Jongste aktiwiteit:

KINTA. Hoofstuk 4

Dag Twee.

Dag twee begin nie so goed na ʼn skrale ontbyt nie, die veggees is so effe gedemp na ʼn hewige rusie, maar dis geen waarborg vir ʼn vredesverdrag tussen hierdie eens perfekte paartjie nie. Kinta is steeks soos ʼn jerusalemmer om ʼn voet te versit.
“Kinta ons sal aanstaltes moet maak, ons kan nie vir ewig hier vir beter dae sit en wag nie?”
“Jou oupa het ons hier gelos en hier gaan hy ons weer optel!” voordat hy besef, het sy haar plat op haar twee boude gaan neerplak.
“Kom ons probeer weer die brokstukkies van die verlede verbind,” maar hy ken vir Kinta te goed dat sy bes gaan gee.
“Ek wil by jou weet, hoe weet oupa van ons probleem?” vra sy al snikkend en half onhoorbaar.
“Al ʼn geruime tyd het oupa opgemerk dat iets tussen ons nie meer pluis is nie.”
“Ulrich dis iets wat jy uit jou duim suig,” wys sy so ewe.
“Nee, wanneer laas het ons vir hulle kom kuier op die plaas?”
“Hoe sal ek nou weet?” omklem haar hande haar gesig met die wete dat Ulrich nou ʼn seer puntjie aangeroer het.
“Ja soos ek al gesê het; ons het geweet dat dit die een of ander stadium op die lappe sou kom, Kinta,” stip staar Ulrich na Kinta se kant toe en dan rig hy sy blik weer na bo.
“Jy weet wat ek al vir jou gesê het!…” plof daar ʼn verdwaalde traan na benede.
“Maar onthou, dit is nie net bedoel vir ons twee nie. Ons moet die perfekte situasie vind wat ons kriteria van nou af gaan wees, om onsself en die kinders die beste kans op sukses te gee in die lewe,” hy probeer alles in sy vermoë om so kalm as moontlik te bly.
“Dis altyd net die kinders en jy,” haar hart wat die verdriet nie meer kan weerstaan nie.
“Eerste van alles, ons moet weet wat die beste manier is om die skuif te maak om die probleme te identifiseer, wat die groot skaalse onrus in ons lewe veroorsaak het,” kom sy woorde met gevoel om te red wat daar te rede is. Hy pak die bietjie goed wat hulle het in ʼn sak en stadig maar seker loop die twee om te kyk of daar ʼn ontsnappingsroete is, om uit hierdie Karoo hel te kom. Die son het klaar sy strale wyd en syd gesprei, die lug is droog en warm en dit dat die son nog nie eers halfpad gevorder het vir die dag nie.
“Ek weet nie meer wat wil jy nog red nie!” onwillig verwissel sy haar voetegang na gelang van die energie.
“Jy is besig om altwee van ons lewens te vernietig, Kinta.”
“Jy het dit alreeds klaar gedoen,Ulrich!” kom die teen reaksie met ʼn ietwat ongemak na vore.
“Genugtig Kinta jy met jou eie verdraaide waarde oor die lewe,” kom die woorde so ietwat kras voor.
“Nou is ek weer die skuldige!” aan die anderkant voel Kinta dat sy so effe uitasem is.
“Ek weet dat ek nie perfek is nie en ek praat nie oor die klein kort termyn hindernis wat niks beteken nie.”
“Verduidelik dan vir my wat soek jy in die lewe!” vee sy oor haar voorkop om te dink dat sy die hoofpyn net so kan wegvee.
“Die meeste huweliksmaats ‘inkluis ons’ het geen benul oor enige van hierdie liefdesprobleme wanneer dit kom by familiesbesluite nie. Die meeste van ons is nie bewus daarvan dat die huweliksiklus, soos ʼn padkaart is wat lei tot enorme uitdagings,” hy voel so effe verlig nadat hy klaar gepraat het.
