Kattekwaad net duskant Keukenhof
Kattekwaad net duskant Keukenhof
Geskryf deur Fanus Strydom
2656 woorde
Nederland (of “Holland”, soos dit in ons volksmond bekendstaan) is ʼn baie klein landjie. Nie veel groter as die Krugerwildtuin nie en plat, baie plat!
Daarom bevind ek myself vierkantig in die saal van my gehuurde fiets en trap ek welgeluksalig my weg oop oor die sprokieslandskap om my en tussen klein, skilderagtige dorpies deur. Dit is my eerste oorsese reispoging en die begin van ʼn jarelange, oor-die-wêreld-heen gerondlopery met net ʼn rugsak op my rug, die klere aan my lyf en ʼn paar wandelhonger-stewels aan my voete. Die bietjie sakgeld wat ek aanvanklik bymekaar gespaar kon kry, het net-net betaal vir die vliegkaartjie hierheen en slaapplek in ʼn donker, onheilspellende agterstraat-jeughostel vir twee aande. Die sinistere plek was deurtrek met kokkerotte in die kaste en vreemde kreature in die gange met lewelose, leep-oë en naalde in hulle arms. En in elk geval is my slaapgeld vir die tweede aand reeds die eerste aand uit my rugsak gesteel en het ek geen ander keuse gehad as om die wye, plat wêreld om my te moes begin verken nie. Ek moes dringend werk kry, of omkom van die honger! Gelukkig was my pas-afgestudeerde Diploma in Tuinboukunde (volgens die advertensie teen die kennisgewingbord op Sentraal Stasie in Amsterdam), ʼn sekere paspoort na werk van een-of-ander aard iewers tussen die tulpe-landerye in Keukenhof se omgewing. Of dalk in die tuin self, as ek gelukkig is en my pad oopgepraat kan kry in my gebroke, Afrikaanse-Hollands!
Ek het vroeg vanoggend met “Hoe ry die Boere? Sit, sit so…!” in my kop weggetrek vanuit Amsterdam en die lang tog Keukenhof toe begin aanpak. Díe was ʼn klein kolletjie iewers in die Noorde van díe platland op die kaart wat ek haastig in die saalsak agter my boude ingeprop het. Ek wou voor son-onder my fiets staanmaak tussen die tulpe in Keukenhof en myself gereed kry vir my tussentydse, tydelike loopbaan as tulpe-plukker, -planter, of enige-iets dergeliks te doene met Tuinboukunde. Min het ek geweet watse avonture en ontberings nog op die pad vorentoe vir my sou lê en wag tussen die eindelose kanale en hier-en-daarse windmeulens in die oop velde om my…
Fietsry was nooit eintlik my sport van voorkeur nie, want die manne se skeefgestopte broekies was heeltemal te styf na my sin en hulle kaalgeskeerde bene het my altyd laat wonder of hulle met hulle vrouens, of meisies, moes kompeteer vir ʼn beurt met die “Lady Shick”-skeermes oor die bad se rant. Maar, ek moet erken, ek het baie gou besef dat my sak-agtige kniebroek met sy volgestopte sakke verseker ʼn paar onwelkome skaafplekke op ʼn paar ongemaklike plekke gaan agterlaat voordat ek vanaand by Keukenhof gaan aankom! Nieteenstaande het ek moedig oorgeslaan na “Hansie slim, berg wil klim…” en my kop voor-oor gegooi teen die ysige herfswindjie in. Kort voor lank het die krampe in my kuite en die dooie gevoel in my boude my gedwing om asem te skep en aftrekplek te soek in die dorpie “Vuuren”.
Daar het ek, terwyl ek hond-honger ʼn smullekker pannekoek met spek en stroop daarop verslind het wat ek met my laaste paar Gilders gekoop het (dit was voor die tyd van die Euro en nog die goeie, ou dae…) baie geleer oor my voorsate aan my Ma se kant; die Jansen Van Vuurens. Jan/Johannes was ʼn vername man in die klein dorpie Vuuren, in die Gelderlanddistrik, en die dorpie is na hom vernoem. Die benaming verwys volgens oorlewering na “Baken”, of “Ligdraer” (soos in “Vuurtoring”), want Jan was blykbaar ʼn inspirasie vir sy dorpsgenote tydens ʼn baie duister en bedroewige tyd in hulle geskiedenis. Ek het nie presies uitgevind wat die droewige omstandighede was nie, want ek moes weer aanstoot Noorde toe, maar ek was meteens intens trots op my “Jansen Van Vuuren”-van (aan my ma se kant) en het meteens besef hoekom ek lank gelede een aand, sonder rede of denke, uit die bloute besluit het om ʼn ligtoring op my linkerskouer te laat tatoeëer! En waar my e-pos adres: lightsoldier @xxxxxx.co.za so skielik by my opgekom het. Ek was ʼn direkte afstammeling van Jan-die Ligdraer-Van Vuuren en inderdaad ʼn ligsoldaat in eie reg in hierdie duister wêreld!
Ek het my seergetrapte bene met nuwe moed oor die fiets se dwarslat geswaai en skeef-skeef my sit gekry op die klipharde saal onder my sitvlak. Toe ek die Middeleeuse mure van Vuuren agter my sien verdwyn en vir oulaas die Gotiese geuwels van die Katedraal San Nicolás vaarwel toewuif, het ʼn nuwe liedjie meteens in my kop opgeduik:
“Ek’s ʼn dapper muis! Kyk hoe stap (wel ry) ek deur die huis en daar’s niiiiks waarvoor ek skrik nie!”
Anderkant die kanaal het ʼn paar verbaasde inwoners komieklik in my rigting gewaai van onder een van die reusagtige windmeulens bo hulle koppe. Holland het nog altyd ʼn verbete stryd gevoer teen die see en sy ontydige oorstromings en die windmeulens was ʼn gedugte wapen en teenvoeter vir die alewige bedreiging…
Toe die bleek sonnetjie uiteindelik tot sy reg kom en ʼn paar sweetdruppels op my Afrikaner-gewoond-aan-son voorkop laat uitslaan, sien ek die bordjie “Strijdom” op links wys tussen die kanale en grasgroen gragte in. Ek slaan briek en kap verwoed ʼn “brollie” in die sanderige pad onder my wiele. “Strijdom…?!” dit moet ek gaan sien! Gou verdwaal ek tussen swart-en-wit koeie, lui-lui aan’t wei tussen groen grasvelde en spierwit swane op donkerblou kanale… Die dorpie is piepklein met skaars ʼn paar huisies aan weerskante van die kobbelrige straatjie. By ʼn opelug-kafeetjie drink ʼn paar inwoners gelate koffie en luister ingedagte na ʼn straat-musikant. Ek stop om die toneel in te neem en te soek na my Kodak-kameratjie wat ek iewers, saam met die kaart, in die saalsak ingeprop het. Toe ek die ding nie raakgevat kry nie, verloor ek in die proses my balans en steier gat-oor-kop van my swaargelaaide fiets af reg voor die kafee-koffiedrinkers.
“Godverdomme…!” hoor ek ʼn tannie bekommerd iewers agter my roep. “ Gaat je wel goed? Ben je gewond…!?”
“Nee, dankie tannie!” sê ek bloedrooi gebloos en worstel verbete om myself onder my rugsak-belaaide fiets uit te wriemel. Die musiekman sit sy trekklavier haastig neer en kom aangedraf om my op te help.
“Waar komen je vandaan…?” wil hy by my weet, terwyl hy die swaar fiets van my gekneusde kniekoppe af optel.
“Vuuren…Amsterdam…” wys ek onseker in ʼn rigting iewers agter my na die koeie en die swane op die kanale in die verte.
“No…” slaan Musiekman oor na Engels. “I mean, where are you from? Your accent sounds weirdly familiar…!”
“Ahh!” lag ek verlig en stof my besmeerde bene af. “South Africa!” sê ek trots.
“Oh, dan ken je Mandela!” slaan hy opgewonde oor na Hollands.
“Wel…” soek ek versigtig na die regte woorde, maar voor ek nog iets kan sê, gryp hy die fiets onder my hande uit en sit dit teen die muur voor die kafeetjie neer.
“Komen!”
Hy kry my aan die arm beet en druk my by die kafeetjie se deur in. “We gaan koffie drinken!”
Ek probeer aan hom verduidelik dat ek in die pad moet val Keukenhof toe, want ek moet werk kry anders gaan ek vrek van die honger, maar hy wil niks weet nie.
“Nee nee, kom zitten. Wil je iets om te eten?”
Vir ʼn oomblik oorweeg ek dit om my goeie, Afrikaanse maniere voorop te stel, maar toe ek die borde vol watertand geregte, ham-en kaas brode en romerige poffertjies op die toonbank opmerk voor my, val my maniere en goeie intensies meteens plat in my leë, honger maag…
“Wel…” probeer ek nog een keer halfhartig verskoning maak, sonder om my oë van die stroperige kroketjes af te haal.
“Alie…!” roep Musiekman oor die toonbank en lui driftig die klokkie. “ Breng mijn vriend hier een lekker bord soep en zoʼn ham en kaasbrood!”
Hy wys na die bord op die toonbank voor hom.
“En twee koppen koffie…”
Dan trek hy ʼn stoel langs ʼn tafel teen die venster uit en beduie vir my om te kom sit.
Teen die tyd dat Alie die stomende bord aartappelsop en ham-en-kaasbrood voor my op die tafel neersit, het Peter reeds aan my verduidelik dat hy die eienaar van die kafee is en Alie sy vrou. Die trekklavierspelery was net vir die lekkerte…
“Alie…Fanus. Fanus, Alie!” stel hy my aan sy vroutjie voor en lig sy koppie in ʼn heildronk op ons nuwe vriendskap:
“Proost!”
Tussen mondevol sop en heerlike ham-en-kaasbrood lekkerte deur vertel ek hom van my karige kennis van Mandela, my wêreld-platloop drome en nee, daar loop níe regtig leeus in die strate van Suid-Afrika rond nie!
Toe hy asem skep van sy opgewonde uitvraery en ʼn slukkie koffie vat, gryp ek my kans aan.
“Vertelle my van dese dorpje, “Strijdom”…” waag ek so ewe om in sy eie taal met hom te probeer kommunikeer.
Hy lag gelate en begin vertel…
Soos wat hy aangaan besef ek al hoe meer en meer met groot verligting dat die naam “Strydom” hoegenaamd niks te make het met “dom”, of “stryerig” nie, inteendeel!
Na afloop van die Nazi-verwoesting tydens die tweede wêreld-oorlog het die mense op Vryheidsdag verslae en verstom by hulle platgeslaande bouval-huise uitgestroom en uitgelate in die dorpie se strate begin skree:
“De strijd is om….voorbij!!”
“Strijdom!” sê Peter ingenome en klap my op die skouer.
Meteens besef ek dat al die boelies op laerskool, die een of twee suurgatte op hoërskool, die korporaal in die weermag en my Grondkunde dosent op Technikon die kat heeltemal aan die stert beetgehad het! Ek was nie dom, of onnodig stryerig nie. Ek het altyd ʼn geldige argument gehad en was nooit skaam om op te staan daarvoor nie! En daar was hoegenaamd niks fout met my van nie, inteendeel…dit is ʼn van om op trots te wees!
My stryd was meteens inderdaad verby!
Ek sak gelate terug in my stoel en voel die vrede opstyg van my vol maag af…
Die tweede koppie koffie maak gou plek vir ʼn groot glas yskoue Heineken. En nog een…en nóg een.
Kort voor lank kuier ek en my ou vriend Peter hand op die bors met mekaar in wedersydse Afrikaanse-Hollands en Nederlandse-Afrikaans…
“Alietjie…!” roep hy kombuis se kant toe en vra teenoor my: “Ben je een roker…?”
“Verseker!” verseker ek hom. Dankbaar by die onthou dat my laaste pakkie sigarette ook gisteraand saam met my slaapgeld uit my rugsak verdwyn het.
“Ja, mijn man…?” kom staan Alie langs die tafel.
“Breng ons een mooie pijpje, alsjeblieft mijn liefste…” Hy slaan haar speels op die boud en knipoog vir my toe sy wegstap.
“Leuk hè?!”
Ek verstaan nie mooi wat hy bedoel nie en knipoog maar onseker terug. Sy was ʼn mooierige vrou ja, iewers dieperig in haar laat-dertigs, maar nou nie juis iets om té opgewonde oor te raak nie…en sy was sy vróú, after all!
Iewers in my dronkerige kop wil ʼn stemmetjie iets aan my fluister, maar ek ignoreer dit en vat nog ʼn sluk koue bier.
Alie kom terug met ʼn klein, koperpypie in haar mond en ʼn bordjie vol groenerige tabak. Sy kom sit saam met ons by die tafel en steek die pyp behendig aan met ʼn aansteker. Ek verstom my aan die vreemdheid daarvan, want waar ék vandaan kom het vrouens verseker nie pyp gerook nie! Sy teug egter behaaglik aan die rokende pyp en hou dit dan gemoedelik na my toe uit. Ek neem aan dat dit seker maar tradisie is in hulle kultuur en aanvaar gelate haar vriendskapsgebaar.
Toe ek die soet rook by my longe intrek, proe ek meteens dieselfde “aaptwak”-smaak wat John Roux een middag tussen klasse op Technikon aan my aangebied het. Ek kan nie veel onthou wat daardie dag daarna gebeur het nie, behalwe dat ek nie kon ophou lag vir die platgedrukte amoeba-agtige gedroggie in die oogstuk van my mikroskoop tydens ons Entomologie-klas later die middag nie…
Ek proes half-benoud en skud my kop om die walglike rook binne te hou. Ek was nie van plan om my gasheer en gasvrou in die gesig te vat in hulle eie land nie!
Teen die tyd dat die bier en die aaptwak hulle duiwelse werk in my kop gedoen het, verdwyn die vaal winterson reeds skelm-skelm agter die miswolke oorkant die kanaal. Ek probeer orent kom, maar val dan weer dronkerig terug in my stoel:
“Jislaaik…” prewel ek half deurmekaar en soek na iets in my gatsak…my hempsak. “…ek moet ry…Keukenhof…werk!”
Ek wys in die verkeerde rigting na waar ek dink ek onthou my fiets laas iewers teen ʼn muur gestaan het.
“Nee, je gaat nergens heen! Je slaapt bij ons vannacht…” druk Peter my ferm terug in my stoel.
Ek strompel hoenderkop agter hom en Alie teen die nou trappies op na hulle woonstelletjie bo die koffiewinkel.
“Hy’s reg…” dink ek half-deurmekaar. “…daar’s nie ʼn manier dat ek nou kan verder ry nie..” Meteens voel ek die moegheid swaar trek aan my jellie-bene en sit ek my hande teen die muur aan weerskante van die nou houttrap onder my.
“Kom…kom zitten!” klap Peter met sy hand langs hom op die bruin gestoffeerde rusbank langs hom toe ons by die klein sitkamertjie op die eerste verdieping instap. Ek sien dat daar nie ander sitplek is nie en sak dankbaar langs hom op die rusbank neer…bly om net ʼn mate van vastigheid onder my vinnig-tollende wêreld te voel.
Peter kyk onderlangs na my en lag skalks…sê iets teenoor Alie wat ek nie verstaan nie.
Sy kom sit langs my aan die ander kant van die bank.
“Wees niet verlegen…doe alsof je thuis bent…” fluister sy liefies en sit haar hand op my bo-been.
Ja, we zijn mos nu oude vriendin!” voel ek Peter se hand op my ander been.
Iewers ver in my kop hoor ek weer die stemmetjie iets uitgil, maar ek kan lankal nie meer hoor wat nie…
“Wat de hel gaan hier aan…?!” dink ek dronk-verbouereerd en probeer regop kom, maar my onderlyf wil nie lekker saamwerk nie.
Langs my voel ek Peter se hand oor my rug vryf…
“Godverdomme…!” hoor ek hom sê. “…dat verdomde ongedierte!”
“Wat…?!” draai ek benoud na hom, terwyl my kop twee sekondes agterna kom…
“Nee, sorry jongeman. Maar mijn vrouw heeft een groot, harig poesje!
Hy vryf verbete oor my rug en teen die bank agter my.
“Poesie…Poesie…!” lag Alie opgewonde langs my en roep na die slaapkamer se deur toe…
Tot vandag toe weet ek nog nie hoe ek so vinnig daar uitgekom het nie, maar ek het! Ek het halsoorkop en rigtingloos deur donker kanale en misbedekte grasvelde deurgeploeter opsoek na enige-iets wat vaagweg gelyk het na rigting-Keukenhof…
Uiteindelik het ek uitgeput tussen ʼn paar kouende vrieskoeie in die veld aan die slaap geraak met ʼn liedjie wat my ouma altyd geneurie het vaagweg in my deurmekaar kop:
“Heer waar dan heen? Tot U alleen…”
Douvoordag die volgende oggend het ek met rooi oë en ʼn kloppende babelaas-kop by die Keukenhof-bestuurder gepleit om vir my werk te gee. Enige werk, anders vrek ek in hierdie nat, plat land van die honger!
“Ahh, Mandela!” het hy opgewonde gesê en nie eers na my Tuinboukwalifikasies gekyk nie.
Nadat ek hom verseker het dat daar beslis níé leeus in Pretoria se strate ronddwaal nie kon ek uiteindelik dankbaar my moeë, uitgeputte lyf op die enkelbed in die studente-verblyfkwartiere neergooi.
Teen son-op die volgende môre sou my drie-maande tydelike werk as tulp-plukker by Keukenhof Kwekery begin…met genoeg geld om my nie net deur die honger te dra nie, maar ook om my volgende avontuur Duitlsland toe te finansier.
Vêr agter my, besef ek vandag, moes ʼn hulpvaardige straatmusikant en sy gasvrye vroutjie Alie, seker buite hulle klein koffiewinkeltjie in die dorpie Strijdom gestaan en kopkrap het oor die vreemde, onverklaarbare vrees wat die gawe, arme jong seun van Suid-Afrika gehad het vir harige katte…?!
©Fanus Strydom
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2023 OOP projek