In die skadu van die berge
In die skemer van die berge
doringboom aan elke kant –
sit alleen die tenger vroutjie
op die grens van niemandsland
Wiegend neurie sonder woorde
want haar siel is weggevat –
môre kom die nare drome
op haar skewe kronkelpad
Maar sy luister na geluide
uit die Skepper se natuur –
wink kromvinger na die naguil
wat haar woordeloos aangluur
Sal sy opstaan, sal sy lewe
slegs die jakkals kan getuig –
want as son sy strale uitstrooi
sit sy met haar hoof gebuig
Is daar water in die bergstroom
wat haar dorre siel sal voed –
of is als vir haar verlore
bly dit donker sonder gloed
Maar die wolke op haar bergie
gooi ’n skadu oor haar hoof –
as hul donker hang in stilte
weet haar menswees is beroof
12 Kommentare
-
-
Anze
dis diepseer mooi..gelukkig kan ons vashou aan die wete dat more skyn die son weer
-
Viooltjie
Ek het hierdie gedig nou baie geniet, Evelyn. Dit het wonderlike rym en ritme. Baie goed gedoen :-)
-
neels
Evelyn een van jou bestes
-
Janetta-Helena Boonzaaier
'n Pastiche op in die skadus van die berge en baie goed gedoen Evelyn, ek het dit geniet . Sal sy opstaan , sal sy lewe? Haar menswees is beroof---sy is dus weg, die son kom nie vir almal op nie! xx
-
Ian Raper
Dis dikwels baie treffend as 'n bestaande vers, soos hier selfs met sy "wysie", ontgin word en nuwe teks word. Soms word die taal verwring ter wille van die gekose vorm, maar met die Visser-agtergrond en die feit van "neurie" kan dit staan. Die gevoel is duidelik.
-
Inkmoderator
Die ritme en woord ‘neurie’ herinner aan Amakeia. Ver verwyder egter en staan die vers op eie voet. In Latyns praat hulle van ‘Versus Tenbris’ wat ‘donker/hartseer’ beteken en ek ervaar die vers so. Die gebruik van ‘maar’ pla my oog bietjie: sinonieme dalk (dog, inderdaad) kan oorweeg word. Dit is beeldpragtig. Dit is óók simfonies effektief. Hoe sou ek strofe 3 lees?: Dog luister sy, na geluide uit die Skeppinsnatuur – wink kromvinger na die naguil wat haar sonder woord aangluur. Ek wonder ook, indien u nie punte gebruik aan die einde van strofes nie of die opvolgende stansa nie eerder met ‘n kleinletter begin moet word nie. Andersom, sluit gerus die strofes af met ‘n punt. Keurige vers.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Carin Marais
Pragtig! Ek hou baie hiervan!