“Uitdagings sê jy!” met ʼn verdedigende stem.
“Hierdie tipiese onweersiklusse in ons lewe wat so ongevraagd na vore kom en op ons nekke kom lê. Hoeveel van ons sien dit vroeg genoeg om dit te vermy… en weet nie hoe om dit te ontgin tot sukses nie,” daar sit hy vir ʼn wyle en skop sy voete so effe na vore.
“Hoe sê die slim mense; elke haan kraai op sy eie hopie mis, Ulrich.”
“Teen hierdie tyd wonder jy waarskynlik hoe om hierdie onweersiklusse te identifiseer en wat is die oplossing wanneer dit geïdentifiseer is?” hy probeer alles in sy vermoë om vir Kinta te oortuig.
“Ek luister na jou slim idees,” nou lyk sy na alles behalwe om haar te laat oortuig.
“Dit bring my by die volgende punt …”
“Ek dink dat jy nog nie een keer probeer het om na my te luister nie,” staan sy nog al die tyd om haar standpunt te verweer.
“Goed Kinta, ek gee jou tyd om die woord te spreek,” hy draai die waterbottel oop om ʼn sluk te neem en dan gee hy dit vir haar om ook te drink.
“Eerstens Ulrich, jy moet die liefde verstaan wat in elke vrou verskuil lê. En ook weet dat as jy jou tyd nie reg gebruik nie, kan jy vinnig ʼn paar bloutjies op die hals haal, een uur op ʼn dag is nie ʼn gesonde basis…” sy voel dat sy nou die eerste keer tot haar man deurdring.
“Goed, ons het ʼn baie goeie idee van watter deel van ons probleem ons nou hier te make het.”
“Nou is dit tyd om so ʼn bietjie na ons probleem te kyk…” sy neem die bottel en sluk ʼn paar teue af, stadig draai sy dit weer toe.
“Gaan voort Kinta, ek luister,” Ulrich wil haar in die rede val dan wys sy net ʼn vinger.
“Ek is soos ʼn ui met lae en lae opmekaar, nooit is ek gevind deur jou en jy was nie bereid gewees om dit laag vir laag af te skil om die perfekte in my te vind nie,” sy wys hom hoe om ui af te skil.
Onverwags snak hy na sy asem toe hy hierdie woorde hoor. “Wow,Uie laat ook ʼn mens se oë traan. Is dit nou uit hartseer of uit pure geluk wat die liefde moet laat blom,” hy demostreer hoe uie se sproei ʼn mens se oë kan laat traan.
“Ek is lus en gooi jou met ʼn klip!” sy maak asof sy ʼn klip wil optel maar die krag om dit op te tel is nie meer nie in staat tot enige iets nie.
“Goed goed… ek gee jou die krediet vir hierdie een,” hy lek sy lippe om dit te bevogtig maar daar is nie veel verligting nie.
“Daar is geen beter manier om hierdie liefdespel te speel in die liefdeswêreld nie.”
“Vandag leer jy my iets wat ek nie geweet het nie,” probeer hy haar oë opsoek maar sy vermy hom met opset. Die twee besef, as daar nie daadwerklik ʼn poging aangewend gaan word om verder aan te beweeg nie gaan dit hulle twee niks in die sak bring nie. Maar hierdie Karooson het iets ingemeen met hierdie twee en hulle sal met tyd uitvind hoe die twee verder oor die weg moet kom. Ulrich ken die natuur, sy oupa het hom goed geleer hoe om in sulke omstandighede kop te hou, maar soms begin hy twyfel of hy die opstal gaan vind. Hierdie gedeelte van die Karoo met sy ruwe rantjies sit hom so ʼn bietjie ore aan.
“Ulrich daar is iets wat my nog altyd van jou gepla het,” die woorde kom nie so vloeiend na vore. Die tong lê horing droog teen haar verhemelte.
“En wat is dit, Kinta,” hy weet nie so mooi wat sy nou gaan vra nie.
