Jongste aktiwiteit:

KINTA. Hoofstuk 3

Dag Een en ʼn half.

“Kinta is jy nog reg liefling, ek het iets in die donker ontdek en weet nie wat dit is nie,” sy reageer nie spontaan nie. “Ag nee!” hy weet nie meer so mooi in watter nagtelike rigting om te loop nie. Alles lyk vir hom nou dieselfde onder die sterrewag. Versigtig loop hy weer terug in die skrikwekkende nagtelike donkerte in. Die vlammetjie aan die stukkie hout is nie baie gewillig om van sy laaste tuiste verwyder te word nie, al sukkelend en lekkend wil die vlammetjie hom van die stukkie hout vervreem. “Nee vlammetjie jy kan dit nie nou aan my staan en doen nie! Ja, die natuur in die algemeen luister nie na die mensekind nie,” Ulrich skiet ʼn stille gebedjie na bo, “Heer help my om weer die plek te kry…” meteens sien hy iets langs ʼn half groen struik in die skamele vuurvlammetjie, hy kom al nader en ontdek iets daar vir die behoud vir die res van die nag.
“Kinta, Kinta!” in sy oorhaastigheid strompel hy oor ʼn stuk hout. Daar is geen reaksie van Kinta se kant af nie. Hy probeer sommetjies maak wie is nou die barmhartige samaritaan en hoekom het hy dit nie persoonlik in hul hande gegee nie, “Kinta, Kinta ek het iets ontdek, ek het iets ontdek!” alles is doodstil daar waar Ulrich vir Kinta gelos het. Daar maal oneindige gedagtes deur sy kop en hy tel so ver as wat hy terugloop hout op. “Kinta kan jy my hoor, ek het iets ontdek!” Ulrich steek in sy spore vas, hy sien dat sy op haar sy lê en weet nie wat om te verwag nie. Vinnig sit hy eers fyn houtjies op die warm as neer met die hoop dat dit vinnig sal vlam. Hy voel dat haar liggaam baie kouer is as wat hy die laaste keer gevoel het, “Kinta kan jy my hoor?” hy loer vinnig in die sak wat hy so pas ontdek het en vind daar warm klere in. Sy hande kan haar nie vinnig genoeg aantrek nie en hy druk haar styf teen sy lyf vas. Dan masseer hy haar hande en dan weer haar bene om die bloed te laat vloei, “Kinta my liefling, kan jy my hoor?” stadig is hier en daar ʼn lekkende vlammetjie wat aan die hout begin lek. Hy vroetel weer in die sak en vind water en iets om te eet, “Oupa jou derduiwel, ek dink tog Kinta was al die tyd reg gewees. Jy het die poets vir ons gebak. Kyk wat het nou hier staan en gebeur met haar, wil jy haar vernietig óf wil jy altwee van ons uit die weg ruim?” so tussen al die gesoek vind hy ʼn houer om water in warm te maak en so vind hy ook boeretroos in die sak. Hy besef meteens die woorde van sy oupa hoe om te oorleef in sulke omstandighede. Hy laat die koffie ʼn bietjie afkoel “Kinta, hier drink hierdie koffie, kom dit sal help om warm te word.” “Wat het gebeur, waar kry jy die koffie?” “Hier, eet ʼn stukkie van hierdie toebroodjie.” “Wat gaan aan, en die klere?”en dan probeer hy dat sy ʼn slukkie of twee neem. Langsamerhand kom Kinta by en wil weet wat het so pas gebeur, so deur te peusel aan die bietjie eetgoed in die sak.
“Sjuut Kinta, jy het rus nodig dan vertel ek jou later.” Kinta voel nie baie tevrede dat Ulrich haar so styf vasdruk nie. “Kom Kinta moet nou nie so steeks wees nie. Ons het mekaar nodig om vannag te oorleef.”
“Dis wat jy my wil wysmaak!” lusteloos sit sy net daar.
“Goeiste tog Kinta…”
“Ek het nou genoeg van al jou baaspellerigheid oor my en praat nie eens van jou dierbare oupatjie nie!” klap haar tong soos ʼn sweepslag.
“Óf dalk het ons verdwaal en hulle kon ons nie kry nie.”
“Vir wie wil jy nou staan en beskerm!”
“Ek sal toegee dat my oupa nie reg gemaak het nie, as dit hy was.”
“Spaar jou asem en los my uit,” probeer sy haar loswikkel.
