Klong (Hoofstuk Sewe) ©Eduard Smith
Hannetjie het weggestap en in die tuin verdwyn.
“Ek weet jy het gejok voor die tannie…dankie daarvoor.” Maarten haal sy bril af en vryf sy oë.
“Jy kan dit nie doen nie Francois.” Annemarie praat skaars hoorbaar.
“Wat? Voorgee dat dit my kind is? Waarom nie?”
Annemarie vat sy hand oor die tafel. “Jy kan nie jou hele lewe opgee vir ‘n fout wat ek gemaak het nie.”
“Jy het geen fout gemaak nie. My neef is hiervoor verantwoordelik en voor hierdie saak my pa se toekoms vir ‘n pos in die hoëgeregshof verongeluk, sal ek doen wat nodig is.”
Vir ‘n paar oomblikke is dit stil voor Maarten praat.
“Ek kan reël…reëlings tref, my kind, as jy hierdie saak anders wil hanteer? Niemand hoef te weet nie.”
“’n Aborsie? Wil Pa hê ek moet my kind vermoor?”
“Dink aan jou toekoms, my kind. Jou lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie. Jy het nog jare van studie wat voorlê…”
“Ek dink veral aan die toekoms Pa. Hoe gaan ek ‘n lewe lei met die wete dat ek my kind vermoor het? Nee! Nee! Nee! Ek gaan hierdie baba hê, met of sonder hulp.”
“En jy gaan Francois toelaat om sy toekomsplanne te verander vir boetedoening vir wat sy neef gedoen het?”
Francois gee nie vir Annemarie kans om haar pa te antwoord nie.
“Dit is my besluit Oom. Ek doen dit vir Annemarie maar ook vir my familie. My pa se nominasie sal nie so ‘n skandaal oorleef nie. Dit is my keuse en as Annemarie instem, sal ek met haar trou… Annemarie?”
“Ek kan nie van jou verwag…”
“Sê net ja. Ek sal met my ouers gaan praat en dan kan ons so gou as moontlik trou.”
“Wat van Dreyer?” Annemarie praat sag terwyl sy na Francois staar.
“Wat het dit met Dreyer uit te waai?” vra Maarten.
“Hy is e…”
Francois onderbreek haar. “Sy…sy bedoel eintlik Oom, sy sê ek en Dreyer is vriende en of so iets nie ons vriendskap sal verongeluk nie…veral omdat hy van niks weet nie.”
“Ek verstaan nie…” antwoord Maarten. “Waarom sou Dreyer dit nie goedkeur nie? Hy sal maar alte bly wees…want dan is julle mos familie en nie nét vriende nie.”
“Ek dink dit is meer kompleks as dit…” praat Annemarie voor Francois haar weer in die rede val.
“Hy sal bly wees vir ons.” praat Francois terywl hy en Annemarie met fronse na mekaar staar.
“Annemarie, sal jy saam stap dan gaan groet ons gou my ouers?” Francois staan op en steek sy regterhand na haar uit. Sy vat dit sag en staan op.
“Sal Pa asseblief vir Ma gaan soek? Haar bietjie kalmeer asseblief?”
“Jy hoef nie vir jou ma sterk te wees nie my kind. Gee haar net tyd. Sys al weer haarself word. Gaan groet julle vir Soois en Magdild. Sê ek kom later beitjie oor.”
Francois en Annemarie stap die oprit af en sy maak seker dat hulle uit hoorafstand is voor sy praat. “Dreyer gaan nie hiervan hou nie.”
“Waa…waarom sal dit hom pla?”
“Dink jy werklik ek is gister gebore?”
“Ek weet nie waarvan jy praat nie.” Francois los haar hand en druk die knoppie van die interkom by sy ouers se voorhek.
Hy praat met Willempie wat die interkom antwoord. Die hek swaai oop en hulle stap teen die steil oprit uit.
“Jy en Dreyer is ‘n couple…is julle nie?”
“Annemarie… nie so hard nie…die mense sal jou hoor…en nee…ek weet nie…dit is nie van belang nie. My pa se toekoms is op die spel en ek sal dit hanteer soos dit moet. En waarom dink jy dat ons saam is?”
“Ek het julle laas Desember gesien soen…toe ons op die plaas was. Julle het nie eers geweet ek is daar nie, want julle was in so ‘n droomland.”
“Het jy jou ouers vertel? Vir enigiemand vertel?”
“Natuurlik nie…”
“Hou dit so. Ek wil nie weer hieroor praat nie. Daar is groter en belangriker dinge.”
Annemarie het onderlangs na Francois gekyk. Sy het vir ‘n oomblik iets in sy persoonlikheid waargeneem waarvan sy nie gehou het nie. ‘n Arrogante baasspelerigheid. Sy het dit afgemaak en toegeskryf aan die druk wat tans op almal se skouers is.
Die du Preez kombuis is kollosaal om ‘n kookeiland uitgelê. Willempie sit langs die eiland besig om een of ander speletjie op sy foon te speel. Soois staan aangeleun teen die kas terwyl Magdild by die ketel vroetel.
“Drink julle saam?”
“Nee dankie Tannie…ons het nou net iets gedrink.” Annemarie antwoord terwyl sy stywer teen Francois aanleun.
“Ons het nuus Pa.” Francois spreek sy pa aan want hy vermoed Soois sal eerder verstaan.
“Ek en Annemarie wil trou.”
“Trou?…Trou?” Magdild swaai om en stort koffie op die kas. “Is julle waansinnig? Oor my dooie liggaam.”
Soois is stil. Willempie lig nie eens sy oë van die foon af op nie. Magdild dans behoorlik tussen die kas en die eiland.
“Sy is swanger Ma. Ek gaan met haar trou.”
“Die Here help ons. Swanger! Hoe het dit gebeur?” Magdild tree tot voor Francois en sit haar oop hand op sy bors.
“Ek hoef seker nie vir Ma te verduidelik waar babas vandaan kom nie…”
“Moet jy nie met my hans word nie Francois. Het julle gedink wat dit vir ons almal inhou. Kan julle nie julle broeke aanhou nie?”
“Ma!!” Francois praat hard in sy ma se gesig en tree effe agteruit. “Moenie maak asof ons nie besef wat dit inhou nie.”
“Regtig? Weet julle regtig? Hoe gaan julle studeer en ‘n kind groot maak? Julle besef nie waarvoor julle, julle inlaat nie. Waarom die kind hou?”
Annemarie draai om en stap vinnig uit die kombuis uit. Sy loop tot by die voordeur voor Francois haar aan die elmboog beetkry.
“Moenie jou steur aan wat my Ma sê nie. Ons sal dit maak werk.” Hulle hoor hoe die stemme hewiger vanuit die kombuis word.
“Wag hier vir my. Ek gaan net groet.”
Francois stap midde-in ‘n hewige argument die kombuis in.
“Sal julle vir een oomblik stop en dink wat hierdie argumente aan Annemarie doen?” Hy praat hard.
“Van wanneer af is sy so ‘n groot prioriteit vir jou? Ons het nie eens geweet julle is saam nie.” Antwoord Magdild. “Jou pa moet maar sin in jou kop probeer praat want ek was my hande. Ek wil niks met die troue en hierdie buite-egtelike ekskepades te doen hê nie. Wat sê ons vir Dominee…”
“Dominee se moer Ma…”
“Jy sal nie so in my huis praat nie! Jy sal nie! Jy het jou opvoeding verloor by daardie universiteit…sê jy is jammer! Sê dit!”
“Jammer waaroor Ma? Jammer dat my ma soos ‘n veroordelende snobis optree, of jammer dat ek nie lankal gesien het watter tipe mens Ma is nie? Is dit hoe Ma optree as jou kinders in krisis is?”
“Dit is ‘n krisis wat julle self gemaak het Francois. Ek gaan nie sleg voel omdat ek ontsteld is oor julle nie julle perke ken nie. En jy kom nie in my huis in en vloek ‘n man wat deur God aangestel is in sy amp nie.”
Francois grinnik. “Ek is nie hier om oor Ma se dominee te praat nie. In teendeel, dit het niks met hom en die kerk uit te waai nie…”
“En wie dink jy gaan julle trou?”
“Ek dog Ma wil niks met die troue te doen hê nie? Ek gaan nie in die kerk trou nie…”
“Ag liewe Heer help ons…ek kan nie verder na jou luister nie.”
Soois maak sy keel skoon. “Sal julle albei kalmeer, asseblief?”
“Praat Pa maar met haar. Ek loop.”
Francois stap uit en kry vir Annemarie by die voordeur waar hy haar gelos het.
“Jou baba…en jou eer sal okay wees. Francois du Preez sal daarvoor sorg.”
Die stemme in die kombuis het vir ‘n geruime tyd nog opgeklink.
“My Ma was nog altyd meer gesteld op haar status as enigiets anders. Ons gaan trou en hierdie baba groot maak met of sonder hulle hulp.”
“En Dreyer?”
“Dreyer sal verstaan…hy sal vir sy suster deur die vuur loop.” Die pyntrek om sy lippe ontglip Annemarie.
“Klong sal verstaan…” herhaal hy dit in sy kop.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.