“Jy het vir my gesê…”
“Soos wat, ons het al baie gepraat, is dit goeie nuus óf…”
“Ja soos… ‘Kinta jy het grootgeword aan die sagte kant van die lewe.’ Maar nog steeds kyk sy hom nie in die oë nie.
“Dis reg ja.”
“Hierdie ou Kaapstad nooitjie, ‘Kinta’ moet jy versigtig voor wees,” venynig kom die woorde na vore.
“Wat probeer jy sê,” met ʼn frons op sy voorkop.
“Dalk het ek aan albei kante van die lewe grootgeword, dis al wat ek nog wil sê,” die bene is nie meer so gewillig soos vroeër die oggend nie.
“Ek verstaan nie so mooi nie, Kinta,” hy probeer ʼn lastige vlieg wegjaag maar dis verniet.
“Goed, onthou jy wat jy gesê het van jou skooldae af.”
“Ek het geen geheim van my lewe gemaak nie,” meteens steek hy in sy spore vas om te hoor wat sy nou gaan sê.
“Presies!”
“Kom tot die punt…”
“Die punt is; jy praat nie die waarheid nie,” hygend staan sy ook na hom kyk.
“Wat verwag jy nog van my!” albei se lywe is taai van die dag se stap, maar daar’s amper geen water om die liggaam af te koel nie.
“Hier wandel ek onder die skadus van jou geheimsinnigheid,” Kinta het gedink dat sy vir Ulrich ken, maar sy het al dae lank begin twyfel oor sy lewe, maar…
“Goed, ons twee se lewens was tot hier vol verrassings.”
“Br-r-r-rr maar jy maak my gek,” met moeite vee sy met haar arm oor haar voorkop.
“Ongenooide gedagtes wat nes wil kom skrop, waar dit jou brein kom ontstig, Kinta.”
“Dis seker nou ʼn kwessie hoe ons dit gaan verwerk,” en so toets sy weer Ulrich se geduld.
“Sukses lê in elkeen van ons twee se hande en wat ons daarmee gaan maak…” dan wys hy weer in die rigting wat hulle twee inslaan.
“En hoe wil jy dit in sukses transformeer?” wys sy ook in dieselfde rigting.
“Hier in die wildernis is dit nou ʼn goue geleentheid,” so drentel die twee op ʼn slakkepas voort, die bene is nie meer so gewillig nie.
“Sê jy!”
“Ja!”
“Gaan vlieg,” wys sy met haar hand dat sy ernstig is.
“Niemand gaan ons twee pla nie, dalk net die lastige vlieë wat so in ʼn mens se neus wil opkruip,” dan klap waai hy weer vir ʼn vale.
“So dan het jy dit beplan…” sis sy die woorde uit haar droë mond.
“Dis wat jy sê, liefie,” en terg haar so ʼn bietjie.
“Probeer jy nou witvoetjie soek, of wat is dit nou met jou,” kom dit so half verergd.
“Hier gaan ek en jy leer om te oorleef,” min weet hy wat in haar gedagtes aangaan.
“Nie saam met jou nie,” sy het ook haar verskuilde agenda.
“Hoekom nie liefie,” weer probeer hy om haar hand te vat, maar alles is tevergeefs.
“Ek sal op my eie regkom, dankie.” Die lug is baie warm om in te asem, albei hulle twee is nie meer so spraaksaam nie. Ulrich besef al hoe meer dat Kinta baie ernstig is om te wil skei. Hy het gedink dis net tydelik van aard.
“Kinta waaraan dink jy?” maar sy reageer nie op sy vraag nie, “Goed as dit is hoe jy wil optree…” en so hou hy hom besig met sy eie gedagtes en die sonbesies wat tot in vervelens toe in die ore skreeu. Hy besef dat hy iets te ete moet vind. Daar was nie veel sprake van kos om oor huis toe te skryf nie en ook geen geluk om iets te vang vir die honger nie. Daar is ook nie veel water oor nie. Dit is al baie laat agtermiddag en die son steek nog net so asof dit twaalfuur in die middag is. Ulrich ken die Karoo dat dit ongenaakbaar kan raak gedurende die nag en wil nie weer so onkant gevang word soos gister nie. Vroeg slaan hy vir hulle twee ʼn skuiling aanmekaar.
