diegene wat waag om van ons te verskil. Ons wíl verontwaardig wees, ons wíl kwetsend wees, en reageer impulsief. Hierdie kniehalterkultuur het deurdagte deelname met breinlose reaktiwiteit vervang.

Om hierdie toksiese kringloop te breek, moet ons verantwoordelikheid neem vir ons eie optrede. Ons moet weer ‘n kultuur van meelewing skep, die tekortkominge in ons eie aanlyngedrag erken, en regstel. Ons moet na ander se menings luister en poog om hul perspektiewe te respekteer, of ten minste met respek daarvan te verskil, want vir so lank as wat daar mense op aarde bestaan, sal opinies rakende aktuele sake tog uiteenlopend wees?

Wanneer ons die komplekse aard van sosiale media begryp, kan ons begin om ‘n beter en meer inklusiewe aanlynomgewing te skep. Kom ek en jy begin vandag ‘n sosiale media-kultuur wat ophef, eerder as om af te breek. Kom ons gebruik ons ​​woorde om te inspireer en te ondersteun. Kom ons onthou dat agter meeste sosiale media profiele ‘n regte mens is, met regte gevoelens en sy/haar eie, baie menslike stryd op ‘n meedoënlose tegnologiese slagveld.

Dis tog die regte ding om te doen!

©️ Elize Kruger (496 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed