Die Kaapse Klopse.
Die Kaapse Klopse.
Almal in Suid-Afrika en veral Kaapstad is vertroud met die jaarlikse skouspelagtige Kaapse Klopse. Klopse is ʼn woord wat afgelei is van die Nederlandse woord: klubs.
Die onmenslike gebruik van slawerny was ʼn wrede werklikheid wat in die Kaap bestaan het van 1653 af, in die tyd van Jan van Riebeeck se aankoms. Hierdie walglike gebruik het bestaan tot in die jaar 1838.
Die Kaapse Klopse het vir die eerste maal plaasgevind in 1907. Die karnaval het baie jare se oorloë en struwelinge oorleef en is vir meer as ʼn eeu ʼn groot aantreklikheid in die Moederstad. Die fees vind plaas op die Tweede Nuwejaar en dan word Kaapstad se strate herskep na ʼn asemrowende kleurvolle skouspel.
Hierdie fees het egter nie altyd gepaardgegaan sonder wrywing nie. Die stadsvaders en die komitee van die Kaapse Klopse het dikwels koppe gestamp oor allerhande nietige sake soos byvoorbeeld watter roete gevolg moes word. Die tradisionele roete van meer as 100 jaar het so gelyk: die optog begin by die Keisergracht of Distrik Ses, af in Darlingstraat waar hulle verby die Kaapstad Stadsaal gaan. Dan moet die optog links in Adderleystraat, regs opwaarts in Waalstraat tot hulle by Roosstraat in die Bo-Kaap kom, hier gaan hulle regs tot onder by die Waterkant. Die groot kompetisie word dan gehou by die Groenpunt-stadion wat vandag meer bekend is as die Kaapstad se sokkerstadion.
Vroeër in die begin van die Klopse is die slavinne ingespan om vir hulle eienaar mooi uitrusting te maak. Die uitrusting is dan gedra op die dag van die fees: Tweede Nuwejaar.
John Manson was ʼn kenner van geskiedenis en werksaam by die Universiteit van Virginia in die VSA. Hy beweer dat die Klopse hul ontstaan gehad het toe ʼn groep wit Amerikaners in die 1800’s ʼn fees begin het waar hulle hulle gesigte swart geverf het en liedjies gesing het van die Afrika-slawe. Met groot gewildheid het hulle begin toer deur Europa en selfs in Suid-Afrika.
Met die aankoms van die skip: Die Alibama in die jaar 1864 het talle mense vergader by die Vlaeberg om die skip in te wag. Volgens oorlewering het iemand hardop geskree: “Kyk, daar kom die Alibama!” Die slawe was so meegevoer dat hulle begin sing en dans het en dit het aanleiding gegee tot die ontstaan van die lied: Daar kom die Alibama.
Die Kaapse Klopse was destyds ʼn viering van vryheid vir die slawe. Vandag nog is Nuwejaar die tyd waarin mense besin en reflekteer oor nog ʼn jaar wat verby is, maar ook ʼn tyd vir hoop vir ʼn jaar wat voorlê.
Die Klopse se bekendste kenmerke is die vrolike sang, baie uitspattige kleurvolle uitrustings en vrolike danse. Gesigte word geverf om by die uitrustings te pas en almal neem deel – van oud tot jonk! Verskillende groepe neem deel aan die fees en daar is ʼn kompetisie om wenners aan te wys.
Tradisionele liedjies is oorgedra van geslag tot geslag en van die bekendste is: “Januarie, Februarie, Maart”, “Daar kom die Alibama” en “Ghoema, ghoema, ghoema”.
Die lirieke van: Daar kom die Alibama, maak nou soveel meer sin.
“Daar kom die Alibama, die Alibama hy kom oor die see
Daar kom die Alibama, die Alibama hy kom oor die see
Nooi, nooi, die rietkooi, nooi, die rietkooi is gemaak
Die rietkooi is vir my gemaak om daarop te slaap
Nooi, nooi, die rietkooi, nooi, die rietkooi is gemaak
Die rietkooi is vir my gemaak om daarop te slaap
Die Alibama, die Alibama, die Alibama kom oor die see
Die Alibama, die Alibama, die Alibama kom oor die see
Januarie Februarie Maart
April May June July
Januarie Februarie Maart
April May June July
August September October November December
August September October November December
Januarie Februarie Maart
April May June July
Daar kom die Alibama, die Alibama hy kom oor die see
Daar kom die Alibama, die Alibama hy kom oor die see
Nooi, nooi, die rietkooi, nooi, die rietkooi is gemaak
Die rietkooi is vir my gemaak om daarop te slaap
Nooi, nooi, die rietkooi, nooi, die rietkooi is gemaak
Die rietkooi is vir my gemaak om daarop te slaap
Die Alibama, die Alibama, die Alibama kom oor die see
Die Alibama, die Alibama, die Alibama
Hy kom oor die see …”
As ons weer na die kleurvolle deelnemers van die Kaapse Klopse kyk, laat ons kyk met ander oë. So baie van ons ken nie die hartseer verhaal agter die skouspelagtige kleurvolle fees nie.
Alhoewel die Kaapse Klopse destyds die tyd was waar die eertydse slawe feesgevier het, vier hedendaagse Kapenaars nou ook fees om vryheid te vier. Dis is die mens se reg om vryheid te waardeer en te geniet.
Heel van pas, lees ʼn feesganger se plakkaat: “Freedom of Enjoyment!.”
©Marlene Erasmus
30/11/2022
(793 woorde)
www.mieliestronk.com/bruinmense.html
voertaal.nu/die-vrystelling-van-slawe-in-die-kaapkolonie-1-desember-1834/
dspace.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/15511/2014WaarkomdieAlibama.pdf
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2022- OOP projek