Klere by die boomwinkel
Klere by die boomwinkel en regterhande
In Dar es Salaam is daar nie veel klerewinkels beskikbaar nie, ten minste nie vir damesklere nie, en dié wat daar wel is, is so peperduur dat geen normale mens dit kan bekostig nie. Dis alles goed en wel om op Zanzibar t-hemde te koop wat afdrukke van Kuifie voorop het, of om vir die seuns kortbroeke te koop by ‘n permanente straatmark, maar vir my vou was daar ‘n nodigheid om iets aan te skaf wat darem baie meer ordentlik is.
Alhoewel sy baie gerieflik was in eenvoudige omdraailappe of goed wat sy al jare besit het, was die nodigheid daar, want partymaal word mens na ‘n gebeurtenis genooi waar daar miskien hooggeplaastes is en dan moet jy darem na iets lyk. Dit herinner my aan die keer toe ons na ‘n kaas-en-wyn-geselligheid genooi is, by die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissariaat in Dar es Salaam. As grafiese ontwerper was hulle ook een van my kliënte en het ek gereeld by hul kantore opgedaag met uitlegte vir goedkeuring, maar nooit het ek die Hoë Kommissaris ontmoet nie, want daar was net nie ‘n nodigheid daarvoor gewees nie. Ek onthou dat daar in daardie stadium ‘n nuwe Hoë Kommissaris aangestel is en dit was toe juis na hierdie geleentheid waarheen ons ook uitgenooi was, en dit is toe waar die nodigheid vir netjiese damesklere regtig sy hoogtepunt bereik het.
Ek het natuurlik die gebruiklike langbroek en “Afrika”-hemp gehad, want dit was per slot van rekening die tipe werksklere wat ek elke dag gedra het, so ek was tevrede daarmee, maar ons het ‘n hele dag opsy gesit vir die soek en aankoop van netjiese damesklere. So ry ons dan na die Royal Seacliff Hotel waar daar ‘n paar klerewinkels is. Hier eet ons toe eers ‘n lekker ontbyt terwyl ons oor die Indiese Oseaan uitkyk en die ligte seebries geniet. Royal Seacliff was ook een van my kliënte en ek was ‘n bekende gesig by die kelners en die ander werknemers as gereelde ontbytganger. Om darem die dag reg te begin en ‘n bietjie die opregtheid van my bedoelinge met die klere-aankope te wys, het ek toe maar probeer beïndruk met die ontbyt. Dit het goed afgeloop en ons is daar weg op die groot soektog. Gelukkig het ek sommer ook ‘n nuwe werkopdrag gekry en kon die daaropvolgende week weer bietjie geld uit die hotel ook maak.
Nadat ons ‘n hele paar baie mooi uitrustinge in die boetieks gesien het, maar saamgestem het dat die pryse ver bo ons vuurmaakplek is, het ons maar begin om die winkels waarvan ons weet so van ‘n kant af deur te loop en te kyk wat beskikbaar is. Hier moet ek darem net noem dat die winkels nie almal op dieselfde plek is nie en dus was daar taamlik rondgery en gesoek daardie Saterdag. Meeste winkels was, soos ek reeds gesê het, peperduur, en al die winkels, sonder uitsondering, het hoofsaaklik vir die Indiese mark voorsien. In ‘n stadium, miskien meer uit frustrasie as oortuiging, het my vrou dit oorweeg om ‘n tipiese Indiese “sari” te koop, en dit sou nogal gewerk het met haar velkleur, maar ek was darem nie oortuig nie, en bowendien was die ook maar aan die duur kant.
Toe middagete aanbreek het ons in ‘n gewone alledaagse eetplekkie in die stad iets te ete gekry. Hier eet jy tussen die mense, nie soos in restaurant nie, maar soos die gepeupel, en dis baie lekker. Eerstens moet gelet word dat meeste Tanzaniërs nie met eetgerei eet nie, maar wel met hul hande, of dan met hul hand. Hulle gebruik die regterhand om kos mee op te tel en doen dit met soveel netheid dat dit ‘n heel aanvaarbare gewoonte word. Die linkerhand word vir toiletwerke gebruik en dus nie vir eet nie, want dit is dan mos die “vuil” hand. Daarom was dit die gebruik vroëer jare om die regterhand af te kap van ʼn dief wat skuldig bevind is, sodat hy dan met die linkerhand moet eet, en dit was en is steeds sosiaal nie aanvaarbaar nie. Dus sou ‘n persoon met ‘n afgekapte regterhand nie welkom wees in normale gemeenskap nie en sodoende altyd die stigma van die ootreding saamdra.
Ons sit in die eetplekkie en bestel die gewone “pilau” en “katchumbari”, kos wat baie gewild is en wat ons al vantevore in die plek genuttig het. “Pilau” is basies ‘n rysgereg met groente en ook stukkies hoender in, alles saamgekook met ‘n heerlik aromatiese geur van cardemom en karwei en ‘n hele mengsel van ander speserye, nie skerp nie, maar smaaklik en interessant. “KatchKumbari” is tamatie-en-uie- slaai, waar die uie ‘n ruk in growwe sout geweek is, wat dan die “brand” uithaal en die smaak uitbring. In Tanzanië is rooi uie baie meer beskikbaar as wit uie, en hulle is ook heelwat soeter, so die slaaitjie is ‘n heerlike byvoegsel tot die ete.
Soos die gebruik dan is, in alle eetplekkies, kom iemand met ‘n skotteltjie en ‘n beker water na die tafel voor jou kos opdaag. Hiermee spoel jy dan die hande, veral die regterhand, goed af, maar van ‘n afdrooglap is daar gee sprake nie, jou hand skud jy sommeso droog hier langs die tafel voor jy eet. Koeldrankies word in die bottel gebring, doppie word losgemaak maar op die bottel geplaas, seker sodat mens kan sien die bottel was geseël, maar eintlik sodat vlieë nie hul dors in jou drankie kan les nie.
Soos ek gesê het, daar word met die hand geëet en van ‘n mes en ‘n vurk of ‘n lepel is daar geen sprake nie, nie eers vir ons twee blankes wat tussen ‘n spul mense van ‘n kultuur of kulture sit waarvan ons natuurlik nie deel is nie, maar dit het ons nie gepla nie, want dit was die gebruik en wanneer mens in Rome is dan maak jy mos soos die Romeine maak, soos die gesegde lui. So geniet ons dan nou middagete en kom toe ook af op die idee om die “boomwinkel” in Msasani te besoek. Ná ete word die hande weer gewas met die beker en die skotteltjie.
Toe eers gou ‘n vinnige draai by die rekenaarwinkel gemaak waar ek ‘n nuwe eksterne hardeskyf vir ons rekenaar teen ‘n baie billike prys by my Indiese vriend, Shafiek, kon aankoop. Die winkel was nuut en ek het juis die vorige maand vir my oudste seun ‘n hele nuwe rekenaar gekoop en dus was ek en Shafiek nou beste maats en hy het my altyd soos ‘n beroemde ster laat voel. Sy uitbundigheid en vriendelikheid met my vrou was dan ook weer ‘n opkikker vir ‘n andersins onsuksesvolle oggend, en ons kon ons soektog in ‘n beter luim, met vol magies en ‘n nuwe hardeskyf, voortsit.
In Msasani aangekom sien ons die boom met al die klere wat aan hangers op drade en takke en stokke hang, sommer so langs die pad, en dadelik dink ek nie daar is veel vooruitsigte vir enige suksesvolle aankope hier nie, maar die situasie begin so half en half desperaat word, so ons stop maar. Hier moet ons nou net op ‘n paar dinge let. Soos reeds in ander stories beskryf, moet daar onderhandel word met die verkoper, en wanneer koper en verkoper al twee voel dat hul die ander uitoorlê het en ‘n winskopie, of dan ‘n winsgewende verkoop, beklink het, dan is daar goeie besigheid gedoen. Verder het die mense die gewoonte om gedurig iets onder jou neus in te druk, wat natuurlik my vrou en myself irriteer, en dan is daar ook die dilemma dat die spesifieke “winkel” deur vier verskillende knape hanteer word, so nou moet ons noodgedwonge vir elke item wat miskien gekoop gaan word, redekawel en onderhandel. Die onderhandelingsproses was iets waaraan my vrou glad nie gewoond kon raak nie, en dus was dit maar altyd ek wat dit moes behartig. Per slot van sake was ek ook die een met die beursie, en die man, so dit was seker reg dat dit so moes weer. Om die “salama” (Swahili vir vrede) te bewaar het ek haar gesê om net ‘n oomblik te wag sodat ek met die manne kan praat.
Ek roep toe die vier manne bymekaar en verduidelik in my beste Swahili en Engels dat sy klere wil kyk, maar as iemand iets onder haar neus indruk sal sy niks koop nie. Verder verduidelik ek toe dat die vyf van ons die finale kooppryse sal uitsorteer, maar dat hulle haar in vrede moet laat. Hier verduidelik ek ook dat ons “kaburu kwa Afrika Kusini” (Suid-Afrikaanse boere van Suid-Afrika) is. Die woord “kaburu” is afkomstig van “boer” wat verwys na die apartheidsera in Suid-Afrika toe baie van die mense wat in ballingskap was, Tanzanië toe gevlug het. Die woord hou nog steeds ‘n mate van respek in, want die mense verstaan goed dat jy nie sommer met ‘n boer sukkel nie. Daarby voeg ek toe sommer by dat my vrou, sonder dat sy hoor, “mbaya sana” (kwaai, baie) is. So, met die kon die “kaburu mabaya sana mama” toe in vrede voortgaan om na die klere te kyk.
Dit was nie lank nie, of ons was regtig opgewonde oor die kwaliteit en stukke wat hier onder ‘n kremetart in Msasani beskikbaar was. Hier was linne klere vir dames, die mooiste snitte, met houtknopies, regstreeks uit London, party selfs met die Britse etiket in Britse pond nog daaraan. Waar die mense die klere kry wis ek wel, maar dit was regtig pragtige stukke, en baie van hulle was net die regte nommer. Wat die geheime nommer was, weet ek nie, maar ek het my vrou se woord daarvoor geneem. ‘n Mens vat dan so bietjie van ‘n kans met die aankope, want daar is nie ‘n aanpaskamer nie, so mens kyk en pas sommerso met die oog en besluit dan wat waar sal pas en wat miskien nie sal pas nie, en dit is die kans wat jy waag. Gelukkig is broeke met toutjies in plaas van rekke of knope, baie meer verstelbaar, en sy verkies ook maar sulkes.
Met die finale keuse van sewe kledingstukke is ons toe terug na die viertrek waar ons die klere op die voertuig uitpak en sy inklim en haar sonbril opsit, ‘n duidelike teken dat ek nou gaan oorneem met die onderhandelinge. Die vier manne staan ook toe nader en met die intrapslag, nog voordat hulle met hul duur pryse vir elke item vorendag kan kom, maak ek my eerste plan aan hulle bekend. My plan is, of altans dan my voorwaarde, dat as ons nie oor een prys vir al die stukke ooreen kan kom nie, ek niks gaan koop nie, dus alles of niks. Dit beteken basies dat ek nie met elkeen onafhanklik wil onderhandel nie, maar een onderhandeling wil doen waarna hulle tussen mekaar die gelde kan uitsorteer. Hiermee gooi ek hulle natuurlik heeltemal deurmekaar en daar begin ‘n geweldige onderhandeling tussen hulle oor watter een van hulle dan die onderhandeling met my gaan behartig. Dis toe dat ek maak of ek nie meer belang stel nie en aanstaltes maak om te ry. My vrou sit natuurlik na die petalje en loer en ek sien hoe die glimlag op haar mondhoeke wikkel, want haar Swahili is beter as myne en sy verstaan waaroor die manne stry, asook my strategie.
Uiteindelik word daar toe besluit dat die een spesifieke man met my sal onderhandel, met kommentaar van sy mede-eienaars. Hierop luister ek dan na hul openingsaanbod op die globale som vir die items, en toe maak ek my tweede plan soos ‘n wilde hond op hulle los, want ek het ‘n goeie idee wat hul vir die klere betaal. Ek werk saam met Indiërs wie se familie die bale klere invoer, so ek weet wat die pryse is. Ek vertel hulle toe dat hul prys astronomies is en dat ek net bereid is om soveel te betaal nie, maar wel ‘n bedrag wat gelykstaande is aan omtent vyf Amerikaanse dollar per item, maar dat hulle moet let dat hoe meer hul redeneer, hoe langer tyd dit gaan neem. My tyd is ook geld werd en dus sal my offerprys verlaag as hul te lank vat. Die hele redenasie het ‘n minuut of twee geduur om te probeer uitvis en toe kom hulle terug met ‘n offer so ‘n rapsie minder as hul openingsoffer, waarop ek toe antwoord dat hulle nou net van my tyd gemors het en dat my offer nou gedaal het na vier dollar per item, en dat dit my finale offer is, “taiari” (klaar). Hier het ek hulle ook sommer herinner dat dié kaburu nou sommer redelik mbaya is en dat hulle moet “haraka tafadali” (gou maak, asseblief) Hierop het hulle hewig onder mekaar gestry en uiteindelik my offer aanvaar. Ek het tpe natuurlik so vinnig as moontlik betaal, die klere in die voertuig gegooi en met ‘n spoed daar weggekom, want ek voel ek het voordeel getrek uit die verkoper en dus was daar goeie besigheid gedoen, maar ek was nie heeltemal seker of die verkopers dieselfde salama-gevoel gehad het nie.
By die huis aangekom, is al die items aangepas en voor die spieël, en myself, vertoon vir finale goedkeuring. Ek is geprys vir my onderhandelingsvernuf en baie mooi bedank vir die pragtige aankope. Die aand is ons toe na die byeenkoms waar ons aan die nuwe Suid Afrikaanse Hoë Kommissaris in Tanzanië voorgestel is en hy, ‘n statige man met ‘n aangename sin vir humor en ‘n baie lekker geselsmanier. Hy het my vrou se pragtige uitrusting wat so “Afrika sjiek” is, geprys en my ook gekomplimenteer met my pragtige vrou. Ek het sommer geweet dat ek binnekort sommer baie meer werk van die Hoë Kommissariaat kon verwag.
Die aand het ek, tevrede met my hantering van die dag se gebeure, rustig gaan slaap, met die idee dat pilau en katchumbari net nie dieselfde sal smaak as mens dit met die linkerhand moet eet nie. Dit het my laat wonder of die Arabiere nie tog ‘n goeie plan gehad het toe hulle besluit het om diewe se regterhande af te kap nie. Dit het, op sy beurt weer, my laat besluit dat die afkap van ledemate vir oortreders in Suid Afrika miskien ‘n baie goeie manier sal wees om onwettigheid te bekamp, veral vir verkragters, en hiermee het ek, vol salama, aan die “kulala” (slaap) geraak.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.