Jongste aktiwiteit:

ProjekteINK DIGKOMPETISIE 2020 (1 Maart 2020 – 30 September 2020)

INK DIGKOMPETISIE 2020

1 Maart 2020 – 31 Julie 2020

Ink Skryf in Afrikaans ( www.ink.org.za ) bied hierdie jaar ‘n digkompetisie aan waarvan die beste gedigte in ‘n spog bloemlesing, INKSPRAAK I, gepubliseer gaan word. Daarna word beoog om elke jaar verdere bloemlesings te publiseer. Die INKSPRAAK bloemlesing sal direk na die gala aand te koop aangebied word aan die digters en belangstellendes. (Prys sal later bekend gemaak word.) Die hoofdoel van hierdie kompetisie is die bevordering van gehalte poësie in Afrikaans. Besoek ook gerus die webwerf om meer van INK te lees. www.ink.org.za

WEENS DIE GRENDTYD IS DAAR DEUR INK SE BESTUURSPAN BESLUIT OM DIE SLUITINGSDATUM VAN DIE KOMPETISIE UIT TE STEL NA 30 SEPTEMBER 2020 OM ALMAL N KANS TE GEE OM TE KAN DEELNEEM

Reëls:

1. Die kompetisie is oop vir alle persone van enige ouderdom. Hierdie is ‘n (Inter)nasionale kompetisie en nie slegs vir INK-lede nie. Inskrywings word per e-pos gestuur, maar deelnemers is welkom om ook ‘n gratis profiel ook op die INK web werf te registreer.

2. Slegs oorspronklike Afrikaanse gedigte van deelnemers mag ingeskryf word.

3. Geen gedigte waarop reeds kopie- of enige ander regte, deur enige buitestander gehou word, mag sonder die skriftelike toestemming van sodanige party ingeskryf word nie. Deelnemers aan hierdie kompetisie en/of hulle ouers/voogde vrywaar die aanbieders van die kompetisie van enige eise of ongeopenbaarde aansprake van enige aard wat mag ontstaan uit deelname daaraan.

4. Digters kan soveel inskrywings instuur as wat hulle wil. Daar is geen beperking op die hoeveelheid nie. Die inskrywingsgelde beloop R25 per gedig en word in die volgende rekening inbetaal onder verwysing van die digter se naam en van:

FNB – Modimolle
Ink in Afrikaans
Besigheidsrekening
Rek no: 62588595036
Takkode: 260247

Stuur asb. ’n bewys van betaling saam met jou inskrywings na skryfafrikaans@ink.org.za

Die afdelings waarvoor ingeskryf kan word, is soos volg: (hoeveelheid in elke afdeling onbeperk)

Afdeling A: Ballade
Afdeling B: Elegie
Afdeling C: Fabel
Afdeling D: Haikoe
Afdeling E: Kwatryn
Afdeling F: Rondeel
Afdeling G: Sonnet
Afdeling H: Vrye vorm en rym

(Deelnemers kan self kies of hulle byvoorbeeld onder Sonnet ‘n Italiaanse, Franse of enige ander tipe sonnet wil inskryf.)

5. Die inhoud van die gedigte mag oor enige onderwerp handel. Gedigte moet in algemeen beskaafde Afrikaans wees. Taalvermenging word slegs aanvaar indien dit in die konteks van die boodskap wat die digter wil oordra, verantwoordbaar is. Gedigte wat laster en/of onwelvoeglike taal bevat, sal nie vir beoordeling aanvaar word nie.

6. Gedigte mag nie langer as 32 reëls elk wees nie.

7. Inskrywings moet gestuur word in ’n word.doc na die volgende e-posadres: skryfafrikaans@ink.org.za

– Die onderwerp (subject) van die e-pos moet duidelik gemerk wees: Ink Digkompetisie 2020 met die digter se naam en van
– Elke gedig moet van ‘n titel (in bold) voorsien word
– Font: Arial
– Groot: 10 punte
– Kleur: Swart op wit agtergrond
– Spasiëring: Enkel
– ‘n Oop lyntjie moet tussen strofes gelaat word
– Moenie elke reëltjie met ‘n hoofletter begin nie, behalwe as die gedig doelbewus so geskryf is
– Moenie foto’s of prentjies aanheg nie
– Gedigte met lang verduidelikings onderaan sal gepenaliseer word. ‘n Kort verwysing na ‘n woord of term (bv. Latynse frase) is wel toelaatbaar.

8. Die volgende inligting moet onderaan elke gedig verskyn:

– Die digter se naam en van;
– Die dorp/stad waar hy/sy woonagtig is;
– Die kontaknommer en e-posadres van die digter; en
– Die afdeling waaronder die betrokke gedig ingeskryf word.