“Met die asem spaar, stem ek volkome saam. So kan ek ʼn bietjie rus inkry vir môre se uitdagings,” so skrop hy vir hom ʼn lêplekkie vir die uur of twee voordat die Karooson sy kop gaan uitsteek. Daarenteen sit Kinta by die vuur en wag vir die dag om sy verskyning te maak om te sien waar sy haarself bevind. Sy wonder of Ulrich aan haar dink, skielik verlang sy na Ulrich se nabyheid, so half druipsterk gaan lê sy so naby as moontlik agter sy rug. Hy skrik uit sy droom wakker en wonder waarom en merk dat Kinta agter sy rug kom lê het. Hy sal wat wil gee om te weet waarom sy dit gedoen het. Hy het nie weer die res van die oggendure geslaap nie, daar’s nou te veel waarom’s en hoekom’s. Die môrestond in die Karoo begroet hom met ʼn ligte grou skynsel aan die hemelruim. Hier probeer hy luister na elke nagtelike insek se geluide wat wegsterf soos die dag al hoe helderder begin deurbreek. Kinta lê nog en slaap terwyl Ulrich die vuurtjie aan die gang kry om so ʼn bietjie koffie te maak, hy weet nie wat hulle gaan eet nie want daar was niks besonders in die sak gewees nie.
“Kom Kinta, ons moet regmaak om terug te gaan van waar ons gekom het, alhoewel ek nie hierdie geweste ken nie,” peinsend staar hy na die hemel om sy rigting te bepaal, maar niks maak vir hom sin nie.
“Ek bly net hier waar ek is!”
“In hemelsnaam kom nou, die Karoo kan ongenaakbaar wees teenoor diegene wat nie hierdie wêreld ken nie.”
“Hoor wie praat nou al weer!” teen haar sin slaan sy ook haar oë in die niet in.
“Kinta jy het grootgeword aan die sagte kant van die lewe.”
“Sê wie!” al te gereed vir nog ʼn woorde geveg.
“Hierdie is nie nou Kaapstad nie, Kinta,” probeer hy dit vir haar wysmaak.
“Dalk het ek aan albei kante van die lewe grootgeword.” Meteens sien Ulrich ʼn beweging in die bos, “verskoon my vir ʼn oomblik, Kinta. Ek het ʼn nood wat skrik vir niks, ek is nou terug. Sy is so ietwat verlig dat hy haar nou los, maar is tog ook agterdagtig of Ulrich haar hier gaan los.
“Aha wat sien ek hier, is dit nie die Grootbaas se voorslag nie?”
“Ja kleinbaas, dis ek Gatiep,” nou weet hy nie aldag wat om nou te sê nie.
“Gatiep kom vat ons terug na die opstal toe.”
“Kleinbaas en kleinnooi Kinta, ek Gatiep mag van nou af nie meer met kleinbaas praat nie,” hy sê dit op ʼn baie nederige stemtoon en vermy Ulrich se oë..
“Hoe so Gatiep en hoekom is jy dan hier?” verbaas staar hy na Gatiep.
“Hierdie is die Grootbaas se bevel!” nou weet hy rêrig nie meer waar om te kyk nie.
“Gatiep, sê my nog een ding; waarom het my oupa so gedoen?” en hy kyk hom berispend aan.
“Auk, al wat ek weet is dat julle twee, jul eie weg terug moet vind na die opstal, kleinbaas,” nog steeds vermy hy oë kontak.
“Hier is nie eers iets om in te slaap nie en nog minder kos om te eet!” probeer Ulrich sy stem onderdruk dat Kinta nie moet weet dat hy nou met Gatiep praat nie.
“Auk my kleinbaas ek weet…”
“Gatiep het my oupa enige kos vir jou gegee vir ons?”
“Hierdie is nou my laaste woorde en dit is al wat die Grootbaas vir julle twee gelos het.” Ulrich inspekteur die verrassingspakkie en vind net genoeg padkos vir die helfte van die dag en twee liter water. Terwyl Ulrich met gretigheid die verrassingspakkie ondersoek, “Gatiep maar hierdie is nie genoeg kos vir…” hoe kon Gatiep soos mis voor die son verdwyn, “jou uitgeslape boesmanskind,” so neem hy afskeid van hierdie geheimsinnige boesmanskind.
“Kinta, kyk wat kry ek hier in die bos!” en weet nie met reg hoe om dit aan haar mee te deel nie.
“Waar kry jy nou so skielik die kos vandaan?” en kyk hom agterdogtig aan.
“Dis ʼn goeie vraag wat jy vra, ek sal ook graag wil weet,” hy besef meteens dat hy nie oortuigend genoeg spek geskiet het nie, daarvoor ken sy hom te goed.
“Ek verafsku jou oupa, miskien het julle twee dit so beplan!” woedend staan sy daar met haar arms gevou.
“Dis nie nou tyd om so op te tree nie. Kom ons probeer iets hieruit leer,” staan hy nader om haar ʼn drukkie te gee.
“So dan het ek dit reg…”
“Wat het jy reg?” stadig tree hy nader om haar vas te hou.
“Soos altyd ʼn fantastiese manipuleerder, dis al wat ek vir jou wil sê!” klap haar tong soos ʼn sweepslag.
“Noem my wat jy wil!”
“Bly tog net stil en spaar jou asem,” dan rol sy haar oë in die ronde.
“Goed soos jy verkies, Kinta!”




4 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed