KINTA. Hoofstuk 9
Dag Ses.
Tevrede staan sy op om die dag se onheilspellende gevolge te trotseer. Aan die môrestond se vêrre horison, hang ʼn bloedrooi son, soos ʼn bloederige pasgeslagte beesblaas, wat uit die nag geval het. Sy wil haar gaan lawe in die bergstroom, maar sien nie kans vir die yskoue water nie. “Die keer is hier genoeg om ons honger en dors te stil Ulrich.”
“Die keer was ek gelukkig gewees, ons moet matigheid voor oë hou, ons weet nie wanneer ons weer so gelukkig gaan wees om ʼn paar kwartels in die hande te kry nie.”
“Maar intussen gaan ek eet vir wat ek so honger gely het.”
“Kom Kinta, as ons twee nie uit hierdie Karoo-hel gaan kom nie, glo ek dat daar nie ʼn kans is om te oorleef in ons onstuimige lewenswyse nie,” so kry hy die bietjie goed bymekaar waaraan die twee tot dusver verknog geraak het.
Goed ek kom!”
“Waar ons twee weer gaan probeer om ons huwelik te maak werk,” so haak sy by hom in, maar alles is nog nie uitgepluis nie.
“Ek moet jou iets vertel,” vol selfvertroue wil hy die bul by die horings pak.
“Ja, wat is dit, ek luister!”
“Dit gaan nie so maklik wees nie,” beskaamd kyk hy na haar met ʼn frons op sy voorkop.
“Moet dit dan nie sê nie,” haar gemoed voel nog steeds onverpoosd verbitterd.
“Ek moet dit van my gemoed afkry Kinta,” maar hy weet nie hoe om haar te benader nie.
“Sjjjh, kom ons kyk eerder na die maan wat helder oordag sy gesig vir ons kom wys.” Waar die gevormde rotsformasie van die vallei aftuimel in ʼn wildernis van ongerepte natuurskoon, waar die kristalhelder bergstrome hul weg baan na die onbekende weë van die oseaan.
“Ons moet praat anders gaan dit nie uitwerk nie!” so beur die twee voort oor hierdie ruwe rotsformasies al langs die bergrivier.
“Oor wat wil jy hê moet ons praat?” die twee kan mekaar skaars hoor, vanweë die magtige gebrul van die kolkende tuimelende waters wat snel oor die ruwe rivierbedding vloei.
“Oor jou en hoe jy voel, dis vir my belangrik,”so pols hy haar om te praat.
“Nou maar goed. Daar in die donkerte van my eie skadus, vind ek my innerlike aan flarde verskeur,” blitsig kyk sy weer na hom.
“Kinta, waar is jou eens liefdesteerheid wat geen perke geken het nie?”
“Weet jy rêrig hoe broos kan ʼn vrou se gemoed raak…?”
“Ek het nog nooit so daaraan gedink nie.”
“Ja mans wil nooit daaraan dink nie,” algaande vernou die kloof sonder dat die twee besef dat hulle nou geen ander keuse het as om in die ysige water in te klim om deur die nou poort te gaan.
“Ek was nou eerlik met jou gewees,” hy probeer hom verontskuldig, die twee staan vir ʼn wyle om te sien of daar nie wel ʼn ander uitweg is nie.
“Kom sê vir my wat is eerlikheid!”
“Nou goed Kinta, jy wat jouself toegelaat het dat hierdie dinge oor ons koppe kom hang het!” so bars die bom weer tussen hierdie twee.
“Wat bedoel jy nou hiermee?”
“Net wat ek sê, Kinta.”
“Ek dink nie jy is rêrig ernstig nie!”
“Goed, van nou af gaan ons so ietsie anders in ons lewe maak!”
“Soos wat?”
“Nie een van ons twee het iets gereël vir die verrassing en vir veranderinge in ons lewe nie,” So hou hy haar reaksie dop.
“Kom laat ek raai!”
“Miskien is dit die perfekte tyd om op te vang wat ons langs die lewensweg gemis het Kinta! Daar is blykbaar geen ander uitweg hier nie.”
“Dit kan ek wel sien!”
“Dit beteken dat ons twee hier deur die waters moet gaan,” hy trotseer die water en wil niks sê nie.
“Jy weet dat ek nie kan swem nie,” protesteer sy.
“Wel daar’s altyd ʼn eerste keer om te probeer,” gewillig steek hy sy hand uit na haar.
“Jy kry my nie in hierdie water nie!”
“Wel jy het een van twee keuse en jy weet wat ek bedoel,” en hou sy hand nog steeds na haar uitgereik.
“Al ewig is dit so, hierdie vervlakse keuses van jou. Skroeiend brand jou woorde teen my brose hart,” venynig kom lê haar woorde op Ulrich se ore.
“Dit smaak my nou óf moet ek sê; dat jou liefde al hoe meer soos biltong begin lyk. Soms smag jy daarna en soms is dit so taai dat jy dit nie wil hê nie,” so probeer hy ook sy mes inkry.
“Ja, meedoënloos verskreeu ek jou in my eensaamheid,”
“Ja Kinta, onverpoos beur ek mee teen jou onwrikbare toegee, gaan jy my toelaat dat ek jou help of het jy ʼn ander plan,” stadig maar seker word die dag al langer.
“Weet jy hoe voel dit wanneer jou oë so kneusend op my gelaat kom lê?” so probeer sy hom wys wat sy probeer sê.
“Ja Kinta, albei van ons twee het nie die ondervinding om met hierdie geveg voort te gaan nie. Ons albei gaan verloor in hierdie geveg.”
“Miskien is jy reg,” so staar sy na die vloei van die water en besef dat dit nooit weer oor hierdie selfde plek sal kom nie.
“Kom Kinta vertrou my,” sy voete wil begin kramp vir al die tyd wat hy staan en wag dat sy tot aksie oorgaan.
“Ek kom en jy belowe my dat jy nie my hand sal los nie,” huiwerig staan sy nader om die water te trotseer.
“Ek kan nie belowe wat ek nie weet of ek dit wel sal kan doen nie,” probeer hy haar verseker.
“Dan gaan ek nie kom nie.”
“Ai Kinta, wat wil jy hê moet ek sê.”
“Dis jou probleem.”
“Goed ek sal alles in my vermoë doen om jou te help, as dit jou tevrede sal stel,” hy besef as sy nie gou maak nie, gaan hulle dit dalk nie maak nie.
“Goed ek kom,” haar liggaam ril van die ysige bergwater.
Soos blits gryp Ulrich haar hand en trek haar in die water dat sy nie kan terugdraai nie, “kom Kinta dit is nou of nooit.”
“Dis vrek koud, ek gaan verkluim in hierdie water!” voordat sy behoorlik in die water is, klap haar tande opmekaar.
“Kom daar’s nie nou tyd om terug te draai nie.”
“Ek gaan verkluim in hierdie water en dit gaan jou skuld wees,” haar hele lyf ruk van die koue. Voordat sy nog klaar gepraat het, gebeur daar die ergste ding in haar lewe, “Ulrich… Ulrich jy kan dit nie nou aan my staan en doen nie,” sy besef dat sy nou op haar eie aangewese is. Meteens trek Ulrich se linkerkuit op ʼn knop en hy brul soos ʼn leeu van die pyn wat opskiet tot wie weet waar.
“Kinta jy moet deurdruk ek kom!” skaars kan die twee mekaar hoor as gevolg van die waters wat al hoe vinniger begin vloei.
“Ulrich ek kan nie swem nie!”
“Kinta dis nie nou tyd vir grappies nie!”
“Ek gaan verdrink, die water is te koud!” voordat hy weer besef sien hy dat sy besig is om onder die water te verdwyn.
“Kinta, Kinta wat doen jy nou!” hy besef dat hy ook nie in ʼn veel beter posisie is nie.
“Ulrich, Ulrich kom help… kom help… kom help my,” sy word voortgesleep deur die sterk vloei van die bergstroom, waar sy so nou en dan weer kan asem skep as haar kop weer bo die kristalhelderwater uitsteek.
“Kinta ek kom so gou as moontlik,” hy maak sy berekenings dat hier vandag iets gaan gebeur wat hulle nie in berekening gehou het nie. Hy probeer alles in sy vermoë om by Kinta uit te kom.
“Help my… help my,” kom haar stemmetjie al flouer deur, so tussen al die gesluk van die water,” skielik bedaar die snelle vloei van die rivier en dit gee vir Ulrich genoeg tyd om by haar uit te kom.
“Kinta, Kinta is jy nog reg?” hy gryp haar aan die arm en beur haar orent. Hy sien dat die rivier weer breër is as vroeër en maak vir die rivierbedding om uit hierdie panarie uit te kom. Hy trek haar uit en los net die nodige klere aan haar lyf dat sy nie moet verkluim nie. Daarna doen hy ook dieselfde, “Kinta jy moet probeer rondloop dat die bloed deur jou are kan vloei. Ek gaan so gou as moontlik ʼn vuur aansteek,” so is hy daar weg om so gou as moontlik ʼn paar houtjies bymekaar te maak.
“Kinta jy moet aan die beweeg bly!”
“Wie sê daar is nie dalk iemand wat ons dophou nie?”
“Dis sy oë wat gaan seerkry en ek glo nie daar’s iemand hier naby nie,”
“O jy darem Ulrich, jy’s altyd reg met ʼn antwoord,” sy is te dankbaar dat sy uit hierdie vriesende koue water is.
“Kom vuurtjie… dis nie nou die tyd om hardnekkig te wees nie!”
“Jy moet gou maak ek kry koud,” sy probeer haar lyf warm vryf, maar dis alles tevergeefs.
“Ek het dit nie so bedoel nie, Kinta. Kom dan sit jy hier, die vuurtjie sal nou vinnig bykom.
“Ek het dit ook nie so bedoel nie. Teen minste het jy nie jou humorsin verloor nie,” sy kom sit so naby as moontlik teen die vuur om haar warm te maak.
“Dankie vir die kompliment. Ek is jammer oor wat so pas gebeur het.”
“Dis nou verby,” skielik is die twee in mekaar se arms van dankbaarheid. Spontaan kom die omhelsing en eens se liefkosing…
“Kinta ek moet sê dat ek opreg trots is op jou,” so vind die twee se oë mekaar.
“Wat ʼn onvergeetlike ervaring,” stadig en geleidelik gly haar wysvinger oor sy bors.
“Dit kan jy weer ʼn keer sê,” hy geniet elke oomblik van haar nabyheid en soek ook haar lyf op.
“Ek moet sê jy is nie meer dieselfde mens nie, Ulrich,” sy kan nie naby genoeg aan hom kom nie.
“Ons weet weer waar om ons geluk te ontdek, ons het dit wat ander nie het nie. Gelukkig kon ons dit betyds stop en so ons huwelik red voordat dit die kranse afgestort het.”
“Ek is so bly dat jy deurgedruk het met my,” haar lippe soek syne op.
“Ons weet ook wat die nadeel sou wees en die belangrikste van alles, is om ʼn sukses van ons huwelik te maak. Kom ons vergeet van die verlede en bepaal ons gedagtes by die ortodokse idees Kinta,” hy verstout hom en knibbel in haar nek en dan weer aan haar oor. Met oorgawe gaan lê sy en laat hom toe.
“Ai Ulrich, ek is so lief vir jou.”
“Nou weet ek, nie een van ons twee is perfek nie. Dit is iets wat baie mense nie oor wil praat nie, omdat diesulkes net nie weet hoe om die tere punte van ʼn huwelik te verbind wat besig is om aan flarde te spat nie.”
“Ja, hierdie geleentheid wat jou oupa ons nou bied sal wonders aan ons geluk doen.”
“Wanneer ons twee hierdeur is, sal ons presies weet hoe om ʼn paar soene in honderde gelukkige oomblik te laat draai óf selfs in duisende of selfs miljoene… ja, in minder as ʼn ommesientjie.”
“Ja, dis omtrent in ʼn ommesientjie, dit het ons ses volle dae gekos om dit weer opnuut te herontdek, Ulrich.”
“Al wat ons nou moet doen is om te vra of ons werklik gereed is vir ʼn unieke strategie en manier waarop ons vir ewig in sal belê en nie weer sal verander nie? Of is ons tevrede met dieselfde manier waarop die meeste van die ‘amateur verliefdes’ voortgaan.”
“Ek dink dat ons mekaar weer gevind het,” weer soek sy Ulrich se oë op en soen dit met ʼn passie.
4 Kommentare
-
-
Anze
Ag ek is bly dat hulle deur die ergste is, kom ons hoop en bid dat dit gaan hou!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Arnold ek weet nie of ek dit al vir jou genoem het nie maar n oop lyn tussen paragrawe vergemaklik die lees baie. jy het n treffer verhaal hier