9. Deelnemers se name en adresse sal nie aan die beoordelaars getoon word nie. Alle beoordeling word anoniem hanteer. Beoordeling is finaal en geen briefwisseling sal gevoer word nie.

10. Die beoordelaars behou die reg voor om, indien daar na hulle mening te min inskrywings is, of as die standaard nie hoog genoeg is nie, geen wenner in daardie spesifieke afdeling aan te wys nie.

11. Beoordeling is finaal en geen briefwisseling sal gevoer word nie.

12. Die prysgeld beloop soos volg:

Algehele Wenner: R6,000
Naaswenner: R4,000
Afdelingsprys: R1,000 elk (Totaal R8,000)

13. Die beste gedigte wat aan die beoordelaars se standaarde voldoen, word in die bloemlesing, INKSPRAAK I gepubliseer. Om hierdie rede gee deelnemers toestemming vir  publikasiereg aan INK asook die uitgewers ten opsigte van die gebruik en publikasie van enige gedigte wat vir hierdie kompetisie ingeskryf word. Die digters behou kopiereg.

14. Prysuitdeling: Die bekendmaking van die wenners, die oorhandiging van die pryse en die bekendstelling van die bloemlesing sal op 31 Oktober 2020 te Farm Inn Pretoria (Adres: Farm Inn Road, Hazeldean, Silverlakes, tel nr.: 012 809 0266) tydens die jaarlikse INK gala-aand geskied. Kort daarna sal die wenners ook op sosiale media bekend gemaak word. (Hierdie datum sal eers later finaal bevestig kan word na aanleiding van die grendelstatus se reëls)

14. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 30 September 2020. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie ten einde die beoordelaars genoeg tyd te gee om deur al die gedigte te werk.

15. Navrae kan gerig word aan : skryfafrikaans@ink.org.za

HOOFBEOORDELAAR: SUSAN GROBLER

AGTERGROND

Taalaktivis, skrywer en digteres Susanna Elizabeth Grobler (neé Smit) is op 10 Oktober in die Oos-Vrystaatse dorpie, Clocolan, gebore. Sy is ‘n praktiserende prokureur en geregistreerde afslaer met haar eie firma in Waterkloof, Pretoria. In 2015 ken die Universiteit van Suid-Afrika ‘n meestersgraad aan haar toe vir haar navorsing in die Reg in/en Literatuur (Law in/and Literature).

EVALUASIES

Susan Grobler evalueer en beoordeel jaarliks verskeie nasionale prosa- en poësie kompetisies. Hierdie diens word goedgunstiglik deur haar verrig aan verskeie instansies en kunstefeeste ter bevordering van veral Afrikaanse jeugdigkuns.

BEURSE

Die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek ken die Nederlandse Taalunie (NTU) 2009 prestasiebeurs aan Susan Grobler toe. Sy ontvang ook die Van Ewijck Stigting Beurs 2010.

HOOFBESTUURSLID EN EERSTE VROUE VISE-VOORSITTER: GHA 1994

Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) kom op 29 Januarie in die Bereasaal in Pretoria tot stand met Mnr Jaap Versfeld as voorsitter. Susan Grobler word genader om op die GHA se hoofbestuur te dien en word die skryfkunsportefeulje aan haar toegeken wat sy met groot sukses bedryf het. Na ‘n kort onderbreking weens ander verpligtinge, dien sy vanaf 2010 tot Mei 2011 weer op die Hoofbestuur van die GHA, hierdie keer met die GHA Gedigtekompetisies as portefeulje, Sy is dan ook die eerste vrou ooit wat as Vise Voorsitter van die GHA verkies word. Sy wys die Voorsitterskap van die hand waarna sy as hoofbestuurslid bedank ten einde al haar aandag aan die werksaamhede van die Africana Vereniging te gee.

TOLBOS

Susan was tot en met die April 2011-uitgawe, die Redakteur van die kwartaalblad, Tolbos, voorheen bekend as Die Taalgenoot. Tans is sy Redaktrise van die Africana Jaarboek.

DEBUUT KORTVERHAALBUNDEL

Susan Grobler se debuut kortverhaalbundel, Hunniemoen Kuppels, word in 2002 onder haar noemnaam, Santjie, deur Medpharm Publikasies gepubliseer. Die tien komiese vertellings is in ‘n Oos-Vrystaatdialek van Oosgrensafrikaans geskryf.

AFRIKAANSE TAALTRUST

In 2003 ontvang sy in haar hoedanigheid as regsgeleerde opdrag om ‘n Afrikaanse Taaltrust vir die GHA op te stel en te registreer. Wyle Dr Hennie van der Hoven is as Oprigter van genoemde trust benoem.

AFRIKAANSE TONEELGESELSKAP

In 2004 speel Susan Grobler die hoofrol van Klara Breytenbach teenoor Kobus Riekert as Sersant Bart Harmse in Die Vonkel in haar Oë! geskryf deur Gerhard J Beukes.

ORFEO PRODUKSIES

In 2005 word Susan Grobler as Orfeo Produksies se Produksie- en Artistieke Bestuurder aangestel. Die Afrikaanse toneelstuk, Huis op Horings, geskryf deur Walter Heymans, word in die Breytenbach Teater, Pretoria, opgevoer.

JAKARANDA NASIONALE KUNSTEFEES

Gedurende 26 April to 02 Mei 2010 bied Susan Grobler die Jakaranda Nasionale Kunstefees (gesetel in Pretoria) se Digkuns het Woema! Gedigtekompetisie aan. Die wins uit die stalletjie se verkope is aan die GHA geskenk.

DEBUUT

Gedurende 2005 debuteer sy as digter in die bloemlesing, Stemme uit die Suiderland. Heelwat van haar gedigte verskyn in die reeks. Haar beelddigbundel, Splitpen, is opgedra aan en geskryf ter viering van die eerste Afrikaanse Taalfees aangebied deur Nederland en gehou in Amsterdam gedurende Junie 2011.

STYL

Susan Grobler skryf nie oor die eie-ek en die self nie, maar oor aangeleenthede wat van buite tot haar spreek. Sy ondersteun Joan Hambidge se motto: “n Gedig is nie ‘n getuigskrif nie.”

VOORSITTER: ATKV PRETORIA SKRYFSKRUM

Susan Grobler was vir meer as ‘n dekade Voorsitter van die ATKV Pretoria Skryfskrum. Gedurende 2009 organiseer Susan ‘n uiters geslaagde Prosa-en-Port werkswinkel met die tema: Intertekstuele gesprekke tussen die digkuns en fotografie. In 2011 tree sy uit hierdie posisie om meer tyd aan haar nagraadse studies te spandeer.

AFRICANA VERENIGING (PTY) LTD

Susan Grobler is ‘n direkteur van die Africana Vereniging en dien ook op die hoofbestuur. Sy dien ook op die redaksie van die Africana Jaarboek.

ANDER KUNSVORME

Susan Grobler speel klavier, pyporrel en tjello en was ‘n klawesimbel-student van die orrelis, Prof. Wim Viljoen. Sy het in etlike kore gesing en as orreliste verskeie kerk- en kinderkore afgerig. As lid van die Vrystaatse sanggroep, The Rising Stars, het sy saam met Natasha Ayres, Wenner van Talent ’89, deelgeneem aan verskeie Crescendo-kompetisies in die kategorieë: sangers en liedjieskrywers. Susan het gedurende 2007 onder die kunstenaar, Stella Olivier, skilderkuns begin studeer en sit haar opleiding in 2012 onder Neil Moss in Brooklyn voort.Haar gunsteling stokperdjie is die bywerking en opdatering van haar familiestamboom (Genealogie).Gedurende Junie/Julie 2009 woon sy die Derde Winterskool vir Kreatiewe Skryfkuns by.

DIE GENOOTSKAP VAN REGTE AFRIKANERS (GRA)

In 2011 laat sy Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) wat in 1875 gestig is, op Facebook herleef. Sy neem ook deel aan die eerste “Festival voor het Afrikaans” wat in Junie 2011 in die Tropentheater in Amsterdam gehou is en ontvang as wenner van ‘n vertaalkompetisie die gesogte “Groot Woordenboek Afrikaans – Nederlands.”

INK

In 2020 gooi sy haar gewig in saam met Anzé Bezuidenhout vir die daarstel van hierdie belowende kompetisie en nuwe bloemlesingreeks, INKSPRAAK.

Haar groot liefde ten opsigte van die skone kunste is haar moedertaal, Afrikaans.

Ink Skryf in Afrikaans ( www.ink.org.za ) bied hierdie jaar ‘n digkompetisie aan waarvan die beste gedigte in ‘n spog bloemlesing, INKSPRAAK I, gepubliseer gaan word. Daarna word beoog om elke jaar verdere bloemlesings te publiseer. Die INKSPRAAK bloemlesing sal direk na die gala aand te koop aangebied word aan die digters en belangstellendes. (Prys […]

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed