Jongste aktiwiteit:

Hoop fontein

daar waar niks of niemand ooit nog was nie
geen mensevoet
geen dier se spoor
selfs geen sweempie eens van riet of gras nie

daar waar dit net klip en duin en sand is
met ‘n son wat bloedig skyn
(in die ongenaakbaarheid
van ‘n woestyn) –
dáár
borrel ‘n fontein

en as ‘n Hagar of ‘n Moses
ooit eendag daar verby sou gaan,
‘n Lea of ‘n Job
met moeë bene daar kom staan
sou hul vir weke lank kon rus …
selfs hul tente
sou hul op kon slaan

want daar
waar skynbaar niks of niemand
sal kan lewe
daar sal water wel nog vloei

elke dor woestyn
baar ‘n springfontein
en in ‘n moedverloor-se-vlakte
(waar lafenis in strome loop) –
dáár
vind mens en dier weer hoop

*

daar waar niks of niemand nog ooit was nie
(in die dorste, droë woestyn)
geen mens of dier of sweem van gras nie –
selfs dáár 
borrel ‘n fontein

© C. Shaw
21 Maart 2014




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed