
Geraas in die agtergrond
Woordtelling 1017
Stergradering Silwer
Van die kleinste insek tot die grootste land- en seedier sowel as elke mens, word beïnvloed deur die klanke van ons omgewing. Maar te veel of te harde geraas is nadelig vir elkeen wat onwillekeurig daarna moet luister. Dit beïnvloed alledaagse aktiwiteite soos slaap, kommunikasie, stresvlakke en selfs voortplanting. Almal reageer in ʼn sekere mate op geraas terwyl sommige spesies uiters sensitief daarvoor is.
Tydens die noodgedwonge inperking regoor die wêreld, was dit die eerste keer in twee eeue wat ons heeltemal tot stilstand kon kom en die geraas in ons omgewing kon evalueer. Aan die meeste van hierdie klanke is so gewoond dat mens dit net agtergrondgeraas geword het! Die onophoudelike lae dreuning van motors in nabygeleë besige paaie, vliegtuie, masjinerie, die bure se hond wat onophoudelik kef, ʼn te harde televisie of radio, huishoudelike toerusting, sirenes, die onophoudelike gehuil van ʼn koliek baba en selfs die “onskuldige” musiek van die bure se tiener-kind, is iets waarmee ons geleer het om saam te leef. Dit het bloot ʼn deel van ons moderne bestaan geword. Geraasbesoedeling is dus nie noodwendig harde geraas bo ʼn sekere desibel nie maar kan alledaagse klanke wees. Wanneer jy egter jou ore wil toedruk en ʼn verhoogde hartklop ervaar, ervaar jy geraasbesoedeling.
Die definisie vir geraasbesoedeling is dus alle klank wat onnatuurlik in hoeveelheid of volume is. Tensy jy bevoorreg genoeg is om op ʼn plaas gewoon, ver weg van die stad se geraas, kan dit redelik moeilik wees om ʼn omgewing te vind waar die stilte groter as die nimmereindigende lawaai is.
Die uitwerking van geraas op mense :
Geraasbesoedeling word as die tweede grootste oorsaak vir gesondheidsprobleme beskou. In Amerika het meer as 40 miljoen volwassenes gehoorprobleme en in Europa sowat 22 miljoen mense. Dit als word veroorsaak deur onophoudelike verkeer, vliegtuie, treine en fabrieke. China se geraasvlakke is die hoogste ter wêreld en word gevolg deur Indië, Egipte en Turkye.
Mense wat aan langdurige geraas blootgestel word slaap slegter, het meer hartprobleme en ʼn verhoogde toename in bloeddruk en adrenalienvlakke wat weer aanleiding tot hartaanvalle of ander hartverwante siektes gee. Gehoorverlies is algemeen en verlaagde konsentrasie en/of geheue, of selfs verandering in gedrag waarvan irritasie en aggressie ʼn simptoom is. Hoofpyn, verhoogde stres, moegheid, depressie, angs kan ʼn direkte verband met klank hê. Navorsing het getoon dat mense wat naby lughawens en treinstasies woon, meer afhanklik is van slaapmedikasie en besoek meer dikwels sielkundiges of terapeute as hul eweknie wat in stiller omgewings woon.
Kinders neem dikwels aan aktiwiteite deel waar hul gehoor beskadig kan word. Dit sluit in musiekkonserte, sportbyeenkomste en raserige speletjies. Langdurige blootstelling aan lawaai verminder hul kognitiewe vaardighede, het dikwels slaapprobleme en het ook ʼn negatiewe invloed op hul metabolisme en hartgesondheid. Studies het aangetoon dat kinders wat naby lughawens of treinstasies woon ʼn groter kans het om met gehoor- en leerprobleme te sukkel.
Die uitwerking van geraas op diere :
Diere maak staat op hul fyn gehoor om te bepaal waar hul volgende maaltyd vandaan sal kom en of hulle dalk self ʼn maaltyd gaan word. Geraasbesoedeling kan gehoorverlies veroorsaak en konstante verhoogde vrees verkort hul lewensduur. Die uitwerking van geraas veroorsaak dat diere die omgewing verlaat, voëls moet teen ʼn hoër frekwensie moet sing, vlermuise en uile sukkel om hul prooi te vind en paddas sukkel om maats te kry. Net soos by die mens ondervind diere ook stres. Migrerende voëls vermy gebiede met hoër geraasvlakke en die langer reisafstand kan selfs hul dood beteken.
Die uitwerking van geraas op seelewe :
Vir ʼn vis is die klank onder water dieselfde as sig vir die mens. Mensgemaakte klankgolwe onder die water se oppervlak affekteer elke lewende spesie daarin. Net soos op land sukkel die visse om te kommunikeer, ʼn maat te kry, te jag en uiteindelik affekteer dit ook voortplanting. Sedert die 1960’s het die vervoer ter see 16x vermenigvuldig. Oliebore, skepe en militêre aktiwiteite beïnvloed die delikate sonar klanke waarvan dolfyne en walvisse gebruik maak om soms oor honderde kilometers te kommunikeer. Sommige spesies is op die rand van uitwissing a.g.v. geraasbesoedeling.
Die uitwerking van geraas op plante en bome :
Plante en bome maak staat op diere en insekte om sade en stuifmeel van een plant na ʼn ander oor te dra. Indien die geraas dit vir diere, voëls en insekte ongemaklik maak om in die omgewing te woon, kan die bestuiwing van plante nie plaasvind nie. Selfs nadat geraasbesoedeling drasties afgeneem het, kan ʼn omgewing steeds dekades neem om te herstel veral wanneer ʼn sekere tipes bome dekades neem om van ʼn saad tot volwassenheid te groei.
Maar is daar enige raad? Hoe kan ons hierdie geraas bietjie demp en sodoende ons liggaam en gees broodnodige rus en stilte gee? Wonderbaarlik is plante ʼn natuurlike teenmiddel teen oormatige klank want nie net absorbeer plante die geraas nie, dit verminder ook die mens en dier se verhoogde stresvlakke.
Nie net dien struike en bome as versiering vir die omgewing of bied privaatheid nie, maar dit word ook dikwels langs snelweë geplant om die geraas te absorbeer. Potplante word meestal binne geboue gebruik om klank in winkelsentrums of kantore te demp. Dit is die natuur se natuurlike klankdemper en geraas word geabsorbeer deur die plant se bas, blare en takke. Veral plante met ʼn dik, rowwe bas en vlesige blare is goeie absorbeerders. Hoe meer plante bymekaar geplant word, hoe groter dit groei en hoe digter die blare-muur, hoe beter. Immergroen struike en bome is dus ook beter as plante wat hul blare gedurende die droë seisoen verloor. Grasperke en sagte grond help ook om klank te absorbeer. Lopende water van ʼn natuurlike of selfs mensgemaakte fontein help ook om klank te demp en die “white noise” van vloeiende water het ʼn kalmerende invloed op die brein.
Die slotsom is dat die mens nie sonder die natuur kan bestaan nie. Nie net is dit ʼn bron van kos nie, maar dien ook as ʼn natuurlike beskerming teen enige skadelike en ongewensde geraas- en lugbesoedeling en is ʼn natuurlike teenmiddel teen vele vorme van siektetoestande (wat dikwels deur die mens self veroorsaak word).
Bronne : https://www.everythingconnects.org/noise-pollution.html
https://www.conserve-energy-future.com/causes-and-effects-of-noise-pollution.php
https://www.ambius.com/learn/how-plants-reduce-noise/
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2020 – Klanknabootsing projek