Droomvlug
Ek wandel deur tuine, my liefste –
boorde waarin bloeisels gedy
en loop deur die doodsnik van winter,
Namakwa lê blombont om my.
Soms verdwaal ek in dorre woestyne,
waar skedels en skepe skelet
langs ‘n kus met duisende duine –
teen die wind en die weer in verset.
Ek stap met ‘n stofpad, beminde
deur karoobos en lang gras in pluim –
verby die rante en heuwels en koppies
wat so vaal en so roes en so bruin.
Oewers en kronkelriviere
lei na mere wat vlei oor ‘n strand
en rotse baar seewater sterre,
my spore verspoel in die sand.
Veral in die lente, my liefling
volg ek die pas deur die kloof
waar wingerd en groen landerye
‘n najaar vol oorvloed beloof.
Ek sit onder bome teen skemer –
lang bome wat hoog bo my troon.
Die son gooi sy spikkels deur blare,
waartussen loeries en nagapies woon.
en ek dans in die donker, my liefste
oor stoepe deur lampe verlig,
verbeel my in elk sagte skadu –
jou lyn, jou kontoer
. . . jou gesig.
© C. Shaw
24 September 2016
7 Kommentare
-
neels
Carma jy laat mens darem ver terug dink met hierdie pragwerk
-
Koekekranka
Pragtig!
-
Inkmoderator
Jy merk in jou bio hier op INK dat jou wens vir die leser is dat daar 'n emosie of twee wakker gemaak sal word by die lees van jou verse. Alomdeur, by jou werk hier op INK het jou sonder twyfel in daardie poging geslaag. Jou verse wys 'n groot liefde vir die 'heiligheid' van toertjiemaak in Afrikaans, deurdagte en gebalanseerde rymskema's en dan natuurlik ken jy jou onderwerp. Jy maak gebruik van 'n metriese tempo (ta-ta-ra-ta-ta) wat die lees daarvan vergemaklik. Ek wil jou uitdaag, veral vir hierdie projek: sal jy asseblief vir my 'n vryvers inskryf? 'n Vers sonder 'n rymskema. Ek sal baie graag so 'n vers van jou wil krit. Jou werk is versorgd en dit is ALTYD die moeite werd om tyd uit te koop en dit te lees. Baie dankie vir jou bydrae. IM
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die INK gedenkbundel projek