“Kinta wil jy nie vir ons gaan hout soek vir die nag nie?”
“Ek maak so,” so is sy daar weg om te kyk hoeveel hout sy bymekaar kan maak. Hier vind sy so effens vryheid waar haar gedagtes onwillekeurig by haar kinders is. Daar by haar ma word die kleingoed bederf. Sy sien in haar verbeelding hoe pa stories aan hulle vertel. Moeisaam dra sy aan die vrag hout en so is sy weer terug om nog te gaan soek. “Wat sal dit nou wees?” dink sy by haarself, versigtig stel sy ondersoek in, “hier is geen beskawing nie,” flits dit deur haar gedagtes. Sy voel nie op haar gemak nie, “iets is aan die broei en ek weet nie wat om te dink nie. Wie hou ons dop?” wonder sy. Sy stap terug daar waar hulle sal vernag en probeer so natuurlik as moontlik optree. Intussen is die tydelike skuiling klaar aanmekaar geslaan. Vanaand is dit die tweede keer waar Kinta onder die blote sterre-kombers gaan slaap in haar lewe.
“Kinta ek dink dat jy vir ons gaan vuurmaak.”
“En hoekom nogal?”
“Sodat ons mekaar beter sal probeer verstaan,” hy hoop dat sy plan sal werk.
“Op een voorwaarde dat jy jou neus hier gaan uithou!” sy probeer alles in haar vermoë om die vuurtjies aan die gang te kry, maar tevergeefs.
“Kinta kom jy reg?”
“Ja ek kom reg óf wil jy my leer hoe om vuur te maak, ek’s mos ʼn stadsmeisie en weet nie hoe om te oorleef sonder jou nie,” heel vermakerig kom lê die woorde in sy ore.
“Ek vra net, dis al,” hy wil nie pertinent na haar kant toe kyk nie en kry haar bitter jammer. Oupa Hubert het gesorg dat die twee nie vuurhoutjies saamdra nie, alhoewel nie een van die twee rook nie, ken hy tog sy kleinseun te goed, want Ulrich het onder sy oupa se hand grootgeword en is onderrig in die fynere puntjies van die lewe.
“Kinta, waar kom hierdie sak vandaan?”
“Ek moet dit vir jou vra,” verergd skop sy na die sak se kant toe.
“Vir my, ek was dan besig om vir ons ʼn skuiling te bou,” weer probeer hy haar oë opsoek, maar alles is tevergeefs.
“Dalk was dit die voorsienigheid…”
“Moet nie die gek skeer nie.”
“Ja, van waar sal dit anders vandaan kom…”
“Kinta, miskien het jy en oupa dit gereël.” So speel die twee mekaar af wie is nou die skuldige een, waar hulle vasgevang sit hier in die bloedige Karoo-hel.
“Hoe meer ek nou saam met jou hier is, hoe meer besef ek net elke keer dit was die grootste fout wat ek in my lewe gemaak het om met jou te trou,” van voor af kook haar bloed van woede en stap sy die voorlaaste skemering se sluier tegemoet vir ʼn ander hand vol droë gras. Nog voordat sy besef is sy midde in die stikdonker ingesluk. Meteens hoor sy ʼn ritseling in die donkerte, maar kan niks sien nie. Angs omklem haar hart en wil by haar keel uitklim, sy kry skaars asemgehaal, dan is dit net weer so stil asof niks gebeur het nie. Sy verbeel haar dat sy iets ruik en sal haar kop op ʼn blok neersit dat dit Gatiep moet wees. Onverwags hoor Ulrich vir Kinta, dis nagdonker tussen die twee, sy het nie die vuur aan die brand kon kry nie.




4 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed