Kortste dag of langste nag?
(Woordtelling : 391)
Die kortste dag van die week moet sekerlik Saterdag wees, vir sommige dalk Sondag. Voor jy jou oë uitvee, is dit slaaptyd en die naweek is alweer verby! Dit is egter die kortste dag van die jaar wat ʼn veel groter invloed op ons lewens het.
Die kortste dag in die Noordelike halfrond is geen speletjie nie. Plekke soos die Noordpool, Swede en Noorweë ondervind ses maande sonskyn en ses maande van algehele donker, met geen daaglikse sonsopkoms of -ondergange gedurende daardie tyd nie.
Die sonstilstand is dus ʼn uiters belangrike gebeurtenis vir die mense van hierdie omgewing. In die eeue voor gedrukte kalenders ʼn alledaagse item in elke huishouding geword het, moes die mens op die tekens van die natuur staatmaak om te weet hoe lank die winter (of donkerte) nog sou duur. Die langste nag, of die dag met die minste ure van lig, het dus aangedui dat die seisoen draai en die somer stadig op pad is. Hierdeur kon hulle bepaal wanneer dit die beste tyd sou wees om te plant want hongersnood gedurende die wintermaande was ʼn skrikwekkende werklikheid. Diere is natuurlik gedurende die eerste deel van die winter geslag sodat dit nie nodig sou wees om hulle deur die lang winters te voer nie.
Hierdie langste nag/kortste dag wissel jaarliks, maar val in die Noordelike halfrond altyd op die 20ste, 21ste of 22ste Desember. Die natuur het sy eie ritme en dit is dan ook die dag waarop die hergeboorte van die son gevier word, of ʼn tydperk van nuwe begin – vir plante, diere, sowel as vir die mens. Selfs vandag nog is hierdie belangrike dag ʼn geleentheid en tradisie vir families om bymekaar te kom, te eet en fees te vier.
In die Suidelike halfrond is ons egter baie meer gelukkig met matige winters en baie sonlig, al is dit koud. Die korste dag van die jaar val gewoonlik op 20 of 21 Junie. Omdat ons nie te naby aan die Suidpool is nie, word ons genadiglik gespaar van ʼn ses-maande lange dag of nag. Wintergewasse soos wortels, beet, radyse, sekere soorte uie, appels, avokado’s, lemoene, nartjies, papaja, pere en tamaties is volop, al is dit winter. Daar is dus nie die gevaar dat ons sommer van die honger sal sterf net omdat dit winter is of te donker is om landbou te beoefen nie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Oktober 2023 – KORT projek