Kinders van tegnologie
(Woordtelling : 1379)
Generasie Alpha. Die geslag gebore tussen 2010 en 2024, kinders van die tegnologiese eeu. Die benaming is die voorstelling van ʼn nuwe begin en om nie terug te keer na die ou gebruike of lewenswyses nie. Hierdie is die eerste generasie waarvan almal in die 21e eeu gebore is, met geen vrees om die nuutste iPad of selfoon te gebruik. Sukkel ouma met haar selfoon of rekenaar? Wink net die naaste vyf-jarige nader en hy sal dit gou-gou uitsorteer!
Hierdie generasie is ook die eerstes wat reeds van die oomblik van geboorte met tegnologie kennis sou maak. In plaas van ʼn fopspeen of die veiligheid van moederlike arms, is die televisie en selfone die moderne babawagter. Kleintjie is lastig want mamma moet aandag aan haar werk gee, so wat is nou makliker as om Wheels on a Bus, of Baby Shark nader te trek en baba vir die volgende uur of twee gelukkig te hou?
Generasie Alpha kan reeds ʼn selfoon gebruik nog voordat hulle in sinne kan praat en is loshande die mees tegnologies-vaardige geslag wat nog ooit gebore is. Voorskoolse kinders is dikwels beter om hul gunsteling speletjies en stories op die internet te vind as wat hulle weet hoe om die swaai met die heen-en-weer beweging van hul bene te laat swaai. Hulle kan ʼn foon “blaai”, maar weet nie hoe om die blaaie van ʼn tydskrif te laat verander nie.
Soos met enige ander ding in die lewe kan tegnologie ‘n euwel of ‘n aanwins wees. Wat gebeur met ‘n kind wat gedurende daardie belangrike vormingsjare moet leer hoe om op een been te staan en boom te klim en eerder sy oë vasgenael op ‘n skerm wil hou? Soms daag die kind by die skool op en het geen idee hoe om ʼn pen vas te hou nie, maar kan sonder ʼn probleem boodskap aan sy ma stuur. Tyd sal wel leer of hierdie geslag groot hoogtes gaan bereik, of dalk nie. Soms voel dit asof ons masjiene toelaat om vir ons te dink en daarom is ons breinkrag ongemaklik besig om te krimp!
Dit is dus ook nie ʼn verrassing dat kinders nie meer dieselfde aandagspan het as vorige geslagte nie. Hul gedagtes spring vinniger van die een projek of speletjie na die volgende een en dit is uitputtend om by hul vinnig-wisselende gedagtes by te hou. Hul woordeskat is beperk, kommunikasievaardighede is onder verdenking en dit lyk asof hul kreatiwiteit ook daaronder lei.
Al gebruik byna almal van ons tegnologie op een of ander manier, is dit maar ʼn klein persentasie wat die voor- en nadele van die digitale eeu van dag een af ervaar. Hulle is ʼn generasie wat die hele tyd gestimuleer wil word deur ʼn skerm in plaas van interaksie met ander lewende wesens. Hulle is tegnologies meer verbind met ander, maar het swakker verhoudings en is dikwels sosiaal wanaangepas.
Die Alpha generasie is ook die jongste generasie wat ʼn wêreldwye stilstand tydens die Covid-19 pandemie beleef het. In hul vormingsjare het hulle kennis gemaak met ʼn wêreld wat heeltemal tot stilstand gekom het en waar elke persoon op sy eie eilandjie moes woon. Skole was gesluit en hulle moes aanpas by ʼn lewe van afsondering en gepaardgaande Zoom klaskamers. Geen verjaardagpartytjies of sommer net ʼn lekker namiddag kuier by ʼn maat nie.
Hulle sal nooit ʼn wêreld ken waar jy in jou kar moet klim om ʼn video (wat is dit??) by ʼn video winkel te leen nie. Hoeveel van hierdie geslag het al in ‘n stampvol rolprentteater gesit? Dit is nou heelwat makliker om sommer ʼn rolprent met die druk van ʼn knoppie op jou selfoon af te laai. Jy hoef nie eens jou hare te kam en kontant saam te piekel nie. Jy hoef nie meer ordentlik aangetrek te wees wanneer jy Checkers toe moet gaan nie want jy bestel sommer jou inkopies deur ‘n toepassing op jou foon en dit word hopelik binne ‘n uur by die voordeur afgelewer. Gʼn lang rye om te wag vir ʼn beskikbare kassier nie.
In plaas van “teenagers” het ons nou “screenagers” en alles wat daarmee gepaardgaan. Generasie Alpha is gebore in dieselfde jaar toe die eerste iPad bekend gestel was, Instagram geskep was, en App die woord van die jaar was. Hulle het geen idee hoe om ʼn woord in die woordeboek na te slaan nie, of om hul straatadres op ʼn eenvoudige padkaart te vind nie. Die moderne huise is kleiner met minder pakplek, dus is boeke wat op ʼn iPad afgelaai word die natuurlike antwoord. CD’s is skielik nie meer beskikbaar nie? Geen probleem, ons laai musiek sommer van die internet af.
Dit is ook die eerste geslag wat glad nie weet hoe om kontant te gebruik nie. Hulle sukkel om hul sakgeld-begroting te laat klop want dit is baie makliker om direk uit jou bankrekening te spandeer as wat dit is om te sien hoe kontant minder word. Dit is ook die eerste geslag wat in ʼn era van Crypto geld gebore word.
Elke generasie is anders as enige ander wat voor hulle gebore is. Elke generasie wil dinge ook anders doen. Beter en makliker. Hierdie kinders se lewens is dus in ʼn groot mate baie makliker as enige vorige generasie s’n. As verbruiker is jou inkopies nie beperk tot wat die dorp se winkels aanbied nie, want hulle kan enige denkbare artikel van enige plek in die wêreld bestel. Jy het net ‘n bankkaart en ‘n paar werkende knoppies op jou selfoon nodig.
Die meeste van hulle sal nooit nodig hê om in ʼn gebou bymekaar te kom om antwoorde op ʼn eksamenvraestel met ʼn swart pen in te vul nie. Die manier waarop ons stem sal heel waarskynlik ook binnekort verander en sal dit eendag nie meer nodig wees om ure lank in ʼn lang ry te staan voor jy met die beskerming van ʼn lendelam kartondoos, jou kruisie op ʼn stuk papier te trek nie.
Tog is ons Alpha generasie nuuskierig, leergierig en hoogs intelligent. Dit is asof hulle alreeds van geboorte oor ingebore inligting beskik wat ouer generasies eers later in hul lewe met groot moeite moes aanleer. Hulle is verseker baie meer tegnologies gevorderd as enige ander generasie en het geen probleem om inligting binne sekondes te bekom nie. Sal so ʼn kind ooit die frustrasie en wonders leer ken van biblioteke en om inligting na te slaan vir ʼn skooltaak? Sal hulle ooit prentjies uit tydskrifte soek en knip om daardie skooltaak te versier?
Omdat hierdie kinders in ʼn splinternuwe omgewing gebore word, moet ouerleiding en die skool se leerplanne ook daarby aanpas. Ons kan bloot nie ons kinders opvoed soos wat ons dertig of vyftig jaar gelede grootgemaak was nie. Ons lewe in ʼn ander tyd, ʼn heeltemal ander wêreld as waaraan ons nog ooit blootgestel was. Die “vreemde oom” is ook nie meer daar buite op die straathoek nie, maar in jou kind se hand, en op die lessenaar waar hy sy huiswerk doen. As ons nie aanpas by ʼn ewig-veranderende wêreld nie, sal ons ook nooit ons kinders op ʼn sinvolle manier kan lei en opvoed nie. Ons sal bloot geen begrip vir hul uitdagings hê nie.
Maar tog ken hierdie kinders niks anders nie en dit kan ʼn wonderlike geleentheid wees, of dalk een waarin vetsug, angstigheid en depressie hoogty vier. Die mens se brein ontwikkel bloot net nie so vinnig soos die tegnologie nie. Maar maak nie ʼn fout nie, tegnologie is uiters verslawend en daarom is balans baie belangrik. Die kind moet aangemoedig word om buite te speel of aan ander aktiwiteite deel te neem soos om te verf of skaak te speel.
Die goue reël is dat ʼn kind slegs een uur per week voor ʼn skerm mag deurbring, vermenigvuldig met die hoeveelheid jare van die kind. ʼn Eenjarige baba sal dus nie meer as een uur skermtyd per week mag geniet nie, en ʼn vyfjarige vyf ure per week. En terwyl ek dit tik weet ek dat byna niemand dit só toepas nie want ons kleintjies kry byna oombliklik onttrekkingsimptome wanneer die skerm afgeskakel word.
Ja, ons uitdagings is groot en of die liewe Alpha’s se lewens makliker of moeiliker as gevolg daarvan sal wees, sal net die toekoms ons leer.
https://mccrindle.com.au/article/topic/generation-alpha/four-distinctives-of-generation-alpha/
https://mccrindle.com.au/article/topic/generation-alpha/generation-alphas-future-is-bright/
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir April 2024 - Uit die oog van 'n kind projek