God het sy punt gemaak
Anel Steyn
01.05.1988 – 29.05.2014
Voor in die kerk moet ek vandag sit,
Tussen sakdoeke, swart pakke en hande wat bemoedigend
oor my streel en saam met my bid.
Bid vir jou, my kind. Bid vir my.
Hier is baie mense. Familie en vriende, selfs ‘n onbekende gesig of twee.
Hulle huil oor jou, my kind.
Hulle harte is saam met myne seer.
Mensie uit my lyf, my eie stukkie vlees en bloed.
Vandag neem ons afskeid, vandag moet ons jou groet,
Want jou tyd is jou tyd, my kind. So het ek jou tog geleer.
Maar dis moeilik om vrede te maak dat dieselfde vrygewige God ook so skielik kan neem.
Al is daar baie wat ek nog kon sê, so baie wat ek nog wou vra
moet my vraagtekens maar bly, want God het klaar sy punt gemaak.
En so tussen my trane deur sal ek Hom prys en loof,
vir die voorreg om jou ma te kon wees, vir die pad wat ek saam met jou kon loop.
Voor in die kerk moet ek vandag sit,
tussen geliefdes en vriende saam met wie ek kliphard bid,
vir ‘n spesiale plekkie vir jou langs Jesus se sy
en dat Hy sal sorg dat jou glimlag ons altyd by bly.
Vir tannie Anita.
04/06/2014
5 Kommentare
-
Anze
sjoe hierdie gedig kom diep, en vat ook diep.. ongelooflik mooi en teer geskryf *Drukkie
-
Koekekranka
Die onomkeerbare waarheid van stof is jy en tot stof sal elkeen se uiteinde wees... Jy het hier emosies in woorde kom toor wat mens diep gryp!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Daar is seker niks so swaar as vir n vrou om n kind te verloor nie. My vrou het haar dogter n paar jaar gelede verloor. sy is in Mosambiek oorlede en al die hartseer en drama om haar liggaam terug te bring is nog rou in die gemoed