Jongste aktiwiteit:

Hoe kry Mens ‘n nuwe Vriend?

Hoe kry Mens ‘n nuwe Vriend?
Ek? Ek klim in my motor en maak ’n ongeluk.

Ek ry byvoorbeeld Sondagnamiddag uit die stad uit, kies ’n rustige restourant in die koelte van die bloekombome op ‘n dorpie om ’n ietsie te eet en ’n biertjie te drink, miskien in die koerant te loer. Ek maak ‘n klein rondgang en kyk na die bos en die berg en die water en die horison, snuif die heerlike varslug in en verpes dit dan met my stinkpyp. Dan betaal ek en klim in my kar, ry op die verkeerde kant van die pad. En siedaar! Ek het ‘n nuwe vriend!

Ja, dit het werklik so gebeur, sê my vriend Kalle. Ek wou nog ‘n espresso gedrink het, maar het vergeet om te bestel. Ek was in ‘n goeie luim en het tevrede met die wêreld – duits gery. Toe kom daar ‘n Suidafrikaner op die verkeerde … Hoppla, wie is nou verkeerd? Af van die pad hier! Hier en nou! … Het ons albei gedink: Hy oudergewoonte na links, ek na regs. (Tja, die gewoontes: Ons kon by so ‘n tema ‘n seminaarweek hou, en nog lange nie alles uitgepraat het nie, nê?) Toe tref ons mekaar onder een en dieselfde boom. Ek en die gesin wat my nuwe vriende gaan word.

Eers kom die geskimp en geskree: As my kinders iets oorkom, gaan jy betaal, gehoor? Waar het jy jou lisensie gekry, by die dodgems?

Altwee karre is af van die pad af, en Kalle se eerste sorg is om die vrou en twee kinders in die ander karretjie, ‘n beachbuggy. Die een seuntjie het ‘n duifeiertjie op sy voorkop waar hy teen die rollbar gebots het, die ander het ‘n bloue vlek op sy heup; hy het probeer om aan iets, enigiets vas te hou. Mevrou het haar kop teen die akrilwindskerm gestamp en kry miskien ‘n blou-oog daarvan. Die kinders ly duidelik aan skok en staan stom midde-in die landskap. Die moeder is besorg om haar kinders. Hyself het so wild uitgedraai dat sy stuurstang tien of meer graad na links afbuig, en sy skeenbeen het teen iets daaronder gestamp.

En ek? En ek is vris en vars en ongeskonde en loop om die motors om te kyk of daar nie miskien petrol uitloop wat aan die brand kan raak nie.

En die karre? Hoe lyk dit met die karre? Nouja, my motor was van die nuwerige soort met ‘n platneus: daar kan jy die teerstrat voor jou voete sien – hy het oor my enjinkap met sy regte voorwiel gery. Hier ‘n stuk glas gesplinter, daar metaal gebuig en êrens plastiek stukkend. Krapmerke. (Ek wou juis die voertuig vir die duur van my verblyf tweedehands koop en die tydelike nommerplaat was nog in die venster.) Die buggy is pee-in-sy-em, maar as alles verby was, kon ek probleemloos wegry, sê Kalle. (Ek kan natuurlik nie verklap watse motor dit was nie, anders kan iemand Kalle nog gaan staan en aankla. Sê ek.)

Onder ‘n boom op die ander kant van die pad staan toevallig die diensmotor van ‘n sekuriteitsfirma en maak sigaretpouse. Die manne kom kyk wat gaan hier aan. Iemand het alle nodige telefoonnommers gebel. Nog iemand het ‘n plastieksak met ys gehaal. Ek glo nie ons was meer as ‘n halwe kilometer van die tuinrestourant nie, daar waar die Dorpstraat in die grootpad indraai.

Geen dooies, geen verminktes, geen bloed, geen gehuil, geen brand nie. Nou goed, dan ry ons ma’, ons het diens, totsiens, julle! Ore styf!

Toe die aasvoëls kom, wys ek my AA-kaart en sê danke schön en hulle ry.

Dan kom die ene na die andere telefoonnommer aangery. Eers die medics: Geen dooies, geen bloed, ensovoort. ‘n Slukkie sal volatile (of wat ookal gegee word) en ‘n salfie vir die kneusvlekke. Nou goed dan. Dan ry ons ma’, ons het nog ‘n ongeluk tien kilometers van hier, totsiens julle. Nie vergeet om die yssakkies daarteen te druk nie, kêrels. Die dokter is al op pad.

Toe kom hy ook: Bloed? Nee. Lyke? Nee. Bene, arme, kneusstelle afgetas; in die oë gelig, aa gesê, op bors en rug geklop. — Die salf ruik goed. Nou gaan ek jou sê wat jy moet doen as die kinders in die nag swaarkry … Dan ry ek ma’ … tien kilometers van hier … Totsiens julle. Nie vergeet, môrevroeg julle dokter op te soek nie.

Dan ook die polisie. Nee, dis nie nodig dat ons iets doen nie. Slegs as die pad blokkeer word of as daar lyke en verminktes hier lê. Alles opgeskryf. Bel ons by hierdie nommer om ‘n case-nommer te kry. Dan ry ons ma’, … tien kilometers van hier … Totsiens, julle.

Daar sit ons nou en wag op die vriend van die buggy-eienaar, wat hulle sal kom afhaal. Ons het al lankal name en telefonnommers, adresse, paspoort- of ID-nommer en registrasienommers uitgeruil en daar ontstaan ‘n geselsie.

— Hoe hou jy van ons mooi land? Beachbuggy? Ja, self gebou. Splinternuut, nog nie honderd kaëm op die spiedou nie. Wil eintlik in produksie gaan. Ken julle soiets in Europa nie? Die gesprek word al hoe tegnieser, die kinders wil aanvang neul. Maar daar kom die vriend van die nuwe vriend en ry weg met die res van die familie.

Ek slaan voor die AA te roep en te laat wegsleep. Maar nee, Buggy wil dit self huistoe bring. En so ry ons met dertig kaëmuu, ek met geel blinkers aan, as agterhoede, tot in die laataand, al agter ‘n kar wat lendelaam aangehompel kom soos daai waentjie in die ou Jok en Jamie Uys-film wat wat soos ‘n dronkie hik: Oo-oor-woep,oo-oor-woep,oo-oor-woep. Van agter lyk dit soos ‘n meelsak uit blik met twee stutte wat links en regs keer dat nie àlles omval nie. Maar dit loop of rol of waggel vorentoe, al vorentoe. Tot by die motorhek, waar sy vrou staan en wag. Tot by die deur van die garage. Tot binne-in die garage.

Maandag is Kalle dou-voor-dag op die bene, ofskoon hy moes geweet het dat g’n kantoor voor nege-uur oop is nie. Maar dit traak hom nie, en hy bel die versekering, en die kontrakfirmas vir die reparasie – en familie Buggy: Hoe gaan dit, so met die duifeier en die bloue vlekke? Kan hy hulle iets uit die dorp saambring? Buggys was ook nie lui nie en het die kinders doktertoe gebring, het medisyn uit die apteek gehaal, het gekyk wat hulle vir die skrot kan kry.

En ons almal kom gelyktydig by hulle aan om saam middag te eet.

Gelukkig was dit skoolvakansie en die seuns kon by die huis hul krag rustig weer opbou. Gelukkig het mevroutjie ‘n werk gehad en kon die familie onderhou. Besonders gelukkig was die nuwe vriend as hy in die werkswinkel waar hy sy karretjie heengebring het, ‘n opdrag gekry het om pype te smee vir die eerste ses eksemplare van ‘n reeks buggies wat die werkswinkel self wou bou: Hulle was geesdriftig oor sy eksakte werk, die suiwere nate.

Buggy vertel Kalle oor sy lewe, sy verwagtinge, sy strewe, sy geloof. Nie opdringerig nie – eenvoudig so. Hy sê, jou tyd is nog nie om nie, anders sou die Here ‘n vragmotor gestuur het, nie my nie. Kalle vertel ook van sy kant – eenvoudig so. Hy sê, hy glo ook in engele: Hy het al baie noue ontkomings beleef, en hy weet dat íémand hom beskerm. Hulle verstaan mekaar.

Dis so: die ene is nie ryker as die andere nie, maar die andere is armer as die ene. Kalle se versekering betaal sonder om te mor vir sý karretjie, maar Buggie het g’n versekering nie, en ten slötte betaal Kalle se versekering slegs ‘n breukdeel van die skade, alhoewel Kalle skuld hat. Kalle voel hom verplig om minstens ‘n deel daarvan te betaal. Dit beteken geld internasionaal te oorplaas. En dit wil geleer word, sê Kalle. Nou se dae.

Ons het almal te doen gehad, en ek kon hulle nie elke dag besoek en lastigval nie. Toe my kar uit die werkswinkel kom, wou ek nog ‘n paar plekke besoek, en my geld het langsamerhand opgeraak. Maar ek het probeer om darem elke dag te bel. Een namiddag teen die einde van die maand se kant toe sit ek mismoedig op die balkon van my vakansiewoonstel en vra myself hoe lank ek nog my Afrika-vakansie sal kan geniet. Moet ek al oppak en huistoe vlieg? Omboek? O man! O, man-o-man!

Agter my hoor ek klingeling, en wie staan in die deur? Mevroutjie. Sy het ‘n ronde warm skottel met ‘n skoon kombuisdoek daaroor. Sy sê gelukkige Kersfees, ek moet loop, totsiens, en flits die huistrap af. O gaats, ook dit nog. Het ek nog geld vir ‘n internasinale telefoonkaart?

Toe Buggy my by die lughawe aflaai, sê hy van sy vrou nogmaals baie dankie vir die kar, sy weet dat sy dit gaan liefhê.

— ‘n Halwe kilo biltong vir jou mense in Europa. Ag, en origens, toe die polisie opdaag, het ek vir hulle gesê, jy’t gedrink en ek het geen versekering nie. As hulle jou weens dronkbestuur aangekla het, sou geeneen van ons iets daaruit gekry het nie.

Ag, soo! Daarom was hulle so afwysend. Wou glad nie eers met my praat nie!

Vriende vir die res van jou lewe, sê ek. Ons skryf of be-e-pos mekaar, stuur pakkies aan verjaarsdae en kersfees. Vriende vir die res van jou lewe, man.

(Toom)

© 8e.Februarie2017…………………… ………………………………tje




1 Kommentaar

  • Anze

    Kliek op die Lede-balk bo, dan kliek jy op die persoon met wie jy wil vriende wees se naam, jy sal na die betrokke persoon se profiel geneem word waar jy n vriend versoek , privaat boodskap en n volg opsie kan kies

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed